Vinnige feite
- Joyce Banda, president van Malawi tussen 2012 en 2014, was die eerste vrou wat staatshoof was van ’n land in Suider-Afrika. 12
- Die Malawi-meer het meer visspesies as enige ander meer op aarde. 1
- Malawimeer word soms die “kalender-meer” genoem, want dit is 365 myl lank en 52 myl wyd. (Een jaar het 365 dae en 562 weke.) 13
- In 2013 het president Joyce Banda die presidensiële straler verkoop om geld vir die ekonomie in te samel. 13
Die Republiek Malawi, meestal bekend as Malawi, is ’n land in Suidoos-Afrika. Dit grens aan Tanzanië in die noorde, die Malawi-meer in die ooste, Mosambiek in die ooste en suide en Zambië in die weste.
Die land is vernoem na die Maravi-koninkryk, ’n 16de eeuse Oos-Afrika koninkryk. Die naam van dié koninkryk kom van “maravi”, die Chewa-woord vir “vlamme”. 1
Oorsig
Amptelike naam | Republiek Malawi. Plaaslik: Republic of Malawi. |
Engelse naam | Malawi/Republic of Malawi. |
Ook/voorheen bekend as | Njassaland; Nyasaland; Dziko la Malaŵi; Charu cha Malaŵi. |
Leier/s | President Lazarus Chakwera (sedert 28 Junie 2020). 1 |
Hoofstad | Lilongwe. |
Grootste stad | Lilongwe (bevolking 646 750). 2 |
BBP (bruto binnelandse produk) | $13 164 667 627 (2022), groeikoers 0,92%. 3 |
BBP per capita | $554 (2022). 3 |
Bevolking (wêreldrang) | 2024: 21 368 872 (62ste). 2 |
Bevolkingsdigtheid | 222 mense per km². 2 |
Regeringsvorm | Republiek met eenkamerstelsel. 4 |
Amptelike taal | Engels is die amptelike taal van opvoeding. Die grondwet stipuleer nie ’n amptelike taal nie. 4 |
Totale oppervlak (wêreldrang) | 118 484 m2 (100ste). 5 |
Geldeenheid | Malawiese kwacha (MWK), opgedeel in 100 tambala. |
Internetkode | .mw |
Skakelkode | +265 |
Tydsone | GT +2 |
Byvoeglike naamwoord | Malawiese. |
Inwoner | Malawiër. |
Geskiedenis
Die eerste inwoners van vandag se Malawi was San-mense. Later was daar vroeë Bantoesprekende groepe, maar soos die San, het hulle uit die gebied weggetrek of is verdryf. 6
Vroeë geskiedenis
Die voorsate van vandag se Malawiërs is Bantoesprekende boere wat vanuit die noorde gekom het. Hulle het die gebied in die 10de eeu betree en teen die 13de eeu begin vestig. 7
Die vernaamste vroeë groep was die Maravi in die 15de eeu. Baie inheemse Malawiërs is afstammelinge van die Maravi. 1 Die Maravi-koninkryk was die eerste gesentraliseerde staat in die gebied. 6 Hulle het hul toppunt so teen die jaar 1700 bereik, toe hulle oor suidelike en sentrale dele van Malawi, asook dele van Mosambiek en Zambië, geheers het. 1
Ander vroeë koninkryke was die Ngonde in die noorde, 6 terwyl die Chikulamayembe-staat in die ooste in die 18de eeu gestig is. 6
Slawehandel
In die negentiende eeu het Swahili-sprekende groepe vanuit die ooste en Ngoni- en Yao-groepe vanuit die suide die gebied betree. Terselfdertyd het handelaars en gewapende groepe wat van die Zoeloes in die ooste van Suid-Afrika weggevlug het, die gebied binnegestroom. 6
Die opkoms van slawehandel het ’n groot rol in Malawi se vroeë geskiedenis gespeel. Uitvoer van slawe is aanvanklik deur Swahili- en Yao-groepe vanaf die ooskus bedryf. 6 Die slawehandel het ook daartoe gelei dat die mense in die gebied met die eerste Europeërs, die Portugese, in kontak gekom het. 7 Die slawehandel het tussen 1790 en 1860 ontplof. 6 Dit het uiteindelik tot die ondergang van die inheemse koninkryke gelei. 1
Die Swahili en Yao was Moslems en het hul geloof saam met hulle gebring. Rondom dieselfde tyd het ontdekkingsreisigers soos David Livingstone, en later ander sendelinge, Christenskap begin verkondig. 6
