Vinnige feite

  • Die onsuksesvolle Vanguard-satelliet van 1957 is deur die Amerikaanse media “Kaputnik”, “Flopnik” en “Dudnik” gedoop. 5
  • NASA se Vehicle Assembly Building (VAB) by die Kennedy Space Center in Florida is een van die grootste gebou in die wêreld. Dit is 160 m hoog (omtrent 45 vloere!) en omtrent ewe wyd. Die gebou se deure is 140 m hoog en vat 45 minute om oop en toe te gaan. 19
  • Die internasionale ruimtestasie is die langs bewoonde struktuur buite die aarde. 12
Grafika: Viva

As ons vandag oor die ruimte praat, praat ons oor vakansies op die maan en nedersettings op Mars. Dit is soms moeilik om te onthou dat mense so onlangs soos die 1960’s vir die eerste keer in die ruimte was.

Sedert daardie tyd het ons met rasse skrede vordering gemaak in ruimtevlug en ruimte-ondersoeke. Dié vordering is meestal te danke aan die Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (National Aeronautics and Space Administration), oftewel NASA, die ruimtenavorsingsliggaam van die Verenigde State van Amerika (VSA).

Die Koue Oorlog en die IGJ

Die VSA en die Sowjet-unie was van die 1940’s af in ’n Koue Oorlog gewikkel. Dit was ’n tydperk van spanning, waar die twee moondhede wêreldwyd vir invloed en mag meegeding het.

Een van die gebiede waarop hulle mekaar die stryd aangesê het, was die sogenaamde ruimtewedloop. 1

Amerikaanse wetenskaplikes het al sedert die 1940’s navorsing oor vuurpyle en die wetenskap van die heelal buite die aarde se atmosfeer gedoen. 2

In 1957 en 1958 het die internasionale ruimtenavorsingsgemeenskap die Internasionale Geofisiese Jaar (IGJ) van stapel gestuur. Die doel was om studies uit verskillende lande oor die ruimte te koördineer. 3 Die VSA het aangekondig dat hulle vir die IGJ ’n satelliet in ’n wentelbaan om die aarde wou plaas. Die Sowjet-unie was kort op hul hakke.

Die VSA se satelliet is Vanguard genoem, en dit het baie publisiteit ontlok. Vanguard was egter nie goed bestuur nie en het geflop. 2

Vanguard

Sputnik 1

Die Sowjetunie was meer suksesvol. Op 4 Oktober 1957 het hulle Sputnik 1, die eerste mensgemaakte satelliet, gelanseer. Sputnik 1 het omtrent 80 kilogram geweeg en het vir 98 minute lank om die aarde gewentel. 4

Sputnik 1 het die indruk geskep dat die Sowjetunie se tegnologiese vermoë bo die VSA s’n uitgetroon het. 2 Dit het die Amerikaners groot skrik op die lyf gejaag. Hulle moes vinnig reageer. Dit was vir leiers én gewone Amerikaners ’n saak van eer dat hulle op die voorgrond van tegnologiese innovasie bly. 4

Sputnik 1 het dus vir die VSA die nodige hupstoot gegee om meer befondsing vir ruimtenavorsing en ruimte-ontdekking beskikbaar te maak. 2

Sputnik I

Die vroeë ruimtewedloop

Intussen was daar eers nóg slegte nuus vir die Amerikaners. Op 3 November het die Sowjet-unie Sputnik 2 gelanseer. Hierdie ruimtevaartuig het die eerste hond, Laika, suksesvol die ruimte in gestuur. 4

Laika

Die VSA het op 6 Desember 1957 hul eie satelliet, Vanguard, gelanseer, maar dit het kort ná opstyging ontplof. 5

Op 31 Januarie 1958 gaan dit beter met die Explorer 1, die eerste Amerikaanse satelliet wat ’n suksesvolle omwenteling gemaak het. 4

Die ruimtewedloop was nou in volle swang. 2

Explorer 1

Die stigting van NASA

Tot op daardie stadium is Amerikaanse ruimte-aktiwiteite deur die National Advisory Committee for Aeronautics beheer. 2 Amerikaanse leiers het gevoel dat hulle nie doeltreffend genoeg was nie. Daarom het die Amerikaanse Kongres op 29 Julie 1958 wetgewing aanvaar wat voorsiening maak vir die stigting van NASA. 4

NASA het op 1 Oktober 1958 met hul bedrywighede begin. Die eerste hoof was Dr. T. Keith Glennan. 6 Die hoofkwartier van NASA is in Washington D.C.

