Vinnige feite

  • In die noordelike deel van Botswana ontmoet vier lande by ’n enkele punt in die Zambezi-rivier: Zambië, Botswana, Zimbabwe en Namibië. 9
  • Die hoofstad, Gaborone, se vorige naam was Gaberones, en is vernoem na die hoofman wat sy hoofstad daar gehad het. 1
  • Botswana word beskou as die land in Afrika met die minste korrupsie. 7
Grafika: Viva

Die Republiek van Botswana, meestal bekend as net Botswana, is ’n land in die sentrale dele van Suider-Afrika. Dit grens aan Zambië en Zimbabwe in die noordooste, Namibië in die noorde en weste en Suid-Afrika in die suide en suidooste.

Botswana is vernoem na die Tswana of Batswana, die grootste etniese groep. Voor 30 September 1966 was dit bekend as Betsjoeanaland Protektoraat (in Engels: Bechuanaland Protectorate). 1

Oorsig

Amptelike naam Republiek van Botswana.
Plaaslik: Republic of Botswana.
Engelse naam Botswana/Republic of Botswana.
Ook/voorheen bekend as Betsjoeanaland (Protektoraat); Bechuanaland (Protectorate).
Leier/s President Mokgweetsi Masisi (sedert 1 April 2018). 2
Hoofstad Gaborone.
Grootste stad Gaborone (bevolking 208 411). 3
BBP (bruto binnelandse produk) $20 352 322 157 (2022), groeikoers 5,78%. 4
BBP per capita $6 657 (2022). 4
Bevolking (wêreldrang) 2024: 2 710 434 (144ste). 3
Bevolkingsdigtheid 5 mense per km². 3
Regeringsvorm Republiek met eenkamerstelsel. 5
Amptelike taal Engels. Nasionale taal: Tswana. 1
Totale oppervlak (wêreldrang) 582 000 (47ste). 6
Geldeenheid Pula (BWP); opgedeel in 100 thebe.
Internet kode .bw
Skakelkode +267
Tydsone GMT +2
Byvoeglike naamwoord Botswana- (Byvoorbeeld Botswana-drag)
Inwoner ʼn Botswana.

Geskiedenis

Die vroegste inwoners van die huidige Botswana was Khoisan-groepe wat sedert om en by 17 000 v.C. daar gewoon het. 1

Bantoesprekende groepe trek in

Teen 20 v.C. het Bantoesprekende boere uit die noorde die gebied ingetrek.

Van omtrent 1095 af het ’n reeks Bantoesprekende boere dele van Botswana oorheers. Dit het die Moritsane, Toutswe, Mapungubwe-staat en die staat van Groot Zimbabwe ingesluit.

Die Tswanadom het in die 13de en 14de eeu ontstaan en hul mag begin opbou. Ná 1750 is hulle bedreig deur oorloë met en stroping deur groepe uit Mosambiek, Angola en die Kaapkolonie. 1

Die Tswana, wat groepe soos die Ngwaketse, Kwena en Tawana ingesluit het, 1 het ná hierdie oorloë die gebied oorheers. 2 Die merkwaardigste leier uit die negentiende eeu was Sechele, die heerser van die Kwena tussen 1829 en 1892. Aan die einde van sy bewind het die Kwena egter mag verloor aan die Ngwato onder koning Khama III, wat van die 1870’s tot 1923 regeer het. 1

Die aankoms van die Europeërs

In die 1850’s het groepe boere uit Transvaal, die sogenaamde Dorslandtrekkers, deur die gebied na Angola getrek. 2 Die ontdekking van minerale in Suider-Afrika in die 1860’s het tot ’n invloei van prospekteerders en Europeërs gelei. 1 Botsings met Ndebele-groepe en boere-setlaars uit die suide het die Tswana-leiers genoodsaak om vir Brittanje om beskerming te vra. 7

Strewe na onafhanklikheid

Teen die 1950’s was dit duidelik dat Botswana nie deel van Suid-Afrika gaan word nie, en dat die land na onafhanklikheid moes beweeg. 1

Seretse Khama, ’n Ngwato-hoofman, is in 1950 deur die Britte uit Botswana verban. Sy ondersteuners het in die laat 1950’s polities aktief begin raak. Dit het uiteindelik tot beperkte verkiesings vir ’n wetgewende raad in 1961 gelei. Intussen is politieke partye gestig, soos die Bechuanaland People’s Party en Khama se Bechuanaland Democratic Party (BDP), later bekend as die Botswana Democratic Party. 1

