Vinnige feite

  • In 1993 is Zambië platgeslaan toe almal behalwe drie van die lede van hul nasionale sokkerspan, insluitende afrigters, in ’n vliegongeluk op pad na ’n wedstryd gesterf het. 7
  • Tussen Oktober 2014 en Januarie 2015 was Guy Scott die waarnemende president. Hy was Zambië se eerste wit staatshoof en die eerste wit staatshoof in Afrika sedert die einde van apartheid in Suid-Afrika 1994. 7
  • Zambië het onafhanklikheid verklaar tydens die 1964 Olimpiese Spele. Dit is die enigste land wat al ooit die Olimpiese Spele met een naam begin en ’n ander geëindig het! 6
Foto: iStock

Die Republiek van Zambië, meestal bekend as Zambië, is ’n land sentraal geleë in Suider-Afrika, en omring deur ‘n hele aantal lande. Dit grens aan Tanzanië in die noordooste, Malawi in die ooste, Mosambiek in die suidooste, Zimbabwe en Botswana in die suide, Namibië (deur die Caprivistrook) in die suidweste, Angola in die weste en die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) in die noordweste.

Die land se naam word afgelei van die Zambezi-rivier, wat “groot rivier” in die Tonga-taal beteken. 1

Zambezi-rivier

Oorsig

Amptelike naam Republiek Zambië.
Plaaslik: Republic of Zambia (Engels).
Engelse naam Zambia/Republic of Zambia.
Ook/voorheen bekend as Zambië; Noord-Rhodesië; Northern Rhodesia; Central African Federation.
Leier President Hakainde Hichilema (sedert 24 Augustus 2021). 1
Hoofstad Lusaka.
Grootste stad Lusaka (bevolking 1 267 440). 2
BBP (bruto binnelandse produk) $29 784 454 056 (2022), groeikoers 4,74%. 3
BBP per capita $1 282 (2022). 3
Bevolking (wêreldrang) 2024: 21 023 463 (63e). 2
Bevolkingsdigtheid 28 mense per km². 4
Regeringsvorm Republiek met eenkamerparlement. 4
Amptelike taal Engels. 4
Totale oppervlakte (wêreldrang) 752 612km2 (39ste). 5
Geldeenheid Zambiese kwacha (ZMW), opgedeel in 100 ngwee.
Internetkode .zm
Skakelkode +260
Tydsone UTC +2
Byvoeglike naamwoord Zambiese.
Inwoner Zambiër.
Lusaka

Geskiedenis

Die vroegste inwoners van Zambië was Khoisan-groepe wat tydens die Steentydperk daar gewoon het. 6

Eerste mense

Van die eerste eeu af het Bantoesprekende boere uit die noorde die Khoisan verdryf. Teen die sesde eeu het hulle koper en ysterwapens gehad. Oorblyfsels van skulpe, glas- en goue krale in die gebied is bewys dat die vroeë inwoners kontak met mense van die ooskus gehad het. Hierdie mense moes op hul beurt kontak met Asiate gehad het, want dis waar dié krale vandaan gekom het. 7

Die Mutapa-ryk in die suide het van die 14de tot die 17de eeu oor groot dele van die gebied regeer. 1

Teen die begin van die 19de eeu was daar vir die eerste keer dig bevolkte koninkryke, insluitende die Chewa (oos), Bemba (noordoos), Lunda aan die laer Luapula-rivier en die Luyana (of Lozi) aan die bolope van die Zambezi-rivier. 7

Droë rivier in Suid Luangwa Nasionale park

Uitbreiding van handel

Inheemse Zambiërs se eerste kontak met die Westerse wêreld was Portugese handelaars. Hulle het aanvanklik katoen vir ivoor en koper geruil. Later het Europeërs, meestal Portugese, in die gebied vir goud gemyn en gejag. Teen die einde van die 18de eeu wou Kazembe III, die Lunda-koning, handel dryf in plaaslike produkte, maar teen hierdie tyd het die Portugese se fokus na slawehandel geskuif.

