Vinnige feite

  • Volgens die jongste syfers wat beskikbaar was (Januarie 2023) toe hierdie artikel geskryf is, het 6 338 mense die piek bereik. Jy kan by hierdie skakel ’n volledige lys van die persone se name kry. In hierdie lys verskyn 36 Suid-Afrikaners se name. 17
  • Die nuus van Edward Hillary en Tenzing Norgay se sege op Everest het Brittanje op 2 Junie 1953 bereik, dieselfde dag waarop koningin Elizabeth II gekroon is. Die nuus van hulle prestasie is in Londen se strate al langs die roete wat haar koets gevolg het, oor luidsprekers aangekondig. 18
  • Die geologiese proses waardeur die Himalaja-gebergtes tot stand gekom het, is nie verby nie. Dit beteken Berg Everest word elke jaar omtrent 4 mm hoër. 19
  • Geoloë het fossiele op Everest se kruin gevind wat aandui dat dié gebied miljoene jare gelede onder die see was. Met dieselfde verskuiwing wat Everest nou nog laat groei, het Berg Everest waarskynlik 60 miljoen jaar gelede eers ’n berg geword. 19
  • Dit neem tien weke en kos ten minste R600 000 om Berg Everest te klim. Die meeste klimmers bestee amper R2 miljoen. 19
  • Moderne helikopters kan tot op 5 000 meter vlieg. Dit beteken hulle kan tot by Everest se Basiskamp kom. Stralers kan hoër vlieg as wat Everest hoog is, maar hulle kan nie daar land nie. Enige reddingspoging op Everest moet dus deur mense uitgevoer word. 19
  • Springspinnekoppe is die enigste diere wat permanent bokant 6 000 m op Berg Everest woon. Laer af is daar wel sneeuluiperds, tahrs en jakke. 19
Grafika: Viva

Berg Everest is die hoogste berg op aarde, met sy piek ongeveer 8 848,00 meter (29 028,87 voet) bo seespieël. Eintlik is Berg Everest nie ’n berg op sy eie, soos Berg Kilimandjaro hier in Afrika nie, dit is deel van ’n bergreeks, die Himalaja-gebergtes, wat ook die hoogste bergreeks in die wêreld is. Die Himalajas is in Asië, noord van Indië. Dit vorm die grens tussen Nepal en Tibet, ’n outonome gebied van China. Die grens tussen die twee lande loop trouens presies oor die piek van Berg Everest. 1

Die hoogte van Everest

Die term “seespieël” (in Engels: sea level) is die maateenheid waarmee ons plekke op aarde se hoogte of diepte aandui. Die woord verwys na die oppervlak van die see, en dit is die vaste punt waarvandaan ’n mens berge se hoogte meet. As ons dus wil aandui hoe hoog ’n plek op aarde is, sê ons dit is x meter bo seespieël, en as ons wil aandui hoe diep ’n plek onder die see is, sê ons dit is x meter onder seespieël. 2

Daar was vir lank nie eenstemmigheid oor die hoogte van Everest se piek nie, want spanne van verskillende lande het nie die piek op dieselfde manier gemeet nie. Sommige spanne het die berg sonder die ys op die piek gemeet, ander het die dikte van die ys bygetel, ander het die sneeu bo-op die ys bygetel. Maar in 2020 het die spanne van Nepal en China ooreengekom op die amptelike hoogte soos wat dit hier bo gegee word. 1

Sommige wetenskaplikes beskou nie Everest as die hoogste berg op aarde nie. Hulle meet berge nie van die see se oppervlak af nie, maar van die basis van die berg tot by sy piek. As ’n mens so meet, is die Hawaiiese vulkaan Mauna Loa op Hawaii-eiland die hoogste berg, want vanaf sy basis onder die see tot by sy kruin is hy meer as 11 000 m hoog. 3

Berg Everest is ook nie die verste punt van die aarde se kern af nie. Die kruin van Berg Chimborazo in Ecuador is die vaste punt op aarde wat die verste vanaf die planeet se middelpunt is. Dit is omdat die aarde se omtrek by die ewenaar groter as om die pole en berge op die ewenaar gaan; dit steek dus verder in die atmosfeer in. 3

Die meeste mense gebruik egter die tradisionele meetmetode, en beskou Berg Everest as die hoogste berg. Dit bly vir bergklimmers een van die grootste uitdagings om sy kruin te bereik.

