Homo sapiens
As jy ’n mens is en nie ’n vreemde wese van ’n ander planeet nie, is jy deel van die spesie wat Homo sapiens genoem word.
Elke lewende organisme op hierdie aarde behoort tot ’n spesie. Honde behoort byvoorbeeld tot die spesie Canis lupus familiaris. ’n Spesie is ’n groep soortgelyke diere of plante en is ’n kategorie binne-in ’n klassifikasiestelsel.
Wat moet mens van spesies weet?
- Individue van dieselfde spesie kan voortplant om meer individue van dieselfde spesie te maak.
- As daar verskille tussen lewende dinge van dieselfde spesie is, word dit ’n variasie
- Variasie tussen mense kan oorgeërf As jou ouers byvoorbeeld baie lank is, kan jy daardie lengte oorerf en net so lank of selfs langer as hulle wees.
Meer oor die menslike spesie
Hominidae, in dierkunde, verwys na een van die twee lewende families van die aap-superfamilie, die Hominoidea.
Hominidae sluit die groot ape in – dit wil sê die orangoetangs (genus Pongo), die gorillas (Gorilla), en die sjimpansees en bonobos, oftewel groot ape (Pan) – asook mense (Homo). 1
Die term Homo, oftewel mense, word ook gebruik om te verwys na uitgestorwe spesies van die menslike geslag, waarvan sommige nou redelik bekend is danksy fossieloorblyfsels.
Wetenskaplikes glo dat die eerste hominiede (menslike) spesie tussen 2,5 en 4 miljoen jaar gelede in Oos- en Suider-Afrika ontstaan/geleef het.
Kom ons kyk verder: Die woord Hominin verwys na enige lid van die dierkundige stam Hominin (familie Hominidae, van die orde Primate). Met ander woorde, ’n Hominin is enige lid van die stam wat moderne mense, uitgestorwe mensspesies en al ons onmiddellike voorsate (soos lede van die genera, Australopithecus, Paranthropus en Ardipithecus) insluit. 2
Net soos jy en jou broers/susters en neefs/niggies van mekaar verskil, net so is daar verskille tussen die verskillende groepe binne-in die Hominin-stam. Hulle almal deel egter een kenmerk, en dit is die vermoë om regop te loop. 3
Maar nou wonder jy seker: is alle Hominins dan ook Hominids? Ja! Die rede hiervoor is dat wetenskaplikes en kenners aanvanklik die vroegste menslike spesies almal Hominids genoem het. Wetenskaplikes het egter intussen die begrippe en hul verklarings verander en tot die volgende slotsom gekom: Alle Hominins is wel Hominids, maar nie alle Hominids is Hominins nie. 2
Die Latynse name laat ’n mens se kop draai, maar tog is dit nodig, want op die ou end help dit jou om die mens se plek in die natuur en ons evolusionêre verhoudings met ons naaste lewende familielede te verstaan. 4
Die naam ‘Homo sapiens’
Homo sapiens beteken “wyse man” in Latyn en is een van verskeie spesies wat onder die genus Homo val, maar is wel die enigste een wat nog nie uitgesterf het nie.
Die naam Homo sapiens is vir die eerste keer in 1758 gebruik deur iemand wat vandag as die vader van die moderne klassifikasiestelsel bekend staan. Hy was ’n plantkundige en ontdekker, genaamd Carl Linnaeus.
Daar is al lankal gedink dat ons as mense meer fisieke ooreenkomste met primate deel as met enige ander lewende organisme, maar dit het nogal in daardie tyd waagmoed van Linnaeus geverg om so iets te sê, want watter mens wil in een asem ’n aap genoem word!
Linnaeus het die klassifikasie gedoen op grond van soortgelyke liggaamstrukture tussen primate en mense. Charles Darwin se bekende boek oor evolusie, On the Origin of Species, het eers 101 jaar later gevolg en dus was Linnaeus sy tyd nogal ver vooruit.
Sedertdien is daar al baie fossiele in die wêreld ontdek en ons weet nou dat daar baie uitgestorwe spesies is wat meer kenmerke met mense as ape gedeel het.