Die slawehandel het vinnig uitgebrei en mense dwarsoor die gebied is betrek as slawe óf slawehandelaars. Nie alle slawe is uitgevoer nie: die Lozi-koninkryk het verkies om hul slawe eerder vir hulself te hou.

Teen die tweede deel van die 19de eeu was die gebied in rep en roer, met handelaars en indringers van alle kante. Die Lozi-koninkryk is vir ’n wyle deur die Kololo, ’n groep uit die suide, regeer. Die Chewa is oorwin deur die Ngoni, nog ’n groep uit die suide. Slawe en ivoor was in groot aanvraag, en daar was ook ʼn groeiende aanvraag na ystergereedskap, sout, tabak en ander voedselprodukte. Gewapende plunderaars het gereeld die gebied genadeloos gestroop en verwoesting gesaai. 7

Europese kontak

David Livingstone, die beroemde Britse ontdekkingsreisiger, het tussen die 1850’s en 1870’s drie ekspedisies deur die gebied onderneem. Sy reise het sendelinge besiel om die Afrikane te kom bekeer. 7

Britse handelaars was kort op die sendelinge se hakke. Britse maatskappye het agente gestuur om by plaaslike regeerders konsessies te kry om minerale en ander hulpbronne te ontgin. 1 Die belangrikste van hierdie maatskappye was Cecil John Rhodes se geoktrooieerde maatskappy British South Africa Company (BSAC). 6 Britse beheer oor die gebied is sodoende stadig maar seker uitgebrei. 7

In 1889 het die Britse regering aan die BSAC die reg gegee om die gebied te bestuur. In die jare hierna is die grense wat vandag bestaan, meestal vasgestel deur ’n reeks verdrae tussen Duitsland, Portugal, die Belgiese koning Leopold III, Rhodes se agente en plaaslike hoofmanne.

Op hierdie stadium was daar nie juis weerstand teen Europese indringing nie. Die plaaslike groepe, veral die Bemba en Lozi, was meer vyandig teenoor mekaar as die Europeërs. Boonop het siektes en hongersnood die plaaslike mense verswak: in die 1890’s alleen was daar uitbrekings van pokke en runderpes en het sprinkaanplae die landstreek vermorsel. 7

Cecil John Rhodes

BSAC beheer

Die BSAC het in 1911 hul grondgebied noord van die Zambezi-rivier saamgesmelt om Noord-Rhodesië te vorm. Hulle het die gebied meestal gebruik om goedkoop arbeid vir die goud- en diamantmyne in Suid-Afrika en die Katanga-myne in die Belgiese Kongo te werf. Daar was wel weerstand onder inheemse Zambiërs, maar dit was nie vir die BSAC ’n bedreiging nie.

Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het die gebied swaar getref. Die land is gestroop van kos en werkers. Ontevredenheid het gelei tot meer georganiseerde weerstand, soos deur die Watchtower-beweging, ’n rebellie onder die Mabwe in die noordooste. Wit setlaars het ook teen hoë belasting kapsie gemaak. Dit was nie meer vir die BSAC die moeite werd nie, en in 1924 het hulle beheer oor Noord-Rhodesië aan die Britse regering oorgedra. 7

Britse beheer

Die Britte het gehoop om wit setlaars in die gebied in te lok, en het goeie land vir hulle uitgehou. Swart mense is na reservate verskuif, waar oorbevolking, swak grond en voedseltekorte chaos gesaai het. Baie van die grond wat uitgehou is, is boonop nie deur wit setlaars bewoon nie.

Die ontginning van koper het intussen gedy. Plaaslike mense het in haglike omstandighede in kopermyne gewerk. Stakings het gevolg. Die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het die situasie vererger. Werkers het vakbonde gevorm om hul saak te beveg. Een vroeë weerstandsbeweging was die Northern Rhodesia Congress, wat vir swart mense se regte geveg het.