Die naam “Everest”

Die plaaslike inwoners het natuurlik die berg geken lank voordat Westerlinge dit “ontdek” het. Die Tibettaanse naam vir die piek is Chomolungma, wat ‘moedergodin van die wêreld’ beteken. Die naam in Sanskrit, wat in Nepal gebruik word, is Sagarmatha, wat ‘die hemel se piek’ beteken. 1

Die naam wat ons ken, is eers later aan die berg gegee. In 1802 het die Britte die Groot Trigonometriese Opname (in Engels: The Great Trigonometrical Survey) van stapel gestuur om die Indiese subkontinent te karteer. Swaar toerusting, ruwe terrein, moesonreëns en malaria het hul werk uiters moeilik gemaak. Nietemin kon die landmeters verbasend akkurate metings neem. Hulle het gou bewys dat die Himalajas, en nie die Andes nie, soos wat almal tot op daardie stadium geglo het, die wêreld se hoogste bergreeks was. 4

Teen 1852 het hulle ’n piek raakgesien wat bo die ander pieke uitgetroon het, en teen 1856 het hulle sy hoogte as 29 002 voet (die Britte meet in voet, nie in meter soos ons nie) bo seespieël bereken. Selfs met hul outydse toerusting was hulle net met 27 voet uit! Aanvanklik het hulle die berg Piek XV genoem – die Romeinse syfer vir Piek 15. In 1865 het die berg sy eie naam gekry toe die Britte dit genoem het na sir George Everest, die Britse landmeter-generaal in Indië van 1830 tot 1843. 1

Die mense van Everest

Die Britte was natuurlik nie die eerste mense wat van Everest geweet het nie. Die inwoners in die gebied het die piek reeds eeue lank geken, daarom kan ons nie regtig sê die Britte het die piek ontdek nie. Hulle het net van die piek bewus geword, die posisie en hoogte aangeteken en toe die res van die wêreld van die piek laat weet.

Die plaaslike inwoners van die Himalajas is Sjerpas, en hulle praat ’n taal met die naam van Sjerpa. Die woord beteken ‘Oosterling’, omdat hulle voorouers uit Oos-Tibet kom. Hulle het vir baie eeue ’n bestaan ​​gemaak as handelaars (sout, wol en rys), herders (jakke en beeste) en boere (aartappels, gars en bokwiet). Die meeste Sjerpas is Boeddhiste, en alle Sherpas behoort aan een van 18 clans en het ’n clannaam. 5

Hoewel hulle aan die voet van die Himalajas gewoon het, het Sjerpas eeue lank nie die berge geklim nie, want hulle het geglo dit is die woonplek van die gode. Alhoewel hulle sedertdien bergklim as ’n lewenswyse aanvaar het, het Sjerpas steeds groot respek vir die berge, en hulle keer dat buitelandse klimmers betrokke raak by aktiwiteite wat die gode sal kwaad maak, soos om diere dood te maak en vullis te verbrand. 5

Omdat ekspedisielede die plaaslike inwoners om die berge gehuur het om hul toerusting en kos te help dra, verwys ons vandag na die helpers op die ekspedisies as “sjerpas”.

Die struktuur van Everest

Everest is gevorm soos ’n driesydige piramide. Die drie plat vlakke wat die sye vorm, word in Afrikaans “hange” genoem (in Engels: faces), en die lyn waar twee vlakke verbind, staan ​​bekend as ’n rif.

