Vinnige feite
- Daar word dikwels gesê dat die Engelse dokter Edward Jenner inenting ontdek het en dat Pasteur entstowwe ontdek het.
- Die Pasteur-instituut staan vandag steeds bekend as ’n toonaangewende instelling waar van die beste navorsing ter wêreld gedoen word.
- ’n Jaar nadat die Pasteur-instituut geopen het, is die wêreld se eerste mikrobiologie-kursus daar aangebied.
- Pasteur se 70ste verjaardag is by die Sorbonne-Universiteit gehou en deur verskeie bekende wetenskaplikes bygewoon, soos die Britse dokter Joseph Lister wat ook baanbrekerswerk gelewer het.
- Voor Pasteur die inenting teen hondsdolheid ontwikkel het, het mense bytwonde van hondsdolheid behandel deur dit te brand. Dit het egter nie gehelp nie en mense het steeds hondsdolheid gekry.
Dink net watter groot ontdekking ’n wetenskaplike moet maak as ’n woord, wat ons vandag nog gebruik, na hom vernoem is.
Dit is die woord “pasteuriseer” wat ’n proses van sterilisasie is en wat so na aanleiding van Louis Pasteur se groot ontdekking genoem is.
Pasteur was ’n Franse wetenskaplike wat belangrike ontdekkings oor die rol van mikrobes (kieme) in siektes en in kos wat sleg word, gemaak het. Hy het besef dat kieme siektes veroorsaak en hy het deur sy ontdekkings miljoene mense se lewens gered. Hy word as die vader van die kiemteorie (die teorie dat kieme siektes veroorsaak) en bakteriologie gesien. Sy idees het byvoorbeeld daartoe gelei dat instrumente vir die eerste keer voor operasies gesteriliseer is.
Grootwordjare en studies
Pasteur is op 27 Desember 1822 in Dole, Frankryk, gebore. Hul gesin het nie baie geld gehad nie – Pasteur se pa, Jean-Joseph Pasteur, was ’n leerlooier. Pasteur se familie was vir generasies leerlooiers. Hy het ook as sersant-majoor in die Napoleontiese oorloë gedien en die Legioen van Eer (hoogste Franse eerbewys) verwerf. 1
As kind het Pasteur nie op skool uitgeblink nie, maar was baie kunstig. Hy het geskilder en het al op die ouderdom van 13 sy eerste skets met pastelle geteken. Sy gesin het 1827 na die dorp Arbois getrek en Pasteur was daar op laerskool. Hy het die hoërskool in die nabygeleë dorp, Besançon, bygewoon en daarna aan die Royal College of Besançon studeer. Hy het ’n kunsdiploma in 1840 behaal en ’n wiskundediploma in 1842.
Pasteur het in 1943 by die École Normale Supérieure, ’n onderwyskollege in Parys, begin studeer en het ’n Franse chemikus Jean-Baptiste-André Dumas se lesings bygewoon. Hy het Dumas se onderwysassistent geword en Pasteur het in 1845 sy graad in wetenskap behaal. Hy het daarna ’n gevorderde graad in fisiese wetenskappe behaal en sy doktorsgraad in wetenskappe in 1847. Hy is as professor in fisika by die Sekondêre Skool Dijon Lycée in 1848 aangestel, maar het kort daarna as ’n professor in chemie by die Universiteit van Strasbourg begin werk. 2
Hy het op 29 Mei 1849 met Marie Laurent getrou. Sy was die dogter van die rektor van die universiteit. Pasteur en sy vrou het vyf kinders gehad, maar drie het ongelukkig as kinders gesterf. Hul seun, Jean-Baptiste, en dogter, Marie-Louise, het hul kinderjare oorleef, maar hul susters, Jeanne, Cécile, en Camille, is vroeg oorlede.
Ontdekkings
Pasteur se werk kan in drie hoofdele verdeel word. Die bestudering van chemie en kristalle het hom gemotiveer om fermentasie te bestudeer en dit het weer tot sy ontdekking gelei dat kieme siektes veroorsaak. Laasgenoemde het tot sy ontwikkeling van entstowwe gelei.
- die studie van molekulêre asimmetrie;
- ontdek dat mikroörganismes fermentasie en siektes veroorsaak;
- het die proses van pasteurisasie ontdek;
- het die bier-, wyn- en sybedryf in Frankry gered en;
- entstowwe teen miltsiekte en hondsdolheid ontwikkel.
Studies oor chemie en kristalle
Die werk van die Duitse chemikus Eilhard Mitscherlich met soutkristalle het Pasteur gefassineer en Pasteur het verdere navorsing daaroor gedoen. Hy het navorsing oor die eksterne vorm van kristalle gedoen en na veral die molekules daarvan en besef dat daar iets soos molekulêre asimmetrie bestaan. Dit beteken dat die struktuur van die molekules nie dieselfde is nie. Dit sou later die grondslag van stereochemie vorm.
