Vinnige feite
- Die Twa-pigmeë van Rwanda is gemiddeld 1,5m lank. 13
- Rwanda word soms die Switserland van Afrika genoem. Dit is bekend as die “Land van ʼn duisend heuwels” as gevolg van die welige groen heuwels. 6
- Daar is na raming net sowat 1 063 berggorillas in die wêreld oor. Hulle word slegs op twee plekke op aarde, in Rwanda en Uganda, gevind. 13
- In 2008 het Rwanda die eerste land geword om plastieksakke te verban. Die land se doel is om die wêreld se eerste plastiekvrye nasie te wees. 13
- Rwanda is lid van die Statebond al was dit nooit ’n Britse kolonie nie. 13
Die Republiek Rwanda, meestal bekend as slegs Rwanda, is ’n land in Sentraal- en Oos-Afrika. Dit grens aan die Demokratiese Republiek die Kongo en die Kivumeer in die weste, Uganda in die noorde, Tanzanië in die weste en Burundi in die suide.
Die naam Rwanda kom van die Kinyarwanda “kwanda”, wat “ekspansie” of “om uit te brei” beteken. 1
Oorsig
Amptelike naam | Die Republiek Rwanda.
Plaaslik: Republic of Rwanda (Engels); République du Rwanda (Frans); Repubulika y’u Rwanda (Kinyarwanda); Jamhuri ya Rwanda (Swahili). |
Engelse naam | Rwanda; Republic of Rwanda. |
Ook/voorheen bekend as | Ruanda; Koninkryk van Rwanda; Ruanda-Urundi; Duits-Oos-Afrika. |
Leiers | President: Paul Kagame (sedert 22 April 2000).
Eerste minister: Édouard Ngirente (sedert 30 Augustus 2017). 1 |
Hoofstad | Kigali. |
Grootste stad | Kigali (bevolking 745 261). 2 |
BBP (bruto binnelandse produk) | $13 312 796 765 (2022), groeikoers 8,16%. 3 |
BBP per capita | $940 (2022). 3 |
Bevolking (wêreldrang) | 2024: 14 368 362 (76ste). 2 |
Bevolkingsdigtheid | 571 mense per km². 2 |
Regeringsvorm | Republiek met tweekamerstelsel. 4 |
Amptelike tale | Engels, Frans, Kinyarwanda (of Rwanda) en Swahili. 4 |
Totale oppervlak (wêreldrang) | 26 338 km2 (148ste). 5 |
Geldeenheid | Rwandese frank (RWF), opgedeel in 100 sent. |
Internetkode | .rw |
Skakelkode | +250 |
Tydsone | GT +2 |
Byvoeglike naamwoord | Rwandese. |
Inwoner | Rwandees. |
Geskiedenis
Die oorspronklike bewoners van die streek waar Rwanda vandag is, was die Twa, ’n pigmee-groep van Sentraal-Afrika. Bantoesprekende boere was die volgende intrekkers: eers die Hutu’s êrens tussen die 5de en 11de eeu en toe die Tutsi’s van die begin van die 14de eeu af. 6
Die opkoms van die koninkryk van Rwanda
In die 16de eeu het die Tutsi’s ’n groot sentrale staat in die middel van die hedendaagse Rwanda geskep. Hierdie staat is deur die Tutsi-minderheid in die land regeer tot die Europeërs se aankoms.
As gevolg van hierdie staat is Rwanda se geskiedenis anders as baie ander Afrika-lande suid van die Sahara: die grense was nie deur Europeërs opgetrek nie, maar deur die inheemse mense. 6
Duitse en Belgiese beheer
Duitse koloniale verowering het in die laat 1890’s begin. Tussen 1894 en 1918 was Rwanda (saam met Burundi) deel van Duits-Oos-Afrika. In 1918 is die gebied onder Belgiese beheer geplaas. België het die twee lande, wat saam as Ruanda-Urundi bekend gestaan het, tot in 1962 regeer. 6
Beide die Duitsers en die Belge het met die hulp van die Tutsi-koninkryk en die heerser, die mwami, regeer. In die proses het hulle die Tutsi’s meer outokraties gemaak en etniese verdeling tussen die Hutu’s en die Tutsi’s verskerp. Dit het die Hutu’s verbitterd gemaak. 1
Etniese konflik
In 1959 het daar onder radikale Hutu’s ’n beweging begin om mag by die Tutsi’s weg te neem.