Die Noordelike en Oostelike hang is aan Tibet se kant, en die Suidwestelike hang is aan Nepal se kant. 1 Dit is vir klimmers belangrik, want die roetes teen die berg op is nie almal ewe maklik nie, en soms is dit moeilik om permitte by die Chinese regering te kry, wat beteken dat die “maklike” roete aan die suidwestekant nie gebruik kan word nie.

Die gevare van Everest

Enige berg wat “die hoogste” op aarde is, gaan mense natuurlik fassineer. Bergklimmers wil graag sy kruin bereik, want dan kan hulle sê hulle het op die hoogste piek op aarde gestaan.

Maar Everest is nie sommer net vir klim nie. Die lugdruk op Everest se kruin is ongeveer ’n derde van die lugdruk op seevlak, wat ’n klimmer se vermoë om genoeg suurstof in te asem, aansienlik verminder.

Enige klimmer wat hoër as 3 000 m geklim het, kan hoogtesiekte (in Engels: mountain sickness) kry. Die simptome is baie soos griep: Jy voel naar, duiselig, het hoofpyn en sukkel om asem te haal. 6 Wetenskaplikes het bepaal dat die menslike liggaam nie in staat is om onbepaald bo 5 800 m te bly nie, want die min suurstof doen skade aan die selle in die liggaam. 7 Die dele van ’n bergpiek bokant 8 000 m staan bekend as die doodsgebied (in Engels: death zone) omdat ’n mens daar van suurstofgebrek kan doodgaan. Omdat dit so hoog en so koud is, loop ’n mens ook gevaar om vriesbrand (in Engels: frostbite) op te doen. 8

Die eerste mense op Everest

Die Britte het ’n hele paar ekspedisies gestuur om Everest se kruin te bereik, maar sonder sukses. In Mei 1953 het die Koninklike Geografiese Vereniging (in Engels: Royal Geographical Society) weer ’n  ekspedisie Everest toe gestuur met die doel om die kruin te bereik. Die leier van die ekspedisie was John Hunt, ’n kolonel in die Britse weermag, met 12 manne wat saam met hom die tog sou aanpak. Een van hulle was ’n Nieu-Seelander met die naam van Edmund Hillary. Een van die sjerpas saam met hulle was Tenzing Norgay. 1

Op 28 Mei het ’n groep van vyf manne tot op 8 500 meter op die Suidoosrif gevorder en daar oornag. Vroeg die oggend van 29 Mei het Hillary en Tenzing hul aanslag op die kruin gemaak. Die eerste uitdaging was ’n taamlik gelyk rotsrif van sowat 120 meter lank met ’n yswal aan weerskante. Aan die regterkant was die Oostelike hang, en aan die linkerkant was die Suidwestelike hang, albei loodregte kranse. As ’n mens daar sou skeef trap of gly, is jy dood! Die laaste struikelblok was ’n steil rots-en-ys-formasie (deesdae die Hillary-trap). Hoewel dit net sowat 17 meter hoog is, is die formasie steil, skuins en moeilik om te klim. Hillary en Tenzing het net ysklimtoerusting gehad. Eers het Hillary en toe Tenzing die versperring aangepak net soos ’n mens ’n rotsskoorsteen sou klim – hulle het hul rûe teen die rotsmuur gedruk en hul voete in ’n kraak tussen die rots en ys ingewig. 1

Om 11:30 op 29 Mei 1953 het Edmund Hillary en Tenzing Norgay die kruin van Everest bereik. Die twee manne het omhels. Hillary het foto’s geneem, en die twee het gesoek na tekens dat daar al ander mense op die kruin was, maar niks gevind nie. Tenzing, ’n Boeddhis, het kos op die berg gelos; Hillary het ’n kruis gelos. Die twee mans het lekkers geëet en toe afgegaan. Hulle het sowat 15 minute op die toppunt van die wêreld deurgebring. 1

