Vinnige feite
Die Republiek van Mosambiek, meestal bekend as Mosambiek, is ’n land aan die ooskus van Suider-Afrika. Dit grens aan Tanzanië in die noorde, Malawi en Zambië in die noordweste, Zimbabwe in die weste, Suid-Afrika en Eswatini (vroeër Swaziland genoem) in die suide en suidweste, en die Mosambiekkanaal en die Indiese Oseaan in die ooste.
Die land Mosambiek is vernoem na ’n eiland langs die kus wat eerste Mosambiek genoem was. Dié eiland is volgens oorlewering na Mussa al-Bik, ’n invloedryke Arabiese slawehandelaar, vernoem. 1
Oorsig
Amptelike naam | Republiek van Mosambiek. Plaaslik: República de Moçambique (Portugees). |
Engelse naam | Mozambique/Republic of Mozambique. |
Ook/voorheen bekend as | Mosambiek. |
Leier/s | President Filipe Nyusi (sedert 15 Januarie 2015). 1 |
Hoofstad | Maputo. |
Grootste stad | Maputo (bevolking 1 191 613). 2 |
BBP (bruto binnelandse produk) | $17 851 491 428 (2022), groeikoers 4,15%. 3 |
BBP per capita | $581 (2022). 3 |
Bevolking (wêreldrang) | 2024: 34 669 142 (48e). 2 |
Bevolkingsdigtheid | 43 mense per km². 2 |
Regeringsvorm | Republiek met eenkamerstelsel. 4 |
Amptelike taal | Portugees. |
Totale oppervlak (wêreldrang) | 801 590km2 (36ste). 5 |
Geldeenheid | Mosambiekse metical (MZM), opgedeel in 100 sent. |
Internet kode | .mz |
Skakelkode | +258 |
Tydsone | GT +2 |
Byvoeglike naamwoord | Mosambiekse. |
Inwoner | Mosambieker. |
Geskiedenis
Die eerste inwoners van die gebied wat vandag as Mosambiek bekend staan, was waarskynlik Khoisan-groepe. Daar is egter te min bewyse vir argeoloë om definitiewe afleidings oor hulle te maak.
Bantoesprekers en handelaars langs die kus
Boere uit die Ystertydperk het tussen die 1ste en 5de eeu in die gebied ingetrek. 6 Hulle was deel van ’n groot suidwaartse migrasie van Bantoesprekende boere uit die wes-sentrale dele van Afrika. 7
Daar het gou groot koninkryke, soos Groot Zimbabwe, in die gebied ontstaan. Dié koninkryke was nie noodwendig in Mosambiek gesetel nie, maar het dele van Mosambiek ingesluit. 7
Rondom die jaar 1000 het handelaars van Somalië, Ethiopië, Egipte, Arabië, Persië en Indië by nedersettings langs die Mosambiekse kus begin aandoen om handel te dryf. 1 Teen die 14de eeu het Swahili-sprekende groepe handelsposte langs die kus gebou. 6 Hulle het markte vir goud, koper, ivoor en slawe geskep. 7
Portugese kontak
In 1498 het die eerste Portugese ontdekkingsreisigers Oos-Afrika bereik. Portugese handelaars het gou die vroeëre handelaars verdryf en hul eie handelsposte gestig. Kort daarna het Portugese handelaars en prospekteerders die binneland ingetrek op soek na goud en slawe. Hulle het handelsposte al langs die Zambezirivier gestig.
