Vinnige feite

  • Die woord begroting (in Engels budget) kom van die Franse woord bougette wat ‘klein leersakkie’ beteken. Mense het al hul geld in hierdie sakkies gehou. 5
  • Die Suid-Afrikaanse minister van finansies lewer jaarliks in Februarie ’n begrotingsrede en vertel hoeveel geld die staat verwag om in te vorder en hoeveel geld hulle verwag om uit te gee.
  • Suid-Afrikaanse politieke partye waarsku al sedert 2014 oor ’n dreigende fiskale afgrond. Die Demokratiese Alliansie (DA) en die Vryheidsfront Plus is twee van die partye.
  • Navorsing is ook al oor die dreigende fiskale afgrond in Suid-Afrika gedoen. Die eerste samevatting van die navorsing is gedurende ’n werkseminaar op 16 en 17 Mei 2013 by die Universiteit van Suid-Afrika aangebied.
  • Claire Bisseker het in haar boek, On the Brink: South Africa’s Political and Fiscal Cliff-hanger, oor ’n naderende fiskale afgrond geskryf en gesê dat Suid-Afrika se besteding onvolhoubaar is.
  • Suid-Afrika se maatskaplike toelaes het tussen 2008 en 2020 gemiddeld sowat 12,0% van die staat se inkomste beloop. Die staat moes egter meer hulp tydens die Covid-19-krisis gee en dié bydraes het die staat tussen Mei en Oktober 2020 ongeveer R41 miljard gekos. Dit het beteken dat maatskaplike toelaes tot sowat 20,8% van staatsinkomste in die 2020/21-jaar gestyg het. Die departement van maatskaplike ontwikkeling het vir die 2022/23-boekjaar R248 miljard vir maatskaplike toelaes begroot.
  • Die rente wat die Suid-Afrikaanse regering op hul skuld betaal, is ’n groot probleem. Die rente is ook die begrotingsitem wat die vinnigste van al die uitgawes van die staat styg.
Foto: iStock

As ons praat van ’n afgrond, dan sien ’n mens dit sommer in jou geestesoog … Daar is ’n hoë krans en as jy oor die rand loer, is dit ver, ver ondertoe. Jy weet sommer as jy daar afval, gaan jy ál die bene in jou lyf breek! Dus, as ons sê dat iemand op die rand van ’n afgrond staan, beteken dit dat daar groot gevaar is.

’n Fiskale afgrond is iets wat nie met ’n regtige afgrond te doen het nie, maar dit kan nes ’n afgrond gevaarlik wees. ’n Fiskale afgrond het met finansies te make en kan finansieel gevaarlik vir die regering, die land en sy ekonomie wees.

Hoe werk dit?

Nes jou ouers ’n begroting het waarin hulle hul uitgawes en inkomste neerskryf, so het die regering van ’n land ’n begroting. Uitgawes is die dinge waarop jy geld uitgee en inkomste is die geld wat jy inkry.

As ’n mens meer uitgee as wat jy verdien en meer geld leen as wat jy kan terugbetaal, het jy probleme. Jy het dan ’n begrotingstekort en kort meer geld om te oorleef. As jy meer geld in jou begroting het as wat jou uitgawes is, het jy ’n surplus.

Jou ouers werk vir ’n verdienste of inkomste en die regering kry sy geld op verskillende maniere soos van die belasting wat alle salaristrekkers moet betaal. ’n Mens noem dit belasting wat op persoonlike inkomste gehef word.

Ondernemings moet ook belasting op hul winste betaal en dan word daar ook byvoorbeeld belasting op produkte gehef.  Ons noem dit belasting op toegevoegde waarde (BTW). Die regering gebruik hierdie inkomste vir allerhande dinge, soos om paaie en brûe te bou en mense te betaal wat vir hulle werk, soos polisielede en onderwysers. Hulle moet ook mense help wat nie werk het nie of wat te oud is om te werk. Ons noem daardie betalings maatskaplike toelaes.

Nog iets wat grootmense se begroting en die regering se begroting in gemeen het, is lenings. Mense leen dalk geld by die bank om ’n voertuig of ’n huis te koop en betaal dan elke maand ’n bedrag terug. Hulle moet ook rente op daardie bedrag betaal. Die regering leen ook geld en moet ook daardie geld terugbetaal. Ons noem dit staatskuld.

As die regering se uitgawes, soos maatskaplike toelaes, rente op staatskuld en staatsdienssalarisse sy totale inkomste oorskry, bereik hy ’n punt wat die fiskale afgrond genoem word. 1

Daar bestaan dus ’n wanbalans tussen die regering se inkomste en sy verpligtinge. Dit kan ’n begrotingstekort veroorsaak en moet reggestel word om ’n begrotingskrisis te vermy.

Die begrip ‘fiskale afgrond’ kom oorspronklik van Amerika, maar hul definisie van ’n fiskale afgrond verskil van dié van Suid-Afrika.

