Vinnige feite
- Egipte het die Olimpiese Spele in 1956, 1976 en 1980 geboikot. Dit is een van drie lande (saam met Ethiopië en die Demokratiese Volksrepubliek Korea) wat die Olimpiese Spele al drie keer geboikot het. 13
- Die piramide van Giza is die enigste van die wonders van die antieke wêreld wat vandag nog staan. 10
- Die Egiptiese farao Pepi II Neferkare het die troon bestyg toe hy ses jaar oud was en vir 94 jaar regeer! Hy is die langsregerende heerser in aangetekende geskiedenis. 10
- Egipte is besig om die hoofstad weg van Kaïro te skuif, in ’n poging om opeenhoping in Kaïro te verminder. Die nuwe hoofstad staan tot dusver as die New Administrative Capital bekend. 10
- Kaïro se naam kom van die Arabiese al-Qahira wat “die oorwinnaar” beteken. 10
Die Arabiese Republiek Egipte, meestal bekend as slegs Egipte, is ’n land in Noord-Afrika. Dit grens aan die Middellandse See in die noorde, Israel in die noordooste, die Rooi See in die ooste, Soedan in die suide en Libië in die weste.
Die naam Egipte kom van die antieke Griekse naam “Aigyptos”. Egipte se Arabiese naam, Misr, kom van ’n antieke Akkadiese woord “misru” wat grens beteken. 1
Oorsig
Amptelike naam | Arabiese Republiek Egipte.
Plaaslik: Jumhuriyat Misr al-Arabiyah/Misr. |
Engelse naam | Egypt/Arab Republic of Egypt. |
Ook/voorheen bekend as | Arab Republic of Egypt; Arab Socialist Republic; United Arab Republic/Verenigde Arabiese Republiek (saam met Sirië). |
Leier | President Abdel Fattah El-Sisi (sedert 8 Junie 2014). 1 |
Hoofstad | Kaïro. |
Grootste stad | Kaïro. 2 |
BBP (bruto binnelandse produk) | $476 748 000 000 (2022), groeikoers 6,59%. 3 |
BBP per capita | $4 089 (2022). 3 |
Bevolking (wêreldrang) | 2024: 114 509 842 (14de). 2 |
Bevolkingsdigtheid | 113 mense per km². 2 |
Regeringsvorm | Republiek met tweekamerstelsel. 4 |
Amptelike taal | Arabies. 4 |
Amptelike geloof | Islam. 4 |
Totale oppervlak (wêreldrang) | 1 002 450km2 (30ste). 5 |
Geldeenheid | Egiptiese pond (EGP), opgedeel in 100 piaster. |
Internet kode | .eg |
Skakelkode | +20 |
Tydsone | GT +2 |
Byvoeglike naamwoord | Egiptiese. |
Inwoner | Egiptenaar. |
Geskiedenis
Die Nylriviervallei is een van die gebiede op aarde waar landbou onstaan het.
Egiptiese Ryk
Die Nylrivier se gereelde en ryk oorstromings en beskermde ligging (woestyne aan weerskante) het die ontwikkeling van een van die wêreld se mees langdurige beskawings ooit toegelaat. 1 Egipte was een van die eerste stedelike, geletterde gemeenskappe. 6 Die hele gebied is teen om en by die jaar 3200 v.C. deur een koninkryk verenig. Vir die volgende drie millenniums het ’n reeks dinastieë (met hier en daar ’n paar jaar van buitelandse beheer 6) regeer. 1
Buitelandse beheer
Die laaste Egiptiese dinastie het hom in 341 v.C. aan die Persiërs oorgegee. 1 Ná Alexander die Grote in 323 v.C. die gebied beset het, het Egipte ’n deel van die Hellenistiese wêreld geword. Daarna het die Romeine oorgeneem. Die Romeinse Ryk, en toe hul opvolgstaat, die Bisantynse Ryk, het tot in die 7de eeu oor Egipte regeer.