Die Portugese het handel in die gebied vir die volgende twee eeue oorheers, maar ná 1700 het Arabiese handelaars vir ’n tydperk oorgeneem. In die 1800’s het die Britte en Franse ook begin betrokke raak. 6
Impak van slawehandel en vroeë staatvorming
Slawerny was van die vroegste tye af endemies. Portugese en Arabiese handelaars en plaaslike hoofmanne het slawe gekoop en verkoop. Slawe is meestal deur strooptogte op kleiner stamme verkry. 6
Teen die 18de eeu het die koop en verkoop van slawe verwoesting en konflik in die Mosambiekse binneland gesaai. Terselfdertyd het militêre groepe, soos die Jere en die Ndwandwe (later bekend as die Ngoni), uit die suide die gebied ingetrek en nog chaos gesaai. ’n Ndwandwe-groep onder koning Soshangane het in die eerste helfte van die 19de eeu uit Zoeloeland gevlug en die Gaza-ryk, ’n magtige staat in die suide van vandag se Mosambiek, geskep. 7
Portugese beheer kom terug
Teen die 1880’s het die Portugese weer hul mag begin uitbrei. Teen dié tyd het die Gaza-ryk se invloed verminder. 7 In die 1880’s is albei groepe gedwing om saam met die Britte permanente grense te trek, waarvolgens die gebied ’n Portugese invloedsfeer geword het. 8
Teen die begin van die 20ste eeu het Portugal beheer oor die gebied aan privaat maatskappye gegee. Dié maatskappye het die plaaslike mense én hulpbronne vir hul eie gewin uitgebuit. 6 Later het die Portugese regering weer mag teruggeneem, maar dit het nie juis ’n verskil aan die plaaslike bevolking gemaak nie. Die jare onder Portugese beheer, hetsy maatskappye of die regering, het gepaard gegaan met uitbuiting, dwangarbeid, hoë belasting, lae lone en Europese beheer oor die mees waardevolle grond.
Na die 1930’s het Portugal sy beheer oor die gebied gesentraliseer en Portugese setlaars na die gebied gelok. Die ekonomie het vinnig gegroei, maar dit was oorweldigend ten bate van die Portugese setlaars, en die plaaslike Afrikane is streng beheer. Ontevredenheid onder die plaaslike mense het toegeneem. 7
Stryd vir onafhanklikheid
Teen die 1950’s het bevrydingsgroepe gevorm wat vir Mosambiekse onafhanklikheid begin veg het. 6 Die belangrikste was die Mosambiekse Vryheidsfront (Frelimo), wat in 1962 onder leiding van Eduardo Mondlane gestig is. 7 Hulle was teen 1964 in ’n guerrillaoorlog met die Portugese gewikkel (betrokke). 6
Mondlane het in 1969 gesterf en die leierskap van Frelimo is deur Samora Machel oorgeneem. In 1974 het ’n staatsgreep in Portugal die deur oopgemaak vir Frelimo om beheer te neem. Teen 1975 het die meeste Portugese setlaars Mosambiek verlaat. 7
Mosambiek het op 25 Junie 1975 onafhanklik geword. 6 Machel was die eerste president. 7
Burgeroorlog
Frelimo was ’n kommunistiese organisasie en het die land as ʼn eenpartystaat regeer. In 1977 het ’n burgeroorlog tussen hulle en die antikommunistiese Mosambiekse Nasionale Bevrydingsbeweging (Renamo) uitgebreek. Laasgenoemde is deur die Suid-Afrikaanse regering en die wit regering in Rhodesië (vandag se Zimbabwe) gefinansier. 6
Dit was ’n bloedige burgeroorlog. Renamo het ’n beleid van ekonomiese sabotasie en terreur gevolg. 7 Die ekonomie en infrastruktuur het ineengestort. Omtrent ’n miljoen mense het gesterf en amper twee miljoen het na buurlande gevlug. 6
Frelimo se pogings om ’n kommunistiese ekonomiese stelsel in te stel, was boonop ’n ramp. 7 Die ekonomie is ook deur grootskaalse emigrasie, ekonomiese afhanklikheid van Suid-Afrika en droogtes gekniehalter. 1
Samora Machel het in 1986 in ’n vliegtuigongeluk gesterf. Die nuwe president, Joaquim Chissano, het begin met kapitalistiese hervormings en vredesamesprekings met Renamo. 6
Die leiers van Frelimo en Renamo het uiteindelik in Oktober 1992 ’n vredestraktaat (ooreenkoms) onderteken. Frelimo het ingestem om demokrasie toe te laat, en Renamo om hul stryd te beëindig. 7
Situasie sedert 1994
Hierna was daar vir ’n wyle redelike politieke stabiliteit. In 2013 en 2015 het spanning tussen Renamo en Frelimo oorgekook, maar in 2019 is ’n ooreenkoms onderteken wat die situasie meer vreedsaam gemaak het. 7 Sedertdien is magsoorname kalm, maar daar is steeds aantygings van onreëlmatighede tydens verkiesings. 1
Sedert 2017 voer ekstremistiese Moslemgroepe, wat deel is van die Islamitiese Staat, gewelddadige aanvalle op burgerlikes in die noordelike provinsie van Cabo Delgado uit. 8
Geografie
Mosambiek is die sestiende grootste land in Afrika, en is geleë in ’n lang strook langs die Indiese Oseaan. 5 Oppervlaksgewys is dit omtrent so groot soos Suid-Afrika sonder die Noord-Kaap. 9
Landskap
Die Zambezirivier deel Mosambiek in twee geografiese gebiede:
- Die gebied noord van die Zambezirivier is op ’n plato geleë, met ’n klein kusvlakte wat deur koraalriwwe omring word. In die binneland eindig dit in die massiewe bergpieke van die Groot Skeurvallei.
