Vinnige feite
- Angola se mees noordelike provinsie is Cabinda. Dit is ’n eksklawe van Angola, en word van die res van Angola geskei deur ’n 60 km wye strook van die DRK. 6
- Die Kalandula-waterval is een van Afrika se grootste watervalle, en waarskynlik die grootste as dit by watervolume kom. 14
- Daar is van so 1982 af gedink dat die swartwitpense van Angola uitgesterf het. Hulle is egter in 2006 herontdek, maar bly steeds ’n bedreigde spesie. 14
- Tussen 1580 en 1680 is meer as ʼn miljoen slawe uit Angola na Brasilië uitgevoer. 14
Die Republiek van Angola, meestal bekend as Angola, is ’n land in suidwestelike Afrika. Dit grens aan die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) in die noorde, Zambië in die suidooste, Namibië in die suide en die Atlantiese Oseaan in die weste. Angola het ook ’n eksklawe, Cabinda, wat noord van Angola deur die Republiek van die Kongo, die DRK en die Atlantiese Oseaan omring word.
Die land se naam is deur Portugese afgelei van die woord “ngola”, ’n ystervoorwerp wat koningskap onder die Mbundu- en Lunda-mense simboliseer, en die titel vir die koning van Ndongo, ’n vroeë Angolese koninkryk. 1
Oorsig
Amptelike naam | Republiek Angola. Plaaslik: República de Angola (Portugees). |
Engelse naam | Angola/Republic of Angola. |
Ook/voorheen bekend as | Angola; Repubilika ya Ngola. |
President | João Lourenço (sedert 26 September 2017). 1 |
Hoofstad | Luanda. |
Grootste stad | Luanda (bevolking 2 776 168). 2 |
BBP (bruto binnelandse produk) | $106 714 000 000 (2022), groeikoers 3,05%. 3 |
BBP per capita | $2 299 (2022). 3 |
Bevolking (wêreldrang) | 2024: 37 583 746 (42ste). 2 |
Bevolkingsdigtheid | 29 mense per km². 2 |
Regeringsvorm | Republiek met eenkamerstelsel. 4 |
Amptelike tale | Portugees. Nasionale tale: Kikongo, Chokwe, Umbundu, Kimbundu, Ganguela, Kwanyama. |
Totale oppervlak (wêreldrang) | 1 246 700km2 (32ste). 5 |
Geldeenheid | Angolese kwanza (AOA), opgedeel in 100 lwei. |
Internetkode | .ao |
Skakelkode | +224 |
Tydsone | UTC +1 |
Byvoeglike naamwoord | Angolese. |
Inwoner | Angolees. |
Geskiedenis
Die eerste inwoners was Khoisan-jagterversamelaars. 6
Vroeë migrasies
Hulle is amper heeltemal deur Bantoesprekende boere wat hulle rondom die sesde eeu uit die noorde in die gebied kom vestig het, verdryf of uitgewis. 1 Daar is vandag net hier en daar klein groepies Khoisan oor. 6
Die belangrikste vroeë koninkryk was die BaKongo of Kongo, 6 en ander noemenswaardige koninkryke was die Ndongo, Lunda en Benguela. 7 Die Kongo-koninkryk het egter oorheers. Van die 14de tot die middel van die 19de eeu het hul invloed dwarsoor Sentraal-Afrika en Angola gestrek. 1 Die Kongo se hoofstad was Mbanza-Kongo, geleë in die noordweste van vandag se Angola. 7
In die suide was die Ndongo die magtigste staat. Hul bekendste leier was Nzingha Mbande, ’n 17de eeuse koningin. 1
Kontak met Europeërs
Kontak met Portugese handelaars het in die laat 15de eeu begin. Die Kongo-, Ndongo- en Lunda-koninkryke het deel van die Portugese handelsnetwerke geword, wat sover as Indië en Suidoos-Asië gestrek het. 6 Angola het die middelpunt van Portugese slawehandel geword. 1 Die meeste slawe uit die gebied is na Brasilië geneem. 6
Die plaaslike mense is in die volgende paar eeue tot Christenskap bekeer. 7
Die Portugese het nedersettings langs die kus opgerig, onder meer by vandag se Luanda in 1575 en Benguela in 1587. Forte en handelsentrums het gevolg. Oorloë en verdrae het die Portugese uiteindelik toegelaat om die kusgebied oor te neem en die Angola-kolonie te skep. 8
Tussen 1641 en 1648 het Nederland die gebied kortliks beset, maar die Portugese het dit gou herverower. In die 1670’s het Portugese pogings om hul invloed verder uit te brei, misluk. 6
Die slawehandel het tot oorlog en spanning, en uiteindelik tot die ondergang van plaaslike koninkryke soos die Kongo en Ndongo, gelei. 7
Die slawehandel het ná die 1860’s afgeneem, en ander produkte soos grondboontjies, heuning, dierevelle, ivoor en rubber is vir uitvoere verbou. 7
Berlyn-konferensie, 1884-1885
In 1884 en 1885 het Europese magte die sogenaamde Berlyn-konferensie gehou om te besluit hoe hulle Afrika tussen hulle sou verdeel. 1 By hierdie geleentheid is die grense van Angola, soos dit vandag lyk, opgetrek. 6
Die Portugese was toe nog nie orals in beheer nie. Stryd met ander inheemse groepe het egter die Kongo-koninkryk in 1888 genoodsaak om die Portugese vir militêre ondersteuning te vra. Dit het weer vir die Portugese vastrapplek in die gebied gegee. 1
Die Britte het ook in die gebied doenig geraak, en het saam met die Portugese in mynbou, treinspore en landbou belê. Dit het wel dele van die land opgehef, maar baie van die werk is deur plaaslike dwangarbeid verrig. 6
Teen 1905 het die Portugese hul beheer oor die hele Angola, die binneland ingesluit, afgedwing. 7 Ná ’n mislukte opstand in 1914 het Portugal die Kongo-koninkryk ontbind, en daarna direk regeer. 1
Onafhanklikheid
Teen 1950 was daar al vir 500 jaar Portugese in die gebied. Die Angolese, en veral politieke organisasies soos die Non-Aligned Movement, het op onafhanklikheid en regte vir Angolese begin aandring.