Rwanda het in 1961 ’n republiek geword en die mwami (hoof/koning) in ballingskap weggestuur. 6 In die proses is duisende mense doodgemaak en ten minste 150 000 ander uit Rwanda verdryf. 1
Die eerste president was Grégoire Kayibanda, leier van die Hutu Bevrydingsparty (Parti du Mouvement de l’Emancipation du Peuple Hutu). 6 In 1973 het Juvénal Habyarimana ’n staatsgreep uitgevoer en Rwanda vir die volgende twee dekades as eenpartystaat regeer. In hierdie tyd is daar teen Tutsi’s gediskrimineer en radikale Hutu’s het meer invloedryk geword. 1
Die Tutsi’s het in reaksie die Rwandese Patriotiese Front (RPF) gestig. Die RPF het in 1990 uit Uganda, waar hul gesetel was, ’n inval uitgevoer om die Hutu’s omver te werp. Dit het die land in ’n burgeroorlog gedompel. In die vroeë 1990’s het samesprekings gelei tot ’n ooreenkoms dat daar ’n regering van nasionale eenheid sou wees, waarvan Hutu’s én Tutsi’s deel sou wees. 6
Volksmoord
In 1994 het Habyarimana gesterf toe sy straler afgeskiet is. Dit was die vonk wat die geweld afgeskop het. Die sogenaamde Rwandese volksmoord wat gevolg het, was ’n regeringsbeplande veldtog. Hutu-burgermagte het Tutsi’s aangeval. Meer as 800 000 mense is doodgemaak, oftewel omtrent ’n derde van die Tutsi-bevolking. 1 So baie as 2 miljoen mense het na Zaïre (vandag se DRK) gevlug en eers jare later teruggekeer. 6
Die volksmoord het geëindig toe die RPF die weermag en Hutu-burgermagte oorwin en ’n RPF-regering van nasionale eenheid gestig het. 1 Die president was Pasteur Bizimungu, ’n Hutu, en die visepresident Paul Kagame, ’n Tutsi. Die jare daarna was ’n tyd van heropbou en etniese versoening. 6
In 1996 het Rwanda die DRK binnegeval, omdat Hutu-ekstremiste aangehou het om van daar aanvalle aan te voor. Vrede is in 2002 gesluit, en RPF-troepe is onttrek in ruil vir die ontwapening van Hutu-ekstremiste. 6
Sedert volksmoord
In 2003 is ’n nuwe grondwet aangeneem. 6 Die eerste verkiesing is in dieselfde jaar gehou. Paul Kagame, wat in 2000 president geword het toe Bizimungu bedank het, het gewen. Hy het ook in 2010 ver gewen. Tydens daardie verkiesing was daar weer onderdrukking en geweld. Sommige mense het gekla oor onreëlmatighede. Kagame is ook in 2017 herverkies, ná die regering die grondwet verander het om hom toe te laat om vir ’n derde termyn te staan. 1
Geografie
Rwanda is ’n land wat deur ander lande ingesluit (omring) word (in Engels: landlocked). Dit is die 47ste grootste land in Afrika, 7 en is oppervlaksgewys klein bietjie groter as Gauteng. 8
Landskap
Rwanda is bergagtig en die landskap daal met meer as 1 200 m van die hoogste punt in die weste na valleie in die ooste. Die binneland bestaan uit golwende heuwels en valleie. Die oorheersende landskapskenmerk is ’n bergreeks in die westelike deel van die land wat van noord na suid loop. 6
Die hoogste punt in Rwanda is Berg Karisimbi in die Virunga (soms Birunga)-bergreeks, 9 wat 4 519 m bo seevlak uitstyg.