- Die suidelike helfte is ’n wye savanne-kusvlakte, wat deur die valleie van verskeie riviere, die belangrikste waarvan die Limpoporivier, gekruis word. 8
Mosambiek se kuslyn is ongeveer 2 470 km lank. Mosambiek het drie belangrike hawens: Beira, Maputo en Nacala. 1
Die hoogste punt in Mosambiek is Monte Binga in die Chimanimani-bergreeks, wat 2 436 m bo seevlak uitstyg. 7
Buiten die Zambezirivier is die Limpoporivier in die suide die ander vername rivier in Mosambiek.
In die noorde deel Mosambiek die Njassameer (of Malawimeer) met Malawi en Tanzanië. 1
Klimaat
Mosambiek is in die Suidelike Halfrond geleë en het ’n tropiese klimaat. Die reënseisoen is vanaf Oktober tot Maart, en die droë seisoen vanaf April tot September. 6 Die klimaat verskil skerp tussen die verskillende gebiede. Die noorde en die kusvlakte is bedompig en warm, en dit reën meer daar. Die suidelike binneland en die weste is droog, en dele selfs woestynagtig. 7
Mosambiek word deur droogtes getref. Siklone en oorstromings teister gereeld die sentrale en suidelike provinsies. 1
Omgewingsprobleme en gevare
Mosambiek het probleme soos verwoestyning, gronderosie, ontbossing, en besoedeling van riviere as gevolg van mynboubedrywighede en ander menslike aktiwiteite. Stroop van wilde diere, veral olifante vir ivoor, is ook ’n probleem.
Natuurlike bedreigings sluit hewige droogtes, verwoestende siklone en oorstromings in die sentrale en suidelike provinsies in. 1
Landmerke
Mosambiekeiland, ’n eiland langs die kus met ’n gefortifiseerde stad uit die 16de eeu, is ’n Unesco-Wêrelderfenisterrein. 10
Regering
Mosambiek is ʼn unitêre presidensiële grondwetlike republiek.
Regeringstrukture
Mosambiek se grondwet is in 1990 aanvaar en maak voorsiening vir die skeiding van magte tussen die uitvoerende, wetgewende en regsprekende takke van die regering. 6
Die uitvoerende gesag is in die hande van die president, wat vir hoogstens twee vyfjaartermyne mag dien. Die president stel die eerste minister en die kabinet aan. 1
Mosambiek se parlement bestaan uit een huis wat 250 lede het. 1 Die lede word vir vyfjaartermyne verkies. Beide die president en die parlementslede word direk deur algemene stemreg verkies. 7
Administratief word Mosambiek in 10 provinsies opgedeel, met die hoofstad wat as provinsie tel. 6
Politieke partye
Die vernaamste politieke partye in Mosambiek is:
- Mosambiekse Vryheidsfront (Frelimo), tans die party aan bewind.
