Vinnige feite
- Eswatini is een van die min lande wat diplomatieke betrekkinge met Taiwan eerder as die Volksrepubliek van China handhaaf. 1
- Eswatini is een van die laaste absolute monargieë in die wêreld. 17
- Die oudste myn in die wêreld, die Ngwenya-ystermyn, word in Eswatini gevind. 17
Die Koninkryk van Eswatini, vandag bekend as Eswatini, maar tot in 2018 bekend as Swaziland, is ’n land in Suider-Afrika. Dit grens aan Suid-Afrika in die noorde, suide en weste en Mosambiek in die ooste.
Die land is vernoem na Mswati II, ’n 19de eeuse koning wie se naam deur beide die land en die oorheersende etniese groep aangeneem is. 1
Oorsig
Amptelike naam | Koninkryk van Eswatini. Plaaslik: Umbuso weSwatini (Swati); Kingdom of Eswatini (Engels). |
Engelse naam | Eswatini/Kingdom of Eswatini. |
Ook/voorheen bekend as | Eswatini; Swaziland; Kingdom of Swaziland. |
Leiers | Sy majesteit koning Mswati III (sedert 25 April 1986). Hy word bygestaan deur Russell Dlamini, die eerste minister. 1 |
Hoofstad | Mbabane (administratief en regsprekend). Lobamba (uitvoerend en wetgewend). |
Grootste stad | Mbabane (bevolking 110 537). 2 |
BBP (bruto binnelandse produk) | $4 854 167 638 (2022), groeikoers 3,91%. 3 |
BBP per capita | $4 045 (2022). 3 |
Bevolking (wêreldrang) | 2024: 1 219 876 (159ste). 2 |
Bevolkingsdigtheid | 70 mense per km². 2 |
Regeringsvorm | Monargie met tweekamerstelsel. 4 |
Amptelike tale | SiSwati en Engels. 4 |
Totale oppervlak (wêreldrang) | 17 364km2 (158ste). 5 |
Geldeenheid | Lilangeni (meervoud Emalangeni) (E) of (SZL), opgedeel in 100 sent. Die Suid-Afrikaanse Rand (R) word ook aanvaar. 6 |
Internet kode | .sz |
Skakelkode | +268 |
Tydsone | GMT +2 |
Byvoeglike naamwoord | Swazilandse (Plaaslik: Swati). |
Inwoner | Swazilander (Plaaslik: Swati). |
Geskiedenis
Die eerste duidelik bewyse van menslike inwoning in Eswatini is so om en by 20 000 jaar oud. 7
Eerste inwoners en Bantoesprekende groepe
Die eerste inwoners was Khoisan jagter-versamelaars. 8 Ongeveer 2 000 jaar terug het Bantoesprekende boere, insluitende Nguni, Sotho en Tswana-groepe, die gebied betree en die Khoisan verdryf. 7
Die opkoms van die Swazi
Die voorsate van die Swazi’s (of Swati’s) van vandag het in die 15de eeu die gebied binnegetrek. 8 Om en by 1770 het die voorvaders van die Dlamini-stam onder koning Ngwani III die middelpunt van die Swazi-nasie begin vorm. Aanvanklik was hul grootste bedreiging stamme vanuit die suide (wat uiteindelik die Zoeloe-ryk gevorm het). Die Swazi’s het dit egter suksesvol weerstaan. Teen 1860 het die Swazi’s onder koning Sobhuza I en sy seun, Mswati II, hul heerskappy oor die sentrale dele van Swaziland gevestig.
In die volgende paar dekades is die heerskappy deur drie faktore bedreig: die ontdekking van diamante en goud in Suid-Afrika, konflik met wit setlaars vanuit die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en groeiende Britse teenwoordigheid. Daar het onder andere prospekteerders die gebied binnegestroom. Die Swazi-heersers het aan hulle konsessies toegestaan, maar in die proses hul eie mag ondermyn. 7
Europese indringing
’n Grens tussen die ZAR en die Swazi is in 1880 vasgestel. 9 Spanning het egter voortgeduur. In die vroeë 1890’s is konvensies tussen ZAR en Britse leiers gesluit om oor die toekoms van Swaziland te besluit. In 1895 is besluit om Swaziland ’n protektoraat van die ZAR te maak. Die Swazi’s was ontevrede, maar die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het dié beheer kortgeknip. 10
Beheer oor die gebied is in 1906 amptelik aan Brittanje oorhandig. 7
Eswatini kry onafhanklikheid
In die 1960’s het Swaziland onafhanklikheid verkry: eers selfregering in 1963, toe is die koningskap herstel, en toe volle onafhanklikheid op 6 September 1968.