Die grootste rivier is die Nyabarongo-rivier. 1 Buiten die Ruzizi-rivier, wat in die weste is, is meeste riviere in die ooste. 6
Die Kivu-meer aan die grens met die DRK is die grootste meer in Rwanda. 1
Klimaat
Rwanda is net suid van die ewenaar in die tropiese streek geleë. Dit is dus warm, maar die hoogte bo seespieël maak die klimaat meer gematig as wat dit andersins sou wees. 9
Die land beleef twee reënseisoene: van Februarie tot April en weer van November tot Januarie. 1 Dit reën omtrent dubbeld soveel in die weste as die ooste. 9
In die binnelandse hooglande, waar Kigali geleë is, is die gemiddelde temperatuur die hele jaar so 21 °C.
In die noordweste word die temperatuur deur gereelde reënval verlaag. Die hooglande is dus warmer en droeër en die gemiddelde jaarlikse reënval is om en by 1 140 mm. 6
Omgewingsprobleme en gevare
Rwanda se landskap word deur ontbossing en oorbeweiding bedreig. Dit lei tot verlies aan biodiversiteit en die agteruitgang van vleilande. Daarby staar grootskaalse stropery Rwanda in die gesig. 1 Skerp hange, baie reën, ontbossing en landbou veroorsaak ernstige gronderosie. 6
Daar is soms droogtes en Rwanda het ook vulkaan-aktiwiteit. 1
Landmerke
Rwanda se bekende landmerke sluit die volgende Wêrelderfenisterreine in:
- Ntarama, Nyamata, Murambi, Gisozi en Bisesero, gedenkplekke van die volksmoord.
- Nyungwe Nasionale Park. 10
Die Parc National des Volcans (Vulkane Nasionale Park), ’n nasionale park in die noorde, is die tuiste van die berggorillas, Rwanda se vernaamste toeristeaantreklikheid. 6
Regering
Rwanda is ’n unitêre presidensiële grondwetlike republiek.
Regeringstrukture
Rwanda se grondwet is in 2003 aanvaar.
Die president word direk vir vyfjaartermyne verkies. Tans is die situasie dat Kagame, die huidige president, se termyne 7 jaar duur, soos dit volgens ’n vorige grondwet was. Hy kan nog staan tot in 2024 en daarna nóg twee termyne van 5 jaar elk kry. Die president stel die kabinet en eerste minister aan.
As dit kom by die parlement het Rwanda ’n tweekamerstelsel. Die Hoërhuis het 26 setels: 12 verkose lede en 14 lede wat deur die president of ander politieke organisasies aangewys word. Hulle dien vir agtjaartermyne. Die Laerhuis se 80 lede word indirek verkies (buiten vir vroue wat benoem word) vir vyfjaartermyne. 1 Ten minste 30% van die setels word vir vroue uitgehou. Rwanda het in 2008 die eerste land in die wêreld geword waar die meerderheid mense in die parlement vroue was! Dit het sedertdien na meer as 60% opgeskuif. 6
Administratief word Rwanda in 4 provinsies en 1 stad opgedeel. 1
Politieke partye
Die vernaamste politieke partye in Rwanda is:
- Rwandese Patriotiese Front (RPF), tans die party aan bewind.
- Sosiaal-Demokratiese Party (PSD).
- Die Liberale Party (PL). 1
Sedert 2003 word politieke partye verbied om op grond van ras of etnisiteit saamgestel te word. 6
Buitelandse verdrae
Rwanda is lid van die Verenigde Nasies (VN), die Afrika-unie (AU), die Statebond, Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika (Comesa), Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrika State (ECCAS) en die Oos-Afrikaanse Gemeenskap (OAG). 1
Ekonomie
Rwanda het ’n snelgroeiende ekonomie. Daar is goeie belegging in openbare werke. Toerisme en handel is beide swaar deur die Covid-19-pandemie getref. Dit het armoede vir die eerste keer in twee dekades laat vermeerder, tot by 38%. 1 Rwanda het een van die beste ekonomieë in Afrika suid van die Sahara. Die integriteit van die regering, die land se gesonde finansies en goeie regstelsel dra hiertoe by. 9
Werkloosheid is 15%, maar onder die jeug (15-24 jaar) is dit slegs 2,9%. 1
Ekonomiese bedrywighede
Rwanda se natuurlike hulpbronne sluit goud, kassiteriet, wolframiet, metaan en hidroëlektrisiteit in. 1
Driekwart van die land word vir landbou gebruik. Die belangrikste gewasse wat in Rwanda verbou word, is piesangs, kassawe, patats, aartappels en plantains. 1 Landbou is die belangrikste sektor in die ekonomie en die grootste werksverskaffer. Die belangrikste uitvoergewasse is koffie, tee en tabak, met koffie by verre die grootste. 6
Die vernaamste nywerheidsektore is sement, landbouprodukte, koeldrank, seep, meubels en skoene. 1 Die groot industrieë is in Kigali geleë. Daar is egter menige klein besighede wat dienste en goedere aan plaaslike markte verskaf. 6
Toerisme groei vinnig en bring baie inkomste die land in. Ten spyte van die volksmoord, beskou mense Rwanda as ’n veilige bestemming. Ekspedisies om die gorillas te beskou, is veral gewild. 9
Invoere en uitvoere
Rwanda se vernaamste handelsvennote is die Verenigde Arabiese Emirate (VAE/UAE), DRK, China, Tanzanië en Kenia.