In 1953 het Brittanje besluit om Noord- en Suid-Rhodesië en Njassaland (vandag se Zimbabwe, Zambië en Malawi) saam te smelt in die Federasie van Sentraal-Afrika. Dit was ’n mislukking. 7 Politieke mag was in die hande van die wit regeerders van Suid-Rhodesië, waaroor die Noord-Rhodesiërs uiters ontevrede was. 6

In 1958 het Kenneth Kaunda en sy radikale ondersteuners van die Northern Rhodesia Congress afgestig en die Zambia African National Congress (en sy opvolger, die United National Independence Party [of UNIP]) te stig. Hul doel was om te veg vir Noord-Rhodesië se onafhanklikheid.

Die Federasie van Sentraal-Afrika is in 1963 ontbind. Verkiesings is in 1964 gehou en deur die UNIP gewen. Op 24 Oktober 1964 is ’n onafhanklike Republiek van Zambië, met Kaunda as president, bekragtig. 7

Zambië sedert onafhanklikheid

Zambië is van meet af deur probleme geteister. Daar was min Zambiërs met die nodige kennis of vaardighede om ’n regering of ekonomie te bestuur. 6 Daar was spanning tussen inheemse groepe, soos die Lozi en die Bemba, en nie ’n logiese omgangstaal nie. 7

Kaunda het weerstandsgroepe in die res van Suider-Afrika, soos die African National Congress (ANC) van Suid-Afrika en die Zimbabwe African People’s Union (Zapu) van Zimbabwe ondersteun. Dit het sy verhoudings met die wit regerings van sy buurlande, en dus Zambië se ekonomie, verswak. 6

In die eerste paar jare was die ekonomie redelik stabiel. Goeie koperpryse het die ekonomie ’n hupstoot gegee, en daar was geld om in maatskaplike welsyn te belê.

Teen die 1970’s was vooruitsigte swak. Korrupsie het toegeneem en die regering het al hoe meer outokraties begin optree. In 1973 het hulle ’n eenpartygrondwet aangeneem, en Kaunda het sy teenstanders onderdruk.

Ekonomiese en politiese onrus in die 1980’s het egter druk op die regering geplaas. Die uiteinde was dat die eenpartystaat in 1991 afgeskaf is. Kaunda is in die verkiesing beslissend deur Frederick Chiluba van die Movement for Multiparty Democracy (MMD) verslaan. 7

Chiluba as president

Chiluba het ’n mate van politieke stabiliteit gebring, maar die land het steeds onder interne probleme gebuk gegaan. Swak koperpryse, ekonomiese wanbestuur en ’n tydperk van droogtes het ekonomiese groei belemmer. 1 Teen die middel van die 1990’s was Zambië in diep skuld gedompel. 7

Korrupsie het ook voortgeduur, en ontevredenheid met Chiluba het gegroei. Daar was onsuksesvolle pogings om van hom ontslae te raak, en stakings en onluste was wydverspreid. Zambië se probleme is boonop vererger deur ’n invloei van vlugtelinge uit buurlande soos die DRK en die Demokratiese Republiek die Kongo.

Ná twee termyne van Chiluba se bewind het die MMD die 2001-verkiesing gewen, en Levy Mwanawasa van die MMD het hom vervang.

Tussen 2008 en 2021 was daar ’n reeks magsoornames. Die mees onlangse verkiesing, in 2021, is deur Hakainde Hichilema van die United Party for National Development (UPND) gewen. 7

Hakainde Hichilema

Huidige situasie

In die afgelope twintig jaar was daar veldtogte teen korrupsie, pogings om die ekonomie op te kikker en infrastruktuur op te bou. Dit was nie altyd suksesvol nie. 7 Ekonomiese bestuur is wisselvallig, 1 en politiese onstabiliteit verswak die regering. Die Covid-epidemie van 2020 en die jare daarna het die ekonomie verder verswak. 7

Geografie

Zambië is ’n land wat deur ander lande omring word (in Engels: landlocked).