Vyf jaar ná onafhanklikheid het koning Sobhuza II die grondwet herroep en ou tradisionele regeringstrukture teruggebring. Dit het mag in die hande van die koning geplaas. 7 Hierna het ’n stabiele tydperk gevolg.
Ná Sobhuza II se dood in 1982 was daar ’n magstryd, wat deur koning Mswati III gewen is. Sý bewind is deur outokrasie en korrupsie gekenmerk. Daar was weerstand hierteen en eise vir demokratiese hervormings. 7
Die situasie vandag
’n Nuwe grondwet is in 2006 aanvaar wat ’n klein mate van demokrasie toelaat. Politieke partye word byvoorbeeld nie meer verban nie, maar word ook nie amptelik toegelaat nie. Die koning is steeds ’n alleenheerser.
In 2018 het die koning die land se naam amptelik na die Koninkryk van Eswatini verander. 7 Daar was twee redes hiervoor: om die naam wat die meeste plaaslike mense gebruik, te weerspieël, 1 en ook om verwarring met Switserland uit te skakel. 11
In 2021 is proteste wat op demokrasie aangedring het, met geweld onderdruk. Die koning het belowe dat daar verandering sou kom, maar dit het nie gebeur nie. Die verkiesing in 2021 was egter vreedsaam. 1
Geografie
Eswatini word heeltemal deur ander lande ingesluit. 8
Eswatini is die 49ste grootste land in Afrika. Dit is omtrent 175 km van noord na suid, en 130 km van oos na wes. 7 Oppervlaksgewys is Eswatini om en by so groot soos Gauteng. 12
Landskap
Eswatini word in vier geografiese gebiede verdeel. Van oos na wes is daar Hoëveld, Middelveld, Laeveld en die Lubombo- (of Lebombo) platorand. Eswatini is bergagtig in die weste en daal na die Laeveld in die ooste. Die platorand van die Lebomboberge is op die oostelike grens met Mosambiek en Suid-Afrika. 8
Die hoogste punt in Eswatini is die Emlembeberg in die noordooste, wat 1 862 m bo seevlak uitstyg. 7
Eswatini is een van die bes-gewaterde lande in Suidelike Afrika. Daar is vier groot meerjarige riviere: Lomati, Komati, Umbuluzi (Mbuluzi) en die Groot Usutu. 7
Klimaat
Eswatini is in die Suidelike Halfrond geleë.
Die grootste deel van Eswatini lê in die subtropiese streek. Dis ’n somerreënvalstreek, en 80% van alle reën val tussen Oktober en Maart. 6 Jaarlikse reënval in die Hoëveld is gemiddeld 1 400 mm, teenoor 560 mm in die Laeveld. Dit wissel egter van gebied tot gebied en plek-plek reën dit baie min.
Die gemiddelde minimum en maksimumtemperature is 11 °C/22 °C in die Hoëveld en 15 °C/29 °C in die Laeveld. Die Middelveld val tussenin. 7 Temperature so hoog soos 42 °C is al gemeet. 6
Omgewingsprobleme en gevare
Alhoewel Swaziland baie water het, is net ’n beperkte hoeveelheid daarvan drinkbaar. Wilde dieretroppe word uitgedun omdat daar te veel gejag word. Verder lei bevolkingsgroei, ontbossing en oorbeweiding tot gronderosie en swakker landbougrond. Die land word af en toe deur droogtes geteister. 1
Landmerke
Eswatini se bekende landmerke sluit die volgende Wêrelderfenisterreine in:
- Lobamba, die koninklike hoofstad.
- Hlane Nasionale Koninklike Park.
- Die Swazi-mark in Mbabane. 13
Regering
Eswatini is ’n absolute monargie, en uitvoerende mag berus by die koning. 7
Regeringstrukture
Eswatini se huidige grondwet is in 2005 aanvaar. 14 Eswatini is nie ’n demokrasie nie. Die koning is die hoof van die staat. 8
Die huidige koning, Mswati III, het sy pa, Sobhuza II, ná ’n tydperk van regentskap opgevolg. Die koning regeer saam met sy ma, die koninginmoeder.