Egiptiese beskawing, taal en kultuur het deur al hierdie eeue onveranderd gebly. 6
Arabiese invloed
Met die aankoms van die Moslems in die 7de eeu het Egipte ’n gedaanteverwisseling ondergaan. 1 Egiptenare het gou Islam en die Arabiese kultuur aangeneem en dit tot vandag gehou. Arabies sou op die lang duur die Egiptiese taal vervang. Sedertdien is Egipte deel van die breër Arabiese wêreld. 6
Arabiese dinastieë het vir ses eeue regeer. 1 Die Mammelukke van Egipte het daarna vir ’n paar eeue regeer en ’n kalifaat gestig. In 1517 het die Ottomaanse Ryk die Mammelukke oorwin en beheer oor Egipte geneem. 6
Europese belangstelling
Napoleon Bonaparte het in 1789 Franse magte na Egipte gelei en die land beset. Die besetting het in 1801 geëindig, maar Europese belangstelling in Egipte is geprikkel. Egipte se ligging, by die kruispad van handel tussen Afrika, Europa en Asië, was ook vir die Europeërs belangrik.
Die belangrike ligging is deur die voltooiing van die Suez-kanaal in 1869, wat die Rooi See en die Middellandse See aan mekaar verbind, versterk. Frankryk en Brittanje, die vernaamste aandeelhouers van die Suez-kanaal, het meer direk in die gebied betrokke geraak. 6 In 1882 het Brittanje die Egiptiese regering oorgeneem, oënskynlik om hul belegging in die Suez-kanaal te beskerm. 1
Onafhanklikheid
Egipte het in 1922 gedeeltelike outonomie gekry. 1 In 1952 het Gamal Abdel Nasser ’n revolusie gelei en ’n nuwe regering geskep wat op sosialisme en Arabiese nasionalisme gebaseer was. 6
Nasser en die groei van Arabiese nasionalisme
Ná die 1956 Suez-krisis het Brittanje hul troepe uit die Suez-kanaal onttrek.
Intussen het Egipte die leidende Arabiese nasie geword. Hulle het byvoorbeeld die Arabiese state se aanvalle teen Israel gelei in 1967 en 1973, maar ook eerste met Israel vrede gesluit in 1979. 6
Die Aswandam is in 1971 voltooi. Dit het boerdery versterk. Ten spyte hiervan het Egiptiese regerings onder probleme soos ’n groeiende bevolking en gebrek aan grond, gebuk gegaan. 1
Politieke situasie sedert 2010
Egipte se outoritêre politieke stelsel is sedert die 1950’s deur die president, die party in beheer en militêre veiligheidsdienste beheer. Teenstand is met geweld onderdruk. 6 In 2011, aangespoor deur opstande in Tunisië, het die Egiptenaars gerebelleer. Die regering van president Hosni Mubarak is omvergewerp, 1 en ’n raad van militêre offisiere het oorgeneem. Mag is in 2012 aan ’n verkose regering oorgedra en ’n nuwe grondwet is aangeneem. Die nuwe leier was Mohamed Morsi van die Islamitiese Moslem Broederbond. 6
Daar was egter wydverspreide opstande teen hom. Hy is ’n jaar later deur ’n staatsgreep omvergewerp en vervang met Adly Mansour, ’n tussentydse president.
In 2014 is ’n nuwe grondwet per referendum aanvaar. Abdel Fattah El-Sisi is tot president verkies, en het ook die herverkiesing in 2023 gewen. 1
Geografie
Egipte is ’n ingeslote land (in Engels: landlocked). Met ander woorde, ’n land sonder seehawe en wat deur ander lande omring word.
Egipte is die 13de grootste land in Afrika. 7 Oppervlaksgewys is dit omtrent so groot soos Suid-Afrika sonder Gauteng. 8
Landskap
Egipte se topografie word deur die Nylrivier oorheers. Die rivier sny deur die woestyn en skep ’n dun groen vallei binne die verlatenheid daar rondom. Die vallei se grense is meestal skerp kranse, maar by Kaïro in die noorde vorm dit ’n delta. Daar is vier streke:
- Westelike woestyn, waar daar geen seisoenale riviere is nie.
- Oostelike woestyn, ’n gebied met baie wadi’s en berge in die ooste.