Daar is vandag steeds baie vrae oor of die spesies voor ons as mense geklassifiseer kon word. As ’n mens na veral gedrag kyk, dan sê wetenskaplikes dit is eintlik slegs Homo sapiens wat ten volle mens is.
Prehistoriese Homo sapiens
Wetenskaplikes het bevind dat Homo sapiens oorspronklik van Afrika is. Hoe lank terug die spesie ontwikkel het is nog baie debatteerbaar. Sommige kenners glo dat dit meer as 315 000 jaar gelede hul verskyning gemaak, terwyl ander dink dat dit tussen 200 000 en 100 000 jaar gelede was. 5
Die prehistoriese Homo sapiens was nogal innoverend en het gereedskap uit klip gemaak en selfs gespesialiseerde gereedskap soos vishake en harpoene, pyle en boë en selfs naalde om mee naaldwerk te doen!
Hulle het ’n groot deel van hul dag daaraan bestee om kos te vind en het eetbare plante gesoek en diere gejag. Teen sowat 164 000 jaar gelede het moderne mense al skulpvis gekook en teen 90 000 jaar gelede het hulle gespesialiseerde visgerei gemaak om mee vis te vang.
In die laaste 12 000 jaar het Homo sapiens begin om kos te produseer. Hulle het gewasse geplant en gesien hulle kon hul eie kos verbou en hul eie diere as ’n bron van kos aanhou. Hierdie ontdekking het tot landbou gelei. Die mens het al hoe slimmer geword en het gou vermeerder. As gevolg van hierdie vinnige aanwas, moes daar meer skuilings gebou word en so het dorpe – en mettertyd stede – ontstaan.
Moderne mense het ’n unieke kombinasie van gedrags- en fisieke kenmerke wat baie van die vroeëre spesies nie oor beskik het nie. Die mens het byvoorbeeld ’n komplekse brein wat ons in staat stel om met mekaar te kommunikeer. Soos die omgewing meer onvoorspelbaar geword het, het groter breine ons voorsate gehelp om te oorleef.
Daardie voorsate het verskeie plante en vleis geëet, kon vuur maak, het in skuilings gebly, sosiale netwerke gebou en hulpbronne uitgeruil. Hulle het musiek en kuns gemaak (al was dit heel anders en eenvoudig) en begin om die aarde te bevolk.
Terloops, moenie vandag se sosiale netwerke van die mens verwar met dié van die eerste primate nie. Húlle het by vure, skuilings, water- en voedselbronne bymekaar gekom om te eet, te drink en te sosialiseer, iets wat veral soogdiere van dieselfde groep instinktief doen.
Evolusie
Daar is verskillende teorieë oor hoekom die liggame van die vroeë Hominin-stamme begin verander het om by hul omgewings aan te pas. Hierdie proses van verandering en ontwikkeling word evolusie genoem. Hul liggame het dus verander om by hul omgewing aan te pas en ons sê dat hulle geëvolueer het.
Volgens een teorie is dit omdat hulle beter by die droë klimaatstreke aangepas het en geëvolueer het soos die Afrika-savanne (grasvlakte) groter geword het. Volgens nog ’n teorie is die eerste Hominins uit hul blyplekke gedwing weens omgewingsveranderings wat die bosse laat krimp het. Hulle moes maar aanpas en hul intellektuele vermoëns het toegeneem.
Ongeveer 2,3 miljoen jaar gelede het die groep Homo habilis byvoorbeeld begin om eenvoudige gereedskap te maak. Ongeveer ’n miljoen jaar gelede het sekere spesies, soos Homo erectus, uit Afrika na Eurasië begin migreer waar hulle slimmer en slimmer geword het, soos die vermoë om vuur te maak en dit te beheer.
So om en by 60 000 jaar gelede het menslike bevolkings weg van die warm ewenaar begin trek en dit het byvoorbeeld tot allerlei variasies in velkleur, haartekstuur en gesigskenmerke gelei. 4
Soos vroeë mense in verskillende omgewings moes aanpas, het hul liggame ook begin verander om hulle te help om in warm of koel klimaatstreke te oorleef. In warmer streke was hul liggame byvoorbeeld smaller om hulle te help om koel te bly, terwyl lang bene hulle gehelp het om ver te loop. Veranderings in diëte het ook gehelp om hul liggaamsvorm te verander.