- Demokratiese Beweging van Mosambiek (MDM).
- Mosambiekse Nasionale Bevrydingsbeweging (Renamo). 1
Buitelandse verdrae
Mosambiek is lid van die Verenigde Nasies (VN), Afrika-Unie (AU), Statebond, Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), Organisasie vir Islamitiese Samewerking, 11 en stigterslid van die Gemeenskap van Portugese Lande (CPLC). 6
Ekonomie
Mosambiek is ’n lae-inkomsteland. Hoewel die land ryk is aan natuurlike hulpbronne, het burgeroorlog, droogtes en kommunisme ekonomiese ontwikkeling tot in die 1990’s teruggehou. Ná kommunisme in die laat 1980’s verwerp is en ’n vryemarkekonomie toegelaat is, 1 het die ekonomie begin groei. Dit was egter uiters ongelyk. Mosambiek is een van die armste lande in die wêreld, 6 met ’n armoedesyfer van 46%. 1
Daar is enorme verskille tussen die meer ontwikkelde suide en die minder ontwikkelde noorde, en die ryker stede en armer platteland. 12 Ernstige voedseltekorte, veral in die noorde van Mosambiek, raak om en by 1,8 miljoen mense. 1
Vandag word ekonomiese groei verhinder deur natuurrampe soos droogtes, aardbewings en oorstromings, 7 siektes, hoë bevolkingsgroei, ongelykheid, regeringskuld, inflasie, korrupsie en Islamitiese terrorisme.
Ekonomiese bedrywighede
Mosambiek se grootste sektor is landbou, wat aan vier vyfdes van die arbeidsmag werk bied. 7 Meer as 55% van die oppervlak word deur landboubedrywighede opgeneem. Daarvan is die meerderheid vir weiding. 1 Daar is ook beduidende bosbou- en visserybedrywighede. 7 Die belangrikste gewasse wat in Mosambiek verbou word, is suikerriet, kassawe, en mielies, asook melk en piesangs.
Mosambiek se natuurlike hulpbronne sluit steenkool, titaan, natuurlike gas, hidroëlektrisiteit en tantaal in. 1
Die vernaamste nywerheidsektor is aluminium. 7 Petroleumprodukte, chemikalieë, tekstiele en sement word ook hier vervaardig. 1
Mosambiek het ’n groeiende toerismesektor, veral mense wat die eindelose wit strande besoek. 7
Invoer en uitvoer
Mosambiek se vernaamste handelsvennote is Suid-Afrika, Indië en China. Produkte wat Mosambiek uitvoer is steenkool, aluminium, goud, natuurlike gas en elektrisiteit. Die grootste invoere is geraffineerde petroleum, chroom en yster. 1
Mense
Mosambiek se inheemse bevolking is ’n mengelmoes van etnisiteit en taal.
Etniese groepe en taal
Tot 96% van die bevolking is afkomstig van Bantoesprekende groepe. 6 Die grootste etniese groepe is die Makua (of Makhuwa) of Makua-Lomwe, wat meestal in die noorde woon. 1 Ander groepe sluit in die Tsonga, Sena, Ndau/Shona, Chopi en Chewa. 7
Mosambiek se amptelike taal is Portugees. 11 Dit is die moedertaal van omtrent 10% van die bevolking, 6 en die omgangstaal van bykans 40%. Die grootste inheemse tale is Makua en Chilomwe, wat die moedertale van 50% van die bevolking is. Die res van die bevolking praat ander Bantoetale soos Tsonga, Njanja (Nyanya) en Sena. Tale soos Swahili word met buurlande gedeel. 7
Opvoeding
Nagenoeg 63% van Mosambiek se bevolking is geletterd. 8
Skoolopvoeding is verpligtend, maar baie kinders woon weens familieverpligtinge nie skool by nie. Voltooiingsvlakke is ook swak. 6 Die burgeroorlog het die gehalte van onderwys verswak, en die land sukkel om genoeg onderwysers op te lei. 8
Zambië het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word verskaf deur die Eduardo Mondlane Universiteit in Maputo. 7
Demografie en bevolkingsverspreiding
Demografiese gegewens:
- Lewensverwagting: 62,4 jaar.