Zambië is die 17de grootste land in Afrika. Die kenmerkende skoenlappervorm word deur ’n stuk van die DRK bekend as die Kongolese Pedikel veroorsaak. Zambië is omtrent twee derdes van die grootte van Suid-Afrika. 8

Landskap

Zambië is op ’n hoë plato geleë. Die oppervlak word plek-plek deur valleie en mere gekloof. 7

In die suidweste lê ’n stuk van die land in die Zambesi-kom. Die Zambezi-rivier loop deur Angola en dan Zambië voor dit by die Victoria-waterval neerstort in die kloof op pad na die Kariba-meer. Die Zambezi-rivier het twee belangrike sytakke in Zambië: die Kafue- en die Luangwa-rivier. 7 Ander belangrike riviere is die Kabompo, Lungwebungu, Luangwa, en Cuando. 6

Zambië het heelpartye groot mere, insluitende die Tanganjika-, Mweru- en Bangweulu-meer.

Die hoogste punt in Zambië is Mafinga Hills, wat 2 330 m bo seevlak uitstyg. 1

Klimaat

Zambië is in die Suidelike Halfrond geleë.

Dit is in die tropiese streek geleë. Die land lê egter redelik hoog bo seespieël, wat die gemiddelde temperature verlaag en dit meer gunstig maak vir mense om daar te woon. Die warmste deel van Zambië is die Luangwa-vallei, en die koudste die Nyika-plato. 7

Zambië beleef duidelike seisoene. 5 Tussen November en April is dit warm en nat, met temperature van middel tot lae 20 ⁰C. Dié seisoen kry ook die meeste reënval. Hierdie reënval verlaag die temperature. Van Mei tot Augustus is dit koel en droog, met temperature van middel 10 ⁰C tot middel 20 ⁰C . September tot Oktober is die warm, droë seisoen, met temperature in die middel 20 ⁰C  tot middel 30 ⁰C .

Reënval is orals wisselvallig. In die droogste gebiede reën dit so om en by 800 mm per jaar, en in die natste gebiede gemiddeld 1 000 mm, maar dit kan styg tot 1 400 mm. 7

Omgewingsprobleme en gevare

Zambië se mynbouaktiwiteite veroorsaak lugbesoedeling en suurreën. Dit beskadig waterbronne en lei tot ’n verlies van biodiversiteit. Daar is ontbossing omdat inwoners die natuurlike woude opkap op soek na brandstof vir huishoudelike vure. 7 Gronderosie, verwoestyning en gebrek aan behoorlike watersuiwering hou vir die mense ’n gevaar in. Zambië se wildedierbevolkings word deur stropery van renosters, olifante, bokke en grootkatbevolkings bedreig.

Natuurlike bedreigings sluit droogtes en tropiese storms in, veral tussen November en April. 1

Landmerke

Zambië se bekendste landmerk is Mosi-oa-Tunya, oftewel die Victoria-waterval. Dit is ’n wêrelderfenisterrein wat met Zimbabwe gedeel word. 9

Regering

Zambië is ’n unitêre grondwetlike presidensiële republiek.

Regeringstrukture

Zambië se grondwet is in 1991 aanvaar en maak voorsiening vir ’n multiparty-staat met skeiding van die uitvoerende, regsprekende en wetgewende takke.

Die president is die staatshoof, en word deur algemene stemreg vir twee vyfjaartermyne verkies. Die president stel ’n kabinet uit verkose lede van die parlement aan.

As dit kom by die parlement het Zambië ’n eenkamerstelsel. Die 166 lede word meestal verkies, buiten agt lede wat deur die president aangewys word. 7

Administratief word Zambië in 10 provinsies opgedeel, wat op hul beurt weer in distrikte opgedeel word. 1

Politieke partye

Die vernaamste politieke partye in Zambië is:

  • Die United Party for National Development (UPND), tans die party aan bewind.
  • Alliance for Democracy and Development (ADD).
  • Forum for Democracy and Development (FDD).
  • Movement for Multiparty Democracy (MMD).
  • Party of National Unity and Progress (PNUP).
  • Patriotic Front (PF). 1