In Amerika verwys die begrip na die punt waar daardie land ’n plafon op lenings deur die federale regering bereik Dit gebeur as gevolg van die gelyktydige beëindiging van bestaande persoonlike inkomstebelastingverpligtinge en die vermindering van sekere bestedingsitems. In gewone Afrikaans beteken dit dat die regering nie meer lenings mag aangaan nie. Hy moet dus sy uitgawes sny en sy inkomste verhoog (soos deur die belasting wat sy burgers betaal).

Suid-Afrika en Amerika se definisies van ’n fiskale afgrond stem wel ooreen in die sin dat dit ’n negatiewe impak op die ekonomie het.

Waar kom dit vandaan?

Die ware oorsprong van die begrip ‘fiskale afgrond’ is onseker. Party mense sê dit was ’n ekonoom genaamd Alec Phillips van die onderneming Goldman Sachs wat dit uitgedink het. Ander mense sê dit was Ben Bernanke, ’n voormalige voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserwebank.  Ander sê weer dit was ’n verslaggewer, ene Safir Ahmed, wat in 1989 ’n artikel in die St. Louis Post-Dispatch oor die staat se befondsing geskryf het en die begrip gebruik het. 2

Dit wil wel voorkom asof die begrip reeds in 1957 gebruik is toe ’n artikel oor huiseienaarskap in die New York Times verskyn het. Die begrip is daarna al hoe meer gebruik. 3

Kenners het veral oor ’n fiskale afgrond in die jaar 2012 in Amerika gewaarsku. Daar was ’n groot begrotingstekort vir die fiskale jaar 2013 en die Amerikaanse senaat het gewik en geweeg oor hoe om dit te beredder. Daar is uiteindelik besluit om die belasting op persoonlike inkomste te verhoog en uitgawes te besnoei.

Suid-Afrika en die fiskale afgrond

Die begrip is al dikwels in Suid-Afrika gebruik. Daar word al jare daarteen gewaarsku en in die 2020/21-fiskale jaar het die koste van maatskaplike toelaes, rente op staatskuld en staatsdienssalarisse inderdaad die totale inkomste van die Suid-Afrikaanse regering oorskry.

In 2022 is daar weer eens gewaarsku dat ’n fiskale afgrond vermy moet word deur nie salarisverhogings vir staatsdienswerkers te gee nie. Daar is in 2023 weereens teen die gevaar van ’n fiskale afgrond gewaarsku, maar daar is ook gesê dat Suid-Afrika se nasionale tesourie hard daaraan werk om die staat se uitgawes te probeer besnoei. 4

Die gevolge van ’n fiskale afgrond

Daar is baie nadele aan ’n fiskale afgrond verbonde, soos swak ekonomiese groei, te min geld vir dienslewering en dat die staat nie sy rentebetalings op skuld kan betaal nie.

’n Fiskale afgrond beteken ook dat ’n staat dan ’n “mislukte staat” word en daarvolgens kan hulle sukkel om dienste te lewer; sukkel om as ’n lid van die internasionale gemeenskap te funksioneer; beheer oor grondgebied verloor; en nie meer basiese funksies soos onderrig, sekuriteit of beleidsvorming kan verrig nie, gewoonlik as gevolg van onbeheerste geweld of uiterste armoede. 1

Wat kan regerings doen om ’n fiskale afgrond te vermy?

Daar is verskeie maniere hoe regerings probeer om ’n fiskale afgrond te vermy. Die een opsie is om belasting vir individue en ondernemings te verhoog.

Nog ’n opsie is om die salarisrekening van die staatsdiens te sny en ander staatsuitgawes te besnoei.

Woordbank

afgrond Dit is ’n diepte sonder ’n sigbare bodem. 6
begroting Dit is ’n skatting van uitgawes wat aangegaan moet word. 7
belasting Die verpligte betaling aan die staat of ander owerheidsliggame om uitgawes te dek.
burgers Die inwoners van ’n land.
ekonomie Die toestand waarin die handel/produksie en dies meer van ’n land of streek verkeer.
fiskale Wat met geldsake te doen het.
plafon Die hoogste peil of vlak wat toegelaat is of wat bereik kan word.
rente Die bedrag geld wat jy ekstra moet betaal vir geld wat jy vooruit geleen het of die geld wat jy verdien vir geld wat jy belê het.
surplus Iets waarvan daar ’n oorskot (te veel) is.
staat Die regering.
tekort Iets waarvan daar te min is.
verdienste Die inkomste, veral ’n salaris of loon, wat deur ’n individu verdien word.
winste Die geld wat jy maak deur byvoorbeeld iets te verkoop en dan die koste (geld wat jy daarvoor betaal het) daarvan af te trek.

Artikels oor die fiskale afgrond

Kyk na hierdie video’s om meer oor die fiskale afgrond te leer

Wat is ’n begroting?

’n Kykie na begrotingstekorte en staatskuld

Wat is ’n fiskale afgrond?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 November 2022 | Bygewerk op 23 Januarie 2024