Vinnige feite

  • ʼn Mens noem die persoon wat kaarte optrek ʼn kartograaf.
  • Die mens probeer al vir duisende jare sin van sy omgewing maak deur kaarte op te stel. Selfs eeue voor Christus het Babiloniërs kaarte op kleitablette geteken. Die oudste kaart wat tot nog toe gevind is, is ʼn Babiloniese kleitabletkaart en dateer terug na 2300 v.C. 6
  • ʼn Man genaamd Hecataeus van Miletus het waarskynlik die eerste boek oor geografie geskryf. Herodotus het ʼn generasie later die boek uitgebrei en nog streke bygevoeg. Só het kennis oor plekke en kaarte begin toeneem, maar dit was egter Claudius Ptolemaeus, ʼn wiskundige en astronoom, wat die grootste bydrae tot die ontwikkeling van kaarte en geografie gemaak het. Sy Gids tot geografie (Geōgraphikē hyphēgēsis) het agt volumes beslaan, en dit het ʼn verbysterende hoeveelheid liggings en hul breedte- en lengtegrade bevat. 6
  • Ons ken padkaarte, maar daar is verskeie soorte kaarte. Daar is tipografiese kaarte, wat die kenmerke van die aarde se grondoppervlak wys, seekaarte (wat kus- en marinegebiede beslaan), hidrografiese kaarte (wat die oseane se dieptes en getye aandui) en lugkaarte, wat lugroetes en opvallende grondkenmerke aandui. 7
  • Kaarte het gewoonlik ʼn simbool wat ʼn kompasroos genoem word, wat die hoofkompaspunte (noord, oos, suid en wes) aandui. Kaarte word só opgestel sodat noord altyd aan die bokant is, maar in werklikheid is noord natuurlik nie altyd in daai rigting nie. Die kompasroos kan mense dus help om uit te pluis watter rigting waar is en in watter rigting hulle moet reis. 3
  • Die aarde word in denkbeeldige breedte- en lengtelyne verdeel, en dit word ook so op kaarte aangedui. Die lyne word deur middel van ʼn ruitpatroon op kaarte aangetoon, en ʼn mens kan enige plek op aarde vind as jy sy koördinate het. 3
  • Breedtelyne loop horisontaal oor die aarde van wes na oos met die ewenaar as hooflyn, terwyl lengtelyne van noord na suid loop met die hooflyn wat die Greenwich-mediaan genoem word.
  • Toentertyd het kaartopstellers tekeninge gebruik om te wys waar riviere, berge of kastele op kaarte was. Die tekeninge was mooi, maar dit het te veel plek opgeneem. Kaarte het mettertyd eenvoudiger geword, en prentjies is met simbole vervang. Elke kaart het verskillende simbole vir stede, riviere, mere, paaie, spoorweë, en dies meer. Daar sal ook ʼn simbolelys (sleutel) verskyn wat vir jou wys wat elke simbool beteken. 3
Foto: iStock

Jy het sekerlik al ʼn kaart by die skool bestudeer om te kyk waar ʼn rivier, dorp, stad of land is. Jy het moontlik opgemerk dat daar op die kaart reguit lyne is met syfers wat vir jou wys wat die afstand tussen die verskillende punte op die kaart is. Die kaart se skaal wys vir ons die afstand op die kaart, sowel as die werklike afstand en wat die verhouding tussen die twee afstande is. Skaal is dus die verhouding tussen iets wat op ʼn kaart geteken is en die werklike grootte daarvan. 1

ʼn Kaart is ʼn groot stuk papier waarop ʼn plan van ʼn stad of dorp, of die uitleg van ʼn land of die wêreld uitgedruk is. 1

Kaarte verskyn natuurlik nie net altyd op papier nie, want ons kan te danke aan die internet selfs kaarte op ons selfone bestudeer. Dit lyk dalk soos ʼn klein prentjie op die beeld of in die atlas (“kaartboek”), maar dit verteenwoordig eintlik ʼn yslike grondgebied. Dis juis daarom dat skaal so belangrik is, want kan jy dink hoeveel papier iemand gaan benodig as hy of sy ʼn kaart van Suid-Afrika moet probeer maak wat die werklike landoppervlak voorstel?