Brittanje het in 1965 selfregering aan Bechuanaland toegestaan, en die eerste algemene verkiesing is op 30 September 1966 gehou. 7 Die BDP het die verkiesing gewen en Khama is as die eerste president van ’n onafhanklike Botswana ingesweer. 1

Sedert onafhanklikheid

Botswana is sedert onafhanklikheid polities stabiel. 1 Khama is nog twee keer herverkies, 7 voor hy opgevolg is deur Quett Masire, daarna Festus Mogae en toe Ian Khama. 1 Die huidige president is Mokgweetsi Masisi. Die BDP is sedert die eerste verkiesing aan bewind.

Botswana is vandag bekend as ’n niekorrupte demokrasie, met respek vir menseregte en die oppergesag van die reg. 1

Mokgweetsi Masisi, die huidige president van Botswana.

Geografie

Botswana word heeltemal deur ander lande omring en is die 22ste grootste land in Afrika. Die land is breedweg driehoekig en is amper 1 000 km van noord na suid en dieselfde van oos na wes. 1 Botswana is amper so groot soos Suid-Afrika se Noord-Kaap en Wes-Kaap saam. 8

Die bekende Okavango-delta.

Landskap

Botswana word in drie geografiese gebiede opgedeel:

  • Die hardeveld, klipperige heuwels en sandvelde in oostelike Botswana.
  • Die sandveld, ’n gebied in die Kalahariwoestyn wat 70% van Botswana se oppervlakte bedek. Hierdie gebied is uiters plat. 7
  • Antieke meerbodems in die laagste deel van die Kalahari-kom. 1

Die hoogste punt in Botswana is die Manyelanong-heuwel, wat 1 495 m bo seevlak uitstyg. 2

Botswana se grootste riviere is die Okavangorivier en die Choberivier, beide in die noorde. 1

Klimaat

Botswana is in die Suidelike Halfrond geleë en omtrent twee derdes van Botswana is in die tropiese streek geleë. Die Steenbokskeerkring sny deur die land. 9

Botswana se klimaat is semi-woestynagtig, en dis warm en droog vir groot dele van die jaar.

Die land beleef vier seisoene. Somer is vanaf November tot Maart en die temperatuur kan in dié tyd tot 44 °C styg. Botswana is ’n somerreënvalstreek en die meeste reën val in Januarie en Februarie. 9 Jaarlikse reënval is gemiddeld 460 mm. 1

Die winterseisoen is tussen Mei en Augustus. Die dae is sonnig en koel tot warm. Nagtemperature in die winter kan onder vriespunt val, veral in die suidweste. Ryp is algemeen. 3 Die winter is die droë seisoen en dan val daar geen reën nie. 9

Omgewingsprobleme en gevare

Droogtes wat tot ses jaar lank kan duur, laat oeste misluk en wis veetroppe uit. 1 Botswana se ander uitdaging is verwoestyning wat deur oorbeweiding veroorsaak word. Veetroppe het van 1966 af met 300% vermeerder. 7 Botswana het ook beperkte varswaterbronne. Augustuswinde wat van die weste af waai, bring sand en stof oor die land, wat sigbaarheid beperk. 2

Landmerke

Sowat 42% van Botswana se landmassa word vir natuurbewaring gereserveer, in die vorm van nasionale parke en natuurreservate. Bekende nasionale parke in Botswana is die Makgalagadi-pan Nasionale Park, Nxai-pan Nasionale Park, Chobe Nasionale Park en Moremi Wildreservaat. 7

Botswana het twee Wêrelderfenisterreine:

  • Die Okavango-delta, ’n moerasagtige stuk land met vlaktes wat in sommige seisoene oorstroom. 10 Dit is een van die grootste binnelandse deltas in die wêreld. 2
  • Tsodilo-heuwels, een van die plekke op aarde met die meeste rotstekeninge. 10
Die Khwai-rivier in die Moremi Wildreservaat.

Regering

Botswana is ’n unitêre parlementêre grondwetlike republiek.