- Fertiliteitsvlak: 4,5 geboortes per vrou per jaar.
- Mediane ouderdom: 17 jaar.
- Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 49,2 per 1 000 geboortes.
- Sterftes onder vyf jaar oud: 65,3 per 1 000 geboortes. 13
Sowat 40% van die bevolking bly in stedelike gebiede. 2 Die res van die land is redelik yl bevolk. 1 Mense woon hoofsaaklik in drie gebiede:
- Aan die suidelike kus tussen Maputo en Inhambane;
- In die sentrale dele tussen Beira en Chimoio langs die Zambezirivier; en
- In en rondom die noordelike stede Nampula, Cidade de Nacala en Pemba. 1
Die ontvolking van die platteland en migrasie na stedelike en kusgebiede skep probleme. Emigrasie na Suid-Afrika ontneem ook die land van geskoolde en kundige werkers.
Siektes en ander probleme
Mosambiek se lae lewensverwagting is onder meer as gevolg van siektes soos MIV/vigs, skistosomiase en hepatitis A. 1
Geloof
Omtrent 56% van die bevolking is Christene, 18% Moslems, en 26% behoort aan ander gelowe. 6
Kultuur en sport
Mosambiek is ’n diverse land, en kunstradisies, musiek en kleredrag verskil van gebied tot gebied. Die bekendste kunsstyl is die houtbeelde en maskers van die Makonde in die noorde. Musiek is ’n kombinasie van Westerse en inheemse invloede. In die stede is daar ‘n sterk Westerse invloed, maar op die platteland leef baie mense steeds op tradisionele wyses. Hierdie groepe is gewoonlik konserwatief. 7
Mosambiek se gunstelingsport is sokker. Ander gewilde sportsoorte is atletiek en basketbal. 7 Mosambiek neem sedert 1980 aan die Olimpiese Spele deel. Die land se enigste Olimpiese medaljewenner tot op hede was Maria Mutola, wat in 1996 die brons- en in 2000 die goue medalje in die 800 m vir vroue gewen het. 14
Simbole
Mosambiek het die volgende nasionale simbole:
- Vlag: Groen verteenwoordig die land se rykdom, wit vrede, swart die kontinent van Afrika, geel die land se minerale, en rooi die stryd vir onafhanklikheid. Die geweer simboliseer verdediging en waaksaamheid, die skoffel verwys na landboubedrywighede, die oop boek na opvoeding, en die ster na Marxisme en internasionalisme.
- Nasionale kleure: Groen, swart, geel, rooi, wit.
- Volkslied: Pátria Amada (Geliefde vaderland). 1
Woordbank
aantygings |
Beskuldiging. |
AU | (Afrika-unie) Van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder. |
argeoloë | ’n Argeoloog is ’n oudheidkenner/oudheidkundige/oudheidnavorser. |
BBP | (bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word. |
beduidende | Betekenisvolle. |
burgerlikes | Lid van ʼn staat/stad. Niemilitêr; siviel. |
burgeroorlog | Oorlog tussen burgers van dieselfde staat. |
chaos | As iets ’n deurmekaarspul is. |
chemikalieë | Stof wat verkry of gebruik word in chemiese reaksies. |
chroom | ’n Harde silwerwit metaal. |
demokratiese bestel | ’n Regeringsbewind/beleid wat gekenmerk word deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg en van die media. |
diverse | Uiteenlopend/veelsydig; verskillend, veelsoortig. |
dwangarbeid | Wanneer iemand gedwing word om werk te doen (gewoonlik word dit gebruik om werk wat in ʼn gevangenis gedoen word, te beskryf). |
eenkamerstelsel | Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit een huis bestaan. |
ekstremistiese | Wat baie ver weg is van wat die meeste mense glo, dink of doen. |
emigrasie | Verlating van jou eie land om in ’n ander land te gaan woon; landverhuising. |
endemies | Beperk tot ʼn bepaalde streek of gebied. ʼn Siekte kom dus in ʼn bepaalde gebied voor. |
etnisiteit | Volkekundige verwantskap/eiesoortigheid. |
fertiliteitsvlak | Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee. |
gefortifiseerde | Van forte/vestings voorsien; met forte versterk. |