Britse koloniale regering
Britse sendelings- en handelsaktiwiteite het in die tweede helfte van die 19de eeu toegeneem. 1 In 1891 het Brittanje die Njassaland-protektoraat oor die gebied afgekondig. Die Britse koloniale regering het infrastruktuur gebou en wit setlaars ingevoer om kontantgewasse te verbou. Dit het wel tot ekonomiese groei gelei, maar min plaaslike mense het daaruit voordeel getrek. 6
Tussen 1953 en 1963 het Brittanje die Federasie van Rhodesië en Njassaland uit vandag se Malawi, Zambië en Zimbabwe gevorm. Die regering is deur Rhodesië se wit inwoners beheer. Dit het bittere protes ontlok en tot die opkoms van nasionalisme gelei. 6
In 1958 het Hastings Banda, die leier van die Nyasaland African Congress (later die Malawi Congress Party (MCP), begin om georganiseerde weerstand teen die Federasie te lei. Ná ’n tydperk van onrus en opstand (ook in Zambië en Zimbabwe) is die Federasie in 1963 ontbind.
Die jaar daarna, op 6 Julie 1964, het Njassaland onafhanklik geword, met Banda as die eerste president. 6
Banda-regering, 1966-1994
Kort ná onafhanklikheid het daar onenigheid tussen Banda en sy ministers ontstaan. Met Republiekwording in 1996 was Malawi ’n eenpartystaat onder die MCP. In 1971 het Banda homself as lewenslange president laat verkies. 6 Sy diktatorskap sou vir die volgende dertig jaar voortduur. 7 Dit het gepaard gegaan met onderdrukking, insluitende teregstellings van sy politieke teenstanders, en beperkings op die vrye pers.
Daar was hier en daar tekens van ekonomiese vooruitgang, en infrastruktuur is gebou. Maar gebeure binne én buite Malawi het die ekonomie teruggehou. 6
Teenstand en demokrasie
Teen die vroeë 1990’s het volksbewegings wat teen onderdrukking van hul menseregte gekant was, al hoe meer aktief geword. Ondergrondse teenstand het gegroei. Teen die einde van 1992 het nog twee politieke partye, die Alliansie vir Demokrasie en die Verenigde Demokratiese Front (VDF), die MCP begin teenstaan.
Banda het in 1993 ingestem om ’n referendum te hou. Die uitslag het sy diktatorskap beëindig. 6 Die posisie van lewenslange president is afgeskaf en ’n nuwe grondwet is aanvaar. 7
Die eerste vrye verkiesings is in Mei 1994 gehou. Die VDF het die verkiesing gewen en Bakili Muluzi het die president geword. 6
Malawi sedert 1994
In die volgende dertig jaar was vordering wisselvallig. Pogings om vryhede uit te brei, korrupsie uit te wis, armoede te verminder en tekorte die hoof te bied was hier en daar suksesvol. Regerings en presidente het egter gesukkel om nie outokraties op te tree nie. Verkiesings is soms deur onreëlmatighede beknoei. 6
In 2020 het Lazarus Chakwera van die MCP die verkiesing gewen, 6 aan die hoof van ’n koalisie van opposisiepartye. 1
Malawi het steeds vandag probleme wat deur die onstabiele politieke situasie vererger word. Alhoewel menseregte oor al die algemeen gerespekteer word, is die polisie soms te gewelddadig. Die tronke is baie swak. Daar is steeds polities gemotiveerde inhegtenisnemings, 7 en korrupsie bly ’n probleem. 1
Geografie
Malawi is ’n land wat deur ander lande ingesluit word.
Malawi is die 38ste grootste land in Afrika. Die land is langer as wat hy breed is, omtrent 840 km van noord na suid en op sy wydste 160 km van oos na wes. 6 Oppervlaksgewys is dit omtrent so groot soos die provinsie Limpopo van Suid-Afrika. 8
Landskap
Daar is vier geografiese gebiede in Malawi:
- Die Groot Skeurvallei van Oos-Afrika.
