Vinnige feite
- Die hoofstad van Gaboen, Libreville, is so genoem omdat die gebied deur vry slawe bewoon is, en dit beteken “vrye stad” in Frans. Dit na-aap Freetown, die hoofstad van Sierra Leone.
- Gaboen is een van dertien lande waardeur die ewenaar loop. 12
- Lopé Nasionale Park het die digste bevolking van olifante op die planeet. Daar is drie olifante per km2! 12
Die Gaboenese Republiek, meestal bekend as Gaboen, is ’n land in Sentraal-Afrika. Dit grens aan Ekwatoriaal-Guinee in die noordweste, Kameroen in die noorde, Republiek die Kongo in die ooste en die Atlantiese Oseaan in die weste.
Die naam kom van die Portugese woord “gabão” wat “mantel” beteken. Die naam verwys na hoe die vorm van die riviermond van die Komorivier vir vroeë Portugese ontdekkingsreisigers gelyk het. 1
Oorsig
Amptelike naam | Gaboenese Republiek.
Plaaslik: République Gabonaise (Frans). |
Engelse naam | Gabon/Gabonese Republic. |
Ook/voorheen bekend as | Gaboen; Franse Ekwatoriale Afrika. |
Leiers | President: Brice Oligui Nguema (sedert 4 September 2023).
Eerste minister: Raymond Ndong Sima (sedert 7 September 2023). 2 |
Hoofstad | Libreville. |
Grootste stad | Libreville (bevolking 578 156). 3 |
BBP (bruto binnelandse produk) | $21 071 739 228 (2022), groeikoers 3,04%. 4 |
BBP per capita | $6 642 (2022). 4 |
Bevolking (wêreldrang) | 2024: 2 477 596 (146ste). 3 |
Bevolkingsdigtheid | 9 mense per km². 3 |
Regeringsvorm | Republiek onder militêre junta. 1 |
Amptelike taal | Frans. 2 |
Totale oppervlak (wêreldrang) | 267 668km2 (77ste). 5 |
Geldeenheid | Sentraal-Afrikaanse frank (XAF), opgedeel in 100 sent. |
Internetkode | .ga |
Skakelkode | +241 |
Tydsone | GT +1 |
Byvoeglike naamwoord | Gaboenese of Gaboense. |
Inwoner | Gaboenees. |
Geskiedenis
Die eerste inwoners van Gaboen was pigmee-jagterversamelaars. Meeste van hulle is later deur Bantoesprekende boere verdryf. 6
Eerste mense
Die eerste koninkryke in vandag se Gaboen en omliggende dele, soos die Loango en Orungu, het in die 1300’s ontstaan. 1 Die Loango-staat was aanvanklik ’n provinsie van die Kongo, ’n magtige staat suid van Gaboen. 7
Europese kontak
Die eerste Portugese handelaars het in die middel van die 15de eeu die gebied betree. Ivoor en hout was aanvanklik die belangrikste handelsmiddele. 1 Teen die laat 1500’s het Franse, Nederlandse, Spaanse en Engelse handelaars met plaaslike gemeenskappe handel gedryf in lap, ysterware, vuurwapens en alkohol. 7
Vir ’n eeu van die 1760’s af was die meeste handel in slawe. 7 Die meeste inheemse groepe, soos die Orungu, Mpongwe en Vili (Loango) het deelgeneem, alhoewel die Fang-mense van die noorde van Gaboen, ’n opmerklike uitsondering was. 1 Die Fang was nietemin oorlogsugtig en hul oorloë het, saam met die slawehandel, bygedra tot die afmaaiing van inheemse gemeenskappe in die 19de eeu.
