Vinnige feite

  • Daar is ʼn skool in Bothasig, Kaapstad, wat na Wolraad Woltemade genoem is: Laerskool Wolraad Woltemade.
  • Wolraad Woltemade se storie het al baie kunstenaars geïnspireer. Daar is kunswerke gemaak, toneelstukke opgevoer en selfs liedjies oor hom gesing. C. Louis Leipoldt het ʼn baie bekende gedig genaamd “Wolraad Woltemade” oor hom geskryf.
  • Daar is ʼn standbeeld van Wolraad Woltemade in Jan Smutslaan in Pinelands, Kaapstad. Dit is op Old Mutual se terrein geleë en is deur die beeldhouer Ivan Mitford-Barberton geskep. 7
  • Die Suid-Afrikaanse regering het ʼn toekenning vir dapperheid na Wolraad Woltemade genoem. Dit word toegeken aan burgers van die land wat hul eie lewe waag om iemand anders te red. 8
  • Die Portugese ontdekkingsreisiger Bartolomeu Dias het die Kaap Cabo das Tormentas, oftewel die Kaap van Storms, genoem omdat hy die storms eerstehands beleef het. Dit is later na die Kaap van Goeie Hoop herdoop. 9
  • Die Kaap van Storms het al baie skeepswrakke opgelewer, en daar is boonop skepe wat as vermis aangeteken is, maar waarvan wrakke nog nooit gevind is nie. Die Arniston is een van die Kaap se bekendste skeepswrakke. Die skip wat in 1794 gebou is, het op een van sy reise Britse troepe vervoer met ʼn totaal van 379 mense aan boord. Die Arniston is deur sterk winde van koers afgedwing en het naby Kaap Agulhas op die rotse geloop. Slegs ses mense het die tragedie oorleef. 10

Wolraad Woltemade word as ʼn Suid-Afrikaanse held beskou. ʼn Held is iemand wat baie dapper en vol moed is en na wie mense opsien en bewonder. 1

S.J. du Toit het reeds in 1895 in De geskiedenis van ons land, in di taal van ons volk Wolraad Woltemade se storie vertel. 2 Hy het geskryf dat daar op 1 Junie 1773 ʼn vreeslike noordewind aan die Kaap gewoed het. ʼn Skip genaamd De Jonge Thomas het van sy anker losgeruk en is by Soutrivier deur onstuimige waters stukkend geslaan. Die mense het vreeslik beangs gegil, en dit het nie gelyk asof enigiemand die mense sou kon help nie. Wolraad Woltemade het te perd daar aangekom. Volgens Du Toit was hy ʼn eenvoudige man, die goewerneur het na hom as “ʼn melkboer” verwys, maar ander het weer gesê hy het in die kompanjietuin gewerk.

Hy het met sy perd na die skipbreukelinge geswem en elke keer só twee mense uitgebring, maar ná sewe keer was sy perd stokflou. Die mense op die boot het so gehuil en geskree dat Woltemade hulle jammer gekry en weer ingegaan het. Toe hy vir die agtste keer ingaan, het mense die perd se teuel ook gegryp, en die perd kon nie meer bo bly nie. Woltemade en sy perd het verdrink, en baie mense is dood. Toe die maatskappy van Woltemade se heldedaad hoor, het hulle ʼn nuwe skip De Held Woltemade genoem. Hulle het ook glo ʼn skildery van die gebeure laat maak en dit aan sy weduwee geskenk.

Wat weet ons nou?

Vandag weet ons uit verslae uit die geskiedenis dat die skip De Jonge Thomas aan die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) behoort het. 3 Die skip se mas het glo gebreek en het by die mond van die Soutrivier in Tafelbaai anker gegooi. Daar het vir ʼn paar dae ʼn erge storm gewoed, en die skip is geanker. Die storm het egter net vererger, en die Kaap van Storms het behoorlik sy naam gestand gedoen. Die see was so rof dat die skip se anker losgebreek het. Die skip het naby Woodstock-strand op die rotse geloop en blykbaar in die helfte deurgebreek. 4

Daar is nie eenstemmigheid oor hoeveel mense aan boord van die skip was nie – sommige vertel daar was tussen 191 en 207 mense, terwyl ander sê daar was tot 270 mense aan boord van die skip. 5

In die vroeë oggendure van 1 Junie 1773 het Kaptein Barend Lameren gevra dat die skip se kanonne afgevuur word om die mense op die strand te vra om hulle te help. Baie van die passasiers en matrose aan boord van die skip het in die rowwe see geval, en talle het verdrink soos hulle kus toe probeer swem het. Blykbaar kon heelwat matrose destyds nie eens swem nie, en die rowwe seetoestande en seestrome het dit ook baie moeilik gemaak vir dié wat wel kon swem. Daar was soldate aan die kus, maar die soldate het ook nie vir die rowwe see kans gesien nie. 3

