Vinnige feite
- Die stopteken het ’n unieke vorm (agthoekig) sodat ’n mens net na die teken kan kyk en weet jy moet stop. Dit is nie nodig om die woord op die teken te lees om die boodskap te verstaan nie. Bestuurders uit die ander rigting wat nie die teken kan lees nie, kan uit die vorm aflei wat die teken aandui. Sodoende weet hulle ook dat die aankomende verkeer moet stop. 9
- Geen padteken het skerp punte nie. Selfs die driehoekige tekens se punte is rond. Dit is omdat dit veiliger is vir voetgangers. 9
- Die eerste verkeerslig is in 1868 in Londen voor die Britse parlement opgerig. Eers in 1914 is die eerste verkeerslig in Cleveland, Ohio, in die Verenigde State van Amerika (VSA) opgerig. 10
- Die eerste waarskuwingstekens dat diere oor die pad kan loop, is in die 1950’s in Nevada in die VSA gebruik. 10
- Verkeerstekens word doelbewus vervaardig met ’n swakplek in die middel sodat hulle middeldeur breek as ’n motor in hulle vasry. Dit is beter dat die teken breek as dat die teken iemand se dood veroorsaak. 10
- Een van die grootste vervaardigingsaanlegte vir verkeerstekens in die VSA is ’n tronk! Die 1 000 gevangenes by die Franklin- korrektiewe sentrum in Noord-Carolina maak baie van die Amerikaanse verkeerstekens. Die tekens word vir sowat 95 miljoen dollar per jaar verkoop. 10
Dink ’n bietjie aan hoe dit gaan as jy in die oggend van die huis af tot by die skool moet kom. Ry jy in ’n motor of ’n bus skool toe? Ry jy fiets? Stap jy dalk? Maak nie saak op watter manier jy by die skool kom nie, jy het sekerlik die tekens langs die pad gesien wat vir jou sê waar jy moet loop en waar motors moet stop. As jy en die ander padgebruikers hierdie tekens gehoorsaam, sal almal veilig by hulle bestemming aankom.
Padtekens is tekens wat langs, oor en op paaie aangebring word om almal wat die pad gebruik, veilig te hou. Of jy nou ’n bestuurder of ’n voetganger is, jy moet weet wat hierdie tekens beteken, en jy moet hulle gehoorsaam. Daarmee verseker jy nie net jou eie veiligheid nie, maar ook die veiligheid van ander padgebruikers.
Die eerste padtekens – die Romeine
Die oudste geboude paaie waarvan ons weet, was paaie wat in die destydse Mesopotamië (vandag bekend as Irak) aangelê is. Hierdie paaie, wat met klip geplavei is, dateer terug na ongeveer 4000 v.C., en was in die Mesopotamiese stede Ur en Babilon. 1
Padtekens het egter eers veel later hul verskyning gemaak – in die Romeinse Ryk. Die Romeine het ’n hoofweg aangelê tussen Rome en die suide van Italië, sodat die hoofstad in die weste met die hawens in die suidooste verbind kon word. Hierdie hoofweg was ’n baie belangrike vervoerslagaar tussen Rome en handelskepe wat oor die Middellandse See gevaar het om met Griekeland en die Levant handel te dryf. Die pad is genoem na die eerste amptenaar wat die pad laat bou het – Appius Claudius Caecus – en besoekers aan Rome kan vandag nog die beroemde Via Appia besoek. 2
Om aan reisigers en handelaars op die Via Appia ’n idee te gee van hoe ver hulle nog het om te reis, het die Romeine kennisgewings met spesifieke tussenposes langs die pad geplaas. Dit was die wêreld se eerste mylpale. 3
Die Romeinse myl (mille passum) was gelyk aan 1 000 treë, met elke tree wat vyf Romeinse voet was. Daarom is een Romeinse myl gelyk aan 5 000 voet of ongeveer 1 480 meter in vandag se afmetings. Die mylpale is van marmer of graniet gemaak, en hoewel hulle oor die eeue heen verweer het, kan ’n mens vandag nog die inskripsies lees. 4
Eerste pogings om die verkeer te reguleer
In 1686 is die eerste bekende Verkeersreguleringswet in Europa deur koning Peter II van Portugal ingestel. Die eerste moderne padtekens is egter eers in die laat 1870’s en vroeë 1880’s opgerig. Hoekom het dit nodig geword? As gevolg van die ontwikkeling van fietse! 5
