Vinnige feite
- Burundi is een van die min lande in Afrika wat se grense nie deur ’n Europese mag bepaal is nie. Die grense is deur die monargie in die 16de eeu vasgestel. 6
- Burundi is een van die lande op aarde met die swakste toegang tot die internet en die stadigste internetspoed. 11
- Die Tanganjikameer is (moontlik steeds) die tuiste van Gustave, ’n mensvreterkrokodil wat oor die sestig jaar oud is. Dié krokodil het tussen 1987 en 2009 honderde mense doodgemaak. Dit is nie bekend of die krokodil nog lewe nie. 11
Die Republiek Burundi, meestal bekend as Burundi, is ’n land in Sentraal- en Oos-Afrika. Dit grens aan die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) in die weste, Rwanda in die noorde, Tanzanië in die ooste en suidooste, en die Tanganjikameer in die suidweste.
Burundi se naam kom van die koninkryk van Burundi, wat tussen die 17de en 19de eeue dele van vandag se Burundi oorheers het. 1
Oorsig
Amptelike naam | Republiek Burundi.
Plaaslik: République du Burundi (Frans); Republika y’u Burundi (Kirundi); Republic of Burundi (Engels). |
Engelse naam | Burundi; Republic of Burundi. |
Ook/voorheen bekend as | Urundi; Duits-Oos-Afrika; Rwanda-Urundi; Koninkryk van Burundi. |
Leiers | President: Évariste Ndayishimiye (sedert 18 Junie 2020). 1 |
Hoofstad | Bujumbura (ekonomies); Gitega (polities). 1 |
Grootste stad | Bujumbura (bevolking 331 700). 2 |
BBP (bruto binnelandse produk) | $3 073 414 678 (2022), groeikoers 1,85%. 3 |
BBP per capita | $262 (2022). 3 |
Bevolking (wêreldrang) | 2024: 13 540 251 (78ste). 2 |
Bevolkingsdigtheid | 516 mense per km². 2 |
Regeringsvorm | Republiek met tweekamerstelsel. 4 |
Amptelike tale | Engels; Frans; Kirundi. 1 |
Totale oppervlak (wêreldrang) | 27 834 km² (146ste). 5 |
Geldeenheid | Burundese of Burundiese frank (BIF), opgedeel in 100 sent |
Internetkode | .bi |
Skakelkode | +257 |
Tydsone | GT +2 |
Byvoeglike naamwoord | Burundese of Burundiese. |
Inwoner | Burundees of Burundiër. |
Geskiedenis
Die eerste inwoners van Burundi was die Twa, ’n stam van pigmee-jagter-versamelaars.
Eerste boere
Rondom die jaar 1000 het Hutu-boere, ’n Bantoesprekende stam, die gebied betree. In die eeue hierna het die Tutsi’s, ook ’n Bantoesprekende groep, ingetrek. Teen die 16de eeu is ’n Tutsi-monargie deur koning Ntare Rushatsi (Ntare I) gestig. Die heerser van die koninkryk was die Tutsi-koning of mwami. Daar was ook ’n elite klas, die ganwa, wat as tussengangers tussen die koning en die gewone mense opgetree het. Dit het meestal uit Tutsi’s bestaan. Die Hutu’s en Tutsi’s het met die verloop van tyd ondertrou en vermeng geraak.
Die grense van vandag se Burundi is grotendeels deur hierdie monargie opgetrek. 6
Koloniale kontak
Burundi is onherbergsaam. Dit is een van die redes waarom dit nie onder die slawehandel deurgeloop het nie. Die eerste kontak met Europeërs het eers in die tweede helfte van die 19de eeu plaasgevind.
Britse ontdekkingsreisigers soos Richard Burton en John Hanning Speke was in 1858 die eerste Europeërs in die gebied. Ander beroemde ontdekkingsreisigers soos Henry Morton Stanley en David Livingstone het in die 1870’s gevolg.