Franse beheer
In die 19de eeu het die Britte en Franse veldtogte begin om slawehandel te beëindig. Die Franse het met die Mpongwe ooreengekom om die slawehandel te beëindig en Franse soewereiniteit te aanvaar. Franse sendelinge het die gebied binnegestroom. 7
In 1875 het Pierre Savorgnan de Brazza, ’n Franse ontdekkingsreisiger, ’n ekspedisie na die gebied gelei. 6 Gaboen is in 1886 met die Franse Kongo verenig, met Brazza as goewerneur. 7 Die Franse het begin om te koloniseer en hulpbronne te ontgin. Daar was plek-plek weerstand teen Franse oorheersing, maar dit was nie wydverspreid nie. 1
In 1910 het Gaboen deel van Franse Ekwatoriale Afrika geword. 6 Dit was ’n groot staat wat vandag se Sentraal Afrikaanse-Republiek, Tsjad, Republiek die Kongo en Gaboen ingesluit het.
Die Franse beleid van dwangarbeid, belasting, konsessies en monopolieë het plaaslike landbouproduksie en handel vernietig. Dit het wél tot weerstand gelei.
Gaboen het in 1946 ’n oorsese gebied (nie meer ’n kolonie nie) van Frankryk geword, met eie parlement en verteenwoordiging in Frankryk se parlement. In hierdie tydperk het Frankryk wel geld aan infrastruktuur, gesondheidsorg en onderwys spandeer.
Gaboen is in 1958 as outonome republiek verklaar en het in Augustus 1960 onafhanklikheid gekry. 7
Eerste jare van onafhanklikheid
Die eerste president, Léon M’Ba, het sy teenstanders en die media onderdruk. Hy het ’n noue band met Frankryk gehad en was teen verhoudings met ander Afrika-state gekant. Toe dit blyk dat hy Gaboen in ’n eenpartystaat in wou verander, 7 was daar ’n poging tot ’n staatsgreep. Omdat hy Franse belange beskerm het, het Frankryk troepe gestuur om hom te red. 6
Die Bongo-diktatorskap
M’Ba het in 1967 gesterf en is opgevolg deur El Hadj Omar Bongo Ondimba. Bongo het in 1968 die land in ’n eenpartystaat omskep en die Parti Démocratique Gabonais (PDG), wat vandag steeds aan bewind is, gevorm. Hy sou vir die volgende vier dekades regeer. 1
Daar was weerstand, en groepe soos die Begewing vir Nasionale Vernuwing (Mouvement de Redressement National) het op multiparty-demokrasie en ’n einde aan korrupsie aangedring. Hulle is egter deur die regering onderdruk. Laer petrolpryse (een van die regering se vername uitvoere) in die middel van die 1980’s het die ekonomie verswak en weerstand teen die regering versterk. 7
Die groeiende weerstand het Bongo in die 1990’s gedwing om ’n multiparty-stelsel en nuwe grondwet te aanvaar. 1 Hy het egter steeds die verkiesings gewen. Die opposisie was te verdeeld en daar was onreëlmatighede in die verkiesings.
Teen 1992 was Gaboen gekenmerk deur grootskaalse korrupsie en ongelykheid. Regeringsamptenare en besigheidsleiers, wat 2% van die bevolking uitgemaak het, het 80% van alle inkomste beheer. 7
Gaboen sedert 2009
Ná Bongo se dood in 2009 was daar ’n verkiesing en sy seun, Ali Bongo Ondimba, het aan bewind gekom. Die verkiesing het weer eens met onreëlmatighede gepaard gegaan. Ali Bongo se oorwinning het tot opstande en gewelddadige proteste gelei. Hy het in 2016 en 2023 weer gewen, in verkiesings wat nie vry of regverdig was nie. 7
’n Paar dae ná sy derde termyn in Augustus 2023 begin het, is hy deur ’n staatsgreep omvergewerp. Brice Oligui Nguema het die staatsgreep gelei. Bongo is in hegtenis geneem, die verkiesing is gekanselleer en die regering ontbind. In September is Oligui as tydelike president beëdig. 1
Geografie
Gaboen is die 30ste grootste land in Afrika. 1 Oppervlaksgewys is dit so groot soos die Vrystaat en Wes-Kaap saam. 8
Landskap
Gaboen is op Afrika se westelike sentrale Atlantiese kus geleë. 1
Gaboen word opgedeel in drie geografiese gebiede: ’n smal kusstrook wat plek-plek maar sowat 30 km wyd is. 7 Daarna styg die landstreek na ’n heuwelrige binneland en reeks plato’s. Daar is savanne in die ooste en suide.