Buitelandse verdrae

Zambië is lid van die Verenigde Nasies (VN), Afrika-unie (AU), Statebond, Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en Gemeenskaplike Mark vir Oos- en Suider-Afrika (Comesa). 7

Ekonomie

Zambië is ’n laer middelinkomste-land. Dit is ’n belangrike uitvoerder van koper. Daar is grootskaalse korrupsie en landelike armoede. 1 Die sosialistiese ekonomiese beleid wat in die eerste jare ná onafhanklikheid gevolg is, hetdie ekonomie vernietig. 6 Die vryemarkekonomie wat daarna ingestel is, het meer produkte beskikbaar gemaak, maar net rykes en buitelanders kan dit bekostig. Daar is groot ongelykheid. 7

Zambië het ’n lae bevolking relatief tot die lande rondom. 7 Die werkloosheidsyfer is dus laag, alhoewel dit styg tog 26% vir mense tussen 15 en 24 jaar. Meer as helfte van mense leef in armoede. 1

Ekonomiese bedrywighede

Die hoeksteen van Zambië se ekonomie is kopermyne. Diversifikasie is egter nodig soos wat koper minder word. Koperpryse is boonop wisselvallig. 7 Ander natuurlike hulpbronne is kobalt, sink, lood en steenkool. 1

Bietjie meer as 30% van Zambië se oppervlak word vir landbou aangewend, waarvan 79% vir weiding gebruik word. Die belangrikste gewasse wat in Zambië verbou word, is mielies, sorghum, giersgras, kassawe en grondboontjies. Daar is ook katoenboerdery, bosbou en visserye. Landbou is swak ontwikkel. Dit neem wel die meeste mense in diens, maar baie mense is kleinboere wat bestaansboerdery beoefen.

Daar is min nywerheidsaktiwiteite. Nasionalisering in die 1970’s en 1908’s het die nywerhede verswak of vernietig.

Toerisme is ’n groeiende sektor, met wildsafari’s en die Victoria-waterval wat die meeste besoekers trek. 7

Victoria-waterval

Invoer en uitvoer

Zambië se vernaamste handelsvennote is Switserland, China, Namibië, DRK, Singapoer en Suid-Afrika. 1

Zambië se uitvoerprodukte sluit koper, koperdraad, edelstene, groente en blomme in. 7 Die grootste invoere is petroleum, kunsmis, medisyne en afleweringsvoertuie. 1

Mense

Zambië is ’n relatief homogene land.

Etniese groepe en taal

Sowat 90% van Zambië se bevolking behoort aan een van nege etniese groepe, waarvan die Bemba, Tonga, Chewa (Nyanja), Lozi en Nsenga die grootste deel uitmaak. 1 Die grootste groep is die Bemba, wat omtrent ’n vyfde van die bevolking insluit. Daar is ook ’n paar Khoisan-groepe op plattelandse gebiede. Europeërs en Asiate, meestal Indiërs, woon in die stede of op kommersiële plase. 7

Die inheemse groepe is almal Bantoesprekend, en die moedertale Bemba, Nyanja, Lozi, Tonga en Luvale word die meeste gepraat. 7 Bemba is die taal wat die meeste gepraat word, met omtrent 33% sprekers, en daarna Nyanja. 1 Zambië se amptelike taal is Engels. Daar is op Engels besluit, want enige inheemse taal sou ander groepe ontstel het. 6

Opvoeding

Om en by 87% van Zambië se bevolking is geletterd. 1

Verpligte skoolopvoeding begin op 7-jarige ouderdom, en duur vir 7 jaar. 7 Dit is egter nie vir al 7 jaar gratis nie en baie mense kan nie skole bekostig nie. 6

Zambië het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word deur die University of Zambië in Lusaka, die Copperbelt University in Kitwe, en andere verskaf. 7

Demografie en bevolkingsverspreiding

Demografiese gegewens:

  • Lewensverwagting: 63 jaar.
  • Fertiliteitsvlak: 4,2 geboortes per vrou per jaar.
  • Mediane ouderdom: 17,3 jaar.
  • Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 36,6 per 1 000 geboortes.
  • Sterftes onder vyf jaar oud: 52,2 per 1 000 geboortes. 10

Omtrent 54% van die bevolking bly op die platteland en die res in stedelike gebiede. ’n Tiende van die bevolking woon in Lusaka. 2 Groot dele van die land is yl bevolk. 7 Daar is tans grootskaalse verstedeliking, 1 wat werkloosheid in stede verhoog. 6

Meeste Zambiërs woon langs die sogenaamde Line of Rail, die treinspoor wat die Koperstreek (waar koper gemyn word) met Lusaka en Livingstone verbind.

Siektes en ander probleme

MIV/vigs in Zambië is baie algemeen, en 1 in 10 mense ly daaraan. Ander siektes wat probleme veroorsaak, is malaria en cholera. Zambië se hospitaaldekking is redelik goed, maar daar is ʼn tekort aan dokters. 7

Geloof

Meer as 95% van Zambiërs is Christene. Dit word soms met inheemse gelowe vermeng. 7

Zambië het nie ’n amptelike geloof nie, maar in die grondwet staan daar dat Zambië ’n Christelike nasie is. 4

Kultuur en sport

Zambië se kultuur is ’n mengsel van Europese- en Afrika-invloede, veral in die stede. Op plattelandse gebiede beoefen mense steeds tradisionele kultuuraktiwiteite, met seremonies soos Kuomboka, wat aan die einde van die reënseisoen gehou word.

Tradisionele kuns sluit pottebakkery, mandjiekuns, houtkerfwerk, ivoor-, koper- en draadkuns in. 6

Zambië se nasionale sport is sokker. Boks, netbal, vlugbal en atletiek is gewild. 7

Zambië neem sedert 1964 aan die Olimpiese Spele deel, aanvanklik as Noord-Rhodesië. Die land het al twee Olimpiese medaljes gewen: Keith Mwila het in 1984 ’n bronsmedalje in boks (mans) gewen, en Samuel Matete in 1996 silwer in die 400 m-hekkies vir mans. 11

Simbole

Zambië het die volgende nasionale simbole:

  • Vlag: Groen verteenwoordig die natuurlike hulpbronne en plantegroei, rooi simboliseer die stryd vir vryheid, swart die mense van Zambië, en oranje die minerale rykdom. Die arend verteenwoordig die mense se vermoë om bo hul probleme uit te styg.
  • Nasionale dier: Visarend.
  • Nasionale kleure: Groen, rooi, swart, oranje.
  • Volkslied: “Stand and Sing of Zambia, Proud and Free” (Staan en sing van Zambië, trots en vry).
  • Leuse: “One Zambia, One Nation” (Een Zambië, een nasie). 1
Zambezi-rivier

