Vinnige feite

  • ’n Ekonoom met die naam van Roger Babson het op 5 September 1929 voorspel dat die ineenstorting gaan plaasvind: “Vroeër of later is daar ’n ineenstorting aan die kom, en dit gaan verskriklik wees,” het hy gesê. 1
  • Dit het die Amerikaanse ekonomie 25 jaar geneem om van die ineenstorting te herstel. 1
Foto: iStock

Die Wall Street Crash is die term waarmee geskiedkundiges verwys na die ineenstorting van die aandelemark in die VSA. Beleggers het begin glo dat dit nie meer veilig is om hul geld in aandele te belê nie, en toe al hul aandele paniekerig begin verkoop sodat hulle nie hul geld sou verloor nie.

Op 29 Oktober 1929, ook bekend as Swart Dinsdag (in Engels: Black Tuesday) het beleggers amper ’n kwart van die waarde van alle aandele uit die Amerikaanse ekonomie onttrek en so veroorsaak dat die aandelemark in duie gestort het. Dis waarvandaan die naam kom: Wall Street Crash.

Die impak van die Wall Street Crash het wêreldwyd uitgekring – ook hier in Suid-Afrika – en dit het aanleiding gegee tot die Groot Depressie, ’n tyd van groot ekonomiese swaarkry. 1

Menigte vergader op Wall Street in New York ná die Wall Street Cras

Verstaan aandele, beleggings en die aandelemark

Stel jou voor een van jou ouers begin ’n besigheid. Kom ons sê jou ma maak skoolklere en verkoop dit by die skool. Eers het sy net hier en daar ’n skoolrok gemaak, maar later wil so baie mense skoolklere by haar koop dat sy ’n werkwinkel moet oopmaak en werkers kry om haar te help.

Om die werkwinkel met al die masjiene toe te rus, leen jou ma geld by ’n vriendin. Kom ons noem die vriendin Hanlie. Omdat Hanlie vir jou ma geld gegee het (belê het) in jou ma se rekening, besit sy nou ’n aandeel in jou ma se besigheid. As ’n aandeelhouer kry sy ’n gedeelte van die besigheid se wins. Ons noem daardie deel van die wins wat aan ’n belegger betaal word ’n dividend.

Jou ma werk hard en lewer goeie diens. Daarom groei haar besigheid en die besigheid se waarde word meer. As jou ma die besigheid aan iemand anders sou verkoop, kan sy ’n klomp geld daarmee verdien. As Hanlie haar aandeel in jou ma se besigheid sou verkoop, gaan sy meer geld daarvoor kry as wat sy aan die begin vir jou ma geleen het. Dit is presies hoekom sy die geld vir jou ma geleen het – sy wil hê haar belegging moet groei.

Skielik verander dinge, en jou ma se besigheid begin swaarkry. Kom ons sê die ouers by die skool koop al hoe meer skoolklere by ’n winkel eerder as by jou ma. Dit beteken die wins krimp, Hanlie se dividende raak minder en die waarde van die besigheid verminder. Hanlie raak bekommerd oor die geld wat sy vir jou ma geleen het. As jou ma se besigheid bankrot speel, gaan Hanlie die geld wat sy aan die begin vir jou ma geleen het, verloor.

Sy bel jou ma paniekerig en sê sy wil dadelik al haar geld terug hê. Jou ma moet die geld vir haar teruggee, maar om dit te kan doen, moet jou ma al haar masjiene verkoop en haar werkers afdank. Selfs nadat jou ma alles verkoop het, skuld sy nog vir Hanlie geld, maar sy het niks waarmee sy dit kan terugbetaal nie. Die uitwerking daarvan is dat Hanlie geld verloor het, jou ma het geld verloor, en die werkers het hul inkomste verloor. As dit gebeur, kry almal finansieel swaar.

Hierdie storie illustreer op ’n klein skaal die beginsel van paniekverkope van aandele. Wat in Amerika gebeur het, was presies dit, maar op ’n baie groot skaal.