Regeringstrukture

Botswana se grondwet is in 1966 aangeneem, en al ’n paar keer gewysig. 2 Die maak voorsiening vir drie takke: uitvoerend, wetgewend en regsprekend. 9

Die hoof van die uitvoerende tak is die president, wat aangestel word as hoof van die grootste politieke party. Nasionale verkiesings word elke vyf jaar gehou. 9 Die president kan vir twee vyfjaartermyne dien. 1 Die kabinet word deur die president aangestel. 2

As dit kom by die parlement, het Botswana ’n eenkamerstelsel. Die parlement bestaan uit 63 lede waarvan 57 direk deur algemene stemreg verkies word, en sommige deur die president aangewys word.

Daar is ook ’n Ntlo ya Dikgosi (huis van hoofmanne) wat die regering oor stamaangeleenthede raadgee. Dié liggaam het egter geen wetgewende mag nie. 1

Administratief word Botswana in 16 distrikte (10 distrikte en 6 stadsrade) opgedeel. 2

Botswana se parlementsgebou.

Politieke partye

Die vernaamste politieke partye in Botswana is:

  • Botswana Democratic Party (BDP), tans die party aan bewind.
  • Umbrella for Democratic Change (UDC).
  • Botswana Patriotic Front (BPF).
  • Alliance of Progressives (AP). 2
Botswana se landswapen.

Buitelandse verdrae

Botswana is lid van die Verenigde Nasies (VN), Afrika-unie (AU), Statebond en Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Die sekretariaat van die SAOG is in Gaborone. 1

Ekonomie

Ná onafhanklikheid was Botswana se ekonomie afhanklik van Brittanje, maar die ontdekking van diamante in die laat 1960’s het die land ’n ekonomiese hupstoot gegee. Die ekonomie het sedertdien vinnig gegroei. 1 In 1966 was Botswana een van die armste lande in Afrika, maar het nou een van die vinnig groeiendste ekonomieë in die wêreld geword. 7

Botswana het ’n vryemarkekonomie en die regering verskaf infrastruktuur vir ekonomiese bedrywighede. 1 Daar is verantwoordelike ekonomiese en finansiële bestuur. Armoede is besig om af te neem. Net sowat 16% van mense leef in armoede, wat ’n baie lae syfer is vergelykend met ander lande in Suider-Afrika. 2

Daar is egter baie ongelykheid, 7 en hoë werkloosheid is ook ’n probleem. Die werkloosheidsyfer is net so bo 23%, maar meer as 40% van die jeug (mense tussen ouderdomme 15 en 24) is werkloos. Die Covid-19-pandemie het die ekonomie verswak en dit herstel stadig. 2 Daar is baie plattelandse families wat ’n bestaansleefstyl voer. 1

Ekonomiese bedrywighede

Die mynsektor is Botswana se primêre ekonomiese sektor en tel vir ’n kwart van Botswana se bruto binnelandse produk (BBP). Botswana is een van die grootste verskaffers van diamante in die wêreld. Ander minerale wat gemyn word, is nikkel, koper, steenkool, soda-as, goud en silwer. 9

Die industriële sektor bestaan uit nywerhede vir diamante, koper, nikkel, sout en soda-as. Toerisme is ’n groeiende sektor. 2

Sowat 46% van Botswana se grondgebied word vir landbou aangewend, waarvan 45% vir weiding gebruik word. 2 Die belangrikste landbouprodukte is melk, wortels en knolle, groente, sorghum en vleis.

Landbou maak ’n vyfde van Botswana se ekonomie uit. Botswana word soms gesien as ’n land van beeste, maar die meeste mense besit nie beeste nie. Botswana produseer nie genoeg voedsel nie en moet dus voedsel invoer. 1

‘n Diamantmyn.

Invoer en uitvoer

Botswana se vernaamste handelsvennote is die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), België, Indië, Suid-Afrika, en Botswana se ander buurlande.

Botswana is saam met Suid-Afrika, Lesotho, Eswatini en Namibië deel van Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU), wat verseker dat goedere maklik en goedkoop tussen die lande vervoer kan word. 1

Botswana se vernaamste uitvoerprodukte is diamante, bedrading, koper, beesvleis en goud. Die land se grootste invoere is geraffineerde petroleum, motors, elektrisiteit en voedsel. 2

Mense

Botswana is ’n relatief homogene land met min etniese spanning.