Rwanda se vernaamste uitvoerprodukte is koffie, goud, tinerts en moutekstrak. Die land se grootste invoere is geraffineerde petroleum, goud, palmolie, rys en suiker. 1
Mense
Rwanda se jare van etniese spanning het in die 1990s in ’n volksmoord uitgeloop. Sedertdien het spanning verminder.
Etniese groepe en taal
Daar is drie etniese groepe: Hutu’s, Tutsi’s en Twa. 1 Die Hutu’s is omtrent ’n derde van die bevolking en die Tutsi’s ’n sewende. Die Twa is minder as een present. 6 Die Hutu’s en Tutsi’s is beide van die Banyarwanda etniese groepe en praat dieselfde taal.
Rwanda se amptelike taal is Rwanda (amptelik Kinyarwanda), Frans, Engels en Swahili (soms Kiswahili). Kinyarwanda is die omgangstaal en word deur omtrent almal gepraat. Swahili word meestal in besigheidskringe gepraat. 1
Opvoeding
Om en by 75% van Rwanda se bevolking is geletterd. 1
Skoolopvoeding is gratis en verpligtend vir nege jaar. 9 Daar is oor die algemeen goeie bywoning en voltooiingsvlakke is hoog. 6
Rwanda het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word deur die Nasionale Universiteit van Rwanda en ander instellings verskaf. 9
Demografie en bevolkingsverspreiding
Demografiese gegewens:
- Lewensverwagting: 67,4 jaar.
- Fertiliteitsvlak: 3,7 geboortes per vrou per jaar.
- Mediane ouderdom: 19,4 jaar.
- Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 27,3 per 1 000 geboortes.
- Sterftes onder vyf jaar oud: 36,8 per 1 000 geboortes. 11
Rwanda se fertiliteitsvlakke het onlangs begin daal. Dit is egter steeds hoog en die groter bevolking plaas druk op die alreeds te min beskikbare grond.
Rwanda is een van Afrika se mees dig bevolkte gebiede. Omtrent 82% van die bevolking bly op platteland. 11 Meeste mense woon in sentrale gebiede en langs die Kivumeer in die weste. Die oostelike savanne is yl bevolk. 1 Mense leef verspreid in familiegroepe op heuwels. 6
Siektes en ander probleme
Rwanda het probleme van siektes soos malaria en tuberkulose. Tekort aan kos met behoorlike voedingswaarde is ’n probleem onder kinders. Gesondheidsorg het in die afgelope paar jaar verbeter as gevolg van sterk regeringsoptrede en buitelandse hulp. 6
Geloof
Meer as 95% van Rwandese is Christene. 1
Kultuur en sport
Musiek en dans is belangrik in seremonies. Die bekendste dans is die Intore, wat drie dele het: ’n ballet, ʼn heldedans (of krygsdans) en tromme. Tromme vorm ’n belangrike deel van die kultuur en koninklike tromspelers het hoë status. 9
Rwanda se kunsindustrie sluit tradisionele handwerk soos geweefde mandjies, bakke, keramiek en ysterwerk in. 6 In die suidooste maak mense kuns uit beesmis wat gekleur word. 9
Rwanda se gewildste sportsoorte is sokker, vlugbal, atletiek en basketbal. 6 Rwanda neem sedert 1984 aan die Olimpiese Spele deel. 12
Simbole
Rwanda het die volgende nasionale simbole:
- Vlag: Blou verteenwoordig geluk en vrede, geel ekonomiese ontwikkeling en minerale rykdom en groen hoop vir vooruitgang en natuurlike hulpbronne. Die son simboliseer eenheid, verligting en deursigtigheid teen onkunde.