Edmund Hillary en Tenzing Norgay

Everest se ander eerstes

  • 1921: Die eerste ekspedisie onder leiding van die Britte begin die berg verken. 9
  • 1922: Sewe sjerpas sterf in ’n sneeustorting en word die eerste opgetekende sterftes op Everest (sien die beskrywing van die gebeurtenis verder ondertoe). 9
  • 1960: ’n Chinese span bereik die kruin via die Noordrif. 9
  • 1963: Die eerste Amerikaner, James Whittaker, bereik die kruin. 9
  • 20 Mei 1965: Die sjerpa Nawang Gombu is die eerste persoon om die kruin twee keer te bereik. Op dié stadium kon die kruin nog net 17 keer bereik word, en twee van daardie kere was dit hy. 9
  • 16 Mei 1975: Junko Tabei van Japan word die eerste vrou op die kruin. 9
  • 8 Mei 1878: Peter Habeler (Oostenryk) en Reinhold Messner (Italië) bereik die kruin sonder ekstra suurstof. 9
  • 17 Februarie 1980: Die eerste klimmer wat die kruin gedurende die winter bereik, is ’n Pool genaamd Krzysztof Wielicki. 9
  • 20 Augustus 1980: Reinhold Messner kry dit reg om die kruin heeltemal op sy eie te bereik. 9
  • 10 Mei 1990: Die eerste kind van ’n persoon wat op die kruin was, bereik die kruin: Peter Hillary van Nieu-Seeland. 9
  • 25 Mei 1996: Die eerste Suid-Afrikaners, Ian Woodall en Cathy O’Dowd, bereik die kruin via die Suidelike roete. 10
  • 1996: Cathy O’Dowd bereik weer die kruin, hierdie keer via die Noordrif. Sy word die eerste vrou in die wêreld wat die kruin via die twee verskillende roetes bereik. 10
  • 27 Mei 1998: Die eerste persoon wat al ’n ledemaat verloor het, Tom Whittaker van Brittanje, bereik die kruin. Sy voet is ná ’n ongeluk afgesit. 11
  • 1999: Sjerpa Babu Chiri word die eerste, en enigste persoon tot dusver, wat op die kruin oornag het. 9
  • 2001: Die Amerikaner Erik Weihenmayer word die eerste blinde persoon op die kruin van Everest. 9
  • 22 Mei 2010: Jordan Romera van Amerika word die jongste persoon ooit op die kruin (13 jaar en vyf maande). 12
  • 21 Mei 2013: Die eerste vroulike persoon wat al ’n ledemaat verloor het, bereik die kruin. Sy is Arunima Sinha, wat vir Indië voetbal en vlugbal gespeel het en toe haar been in 2011 as gevolg van ’n gewapende roof verloor het. 9
  • 25 Mei 2014: Malavath Purna van Indië word die jongste meisie wat die kruin bereik (13 jaar en ses maande). 11
  • Volgens die syfers van Januarie 2023 is die persoon wat die piek die meeste kere uitgeklim het, die Nepalese sjerpa Kami Rita. Hy het 26 keer op die kruin gestaan. 13

Everest se ergstes

Die mense wat ons hier bo genoem het se prestasies is merkwaardig juis omdat dit so gevaarlik is om die berg te klim.

Afgesien van die fisieke omstandighede op die berg – die dun lug, die koue, die gevaar van sneeustortings, die storms – is Everest baie afgeleë. ’n Mens kan nie met ’n ambulans soontoe ry om beseerde klimmers te gaan oplaai nie, en ’n helikopter kan ook nie so hoog vlieg nie. As ’n klimmer dus naby die piek sou val, seerkry of hoogtesiekte sou ontwikkel, is daar eintlik niemand wat kan help nie, want die ander klimmers in die groep moet self van die berg afkom. As hulle iemand moet terugdra, stel hulle hul eie lewens in gevaar.