Etniese groepe en taal

Botswana het ’n hele paar stamme wat saam as die Batswana bekend staan, 9 en twee derdes van die bevolking uitmaak. Die tweede grootste etniese groep is die Kalanga en dan die Basarwa, Ndebele, Herero, San en ’n paar Afrikaners. 1 As gevolg van die onrus in Zimbabwe is daar ook heelparty Zimbabwiese migrante. 7

Botswana se amptelike taal is Engels en die nasionale taal is Tswana (ook Setswana of Sechuana). Ander tale wat gepraat word, is Khoisan-tale, Sekalanga, Sekgalagadi en Herero. 1

Opvoeding

Nagenoeg 88% van Botswana se bevolking is geletterd. 1 Botswana bied tien jaar se gratis, verpligte opvoeding. 7

Botswana het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word deur die Universiteit van Botswana in Gaborone en ander opvoedkundige instellings verskaf. 1 Daar is nie genoeg geskoolde werkers nie en dit lei tot arbeidstekorte in belangrike sektore. 7

Demografie en bevolkingsverspreiding

Demografiese gegewens:

  • Lewensverwagting: 66,1 jaar.
  • Fertiliteitsvlak: 2,7 geboortes per vrou per jaar.
  • Mediane ouderdom: 23,8 jaar.
  • Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 32,6 per 1 000 geboortes.
  • Sterftes onder vyf jaar oud: 43,4 per 1 000 geboortes. 11

Amper 70% van die bevolking woon in stedelike gebiede. 3 Mense woon meestal in en om Gaborone in die suide en Francistown in die ooste. 2

‘n Lugfoto van Gaborone, Botswana se hoofstad.

Siektes en ander probleme

Die MIV/vigs-epidemie het in die eerste dekade van die twintigste eeu Botswana se bevolking afgemaai. Botswana het steeds een van die hoogstes infeksiesyfers in die wêreld.

Botswana se regering bied gratis gesondheidsorg of teen ’n klein koste. 1

Geloof

Omtrent die helfte van Botswana se bevolking is Christene. Daar is ook baie klein groepe wat Badimo, of voorvaderaanbidding, beoefen. 2

Kultuur en sport

Botswana se kulturele lewe weerspieël die dubbele erfenis van Tswana- en Britse kulturele oorheersing. Westerse kleredrag is algemeen. Tradisionele begrafnisse, troues en ander rituele is aangepas volgens Christelike gebruike. 1

Die gewildste sportsoorte in Botswana is sokker, krieket, tennis, sagtebal en rugby. Brug is ook baie gewild. 7

Botswana neem sedert 1980 aan die Olimpiese Spele deel. Botswana-deelnemers het al twee Olimpiese medaljes gewen. Nijel Amos het ’n silwermedalje in die mans-800 m by die 2012 Olimpiese Spele gewen, en in 2020 het Botswana die bronsmedalje in die mans 4×400 m-aflos gewen. 12

Simbole

Botswana het die volgende nasionale simbole:

  • Vlag: Die blou op die vlag simboliseer water in die vorm van reën, en die swart en wit bande verteenwoordig harmonie tussen rasse.
  • Nasionale dier: Sebra.
  • Nasionale kleure: Ligblou, swart, wit.
  • Volkslied: Fatshe leno la rona (Ons Land). 2

