Vlieë

ʼn Mens gaan ver soek om iemand te kry wat van vlieë hou. Dit is asof daardie insekte presies weet wanneer om ons te irriteer, en hulle sak dikwels in swerms op kombuise toe, veral as daar kosgemaak word.

Vlieë is deel van die insekorde Diptera. Net soos al die besonderse diere op aarde is vlieë  interessante wesens wat die moeite werd is om oor na te lees. Die naam Diptera is afkomstig van die Griekse woorde di, wat twee beteken, en ptera, wat vlerke beteken. Diptera is dus in Afrikaans tweevlerkiges. 1

Hoewel daar baie klein insekte is wat vlieë genoem word, is slegs ʼn sekere soort deel van die groep Diptera. Hulle word “ware vlieë” genoem. Hierdie vlieë het gewoonlik slegs een paar vlerke en organe wat hulle help om te balanseer as hulle vlieg. Hierdie organe is knopagtig en word “halteres” genoem. Die meeste ander insekte het twee paar vlerke. Daar is ook vlieë wat geen vlerke het nie en meestal parasiete is.

Nie alle bronne stem ooreen oor presies hoeveel spesies vlieë daar is nie, maar dit word beraam dat daar meer as 85 000 soorte vlieë is. Dit sluit huisvlieë, perdevlieë, vrugtevlieë en muggies in. Vlieë kom omtrent orals in die wêreld voor, behalwe waar dit yskoud is, soos die Noord- en Suidpool.

Vlieë se grootte wissel van ʼn piepklein 1 mm tot 8 cm groot! ʼn Vlieg van 8 cm groot is ʼn stewige kalant, want die gewone huisvlieg is maar net 0,64 cm lank!

Vlieë het drie stelle pote en vyf oë. Twee van die oë is só groot dat dit omtrent hul hele kop bedek. ʼn Mens noem dit saamgestelde oë (dit lyk kompleet asof dit uit klomp piepklein ogies bestaan), en dit laat hulle toe om die wêreld byna vanuit alle hoeke te bekyk.

Die middelsegment van die toraks is groter, terwyl die voor- en agtergedeeltes van die toraks kleiner is. 2

Die meeste Diptera-spesies is nie vol fiemies wat kos betref nie, en eet ʼn wye verskeidenheid kos. Die meeste kry hul kos van blomme, waar hulle stuifmeel of nektar versamel. Vlieë eet ook deeltjies van plante, lewendig of verrot, en selfs ander diere. Die Diptera-orde sluit ook muskiete in, en hulle suig die bloed van mense en diere. Vlieë eet ook mis.

Vlieë se slegte én goeie kant

Met dié dat die spesie alles eet wat hulle sien, kan dit skadelik vir mense en diere wees. Vlieë kan siektes versprei deur kieme op hul liggame te vervoer en aan ander oor te dra. Sommige vlieë versprei siektes deur te byt en ander vernietig weer oeste. Vlieë het beslis nie ʼn baie goeie reputasie nie. Ons beskou hulle meestal as goggas wat kieme aandra, maar hulle kan ook help met die kruisbestuiwing van plante. Vlieë wat blomme vir kos besoek, dra stuifmeel aan ander plante oor. Die maaiers (vlieglarwes) van sekere vlieë is ook goed vir tuine omdat hulle plantluise eet wat ʼn pes is. Sommige vlieë is parasiete en kan help om peste te beheer. Sommige spesies is byvoorbeeld al na ander gebiede geneem en losgelaat om onkruid in gewasse te beheer.

Ongelukkig is daar sekere Diptera-insekte wat dodelike siektes kan oordra. Ons dink hier aan muskiete wat malaria en geelkoors kan oordra. Die gewone huisvlieg kan ook talle siektes oordra, soos sekere vorms van tifuskoors, konjunktivitis en disenterie. Sekere vlieë soos die Mediterreense vrugtevlieg bederf sitrus- en ander vrugte.