gekniehalter | Benadeel; verhinder; belemmer. |
geletterd | Om te kan lees en skryf. |
CPLC | (Gemeenskap van Portugese Lande) Organisasie wat samewerking tussen Portugees-sprekende lande bevorder. |
geografiese | Wat verwys na geografie wat kyk na die ruimtelike verband tussen mense, plekke en die aarde. |
geraffineerde petroleum | Gesuiwerde petroleum. |
gesetel | Plek waar die middelpunt van jou mag is. |
geskoolde | Iemand wat opgelei is en dus kennis en ervaring het. |
groeikoers | Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word. |
gronderosie | Wegvreet/wegkalwe/verweer van grond deur byvoorbeeld wind en water. |
grondwetlike | Iets wat ’n grondwet het, met ander woorde die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
Groot Skeurvallei | Vallei in Oos-Afrika met styl wande wat deur insinking van die aardkors gevorm word. |
guerrillaoorlog | Oorlog wat meestal gevoer word deur klein groepies by wyse van strooptogte op verbindingsweë, sabotasie, hinderlae op moeilik begaanbare terrein, ens.; onkonvensionele wyse van oorlogvoering. |
hepatitis A | Ontsteking van die lewer. |
hidroëlektrisiteit | Waterkrag wat gebruik word om elektrisiteit op te wek. |
hulpbronne | Enigiets wat tot hulp van die mens is. |
inflasie | Die styging van lewenskoste en pryse as gevolg daarvan dat geld se waarde verminder. |
infrastruktuur | Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens. |
internasionalisme | Politieke idee dat die idee van lande en rasse minder belangrik is, en dat almal op aarde eerder moet saamwerk. |
invloedsfeer | ’n Territoriale gebied waarbinne die politieke invloed of die belange van een volk min of meer voorop gestel word. |
Islamitiese Staat | Radikale Islamitiese groep wat deur terrorisme hul doelwit van uitwissing van nie-Moslems wil bereik. |
kabinet | Al die ministers wat saam die regering van die land vorm. |
kapitalistiese | ’n Ekonomiese stelsel wat op private besit, belegging en mededinging gegrond is en waar die staat nie veel beheer het nie. Die geld en besittings is dus in private besit. |
kassawe | Plant met wortels wat eetbaar is; ook maniok genoem. |
kommunistiese | ’n Regeringstelsel waarin die staat die eienaar van al die belangrike nywerhede is en die volk se ekonomiese, maatskaplike en kulturele lewe beheer. |
konflik | Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/partye/lande. |
konserwatief | Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie; behoudend. |
kontinent | Vasteland. |
koraalriwwe | Rotsbanke in die see wat gevorm word deur die groei en afsetting van koraal, ’n harde stof wat in die see gevorm word uit massas skulpe van baie klein seediere, gewoonlik oranje of rooi van kleur. |
korrupsie | Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan. |
kundige | Met baie/voldoende kennis. |
magsoorname | Wanneer politieke mag aan nuwe groepe oorgegee word. |
Marxisme | Leer van Karl Marx (1818-1883), grondlegger van die revolusionêre sosialisme wat ten doel het om private eiendom deur gemeenskaplike besit te vervang en ’n klaslose maatskappy tot stand te bring. |
mediane ouderdom | Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom. |
migrasie | Om van een gebied na ʼn ander te beweeg/trek. |
omgangstaal | Die taal wat deur mense wat verskillende moedertale het, gepraat word. |
onreëlmatighede | Wanneer daar nie volgens die reëls opgetree word nie. |
ontvolking | Wanneer die inwoners uit ’n gebied trek of verdwyn. |
Organisasie vir Islamitiese Samewerking | Organisasie wat poog om die belange van die Moslemwêreld te beskerm. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak. |
per capita | Per persoon. |