- Die Sinai-skiereiland, ’n woestyn met alleenstaande heuwels en wadi’s. 6 Catherineberg, die hoogste berg in Egipte wat 2 626 m bo seevlak uitstyg, word hier gevind. 1
- Die Nyl en Nyldelta. Die delta is plat met baie kanale en mere. Daar vind heelwat landbou plaas. Die Nylvallei is nooit meer as 20 km breed nie.
Nadat die Aswandam in 1971 voltooi is, kon die rivier se vloed beter beheer word. Duisende hektaar se ekstra grond kon nou vir landbou gebruik word. Om en by dieselfde hoeveelheid landbougrond is egter deur stede opgeneem. 6
Klimaat
Egipte is in die Noordelike Halfrond geleë.
Ongeveer 96% van Egipte lê in die woestyn, met min reënval en groot temperatuurverskille. Daar is sonskyn dwarsdeur die jaar. Tussen Maart en Junie waai die kamsins (versengende woestynwinde wat sandstorms veroorsaak) wat die temperature opstoot en humiditeit verminder.
Daar is basies twee seisoene: winter van November tot Maart en somer van Mei tot September. Winters is koel en matig tot koud. In Januarie is die gemiddelde temperature in Alexandrië 9 °C/18 °C en Aswan 9°C /23°C. In die somer is die maksimum temperature tot 33 °C in Kaïro en 41 °C by Aswan.
Dit is meer bedompig in die noorde by die Middellandse See. Dit reën in die winter, maar dis min en wisselvallig. Alexandrië kry gemiddeld 175 mm reën per jaar, Kaïro 25 mm en Aswan basies niks. 6
Omgewingsprobleme en gevare
Egipte se natuurlike bedreigings sluit gereelde droogtes, aardbewings, oorstromings, grondverskuiwings, kamsins, sandstorms en stofstorms in. 1 Baie landbougrond word aan verstedeliking en sand afgestaan. Daar is ook verwoestyning, waterbesoedeling en gebrek aan waterbronne weg van die Nyl af. 1
Landmerke
Egipte se bekende landmerke sluit die volgende Wêrelderfenisterreine in:
- Abu Mena, argeologiese erfenisterrein van ’n antieke Christelike stad.
- Antieke Thebe en sy nekropolis.
- Historiese Kaïro, die ou deel van die stad.
- Memfis en sy nekropolis, insluitende die piramide van Giza.
- Die tempels en monumente van Abu Simbel.
- Die klooster van Sint Katharina.
- Wadi Al-Hitan (Walvisvallei), ’n gebied met die fossiele van oeroue walvisse. 9
Regering
Egipte is ’n presidensiële grondwetlike republiek.
Regeringstrukture
Egipte se grondwet is in 2014 aanvaar. 1
Die president word direk vir ’n sesjaartermyn verkies, en mag vir drie aaneenlopende termyne verkies word. Die president wys die eerste minister aan en benoem die kabinet. Beide moet deur die Laerhuis goedgekeur word. 1
As dit kom by die parlement het Egipte ’n tweekamerstelsel. Die Hoërhuis bestaan uit 300 setels waarvan 200 verkies en 100 deur die president aangewys word. Die Laerhuis bestaan uit 596 lede. Daar word setels vir vroue, jonger lede, Christene en werkers gereserveer. In beide huise dien die lede vyfjaartermyne. 1
Administratief word Egipte in 27 streke opgedeel. 1
Politieke partye
Die vernaamste politieke partye in Egipte is:
- Republican People’s Party.
- Egyptian Social Democratic Party.
- Nation’s Future Party. 1
Buitelandse verdrae
Egipte is lid van die Verenigde Nasies (VN), Afrika-unie (AU), Gemeenskap van Sahel-Sahara State (GSSS) en die Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika (Comesa). 1
Ekonomie
Egipte het Afrika se tweede grootste ekonomie (ná Suid-Afrika). Landbou het vir eeue die ekonomie oorheers, maar is onlangs deur vervaardiging en handel verbygesteek. Toerisme is ook ’n belangrike sektor, maar word deur politieke onrus verswak.