Die liggame van die vroeë mense was anders as ons s’n omdat hulle soveel meer aktief was as ons. Daar was byvoorbeeld nie motors om gou winkel toe te ry nie. Daar was nie eens winkels nie. Hul bene was baie dikker en sterker as wat ons s’n vandag is. Menslike bene het vanaf ongeveer 50 000 jaar gelede slanker en swakker geword, omdat die mens se lewenstyl fisiek nie meer so uitdagend soos die eerste mense sʼn was nie.
Dis interessant as ’n mens dink dat rugpyn en ander skeletprobleme relatief algemeen by moderne mense voorkom. Dit is as gevolg van evolusie. Volgens wetenskaplikes is hierdie pyne deel van die newe-effekte daarvan om regop te loop omdat ons nou ál ons gewig op slegs twee ledemate plaas.
Die stamboom
Die vroegste kandidaat vir hominin-status is blykbaar Sahelanthropus tchadensis. Die skedel is in Tsjad in Sentraal-Noord-Afrika gevind en wetenskaplikes het bevind dat hierdie groep tussen sewe en ses miljoen jaar gelede op aarde geleef het.
Daarna volg Ardipithecus ramidus (vyf miljoen jaar gelede), Australopithecus afarensis (vier miljoen jaar gelede), Australopithecus africanus (drie miljoen jaar gelede), Homo habilis (twee miljoen jaar gelede), Homo erectus (tussen twee en een miljoen jaar gelede), Homo heidelbergensis, Homo neanderthalensis en Homo luzonensis (minder as een miljoen jaar gelede). 6
Met die ontwikkeling van tegnologie word die stamboom gereeld hersien en die ouderdom van die fossiele hersien.
Met die ontdekking van elke “nuwe” fossiel, leer ons van meer Homo-spesies. In die laaste twee dekades het die aantal Homo-spesies byvoorbeeld van vier tot nege vermeerder. 7 Die fossiele van meer as 6 000 mense is al op aarde gevind en hulle verteenwoordig ’n paar van ons vroeë mensspesies.
Suid-Afrika se fossiele
Suid-Afrika is bekend daarvoor dat daar al verstommende fossiele hier gevind is.
As jy so gelukkig is om die Sterkfonteingrotte al te besoek het, sal jy weet waarvan ons praat. Die Sterkfonteingrotte by die Wieg van die Mensdom (duskant Krugersdorp) het al vele vondste opgelewer. Daar is byvoorbeeld fossiele van die genus Australopithecus africanus wat tussen 3,4 en 3,6 miljoen jaar oud is!
Prof. Raymond Dart het in 1924 die eerste Australopithecus-fossiel by Taung (nou deel van Noordwes) geïdentifiseer. Die Taung-kind het toe die spesienaam Australopithecus africanus gekry.
Prof. Robert Broom het in 1936 die eerste volwasse fossiel van die Australopithecus-groep ontdek. Sedertdien is honderde fossiele al ontdek, soos die wêreldbekende Mev. Ples wat in 1947 deur Broom en John Robinson gevind is. Die Wieg van die Mensdom het ook fossiele opgelewer wat nie deel van die Australopithecus africanus-groep is nie. Die Makapansgatvallei is nog ’n plek in Suid-Afrika wat bekend is vir fossiele. 8
Woordbank
bevind | Iets vasstel ná ʼn ondersoek. |
bevolk | Bewoon, van inwoners voorsien. |
bevolkings | Die inwoners van ’n land of plek. |
brein | Verstand, harsings. |
debatteerbaar | Wanneer ’n onderwerp in die openbaar bespreek kan word met verskillende standpunte daaroor. |
dekades | Tydperke/-vakke van 10 jaar. |
dierkunde | Die wetenskaplike studie van diere; soölogie. |
diëte | Verskillende stelle eetreëls of -voorskrifte in verband met die kos wat iemand daagliks (mag/moet) eet. |
Eurasië | Die uitgestrekte kontinentale landmassa wat beide Europa en Asië insluit. Dit strek van die westelike grense van Europa tot by die Stille Oseaan-kus van Rusland. |