Die aandelemark is ’n plek waar beleggers aandele in groot besighede koop en verkoop. Beleggers wil graag dividende verdien, maar hulle wil eintlik hê die besigheid moet groei sodat hul aandele meer werd word. Elke land waar mense besighede mag besit, het so ’n aandelemark.

Suid-Afrika se aandelemark se naam is die Johannesburgse Effektebeurs (JE), en die gebou waarin dit gehuisves word, is in Gwenlaan in Sandton. 2 Die VSA se aandelemark is in New York in Wall-straat geleë. Omdat dit eintlik al ’n metafoor vir Amerika se ekonomie geword het, praat ons ook in Afrikaans van Wall Street. 1

Johannesburgse Effektebeurs

Aanloop tot die Wall Street Crash

Om te verstaan waarom dinge in ’n land se ekonomie op een dag so vreeslik verkeerd kan loop, moet ons verstaan hoe die wêreld in daardie tyd gewerk het.

Die 1920’s was ’n tyd van groot verandering. Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) is toe pas verby, en lande wêreldwyd moes van die verwoesting herstel. Europa was platgeslaan en dit het Europese lande ’n klomp geld gekos om te herbou.

Amerika se rol

Amerika is die verwoesting gespaar, want die oorlog het nie in Amerika plaasgevind nie. Daarom het Amerika se ekonomie ook weer ná die oorlog begin groei voor Europa s’n kon groei. 3

Die 1920’s was die eerste dekade waarin gewone Amerikaners motors, radio’s en telefone besit het. Die motors het goeie paaie nodig gemaak, wat werk vir baie mense geskep het. Die radio het die wêreld vir gewone mense oopgemaak. Die telefoon het gesinne, families en vriende nader aan mekaar gebring. Vroue het in Amerika stemreg gekry, die Amerikaanse rolprentbedryf het aan die gang gekom, en daar was ’n enorme opbloei in die ontwikkeling van vliegtuie.

Amerikaanse kreatiwiteit, uitvindings en prestasies het begin aandag trek, en die vervaardigingsbedryf in Amerika het behoorlik vlamgevat. Dit was ’n tyd van ekonomiese voorspoed en Amerika se ekonomie het vinniger gegroei as Europese lande s’n. Vir die eerste keer was Amerika ’n wêreldmoondheid. 3

Die aandelemark

Teen hierdie agtergrond het die aandelemark ook natuurlik gegroei. Beleggers wou ook voordeel trek uit al hierdie Amerikaanse maatskappye wat so groei, en hulle het baie geld daarin belê. Maar die grootste probleem was dat hulle geld geleen het om in die aandelemark te belê, wat beteken dat hulle eintlik die aandele op skuld gekoop het. 1

Banke het baie maklik aan mense geld geleen, want die ekonomie was sterk, en hulle was seker dat die leners die geld sou kon terugbetaal. Groot maatskappye het by banke geld geleen, gewone mense het by banke geld geleen, en selfs buitelandse maatskappye het by Amerikaanse banke geld geleen om in Amerika besigheid te doen. Dit het tot gevolg gehad dat daar ’n ekonomiese “borrel” ontstaan het: Dit lyk asof mense ryk is, want hulle maak geld, maar eintlik skuld hulle meer as wat hulle maak. 4

Groot maatskappye vorm

Met die ekonomiese groei, kom daar ook mededinging. Maatskappye neem kleiner maatskappye oor om ’n groter, sterker maatskappy te maak. Naderhand beheer ’n paar groot maatskappye eintlik alles.