Dit is dus nie vreemd dat Everest ’n hele klomp mense se dood veroorsaak het nie. Die volgende is die bekendste rampe op Everest. Sommige is later ook in boeke en films gebruik:

  • In die lente van 1970 het ’n ambisieuse filmspan ’n dokumentêr geskep oor die Japannese klimmer Yuichiro Miura wat teen Everest sou af ski. Miura het dit reggekry, en die dokumentêr The Man Who Skied Down Everest het ’n Oscar-toekenning gewen, maar die prys daarvoor was hoog: Ses sjerpas is in ’n sneeustorting in die Khumbu-yswaterval dood. 14
  • Everest se Wesrif is baie meer verraderlik as die tradisionele roete via die Suidoosrif. Die eerste poging om die kruin via die Wesrif te bereik, was in September 1974 deur ’n Franse ekspedisie. Die span, onder leiding van Gerard Devouassoux, het in laat Augustus opgedaag, die tyd van die jaar met die hoogste reënval. Moesons het die span geteister, en op die aand van 9 September het ’n verpletterende sneeustorting die Franse kamp platgevee. Vyf sjerpas en Devouassoux is heeltemal begrawe. Hulle oorskot is nooit gevind nie. 14
  • Van Brittanje se beste klimmers het in Junie 1922 ’n ekspedisie na Everest onderneem. Die span moes stormsterk winde, swaar sneeu en vriesbrand trotseer, en hulle het probleme met suurstofbottels gehad. Hoewel dit reeds moesonseisoen was, het George Mallory en sy span besluit om nog een keer te probeer om die kruin te bereik. Op omtrent 4 000 m het hulle ’n geluid gehoor soos ’n ontploffing, die hele helling het meegegee, en sewe sjerpas is oor ’n yskrans gevee. Mallory was absoluut verpletter deur die tragedie en het belowe om nooit weer ’n span sjerpas te laat klim as daar nie ook ’n Brit aan dieselfde tou vasgemaak is nie. 14
  • 2019 was een van die dodelikste seisoene in Everest se geskiedenis. Wat dit so erg maak, is dat dit nie as gevolg van ’n storm of sneeustorting was nie, maar bloot die aantal mense wat die berg uitklim. As daar te veel mense op een slag die kruin probeer bereik, drom hulle saam by die Hillary-trap, wat beteken dat hulle te lank in die doodsgebied deurbring. Dit was juis in daardie jaar wat ’n klimmer met die naam Nirmal Purja die foto van die opeenhoping geneem het. Dit het later soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. 11 mense is daardie jaar op Everest dood. 14
  • Op 18 April 2014 was ’n span sjerpas besig om toue en lere in die Khumbu-yswaterval reg te maak. Terwyl hulle in die nou kloof gewerk het, het ’n ysblok van ongeveer 150 000 ton boontoe weggebreek en hulle in ’n sneeustorting begrawe. Sestien sjerpas is dood. 14
  • Op 25 April 2015 het ’n aardbewing van 7,8 op die Richterskaal twee sneeustortings uit teenoorgestelde rigtings veroorsaak, wat reg op die klimmers aan die voet van die berg afgestorm het. Dit was die ergste aardbewing in byna 80 jaar, en 22 mense is dood. Onder die slagoffers was Dan Fredinburg, hoof van privaatheid vir Google X. Hy en drie ander Google-werknemers was daar om ’n Street View-opname van die roete teen Everest op te maak. 14
  • Everest se donkerste dag het op 10 Mei 1996 aangebreek. Dit was die dag waarop ’n Amerikaanse dokter met die naam van Beck Weathers saam met sy span op pad na die kruin in ’n storm beland het. Hulle het in hul tente geskuil, maar hul suurstof was op, en Weathers het boonop vroeër in die dag blind geraak omdat hy vroeër oogoperasies gehad het en die dun lug sy oë aangetas het. Agt ander klimmers is daardie nag dood.Toe die reddingsgroep die volgende dag daar opdaag, het hulle Weathers buite gekry en met yspikke die ys van sy gesig afgekap. Hulle kon sien dat hy nog asemhaal, maar hy was in ’n diep koma, en hulle het besluit om liewer die ander oorlewendes te help. Hulle was oortuig dat hy geen kans op oorlewing gehad het nie, en daardie aand het hulle van die kamp laer af sy vrou laat weet dat hy dood is.Weathers het egter laat die middag van 11 Mei sy bewussyn herwin en afgestrompel na die laer kamp toe, vanwaar hy na veiligheid gebring is. Hy het vriesbrand gehad, en sy regterarm, linkerhand se vingers en sy neus moes afgesit word, maar hy het oorleef. Jon Krakauer, ’n spanmaat van Weathers op die ekspedisie, het ’n boek daaroor geskryf: Into Thin Air. Weathers het self later ’n boek oor sy ervaring geskryf: Left For Dead. In 2015 is ’n suksesvolle film, Everest, oor Weathers se storie gemaak. 15

