Vinnige feite

  • Tanzanië het die hoogste dierebevolkingsdigtheid van enige land op aarde! Met ander woorde, daar is meer diere per m2 in Tanzanië as enige ander land op aarde. 4
  • Freddie Mercury, die beroemde hoofsanger van die rock-groep Queen is in Zanzibar gebore en het daar gewoon tot hy agt jaar oud was. 12
  • Kilimanjaro is die wêreld se hoogste vrystaande berg, met ander woorde ’n berg wat nie deel is van ’n bergreeks nie. 12
  • In 1896 is die wêreld se kortste oorlog in Tanzanië geveg. Dit was tussen die Britse Ryk en die sultanaat van Zanzibar, en het 40 minute geduur! 12

Die Verenigde Republiek Tanzanië, meestal bekend as slegs Tanzanië, is ’n land in Oos- en Suider-Afrika. Dit grens aan Kenia en Uganda in die noorde, Rwanda, Burundi en die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) in die weste, Malawi, Zambië en Mosambiek in die suide en die Indiese Oseaan in die ooste.

Die land se naam is ’n kombinasie van die eerste letters van Tanganjika en Zanzibar, die twee state wat in 1964 saamgesmelt het om Tanzanië te vorm. 1

Oorsig

Amptelike naam Verenigde Republiek Tanzanië.

Plaaslik: United Republic of Tanzania (Engels); Jamhuri ya Muungano wa Tanzania (Swahili).

Engelse naam Tanzania; United Republic of Tanzania.
Ook/voorheen bekend as Tanganjika; Duits-Oos-Afrika; Verenigde Republiek van Tanzanië en Zanzibar.
Leier President: Samia Suluhu Hassan (sedert 19 Maart 2021). 1
Hoofstad Dodoma.
Grootste stad Dar es Salaam (bevolking 2 698 652). 2
BBP (bruto binnelandse produk) $75 709 289 056 (2022), groeikoers 4,56%. 3
BBP per capita $1 025 (2022). 3
Bevolking (wêreldrang) 2024: 69 130 275 (22ste). 2
Bevolkingsdigtheid 76 mense per km2. 2
Regeringsvorm Republiek met eenkamerstelsel. 4
Amptelike tale Swahili; Engels. 4
Totale oppervlak (wêreldrang) 945 087 km² (31ste). 5
Geldeenheid Tanzaniese sjieling (TZS), opgedeel in 100 sent.
Internetkode .tz
Skakelkode +255
Tydsone GT +3
Byvoeglike naamwoord Tanzaniese.
Inwoner Tanzaniër.
Dar es Salaam

Geskiedenis

Tanzanië is een van oudste plekke op aarde wat aaneenlopend deur mense bewoon is.

Eerste moderne mense

Daar het waarskynlik duisende jare gelede Khoisan-mense in die gebied gewoon. Indien wel, is hulle verdryf deur Bantoesprekendes wat so om en by 2 000 jaar terug ingetrek het. Later het Nilotiese boere ook inbeweeg. 6

In die eeue voor Christus het die inheemse mense handel gedryf met ryke soos die Grieke, Romeine, Fenisiërs, Arabiere, Persiërs en Indiërs. 7

Die handelsroetes wat die binneland van Afrika en die Indiese Oseaan verbind het, het daartoe gelei dat Islam in die 8ste of 9de eeu vastrapplek in die gebied gekry het. 6

Buitelandse invloed

Ná 1498 het ’n paar onafhanklike kusdorpe en handelsposte op eilande onder die beheer van Portugese handelaars gekom. 1 Dit het die Moslemhandelaars se invloed beperk. Die Portugese het by die kus gebly en nie die binneland betree nie. 7

Teen 1700 het die sultanaat van Oman die Portugese verdryf en die heersende mag in die gebied geword. In die volgende paar jaar het Zanzibar – ’n argipel langs die kus van Tanzanië – ’n belangrike handelsentrum vir Arabiese en Indiese handelaars geword. Die slawehandel het vinnig uitgebrei. 1

Teen die 19de eeu het die handelaars begin om die binneland in te beweeg. Hulle het tot by die Malawi (Njassa)- en Tanganjikameer gevorder. 7

In 1840 het Zanzibar vlugtig die hoofstad van die sultanaat van Oman geword. 6 Dit het 16 jaar later verdeel tussen die sultanate van Oman en Zanzibar. 1

