Vinnige feite
- Boor is die hoofbestanddeel van ’n baie vreemde vloeistof genaamd oobleck. Oobleck is ’n mengsel van boraksoplossing en vloeibare gom. Dit vorm ’n vloeistof as dit gegiet word, maar as druk daarop uitgeoefen word, word dit ’n vaste stof.
- Het jy geweet daar selfs speelklei is wat boor bevat? Die boor maak die speelklei ferm.
- Die Engelse chemikus sir Humphry Davy (1778-1829) was ook die uitvinder van die Davy-veiligheidslamp. Dit het ’n groot rol daarin gespeel om ontploffings in steenkoolmyne te voorkom. Die lampe in daardie tyd het maklik ontploffings veroorsaak, maar Davy se lamp het ’n einde daaraan gemaak. 12
- Die ander twee chemici wat boor geïsoleer het, was die Fransmanne Thénard en Gay-Lussac. Hulle het ook interessante stories: Thénard het ’n verbinding waterstofperoksied ontdek, terwyl Gay-Lussac ontdek het dat die druk van ’n gas verhoog soos wat die temperatuur daarvan styg.
- ’n Ontleding het in 2013 getoon dat ’n meteoriet wat op Mars gevorm is en wat in Antarktika geval het, tien keer meer boor as enige ander voorwerp uit die ruimte bevat het.
- Boor is die tweede hardste element benewens koolstof (in sy diamantvorm).
- Boor gelei elektrisiteit soos ’n metaal teen hoë temperature, maar is ’n baie swak geleier teen lae temperature. Daar tree dit amper as ’n isoleerder (isolator of niegeleier) op.
Dit is nie ’n element waarvan ’n mens dikwels hoor nie, maar boor (ook “borium” genoem) is belangriker vir lewe op aarde as wat jy dink, en dit is al baie, baie, baie jare lank deel van die aarde se storie. Navorsers het immers bevind dat boor in die oudste rotse op aarde teenwoordig was en dié rotse is ’n verstommende 3,8 miljard jaar oud! 1
Boor word op die periodieke tabel langs koolstof gevind. [Lees meer hier oor die periodieke tabel.] Boor se simbool is ’n maklike een om te onthou: “B”. Boor is ’n halfmetaal, wat beteken dat boor metaal- en niemetaaleienskappe het. Boor is vernoem na die bros, wit sout wat “boraks” genoem word en dikwels in skoonmaakmiddels gevind word. 2
Boor in sy suiwerste vorm is ’n donkerkleurige poeier. Boor vorm maklik verbindings en dié verbindings, veral boraks, word al vir duisende jare deur mense gebruik. Boraks vorm natuurlik tydens die verdamping van sekere soutmere. Sommige boorverbindings is die hardste kunsmatige stowwe op aarde, en suiwer boor kan uit verskeie minerale onttrek word, soos borakskalk of uleksiet en kerniet.
Boor is ’n spoorelement, wat ’n belangrike rol in die lewe van plante, diere en mense speel. ’n Spoorelement is enigeen van sekere minerale of chemiese elemente waarvan ’n plant ’n klein hoeveelheid nodig het om goed te kan groei en gesond te bly. ’n Mens se liggaam het ook boor nodig, en ons kry dit uit die kos wat ons eet. Boor is noodsaaklik vir die groei van bene, dit help wonde om vinniger gesond te raak en help die liggaam om estrogeen, testosteroon en vitamine D te benut. Dit help ook ons liggaam om magnesium beter te absorbeer en help die brein om sy funksies beter te verrig. Dit verbeter kognitiewe funksies en korttermyngeheue en kan glo selfs help om kanker te beveg. 3
Die woord “boor” is van die Arabiese woord buraq (die Arabiese naam vir boraks) afgelei. 4
Wanneer en deur wie is dit ontdek?
Boor is in 1808 deur twee Franse chemici Joseph-Louis Gay-Lussac en Louis-Jacques Thénard geïsoleer. Dit is ook afsonderlik deur die Engelse chemikus sir Humphrey Davy geïsoleer. Dit is gedoen deur booroksied met kalium te verhit. 5
Waar kom dit voor?
Dit word in klein hoeveelhede in die aardkors gevind met die grootste bron van boorminerale wat in die Mojave-woestyn in Kalifornië, Amerika, voorkom. Boor kom ook in boraks (natriumsout van boorsuur) en boorsuur (’n verbinding van suurstof en waterstof) voor. Boraks is in die nabygeleë Death Valley gedurende die 1870’s ontgin, gesuiwer en dan per muilkar na Mojave vervoer. 6 Dit word ook in vulkaniese bronwater (dit is water wat deur lawarotse filtreer) gevind. Soos vroeër genoem, kom boor in plante voor en dus ook in die mensdom se kos. ’n Mense neem gemiddeld ongeveer 2 mg boor daagliks deur kos in en ongeveer 60 g in ’n leeftyd. 1
Waarvoor word dit gebruik?
- Harde, hittebestande glasware soos maatbekers word met boor versterk. Die glas wat byvoorbeeld in die bekende Pyrex-glasware gebruik word, kry booroksied by om dit harder te maak.
- TV’s se plat skerms word uit glas wat boor bevat, gemaak. Dit maak dit bestand teen krappe.
- Boorsuur is ’n natuurlike ontsmettingsmiddel en word gebruik om snye en skrape te behandel.
- Boor word ook in vuurwerke gebruik om ’n groen kleur te weeg te bring.