Hierdie voertuie was vinnig, stil en moeilik om te beheer. Boonop het hul ryers baie groter afstande afgelê en nuwe roetes verken. In Europa het nuwe fietsryorganisasies en plaaslike owerhede tekens begin opsit wat fietsryers gewaarsku het dat daar gevaarlike draaie en steil heuwels vir hulle voorlê. Net in Engeland is 4 000 waarskuwingsborde in die laat 1800’s aangebring. Die waarskuwingsteken vir fietsryers dat daar ’n steil heuwel aan die kom is, was ’n skedel-en-bene-prentjie, dieselfde wat seerowers vroeër gebruik het! 5
Met die ontwikkeling van motorkarre het die hele padvervoerstelsel natuurlik verander. Bestuurders het reeds in 1899 klubs gestig met die doel om aanwysings langs paaie op te rig en in stand te hou. In 1915 is die eerste stopteken in Detroit in die VSA opgerig. Dit was ’n metaalplaat met swart letters op ’n wit agtergrond. Gewone mense kon eers in die 1920’s motors bekostig toe Henry Ford sy monteerbane (in Engels: assembly lines) bekendgestel het, maar teen daardie tyd het ryk motor motoreienaars reeds op padtekens aangedring. Die eerste padtekens in hierdie moderne era, soos dié wat deur die American Automobile Association gemaak is, was van hout en is aan ysterpale vasgemaak. Baie van hierdie ou tekens is gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebruik om staal te vervaardig. 5
Pogings tot standaardisering
Hoewel lande aanvanklik hulle eie padtekens ontwikkel het, was daar later pogings om padtekens te standaardiseer. Dit is nou nog nie wêreldwyd dieselfde nie, maar daar is streke wat min of meer dieselfde padtekens gebruik.
Die Wene-konvensie oor padtekens en -seine (in Engels: Vienna Convention on Road Signs and Signals) is ’n internasionale ooreenkoms waarmee lande in Europa padveiligheid wou verbeter en die tekenstelsel vir padverkeer (padtekens, verkeersligte en padmerke) internasionaal wou standaardiseer. Hierdie konvensie is opgestel deur die Verenigde Nasies se Ekonomiese en Sosiale Raad tydens ’n konferensie oor padverkeer wat in 1968 in Wene gehou is. Die konvensie het op 6 Junie 1978 van krag geword. 6
Die Konvensie – wat deur 78 partye in Europa, Afrika, die Midde-Ooste, Asië en Latyns-Amerika ondersteun word – skryf ‘n eenvormige stelsel van tekens en seine voor. Volgens hierdie stelsel word bepaalde vorms, kleure en grafiese simbole deurlopend dieselfde gebruik. Hierdie konvensie sit ook die vereistes vir padmerke uiteen en definieer die verskillende tipes merke en hul kleure. 6
Padtekens in Suid-Afrika
Hoewel Suid-Afrika se padtekens op die Wene-konvensie gebaseer is, gebruik ons ’n stelsel wat aangepas is vir die streek waarin ons bly. Die sogenaamde SAOG-lande (volvorm: Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap; in Engels: SADC) het ’n eie stel padtekens wat in hierdie lande geld. Die lande maak die suidelike deel van Afrika uit en sluit in Angola, Botswana, die Komore-eilande, Demokratiese Republiek van die Kongo, Eswatini (voorheen Swaziland), Lesotho, Madagaskar, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Namibië, die Seychelle, Suid-Afrika, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe. 7 Die eenvormige padtekens maak dit vir bestuurders wat tussen hierdie lande moet bestuur, soos vragmotorbestuurders en toeriste, makliker om padreëls te gehoorsaam.
Die tekens wat in Suid-Afrika geld, word bepaal deur die staat, spesifiek die Nasionale Departement van Vervoer. Indien jy die volledige handleiding wil aflaai wat deur dié departement uitgegee is, kan jy dit by hierdie skakel kry. Sulke dokumente wat deur die staat uitgegee word, word dikwels opgestel as deel van wetgewing, en dit is dus nie altyd gebruikersvriendelik nie. Die lys wat deur die Nasionale Verkeersinligtingstelsel (in Engels: National Traffic Information System; akroniem: Natis) opgestel is, is makliker om te verstaan en in kleur gedruk. Jy kan dié lys by hierdie skakel aflaai.