ewenaar | Groot denkbeeldige sirkel wat om die middel van die aardbol gaan en ewe ver van die Suid- en Noordpool is; ekwator. |
evolusionêre | ’n Geleidelike en natuurlike proses van ontwikkeling. |
fossiele | Die oorblyfsels van ’n dier of plant wat in gesteentes in die aardkors behoue gebly het. |
gedrag | Optrede; hoe jy jou voor/tussen ander gedra. |
genus | Kleinste kategorie van verwante soorte (meervoud: genera/genusse). |
gespesialiseerde | In hierdie geval praat ons van “pasgemaakte”. |
gewasse | Bepaalde soort plante, veral in die landbou, soos mielies en koring. |
haartekstuur | Hier word verwys na die verskillende tipes hare, soos dik, dun, styl, krullerig, ens. |
harpoene | Pylvormige werpspies aan ’n tou, vroeër veral gebruik om walvisse mee te vang. |
het dit gemaak | Het dit reggekry. |
historiese | Bekend uit die geskiedenis; wat werklik gebeur het; geskiedkundig. |
individue | Mense, persone, enkelinge. |
in een asem | Saam genoem. |
innoverend | Iemand wat iets nuuts skep/uitdink; vars, vernuwend. |
intellektuele vermoëns | Om slim dinge te kan doen. |
kandidaat | Die mees geskikte wat kan aanspraak maak op iets. |
kategorie | Soort, groep, afdeling. |
klassifikasiestelsel | Indeling/verdeling in klasse/groepe. |
kommunikeer | Om aan iemand inligting oor te dra en/of van iemand inligting verkry deur taal/woorde/gebare/skrif/tekens/ens. te gebruik. |
komplekse | Ingewikkelde, gekompliseerde. |
liggaamstrukture | Hoe die mens se lyf en skelet gevorm is. |
migreer | Wanneer mense of diere ’n land/plek/streek verlaat en na ’n ander gebied trek om hulle daar te vestig. |
newe-effekte | Nawerking, bykomende uitwerking, nadraai, gevolg. |
omgewingsimpak | Invloed/uitwerking op die omgewing/natuur. |
oorgeërf | ’n Uiterlike wesenskenmerk/geestelike eienskap van ’n voorouer kry. |
organisme | Enige individuele vorm van lewe. |
primate | Dit is die groep soogdiere wat die hoogste ontwikkel is soos gorillas, sjimpansees, bobbejane en ape. |
produseer | Maak; vervaardig. |
relatief | Betreklik. |
skedel | Kopbeen. |
skelet | Geraamte. |
skulpvis | Seediere soos ʼn mossel, perlemoen, oester, kreef, ens. |
slanker | Skraler, dunner. |
soogdiere | Diere wat ʼn ruggraat (werwelkolom) het en wat bedek is met hare. Hul kleintjies word lewendig gebore en gesoog (met melk van die ma gevoer). |
spesie | Dis ’n groep soortgelyke diere of plante. |
stamboom | Familie-/afkomsregister, herkoms uit die voorgeslag. |
tot die volgende slotsom gekom | Tot die gevolgtrekking gekom; bevinding. |
tegnologie | Masjiene, toerusting en maniere om dinge te doen wat op moderne kennis van die wetenskap en rekenaars gegrond is. |
variasie | Afwyking, anders, verandering. |
verbou | Kweek, aankweek, laat groei, plant, saai. |
verstommende | Ongelooflik, verbasend, verbysterend. |
visgerei | Hengel- of visgereedskap (bv. visstok, -lyn, -hoek, ens.). |
vondste | Goed wat gevind word. Verskil van die woord “fonds” wat geld beteken. |
voorsate | Mense van wie ’n persoon afstam, jou voorouers; voorgeslagte. |
voortplant | Vermenigvuldig, vermeerder; laat voortbestaan. |
waagmoed | Dapperheid, durf. |
Artikels oor Homo sapiens
Kyk hierdie video’s om meer te wete te kom
Wat het jy nie van die spesie geweet nie?
Wie was die mense van lank, lank gelede?
Homo sapiens: Die geskiedenis