Sowat 80% van Gaboen se grondgebied word deur woude beslaan. ’n Klein bevolking en inkomste uit olie stel Gaboen meestal in staat om sy ongerepte reënwoude en ryk biodiversiteit te beskerm. 1
Gaboen se kuslyn is 885 km lank. 1
Die hoogste punt in Gaboen is die berg Bengoué in die noordooste, wat 1 070 m bo seevlak uitstyg. 7
Die langste rivier in Gaboen is die Ogooué, wat 1 200 km lank is! 1
Klimaat
Gaboen is op die ewenaar geleë. Dit is dus in die tropiese streek, en altyd warm en bedompig. 1 Jaarlikse reënval wissel tussen 3 050 mm en 3 810 mm. Dit val omtrent alles tussen Oktober en Mei. Temperature wissel nie van seisoen tot seisoen nie, maar is altyd in die hoë 20’s. 7
Omgewingsprobleme en gevare
Daar is ontbossing as gevolg van uitgebreide houtkappery. Afvalverwydering is ’n probleem, en die olieindustrie veroorsaak waterbesoedeling. Stropery is ook ’n probleem. 1
Landmerke
Gaboen se bekende landmerke sluit die volgende Wêrelderfenisterreine in:
- Die ekostelsel en kultuurlandskap van Lopé-Okanda. Dit sluit die Lopé Nasionale Park en omliggende argeologiese terreine in. 7
- Ivindo Nationale Park, ’n reënwoud in ’n nasionale park. 9
Groot dele van Gaboen is oortrek met dolomiet en kalksteengrotte, waarvan baie nog nooit verken is nie.
In 2002 het die president van Gaboen 11% van die land se oppervlak as nasionale parke verklaar. 6
Regering
Gaboen is ’n unitêre presidensiële grondwetlike republiek.
Regeringstrukture
Gaboen se grondwet is in 1991 aanvaar. Die staatsgreep van 2023 het alle staatsinstellings tot die volgende verkiesing in 2025 ontbind.
Voor die staatsgreep het Gaboen ’n president gehad wat direk vir ʼn vyfjaartermyn gekies is. Die kabinet word deur die eerste minister, in samewerking met die president, aangestel.
Voor die staatsgreep het Gaboen ’n tweekamerstelsel gehad. Tans is daar ’n tydelike parlement wat uit ’n Laerhuis (98 setels) en Hoërhuis (70 setels) bestaan. Alle parlementslede word deur die president aangestel.
Administratief word Gaboen in 9 provinsies opgedeel, 1 wat verder in 37 departemente verdeel word. 6
Politieke partye
Die vernaamste politieke partye in Gaboen is die Parti Démocratique Gabonais (PDG), tans die party aan bewind. 1
Buitelandse verdrae
Gaboen is lid van die Verenigde Nasies (VN) en Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrikaanse State (EGSAS). Die land se lidmaatskap in die Afrika-Unie (AU) is as gevolg van die staatsgreep opgeskort. 1
Ekonomie
’n Klein bevolking en rykdom uit olie maak Gaboen een van die mees welvarende lande in Afrika. 1 Daar is baie beleggings uit Frankryk. 7 Daar is egter ontsaglike ongelykheid en ’n derde van die bevolking leef in armoede. Werkloosheid is 21%, maar amper 40% daarvan is onder die jeug (mense tussen 15 en 24 jaar oud). 7
Inkomste uit petroleum is veronderstel om gebruik te word om infrastruktuur te bou en dienste soos onderwys en gesondheid te lewer. Wydverspreide korrupsie beperk dit. 1 Die ekonomie word nie gediversifiseer of moderniseer nie. 6 Die plaaslike werksmag het te min vaardighede. 1 Die oliemyne gebruik byvoorbeeld meestal buitelandse geskoolde werkers. 7
Ekonomiese bedrywighede
Gaboen se natuurlike hulpbronne sluit in petroleum, natuurlike gas, diamante, niobium en mangaan. 1 Dit is een van die wêreld se grootste produseerders van mangaan. 7
Sowat 19% van Gaboen se grondgebied word vir landbou aangewend, waarvan die groot meerderheid vir weiding gebruik word. 1 Omtrent ’n derde van die werksmag is hierby betrokke. 7 Die belangrikste gewasse wat in Gaboen verbou word, is meelpiesangs (in Engels: plantains), kassawe, suikerriet, jamswortels en taro’s. 1
Die vernaamste nywerhede is die ontginning en raffinering van petroleum, mangaan en goud, chemikalieë en herstelwerk van skepe. 1
Invoere en uitvoere
Gaboen se vernaamste handelsvennote is China, Frankryk, Suid-Korea, Italië en Indië.
