Vinnige feite

  • Die Van Gogh-familie was baie arm en op 15 het Vincent die huis verlaat om in sy oom se kunswinkel in Den Haag, Nederland, te gaan werk. Teen daardie tyd kon hy al Duits, Nederlands, Frans en Engels praat. 9
  • Sy broer, Theo, het later vertel dat Vincent se laaste woorde “la tristesse durera toujours” was, wat beteken “die hartseer sal vir altyd duur”. 5
  • Vincent het sy bekende skildery van die sonneblomme geverf om sy huis ʼn bietjie op te kikker toe hy hoor dat sy vriend, Paul Gauguin, vir hom kom kuier. 6
  • Hy het net ʼn gedeelte van sy oor afgesny en nie sy hele oor soos baie mense dink nie. Dit lyk asof dit sy regteroor is, maar hy het ʼn spieël gebruik om homself te verf, en dit is dus eintlik sy linkeroor. 5
  • Gedurende die tyd wat Vincent ʼn onderwyser van ʼn Metodisteskool in Engeland was, het hy op Eugenie Loyer verlief geraak. Toe sy nie met hom wil trou nie, was hy só ontsteld dat hy al sy boeke behalwe sy Bybel weggegooi het. Hierna besluit hy om ʼn sendeling en predikant te word. 9
  • Hy weier om Latyn as deel van sy studies as ʼn predikant te neem omdat dit volgens hom ʼn “dooie taal is wat niemand meer praat nie”. Hy word nie toegelaat om ʼn predikant te word nie. 9
  • Vincent en Theo het ʼn jonger boetie met die naam Cornelis gehad. Hy het in Suid-Afrika gebly, gewerk en getrou, maar sterf, net soos sy broers, baie jonk toe hy tydens die Anglo-Boereoorlog aan die Boere se kant veg, maar in Brandfort noodlottig gewond word. 10

Hoewel hy nie gedurende sy leeftyd bekend was nie en slegs een skildery, Die Rooi Wingerd (The Red Vineyard) verkoop het, word Vincent van Gogh vandag as een van die grootste en invloedrykste kunstenaars van sy tyd beskou.

Die Vincent van Gogh-museum.

In 1990 is sy portret van dr. Gachet 1 vir meer as $82,5 miljoen in vandag se geldwaarde (sowat $160 miljoen in vandag se geldwaarde, byna R2.9 miljard) op ʼn veiling van die afslaers Christie’s verkoop, 2 tot 2 miljoen mense besoek jaarliks die Vincent van Gogh-museum in Amsterdam, Nederland, wat dit een van die gewildste museums ter wêreld maak. Hier kan jy meer as 200 van sy skilderye, sowat 500 tekeninge, asook talle briewe van nader besigtig. 3

Ofskoon talle mense hom as hardkoppig en selfs vreemd beskou het, was Vincent van Gogh in sy kort lewe ʼn meester wie se werk ʼn ereplek in die geskiedenis van kuns verdien.

Van Gogh het meer as 20 selfportrette oor die jare geskilder.

Vroeë jare

Vincent Willem van Gogh is op 30 Maart 1853 in Nederland as die oudste van ses kinders gebore. Hy het twee broers en drie susters gehad. Sy pa, Theodorus, en oupa, Vincent, was predikante en sy ma, Anna, was ʼn kunstenaar. Hy word vernoem na sy boetie, wat op 30 Maart 1852 tydens geboorte oorlede is. Vincent is dus presies een jaar ná sy broer se geboorte (en sterfte) gebore. Vincent word beskryf as ʼn stil seun wat sy vrye tyd daaraan gewy het om deur die platteland te dwaal en die natuur waar te neem. Met die pastorie wat direk langs die kerk se begraafplaas was, moes hy waarskynlik elke dag verby sy boetie se graf stap. 4