- Sentrale plato’s wat omtrent driekwart van die land se oppervlak bedek.
- Hooglande, soos die Shire-hoogland in die suide.
- Geïsoleerde bergreekse. 6
Die hoogste punt in Malawi is Sapitwa Point (bergspits) op Mount Mulange, wat ook die Mulange Massif (bergmassief) wat 3 002 m bo seevlak uitstyg. 1
Die grootste riviere is die Noord- en Suid-Rukuru, Dwangwa, Lilongwe en Bua-rivier. Die Shire-rivier loop suid uit die Malawi-meer en sluit uiteindelik by die Zambezi-rivier aan. 7
Die Groot Skeurvallei loop van noord na suid aan die oostekant van die land. 7 Die Njassameer, bekend as die Malawi-meer in Malawi, beslaan meer as ’n vyfde van die land se totale oppervlakte. 6
Woude bedek omtrent ’n derde van Malawi se oppervlakte. 1
Klimaat
Malawi is in die Suidelike Halfrond geleë.
Malawi beleef twee hoofseisoene: die droë seisoen, wat van Mei tot Oktober duur, en die nat seisoen, van November tot April.
Die ander belangrike klimaatverdeling is tussen die hoogliggende en laagliggende gebiede:
- In die noordelike hooglande is daar meer reënval, omtrent 2 300 mm per jaar. Dit is ook koeler, met temperature in Julie in die middel 10 ℃ en in Oktober in die lae 20 ℃.
- In die suide, soos op die laagste punt in die Shire-vallei, val daar tussen 650 en 900 mm reën per jaar. Dit is in die lae 20 ℃ in die winter en hoë 20 ℃ in die somer. 6
Omgewingsprobleme en gevare
Malawi se grootste omgewingsprobleem is ontbossing. 6 Hoë bevolkingsgroei put die landbougrond uit. 1 Voorts is daar waterbesoedeling. Oorbevissing en die aanslikking van hul broeigronde 1 bedreig visbevolkings. 6
Natuurlike bedreigings sluit oorstromings, droogtes en aardbewings in. 1
Landmerke
Malawi se bekende landmerke sluit die volgende Unesco-wêrelderfenisterreine in:
- Lake Malawi Nasionale Park, die suidelike deel van Malawi-meer.
- Chongoni-rotskunsgebied, ’n gebied ryk aan rotstekeninge. 9
Regering
Malawi is ’n unitêre presidensiële grondwetlike republiek.
Regeringstrukture
Die huidige grondwet is in 1995 aanvaar en maak voorsiening vir die verkiesing van ’n president vir twee vyfjaartermyne, deur algemene stemreg. Die president stel die kabinet aan.
Die parlement is ’n eenkamerstelsel. Dit het 193 lede wat direk deur algemene stemreg vir vyfjaartermyne verkies word. 1
Malawi word opgedeel in drie administratiewe gebiede, wat weer in 28 distrikte opgedeel word. 6
Politieke partye
Die vernaamste politieke partye in Malawi is:
- Malawi Congress Party (MCP), tans die party aan bewind.
- Demokratiese Progressiewe Party (DPP).
- Die Volksparty (PP).
- Die Verenigde Demokratiese Front (VDF).
- Die Verenigde Transformasiebeweging (UTM). 1
Buitelandse verdrae
Malawi is lid van die Verenigde Nasies (VN), Statebond, Afrika-unie (AU), Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika (Comesa) en Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). 7
Ekonomie
Malawi het ’n lae-inkomste-ekonomie wat hoofsaaklik op landbou staatmaak.
Daar is wydverspreide armoede as gevolg van swak ekonomiese bestuur, hoë regeringskuld, wydverspreide korrupsie en swak elektrisiteitsvoorsiening. Malawi se vinnige bevolkingsgroei en hoë bevolkingsdigtheid veroorsaak voedseltekorte, want die grond kan nie genoeg kos voorsien nie.