NASA het vandag sentrums, laboratoriums en fasiliteite vir toetse en navorsing dwarsoor die VSA. 7 Daar is tien hoofsentrums, insluitende die Jet Propulsion Laboratory, Langley Aeronautical Laboratory, Ames Aeronautical Laboratory, asook die Lewis Flight Propulsion Laboratory.

NASA het aanvanklik 8 000 werknemers gehad, 2 maar het nou 18 000. 8 Hul begroting in 2023 was $27,2 miljard, 9 meer as 270 keer as wat dit in hul stigtingsjaar was. 2

Wat is NASA?

NASA is ’n Amerikaanse burgerlike regeringsagentskap. 2

NASA se werk word opgedeel in vyf direktorate wat elk vir ’n ander aspek van NASA se werk verantwoordelik is:

  • Lugvaartkunde: Hulle doen navorsing oor alle aspekte van ruimtevlug.
  • Verkenningstelsels: Hulle bestuur die programme wat met mense te doen het, met ander woorde die bestuur van die bemanning, ruimtevervoer en ruimtekommunikasie. 10
  • Wetenskap: Hulle doen navorsing oor ons aarde, die sonnestelsel en die heelal, deur middel van satelliete en ruimteverkenningstuie. 7
  • Ruimtewerksaamhede: Hulle werk aan langtermyn- menslike verkenningsendings en ander werksaamhede in die sonnestelsel.
  • Ruimtetegnologie: Hulle doen navorsing en ontwikkeling oor die wetenskap van die ruimte en verkenningstegnieke. 10

NASA se sendings en programme

NASA het al verskeie ruimtesendings en aardse programme gehad.

Menslike ruimtevlug

  • Die Mercury-program (1961-1963): Dit was NASA se eerste groot program vir menslike vlug. Die doel was om ruimtevaarders die ruimte in te stuur, om te sien of hulle daar kan oorleef. Alan B. Shepard jr. het op 5 Mei 1961 die eerste Amerikaner geword wat die ruimte betree het. John H. Glenn jr. het op 20 Februarie 1962 die eerste een geword wat om die aarde gewentel het.
  • Die Gemini-program (1965-66): Die doel was die ontwikkeling van ruimtetuie met twee ruimtevaarders, die koppeling van ruimtetuie in die ruimte, ruimtewandelings, gewigloosheid en hoe om weer die aarde se atmosfeer uit die buitenste ruim binne te dring. Gemini se hoogtepunt was toe Edward H. White jr. op 3 Junie 1965 die eerste Amerikaanse ruimtevaarder geword wat ’n ruimtewandeling gedoen het. 2
  • Die Apollo-program (1968-1972): Program om ruimtevaarders op die maan te land. Dit word hier onder bespreek.

Onbemande sendings na planete

  • Mariner-sending: Mariner 2 het in 1962 die eerste satelliet geword om by ’n ander planeet, Venus, verby te vlieg. Mariner 4 het in 1964 die eerste Mars-verbyvlug gedoen. Mariner 9 het in November 1971 die eerste satelliet geword wat om ’n ander planeet (Mars) wentel.
  • Pioneer-program: Dit is ’n reeks onbemande sendings van 1965 tot 1978. Pioneer 10 en 11 was NASA se eerste pogings om die buitenste deel van die sonnestelsel te bereik. Pioneer 10 het verby Jupiter gevlieg, en Pioneer 11 verby Saturnus.
  • Voyager: Hierdie sendings het in 1977 gelanseer om Uranus van naderby te ondersoek en ontdekkings oor Neptunus te maak.
  • Galileo-sending na Jupiter: In 1995 het hulle die eerste satelliet in Jupiter se wentelbaan geplaas.
  • Cassini-Huygens-sending na Saturnus, 1997-2017: Hierdie sending was ’n gesamentlike sending van NASA, die Europese Ruimteagentskap (ESA) en die Italiaanse Ruimteagentskap (ASI) na Saturnus. Een tuig is in ’n wentelbaan om Saturnus geplaas, en ’n klein tuig het in 2005 op Titan, een van Saturnus se mane, geland. 12