As dit kom by die parlement, het Eswatini ’n tweekamerstelsel:
- Eswatini se 55 kiesafdelings of tinkhundla hou elke vyf jaar verkiesings om een lid vir die Laerhuis te kies. Die ander tien lede word deur die koning aangewys. 8
- Die Senaat of Hoërhuis het dertig lede, waarvan tien verkies en twintig deur die koning aanwys word. 7
Administratief word Eswatini in 4 afdelings verdeel, wat op hul beurt weer in 55 tinkhundla verdeel word. 8
Politieke partye
Politieke partye word nie verbied nie, maar ook nie erken nie. 7 Daar is wel politieke partye in Eswatini werksaam. 1
Buitelandse verdrae
Eswatini is lid van die Verenigde Nasies (VN), Afrika-Unie (AU), Statebond, Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika (Comesa). 8
Ekonomie
Eswatini is ’n laer tot middelinkomste-land en tel dus nie onder die armste lande in die wêreld nie. Die land staan egter voor ’n paar groot uitdagings.
Ongelykheid is ’n probleem: om en by 20% van die bevolking beheer 80% van die rykdom. 8 Ekonomiese groei word deur inflasie, armoede, korrupsie, vinnige bevolkingsgroei en werkloosheid belemmer. Amper 60% van mense leef in armoede. Die werkloosheidsyfer is 23%, maar dit styg tot amper 60% vir die jeug (mense tussen 15 en 24 jaar). Wisselvallige weer en oorbewerking van landbougrond plaas bestaansboere onder druk en lei tot voedseltekorte. 1
Ekonomiese bedrywighede
Die landbou is ’n mengsel van bestaans- en kommersiële landboubedrywighede. 7 Dit is die grootste werksverskaffer in Eswatini. 8 Dit neem amper 70% van Eswatini se oppervlak op en 58% van landbougrond word vir weiding gebruik. 1 Die belangrikste gewasse wat in Eswatini verbou word, is mielies, sorghum, groente, suikerriet en vrugte. 7 Veeteelt word kommersieel bedryf en verskaf vleis en melk. 1 Beeste word gesien as ’n teken van rykdom en status. Daarom is daar te veel beeste vir die land se dravermoë. Dit is een van die hoofoorsake van uitwissing van plantegroei. 7
Eswatini het natuurlike hulpbronne soos asbes, steenkool, klei en minerale. 1 Daar is egter min mynbou. 8
Die nywerheidsektor fokus op die verwerking van landbouprodukte en natuurlike hulpbronne en die vervaardiging van tekstiele en klere. 7
Swaziland het ’n groeiende toeristebedryf, veral besoekers vanuit Suid-Afrika. 7
Invoere en uitvoere
Suid-Afrika is Eswatini se grootse handelsvennoot, 8 en meer as 80% van hul handel is met Suid-Afrika. 1
Eswatini is saam met Suid-Afrika, Botswana, Lesotho en Namibië deel van Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU), wat verseker dat goedere maklik en goedkoop tussen die lande vervoer kan word. 7
Eswatini se vernaamste uitvoerprodukte is asbes, diamante, suiker, houtpap 7 en gaskoeldrank. 1 Die land se grootste invoere is motorvoertuie, masjinerie, toerusting, voedsel en petroleumprodukte. 1
Mense
Eswatini is ’n homogene land en meeste inwoners deel dieselfde etnisiteit, taal en geloof.
Etniese groepe en taal
Die meeste inwoners is etniese Swazi’s wat siSwati praat. 8 Die Swazis is ’n versameling van omtrent 70 stamme. Die tweede grootste etniese groep is die Zoeloes, wat om en by 10% van die bevolking uitmaak. 7
Eswatini se amptelike tale is siSwati en Engels, maar hier en daar word isiZulu en Tsonga gepraat. 8 Engels word vir regeringsbesigheid gebruik 1 en is die omgangstaal. 8
Opvoeding
Om en by 88% van Eswatini se bevolking is geletterd.
Skoolopvoeding is nie verpligtend of gratis nie. Baie kinders woon nie skool by nie, want hulle kan dit nie bekostig nie.
Eswatini se grootste tersiêre instituut is die Universiteit van Swaziland, wat in Manzini geleë is. 8
Demografie en bevolkingsverspreiding
Demografiese gegewens:
- Lewensverwagting: 57,7 jaar.
- Fertiliteitsvlak: 2,8 geboortes per vrou per jaar.