Europese oorheersing

In die middel van die 1800’s het Europese ontdekkingsreisigers (soos David Livingstone in die 1860’s 7), handelaars en sendelinge die gebied begin binnestroom. 1

Duitsland het in die laat 1800’s die gebied verower en in 1885 vandag se Tanzanië, Rwanda en Burundi in die Duits-Oos-Afrika staat verenig. 6 Aanvanklik is die gebied deur Duitse maatskappye beheer, maar toe hulle nie meer effektief kon regeer nie het die Duitse regering in 1891 ’n protektoraat van Tanganjika afgekondig. 7 Intussen het die Britte beheer oor Zanzibar geneem. 1

Daar was weerstand teen Europese beheer, soos tydens die Maji Maji-opstand in 1905, maar dit het nie Europese mag bedreig nie. 7

Ná die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het Brittanje Tanganjika by die Duitsers oorgeneem. 1 Britse pogings om suksesvol te regeer, is deur die Groot Depressie van die 1930’s en die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) in die wiele gery. 7

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Britte begin om die inheemse mense in die politieke strukture in te trek. Dit het stadig maar seker ’n plaaslike regerende groep geskep. 7

Onafhanklikheid

Die Britte het in 1961 aan Tanganjika en 1963 aan Zanzibar onafhanklikheid toegestaan. 1 Die proses het redelik vreedsaam verloop. Die vernaamste politieke organisasie was die Tanganyika African National Union (TANU), onder leiding van Julius Nyerere. Hy was dan ook die eerste minister van die nuwe staat. 6

Nyerere het begin om ’n sosialistiese, eenpartystaat te stig. 1 Hy het onder meer banke en groot industrieë genasionaliseer. 6 Dit was ’n mislukking en sou in die volgende dekades die ekonomie verwoes. 1

In 1964 is die sultan in Zanzibar omvergewerp, en baie Arabiere en Indiërs is vermoor of verdryf. In dieselfde jaar het Tanganjika en Zanzibar verenig as die Verenigde Republiek Tanzanië. Die ooreenkoms het gestipuleer dat Zanzibar politieke beheer oor sy eie interne sake sou behou. Chama Cha Mapinduzi (CCM) het die regerende partye geword en is sedertdien aan bewind. 1

Nyerere se sosialistiese ekonomie was teen die 1970’s in ʼn krisis. Nyerere het in 1985 bedank en is deur Ali Hassan Mwinyi vervang. Mwinyi het vryemarkinstellings en multiparty-politiek toegelaat. Dit het die bruto binnelandse produk (BBP) en inkomste laat groei. 6

Ali Hassan Mwinyi

Huidige situasie

Die eerste vry en demokratiese verkiesing is in 1995 gehou en sedertdien weer, maar die meeste daarvan was omstrede en daar is gereeld aantygings van onreëlmatighede. 1 Die CCM is steeds in beheer. Die mees onlangse verkiesing, in 2020, is deur John Magufuli gewen. Hy het in 2021 gesterf en is deur sy visepresident, Samia Suluhu Hassan, opgevolg. 1 Sy is die eerste vroulike president van Tanzanië. 7

Samia Suluhu Hassan

Geografie

Tanzanië is ’n land wat deur ander lande ingesluit word (in Engels: landlocked). Tanzanië is die 13de grootste land in Afrika. Dit is om en by driekwart van Suid-Afrika se oppervlakte. 8

Landskap

Van die ooste af het Tanzanië ’n smal kusstrook en daarna vlaktes. Verder wes is ’n sentrale plato en hooglande in die noorde en suide. 1

Die Groot Skeurvallei in Oos-Afrika loop deur Tanzanië in twee noord-suid stroke. Die Westelike Skeurvallei is op die westelike grens en die Oostelike (Groot) Skeurvallei in die ooste. Die sentrale plato, wat ’n derde van die land se oppervlakte beslaan, is in die middel hiervan. 7

Die hoogste punt in Tanzanië is Kilimanjaro, wat 5 895 m bo seevlak uitstyg. Dit is ook die hoogste punt in Afrika. 1

Daar is drie groot mere op Tanzanië se grense: Victoriameer (die wêreld se tweede grootste varswatermeer), die Tanganjikameer (die wêreld se tweede diepste meer) en Malawimeer.