Woordbank

afgestig Om iets nuuts te vorm uit ’n bestaande ding wat te groot word of nie meer werk nie.
AU (Afrika-unie) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder.
BBP (bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word.
bekeer Dit is as iemand oorgehaal/oortuig word om ’n Christen te word of tot ’n ander godsdiens oor te gaan.
bekragtig Dit wettig maak.
besiel Iemand vol moed/geesdrif maak.
bestaansboerdery Boere wat op hul plase slegs kos vir hul eie gebruik produseer, en nie om te verkoop nie.
biodiversiteit Dit is die groot verskeidenheid van lewe (diere, plante, ens.) op die aarde en die prosesse wat alles aan die lewe hou. Dit word dus gesien as die diversiteit ten opsigte van lewende organismes en die verskillende ekosisteme waarin hulle voorkom en in interaksie met mekaar verkeer.
cholera Besmetlike/bakteriese ingewandsiekte veroorsaak deur die kommabasil.
diversifikasie Pogings om die ekonomie meer divers (ʼn verskeidenheid) te maak, soos byvoorbeeld om ander ekonomiese sektore op te hef.
ekspedisies Lang reis wat deeglik beplan is, veral na ’n onbekende en gevaarlike plek.
eenkamerstelsel Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit een huis bestaan.
eenpartygrondwet Land waar ’n enkele politieke party die regering beheer en die grondwet opstel.
etniese Wat met die mense van ’n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou.
fertiliteitsvlak Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee.
gedompel In ʼn situasie laat beland.
gedy Goed aard en dan vinnig vermeerder.
geletterd Om te kan lees en skryf.
 Comesa (Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika) Ekonomiese gemeenskap van 21 state wat saamwerk vir ekonomiese ontwikkeling en die bevordering van vrede en sekuriteit.
geoktrooieerde maatskappy ʼn Maatskappy wat deur ʼn stigtingsakte/handves gestig is.
gewasse Bepaalde soort plante, veral in die landbou, soos mielies en koring.
giersgras ’n Soort gras waarvan mens die sade kan eet.
groeikoers Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word.
gronderosie Wegvreet/wegkalwe/verweer van grond deur byvoorbeeld wind en water.
grootskaalse Baie groot; omvangryk, wydverspreid.
hoeksteen Fondament, grondslag.
homogene ‘n Homogene bevolking het dieselfde oorsprong, gebruike en voorkoms.
hulpbronne Alles wat tot nut is vir die mens.
hupstoot gegee Om iets weer te laat vlamvat/lewe gee, aanmoedig.
infrastruktuur Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens.
inheemse Wat oorspronklik in ʼn gebied voorkom.
interne Binne ʼn volk, groep, party, organisasie, regering.
ivoor Die tande van olifante en soortgelyke diere; dit is ook die materiaal waarvan die note van klaviere vroeër gemaak is; juweliersware word ook daarvan gemaak.
kabinet Al die ministers wat saam die regering van die land vorm.
kapsie gemaak Protes aanteken, beswaar maak, afkeur, teenstaan.
kassawe Plant met wortels wat eetbaar is; ook maniok genoem.
kobalt Gryserige magnetiese metaal.
kom ’n Laagte wat soos ’n kom lyk; ’n ronde houer sonder ’n deksel.
kommersiële Wat betref die koop/verkoop van goedere en dienste; wat handel dryf betref.
konsessies Vergunning deur ʼn owerheid om te myn of ʼn gebied te ondersoek of verken vir mynboudoeleindes.
korrupsie Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan.
lood ’n Soort sagte, swaar metaal.
malaria Koors veroorsaak deur die byt van ‘n Anopheles-muskiet; moeraskoors.
mediane ouderdom Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom.
MIV/vigs MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) is ’n virus wat die liggaam se immuunstelsel aanval. As MIV nie behandel word nie, kan dit tot vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) lei. Vigs is ʼn baie ernstige siekte, deur bloed en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra, wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer weerstand teen infeksies kan bied nie. Met behoorlike mediese sorg kan MIV beheer word en MIV-lyers wat effektiewe MIV-behandeling kry, kan ’n lang, gesonde lewe lei.
multiparty Wanneer meer as een politieke party toegelaat word.
nasionalisering Onder die beheer van die staat bring.
nywerheidsaktiwiteite Bedryf waarin grondstowwe verwerk word; industrie.
omgangstaal Taal wat deur mense wat verskillende moedertale het, gepraat word.
onafhanklikheid Die reg om jouself te regeer.
ontgin Delf, myn.
