Vinnige feite

  • As jy na musiek luister terwyl jy oefen, sal jy meer gemotiveerd wees en tot 15% harder en beter oefen. 10
  • Elke voet bevat 26 bene, 33 gewrigte en meer as 100 spiere, ligamente en senings. Dit is ongeveer 25% van al die bene wat in ons liggaam voorkom. Ons is dikwels so besig om ander liggaamsdele te oefen, dat ons van ons voete vergeet! Ons voete bevat nie net 25% van ons liggaam se bene nie, dit is ook die grondslag vir elke beweging wat ons doen – jou balans, krag en beheer begin by jou voete. 11
  • Mense wat nie deur hul lewe gereeld geoefen het nie, sal teen die tyd wat hulle 65 jaar oud is tot 80% van hulle spierkrag verloor het. Oefening is daarom nie net belangrik vir as jy jonk is nie, maar veral om nie allerlei probleme te ondervind as jy ouer is nie. 12
  • Wat is jou liggaam se hardwerkendste spier? Beslis jou hart – wat ongeveer 100 000 keer per dag klop. Dit beteken dat jou hart binne net tien dae een miljoen keer klop. 13
  • Die gemiddelde persoon stap ongeveer 7 500 treë per dag. As jy by dié gemiddelde staptelling hou en 80 jaar oud word, sal jy ongeveer 177 000 kilometer in jou leeftyd afgelê het. 14
  • Die hoeveelheid wat jy sweet, is geensins gekoppel aan hoeveel kalorieë jy verbrand nie. Sweet is bloot die liggaam se manier om af te koel. Jy kan sweet deur in die son of in ’n warm kamer te wees, maar dit beteken nie dat jy van daardie vetjies ontslae raak nie. 15
  • Om vinnig te loop, verbrand byna net soveel kalorieë as om te draf. Jy hoef nie vinnig te hardloop om die gesondheidsvoordele te ervaar nie. As jy stadig draf, verbrand jy byna net soveel kalorieë as deur vinnig te stap. Dit is ook meer voordelig om teen ’n opdraande uit te stap as om vinniger te draf. 16
  • Jou tong is die enigste spier in jou liggaam wat net aan een kant vas is! 17

Foto: iStock

Jy het seker al die uitdrukking gehoor: “’n Appel ’n dag, laat die dokter wag.” Net so belangrik as wat ’n gebalanseerde dieet vir ons is, is oefening nodig om ons groeiende liggame gesond en soepel te hou. Fisieke aktiwiteite of oefening verbeter ons gesondheid en verlaag die risiko om verskeie siektes soos tipe 2-diabetes, kanker en kardiovaskulêre siektes (hartsiektes) te ontwikkel. 1

Oefening kan onmiddellike en langtermynvoordele vir ons gesondheid inhou. Die belangrikste is dat gereelde fisieke aktiwiteite jou lewensgehalte kan verbeter. Dit hou dus nie net ons liggaam gesond nie, maar ook ons brein. Deur net 30 minute elke dag te oefen, sal jy goed lyk, voel én sommer beter in die klas kan konsentreer. 2

Begin deur klein veranderings in jou daaglikste roetine aan te bring. Stap of ry fiets pleks van om met die motor te ry. Klim trappe pleks van om die hysbak in die winkelsentrum te neem. Onthou: Al het ons 650 spiere, is die hart die belangrikste spier in jou liggaam. As dit nie geoefen word nie, sal dit nie gesond wees nie. As jy fiks is, sal jou hart ook gesond wees. Stap is een van die beste maniere om fiks te bly. Net 2 000 treë per dag sal jou hart oefen en jou gewrigte soepel hou. 3

Oefening verskaf suurstof en voedingstowwe aan die liggaam. As jou hart- en longgesondheid verbeter, het jy sommer baie meer energie om jou skoolwerk en aktiwiteite aan te pak. 4 Oefening maak boonop jou immuunstelsel sterk, wat beteken jy sal nie so maklik siek word nie. 5

Die kenners beveel aan dat jy minstens ’n uur lank elke dag oefening doen. Dit kan insluit fietsry, vinnig stap, gimnastiek, rugby, netbal en swem. Oefening moet egter lekker wees. Daarom moet jy ’n aktiwiteit kies waarvan jy baie hou. Moedig sommer jou ouers aan dat die hele gesin saam dinge doen soos om te gaan stap, ’n Parkrun te doen of fiets te ry. 6

Vier soorte oefening

Die meeste mense is geneig om op een soort oefening of aktiwiteit te fokus en dink dat hulle genoeg doen. Navorsing het getoon dat dit belangrik is om op vier soorte fiksheid te fokus: uithouvermoë, krag, balans en soepelheid. Elkeen het verskillende voordele. As jy die een soort doen, kan jy die vermoë om die ander te doen, verbeter. Die verskeidenheid sal help dat jy nie verveeld met die oefening raak nie en sal keer dat jy nie maklik beserings opdoen nie. Maak nie saak hoe oud óf jonk jy is nie, jy kan aktiwiteite vind wat aan jou fiksheidsvlak, belangstelling en behoeftes voldoen! 7

Voordele van gereelde oefening

As jy gereeld aktief is, sal jy nie net jou gewig in toom kan hou nie, maar ook die volgende gesondheidsvoordele geniet: 8

  • ’n laer risiko vir ’n hartaanval of hartsiektes;
  • ’n laer cholesterolvlak;
  • ’n laer risiko vir tipe 2-diabetes en sommige soorte kanker;
  • ’n laer bloeddruk en verbeterde bloedsirkulasie;
  • sterker bene, spiere en gewrigte en ’n laer risiko om osteoporose te ontwikkel;
  • vinniger herstel van siektes; en
  • beter voel – meer energie hê, in ’n beter bui wees, meer ontspanne voel en beter slaap.

Hou jou brein gesond

’n Aantal studies het bevind dat oefening jou sommer in ’n goeie bui sit en depressie en angstigheid keer.

Só help dit: 9

  • Oefening kan negatiewe gedagtes blokkeer of jou aandag aftrek van jou daaglikse bekommernisse.
  • Om saam met jou maats te oefen, bied ’n geleentheid vir meer sosiale interaksie en om hegte vriendskapsbande te smee as julle saam sweet.
  • Verhoogde fiksheid kan jou positief maak en sal jou beter laat slaap.
  • Oefening kan ook die vlakke van goeie stowwe (chemikalieë) in jou brein ’n hupstoot gee, soos serotonien en endorfiene.

Woordbank

depressie Terneergedruktheid van die gemoed; ernstige bedruktheid/neerslagtigheid wat iemand laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
fiksheid Gesond en liggaamlik in ‘n goeie toestand, veral as gevolg van gereelde oefening.
osteoporose Siektetoestand gekenmerk in die afname van die massa en digtheid van bene.
soepel Slap; sag; buigsaam.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Oefening kan jou slimmer maak

Die voordele van oefening

Só maak oefening jou gesonder

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 Augustus 2021 | Bygewerk op 18 Oktober 2023