Vlieë wat nie deel van die Diptera-familie is nie

  • Groot vlieë soos aardvlieë en die Tipulidae-familie is nie deel van die Diptera-familie nie. Hulle is groot en het lang pote en word soms vir muskiete aangesien.
  • Die Tachinidae-familie is parasiete en daarom voordelig in hul ekostelsels.
  • Sweefvlieë uit die Syrphidae-familie het gewoonlik helder kleure, soos geel en swart, en word soms vir klein bye of perdebye aangesien. Hulle hou daarvan om soos ʼn helikopter op een plek in die lug te hang.
  • Die Bombyliidae-familie word byvlieë genoem en baie van hulle is parasities van aard. Hulle is uitstekende vlieërs.
  • Rowervlieë van die Asilidae-familie is roofdiere wat jag en ander insekte is hul prooi. Hulle is die derde mees diverse groep van vlieë, en daar is meer as 7 000 spesies geïdentifiseer. 3

Lewensiklus

ʼn Vlieg se lewensiklus bestaan uit vier stadiums, naamlik eier, larwe, papie en volwasse vlieg, en hulle ondergaan dus ‘n metamorfose. Dit beteken dat hulle van vorm verander, namate hulle ouer word. Verskillende spesies ondergaan verskillende metamorfoses. Swartvlieë het byvoorbeeld ses of sewe larwestadiums. Aangesien die larwes baie anders as volwasse vlieë lyk, bly hulle in verskillende habitatte. ʼn Habitat is die plek waar hulle bly. Roofvlieë se larwes kry hul kos in die grond, terwyl hul volwasse weergawes ander insekte in die lug vang. Muskiete en swartvlieë se larwes leef onder die water.

Die lengte van die verskillende stadiums in die lewensiklus, asook die algehele lewensiklus, verskil van vliegspesie tot vliegspesie. Sommige vlieë se larwestadiums is lank, maar hulle leef nie eens ʼn dag as volwassenes nie, en in daardie kort tydperk moet hulle paar én eiers lê!

Van eier na larwe: Die meerderheid vlieë lê eiers wat uitbroei en klein larwes vorm. Die uitbroeityd kan in ʼn paar uur of paar dae plaasvind, en die aantal eiers hang ook van die spesie af. Sommige vlieë lê net een eier op ʼn slag, terwyl ander weer tot 250 op ʼn slag lê.

Hulle kan gewoonlik meer as een keer eiers lê. Die vroulike vlieg het ʼn ovipositor, wat ook ʼn lêboor genoem word, en dit help haar om ʼn plek in grond of ander materiaal vir haar eiers te maak en dit daarin uit te druk.

Huisvlieglarwes word gewoonlik maaiers genoem. Hulle eet verrotte organiese materiaal, oorskietkos en eet selfs aan karkasse of diereoorblyfsels.

Het jy geweet dat tsetsevlieë net een eier voortbring en dat daardie eier inwendig uitbroei? Die larwe word dan deur die wyfie se liggaam gevoed. Dit groei, word uitgestoot en vorm ʼn papie.

Van papie na vlieg: Ná die larwestadium volg die papiestadium. Die uiterlike kenmerke van die volwasse vlieg soos die oë, voelhorings, vlerke en pote is duidelik sigbaar in die papie. Die papie is dikwels bedek in ʼn kokon of ander materiaal soos grond, sy of selfs ʼn mengsel van die twee. Sekere papies kan swem, soos dié van swartvlieë en muskiete.

As die volwasse vlieg uit die papie te voorskyn kom, is sy liggaam sag en lyk skoon verkreukeld. Hy het ʼn kleurlose vel en perfek gevormde haartjies. Die vlieg sluk dan lug in om sy lyf en vlerke op te pof, en dit dwing bloed deur sy liggaam. 4

Woordbank

ekostelsels ʼn Stelsel wat uit lewende organismes en hul omgewing bestaan.
kruisbestuiwing Bestuiwing van die stampers van een blom met stuifmeel van ʼn ander plant.
larwe ʼn Jong insek wat met ʼn sagte, buisvormige lyf uit die papie kom.
metamorfose ʼn Verandering in vorm en dikwels gewoontes van ʼn dier gedurende normale ontwikkeling ná die embriofase, byvoorbeeld, by insekte, die larwe/wurm wat as vlieg/skoenlapper uit die papie klim.
ovipositor Dit word ook ʼn lêboor genoem en is die orgaan waarmee insekte eiers in pakkies in die grond of in ʼn plant lê, nadat ʼn gaatjie geboor is.
parasiete ʼn Klein diertjie of plantjie wat op of binne-in ʼn ander dier of plant lewe en afhanklik van die dier of plant vir voedsel is.
proboskis ʼn Verlengde monddeel van ʼn insek wat aangepas is vir die opsuig van voedsel.
prooi ʼn Dier wat deur ander diere gevang en geëet word.
tifus Die benaming vir verskillende besmetlike siektes wat met hoë koors, bewussynsverlies en delirium gepaardgaan en deur insekte versprei word.

Lees dié artikels om meer oor vlieë te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Dinge wat jy dalk nie van vlieë geweet het nie

Feite oor vlieë

Wat gebeur as ʼn vlieg op jou kos gaan sit?