In 1890 is vandag se Burundi, Rwanda en Tanzanië saamgevoeg in ’n Duitse protektoraat wat as Duits-Oos-Afrika bekend gestaan het. 6
Kolonie van België
Ná die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) is Burundi en Rwanda, toe genoem Rwanda-Urundi, by Duitsland weggeneem en aan België gegee om te bestuur. Die Belge was onkundig oor die plaaslike omstandighede. Hulle het die Tutsi’s in die regering voorgetrek en sodoende spanning tussen die Hutu’s en die Tutsi’s aangeblaas.
Ná die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het Burundese mense op onafhanklikheid begin aandring. Die vernaamste eerste politieke party was die Unité pour le Progrès National (UPRONA) in 1958 (Afrikaans: “Unie vir Nasionale Vooruitgang”). In 1959 is die mwami dan ook as die konstitusionele monarg aangestel.
Verkiesing vir ’n wetgewende gesag is in 1961 gehou en deur UPRONA gewen. Die mwami se seun, prins Rwagasore, ’n Tutsi, is as eerste minister aangestel. Hy het dieselfde jaar in ’n sluipmoordaanslag gesterf. Dit het die land in krisis gedompel.
Ten spyte hiervan het Burundi op 1 Julie 1962 amptelik onafhanklikheid gekry as die Koninkryk Burundi. 6
Onafhanklikheid
Sedertdien was daar deurlopend onenigheid en geweld. Een oorsaak van die spanning was dat die Hutu’s in die land die meerderheid was, maar dat politieke mag in die hande van die Tutsi-minderheid was. As gevolg van die konflik tussen die Hutu’s en Tutsi’s het honderdduisende mense gesterf (baie is vermoor) of van hul huise verdryf. 6
Eerste Republiek
In 1966 het Tutsi-weermagoffisiere die monargie omvergewerp en ’n Tutsi-beheerde republiek gestig. 1 Die eerste president was Michel Micombero. 6
In 1972 het ’n groep Hutu’s in opstand gekom en ’n paar duisend Tutsi-burgerlikes vermoor. Dit het tot genadelose vergelding deur die regering gelei, wat die dood van tussen 100 000 en 200 000 Hutu’s ingesluit het. 1 Dit was om en by 5% van die bevolking en omtrent alle opgevoede Hutu’s. Daar is ook omtrent 10 000 Tutsi’s in die geweld dood. Hierdie gebeure het spanning en haat vererger. 6
Tweede en Derde Republiek
Micombero is in 1976 omvergewerp en Jean-Baptiste Bagaza het die president van die Tweede Republiek geword. Hy het die Rooms-Katolieke Kerk, wat baie ongewild was, onderdruk.
In 1987 het Pierre Buyoya die regering in ’n staatsgreep oorgeneem en die Derde Republiek afgekondig. Buyoya het as president met die hulp van ’n militêre junta van 30 lede regeer. Hy het beperkings op die Katolieke Kerk en ander politieke groepe gelig, maar etniese spanning het voortgeduur.
