Vinnige feite

  • Die Russies-beheerde Pole, waar Marie Curie gebore is, het nie aan vroue toegang tot hoër onderwys gebied nie. Sy en haar suster, Bronya, het as jong vroue ’n “vlieënde universiteit” bygewoon en in die geheim opleiding gekry. Die ligging van hul skool het altyd verander sodat die owerhede dit nie kon opspoor nie. 7
  • Curie het amper nie ’n wetenskaplike geword nie. Sy het verlief geraak op en verloof geraak aan die oudste seun van die gesin vir wie sy in Pole as goewernante gewerk het. Die jong man se ma het hom egter gedwing om die verlowing te verbreek omdat sy geglo het dat Marie nie goed genoeg was vir hom nie. 7
  • Pierre Curie het Marie drie keer gevra om te trou voordat sy ja gesê het. Haar plan was altyd om terug te keer Pole toe, en hulle is net getroud omdat hy gesê het hy sal sy loopbaan prysgee om saam met haar Pole toe te trek. Dit het nooit gebeur nie, want getroude vroue is nie in Pole toegelaat om te werk nie. 7
  • Ten spyte hiervan, was sy altyd lief vir haar vaderland. Die element polonium is na Pole vernoem. 7
  • Curie se dogter Irène het ook ’n Nobelprys gekry. Dit is aan haar en haar man toegeken vir hul ontdekking van kunsmatige radioaktiwiteit. 7
  • Curie se notaboeke word vandag steeds in loodkiste in Frankryk bewaar. Dit is vandag nog radioaktief, en sal waarskynlik vir honderde jare wees. 7

Het jy al ooit jou arm gebreek of om die een of ander rede ’n X-straal nodig gehad? Indien die dokter op die X-straal kon sien hoe die binnekant van jou lyf lyk sonder dat hy of sy jou hoef oop te sny, moet jy Marie Curie daarvoor bedank.

Marie Curie het baanbrekerswerk in chemie en fisika verrig, en het veral ons begrip van radioaktiwiteit oneindig verbreed. 1 Sy het die elemente radium en polonium ontdek, en ons onthou haar vandag vir haar enorme bydrae om behandeling vir kanker te vind. 2 Sy was die eerste vrou wat ’n Nobelprys gewen het, die eerste persoon en enigste vrou wat dit twee keer gewen het, en die enigste persoon wat die prys in twee wetenskappe gewen het! 3

Marie Curie verduidelik aan ‘n groep verpleegsters die potensiële voordele van radiumbehandeling.

Vroeë lewe

Marie Curie (voor haar troue was sy as Maria Sklodofska bekend) is op 7 November 1867 in Warskou in Pole gebore. Albei haar ouers was onderwysers, maar hulle was nooit seker van hul werk nie. Curie se pa het kort-kort sy werk verloor, en die gesin moes elke nou en dan ’n kleiner, goedkoper blyplek soek. Toe sy 11 jaar oud was, sterf haar ma aan tuberkulose en haar oudste suster aan tifus. 4

Haar familie het gesukkel onder ’n onderdrukkende tsaristiese bewind, wat die Poolse kultuur wou uitroei. As tiener het Curie ’n ooreenkoms met haar suster Bronya aangegaan: Sy sou vir Bronya se studies by die mediese skool in Parys betaal, en Bronya sou dan later vir Marie se opleiding betaal. Curie het van 17-jarige ouderdom as ’n goewernante en tutor gewerk terwyl sy in haar vrye tyd studeer het. In hierdie tyd het sy betrokke geraak by ’n revolusionêre studente-organisasie, en het uit Warskou, toe nog in die deel van Pole wat deur Rusland beheer is, na Krakow verhuis, wat in daardie stadium onder Oostenrykse beheer was. 4

Tydens ‘n besoek aan die Nasionale Museum van Brasilië in Rio de Janeiro.

In 1891 is sy Parys toe om aan die Sorbonne-Universiteit te gaan studeer, waar sy haar lisensiaat in fisika en die wiskundige wetenskappe verwerf het. Sy het sakgeld verdien deur die glasware in die universiteit se laboratoriums skoon te maak, maar het baie keer nie genoeg geld gehad om te eet nie en het meer as een keer flou geword van die honger. 5

Drie jaar later het sy Pierre Curie ontmoet. Hy was toe professor in die Skool vir Fisika en het in eie reg bekendheid verwerf vir sy werk oor die piëso-elektriese effek. ’n Jaar later, in 1895, is hulle getroud. 4

Die Solvay-konferensie oor kwantummeganika in 1927.