Pasteur het oor ’n tydperk van tien jaar kristalstrukture en die strukture van molekules ondersoek. Hy het ook gevind dat asimmetrie een van die grootste kenmerke van lewende organismes is. 3
Van fermentasie tot pasteurisasie
Toe Pasteur in 1854 by die Universiteit van Lille as ’n chemieprofessor gewerk het, is hy gevra om te probeer om probleme met die produksie van alkohol by ’n plaaslike distilleerder op te los. Hy het toe begin om die fermentasie van alkohol te bestudeer. Hy het besef dat daar lewende organismes by alle fermentasieprosesse betrokke is. Hy het in 1857 na Parys teruggekeer en het ’n posisie by die École Normale Supérieure-Universiteit aanvaar en verder alkohol en gisting bestudeer. Hy het gesien dat alkohol slegs gis as daar lewende organismes betrokke is. Dit het gelei tot die begrippe aërobies of anaërobies, wat soos groot woorde klink, maar eintlik net beteken dat suurstof by die een teenwoordig is en by die ander een afwesig is.
Pasteur het ontdek dat hitte mikrobes kan vernietig en dit het gelei tot sy ontdekking van ’n proses wat skadelike mikrobes in kos vernietig het. Die proses is pasteurisasie genoem en dit keer dat kos nie gou sleg raak nie. Hierdie proses word vandag nog gebruik.
Hy het ’n groot bydrae tot die wyn- en bierbedryf in Frankryk gelewer deur vir hulle te wys dat drank bewaar kon word en nie tydens ʼn lang skeepsvaart sleg hoef te word nie. Pasteur het die wyn tot 50-60 °C verhit. Mense in die wynbedryf gebruik nie meer vandag die proses nie, want dit maak ook die organismes dood wat die wyn moet help om te verouder. Die proses word wel vandag in die maak van verskeie ander produkte, soos kaas, gebruik.
Pasteur het bier bestudeer en tegnieke ontwikkel om bier se fermentasie te beheer en hy het bierprodusente geleer hoe om bier só te berg sodat dit uitgevoer kon word. 1
Pasteur se werk met sywurms
Pasteur was in 1862 tot die Franse Akademie vir Wetenskap verkies en is die volgende jaar as ’n professor by die École des Beaux-Arts aangestel.
In daardie tyd het Frankryk ’n sywurmkrisis beleef en dit het boonop na ander lande toe versprei. ’n Siekte het Franse sywurmeiers vernietig. Toe Pasteur die Franse sywurmkrisis ondersoek het, het hy gevind dat dit deur twee mikro-organismes veroorsaak is.
Die sywurmbedryf het teen 1865 in duie gestort, maar Pasteur het ná vyf jaar se navorsing ’n metode ontwikkel om gesonde sywurmeiers te produseer en om te keer dat hulle besmet word. Die metode was ’n reusesukses en word vandag nog gebruik.
Pasteur is in 1867 as ’n professor in chemie by die Sorbonne-Universiteit in Parys aangestel. Hy het teen daardie tyd egter ’n beroerte gekry en was as gevolg daarvan gedeeltelik verlam. Hy het hom egter nie daardeur laat keer nie en het sy navorsing en wetenskaplike werk voortgesit.
Die ontwikkeling van entstowwe
Pasteur het besef dat daar vele siektes is, wat deur mikrobes veroorsaak word en hy het toe begin om entstowwe vir inenting te ontwikkel wat hierdie siektes kon bekamp.
Inenting is wanneer verswakte kieme in ’n mens of dier se liggaam geplant word, nie om hulle siek te maak nie, maar om die liggaam te leer hoe om die siekte te beveg.
- 1879: Pasteur het in 1879 daarin geslaag om hoenders teen hoendercholera in te ent.
- 1881: In 1881 het hy skape suksesvol teen ’n siekte genaamd antraks ingeënt. Antraks was ’n groot epidemie in Frankryk en baie skape het as gevolg daarvan gesterf. Dit het selfs mense besmet. Die Duitse dokter Robert Koch het die bakterie in antraks, Antraks bacillus, geïsoleer en daar is bewys dat dit die rede vir die besmetting was. Dit het Pasteur se kiemteorie van siektes bewys en dit is toe as ’n kernkonsep van mediese mikrobiologie Die kiemteorie sê dat siektes deur kieme veroorsaak word.
- 1882 en 1885: Pasteur het ook in 1882 die eerste entstof teen hondsdolheid Hy het ’n negejarige seuntjie, Joseph Meister, op 6 Julie 1885 daarmee ingeënt. Die kind is herhaaldelik deur ’n hondsdolhond gebyt. Hy het danksy die inenting suksesvol herstel. Die entstof is dadelik deur ander mense aangevra en só is talle lewens gered. Dit was die begin van die era van voorkomende medisyne.