- Boor word in sommige vuurpyle gebruik. 7
- Weermagtenks se bakwerk bevat boorkarbied wat ’n verbinding van boor en koolstof is. 2 Boorkarbied is een van die hardste materiale wat in die vervaardiging van byvoorbeeld weermagvoertuie gebruik kan word. 8
- Talle verbindings van boor word in oogdruppels, waspoeier en selfs bleikmiddels gebruik.
- Verbindings van boor word ook gebruik as preserveermiddels in die kosbedryf.
- Boor se boron-10-isotoop is baie goed daarmee om neutrone te absorbeer, en dit is ’n eienskap wat waardevol in kernkrag is. Dit is waarom kernkragreaktors met toestelle toegerus word wat van boor en ander elemente gemaak word.
- Boor word ook gebruik om staal te verhard. 9
Basiese eienskappe van boor
Atoomgetal (getal protone in die kern): 5
Simbool op die periodieke tabel: B
Relatiewe atoommassa (Ar): 10,811
Fase van materie teen kamertemperatuur: Vaste stof
Kookpunt: 2 550 °C
Smeltpunt: 2 200 °C 4
’n Nota oor atoommassa
’n Massaspektrometer kan gebruik word om atoommassa akkuraat te bereken. Wetenskaplikes het ’n standaardmassa van 12 ame (atoommassa-eenheid) aan die koolstofatoom (koolstof-12) toegeken. Die massa van koolstof-12 is 1,99 x 10-26 kg, en ander atome se massa kan relatief tot hierdie atoommassakonstante bepaal word.
Vandag praat wetenskaplikes van die relatiewe atoommassa (Ar). Hierdie waarde het geen eenheid nie, want dit is slegs ’n syfer wat aandui hoeveel maal groter een atoom van die spesifieke element is as een twaalfde van die massa van ’n koolstof-12-atoom. 10
Bohr-model
Die Deense wetenskaplike Niels Bohr (1885-1962) het ’n atoommodel voorgestel. Hierdie model word soms die planetêre atoommodel genoem. 11 Die elektrone beweeg in hul spesifieke energievlakke al óm die kern. Deur die aantal energievlakke en elektrone te tel, kan die atoom maklik uitgeken word. 7
’n Atoom is die kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat selfstandig of in verbinding met ander atome kan bestaan. Atome bestaan weer uit kleiner deeltjies wat subatomiese deeltjies genoem word. Daar is drie soorte subatomiese deeltjies, naamlik elektrone, protone en neutrone. Die booratoom het ’n atoomgetal van 5. Dit beteken dat die atoom vyf protone het. Atome het ’n neutrale lading, en daarom is daar ook vyf elektrone wat óm die kern beweeg. Die buitenste energievlak het drie elektrone. Dit het ook ses neutrone wat saam met die protone in die kern voorkom. Boor het ses isotope. 7
Woordbank
atome | Die kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat selfstandig of in verbinding met ander atome kan bestaan. |
atoomgetal | Die getal protone in die kern van die atoom. |
atoommassa | Word ook massagetal genoem. Dit is die totale aantal protone en neutrone in die kern van die atoom. |
boorgroep | Groep 3 van die periodieke tabel. Hierdie elemente is nie baie reaktief nie, maar reageer wel met suurstof om oksiede te vorm. Hulle word ook nie in hul suiwer vorm in die natuur gevind nie. Al die atome in hierdie groep het drie elektrone in hul buitenste energievlak. 2 |
chemici | ’n Vakkundige in die gebied van chemie. |
elektrone | Baie klein, negatief gelaaide deeltjies (partikels) wat in die energievlakke van ’n atoom rondbeweeg. Elektrone maak die vorming van chemiese verbindings moontlik. 13 |
element | Dit is ’n stof wat saamgestel is uit atome wat dieselfde atoomgetal het. |
geleier | ’n Stof wat hitte of elektrisiteit maklik daardeur laat vloei. |
halfmetaal | ’n Element wat oor eienskappe van metale sowel as niemetale beskik. |
isoleerder | ’n Materiaal wat nie toelaat dat hitte of elektrisiteit daardeur vloei nie. |
isotope | Enigeen van twee of meer vorme van ’n element wat dieselfde atoomgetal (protone) en eenderse chemiese eienskappe het, maar waarvan die atoommassa en radioaktiewe gedrag verskil. Die aantal protone en elektrone is dus dieselfde, maar die aantal neutrone verskil. |
kognitiewe | Wat verband hou met kognisie (dit is die vermoë van sommige lewende wesens om inligting uit hul omgewing te bekom en om dit deur die brein te verwerk). |
meteoriet | ’n Stuk rots wat deur die hemelruim beweeg. |
oksied | ’n Verbinding waarin suurstof met ander elemente reageer. |
neutrone | Neutrale deeltjies (partikels) wat geen elektriese lading het nie en saam met protone in die kern van die atoom voorkom. ’n Neutron en proton het dieselfde gewig. 13 |
periodieke tabel | Dit is die tabel van die elemente, gerangskik volgens toenemende atoomgetal, sodat elemente met soortgelyke eienskappe in dieselfde vertikale kolom voorkom. |
protone | Positief gelaaide deeltjies (partikels) wat in die kern van ’n atoom voorkom en die elektrone in posisie hou. Atome het ewe veel protone as elektrone en het dus ’n neutrale lading. 13 |
spoorelement | Enigeen van ’n aantal minerale of chemiese elemente waarvan ’n plant ’n klein hoeveelheid nodig het om goed te kan groei en gesond te bly. |
verbindings | Dit is die samevoeging van ongelyksoortige atome tot molekules. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor boor
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor
Boor: ’n Interessante element
Kyk net na boor se voordele
Hoekom is dit ’n ingewikkelde element?
Kyk hoe lyk oobleck