Daar is slegs sowat 5% werkloosheid, maar meeste mense werk in die landbousektor. Malawi se armoedesyfer is 50%. 1
Ekonomiese bedrywighede
Die grootste sektor van Malawi se ekonomie is landbou, wat vier vyfdes van alle werk voorsien en ’n derde van die land se bruto binnelandse produk (BBP) uitmaak. 6 Om en by 60% van Malawi word vir landbou aangewend. Hiervan is twee derdes vir die verbouing van gewasse en 20% weiding. 1 Die belangrikste gewasse wat kos aanbetref is mielies, bone, grondboontjies en ertjies. Vir uitvoere word tabak, tee, suikerriet en katoen verbou.
Visvang in die Malawimeer is ’n noodsaaklike voedselbron. 6
Industrieë sluit tabak, tee, suiker, saagmeulens en sement in. 1 Fabrieke is verantwoordelik vir ’n vyfde van die BBP, maar skep nie werksgeleenthede nie.
Malawi het min minerale hulpbronne, buiten sommige steenkool en kalk.
Toerisme is ’n groeiende sektor. 6
Invoere en uitvoere
Malawi se vernaamste handelsvennote is Suid-Afrika, China, die VSA, Indië en Malawi se buurlande. 6
Malawi se vernaamste uitvoerprodukte is tabak, goud, sojabone, rou suiker en tee. 1 Die land se grootste invoere is chemikalieë, petroleum, verbruikersprodukte, masjinerie en kos. 6
Mense
Malawi ondervind min etniese spanning.
Etniese groepe en taal
Die grootste etniese groepe in Malawi praat Bantoe-tale, Chewa, Nyanja en Lomwe ingesluit.
Tussen 1968 en 1994 was Chewa die enigste amptelike taal. Sedertdien is daar geen amptelike taal nie. In 1996 het die regering aangekondig dat moedertaalonderrig tot graad 4 aangebied sou word, waarna opvoeding in Engels sou geskied. Laasgenoemde is die omgangstaal in besigheid en hoër opvoeding. 6
Chewa is die moedertaal van 34% van die bevolking, en is die taal wat die meeste gepraat word. Daar word ook menige ander tale gepraat. 1
Opvoeding
Om en by 67% van Malawi se bevolking is geletterd.
Skoolopvoeding is verpligtend en gratis, maar ernstige tekorte aan onderwysers kniehalter opvoeding. 6
Namibië het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word deur die Universiteit van Malawi en ander instellings verskaf. 5
Demografie en bevolkingsverspreiding
Demografiese gegewens:
- Lewensverwagting: 63,7 jaar.
- Fertiliteitsvlak: 3,8 geboortes per vrou per jaar.
- Mediane ouderdom: 17,2 jaar.
- Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 28,1 per 1 000 geboortes.
- Sterftes onder vyf jaar oud: 38,7 per 1 000 geboortes. 10
Malawi is een van die mees digbevolkte lande op aarde, maar een van die mins ontwikkelde. 7
Malawi is ook een van die mins verstedelike lande in die wêreld: net omtrent 20% van die bevolking woon in stede. 2 Daar is wel verstedeliking, maar dit lei weer tot behuisingstekorte in stedelike gebiede. 6
Siektes en ander probleme
Gesondheidsorg in Malawi is swak as gevolg van tekorte aan mediese toerusting en personeel. Die sterftesyfers is hoog, maar onlangse pogings om mediese sorg te lewer, was suksesvol.
Malawi het probleme met siektes soos malaria, masels en tuberkulose. Dit het ook een van die hoogste MIV/vigs-syfers in die wêreld. 6
Geloof
Omtrent driekwart van Malawiërs is Christene, en ’n vyfde Moslems. 6
Kultuur en sport
Malawiese kultuur bevat baie dans en musiek. Tydens aktiwiteite soos inisiasie, troues en ander feesvieringe word daar graag gedans. 7 Die gebruik van tromme is kenmerkend. 6 Mandjiewerk en maskersnywerk word steeds deur inheemse mense in tradisionele seremonies gebruik. In stedelike sentrums is olieverf en houtsneewerk gewild. 7
Malawi se gunstelingsport is sokker. Mans speel graag bawo, ’n spel amper soos dambord. Daar is ook gereelde danskompetisies en boks en netbal is gewild. 6
Toe Malawi nog deel was van die Federasie van Rhodesië en Njassaland het atlete aan die Olimpiese Spele in 1960 deelgeneem. Malawi het in 1972 die eerste keer as Malawi deelgeneem. 11
Simbole
Malawi het die volgende nasionale simbole:
- Vlag: Swart verteenwoordig die inheemse mense, rooi die bloed wat hulle in die stryd vir vryheid verloor het, groen die natuur, en die son wat opkom die hoop dat Afrika kan vry word.