Teen 1928 was feitlik al die openbare diensverskaffers (maatskappye wat openbare dienste soos vervoer, elektrisiteit, water en sanitasie verskaf) in die hande van groot maatskappye. Hierdie groot maatskappye het allerhande slegte besigheidspraktyke gevolg. Die Federale Regering het in 1929 wetgewing voorgestel wat hierdie slegte praktyke sou beëindig, en dit het beleggers in hierdie groot maatskappye afgeskrik. Hulle het hul aandele in hierdie maatskappye begin verkoop. 4

Buitelandse maatskappye wat met Amerikaanse vervaardigers handel gedryf het, het hul geld uit Amerika begin onttrek. Dit het beteken Amerikaanse vervaardigers kon nie meer hul goedere aan hierdie buitelandse beleggers verkoop nie. Wat natuurlik beteken het dat vervaardigers met ’n klomp produkte gesit het wat hulle teen ’n verlies moes verkoop. Dit het beteken hulle moes hul werkers afdank. 4

Al hierdie dinge saam het by beleggers in die Amerikaanse ekonomie baie onsekerheid geskep. 4

‘n Skoonmaker vee die vloer, wat vol opgefrommelde en geskeurde koerante en ander papier is

24-29 Oktober 1929

Die ineenstorting het eintlik oor ’n paar dae plaasgevind. Op 24 Oktober (Swart Donderdag) het die Dow Jones 11% van sy waarde verloor. Meer aandele is op daardie dag verkoop as ooit vantevore. 4

Mense vergader op die sub-tesourie-gebou se trappe oorkant die New York Aandelebeurs in New York op Swart Donderdag

Op die Vrydag het die drie voorste banke (Morgan Bank, Chase National Bank en National City Bank of New York) ’n fonds van $750 miljoen saamgestel en aandele gekoop om vertroue in die markte te probeer herstel. Dit het ’n bietjie gehelp, en dit het gelyk asof die aandelemark stabiliseer. 4

Op Swart Maandag, 28 Oktober, het die Dow Jones egter weer 13% van sy waarde verloor. Dit het die volgende dag ’n algehele paniek veroorsaak. Teen die einde van verhandeling op 29 Oktober, Swart Dinsdag, het die Dow ’n 12%-verlies gely. 4

Gevolge

As ’n mens deesdae oor die Wall Street Crash lees, klink dit asof daardie drie dae eintlik die enigste en die ergste dae was. Dit is nie waar nie.

Die Dow Jones het oor die volgende drie jaar bly verswak, en eers op 8 Julie 1932 sy laagtepunt bereik. Teen daardie tyd het die aandelemark amper 90% van sy waarde verloor sedert sy hoogtepunt op 3 September 1929. Vir baie mense het dit beteken dat hulle alles verloor het wat hulle besit het. Dit het 25 jaar geneem, tot 23 November 1954, vir die Dow Jones om weer dieselfde waarde te bereik as voor die ineenstorting! 5

Die belangrikste gevolg van hierdie ineenstorting was die Groot Depressie, ’n tyd van groot armoede en swaarkry wêreldwyd wat eers in 1939 tot ’n einde gekom het. Lees gerus ons artikel oor die Groot Depressie om te verstaan hoe dit met die Wall Street Crash verband hou.

Woordbank

aandele ’n Gedeelte van ’n bate, gewoonlik ’n besigheid of eiendom, wat die eienaar verkoop om geld te kry.
aandeelhouer Iemand wat aandele in ’n besigheid besit.
aandelemark Die plek waar aandele verhandel (gekoop en verkoop) word.
bankrot speel Die toestand dat ’n besigheid meer skuld het as wat dit werd is.
beleggers Iemand wat geld belê.
besigheidspraktyke Die maniere waarop besighede sake doen.
dividend Die deel van die wins wat aan aandeelhouers betaal word.
Dow Jones Die Dow Jones in die VSA se grootste aandelemarkindeks. ’n Aandelemarkindeks wys hoe goed beleggers dink ’n ekonomie vaar.
impak Uitwerking.
paniekerig Groot vrees.
wêreldmoondheid ’n Land met ’n baie sterk weermag en ekonomie wat invloed oor die res van die wêreld uitoefen.

Verbreed jou kennis met hierdie artikels

Kyk ook hier

In die rolprent Seabiscuit is daar ’n verwysing na die Wall Street Crash. Jy kan dit hier kyk.

Hier kan jy na ’n video kyk wat die Wall Street Crash verduidelik

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Oktober 2023 | Bygewerk op 7 Maart 2024