- Mediane ouderdom: 21,7 jaar.
- Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 38,6 per 1 000 geboortes.
- Sterftes onder vyf jaar oud: 51,8 per 1 000 geboortes. 15
Omtrent 70% van die bevolking bly op die platteland, en 30% in stedelike gebiede. 2 As gevolg van die berge woon mense oneweredig deur die land verspreid, meestal in valleie en op die vlaktes. 1 As gevolg van die gebrek aan ekonomiese geleenthede is daar baie mans wat in Suid-Afrika as trekarbeiders werk. 7
Siektes en ander probleme
Eswatini het die hoogste MIV/vigs-syfers in die wêreld, 8 en amper 28% van die inwoners ly aan hierdie siekte. 1 Toe die epidemie sy kruin bereik het, het dit die ekonomie platgeslaan. 8 Die land se lae lewensverwagting is hieraan te danke. 2
Geloof
Meer as 80% van die bevolking is Christene en omtrent 10% Moslems. 8 Ongeveer 40% van die bevolking beoefen saam met hul geloof ook hul tradisionele gelowe, en sommige Christene se geloof is ’n samesmelting van Christenskap en hul tradisionele geloof. 7
Kultuur en sport
In tradisionele Swazi-kultuur is die opstal die belangrikste sosiale eenheid. Baie huwelike is poligaam, in welke geval elke vrou haar eie opstal het. Die beeskraal is die middelpunt van die opstal, want dis die teken van rykdom en prestige.
Daar is twee belangrike jaarlikse seremonies. Die belangrikste is die Incwala-seremonie, wat die oes aan die koning opdra. Deelname hieraan is verpligtend. Die ander seremonie is die Rietdans, waar ongetroude, kinderlose meisies vir die koninginmoeder riete gee. 8
Eswatini se nasionale sport is sokker. Krieket, rugby, basketbal, atletiek en swem is ook gewild. 7
Eswatini neem sedert 1972 aan die Olimpiese Spele deel, aanvanklik as Swaziland, maar sedert 2018 as Eswatini. 16
Simbole
Eswatini het die volgende nasionale simbole:
- Vlag: Die blou op die vlag simboliseer vrede en stabiliteit, die rooi die stryd in die verlede en geel die land se minerale rykdom. Die skild, spiese en staf simboliseer beskerming teen die land se vyande, terwyl die swart en wit die vreedsame saamwoon van wit en swart mense uitbeeld. 1
- Nasionale dier: Leeu, olifant.
- Nasionale kleure: Blou, geel, rooi.
- Volkslied: “Nkulunkulu Mnikati wetibusiso temaSwati” (O God, Gewer van seëninge aan die Swazi). 1
Woordbank
absolute monargie | Wanneer die monargie (koningshuis) al die politieke mag het. |
AU | (Afrika-unie) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder. |
asbes | Stof wat nie brand nie. |
BBP | (bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word. |
belemmer | Verhinder of dwarsboom. |
bestaansboere | Boere wat op hul plase slegs kos vir hul eie gebruik produseer, en nie om te verkoop nie. |
demokrasie | ’n Regering wat verkies word deur verteenwoordigers van al die inwoners van ’n land. |
diplomatieke betrekkinge | Internasionale betrekkinge, onderhandelings met ander state. |
dravermoë | Die maksimum wat iets kan lewer. |
epidemie | Besmetlike siekte wat vinnig oor ’n groot gebied uitbrei en ná ’n tyd weer verdwyn. |
etniese | Wat met die mense van ’n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou. |
fertiliteitsvlak | Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee. |
geletterd | Om te kan lees en skryf. |
Comesa | (Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika) Ekonomiese gemeenskap van 21 state wat saamwerk vir ekonomiese ontwikkeling en die bevordering van vrede en sekuriteit. |
geteister | Gepla, getreiter, bedreig; verniel, beskadig. |
groeikoers | Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word. |
gronderosie | Wegvreet/wegkalwe/verweer van grond deur byvoorbeeld wind en water. |
grondwet | Reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
herroep | Terugtrek. |
homogene | ’n Homogene bevolking het dieselfde oorsprong en gebruike en voorkoms. |
houtpap | Ook bekend as houtpulp. Fyngemaakte hout wat in ’n nat vorm is en vir die maak van papier gebruik word. |
hulpbronne | Enigiets wat van hulp vir die mens is. |
inflasie | Die styging van lewenskoste en pryse as gevolg daarvan dat geld se waarde verminder. |
kiesafdelings | Gebied in ’n land wat lede vir die regering verkies. |