Die grootste riviere is die Nylrivier. Riviere in Tanzanië is egter nie bevaarbaar nie. 1

Kilimanjaro in die agtergrond

Klimaat

Tanzanië is in die Suidelike Halfrond en die suidelike tropiese streek geleë. 6

Die klimaat word beïnvloed deur die streek waarin jy jou bevind. Dit is warm en bedompig in die kusstrook, en daar is twee reënseisoene: Oktober tot November en April tot Mei.

Die sentrale plato is warm en droog. Daar is een reënseisoen tussen Desember en Mei.

Die eilande en die hoogliggende gebiede kry beide meer as 1 520 mm reënval per jaar. 7 Die eilande het egter ’n tropiese klimaat, terwyl die hooglande meer gematig is. 1

Helfte van Tanzanië kry minder as 510 mm reën per jaar. Die temperature bly dieselfde dwarsdeur die jaar en daar is min variasie tussen maande. 7

Omgewingsprobleme en gevare

Daar vind van tyd tot tyd oorstromings op die sentrale plato plaas. Droogtes is ook soms ’n probleem.

Mensgemaakte probleme is waterbesoedeling en binnenshuise lugbesoedeling as gevolg van oop vure vir kosvoorbereiding. Ontbossing, verwoestyning en die bedreiging en verlies aan biodiversiteit soos vernietiging van koraalriwwe en stroping is verdere uitdagings. 1

Landmerke

Tanzanië bevat Afrika se mees ikoniese landmerke. Die twee bekendstes is sekerlik die Serengeti met sy jaarlikse migrasies van reuse-diertroppe en Kilimanjaro, Afrika se hoogste berg. 6

Tanzanië se bekende landmerke sluit die volgende Wêrelderfenisterreine in:

  • Ngorongoro-bewaringsarea.
  • Kilwa Kisiwani en Songo Mnara, ruïnes van antieke hawestede.
  • Serengeti Nasionale Park.
  • Selous Natuurreservaat.
  • Kilimanjaro Nasionale Park.
  • Stone Town, ’n Swahili-handelstad op die eiland Zanzibar, aan Tanzanië se kus.
  • Kondoa-rotskunsgebied. 9

Regering

Tanzanië is ’n unitêre presidensiële grondwetlike republiek.

Regeringstrukture

Tanzanië se grondwet is in 1977 aanvaar. Pogings om ’n nuwe grondwet op te stel, sleep al sedert 2014 sonder sukses voort.

Die president word direk verkies vir twee vyfjaartermyne. Die eerste minister en kabinet word deur die president aangestel. Kabinetslede moet parlementslede wees.

Zanzibar verkies hul eie president en parlement vir interne sake. Die huidige president van Zanzibar is Hussein Mwinyi.

As dit kom by die parlement, het Tanzanië ’n eenkamerstelsel. Die parlement bestaan uit 393 setels. Lede word meestal direk verkies. Voorsiening vir vroulike lede, asook lede wat deur die president aangewys word, word gemaak. Lede het vyfjaartermyne.

Administratief word Tanzanië in gebiede opgedeel, elk met ’n eie plaaslike regering. 1

Politieke partye

Die vernaamste politieke partye in Tanzanië is:

  • Chama Cha Mapinduzi (CCM), tans die party aan bewind.
  • Party vir Demokrasie en Ontwikkeling (Chama Cha Demokrasia na Maendeleo of CHADEMA). 1

Buitelandse verdrae

Tanzanië is lid van die Verenigde Nasies (VN), Statebond, Afrika-unie (AU), Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en Oos-Afrikaanse Gemeenskap (OAG). 1

Ekonomie

Tanzanië het ’n ontluikende laer middelinkomste-ekonomie. Die land is ryk aan hulpbronne en toerisme groei. Armoede is besig om te daal, en inflasie is stabiel. Die armoedesyfer is omtrent ’n kwart en werkloosheid is laag. 1

 

Ekonomiese bedrywighede

Tanzanië se sterkste ekonomiese sektore is die gasvryheidsbedryf, elektrisiteit, mynbou en vervoer. 1

Die ekonomie is oorweldigend landbougerig en bied aan twee vyfdes van die bevolking werk. 7 Net minder as helfte van die grond word vir landbou aangewend. Die belangrikste gewasse wat in Tanzanië verbou word, is kassawe, mielies, patats, suikerriet en piesang. 1 Kontantgewasse is mielies en rys, koffie, katoen, neute, tee en tabak. 7

Natuurlike hulpbronne in Tanzanië is waterkragopwekking, tin, fosfaat en ystererts. Dit is die enigste plek in die wêreld waar tanzaniet gevind word.