Gaboen se vernaamste uitvoerprodukte is ruolie, mangaanerts, hout en geraffineerde petroleum. Die land se grootste invoere is pluimvee, plastiekprodukte, ysterpype, vis en uitgrawingsmasjinerie. 1
Mense
Gaboen het ’n diverse etniese bevolking maar is andersins ’n redelik homogene land.
Etniese groepe en taal
Daar is meer as 40 etniese groepe, waarvan die Fang-mense, wat in die noordelike deel van Gaboen bly, ’n kwart uitmaak. 1 Ander groepe is die Myene, Ogooué, Sira (Punu), Nzebi en Mbete. Daar is ook ’n paar duisend pigmeë. 7
Gaboen se amptelike taal is Frans. Buiten die pigmeë praat almal Bantoetale soos Fang, Myene en Nzebi. 1
Opvoeding
Om en by 86% van Gaboen se bevolking is geletterd. 1
Skoolopvoeding is verpligtend van ses tot sestien jaar.
Gaboen het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word deur die Omar Bongo-Universiteit en ander verskaf. 7
Demografie en bevolkingsverspreiding
Demografiese gegewens:
- Lewensverwagting: 66,2 jaar.
- Fertiliteitsvlak: 3,4 geboortes per vrou per jaar.
- Mediane ouderdom: 21,7 jaar.
- Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 29,8 per 1 000 geboortes.
- Sterftes onder vyf jaar oud: 40,3 per 1 000 geboortes. 10
Omtrent 85% van die bevolking bly in stedelike gebiede. 10 In die binneland woon mense in klein dorpies wat soms slegs ’n paar families insluit. 7
Gaboen se rykdom trek migrante uit buurlande soos Senegal, Nigerië en Kameroen. Hoë ongelykheid en werkloosheid skep egter krotbuurte vol trekarbeiders. 1
Siektes en ander probleme
Siektes in Gaboen wat probleme veroorsaak, is malaria, slaapsiekte, tuberkulose en MIV/vigs. Gesondheidsdienste is onvoldoende, veral buite stedelike gebiede. 7
Geloof
Meer as 80% van Gaboen se bevolking is Christelik. 1
Kultuur en sport
Gaboen se volksmusiek gebruik instrumente soos tromme en die ngombi, ’n boogharp (kleiner as die driehoekige Europese harp). Gaboenese maskers is internasionaal beroemd en word gebruik in rituele soos geboortes, troues en begrafnisse. 6 Daar is ’n sterk Franse invloed in Gaboenese kultuur, en skrywers verkies om in Frans te skryf. 7
Gaboen se nasionale sport is sokker, wat meestal aan die kus gespeel word. Basketbal, boks en muurbal is ook gewild en daar is baie stappers en fietsryers. 7
Gaboen neem sedert 1972 aan die Olimpiese Spele deel. Gaboen het tot dusver een medalje gewen, toe Anthony Obame ’n silwermedalje in die mans-Taekwondo (Koreaanse gevegskuns) by die 2012 Olimpiese Spele gewen het. 11
Simbole
Gaboen het die volgende nasionale simbole:
- Vlag: Die groen verteenwoordig die land se woude en natuurlike hulpbronne, goud die ewenaar en die son, en blou die see.