- Nasionale kleure: Blou, geel, groen.
- Nasionale simbool: Tradisionele geweefde mandjie met gepunte deksel.
- Volkslied: “Rwanda Nziza” (“Rwanda, ons pragtige land”). 1
Woordbank
AU | (Afrika-Unie) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder. |
ballingskap | Iemand wat in ballingskap is, het sy of haar land verlaat om vervolging deur die regering of andere te voorkom. |
BBP | (bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word. |
belegging | Dit is enige manier waarop geld gebruik word om rente daarop te verdien of ’n wins te maak. |
biodiversiteit | Dit is die groot verskeidenheid van lewe (diere, plante, ens.) op die aarde en die prosesse wat alles aan die lewe hou. Dit word dus gesien as die diversiteit ten opsigte van lewende organismes en die verskillende ekosisteme waarin hulle voorkom en in interaksie met mekaar verkeer. |
burgermag | Troepe wat nie tot die gewone weermag behoort nie. |
burgeroorlog | Oorlog tussen burgers van dieselfde staat. |
deursigtigheid | Eienskap van ’n proses wat nie geheimsinnig of agteraf plaasgevind het nie. |
ECCAS | (Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrikaanse State) Organisasie vir die bevordering van ekonomiese samewerking in die Sentraal-Afrikaanse streek. |
ekstremiste | Mense met politieke idees wat deur die meeste mense as onredelik en onaanvaarbaar beskou word. |
etniese | Wat met die mense van ‘n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou. |
fertiliteitsvlak | Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee. |
geletterd | Om te kan lees en skryf. |
Comesa | (Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika) Ekonomiese gemeenskap van 21 state wat saamwerk vir ekonomiese ontwikkeling en die bevordering van vrede en sekuriteit. |
geraffineerde petroleum | Gesuiwerde petroleum. |
gesetel | Plek waar die middelpunt van jou mag is. |
groeikoers | Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word. |
gronderosie | Wegvreet/wegkalwe/verweer van grond deur byvoorbeeld wind en water. |
grondwet | Reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
hange | Kranse van berge. |
hidroëlektrisiteit | Elektrisiteit wat deur water opgewek word. |
Hoërhuis | Senaat, hoogste wetgewende liggaam in sekere lande. |
hulpbronne | Alles wat tot nut vir die mens is. |
inheemse | Wat oorspronklik in ʼn gebied voorkom. |
integriteit | Eerbaarheid, eerlikheid, beginselvastheid. |
kabinet | Al die ministers wat saam die regering van die land vorm. |
kassawe | Plant met wortels wat eetbaar is; ook maniok genoem. |
kassiteriet | Erts waaruit tin verkry word. |
keramiek | Voorwerpe wat van klei gemaak is. |
kolonie | Gebied wat aan ’n ander staat/moondheid onderhorig en daarvan afhanklik is. |
kultuur | Dit is al die lewenswyses insluitend kunste, oortuigings en instellings van ’n bevolking wat van geslag tot geslag oorgedra word. |
Laerhuis | Volksraad. |
malaria | Koors veroorsaak deur die byt van ’n Anopheles-muskiet; moeraskoors. |
mediane ouderdom | Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom. |
metaan | ’n Kleurlose, reuklose gas wat deur die ontbinding van organiese materie gevorm is. |
moutekstrak | Gekonsentreerde vloeibare aftreksel van graan wat onder meer vir bier gebruik word. |
omgangstaal | Taal wat deur mense wat verskillende moedertale het, gepraat word. |
omver te werp | Te laat misluk of tot ’n val bring. |
onreëlmatighede | Wanneer daar nie volgens die reëls opgetree word nie. |
OAG | (Oos-Afrikaanse Gemeenskap) Organisasie wat poog om die ekonomieë van die lidlande te integreer. |
outokraties | Om alleen met onbeperkte mag te regeer. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak. |