Die ekonomie is oor die laaste paar jaar deur ontdekking van olie en natuurlike gas, hulp van Westerse lande, meer plaaslike vervaardiging én meer buitelandse handel versterk. Daar is steeds hindernisse: lae lewensstandaarde, beperkte hulpbronne, te min landbougrond, werkloosheid, inflasie en politieke onsekerheid. 6 Die armoedesyfer is so 30%,1 en die werkloosheid onder die jeug (tussen 15 en 24 jaar) is amper 25%. 1
Ekonomiese bedrywighede
Egipte se natuurlike hulpbronne sluit petroleum, natuurlike gas, ystererts, fosfate en mangaan in. 1
Slegs 3,6% van Egipte se grondgebied word vir landbou aangewend, waarvan meeste plase op die Nylrivier se vloedvlaktes is. Die belangrikste landbouprodukte wat in Egipte verbou word, is suikerriet, beet, koring, mielies en tamaties. 1 Landbou dra ’n agtste van bruto binnelandse produk (BBP) by en neem ’n kwart van die inwoners in diens. 6
Die vernaamste nywerhede is tekstiele, kosprosessering, toerisme, chemikalieë en mediese produkte. 1
Egipte ontvang miljoene besoekers elke jaar en toerisme en die dienssektor is dus belangrike industrieë. 6
Invoere en uitvoere
Egipte se vernaamste handelsvennote is China, Turkye, die Verenigde State van Amerika (VSA) en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).
Egipte se vernaamste uitvoerprodukte is natuurlike gas, kunsmis, klere, geraffineerde petroleum en ruolie. Die land se grootste invoere is geraffineerde petroleum, koring, ruolie, natuurlike gas en plastiek. 1
Mense
Egipte is ’n homogene land. 10
Etniese groepe en taal
Sowat 99% van Egiptenare is etnies Egipties, 1 ’n groep wat ontstaan het as mengsel tussen inheemse mense en Arabiere. 6 Die amptelike taal is Arabies, maar meeste opgevoede mense kan Engels en/of Frans praat. 1 Die meeste Egiptenare praat ’n Arabiese spreektaal wat baie verskil van Arabiese skryftaal. 6
Opvoeding
Om en by 73% van Egipte se bevolking is geletterd, maar die vlakke vir mans is hoër as vir vroue. Die regering verskaf gratis, verpligte onderwys vir nege jaar. 1
Egipte het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word deur staatsuniversiteite van onder meer Kaïro, Alexandrië, Ain Shams, Asyut en andere opvoedkundige instellings verskaf. 6
Demografie en bevolkingsverspreiding
Demografiese gegewens:
- Lewensverwagting: 70,8 jaar.
- Fertiliteitsvlak: 2,8 geboortes per vrou per jaar.
- Mediane ouderdom: 24,2 jaar.
- Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 16 per 1 000 geboortes.
- Sterftes onder vyf jaar oud: 19,1 per 1 000 geboortes. 11
Ongeveer 95% van Egipte se bevolking woon binne 20 km van die Nylrivier en Nyldelta af. Die res van die land is yl bevolk of leeg. 1 Die bewoonde gebied is van die mees dig bevolkte streke op aarde, en daar woon tot 2 000 mense per km².
In die woestyn woon nomadiese, semi-nomadiese en sedentêre (sittende) groepe, gewoonlik naby oases. 6
Egipte is die mees digbevolkte land in die Arabiese wêreld en derde in Afrika (ná Nigerië en Ethiopië).
Egipte huisves tienduisende vlugtelinge uit die Wesoewer, Gasa-strook, Soedan, Suid-Soedan, Eritrea, Ethiopië, Jemen en Sirië. 1
Siektes en ander probleme
Egipte het redelik goeie gesondheidsdekking. Op plekke is die gehalte van sorg laag en mense gaan eerder na private Islamitiese gesondheidsentrums. Baie aandag word aan die voorkoming van siektes gegee, soos inentings teen pokke en tuberkulose. Skistosomiase is ’n ernstige siekte in plattelandse gebiede. 6
Geloof
Sowat 90% van Egiptenare is Moslems, meestal Soenni-Moslems. Slegs 10% is Christene, 1 waarvan omtrent almal deel is van die Koptiese Ortodokse Kerk. 6
Kultuur en sport
Egipte is só oud dat dit nie slegs deur ander kulture beïnvloed is nie, maar ander kulture beïnvloed het. Kuns en argitektuur is millenniums oud. 12 Tans is die mense kultureel Arabies en Islamities. 6 Egipte het bekende godsdienstige feeste wat deur alle Egiptenare gevier word, of hulle gelowig is of nie. Dit sluit feeste vir heiliges en feeste wat met boerdery of seisoene te doen het, in.