Hoewel sy familie baie godsdienstig was, het sommige van hulle wel in die kunswêreld gewerk. 5 Sy jonger broer, Theo, aan wie hy baie geheg was, het ʼn kunsgalery in Parys, Frankryk, bestuur, en hy ondersteun later vir Vincent toe hy besluit het om voltyds ʼn kunstenaar te word. Dit is dan ook uit ongeveer agthonderd briewe wat Vincent aan Theo geskryf het dat ons meer van hierdie passievolle kunstenaar te wete kom. 6

Vincent was van kleins af lief daarvoor om te teken, maar hy het eers ʼn hele aantal ander beroepe beoefen voordat hy uiteindelik ʼn skilder geword het. 5 Hy het aanvanklik vir ʼn paar kunshandelaars gewerk en reis in hierdie tyd tussen Den Haag, Londen en Parys. Vir ʼn ruk is hy ʼn onderwyser in Engeland, maar besluit dan om ook ʼn predikant soos sy pa te word. Hy werk vanaf 1879 as ʼn sendeling onder arm mense in die myne van België, maar besef later dat hierdie werk nie noodwendig sy roeping is nie. 7

Loopbaan

Dit is eers op 27-jarige ouderdom wat Vincent van Gogh besluit om al sy aandag aan kuns te wy. Sy eerste werke word met potlood, houtskool en soms ook waterverf gedoen. Een van die bekendste kunswerke wat hy aan die begin van sy kunsloopbaan in 1885 tydens sy sendelingwerk in België lewer, is Die Aartappeleters, ʼn skildery van ʼn arm gesin in België wat besig is om aartappels vir aandete te eet.

Sy eerste werke is baie somber en ernstig; hy gebruik ook baie donker kleure, soos bruin en donkergroen. 8 In Frankryk ontvang hy nie net kunsopleiding nie, maar ontmoet ook vername skilders soos Monet en Gauguin. Hy begin om ligter en helderder kleure te gebruik, en sy verftegniek bestaan uit kort hale met die verfkwas.

Vir Van Gogh het sonneblomme dankbaarheid gesimboliseer. Geel was sy gunstelingkleur.

Die onderwerpe van sy kuns was baie keer geïnspireer deur die plekke wat hy besoek het. Hy het ook daarvan gehou om mense te skilder, maar omdat hy nie geld vir modelle gehad het nie, het hy meer as twintig selfportrette gemaak.

Toe hy in 1888 na Arles in Frankryk trek, huur hy ʼn kamer in ʼn geel huis. (Geel was sy gunstelingkleur.) Die helder son van die suide van Frankryk inspireer hom om nog helderder en lewendiger kleure te gebruik. Soms sou hy die verf in die buis direk op die skildery spuit en dan kon dit baie lank neem om droog te word.

Van Van Gogh se verfkwaste.

Verhoudings en gesondheid

Vincent was van kleins af ʼn baie sensitiewe kind met ʼn swak selfbeeld, en die feit dat hy ten spyte van sy boetie se ondersteuning net een skildery in sy hele lewe verkoop het, het beslis nie sy selfbeeld ʼn hupstoot gegee nie. 8

Hy het boonop gesukkel met verhoudings. Toe hy na Arles in Frankryk gaan om ʼn plek te stig waar kunstenaars saam kan bly en mekaar kan inspireer, is dit net Paul Gauguin, ʼn skilder en een van sy min vriende, wat opdaag. Toe Gauguin ná ʼn rusie tussen hulle besluit om Arles te verlaat, hardloop Vincent met ʼn lemmetjie agterna. Op die ou end sny Vincent ʼn stuk van sy eie oor af en stuur dit as ʼn “geskenkie” na ʼn vrou in die dorp. 5

Selfportret nadat hy ‘n stukkie van sy oor met ‘n lemmetjie afgesny het.