- Nasionale dier: Leeu.
- Nasionale kleure: Swart, rooi, groen.
- Volkslied: “Mulungu dalitsani Malaŵi” (O God, seën ons land, Malawi).
- Leuse: “Unity and Freedom” (Eenheid en Vryheid). 1
Woordbank
aanslikking | Wanneer grond of sand deur water weggevoer word en dan nat en slymerig êrens opdam. |
AU | (Afrika-unie) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder. |
afstammelinge | Nakomelinge; mense/dinge wat van iemand/iets afstam. |
algemene stemreg | Wanneer almal in die land vir iets stem. |
BBP | (bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word. |
beknoei | Knoeiwerk doen, bekonkel, ondermyn; agteraf verkeerd maak. |
bergmassief | ʼn Kompakte groep berge. |
bestel | In hierdie geval beteken dit “bewind” of “regime”. |
broeigronde | Die plek waar diere broei. |
chemikalieë | Stof wat verkry of gebruik word in chemiese reaksies. |
dambord | Bordspel vir twee spelers op geruite bord met 24 skyfies. (In Engels: Chinese Checkers) |
demokrasie | ’n Regering wat verkies word deur verteenwoordigers van al die inwoners van ’n land. |
die hoof te bied | Te beveg. |
diktatorskap | Stelsel waar een mens of groep al die mag het. |
eenkamerstelsel | Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit een huis bestaan. |
etniese | Wat met die mense van ’n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou. |
fertiliteitsvlak | Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee. |
geletterd | Om te kan lees en skryf. |
geruite | In ’n blokkiespatroon/ruitpatroon. |
geïsoleerde | Afgesonderde. |
Comesa | (Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika) Ekonomiese gemeenskap van 21 state wat saamwerk vir ekonomiese ontwikkeling en die bevordering van vrede en sekuriteit. |
geografiese | Wat verwys na geografie wat kyk na die ruimtelike verband tussen mense, plekke en die aarde. |
gesentraliseerde | Wanneer die mag in die hande van net een persoon of een plek is. |
gewasse | Dit wat aangeplant word vir boerderydoeleindes, soos koring, mielies, vrugte en dies meer. |
gewelddadig | Om krag te misbruik. |
groeikoers | Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word. |
grondwet | Reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
Groot Skeurvallei | Vallei in Oos-Afrika met styl wande wat deur insinking van aardkors gevorm word (ʼn skeurvallei is ʼn baie diep rivierbedding of aardtrog met steil wande; rivierkloof. In Engels noem ons dit ’n canyon). |
hulpbronne | Enigiets wat tot nut van die mens is. |
industrieë | Besighede of fabrieke waar voorwerpe vervaardig word. |
infrastruktuur | Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens. |
inheemse | Wat oorspronklik in ʼn gebied voorkom. |
inisiasie | Waar jong mans oor die gebruike van die groep waaraan hulle behoort, geleer word. |
instellings | Inrigtings/stigtings/institute vir een of ander spesifieke doel. |
kabinet | Al die ministers wat saam die regering van die land vorm. |
kalk | Poreuse, onsmeltbare wit stof, in ʼn groot aantal gesteentes. |
kniehalter | Benadeel; verhinder; belemmer. |
koalisie | ʼn Verbond of ooreenkoms tussen twee politieke partye/moondhede teen ʼn gemeenskaplike teenstander/vyand. |
kontantgewasse | Plante waarmee geboer word om uit te voer en nie self te eet nie. |
korrupsie | Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan. |
mediane ouderdom | Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom. |
menseregte | Die basiese regte wat elke mens behoort te hê om regverdig behandel te word en vry te kan leef. |