- Nasionale dier: Swart luiperd.
- Nasionale kleure: Groen, blou, geel.
- Volkslied: Volkslied: La Concorde (Frans vir: “harmonie”). 1
Woordbank
afmaaiing | In groot getalle laat sterf. |
AU | (Afrika-Unie) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder. |
argeologiese | Wat te doen het met oudheidkunde. |
BBP | (bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word. |
belegging | Dit is enige manier waarop geld gebruik word om rente daarop te verdien of ’n wins te maak. |
biodiversiteit | Dit is die groot verskeidenheid van lewe (diere, plante, ens.) op die aarde en die prosesse wat alles aan die lewe hou. Dit word dus gesien as die diversiteit ten opsigte van lewende organismes en die verskillende ekosisteme waarin hulle voorkom en in interaksie met mekaar verkeer. |
demografiese | Wat verwys na die statistiese studie van bevolkings. |
diverse | Uiteenlopend/veelsydig; verskillend, veelsoortig. |
dolomiet | Harde kalksteen (karbonaat van kalsium en magnesium). |
dwangarbeid | Wanneer iemand gedwing word om werk te doen, gewoonlik word dit gebruik om werk wat in ʼn gevangenis gedoen word, te beskryf. |
eenpartystaat | Land waar ’n enkele politieke party die regering beheer, hetsy deur wet of in die praktyk. Voorbeelde van eenpartystate sluit in Noord-Korea, China, Eritrea en Kuba. |
EGSAS | (Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrikaanse State) Organisasie vir die bevordering van ekonomiese samewerking in die Sentraal-Afrikaanse streek. |
ekostelsel | ’n Stelsel wat uit lewende organismes en hul omgewing bestaan. |
ekspedisie | Lang reis wat deeglik beplan is, veral na ’n onbekende en gevaarlike plek. |
etniese | Wat met die mense van ‘n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou. |
ewenaar | Groot denkbeeldige sirkel wat om die middel van die aardbol gaan en ewe ver van die Suid- en Noordpool is; ekwator. |
fertiliteitsvlak | Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee. |
gediversifiseer | Pogings om die ekonomie meer divers te maak, soos byvoorbeeld om ander ekonomiese sektore op te hef. |
geletterd | Om te kan lees en skryf. |
geskoolde werkers | Iemand wat opgelei is en dus kennis en ervaring het. |
gewasse | Bepaalde soort plante, veral in die landbou, soos mielies en koring. |
groeikoers | Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word. |
grondwet | Reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
homogene | ’n Homogene bevolking het dieselfde oorsprong en gebruike en voorkoms. |
hulpbronne | Enigiets wat tot nut is van die mens. |
infrastruktuur | Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens. |
ingesweer | Iemand ʼn belofte laat aflê om sy/haar werk goed te doen. |
inheemse | Wat oorspronklik in ʼn gebied voorkom. |
ivoor | Die tande van olifante en soortgelyke diere; dit is ook die materiaal waarvan die note van klaviere vroeër gemaak is, juweliersware word ook daarvan gemaak. |
jamswortels | Soort aartappel wat in tropiese gebiede groei. |
kabinet | Al die ministers wat saam die regering van die land vorm. |
kalksteengrotte | Grotte gemaak uit die klip waaruit kalk gebrand word. |
kassawe | Plant met wortels wat eetbaar is; ook bekend as maniok. |
koloniseer | Die praktyk waar een land ’n ander se grondgebied oorneem en dan die inwoners en hulpbronne van daardie land gebruik. |
konsessies | Vergunning deur ʼn owerheid om te myn of ʼn gebied te ondersoek of verken vir mynboudoeleindes. |
korrupsie | Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan. |
krotbuurte | Baie arm buurte waar mense onder baie haglike omstandighede in krotte woon. |
mangaan | Harde, bros grys metaal. |
mediane ouderdom | Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom. |
meelpiesangs | ’n Soort groen piesang wat gekook en as ’n groente geëet kan word. Dis groter as piesangs, het ’n dikker skil en ’n hoër styselinhoud. |