plato | Plat, hoogliggende streek, hoogland, tafelland. |
prospekteerders | Persone wat (as beroep) oral op plekke en in die aardlae rondsoek na ertse, minerale of edelgesteentes. |
regsprekende | Tak van die regering wat met howe te doen het. |
republiek | ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers. |
revolusionêre | Baie anders as die bestaande. |
sabotasie | Doelbewuste beskadiging van eiendom. |
savanne | Grasvlakte, ook bontveld genoem. |
sektor | ’n Afdeling of gebied van iets. |
setlaars | Iemand wat van ’n ander gebied af kom om in ’n bepaalde gebied te kom woon. |
siklone | ’n Sirkelvormige storm wat oor warm oseane ontwikkel. As dit land tref, dan word hewige reënval en winde ervaar. |
simboliseer | ’n Voorwerp of teken wat iets voorstel of iets beteken. |
skistosomiase | Parasitiese siektes wat mense aantas. |
skoffel | Werktuig waarmee grond losgewoel of onkruid mee uitgewerk/uitgekap kan word. Ook genoem skoffelpik, skoffelgraaf. |
sosialisme | Die idee van ’n samelewing wat privaat besit wil afskaf en alle inwoners/burgers aan mekaar wil gelykstel. |
staatsgreep | ’n Aanval op ’n land se regering waar die beheer oor die staat met geweld oorgeneem word; gewoonlik deur die land se weermag of ander militêre magte uitgevoer. |
Statebond | Vereniging van state tot ʼn bond van so ʼn aard dat elke staat grotendeels selfstandig bly; federasie; gemenebes. |
stroop | In hierdie geval die afsny/steel van olifanttande om ten duurste te verkoop. |
strooptogte | Dit word gewoonlik gebruik wanneer ’n land se vyande die land binnekom en daar ’n strooptog (diefstal/rooftog) uitvoer. |
SAOG | (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap Organisasie) Van 16 lande in Suider-Afrika wat groei en ontwikkeling bevorder deur samewerking tussen lidlande aan te moedig. |
tantaal | Rekbare wit metaal. |
teister | Bedreig, verniel, swaar beskadig, verwoes. |
tekstiele | Materiaal wat gespin en geweef is. |
terreur | Skrikaanjaging/intimidasie deur dade van geweld; gesamentlike dade deur terroriste gepleeg. |
tersiêre | Opvoeding ná skool by akademiese instelling soos ’n universiteit. |
titaan | Wit, glansende metaal. |
tradisionele | Betreffende tradisies wat van geslag tot geslag oorgelewer word. |
tropiese | Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreefte- en Steenbokskeerkring. Die trope sluit in die ewenaar en dele van Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië. |
uitgebuit | Wanneer jy op onregverdige wyse voordeel uit iemand of iets wil put. |
uitvoerende | Die tak van die regering wat gewoonlik die president en ministers insluit, wat take moet uitvoer wat met die bestuur van die land te doen het. |
unitêre | In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het. |
verwoestyning | Wanneer ’n stuk land wat nie voorheen ʼn woestyn was nie, ’n woestyn word. |
vredestraktaat | Verdrag wat aan die einde van ’n oorlog onderteken word. |
vryemark | Waar mense met mekaar mag meeding en ondernemings en eiendom mag besit. |
waaksaamheid | Om aandag te gee en versigtig dop te hou om seker te maak dat alles reg verloop. |
Westerse | Van die Weste, gewoonlik mense van Europa en Noord-Amerika. |
wetgewende | Die tak van die regering wat wette maak. |
wyle | ʼn Rukkie. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Interessante feite oor Mosambiek
- Mosambiek se regeringswebtuiste
- Leer hier oor Mosambiek
- Mosambiek se hoofstad is Maputo
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Leer meer oor Mosambiek
Maputo, hoofstad van Mosambiek
Feite oor Mosambiek en Mosambiekeiland
Hoe tel mens van 1-10 in Portugees?
Só klink die volkslied van Mosambiek