Die vermaaklikheidsbedryf produseer elke jaar honderde flieks en televisiereekse. Egipte staan soms as die Hollywood van die Midde-Ooste bekend. Naguib Mahfouz was die eerste Arabiese skrywer om ’n Nobelprys te wen.
Egipte se nasionale sport is sokker. Die land het al sewe keer die Afrika Nasiesbeker-toernooi gewen, meer as enige ander land. Ander gewilde sportsoorte is tennis, muurbal, handbal, 12 stoei, gewigoptel, boks, swem, basketbal en vlugbal. 6
Daar is onsekerheid oor wanneer Egipte die eerste keer aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, maar dis moontlik in 1912. Egipte het al 36 medaljes gewen, waarvan agt goud was. Vyf Olimpiese atlete het al twee medaljes gewen: Farid Simaika (duik [mans]: silwer en brons in 1928); Ibrahim Shams (gewigtoptel [mans]: goud in 1948, brons in 1936); Karam Gaber (stoei [mans]: goud in 2004, silwer in 2012); Abir Abdulrahman (gewigoptel [vroue]:, silwer in 2012, brons in 2008); en Hedaya Malak (taekwondo [vroue]: twee brons in 2016 en 2020). 13
Simbole
Egipte het die volgende nasionale simbole:
- Vlag: Die swart simboliseer onderdrukking, wat oorkom word deur die rooi, wat die bloedige stryd verteenwoordig en vervang gaan word deur wit, wat ’n gunstige toekoms simboliseer.
- Nasionale dier: Goue arend.
- Nasionale kleure: Rooi, wit, swart.
- Volkslied: “Bilady, Bilady, Bilady” (“My Vaderland, my Vaderland, my Vaderland”). 1
Woordbank
1956 Suez-krisis | ’n Gesamentlike inval in Egipte deur Israel, Brittanje en Frankryk om beheer oor die Suez-kanaal terug te neem. |
aandeelhouers | Mense wat aandele in ’n maatskappy besit. |
AU | (Afrika-unie) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder. |
antieke | Baie oud; uit die ou tyd. |
Arabiese nasionalisme | Die idee dat die Arabiese nasie al vir eeue bestaan en moet saamstaan en veg vir politieke eenheid en onafhanklikheid. |
Arabiese wêreld | Nasies wat in die weste van Asië en Noord-Afrika geleë is, wat Arabiese kultuur en taal deel en meestal Moslems is. |
argeologiese | Wat te doen het met oudheidkunde. |
BBP | (bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word. |
belegging | Dit is enige manier waarop geld gebruik word om rente daarop te verdien of ’n wins te maak. |
beset | Met geweld oorneem/inneem; in besit neem. |
beskawings | Gemeenskappe met ’n hoë vlak van organisasie en ontwikkeling. |
bestel | Regering, regime. |
chemikalieë | Stof wat verkry of gebruik word in chemiese reaksies. |
delta | Stuk grond by die mond van ’n rivier wat deur sedimentasie gevorm word, met ander woorde enige materiaal wat los in die rivier ronddryf. |
dienssektor | Besighede wat werk deur aan mense dienste of goedere te verskaf, maar nie betrokke is by die maak van die goedere nie. |
dinastieë | Regerende families, gewoonlik koninklik/adellik. |
etnies | Wat met die mense van ’n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou. |
fertiliteitsvlak | Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee. |
fosfate | ’n Soort sout wat gewoonlik in bemesting (voedsel vir plante) gebruik word. |
fossiele | Enige oorblyfsel van ’n dier/plant wat in gesteentes van die aarde bewaar gebly het. |
gebuk gegaan | Probleme hê, sukkel. |
geboikot | Georganiseerde weiering om sekere artikels te koop; uitsluiting. |
gedaanteverwisseling | Vorm-/struktuurverandering, |
geletterde | Om te kan lees en skryf. |
GSSS | (Gemeenskap van Sahel-Sahara State) Organisasie wat ekonomiese unie een eenheid tussen sy lidlande wil bevorder. |