Die grootste mynbousektore is diamante, goud, yster en sout.

Die vernaamste nywerheidsektor is die prosessering van landbouprodukte soos suiker en bier, sement, olieraffinering en skoene. 1

Toerisme is ’n snelgroeiende sektor. 7

Invoere en uitvoere

Tanzanië se vernaamste handelsvennote is Indië, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Suid-Afrika en China. 1

Tanzanië se vernaamste uitvoerprodukte is goud, koper en neute. 1 Goud is die land se waardevolste uitvoer. 7 Die land se grootste invoere is geraffineerde petroleum, koper, klere, kunsmis en plastiek. 1

Mense

Tanzanië is die grootste en digsbevolkte land in Oos-Afrika. Die inwoners is relatief homogeen en meeste inwoners deel dieselfde etnisiteit, taal en geloof. Daar is min etniese spanning. 1

Etniese groepe en taal

Sowat 95% van die inwoners stam van Bantoesprekende groepe af en is in 130 etniese groepe verdeel. 1 Anders as baie ander lande, het Tanzanië nie een etniese groep wat oorheers nie. Die grootste groep is die Sukuma, wat in die noorde suid van die Victoriameer woon. Nilotiese groepe soos die Masai woon in noord-sentrale dele. Zaramo is nog ’n noemenswaardige groep. 7

Tanzanië se amptelike tale is Kiswahili of Swahili, Kiunguja (die naam vir Swahili in Zanzibar) en Engels. Engels word gebruik vir besigheid, administrasie en hoër opvoeding. 1 Swahili word vir die eerste sewe jaar van opvoeding gebruik. 7 Dit is ’n Bantoetaal wat woorde uit baie ander tale, soos Engels en Arabies, opgeneem het. Dit is die omgangstaal van Sentraal- en Oos-Afrika. Die meeste mense se moedertaal is ’n inheemse taal. 1

Opvoeding

Om en by 82% van Tanzanië se bevolking is geletterd. 1

Primêre skoolopvoeding is verpligtend en gratis.

Tanzanië het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word deur die Universiteit van Dar Es Salaam, die Sokoine-Universiteit van Landbou en Zanzibar-Universiteit verskaf. 7

Demografie en bevolkingsverspreiding

Demografiese gegewens:

  • Lewensverwagting: 67,6 jaar.
  • Fertiliteitsvlak: 4,6 geboortes per vrou per jaar.
  • Mediane ouderdom: 17 jaar.
  • Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 29,5 per 1 000 geboortes.
  • Sterftes onder vyf jaar oud: 39,7 per 1 000 geboortes. 10

Die jong gemiddelde ouderdom en hoë fertiliteit beteken die bevolking gaan in die jare wat kom, vinnig groei. 1

Omtrent 62% van die bevolking bly op die platteland. 10 Dis digter bevolk in die noordelike helfte van die land en langs die kus. 1

Siektes en ander probleme

Malaria is die grootste oorsaak van kindersterftes onder vyf jaar oud. Vir grootmense is dit MIV/vigs. Hepatitis, denguekoors en skistosomiase is ook ’n probleem. 1

Swak gesondheid en vroeë swangerskappe lei tot ’n hoë moedersterftesyfer. Wanvoeding is ’n probleem wat veral kinders raak. 7

Geloof

Op die vasteland is die geloof omtrent twee derdes Christene en ’n derde Moslem. 1 Sowat 97% van Zanzibar se bevolking is Moslems. 6

Kultuur en sport

Tanzanië het verskeie musiekstyle, van tradisionele Afrikastyle na hip-hop en taarab. Daar is twee kenmerkende style van kuns, Tingatinga en Makonde. Tingatinga is blomme en diere wat met emalje op doek geverf word. Makonde-kuns is beelde wat uit hout geskep word.