Mense wat kaarte optrek of saamstel, gebruik dus skaal, en hulle skaal die werklike grootte van plekke af om op die kaart te pas. Die woord kaartskaal verwys na die verhouding tussen afstande op die kaart en die werklike afstand van die gebied. 2 Hierdie term impliseer dus dat die afstand op die kaart altyd in verhouding met die werklike afstand op die grond is. Die kaartskaal kan dalk vir jou sê dat 1 cm op die kaart gelykstaande aan 1 km in die werklike lewe is; as jy dan sien dat daar tussen twee plekke 2 cm is, dan weet jy dat daar in werklikheid 2 km tussen die twee plekke is. 2

Drie kaartmetodes waarvan jy moet weet

Daar word gewoonlik drie metodes gebruik om die skale op verskillende kaarte aan te dui sodat mense dit makliker kan lees en verstaan. Die drie metodes is ʼn lynskaal, ʼn woordskaal en die verhoudingskaal. 3

Lynskaal (ook grafiese skaal genoem)

Die lynskaalmetode is die algemeenste van die drie metodes, en dis baie eenvoudig om te verstaan en gebruik. As die kaart van ʼn lynskaal gebruik maak, sal daar gewoonlik ʼn fisiese lyn op die kaart wees met afmetings wat nogal soos dié van ʼn liniaal sʼn lyk. Die lyn sal dus (nes ʼn liniaal) gelyke dele hê, en elke deel sal ʼn syfer hê. Een sy van die skaal sal byvoorbeeld die afstand op die kaart wys, soos 1 cm. Die ander sy sal weer die ware afstand tussen punte (die plekke) verteenwoordig, soos dat 1 cm = 2,5 km is. Ons kaarte hier in Suid-Afrika (en baie ander plekke in die wêreld) maak van kilometers op ʼn kaartskaal gebruik, terwyl die Amerikaners se kaarte weer vir hulle die afstande in myle gee. 3

Woordskaal (ook verbale skaal genoem)

Soos jy kan raai, gee hierdie skaal – in plaas van ʼn lyn – woorde om te beskryf wat op die kaart gebeur. Die woorde sal op die kaart gedruk wees, soos “1 cm stel 50 km” voor. En só kan jy dan die afstand tussen plekke uitwerk. 3

Verhoudingskaal (ook breukmetode genoem)

Die verhoudingskaal kan ʼn mens aanvanklik laat kopkrap, maar dis eintlik maklik verstaanbaar as ʼn mens die konsep en omskakeling begryp.

Byvoorbeeld:

Die skaal kan ʼn verhouding van 1:50 000 aandui. As die kaart van sentimeters gebruik maak, beteken dit dat 1 cm op die kaart 50 000 cm (500 m) verteenwoordig. 3

ʼn Eenvoudige formule om te gebruik as ʼn mens die skaal van ʼn kaart wil bereken, is soos volg:

Kaartafstand ÷ werklike afstand = skaal

Onthou: As ʼn mens enigsins kaartafstande wil uitwerk, moet jy eers seker maak dat die maateenhede gelykvormig is, met ander woorde in dieselfde SI-eenheid. Jy kan nie ʼn som bereken deur byvoorbeeld afstande in sentimeters en meters te gebruik nie. Dit is dus altyd nodig om kaartafstande of werklike afstande eers na ʼn geskikter eenheid te verwerk, sodat die kaart se skaal gebruik kan word.

Indien jy wil uitwerk wat die werklike afstand in kilometers is wat deur 6 cm op die kaart voorgestel word, kan jy die onderstaande tabel gebruik om jou met die berekening te help. (In hierdie voorbeeld word veronderstel dat die verhoudingskaal 1:50 000 cm is.)