kommersiële | Wat betref die koop/verkoop van goedere en dienste; wat handeldryf betref. |
konsessies | Vergunning deur ʼn owerheid om te myn of ʼn gebied te ondersoek of verken vir mynboudoeleindes. |
konvensies | Formele ooreenkomste, veral tussen verskillende lande. |
korrupsie | Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan. |
kortgeknip | Gestop, beëindig. |
mediane ouderdom | Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom. |
meerjarige | Riviere wat dwarsdeur die jaar loop. |
MIV/vigs | MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) is ’n virus wat die liggaam se immuunstelsel aanval. As MIV nie behandel word nie, kan dit tot vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) lei. Vigs is ʼn baie ernstige siekte (deur bloed en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra) wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer teen infeksies kan weerstand bied nie (uit die afkorting van “verworwe immuniteitsgebreksindroom”). |
monargie | Staat of regeringsvorm met ’n monarg (soos ’n koning of keiser) aan die hoof. |
omgangstaal | Taal wat deur mense wat verskillende moedertale het, gepraat word. |
onafhanklikheid | Die reg om jouself te regeer. |
ondermyn | Heimlik iemand of iets se posisie verswak. |
oorbewerking | Om grond in ’n buitensporige mate te bewerk in die verbouing van gewasse sodat grondkwaliteit verswak en produktiwiteit verminder word. |
opstal | Huis op ’n plaas. |
outokrasie | Om alleen met onbeperkte mag te regeer. |
per capita | Per persoon. |
platorand | Afgaande, kransagtige rand van ’n plato. |
poligaam | Om gelyktydig met meer as een vrou getroud te wees. |
prestige | Status en invloed. |
prospekteerders | Iemand wat (as beroep) oral op plekke en in die aardlae rondsoek na ertse, minerale of edelgesteentes. |
protektoraat | Gebied wat ʼn sterk staat onder sy beskerming plaas sonder om dit te annekseer, maar waaroor die beskermheer tog alle soewereine staatsmagte uitoefen. |
regentskap | Iemand wat optree as plaasvervanger vir ’n koning as dié byvoorbeeld minderjarig is. |
regsprekend | Daardie tak van die regering wat met die howe te doen het. |
setlaars | Iemand wat van ’n ander gebied af kom om in ’n bepaalde gebied te kom woon. |
simboliseer | ’n Voorwerp of teken wat iets voorstel of iets beteken. |
sorghum | Graansoort met ’n ronde, meestal rooierige korrel. |
Statebond | Vereniging van state tot ʼn bond van so ʼn aard dat elke staat grotendeels selfstandig bly; federasie; gemenebes. |
status | Iemand se posisie tussen ’n groep mense – as iemand status het, is daardie persoon om verskillende redes (rykdom, geleerdheid, ens.) iemand wat bewonder word. |
subtropiese | Die klimaat is tussen tropies (warm) en gematig. |
SAOG | (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) Organisasie van 16 lande in Suider-Afrika wat groei en ontwikkeling bevorder deur samewerking tussen lidlande aan te moedig. |
tekstiele | Materiaal wat gespin en geweef is. |
tersiêre | Opvoeding ná skool by akademiese instelling soos ’n universiteit. |
tradisionele | Betreffende tradisies wat van geslag tot geslag oorgelewer word. |
trekarbeiders | Persone wat nie naby hul werksplek woon nie en net tydelik op ʼn plek naby hul werk woon. |
tweekamerstelsel | Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit twee huise bestaan, gewoonlik ’n Hoër- en ’n Laerhuis. |
uitvoerend | Die tak van die regering wat gewoonlik die president en ministers insluit, wat take moet uitvoer wat met die bestuur van die land te doen het. |
verban | Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ʼn land uitstuur; uitstoot; verdryf. |
weerspieël | Weergee; reflekteer, terugkaats. |
wetgewend | Die tak van die regering wat wette maak. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Eswatini
- Leer oor Eswatini
- Interessante feite oor Eswatini
- Lees oor Mbabane, die hoofstad van Eswatini
- Wat is ’n monargie?
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Eswatini
Hoe lyk Swaziland?
Wat maak Swaziland uniek?
Wat is ’n absolute monargie?
Sing en tel in isiZulu
Só klink die volkslied van Eswatini