Baanbrekerswerk en Nobelprys

Curie het haar doktorsgraad in ’n splinternuwe studieveld onderneem, wat oopgegaan het ná Wilhelm Röntgen se ontdekking van X-strale en Henri Becquerel se waarneming dat monsters van uraansoute die geheimsinnige vermoë het om fotografiese film bloot te lê. Curie het haar man oortuig om deel te neem aan die poging om die “radioaktiewe” stof te isoleer – ’n woord wat sy geskep het. 6

Marie en haar man, Pierre.

In 1898, nadat hulle verskeie stowwe geïsoleer het deur opeenvolgende chemiese reaksies en kristallisasies van die produkte wat hulle toe getoets het vir hul vermoë om lug te ioniseer, het die Curies aangekondig dat hulle polonium ontdek het. Kort daarna het hulle 0,1 gram radiumsoute van tonne uraanerts afgelei. 6

Nie eens die geboorte van haar twee dogters, Irène en Ève, in 1897 en 1904 onderskeidelik, het haar intensiewe wetenskaplike werk onderbreek nie. Sy is aangestel as dosent in fisika aan die École Normale Supérieure vir meisies in Sèvres – ’n elite Franse openbare instelling wat professore, navorsers, senior staatsamptenare asook sake- en politieke leiers oplei. Hier het sy haar eie metodiek ontwikkel waar sy die werk aan haar studente met eksperimente gedemonstreer het. 1

Marie en haar dogters, Irène en Ève, in 1908.

In Junie 1903 het Marie haar doktorsgraad in wetenskap behaal, en in dieselfde jaar het sy, haar man Pierre, en Henri Becquerel die Nobelprys vir Fisika gedeel vir die ontdekking van radioaktiwiteit. 1

Curie het geglo dat wetenskaplike navorsing tot almal se voordeel moet wees. Sy en haar man het byvoorbeeld ontdek dat radium siek selle vinniger vernietig as gesonde selle, en dat bestraling gebruik kan word om kankergewasse te behandel. 4

Marie Curie in 1903.

Pierre se dood en tweede Nobelprys

Pierre Curie is in 1906 oorlede toe hy in ’n tragiese ongeluk deur ’n perdekar omgery is. 6 Dit was vir Marie ’n verskriklike verlies, maar ook ’n draaipunt in haar loopbaan. Van toe af het sy haar verbind om die wetenskaplike werk wat hulle aangepak het, alleen te voltooi. Op 13 Mei 1906 is sy in haar man se pos aangestel. Sy was die eerste vrou wat aan die Sorbonne-Universiteit klasgegee het. In 1908 het sy professor geword, en in 1910 is haar verhandeling oor radioaktiwiteit gepubliseer. In 1911 is die Nobelprys vir Chemie aan haar toegeken vir die isolasie van suiwer radium. 1

Dwarsdeur die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het Marie Curie, met die hulp van haar dogter Irène, haar gewy aan die ontwikkeling van X-strale. Sy en Irène het ’n eenheid mobiele X-straalvragmotors geskep wat gebruik is om gewonde soldate te help. Die vragmotors was klein en het die bynaam Les Petites Curies (“Die klein Curies”) gehad. Sy het ’n aantal vroulike vrywilligers opgelei om hierdie vragmotors self te gebruik en na die oorlogsfront te neem. 3

In 1918 het die Radium-instituut, waar Irène gewerk het, in alle erns begin funksioneer, en dit sou later die mees toonaangewende sentrum vir kernfisika en chemie in die wêreld word. Marie Curie, wat nou op die kruin van haar roemryke loopbaan was, was vanaf 1922 ook ’n lid van die Akademie vir Geneeskunde, en sy het haar toegespits op die ontwikkeling van mediese toepassings van al haar ontdekkings. 1

Latere lewe

Marie Curie en haar man het nooit die patentregte vir die stowwe wat hulle geïsoleer het, geregistreer nie. Dit het beteken dat maatskappye radium kon vervaardig en teen groot bedrae geld kon verkoop, sonder dat sy ooit ’n sent daarvoor gekry het. Sy het dus nooit ryk geword uit haar eie navorsing nie!