Woordbank

afgemaai

In groot getalle laat sterf.
 AU (Afrika-unie) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder.
algemene stemreg Wanneer almal in die land vir iets stem.
antieke Baie oud; uit die ou tyd.
BBP  (bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word.
bestaansleefstyl Boere wat op hul plase slegs kos vir hul eie gebruik produseer, en nie om te verkoop nie.
brug Kaartspel deur vier spelers in twee mededingende spanne.
deltas Stuk grond by die mond van ’n rivier wat deur sedimentasie gevorm word, met ander woorde enige materiaal wat los in die rivier ronddryf.
demokratiese bestel ’n Regeringsbewind/beleid wat gekenmerk word deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg en van die media.
eenkamerstelsel Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit een huis bestaan.
erfenis Nalatenskap; wat van een geslag na ʼn volgende oorgedra word.
etniese Wat met die mense van ’n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou.
fertiliteitsvlak Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee.
geletterd Om te kan lees en skryf.
geraffineerde petroleum Gesuiwerde petroleum.
geskoolde Iemand wat opgelei is en dus kennis en ervaring het.
groeikoers Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word.
grondwetlike Iets wat ’n grondwet het, met ander woorde die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit.
harmonie Eensgesindheid, goeie verstandhouding, samewerking, onderlinge begrip; welwillendheid, vreedsaamheid, vriendskaplikheid, wedersydse liefde.
homogene ’n Homogene bevolking het dieselfde oorsprong en gebruike en voorkoms.
hupstoot Om iets weer te laat vlamvat; aanmoedig.
infrastruktuur Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens.
ingesweer Iemand ʼn belofte laat aflê om sy/haar werk goed te doen; beëdig.
kabinet Al die ministers wat saam die regering van die land vorm.
knolle Wortelgewasse.
kom ’n Laagte wat soos ’n kom lyk, oftewel ’n ronde houer sonder ’n deksel.
kulturele Wat te doen het met kultuur, soos kuns en musiek.
korrupte Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan.
mediane ouderdom Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom.
menseregte Die basiese regte wat elke mens behoort te hê om regverdig behandel te word en vry te kan leef.
migrante Trekkers, swerwers.
MIV/vigs MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) is ’n virus wat die liggaam se immuunstelsel aanval. As MIV nie behandel word nie, kan dit tot vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) lei. Vigs is ʼn baie ernstige siekte, deur bloed en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra, wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer teen infeksies kan weerstand bied nie (uit die afkorting verworwe immuniteitsgebreksindroom).
nikkel Harde, silwerwit metaal wat nie roes nie.
onafhanklikheid Die reg om jouself te regeer.
oppergesag Die hoogste gesag wat daar is.
parlement Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak.
per capita Per persoon.
prospekteerders Persone wat (as beroep) oral op plekke en in die aardlae rondsoek na ertse, minerale of edelgesteentes.
protektoraat Gebied wat ʼn sterk staat onder sy beskerming plaas sonder om dit te annekseer, maar waaroor die beskermheer tog alle soewereine staatsmagte uitoefen.
regsprekend Daardie tak van die regering wat met die howe te doen het.
republiek ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers.
sedimentasie Afsakking van vaste stof in ’n vloeistof.
sekretariaat Die departement van groot maatskappy wat die administratiewe werk hanteer.
simboliseer ’n Voorwerp of teken wat iets voorstel of iets beteken.
soda-as As van plante wat soda bevat.
soewereine Wat die oppermag/hoogste gesag het.
sorghum Graansoort met ’n ronde, meestal rooierige korrel.
stamaangeleenthede Kwessies wat te doen het met stamme, met ander woorde inheemse groepe.
Statebond Vereniging van state tot ʼn bond van so ʼn aard dat elke staat grotendeels selfstandig bly; federasie; gemenebes.
Steenbokskeerkring Suidelike grens van die trope; presies 23½ ⁰ suid van die ewenaar; ook bekend as die Suiderkring.
stroping Wanneer ’n land se vyande die land binnekom en daar ’n strooptog (diefstal/rooftog) uitvoer.
 SAOG (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) Organisasie van 16 lande in Suider-Afrika wat groei en ontwikkeling bevorder deur samewerking tussen lidlande aan te moedig.
tersiêre Opvoeding ná skool by akademiese instelling soos ’n universiteit.
tropiese Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreefte- en Steenbokskeerkring. Die trope sluit die ewenaar en dele van Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië in.
uitvoerend Die tak van die regering wat gewoonlik die president en ministers insluit, wat take moet uitvoer wat met die bestuur van die land te doen het.
unitêre In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het.
verban Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ʼn land uitstuur; uitstoot; verdryf.
verwoestyning Wanneer ’n stuk land wat nie voorheen ʼn woestyn was nie, ’n woestyn word.
voorvaderaanbidding Voorvaderaanbidding behels godsdienstige oortuigings en praktyke wat bestaan ​​uit gebede en offergawes aan die geeste van familielede wat reeds gesterf het.
vryemark Waar mense met mekaar mag meeding en ondernemings en eiendom mag besit.
wetgewend Die tak van die regering wat wette maak.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Sewe interessante feite oor Botswana

Botswana se vlag en geografie

Hoe tel mens van 1-10 in Tswana?

Só klink die volkslied van Botswana

Grafika: VivaGrafika: VivaGrafika: VivaGrafika: VivaGrafika: VivaGrafika: VivaFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Julie 2024 | Bygewerk op 29 Augustus 2024