MIV | MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) is ‘n virus wat die liggaam se immuunstelsel aanval. As MIV nie behandel word nie, kan dit tot vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) lei. Vigs is ’n baie ernstige siekte, deur bloed en ander liggaamstowwe oorgedra, wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer weerstand teen infeksies kan bied nie. Met behoorlike mediese sorg kan MIV beheer word en MIV-lyers wat effektiewe MIV-behandeling kry, kan ’n lang, gesonde lewe lei. |
nasionalisme | Om die belange van jou eie mense te wil bevorder. |
omgangstaal | Taal wat deur mense wat verskillende moedertale het, gepraat word. |
onafhanklik | Die reg om jouself te regeer. |
ondergang | In ’n al hoe slegter toestand raak; tot niet gaan. |
ondergrondse | Geheim; onwettig. |
onreëlmatighede | Wanneer daar nie volgens die reëls opgetree word nie. |
ontbind | Ophou om te bestaan. |
ontplof | Iets wat só vinnig gebeur, dat mens dit met ʼn ontploffing kan vergelyk. |
outokraties | Om alleen met onbeperkte mag te regeer. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak. |
per capita | Per persoon. |
pers | Koerante, tydskrifte, ens. wat berigte/artikels skryf; media. |
plato’s | Plat, hoogliggende streke, hooglande, tafellande. |
protektoraat | Gebied wat ʼn sterk staat onder sy beskerming plaas sonder om dit te annekseer, maar waaroor die beskermheer tog alle soewereine staatsmagte uitoefen. |
protes | Iets wat jy doen, jou optrede om vir iemand te wys iets is verkeerd of onregverdig. |
referendum | Stemming waarin almal van ʼn volk mag deelneem, gewoonlik oor ʼn spesifieke saak. |
republiek | ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers. |
rou suiker | Rou suiker (ook bekend as turbinado-suiker) is ’n produk van suikerriet-verwerking. Dis ligbruin van kleur en kom in gekristalliseerde vorm. |
setlaars | Mense wat van ’n ander gebied af kom om in ’n bepaalde gebied te kom woon. |
sojabone | Klein, proteïenryke bone wat oorspronklik in Asië gekweek is, wat as voedsel vir mense en diere gebruik word. |
stipuleer | Bepaal. |
straler | Luukse vliegtuig; skroeflose vliegtuig; vliegtuig wat met ’n straalmotor wat lugdruk benut, aangedryf word. |
Suidelike Halfrond | Die helfte van die aarde wat suid van die ewenaar lê. |
SAOG | (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) Organisasie van 16 lande in Suider-Afrika wat groei en ontwikkeling bevorder deur samewerking tussen lidlande aan te moedig. |
teregstellings | Met die dood te straf. |
termyne | ʼn Termyn is ʼn vasgestelde beperkte periode, tydsduur; ampstyd, sitting. |
tersiêre | Opvoeding ná skool by ʼn akademiese instelling soos ’n universiteit. |
tuberkulose | Besmetlike, bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van knoppies in verskillende weefsels, veral die longe, wat vermoeidheid/nagsweet/koors/anemie veroorsaak. |
tydsone | ’n Geografiese streek waarbinne dieselfde standaardtyd gebruik word. As daar byvoorbeeld “+2” bygeskryf word, beteken dit dat daar in dié spesifieke gebied nog twee uur by die standaardtyd gevoeg moet word. |
unitêre | In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het. |
verbou | Kweek, aankweek, laat groei, plant, saai. |
Verenigde Nasies | Die VN is ʼn internasionale organisasie wat deur verskillende lande op 24 Oktober 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog gestig is. Die VN beywer hom veral vir wêreldvrede en die onderlinge samewerking tussen verskillende lande. |
verstedeliking | As mense van die platteland na die stede trek. |
voorsate | Mense van wie ’n persoon afstam, jou voorouers; voorgeslagte. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Malawi
- Malawi se regeringswebtuiste
- Leer oor Malawi se wilde diere
- Leer meer oor die kinders van Malawi
- Die manjifieke Malawi-meer
Kyk hierdie video’s oor Malawi
Luister na die nasionale lied van Malawi
Leer oor die geskiedenis van Malawi
Tien interessante feite oor Malawi
Hoe groot is die Malawi- of Njassameer?