Ander

  • By NASA se laboratoriums en elders doen hulle navorsing om lugvervoer binne die atmosfeer (soos vliegtuie) veiliger, meer betroubaar, meer doeltreffend én vinniger te maak.
  • Die Landsat-program: Lanseer satelliete wat foto’s van die aarde neem. Hierdie foto’s word gebruik vir allerhande menslike aktiwiteite, soos boerdery en omgewingsbewaring. 2
  • Kommunikasiesatelliete – soos die een waarmee jou navigasietoepassings
  • Weersatelliete – word onder meer vir weervoorspellings gebruik. 10

Die Apollo-program

John F. Kennedy, die voormalige Amerikaanse president, het op 25 Mei 1961 aangekondig dat die VSA voor die einde van die 1960s ’n man op die maan sou laat loop. 4 Die Apollo-program is hiervoor geskep. 10

Op 20 Julie 1969 het Apollo 2 hul doel bereik toe Neil Armstrong op die maan geland het. 4

Daar was in totaal nege Apollo-sendings, wat 24 ruimtevaarders op die maan laat land het. 12 van hierdie ruimtevaarders het uitgeklim en op die maan rondgeloop. 10

Die Apollo-program het in 1975 in samewerking met die Sowjet-unie ’n internasionale ruimtevlug, bekend as die Apollo-Sojoes-toetsprojek, van stapel gestuur. Twee verskillende ruimtetuie, wat van die onderskeie lande gelanseer is, het mekaar in die ruimte ontmoet en aan mekaar gekoppel. 2

Die pendeltuig

Tussen 1975 en 1981 het die VSA geen ruimtevlugte gelanseer nie.

Op 12 April 1981 is die eerste pendeltuig, die Space Shuttle, gelanseer. 2 ’n Pendeltuig, ook soms ‘n ruimtewisseltuig genoem, is ’n herbruikbare lanseertuig. 13 Dit vervoer ruimtevaarders en lading tussen die aarde en ruimtestasies of ruimteliggame. Die Space Shuttle kan tot sewe ruimtevaarders op ’n slag vervoer. Die belangrikste deel van die wenteltuig is dat dit weer en weer gebruik kan word. 14

Die Space Shuttle het al 135 suksesvolle togte gemaak. 15

Space Shuttle

Die internasionale ruimtestasie

Die eerste ruimtestasie is in 1971 deur die Sowjet-unie gebou. 1

NASA het op 14 Mei 1973 die Skylab-ruimtestasie in ’n wentelbaan geplaas. 16 Dit is ’n permanente, bemande navorsingslaboratorium in die ruimte. Skylab was die eerste ruimtestasie waar ruimtevaarders en wetenskaplikes die impak van ruimtevlug op die menslike liggaam kan bestudeer. 1

NASA en ruimteagentskappe van Europa, Japan, Kanada en Rusland het almal bygedra tot die bou van die internasionale ruimtestasie (ISS). 17 NASA het die grootste bydrae gelewer. 4 Die Internasionale Ruimtestasie is die negende bemande ruimtestasie, maar verreweg die grootste. 12

Die permanente bewoning van die ISS het aan die einde van die jaar 2000 begin. 2

Skylab-ruimtestasie

Ruimteteleskope

Om die ruimte te bekyk, het NASA vier groot teleskope, wat hulle “Great Observatories” noem: die Hubble-ruimteteleskoop, asook die Compton-, Chandra- en Spitzer-teleskoop. 12

Die Hubble-ruimteteleskoop is die grootste en bekendste. 12 Dit het onstaan in die 1970’s toe wetenskaplikes van NASA en ESA aan ’n reuseteleskoop begin bou het. Die teleskoop is eers die “Large Space Telescope” genoem, maar is in 1983 na Edwin Hubble, die beroemde sterrekundige, vernoem.