Tanzanië se gewildste sport is sokker. Basketbal, krieket en atletiek is ook gewild. 6

Tanzanië neem sedert 1964 aan die Olimpiese Spele deel. Die land was nog in 1964 bekend as Tanganjika, maar sedertdien as die Verenigde Republiek Tanzanië. Dit het aan elke Olimpiese Spele deelgeneem buiten 1976. Tanzanië het al twee medaljes gewen, beide in 1980: Filbert Bayi het die silwermedalje in die 3 000 m-hinderniswedren vir mans gewen en Suleiman Nyambui die silwermedalje in die 5 000 m vir mans. 11

Simbole

Tanzanië het die volgende nasionale simbole:

  • Vlag: Die groen verteenwoordig die land se natuurlike plantegroei, goud die minerale neerslae, swart die inheemse Swahili-mense, en blou die land se baie mere en riviere en die Indiese Oseaan.
  • Nasionale dier: Kameelperd.
  • Nasionale kleure: Groen, geel, swart, blou.
  • Nasionale simbool: Die Uhuru-vryheidsfakkel.
  • Volkslied: “Mungu ibariki Afrika” (Swahili) of “God seën Afrika”. 1

Woordbank

 AU (Afrika-unie) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder.
argipel Groep eilande wat na aan mekaar lê.
BBP  (bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word.
bevaarbaar ’n Rivier wat geskik is om op te vaar, veral met groot skepe.
biodiversiteit Dit is die groot verskeidenheid van lewe (diere, plante, ens.) op die aarde en die prosesse wat alles aan die lewe hou. Dit word dus gesien as die diversiteit ten opsigte van lewende organismes en die verskillende ekosisteme waarin hulle voorkom en in interaksie met mekaar verkeer.
denguekoors Virus wat deur muskiete oorgedra word.
eenkamerstelsel Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit een huis bestaan.
eenpartystaat Land waar ’n enkele politieke party die regering beheer, hetsy deur wet of in die praktyk. Voorbeelde van eenpartystate sluit in Noord-Korea, China, Eritrea en Kuba.
etnisiteit Volkekundige verwantskap/eiesoortigheid.
fertiliteitsvlak Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee.
fosfaat ’n Soort sout wat gewoonlik in bemesting (voedsel vir plante) gebruik word.
gasvryheidsbedryf Die dienstebedryf waarin daar voortdurend noue kontak is tussen werknemers in hotelle/restaurante/gastehuise, ens.
geletterd Om te kan lees en skryf.
genasionaliseer Onder die beheer van die staat bring.
geraffineerde petroleum Gesuiwerde petroleum.
gestipuleer Bepaal, uitwys, spesifiseer.
groeikoers Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word.
grondwetlike Iets wat ’n grondwet het, met ander woorde die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit.
Groot Depressie ’n Tydperk van ernstige insinking in die handel wêreldwyd waartydens min sake gedoen kon word en baie mense werkloos was.
Groot Skeurvallei Vallei in Oos-Afrika met styl wande wat deur insinking van die aardkors gevorm word.
Groot Vyf ʼn Groep wildediere wat oorspronklik die mees gesogte was in Afrika vir wildjagters (leeu, olifant, buffel, luiperd en renoster). Hierdie diere is gekies omdat hulle besonder moeilik is om te jag, en nie vir hul grootte nie.
hepatitis Ontsteking van die lewer.
homogeen ’n Homogene bevolking het dieselfde oorsprong en gebruike en voorkoms.
inheemse Wat oorspronklik in ʼn gebied voorkom.
ikoniese Iemand of iets wat merkwaardig of besonders is.
inflasie Die styging van lewenskoste en pryse as gevolg daarvan dat geld se waarde verminder.
kabinet Al die ministers wat saam die regering van die land vorm.
kassawe Plant met wortels wat eetbaar is; ook maniok.
koraalriwwe Rotsbanke in die see wat gevorm word deur die groei en afsetting van koraal, ’n harde stof wat in die see gevorm word uit massas skulpe van baie klein seediere, gewoonlik oranje of rooi van kleur.
malaria Koors veroorsaak deur die byt van ’n Anopheles-muskiet; moeraskoors.
mediane ouderdom Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom.
MIV/vigs MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) is ‘n virus wat die liggaam se immuunstelsel aanval. As MIV nie behandel word nie, kan dit tot vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) lei. Vigs is ’n baie ernstige siekte, deur bloed en ander liggaamstowwe oorgedra, wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer weerstand teen infeksies kan bied nie. Met behoorlike mediese sorg kan MIV beheer word en MIV-lyers wat effektiewe MIV-behandeling kry, kan ’n lang, gesonde lewe lei.