In Augustus 1988 het geweld uitgebreek waarin 20 000 mense, meestal Hutu’s, gesterf het. Buyoya het besluit om versoenend op te tree. Hy het byvoorbeeld probeer om spanning te verlig deur Hutu’s deel van die regering te maak. 6
Versoening en burgeroorlog in die 1990’s
In 1992 is ’n nuwe grondwet aanvaar. Dit het onder meer gestipuleer dat politieke partye beide Hutu- en Tutsi-verteenwoordigers moes bevat. In die eerste vrye verkiesing is Melchior Ndadaye, ’n Hutu, as president verkies. Hy het probeer om ’n regering saam te stel met beide Hutu’s en Tutsi’s, en het ’n Tutsi as eerste minister aangewys. 6
Hy is egter ná 100 dae aan bewind in ’n sluipmoordaanval dood. Kort daarna het ’n burgeroorlog uitgebreek. Die jaar daarna het sy opvolger, Cyprien Ntaryamira, gesterf nadat die straler waarin hy gevlieg het, afgeskiet is (die president van Rwanda het in dieselfde gebeurtenis gesterf). 1
Dit het etniese konflik verder aangeblaas. 1 Regeringspogings om politieke stabiliteit te bring, was meestal onsuksesvol. 6
Vredesamesprekings het in 1995 begin. In 2000 is die Arusha–verklaring, ’n belofte vir vrede en versoening, deur al die partye onderteken. Geweld het egter voortgeduur. Daar is uiteindelik in 2003 ’n vredestraktaat onderteken wat meeste van die geweld beëindig het. 6
Huidige situasie
In 2000 is ’n grondwet aanvaar wat mag tussen Hutu’s en Tutsi’s verdeel het. Die verkiesing in dieselfde jaar is deur Pierre Nkurunziza, ’n Hutu, gewen. Hy is herverkies in 2010 en 2015, alhoewel hy volgens wet net twee termyne mag hê. 1 Gedurende sy bewind was daar steeds plek-plek geweld. Die verkiesing van 2015 was nie vry of regverdig nie, en het met geweld gepaard gegaan. Daar was ook deurentyd aantygings van intimidasie, teregstellings en marteling deur regeringsmagte. 6
In 2020 het Nkurunziza gesterf en Évariste Ndayishimiye is as sy opvolger ingesweer. 1
Geografie
Burundi is ’n land wat deur ander lande ingesluit word. Dit is die 46ste grootste land in Afrika. Oppervlaksgewys is dit omtrent so groot soos ’n kwart van die provinsie Noordwes in Suid-Afrika. 7
Landskap
Burundi is heuwelrig en bergagtig. Die grootste deel van die land is op ’n hoë plato geleë. Van hier sak dit amper 2000 m na ’n laer plato in die ooste met vlaktes. 1
Die oostelike sykant van die Groot Skeurvallei loop deur Burundi. 6
Die hoogste punt in Burundi is Mount Heha 8 in die Mukike-bergreeks, wat 2 685 m bo seevlak uitstyg.
In die weste deel Burundi die Tanganjikameer met die DRK, Tanzanië en Zambië. 1
Die grootste rivier is die Nylrivier. Ander waterbronne is die Victoriameer in die suidweste en Tanganjikameer in die weste. 8
Klimaat
Burundi is net suid van die ewenaar geleë, en dus in die tropiese streek. 1 Omdat die land redelik hoog bo seespieël is, maak dit die temperature meer gematig. 6
Gemiddelde jaarlikse temperature is tussen 17 °C en 23 °C. 1 Gemiddelde jaarlikse reënval is 1 500 tot 1 800 mm in die hooglande, en 1 000 mm aan die kus van die Tanganjikameer. 6 Daar is twee reënseisoene: Februarie tot Maart en September tot November. 1
Omgewingsprobleme en gevare
Natuurlike bedreigings in Burundi is oorstromings, grondverskuiwings en droogtes. Daar is ernstige gronderosie as gevolg van oorbeweiding en uitbreiding van landbou. Ontbossing is ’n groot bekommernis, en daar is amper geen woude meer oor nie. Hierdie verlore habitats bedreig Burundi se wilde diere. 1
Regering
Burundi is ’n unitêre presidensiële grondwetlike republiek.
Regeringstrukture
Burundi se grondwet is in 2005 aanvaar.
Die president word direk vir twee sewejaartermyne verkies. Die president stel die kabinet aan.
As dit kom by die parlement, het Burundi ’n tweekamerstelsel. Die Hoërhuis se 36 lede word indirek vir vyfjaartermyne verkies. Die Laerhuis se lede word direk vir vyfjaartermyne verkies. Beide huise sit setels vir vroue en Twa’s opsy. Die Laerhuis het 123 setels. Sommige word vir vroue en Twa’s uitgehou. Die res word soos volg uitgehou: 60% vir Hutu’s en 40% vir Tutsi’s.