per capita | Per persoon. |
pigmee | ’n Klein ras wat in die woude van Sentraal-Afrika woon. |
plantains | Plant soortgelyk aan ’n piesang. |
radikale | Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal. |
republiek | ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers. |
savanne | Grasvlakte, ook bontveld genoem. |
sektor | ’n Afdeling of gebied van iets of die manier waarop besigheidsaktiwiteite gegroepeer kan word. |
seremonies | Formele openbare of godsdienstige gebeurtenisse of plegtighede. |
setels | Amptelike sitplekke/stoele in die parlement, regeringsplek. |
simboliseer | ’n Voorwerp of teken wat iets voorstel of iets beteken. |
staatsgreep | ’n Aanval op ’n land se regering waar die beheer oor die staat met geweld oorgeneem word; gewoonlik deur die land se weermag of ander militêre magte uitgevoer. |
Statebond | Vereniging van state tot ʼn bond van so ʼn aard dat elke staat grotendeels selfstandig bly; federasie; gemenebes. |
straler | Luukse vliegtuig. |
stropery | Wild jag sonder verlof van die eienaar. |
termyne | ’n Termyn is ’n vasgestelde beperkte periode, tydsduur; ampstyd, sitting. |
tersiêre opvoeding | Opvoeding ná skool by ʼn akademiese instelling soos ’n universiteit. |
tinerts | Stukke grond wat tin bevat. |
tropiese | Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreefte- en Steenbokskeerkring. Die trope sluit in die ewenaar en dele van Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië. |
tuberkulose | Besmetlike, bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van knoppies in verskillende weefsels, veral die longe, wat vermoeidheid/nagsweet/koors/anemie veroorsaak. |
tweekamerstelsel | Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit twee huise bestaan, gewoonlik ’n Hoër- en ’n Laerhuis. |
tydsone | ’n Geografiese streek waarbinne dieselfde standaardtyd gebruik word. As daar byvoorbeeld “+2” bygeskryf word, beteken dit dat daar in dié spesifieke gebied nog twee uur by die standaardtyd gevoeg moet word. |
unitêre | In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het. |
Verenigde Nasies | Die VN is ʼn internasionale organisasie wat deur verskillende lande op 24 Oktober 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog gestig is. Die VN beywer hom veral vir wêreldvrede en die onderlinge samewerking tussen verskillende lande. |
verkose | Wat verkies is. |
verligting | Idees soos vryheid, demokrasie, oop samelewings en verdraagsaamheid. |
versoening | Om ’n vyandskap tot ’n einde te bring. |
vleilande | ’n Gebied wat baie nat is, soos ’n pan. |
vlugbal | Bal wat in die vlug, voordat dit grond raak, geslaan/geskop/gevang word. |
wolframiet | Harde, bruinswart materiaal. |
yl | (bevolk) Die aanduiding dat daar nie baie mense woon nie. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Rwanda
- Rwanda se regeringswebtuiste
- Die hoofstad van Rwanda is Kigali
- Interesstante feite en foto’s oor Rwanda
- Leer oor berggorillas
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Rwanda
Blitsgeskiedenis van Rwanda
Tien interessante feite oor Rwanda
Kigali – ontdek die skoonste stad in Afrika!
Rwanda se vlag en geografie
“Rwanda Nziza”, die nasionale volkslied van Rwanda
Wat het die Rwandese volksmoord veroorsaak? (animasievideo)
Die Ntarama-kerk – een van die gedenkplekke van die 1994 Rwanda-volksmoord (sensitiewe beeldmateriaal)
Die pigmee-stam van Rwanda
Imigongo: Rwanda se unieke kunsvorm wat van beesmis gemaak word
Wat kan jy vir $10 in Rwanda koop?
Die Intore-dans
Basati Lodge in die Vulkane Nasionale Park, tuiste van die berggorillas
Hoe tel mens van 1-10 in Kinyarwanda?