Nuwe uitdagings vir Everest

Toe die eerste ekspedisies na Everest onderneem is, was dit ’n verskriklike moeilike en duur reis. Deesdae is daar reisagente wat toere na Everest adverteer! Sagarmatha Nasionale Park is in 1976 geskep om die berg en sy omgewing te beskerm, en dit het in 1979 ’n Wêrelderfenisgebied van die Verenigde Nasies (UNESCO) geword. Die park kry elke jaar ongeveer 100 000 besoekers, en al daardie mense plaas ’n las op die natuurlike omgewing.

Ontbossing

Ontbossing is ’n groot probleem omdat mense bome afkap om lodges te bou en vuurmaakhout vir toeriste te maak. Gedurende hoogseisoen is daar tot 500 mense per dag wat die staptog na Basiskamp aanpak, en die groot aantal besoekers verniel die omgewing. Maar die grootste probleem is op die berg self. 16

Baie besoekers

Meer as 600 mense per jaar probeer om gedurende die paar weke van die jaar wanneer weerstoestande net reg is, Everest se kruin te bereik. Vir elke klimmer is daar ten minste een sjerpa. Die berg het so oorvol geraak dat klimmers dikwels in ’n ry moet staan om die kruin te bereik, en as hulle daar aankom, is daar nie plek om te beweeg nie. 16

Afval

Elke klimmer bring weke op die berg deur om gewoond te raak aan die lugdruk. Gedurende daardie tyd genereer elke persoon gemiddeld ongeveer agt kilogram afval, en die afval bly op die berg agter. Die berg is besaai met leë suurstofhouers, stukkende tente, koshouers en selfs menslike ontlasting. By Basiskamp is daar toiletgeriewe met groot versamelvate wat weggedra en leeggemaak kan word. Maar teen die berg op is dit nie moontlik nie. 16

Niemand weet presies hoeveel afval op die berg is nie, maar dit is tonne. Die gletsers is vol gemors, en kampe loop oor van hope menslike afval. Klimaatsverandering veroorsaak dat die sneeu en ys smelt, wat afval wat dekades gelede al daar gestort is, blootlê. Al daardie afval is besig om die natuurlike omgewing te vernietig, en vir die permanente inwoners in die valleie hou die besoedeling van hul water ernstige gesondheidsrisiko’s in. 16

Daar is wel pogings om die berg skoon te maak. Die Nepalese regering vra ’n deposito van $4 000 (ongeveer R80 000) per klimmer wat die klimmer terugkry as hulle hul afval van die berg af terugbring. Die plaaslike inwoners het ook ’n afvalbeheerkomitee wat besoekers oplei oor die omgewing en seker maak almal op die berg het permitte om daar te wees.