Administratief was Burundi tot onlangs in 18 provinsies opgedeel. Dit is egter verminder sodat dit in 2025 slegs vyf gaan wees. 1
Politieke partye
Die vernaamste politieke partye in Burundi is:
- National Council for the Defense of Democracy – Front for the Defense of Democracy (CNDD-FDD), tans die party aan bewind.
- National Congress for Liberty (CNL)
- Union for National Progress (Union pour le Progress Nationale [UPRONA]). 1
Buitelandse verdrae
Burundi is lid van die Verenigde Nasies (VN), die Afrika-unie (AU), Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika (Comesa), Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrika-State (EGSAS/ECCAS) en die Oos-Afrika Gemeenskap (OAG). 1
Ekonomie
Burundi het ’n landbougedrewe, lae-inkomste ekonomie. Die land is basies bankrot. Covid-19 het die ekonomie verswak en inflasie is hoog. Jare van interne onrus, oorlog, bestaansboerdery, lae inkomste, hoë bevolkingsgroei en afhanklikheid van buitelandse hulp het die ekonomie verwoes. Twee derdes van die bevolking leef in armoede. Daar is nypende voedselonsekerheid en tot 60% van kinders is ondervoed. 1
Ekonomiese bedrywighede
Natuurlike hulpbronne sluit nikkel, uraan, veengrond, kobalt en koper in. 1 Mynbou is egter swak ontwikkel. 6
Ongeveer 73% van die grondgebied word vir landbou gebruik, 1 en dit bied werk aan nege tiendes van die bevolking. 6 Sowat 90% van die bevolking se bestaan hang van bestaansboerdery af. Die belangrikste gewasse wat in Burundi verbou word, is kassawe, piesangs, patats, groente en bone.
Nywerheidsaktiwiteite maak minder as ’n kwart van die bruto binnelandse produk (BBP) uit. Die vernaamste nywerheidsektore is suiker, skoene, sement, openbare werke en die verwerking van kos. 1
Invoere en uitvoere
Burundi se grootste handelsvennote is die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), DRK, China, Saoedi-Arabië en Tanzanië. 1
Burundi se vernaamste uitvoerproduk is koffie, wat die hoofbron van buitelandse inkomste is. Ander uitvoere is goud, tee en suiker. 6 Die land se grootste invoere is geraffineerde petroleum, kunsmis, medisyne, sement en plastiekprodukte. 1
Mense
Burundi is ’n land met hoë etniese spanning, vernaam tussen die Hutu’s en die Tutsi’s.
Etniese groepe en taal
Malawi se inheemse etniese groepe is Hutu’s, Tutsi’s en Twa’s. Daar is ook ’n groterige Suid-Asiatiese minderheid. 1 Die Hutu’s is die meerderheid en die Tutsi’s ’n noemenswaardige minderheid. 6
Burundi se amptelike tale is Kirundi, Frans, Engels. Van dié word Engels die minste gepraat. Swahili word ook wyd gepraat. 1 Beide Hutu’s en Tutsi’s praat Kirundi. Dit is raar vir Afrika dat só ʼn groot persentasie van die bevolking van ’n land, en boonop mense van verskillende etniese groepe, dieselfde taal praat. 6
Opvoeding
Tussen 50% en 75% van Burundi se bevolking is geletterd. 1
Gratis primêre skoolopvoeding begin op 7-jarige ouderdom en is vir ses jare verpligtend. 6 Bywoningsvlakke is egter laag. Min kinders word boonop toegelaat om sekondêre opvoeding te ontvang.
Burundi het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word deur die Universiteit van Burundi verskaf. 8
Demografie en bevolkingsverspreiding
Demografiese gegewens:
- Lewensverwagting: 62,5 jaar.
- Fertiliteitsvlak: 4,9 geboortes per vrou per jaar.