Tipes padtekens
Padtekens word in verskillende kategorieë geplaas op grond van hulle funksie. Die tekens in dieselfde kategorie het dan ook gewoonlik dieselfde vorm sodat padgebruikers sommer met die eerste oogopslag kan sien watter soort teken dit is. Die kategorieë wat ons hier onder aandui, is die kategorieë soos wat dit in Natis se lys gepubliseer is. 8
TIPE TEKEN | DOEL | NORMALE VORM | VOORBEELDE |
Reguleertekens | Reguleertekens reguleer en beheer die optrede van padgebruikers.
Hulle verbied of beveel padgebruikers om sekere aksies uit te voer. Versuim om hierdie tekens te gehoorsaam, is ’n oortreding en is strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf, of albei. |
Rond | Die tekens wat die spoedbeperking of die minimum spoed aandui, is reguleertekens. ’n Stopteken word ook as ’n reguleerteken beskou, al is dit ’n agthoek. |
Waarskuwingstekens | Waarskuwingstekens waarsku padgebruikers betyds teen gevaarlike toestande op of langs die pad. | Driehoekig | Toegeetekens, waarskuwings oor hobbels, sirkels en aansluitings is waarskuwingstekens. |
Leiding | Leidingstekens lei die padgebruiker na die regte bestemming. Die bord se grootte hang gewoonlik af van die lengte of omvang van die boodskap. | Reghoekig | As ’n mens met ’n oprit op ’n snelweg opry, is daar ’n reghoekige blou bord met ’n prentjie van ’n pad daarop. Dit is ’n teken wat motoriste laat weet dat hulle nou op ’n snelweg is waar ’n ander soort spoedbeperking geld. |
Inligtingstekens | Hierdie tekens verskaf gewoonlik inligting aan die padgebruiker. | Dit is byvoorbeeld die bruin borde wat ’n besienswaardigheid aandui. | |
Padmerke | Padmerke reguleer, beheer en waarsku verkeer deur bane te definieer en die grense van bane aan te dui. Padmerke rig ook verkeer, byvoorbeeld om aan te dui dat verkeer in sekere bane moet draai. Soos in die geval van reguleertekens, is dit ’n oortreding om padmerke te verontagsaam. | Padmerke word op die pad self geverf. Die strepe wat die bane aandui, geelstrepe, stopstrepe en pyle wat aandui dat ’n mens moet draai, is alles padmerke. | |
Verkeersligte | Verkeersligte reguleer motors en voetgangers. Dit is ’n oortreding om verkeersligte te verontagsaam. | Verkeersligte kan drie kleure hê, maar dit kan ook ’n flitsende rooi of oranje lig wees. |
Woordbank
konvensie | Formele ooreenkoms, veral tussen verskillende lande. |
Levant | ’n Historiese term waarmee die streek aan die Middellandse See wat die hedendaagse Israel, Jordanië, Libanon, Sirië en die aanliggende gebiede insluit, beskryf word. |
mylpale | Letterlik: Die tekens wat die Romeine langs paaie opgerig het om vir reisigers aan te dui hoe ver hulle van hulle bestemming af is. Figuurlik: ’n belangrike gebeurtenis. |
padmerke | Padteken wat op die padoppervlak geverf word. |
standaardiseer | Iets met ’n bepaalde standaard laat ooreenstem, veral om eenvormigheid, gehalte en reëlmatigheid te verseker. |
Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap | Lande in Suidelike Afrika wat saamwerk om ekonomies en andersins te ontwikkel. Lidlande is Angola, Botswana, die Komore-eilande, Demokratiese Republiek van die Kongo (of die DRK), Eswatini (voorheen Swaziland), Lesotho, Madagaskar, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Namibië, die Seychelle, Suid-Afrika, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe. |
voetganger | Iemand wat te voet ’n pad gebruik. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Padtekens en wat hulle beteken
Padtekens en ander wenke vir kar- en padveiligheid