neerslae Reën.
Nilotiese Mense wat kom van die Nylrivier en -gebied.
olieraffinering Die suiwering van olie vir menslike gebruik.
omgangstaal Taal wat deur mense wat verskillende moedertale het, gepraat word.
omstrede Waaroor baie gestry word; betwisbaar, aanvegbaar; iets wat bevraagteken word.
onafhanklikheid Die reg om jouself te regeer.
onreëlmatighede Wanneer daar nie volgens die reëls opgetree word nie.
ontluikende Iets wat besig is om te ontwikkel.
OAG (Oos-Afrikaanse Gemeenskap) Organisasie wat poog om die ekonomieë van die lidlande te integreer.
parlementslede Lede van die liggaam in ’n demokrasie wat die wette maak.
per capita Per persoon.
plato Plat, hoogliggende streek, hoogland, tafelland.
protektoraat Gebied wat ’n sterk staat onder sy beskerming plaas sonder om dit te annekseer, maar waaroor die beskermheer tog alle soewereine staatsmagte uitoefen.
republiek ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers.
ruïnes Vervalle geboue wat oor ʼn lang tyd verniel het.
setels Amptelike sitplek/stoel in die parlement, regeringsplek.
skistosomiase Parasitiese siektes wat mense aantas.
sleep voort As iets baie stadig/traagsaam vorder.
sosialistiese Die idee van ’n samelewing wat privaat besit wil afskaf en alle inwoners aan mekaar wil gelyk stel.
stroping Wild jag sonder verlof van die eienaar.
Suidelike Halfrond Die helfte van die aarde wat suid van die ewenaar lê.
SAOG (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) Organisasie van 16 lande in Suider-Afrika wat groei en ontwikkeling bevorder deur samewerking tussen lidlande aan te moedig.
sultanaat Gebied onder beheer van ’n Moslemkeiser of opperheer.
taarab Musiekstyl wat genres (kategorie of styl van kuns) van dwarsoor die wêreld meng, soos Indiese-, Europese-, Midde-Oosterse- en Afrika-invloede.
tanzaniet ʼn Pragtige edelsteen in skakerings van blou/violet wat slegs in Tanzanië gevind en ontgin word.
tersiêre opvoeding Opvoeding ná skool by ʼn akademiese instelling soos ’n universiteit.
tin Sagte, rekbare blouwit metaal, onder meer gebruik in legerings (metaalmengsels), om yster- en kopervoorwerpe te bedek en vir ornamente.
tradisionele Betreffende tradisies wat van geslag tot geslag oorgelewer word.
tropiese Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreefte- en Steenbokskeerkring. Die trope sluit in die ewenaar en dele van Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië.
tydsone ’n Geografiese streek waarbinne dieselfde standaardtyd gebruik word. As daar byvoorbeeld “+3” bygeskryf word, beteken dit dat daar in dié spesifieke gebied nog drie uur by die standaardtyd gevoeg moet word.
unitêre In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het.
Verenigde Nasies Die VN is ʼn internasionale organisasie wat deur verskillende lande op 24 Oktober 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog gestig is. Die VN beywer hom veral vir wêreldvrede en die onderlinge samewerking tussen verskillende lande.
verwoestyning Wanneer ’n stuk land wat nie voorheen een was nie, ’n woestyn word.
vryemarkinstellings Instellings wat dit moontlik maak vir mense om met mekaar mee te ding en ondernemings en eiendom te besit.
vryheidsfakkel Stok met ’n brandende vlam aan die een punt wat vryheid simboliseer.
ystererts Erts is die stukke grond wat uit myne kom waaruit metaal verkry word; ystererts is erts wat yster bevat.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Tanzanië

Verbreed jou kennis met dié video’s oor Tanzanië

Blitsgeskiedenis van Tanzanië

Die geskiedenis, geografie en kultuur van hierdie kleurvolle land

Tien interessante feite oor Tanzanië

Die verskillende etniese groepe

Hier kan jy die ruïnes van Kilwa Kisiwani and Songo Mnara sien

Tanzaniet, die edelsteen wat 1 000 keer skaarser as diamante is!

Hoe groot is die Victoriameer?

Hoe het die Ngorongoro-krater ontstaan?

Die Groot Skeurvallei wat deur Tanzanië loop

Die Groot Vyf is ook in Tanzanië te sien

Die aanskoulike migrasie van die Serengeti-wildebeeste

Tanzanië se vlag en geografie

Luister na Tanzanië se volkslied “Mungu ibariki Afrika” (klink dit vir jou bekend?)

Hoe tel mens van 1-10 in Swahili?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 September 2024 | Bygewerk op 13 September 2024