- Mediane ouderdom: 16 jaar.
- Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 37 per 1 000 geboortes.
- Sterftes onder vyf jaar oud: 52,2 per 1 000 geboortes. 9
Burundi is een van Afrika se mees digbevolkte lande. 1 Omtrent 85% van die bevolking bly op platteland. 9 Meeste mense woon in die noorde en langs die Tanganjikameer. Hul leef op plase waar die grond vrugbaar is. 1 Die landskap is baie heuwelrig en daar is min dorpies. 6
Daar is groot vlugtelingkampe in Burundi vir vlugtelinge van veral die DRK en Rwanda. In die afgelope paar jaar het amper ’n half miljoen Burundese vlugtelinge teruggekeer van buurlande soos Tanzanië. Dit is moeilik om hulle te hervestig. 1
Siektes en ander probleme
Burundi word siektes soos skistosomiase, malaria, cholera en griep geteister. Die siektes is baie keer oordraagbaar of word deur voedsel met swak voedingswaarde veroorsaak. 6 Malawi se gesondheidstelsel is swak en die land het een van die hoogste moedersterftesyfers in die wêreld. 1 Daar is min hospitale en mediese personeel. 6
Geloof
Meer as 90% van Burundese is Christene. 1
Kultuur en sport
Die burgeroorlog en voortslepende geweld het Burundi se kultuur verwoes. 8 Meeste Burundese probeer slegs om te oorleef en dit laat nie tyd vir kulturele aktiwiteite nie. Die oorlog het ook tradisionele familie- en gemeenskapstrukture laat ineenstort. 6
Tromme is ’n belangrike deel van die musiekkultuur, asook tromdanse soos die abatimbo. Ander instrumente wat bespeel word, is die siter, fluit en indonongo, ’n soort viool. 8
Die belangrikste kunsvorms is handwerk, en sluit mandjieweef en die maak van maskers, skilde en standbeelde in. 8 Versiering van papiruspanele, swaarde en tromme is nog ’n gewilde kunsvorm. 6
Burundi se gewildste sportsoorte is atletiek, basketbal en sokker. 8
Burundi neem sedert 1996 aan die Olimpiese Spele deel en het al 2 medaljes gewen: Vénuste Niyongabo het in 1996 die goue medalje in die 5 000 m vir mans gewen, en Francine Niyonsaba het in 2016 ’n silwer medalje in die 800 m vir vroue gewen. 10
Simbole
Burundi het die volgende nasionale simbole:
- Vlag: Die groen simboliseer hoop en optimisme; die wit reinheid en vrede; en die rooi die bloed wat in die stryd vir onafhanklikheid gestort is. Die drie sterre in die middel verteenwoordig die drie grootste groepe: Hutu’s, Tutsi’s en Twa’s, asook die nasionale leuse: “Eenheid, Werk, Vooruitgang” (in Frans: Unité, Travail, Progrès en in Kirundi: Ubumwe, Ibikorwa, Amajambere).
- Nasionale dier: Leeu.
- Nasionale kleure: Rooi, wit, groen.