Dokters is tot vandag nog nie seker wat presies fout was met Vincent nie, maar hy het iets soortgelyks aan epileptiese aanvalle gekry. 4 Hy sou soms dae aanmekaar skilder sonder om te eet. Toe die dorpenaars van Arles ʼn petisie teken om te sê dat hy gevaarlik is en gehospitaliseer moet word, verswak sy geestestoestand só dat hy homself in ʼn hospitaal in Frankryk laat opneem. 8 In dié hospitaal skilder hy een van sy bekendste skilderye, Die Sterrenag.

Die Sterrenag, een van Van Gogh se bekendste skilderye.

In daardie tyd het dokters nie baie van Vincent se siekte geweet nie. Hy kon nie altyd sy emosies beheer nie. Soms sou hy hartseer wees en oomblikke daarna kwaad. Kuns was vir hom ʼn manier om sy siekte te hanteer, maar soms sou hy homself seermaak om beter te voel.

Ook in sy skildery, Die Slaapkamer, kan sy liefde vir geel gesien word. Sy huis in Arles is die Geel Huis genoem.

In Julie 1890 word Vincent deur ʼn koeël in sy bors gewond. Theo vertrek onmiddellik na die hospitaal om by hom te wees. Vincent leef nog vir twee dae, maar sterf op 29 Julie 1890. Hoewel daar aanvaar word dat dit selfdood was, was daar ook gerugte dat twee seuns hom geskiet het. 6 Ses maande later sterf Theo van Gogh en word langs Vincent in Frankryk begrawe. 5

Die huis in Frankryk waar Vincent en sy broer Theo gewoon het.

Sy deurslaggewende bydrae tot kuns

Vincent is op die jong ouderdom van 37 jaar oorlede nadat hy slegs kuns vir tien jaar voltyds beoefen het. Hy het gedurende hierdie tyd meer as 800 olieverfskilderye en meer as ʼn 1 000 sketse voltooi.

Ná sy dood het Theo se vrou Vincent se skilderye geneem om aan die wêreld bekend te stel. Binne drie jaar ná sy dood is al sy skilderye verkoop en was hy wêreldbekend. Sy styl was heeltemal anders as die ander kunstenaars van daardie tyd. Dis veral die helder kleure en die emosie wat in die skilderye vasgevang is, wat sy werk besonders maak. As jy mooi kyk, sal jy sien dat die kwashale opgebreek was – so asof hy elke keer die kwas van nuuts af op die skildery gesit het. 4

Vandag word hy bedkou as een van die kunstenaars wat die grootste invloed op moderne kuns gehad het.

Die Van Gogh-museum in Amsterdam, Nederland.

Woordbank

epileptiese ʼn Beensiekte waar die elektroniese impulse van die brein onreëlmatig is en dit tot aanvalle lei waar die lyf gewoonlik onbeheersd ruk.
petisie ʼn Formele brief wat deur ʼn klomp mense, wat oor ʼn saak saamstem, onderteken word.
kwashale ʼn Streep wat met ‘n kwas getrek is, gewoonlik in ‘n kunswerk.
impressionisme ʼn Weergawe van ’n gebeurtenis/toneel/voorwerp soos dit die kunstenaar op die oomblik tref, waarin atmosfeer geskep deur ligeffekte belangrik is.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer 

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Starry, Starry Night deur Don McLean (gebaseer op Van Gogh se lewe)

Agter die skerms van Loving Vincent, die wêreld se eerste vollengte geskilderde film

Hoe om Vincent van Gogh se wêreldbekende sonneblomme te skilder

ʼn Goggatjie wat in een van Vincent van Gogh se skilderye vasgevang is

Kleur jou eie Van Gogh in!

Foto: iStockFoto: Van Gogh Museum via Wikimedia CommonsFoto: Musée d'Orsay: 751 via Wikimedia CommonsFoto: Museum of Modern Art: online database: entry 79802 via Wikimedia CommonsFoto: Musée d'Orsay: 746 via Wikimedia Commons
Gepubliseer op: 31 Maart 2022 | Bygewerk op 6 Maart 2024