op te kikker Nuwe lewe gee aan iets; laat oplewe, verbeter.
outokraties Om alleen met onbeperkte mag te regeer.
parlement Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak.
per capita Per persoon.
platgeslaan Figuurlik: geskok, droefgeestig.
plato Plat, hoogliggende streek, hoogland, tafelland.
plunderaars Iemand wat roof en steel.
pokke Epidemiese siekte waarby die hele liggaam met etterpuisies bedek is.
radikale Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal.
rebellie Opstand teen jou wettige regering.
regsprekende Daardie tak van die regering wat met die howe te doen het.
republiek ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers.
reservate Gebied wat vir ’n spesiale doel opsygesit word.
runderpes Hoogs besmetlike koorssiekte, veral onder beeste, maar ook by skape en bokke.
seespieël Seevlak.
sektor ’n Afdeling of gebied van iets; die manier waarop besigheidsaktiwiteite gegroepeer kan word.
setlaars Iemand wat van ’n ander gebied af kom om in ’n bepaalde gebied te kom woon.
simboliseer ’n Voorwerp of teken wat iets voorstel of iets beteken.
sink Blouwit metaal wat onder meer gebruik word om ystervoorwerpe te beskerm.
sorghum Graansoort met ’n ronde, meestal rooierige korrel.
sosialistiese ekonomiese beleid Beleid waarin gepoog word om ’n samelewing te skep wat privaat besit wil afskaf en alle inwoners aan mekaar wil gelyk stel.
stakings Die weiering van werkers om met hul werk voort te gaan, veral om beter diensvoorwaardes te probeer verkry.
stropery Wild jag sonder verlof van die eienaar.
Suidelike Halfrond Die helfte van die aarde wat suid van die ewenaar lê.
SAOG (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) Organisasie van 16 lande in Suider-Afrika wat groei en ontwikkeling bevorder deur samewerking tussen lidlande aan te moedig.
suurreën Reën wat vol suur is as gevolg van fabrieke of nywerhede. Suur is ’n stof wat skadelik vir mense is.
tersiêre Opvoeding ná skool by akademiese instelling soos ’n universiteit.
tradisionele kultuuraktiwiteite Die gedrag en uitdrukkings van ’n bepaalde groep of samelewing wat hul gedeelde waardes, oortuigings, tradisies en lewenswyse weerspieël. Hierdie aktiwiteite sluit taal, godsdiens, gebruike, kunsvorme, sosiale instellings, ens. in.
  Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreefte- en Steenbokskeerkring. Die trope sluit in die ewenaar en dele van Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië.
tropiese Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreefte- en Steenbokskeerkring. Die trope sluit in die ewenaar en dele van Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië.
tydsone Geografiese streek waarbinne dieselfde standaardtyd gebruik word.
uitvoerende Die tak van die regering wat gewoonlik die president en ministers insluit, wat take moet uitvoer wat met die bestuur van die land te doen het.
unitêre In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het.
vakbonde Vereniging van persone wat dieselfde vak/beroep beoefen om die belange van die lede te behartig.
veldtogte ʼn Georganiseerde optrede teen iets.
verdrae Ooreenkomste tussen twee of meer lande.
Verenigde Nasies Die VN is ʼn internasionale organisasie wat deur verskillende lande op 24 Oktober 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog gestig is. Die VN beywer hom veral vir wêreldvrede en die onderlinge samewerking tussen verskillende lande.
vermorsel Verniel, vernietig, verbrysel, afbreek, sloop.
verstedeliking As mense van die platteland na die stede trek.
verwoestyning Wanneer ’n stuk land wat nie voorheen een was nie, ’n woestyn word.
vlugtelinge Iemand wat gevaar ontwyk/vryspring en veiligheid soek deur te vlug, gewoonlik na ’n ander land of streek toe.
vryemarkekonomie Waar mense met mekaar mag meeding en ondernemings en eiendom mag besit.
welsyn Mense se gesondheid en voorspoed.
Westerse Van die Weste, gewoonlik mense van Europa en Noord-Amerika.
wetgewende Die tak van die regering wat wette maak.
wisselvallig Iets wat onbestendig is of dikwels verander.

Lees hierdie artikels om meer oor Zambië te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Zambië

10 interessante dinge oor Zambië

As jy senuwees van staal het, kyk wat gebeur in die Devil’s Pools in die Zambezi-waterval!

Die grens tussen Zambië, Zimbabwe, Botswana en Namibië is uniek!

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Augustus 2024 | Bygewerk op 12 September 2024