Comesa | (Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika) Ekonomiese gemeenskap van 21 state wat saamwerk vir ekonomiese ontwikkeling en die bevordering van vrede en sekuriteit. |
geprikkel | Aangewakker. |
geraffineerde petroleum | Gesuiwerde petroleum. |
gerebelleer | Om in opstand te kom teen ’n wettige gesag soos die regering. |
gereserveer | Uitgehou vir iemand/iets. |
groeikoers | Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word. |
grondwet | Reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
handbal | Spel wat in ’n ommuurde baan of teen ’n enkele muur of bord gespeel word deur twee of vier spelers wat hul hande gebruik om die bal mee te slaan. |
heiliges | Iemand wat deur die kerk op grond van sy/haar lewe/wondere/ens. heilig verklaar is. |
hektaar | Een hektaar (ha) is gelykstaande aan 10 000 vierkante meter. |
Hellenistiese | Die kultuur van die Griekse samelewing wat ná die dood van Alexander die Grote bestaan het. |
hindernisse | Belemmering, struikelblokke; ergernis, steurnis, irritasie, frustrasie. |
Hoërhuis | Senaat, hoogste wetgewende liggaam in sekere lande. |
homogene | ’n Homogene bevolking het dieselfde oorsprong en gebruike en voorkoms. |
hulpbronne | Enigiets wat tot nut van die mens kan wees. |
humiditeit | Vogtigheid of voggehalte. |
inentings | Inenting is wanneer jy iemand inspuit om siektes te voorkom. |
inflasie | Die styging van lewenskoste en pryse as gevolg van die waardevermindering van geld. |
Islamitiese Moslem Broederbond | Die MB is die oudste politieke Islamitiese groep in die Arabiese wêreld. |
kabinet | Al die ministers wat saam die regering van die land vorm. |
kalifaat | Ryk waaroor ’n kalief, oftewel ’n Moslem geestelike heerser, regeer. |
klooster | Gebou waar monnike of nonne woon. |
Koptiese Ortodokse Kerk | Kerk wat ontstaan het uit die ou Christelike Egiptiese Kerk. |
kultuur | Die manier waarop ʼn groep mense leef, hul gewoontes en godsdiens. |
kunsmis | Kunsmatig vervaardigde plantvoedsel. |
Laerhuis | Volksraad. |
lang duur | Op die ou end of uiteindelik. |
Mammelukke | Egiptiese militêre klas. |
mangaan | Harde, bros grys metaal. |
mediane ouderdom | Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom. |
millenniums | Eeue; ʼn millennium is ʼn duisend jaar. |
Moslems | Aanhangers van die Islam; Islamiete. |
nekropolis | Begraafplaas wat oor ’n groot, uitgebreide gebied strek; dodestad. |
nomadiese | Rondswerwende mense wat rondtrek agter byvoorbeeld kos en weiding aan. ʼn Nomade het sy tent wat hy kan inpak wanneer hy dit nodig het en gaan na ’n ander plek waar daar meer kos en water vir hom en sy diere is; woestyn-Arabiere. |
Noordelike Halfrond | Die helfte van die aarde wat noord van die ewenaar lê. |
oases | Plekke in die woestyn waar daar water gevind word. |
oënskynlik | Blykbaar, waarskynlik; wat so voorkom. |
omvergewerp | Iets laat misluk. |
oorkom word | ʼn probleem te bowe kom; moeilikhede/struikelblokke oorwin. |
outonomie | Selfbestuur, selfregering, selfstandig. |
outoritêre | Nie demokraties nie. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak. |
per capita | Per persoon. |
pokke | Epidemiese siekte waarby die hele liggaam met etterpuisies bedek is. |
referendum | Stemming waarin almal van ʼn volk mag deelneem, gewoonlik oor ʼn spesifieke saak. |
republiek | ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers. |
revolusie | ʼn Groot en belangrike ontwikkeling wat heeltemal anders is as enigiets wat dit voorafgegaan het. |
sedentêre | Groepe/mense wat permanent op een plek te woon. (Die uitvinding van landbou in Egipte het in baie gevalle tot sedentisme gelei, maar die vroegste sittende nedersettings was prelandbou.) |