Die Hubble-teleskoop kan verder in die ruimte insien as enigiets anders. Dit neem foto’s en help ons om belangrike ontdekkings oor die heelal te maak. 18

Edwin Hubble

Terugslae en rampe

Ruimtevlug is uiters gevaarlik, en deur die jare het NASA al ’n paar groot én publieke rampe beleef:

  • Op 27 Januarie 1967 het ’n brand tydens ’n Apollo-missie uitgebreek en die lewens van drie bemanningslede geëis.
  • Op 28 Januarie 1986 het ’n lek ’n ontploffing in die petroltenk van die Challenger-wenteltuig veroorsaak. Sewe bemanningslede het 73 sekondes ná die lansering gesterf.
  • Op 1 Februarie 2003 het die Columbia-wenteltuig 15 minute voor dit op aarde moes land, gedisintegreer. Sewe bemanningslede het gesterf. 2

Woordbank

bemanning Die dienspersoneel van ’n ruimtetuig.
burgerlike Niemilitêre.
direktorate ’n Deel van ’n regeringsdepartement wat vir iets spesifieks verantwoordelik is.
fasiliteite ’n Plek wat vir ’n spesifieke doel geskep word.
gedisintegreer Verbrokkel of vergaan.
gelanseer Die afskiet van ’n vuurpyl.
gewentel Om iets beweeg of draai.
handhaafbare Om mense of mensgemaakte geboue op ’n plek in stand te hou.
hupstoot Nuwe krag of dryfkrag gee/verleen; aanmoediging.
innovasie Nuwighede.
internasionale Dit wat op meer as een land betrekking het.
koördineer Om baie verskillende dinge as ’n geheel goed/effektief te laat saamwerk.
koppeling Wanneer twee ruimtetuie of satelliete aan mekaar verbind word deur ’n spesiale verbindingstuk.
laboratoriums Vertrek/gebou wat spesiaal ingerig is vir wetenskaplike navorsing/eksperimente.
lading Vrag.
lanseertuig Die tuig wat gebruik word om vuurpyle of ruimtepyle af te skiet.
moondhede Invloedryke, welvarende lande.
navigasietoepassings Program of toepassing, soos Google Maps, wat ’n mens gebruik om die pad aan te wys of ’n roete te bepaal.
nedersettings Woonplekke, kolonies; vestigings.
pendeltuig Ruimteskip wat van die aarde af gelanseer word, ruimte toe gaan en weer na die aarde kan terugkeer.
publisiteit Die aandag wat iemand/iets in koerante, oor die radio, op televisie, ens. kry.
met rasse skrede Baie vinnig; met spoed; goeie vordering maak.
ruimtewandelings Wanneer ’n ruimtevaarder buite ’n ruimtetuig in die ruimte beweeg.
satelliet Hemelliggaam wat om ’n ander, veral ’n planeet, draai; kunsmatige, mensgemaakte byplaneet wat in ’n baan om die aarde wentel; kunsmaan.
skrik op die lyf gejaag Iemand bang maak of laat skrik.
Sowjet-unie Die Russiese federasie wat tydens die Koue Oorlog bestaan het.
tegnologiese Nuwe masjiene, toerusting en maniere om dinge te doen wat op moderne kennis van die wetenskap en rekenaars gegrond is.
van stapel gestuur Begin, aan die gang gesit.
vuurpylwerk Projektiele wat in die lugruim ingeskiet word.
wentelbaan Vaste pad of baan waarin ’n hemelliggaam of hemelliggame, soos die son of satelliete, beweeg.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor NASA

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor NASA

’n Mens kan op NASA se YouTube-blad kyk na ’n regstreekse stroming of uitsending van die ISS

Hoe lyk dit op die ISS?

Die Hubble-ruimteteleskoop het al ongelooflike films van die ruimte geneem

Grafika: VivaGrafika: VivaFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Junie 2024 | Bygewerk op 13 Junie 2024