Die Pasteur-instituut
’n Veldtog is wêreldwyd van stapel gestuur om ’n instituut vir Pasteur te bou sodat hy net op sy navorsing kon fokus en die Pasteur-instituut is op 14 November 1888 in Parys geopen.
Pasteur se gesondheid het egter toenemend begin agteruitgaan en sy verlamming het vererger. Hy het op 28 September 1895 in Saint-Cloud, Frankryk, gesterf en is in die Notre Dame-katedraal in Parys begrawe. Sy oorskot is in 1896 na die Pasteur-instituut verskuif. 4
Pasteur het ses jaar gesterf voor die eerste Nobel-prys toegeken is. Dit is daarom dat hy geen Nobel-prys vir wetenskap of medisyne gekry het nie.
Sy notaboeke
Pasteur se testament het bepaal dat sy 103 laboratorium-notaboeke privaat gehou moes word. Ongeveer 75 jaar later het ’n erfgenaam egter alles aan die nasionale biblioteek in Parys geskenk. Dit het getoon dat Pasteur nie heeltemal eerlik was oor al sy toetsings van sy entstowwe nie. Hy het byvoorbeeld nie die entstof teen hondsdolheid genoegsaam getoets voor dit op ’n mens gebruik is nie. Dit het gelukkig gewerk en toe hy dit op die seuntjie getoets het, was dit ’n groot sukses. 5
Woordbank
aërobies | Met suurstof. |
anaërobies | Sonder suurstof. |
antraks | Miltsiekte wat veral beeste kan kry, maar mense kan ook besmet word. |
asimmetrie | Oneweredigheid. |
baanbrekerswerk | Die eerste werk wat in ’n nuwe rigting gedoen word en wat gewoonlik met baie moeite gepaardgaan. |
bakterie | ’n Klein organisme wat infeksie en besmetlike siekte veroorsaak. |
bakteriologie | Die wetenskap van mikroörganismes. |
berg | Bewaar, bêre; stoor. |
beroerte | Skielike vermindering/verlies van bewussyn wanneer are wat suurstof na die brein bring, bars of deur ’n bloedklont verstop word. |
besmet | Siektekieme oorbring; aansteek. |
chemikus | ’n Vakkundige in die gebied van chemie. |
cholera | Besmetlike/bakteriese ingewandsiekte veroorsaak deur die kommabasil-bakterie. |
epidemie | Besmetlike siekte wat vinnig oor ’n groot gebied uitbrei en ná ’n tyd weer verdwyn. |
distilleerder | Iemand of plek wat alkohol distilleer. |
fermentasie | Die handeling/proses van fermenteer. |
fisiese wetenskappe | Die studie van nielewende dinge, sluit fisika, astronomie, chemie, geologie en meteorologie in. |
gefassineer | Iemand dink iets is baie interessant. |
geïsoleer | Afgesonder. |
gesteriliseer | Kiemvry maak; alle lewende organismes tot niet maak. |
hondsdolheid | Ernstige siekte wat honde en ander diere tref, mense kan dit ook kry as ’n besmette dier jou byt. |
in duie gestort | Misluk, of tot ’n einde kom. |
inenting | Proses om teen ’n siekte ingeënt te word. |
instituut | ’n Genootskap/instansie/stigting wat iets wil bevorder of waar mense opgelei kan word. |
kernkonsep | ’n Baie belangrike begrip. |
kieme | ʼn Mikrobe of virus wat ʼn siekte kan veroorsaak. |
leerlooier | Iemand wat met leer werk. |
lesings | Lesse, praatjies, preke. |
mikrobes | ’n Eensellige organisme alleen sigbaar onder die mikroskoop of vergrootglas. |
molekulêre | Betreffende molekules. |
molekules | Die kleinste deeltjies van ’n stof wat die chemiese en fisiese eienskappe van dié stof behou en wat bestaan uit twee of meer atome wat deur chemiese bindings aanmekaar gehou word. |
organismes | Enige lewende wesens. |
pastelle | Kleurstiffies waarmee tekeninge gemaak word. |
pasteuriseer | Vloeistowwe word verhit om kieme dood te maak wat siektes kan veroorsaak of vloeistof kan laat bederf. |
professor | Openbare dosent van die hoogste rang aan ʼn universiteit of ander tersiêre inrigting; hoogleraar. |
rektor | Hoof van ’n universiteit. |
stereochemie | Die studie van hoe atome in ’n molekuul gerangskik word. |
toonaangewende | Leidend; besonder goed; hoogstaande. |
wetenskap | Kennis van die wêreld, veral gebaseer op feite wat deur ondersoek, navorsing en toetsing bewys is. |
van stapel gestuur | Begin, aan die gang gesit. |
Lees hierdie artikels om nog meer oor Pasteur te leer
Kyk na hierdie video’s om meer oor Pasteur te leer
Pasteur se lewe
’n Kort biografie van sy lewe
Pasteur, die mikrobioloog