Kaartafstand Werklike afstand Berekening
1 cm 50 000 cm Basiese som
1 cm 500 m ÷ 100 om sentimeter na meter te verander
1 cm 0,5 km ÷ 1 000 om meter na kilometer te verander
6 cm 3 km As ons nou wil uitwerk hoeveel 6 cm op die kaart in werklike kilometers voorstel, moet ons die 0,5 km x 6, en dit gee dan vir ons die antwoord = 3 km. 4

Grootskalige of kleinskalige kaarte

As ʼn kaart vir jou ʼn klein gebied wys, word dit ʼn grootskalige kaart genoem. Dit word grootskalig genoem omdat die gebied baie minder afgeskaal hoef te word as wat jy byvoorbeeld met ʼn wêreldkaart moet doen. Die kaart het dus plek om meer besonderhede te wys, en jy sal baie makliker landmerke kan eien.

As iemand ʼn kaart van die buurt waar jy bly, optrek, sal daar dalk plek wees om die skole en kerke in jul omgewing in te sluit. Dit is egter nie moontlik met ʼn kleinskalige kaart nie. ʼn Kleinskalige kaart wys vir ons ʼn groot gebied, byvoorbeeld die hele Suid-Afrika. Die land is groot, en dit moet dus heelwat afgeskaal word sodat ons kan sien waar die dorpe en stede is. Daar is beslis nie plek om skole en kerke aan te dui nie. 5

Skale en verhouding

Skale help mense nie net om kaarte te kan lees en verstaan nie, want as ʼn mens ʼn konsep van skaal het, kan dit jou selfs help om iets te probeer teken of maak. Gestel jy wil ʼn voorwerp teken in die vertrek waar jy op die oomblik sit en lees. Dalk is jy nou in die kombuis en wil jul tafel teken, of dalk is jy in jou kamer en wil jou bedkassies teken. Jy weet nie presies hoe hoog of hoe breed die tafel of kassies is nie, en dit maak dit nogal moeilik om die verhouding van die voorwerp se verskillende dele reg te kry.

Die verhouding van iets is die manier waarop twee of meer dinge met mekaar verband hou. 1 As jy ʼn maatband of liniaal gebruik het, kon jy presies vasgestel het wat die afmetings van die tafel of kassie is, en dan kon jy uitgewerk het hoe om dit presies op skaal te teken en dan sou jou kassie of tafel soos klein replikas van die eintlike voorwerpe gelyk het.

Woordbank

afmetings Die hoeveelheid, grootte of lengte van iets wat verkry word deur dit af te meet.
afskaal Iets op ʼn kleiner skaal doen of minder maak.
afstand Ruimte tussen twee plekke of punte, uitgedruk as ʼn eenheid van lengte.
atlas ʼn Boek met ʼn versameling geografiese kaarte.
kaart ʼn Kaart is ʼn groot stuk papier waarop ʼn plan van ʼn stad of dorp, of die uitleg van ʼn land of die wêreld uitgedruk is.
kartograaf ʼn Tekenaar van landkaarte.
kartografie Die kuns om landkaarte te teken.
kilometers Afstand van lengte, gelyk aan ʼn duisend meter.
koördinate Stel van getalle of letters wat jou help om ʼn presiese plek te vind, soos op ʼn kaart.
kompasroos Ronde skyf waarop die windstreke aangedui is en waarbo die kompasnaald draai.
landmerke Opvallende voorwerpe waaraan ʼn gebied herken kan word, soos ʼn koppie in die veld.
meters Basiese eenheid waarin afstand gemeet word en wat gelyk aan ʼn honderd sentimeter is.
replikas Namaaksel van die oorspronklike.
sentimeters Eenheid van lengte wat gelyk aan ʼn honderdste van ʼn meter is.
skaal Die verhouding tussen iets wat op ʼn kaart geteken is en die werklike grootte daarvan.
verhouding Die manier waarop twee of meer dinge met mekaar verband hou.

Lees dié artikels om meer oor skaal te leer 

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wat is ʼn kaartskaal?

Hoe gebruik ʼn mens ʼn kaartskaal?

Hoekom is skaal so belangrik?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 April 2022 | Bygewerk op 19 Maart 2024