Daar is heelwat stemme wat deesdae opgaan dat daar minder permitte per jaar toegestaan moet word, juis om die besoedeling op die berg en die oorbevolking op die piek te keer. Maar die permitte genereer geld in ’n arm land, en die toeriste skep werksgeleenthede vir die plaaslike bevolking. Dit bly dus uiteindelik elke klimmer se verantwoordelikheid om hul besoek aan Berg Everest so te bestuur dat die omgewing nie negatief beïnvloed word nie. 16

Woordbank

aanslag op die kruin gemaak Om ’n uitdaging aan te pak met die doel om dit te oorwin.
ambisieuse Met baie ambisie; met baie dryfkrag om iets te bereik wat moeilik of amper onmoontlik is.
Andes Bergreeks in Suid-Amerika.
deposito ’n Bedrag geld wat betaal word as ’n soort waarborg dat iets gedoen sal word; as dit gedoen is, kry die betaler sy deposito terug.
doodsgebied Die dele van ’n bergpiek bokant 8 000 m waar die lug so dun is dat ’n mens se liggaam permanente skade kan opdoen en jy daarvan kan doodgaan.
ewenaar ’n Denkbeeldige lyn om die breedste deel van die aarde die verste van die pole af.
hoogseisoen Die tyd van die jaar wanneer almal na ’n plek toe wil gaan.
hoogtesiekte ’n Mediese toestand waaraan sommige bergklimmers ly omdat hulle liggame nie aan die dun lug gewoond raak nie. Erge hoogtesiekte kan klimmers se dood veroorsaak.
Indiese subkontinent Die deel van Asië wat bestaan uit Indië en die lande wat aan Indië grens.
jakke ’n Soort bergbees met lang hare wat in die Himalajas voorkom.
lugdruk Ook: atmosferiese druk. ’n Mens kan die verskil in lugdruk voel as ’n mens byvoorbeeld vinnig van ’n hoë na ’n lae plek beweeg – ’n mens se ore slaan toe.
moesons ’n Seisoen in Suidoos-Asië waartydens dit baie lank en hard reën, en dikwels oorstromings veroorsaak. In hoërliggende dele sneeu dit dan ook baie.
ontbossing Groot bosse wat op groot skaal uitgekap word.
oorskot Die liggaam of dele van die liggaam wat oorbly nadat die mens dood is.
permitte ’n Dokument wat deur ’n owerheid uitgereik word wat aandui dat ’n mens spesiale toestemming het om iets te doen.
Sanskrit Een van die oudste tale in die wêreld wat vandag nog in groot dele van Asië gebruik word.
seespieël Die maateenheid waarmee ons plekke op aarde se hoogte of diepte bepaal.
sege Oorwinning.
tahrs ’n Soort bergbok met lang hare wat in die Himalajas voorkom.
verraderlik Onbetroubaar; ’n afgeleide vorm van “verraad”.
vriesbrand ’n Toestand wat ontstaan as jou liggaam aan buitengewoon koue toestande in hoë liggings blootgestel word. Omdat jou hart stadiger klop in die dun lug en in koue, is die suurstof in jou bloed nie genoeg nie. Veral jou verste ledemate van jou hart af, soos jou hande en voete, gaan dood. Die ledemate moet dan afgesit word om te keer dat dit die res van jou lyf vergiftig.
Westerlinge Mense met ‘n Westerse kultuur; mense wat soos Europeërs leef.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Everest

Kyk ook hier

Jy kan by hierdie skakel ’n driedimensionele blik op Everest kry. Die roetes teen die berg op word duidelik aangedui.

Hier kan jy kyk hoe ’n groep stappers tot op die kruin klim.

In hierdie video kan jy sien hoe die sjerpas te werk gaan om die roete vir klimmers oor ‘n ysskeur te maak.

 

Grafika: VivaGrafika: VivaGrafika: VivaGrafika: VivaGrafika: Viva
Gepubliseer op: 26 Julie 2024 | Bygewerk op 26 Julie 2024