- Volkslied: “Burundi Bwacu” (“Ons Geliefde Burundi”). 1
Woordbank
aangeblaas | Iets aan te wakker, aan te hits, te laat opvlam; op te stook. |
AU | (Afrika-Unie) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder. |
BBP | (Bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word. |
bestaansboerdery | Boere wat op hul plase slegs kos vir hul eie gebruik produseer, en nie om te verkoop nie. |
bestel | Regering of regime. |
burgeroorlog | Oorlog tussen burgers van dieselfde staat. |
cholera | Besmetlike/bakteriese ingewandsiekte veroorsaak deur die kommabasil. |
EGSAS | (Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrika-State) Organisasie vir die bevordering van ekonomiese samewerking in die Sentraal-Afrika-streek. |
elite | ʼn Groep mense wat baie mag en invloed het omdat hul baie geld, kennis of spesiale vaardighede het. |
etniese | Wat met die mense van ’n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou. |
ewenaar | Groot denkbeeldige sirkel wat om die middel van die aardbol gaan en ewe ver van die Suid- en Noordpool is; ekwator. |
fertiliteitsvlak | Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee. |
geletterd | Om te kan lees en skryf. |
gematig | Nie baie groot of klein, baie warm of koud, baie vinnig of stadig, ens. nie. |
Comesa | (Gemeenskapsmark van Oos- en Suider-Afrika) Ekonomiese gemeenskap van 21 state wat saamwerk vir ekonomiese ontwikkeling en die bevordering van vrede en sekuriteit. |
geraffineerde petroleum | Gesuiwerde petroleum. |
gestipuleer | Bepaal, uitwys, spesifiseer. |
geteister | Leed aangedoen, verpes, aangetas, genfesteer |
gewasse | Dit wat aangeplant word vir boerderydoeleindes, soos koring, mielies, vrugte en dies meer. |
groeikoers | Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word. |
gronderosie | Wegvreet/wegkalwe/verweer van grond deur byvoorbeeld wind en water. |
grondwet | Reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
Groot Skeurvallei | Vallei in Oos-Afrika met styl wande wat deur insinking van aardkors gevorm word. |
habitats | Vindplekke van ’n bepaalde organisme (dier of plant); die natuurlike woonplek/woongebied/verblyfplek. |
Hoërhuis | Senaat, hoogste wetgewende liggaam in sekere lande. |
natuurlike hulpbronne | Enigiets wat tot nut van die mens is. |
inflasie | Die styging van lewenskoste en pryse as gevolg daarvan dat geld se waarde verminder. |
inheemse | Wat oorspronklik in ʼn gebied voorkom. |
ingesweer | Iemand ʼn belofte laat aflê om sy/haar werk goed te doen; beëdig. |
interne | Binne ʼn volk, groep, party, organisasie, regering. |
kabinet | Al die ministers wat saam die regering van die land vorm. |
kassawe | Plant met wortels wat eetbaar is; ook maniok genoem. |
kobalt | Gryserige magnetiese metaal. |
konflik | Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/partye/lande. |
konstitusionele | Volgens/rakende die grondwet van ʼn land/organisasie. |
kulturele | Dit wat verband hou met die idees, gebruike en sosiale gedrag van ’n samelewing. |
kunsmis | Kunsmatig vervaardigde plantvoedsel. |
Laerhuis | Volksraad. |
marteling | Iemand moedswillig baie seer maak. |
mediane ouderdom | Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom. |
militêre junta | ’n Groep wat die regering van ’n staat met geweld oorneem. |
moedersterftesyfers | Vrouens wat sterf as gevolg van swangerskap. |
monarg | Vors, soos koning of koningin. |
monargie | Staat of regeringsvorm met ’n monarg (soos ’n koning of keiser) aan die hoof. |
nikkel | Harde, silwerwit metaal wat nie roes nie. |
nypende | Kwellende, ontstellende, erge. |
omvergewerp | Om iets (bv. ’n regering) te laat misluk. |
onafhanklikheid | Die reg om jouself te regeer. |
ondertrou | Om met iemand van ʼn ander ras/groep te trou; om met ʼn familielid te trou. |
onherbergsaam | Woes, wat geen skuiling/herberg bied nie; kaal en sonder beskutting. |
OAG | (Oos-Afrikaanse Gemeenskap) Organisasie wat poog om die ekonomieë van die lidlande te integreer. |