migrante | Trekkers, swerwers. |
militêre junta | ’n Groep wat die regering van ’n staat met geweld oorneem. |
MIV/vigs | MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) is ’n virus wat die liggaam se immuunstelsel aanval. As MIV nie behandel word nie, kan dit tot vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) lei. Vigs is ʼn baie ernstige siekte, deur bloed en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra, wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer weerstand teen infeksies kan bied nie. Met behoorlike mediese sorg kan MIV beheer word en MIV-lyers wat effektiewe MIV-behandeling kry, kan ’n lang, gesonde lewe lei. |
monopolieë | Dis die reg of beheer wat ʼn maatskappye het om alleen met ʼn sekere produk of in ʼn sekere gebied handel te dryf. |
niobium | Silwergrys metaal. |
onafhanklikheid | Die reg om jouself te regeer. |
ongerepte | Ongeskonde; onaangetas. |
onreëlmatighede | Wanneer daar nie volgens die reëls opgetree word nie. |
ontbind | Ophou om te bestaan. |
ontgin | Delf, myn. |
opgeskort | Om iets tydelik te beëindig. |
outonome | Selfbestuur, selfregering, selfstandig. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak. |
per capita | Per persoon. |
pigmee | ’n Klein ras wat in die woude van Sentraal-Afrika woon. |
plato’s | Plat, hoogliggende streke, hooglande, tafelland. |
raffinering | Suiwering. |
reënwoude | Woude in ’n streek naby die ewenaar. Tropiese reënwoude is die tuiste van 80% van die wêreld se biodiversiteit, alles saamgepers in ‘n smal strook ekwatoriale land. Hierdie woude, wat al duisende jare deel is van die bos-ekosisteem, huisves ook miljoene mense. |
republiek | ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers. |
rituele | Seremonies; die manier waarop kerklike bedrywighede gebeur, maar ook by gebruike wat nie met die kerk verband hou nie. |
ruolie | Olie soos dit in die natuur voorkom. |
savanne | Grasvlakte, ook bontveld genoem. |
slaapsiekte | Siekte wat deur parasiet veroorsaak word. Simptome sluit pyn, slaperigheid, koma en moontlike dood in. |
soewereiniteit | Opperste en onbeperkte mag/heerskappy van ’n staat. |
staatsgreep | ’n Aanval op ’n land se regering waar die beheer oor die staat met geweld oorgeneem word; gewoonlik deur die land se weermag of ander militêre magte uitgevoer. |
stropery | Wild jag vir hul tande, horings, vel, ens. sonder verlof van die eienaar of regering. |
taro’s | Styselagtige wortelgroente. |
termyn | Vasgestelde beperkte periode, tydsduur; ampstyd, sitting. |
tersiêre opvoeding | Opvoeding ná skool by akademiese instelling soos ’n universiteit. |
trekarbeiders | Persoon wat nie naby sy/haar werksplek woon nie en net tydelik op ʼn plek naby sy/haar werk woon. |
tuberkulose | Besmetlike, bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van knoppies in verskillende weefsels, veral die longe, wat vermoeidheid/ nagsweet/ koors/ anemie (bloedarmoede) veroorsaak. |
unitêre | In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het. |
veldtogte | ʼn Georganiseerde optrede teen iets. |
beleggings | Dit is enige manier waarop geld gebruik word om rente daarop te verdien of ’n wins te maak. |
moderniseer |
Modern maak deur aan te pas tot die jongste of nuutste smaak of styl. |
beëdig | Verklaring wat onder eed afgelê word |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Gaboen
- Gaboen se regeringswebtuiste (onthou om op “English” te klik)
- Die hoofstad van Gaboen is Libreville
- Wie is die pigmeë?
- Hoekom is pigmeë so kort?
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Gaboen
Tien interessante feite oor Libreville
Gaboen se geskiedenis, geografie en kultuur
Hoe lyk die Loango-Lopé Nasionale Park?
Hoe tel mens van 1-10 in Frans?