sektor | ’n Afdeling of gebied van iets of die manier waarop besigheidsaktiwiteite gegroepeer kan word. |
sesjaartermyn | Termyn is die tydperk wat ’n persoon diens doen of ’n spesifieke posisie beklee, soos die leier van ’n land. In hierdie geval is die termyn ses jaar. |
setels | Amptelike sitplekke/stoele in die parlement, regeringsplekke. |
simboliseer | ’n Voorwerp of teken wat iets voorstel of iets beteken. |
skistosomiase | Parasitiese siektes wat mense aantas. |
sosialisme | Die idee van ’n samelewing wat privaat besit wil afskaf en alle inwoners/burgers aan mekaar wil gelykstel. |
staatsgreep | ’n Aanval op ’n land se regering waar die beheer oor die staat met geweld oorgeneem word; gewoonlik deur die land se weermag of ander militêre magte uitgevoer. |
Suez-kanaal | Waterverbinding tussen die Rooi See en die Middellandse See. |
taekwondo | Dinamiese gevegskuns, wat akrobatiese skoppe en grasieuse houe behels. |
tekstiele | Goed wat gespin en geweef is. |
tersiêre opvoeding | Opvoeding ná skool by ʼn akademiese instelling soos ’n universiteit. |
topografie | Noukeurige beskrywing van die natuurlike en kunsmatige besonderhede van ’n streek/terrein; plekbeskrywing. |
troepe | Gewone soldate sonder enige rang, strydmag. |
tuberkulose | Besmetlike, bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van knoppies in verskillende weefsels, veral die longe, wat vermoeidheid/ nagsweet/ koors/ anemie veroorsaak. |
tweekamerstelsel | Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit twee huise bestaan, gewoonlik ’n Hoër- en ’n Laerhuis. |
tydsone | ’n Geografiese streek waarbinne dieselfde standaardtyd gebruik word. As daar byvoorbeeld “+2” bygeskryf word, beteken dit dat daar in dié spesifieke gebied nog twee uur by die standaardtyd gevoeg moet word |
Verenigde Nasies | Die VN is ʼn internasionale organisasie wat deur verskillende lande op 24 Oktober 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog gestig is. Die VN beywer hom veral vir wêreldvrede en die onderlinge samewerking tussen verskillende lande. |
verkose | Wat verkies is. |
vermaaklikheidsbedryf | Al die mense en organisasies saam wat sorg vir vermaaklikhede soos rolprente/opvoerings/sirkusse/ens. |
verstedeliking | As mense van die platteland na die stede trek. |
verwoestyning | Wanneer ’n stuk land wat nie voorheen een was nie, ’n woestyn word. |
vloedvlaktes | Vlakte wat periodiek (op gereeld tye) oorstroom word. |
Wadi’s | Rivierbeddings in ’n droë streek. |
waterbesoedeling | Die vuilmaak van iets, in besonder die besmetting van die omgewing. |
Westerse | Van die Weste, gewoonlik mense van Europa en Noord-Amerika. |
wisselvallig | Iets wat onbestendig is of dikwels verander. |
yl | Dun, min. |
ystererts | Erts is die stukke grond wat uit myne kom waaruit metaal verkry word; ystererts is erts wat yster bevat. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Egipte
- Algerië se regeringswebtuiste
- Die hoofstad van Egipte is Kaïro
- Interessante feite en foto’s van Egipte
- Leer meer oor die farao’s van Egipte
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Egipte
Kort geskiedenis van Egipte
As jy nóg meer wil weet oor Egipte, kan jy hierna kyk
Interessante feite oor Egipte
Tien “geheime” van Egipte
Die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld, waarvan slegs die piramides oor is.
Jongste ontdekkings in Egipte: Eerste en grootste astronomiese sterrewag wat dateer uit die 6de eeu v.C.!
Die belangrikheid van die Nylrivier
Egipte se vlag en geografie
So klink “Bilady, Bilady, Bilady”, die volkslied van Egipte)