optimisme | Hoopvolheid, goeie hoop op ’n beter uitkoms. |
papiruspanele | Panele wat gemaak is van ʼn growwe grassoort wat in antieke tye gebruik is om papier mee te vervaardig is; panele van papierriet. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak. |
per capita | Per persoon. |
pigmee | ’n Klein ras wat in die woude van Sentraal-Afrika woon. |
plato | Plat, hoogliggende streek, hoogland, tafelland. |
primêre skoolopvoeding | Primêre of elementêre onderwys/skoolopvoeding is die eerste fase van formele onderwys, wat ná voorskoolse/kleuterskool (tussen vyf- en sewejarige ouderdom) en voor hoërskool begin. |
protektoraat | Gebied wat ʼn sterk staat onder sy beskerming plaas sonder om dit te annekseer, maar waaroor die beskermheer tog alle soewereine staatsmagte uitoefen. |
raar | Skaars, iets wat mens nie sommer vind of sien nie. |
republiek | ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers. |
Rooms-Katolieke Kerk | Christelike Kerk wat onder die gesag van die pous van Rome staan. |
sekondêre opvoeding | Hoërskoolopvoeding, oftewel opvoeding wat tussen 11-13 jarige ouderdom begin. |
setels | Amptelike sitplek/stoel in die parlement, regeringsplek. |
simboliseer | ’n Voorwerp of teken wat iets voorstel of iets beteken. |
siter | ’n Musiekinstrument met snare en ’n plat klankbord. |
skilde | ’n Skild is die deel van ’n soldaat se pantser; ’n harde, ondeurdringbare plaat wat ’n soldaat in sy hand gehou het en waarmee hy die pyle en swaarde van sy vyand kon afweer. |
skistosomiase | Parasitiese siektes wat mense aantas. |
sluipmoordaanval | ’n Persoon wat ’n belangrike persoon om politieke of godsdienstige redes vermoor; huurmoordenaar, skelmmoordenaar. |
soewereine | Opperste en onbeperkte mag/heerskappy van ’n staat. |
staatsgreep | ’n Aanval op ’n land se regering waar die beheer oor die staat met geweld oorgeneem word; gewoonlik deur die land se weermag of ander militêre magte uitgevoer. |
stabiel | Standvastigheid; weerstand teen verandering. |
straler | Luukse vliegtuig. |
teregstellings | Met die dood te straf. |
termyne | ’n Termyn is ’n vasgestelde beperkte periode, tydsduur; ampstyd, sitting. |
tersiêre | Opvoeding ná skool by ʼn akademiese instelling soos ’n universiteit. |
tradisionele | Betreffende tradisies wat van geslag tot geslag oorgelewer word. |
tropiese | Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreefte- en Steenbokskeerkring. Die trope sluit die ewenaar en dele van Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië in. |
tweekamerstelsel | Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit twee huise bestaan, gewoonlik ’n Hoër- en ’n Laerhuis. |
unitêre | In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het. |
uraan | Radioaktiewe metaal wat meestal in kernkragopwekking gebruik word. |
veengrond | Turfgrond, oftewel grond wat uit halfvergane plante ontstaan. |
Verenigde Nasies | Die VN is ʼn internasionale organisasie wat deur verskillende lande op 24 Oktober 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog gestig is. Die VN beywer hom veral vir wêreldvrede en die onderlinge samewerking tussen verskillende lande. |
vergelding | Straf; wraakneming; afrekening. |
versoenend | Om ’n vyandskap tot ’n einde te bring. |
vredestraktaat | Ooreenkoms wat deur twee partye geteken word wat vrede sluit. |
wetgewende | Die tak van die regering wat wette maak. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Burundi
- Burundi se regeringswebtuiste (kies “Engels”)
- Die hoofstad van Burundi is Bujumbura
- Wat is ’n skeurvallei? (Hierdie skeurvallei in Ysland)
- Interessante feite oor Burundi
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Burundi
Die geografie, geskiedenis, kultuur en kos van Burundi
Interessante feite oor Burundi
Meer oor Burundi se landsvlag en geografie
Die nasionale volkslied van Burundi
Tradisionele tromdanse van Burundi
Hoe tel mens van 1-10 in Frans?
Leer en sê ’n paar woorde of sinne in Kirundi