Volgens navorsing was Baron Joachim van Plettenberg in daardie tyd die waarnemende goewerneur van die Kaap de Goede Hoop, en hy het glo sommer ʼn galg op die strand opgerig in ʼn poging om diewe weg van die skip te hou omdat daar soveel geld aan boord was. 6

Wolraad Woltemade was volgens oorlewing 65 toe hy op sy perd se rug verbygekom en probeer het om die mense te red. Hy het met sy perd na die wrak geswem, en hy het ʼn tou vir die skipbreukelinge gegooi, en elke keer het hy twee mense agter hom uitgesleep. Hy het sewe keer na die skip geswem en kon só daarin slaag om 14 mense te red. Toe Woltemade die agste keer op sy perd se rug uitswem, het ʼn oormag mense paniekerig die perd gegryp, en die perd en sy ruiter het onder die branders verdwyn. Slegs 53 het die skipbreuk oorleef, waarvan 14 deur Woltemade gered is.

Joachim van Plettenberg

Hy het sodoende ʼn held geword, en die VOC-maatskappy het ook ʼn skip na hom vernoem, De Held Woltemade. Die Unie van Suid-Afrika het in 1939 ʼn medalje vir dapperheid na hom vernoem. In 1970 is die Woltemade-toekenning vir dapperheid ingestel, en in 1988 met die Woltemade-kruis vir dapperheid vervang. Dit is tot en met 2002 aan mense oorhandig. 3

Wolraad Woltemade se beroepe

Daar word dikwels oorvertel dat Wolraad Woltemade ʼn boer was, maar dit wil voorkom asof hy oorspronklik ʼn soldaat van Duitsland was. Hy het blykbaar vir die VOC gewerk en was met tye ʼn toesighouer by die VOC-tuin. Hy is volgens oorlewering in 1708 in Laer-Saksonië in Duitsland gebore. Volgens VOC-rekords het hy ook vir die kompanjie se melkerye gewerk waar melkkoeie by die Riet Valleij-buitepos aangehou is. Sekere stories noem hom dan ook ʼn melkboer, en dit is waar die storie vandaan kom. 5

Sy naam verskyn egter in 1752 vir die eerste keer op die VOC-rol wanneer daar na hom verwys word as ʼn 44-jarige korporaal in bevel van die kompanjiepos by Steenberg. Daar word vermoed dat hy daarna weer tydelik teruggekeer het na Europa – sy vrou, Janna Charlotta, het nooit by hom aangesluit aan die Kaap nie – maar in 1770 was hy weer aan die Kaap as poshouer in Muizenberg. ʼn Jaar later was hy voorman van die kompanjie se melkery, en in 1773 (die jaar toe hy oorlede is) was hy die opsigter van die kompanjie se dieretuin. 4

Waarheid of verdigsel?

Blykbaar is Wolraad se storie die waarheid en nie net ʼn versinsel nie, want die vertelling daarvan verskyn telkens in verslae van daardie jare. Dr. Carl Peter Thunberg, ʼn Sweedse dokter en botanis, het die gebeure in sy joernaal opgeteken en het dit met sy terugkeer na Nederland gepubliseer. Die Sweedse skrywer en botanis Anders Sparman het dit ook in sy boek, Reize naar de Kaap, ingesluit. 5

Woordbank

anker ʼn Swaar voorwerp wat aan die seebodem vashaak om te keer dat ʼn boot wegdryf. 1
botanis ʼn Plantkenner. 10
buitepos Afgeleë pos, weg van die sentrum van bedrywighede. 11
burgers Iemand wat in ʼn sekere dorp, stad, provinsie of land woon en sekere verantwoordelikhede het. 1
dapper  Iemand wat moedig en sonder vrees is. 1
galg Raamwerk met ʼn dwarsbalk en tou wat gebruik word om oortreders of misdadigers aan op te hang.
kompanjie Handel- of skeepvaartmaatskappy. 10
mas ʼn Lang hout- of metaalpaal op ʼn skip waaraan die seile opgehys word.
matrose Iemand wat op ʼn skip werk, veral iemand met ʼn lae rang. 10
skipbreukelinge Iemand op ʼn skip wat sink/vergaan. 10

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Wolraad Woltemade

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Wolraad Woltemade

Storieman se verhaal van Wolraad Woltemade

Die vergete held

Die storie van Wolraad Woltemade

Gepubliseer op: 31 Mei 2022 | Bygewerk op 25 Oktober 2023