In 1921 is sy en haar twee dogters na die Verenigde State van Amerika, waar pres. Warren G. Harding ’n gram radium aan haar oorhandig het. Amerikaanse vroue het die geld vir die radium ingesamel sodat sy verdere navorsing kon doen. 5

Een van Marie Curie se uitstaande prestasies was dat sy begryp het dat radioaktiewe bronne in voorraad gehou moet word, nie net om siektes mee te behandel nie, maar ook sodat navorsing in kernfisika kan plaasvind. Hierdie voorraad het ’n deurslaggewende bydrae gelewer tot die sukses van die eksperimente wat in 1930 onderneem is, veral dié wat deur Irène Curie en haar man, Frédéric Joliot, uitgevoer is. Hierdie werk het die weg gebaan vir die ontdekking van die neutron deur sir James Chadwick, en bowenal vir Irène en Frédéric Joliot se ontdekking in 1934 van kunsmatige radioaktiwiteit. 1

Die Curies het nie in daardie jare besef hoe gevaarlik van die radioaktiewe materiaal was wat hulle hanteer het nie. Pierre Curie het ’n letsel opgedoen toe hy sy arm doelbewus aan radium blootgestel het. Boonop het hulle jare lank in ’n swak geventileerde skuur gewerk om radiumsoute van tonne pikblende-erts te isoleer. 4 ’n Paar maande na Irène Curie se ontdekking van kunsmatige radioaktiwiteit in 1934, is Marie Curie dood aan aplastiese anemie wat deur haar langdurige blootstelling aan X-strale veroorsaak is. 1

Marie Curie se bydrae tot fisika was enorm, nie net met haar eie werk nie, maar ook omdat sy die weg gebaan het vir volgende geslagte kernfisici en chemici om hul eksperimente te doen en ontdekkings te maak. 1

Woordbank

aplastiese anemie ’n Soort bloedarmoede wat ontstaan omdat die liggaam nie genoeg nuwe bloedselle produseer nie.
baanbrekerswerk Werk wat die eerste van sy soort is en ’n pad maak vir ander om daarop voort te bou.
genie Iemand met buitengewone begaafdheid/skeppingskrag.

 

goewernante Deesdae grootliks ’n historiese term. ’n Vrou wat in ’n private huishouding gehuur is om kinders op te voed en te onderrig.
lisensiaat ’n Sertifikaat wat aandui dat ’n persoon bevoeg is om in ’n bepaalde studieveld te praktiseer.
metodiek Metode van onderrig.
patentregte Die eksklusiewe reg om ’n ontdekking te gebruik. Ander mense of besighede wat die ontdekking ook wil vervaardig of gebruik, moet die houer van die patentreg betaal.
piëso-elektriese effek Die vermoë van sekere materiale om ’n elektriese lading te genereer in reaksie op toegepaste meganiese spanning.
Sorbonne Toonaangewende universiteit in Parys, Frankryk.
tifus Hoogs aansteeklike bakteriële infeksie wat die organe aanval, en dodelik is as dit nie behoorlik behandel word nie. Mense wat in haglike, onhigiëniese omstandighede woon, is meer geneig om dit op te doen.
tuberkulose Sinoniem: tering. Hoogs aansteeklike bakteriële infeksie wat gewoonlik die longe aanval, en dodelik is as dit nie behoorlik behandel word nie.
X-straal ’n Vorm van elektromagnetiese straling, soortgelyk aan sigbare ligstrale. X-strale het egter hoër energie en dit kan deur die meeste voorwerpe, insluitend die liggaam, gaan. Mediese X-strale word gebruik om beelde van weefsels en strukture in die liggaam te genereer.

Verbreed jou kennis met dié artikels

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Marie Curie was ’n genie

Hoe Marie en Pierre Curie radioaktiwiteit ontdek het

Wat is radium?

Die geskiedenis van radium

Curie se toespraak toe sy in 1911 die tweede Nobelprys ontvang het

Waar word haar notaboeke vandag gehou?

Kyk na die lokprent van Radioactive (As jy toegang het tot Prime Video, kan jy die rolprent daar kyk)

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 1 Februarie 2024 | Bygewerk op 9 Maart 2024