Portugal het geweier om in te gee. Gewapende konflik tussen nasionalistiese guerrillavegters en die regering, soms bekend as die Portugese Koloniale Oorlog, het uitgebreek. 6 Die twee belangrikste nasionalistiese groepe was die Angolese Volksbevrydingsbeweging (MPLA) in 1956, onder Agostinho Neto, en die Angolese Nasionale Onafhanklikheidsbeweging (Unita) in 1966, onder Jonas Savimbi. 1
In 1974 het ’n staatsgreep in Lissabon, die hoofstad van Portugal, die regering daar tot ’n val gebring. Dit was die einde van Portugese imperialisme in Afrika. Angola is op 11 November 1975 onafhanklik verklaar. 6
Burgeroorlog (1975-2002)
Die Portugese het onttrek sonder om amptelik die mag aan iemand te oorhandig. Dit het Angola in chaos gedompel. 7
Die MPLA was in beheer in die hoofstad, en het daarop aangedring dat hulle die wettige regering is. Ná onderhandelings met Unita misluk het, het ʼn burgeroorlog in 1975 uitgebreek. Die oorlog het deel geword van die Koue Oorlog wat in daardie tyd gewoed het. Die MPLA is deur die Sowjetunie en Kuba ondersteun; Unita deur die Verenigde State van Amerika (VSA), Portugal, Brasilië en Suid-Afrika. 6
Die MPLA het voortgegaan om ’n sosialistiese ekonomie te skep, wat die ekonomie verwoes het. 7
Die oorlog het tot in 2002 voortgeduur, toe Unita se leier, Jonas Savimbi, in ’n veldslag gesterf het. Unita het ingestem om hul wapens neer te lê en die amptelike opposisie te word. 6 Die burgeroorlog was ná 27 jaar verby en die MPLA het geseëvier. 1
Huidige situasie
Sedertdien was die politieke situasie redelik stabiel, alhoewel daar deurentyd twyfel is oor hoe vry en regverdig die verkiesings werklik is. MPLA is steeds aan bewind, alhoewel Unita se ondersteuning onlangs gegroei het. 7
Geografie
Angola is die 7de grootste land in Afrika. Dit is rofweg vierkantig en omtrent 1 300km op sy wydste. 7 Oppervlaksgewys is dit klein bietjie groter as Suid-Afrika. 9
Landskap
Die landstreek in Angola rys skielik vanaf ’n dun kusstrook na hooglande verder wes, en begin dan weer daal na die middel van die kontinent toe. Die hoë landskap staan as die sentrale Bié-plato bekend. Ander hoogliggende gebiede is die Malanje-hooglande in die noorde en die Huíla-plato in die suide. 7
Angola se kuslyn is so net oor die 1 600 km lank. 1 Angola se belangrikste hawestede is Lobito, Luanda en Moçâmedes. 7
Die hoogste punt in Angola is Mount Moca, wat 2 620 m bo seevlak uitstyg. 2
Meer as helfte van Angola se grondgebied word deur woude bedek. 1
In die noorde vorm die Kongorivier die grens met die DRK. Die grootste rivier binne Angola se grense is die Cuanza (Kwanza)-rivier. Die Kunene- en Zambezi-rivier vorm deel van suidelike grense. 7
Klimaat
Angola is in die Suidelike Halfrond geleë.
Angola lê in die tropiese gebied, met duidelike seisoene. Die reënseisoen is van September tot Mei in die noorde en Desember tot Maart in die suide. Reënval hang grootliks af van waar jy is. Dit reën meer in die noorde: tot 1 800 mm per jaar in Cabinda. Luanda, wat aan die droë noordwestelike kus geleë is, kry 330 mm per jaar, en die suidelike deel van die kusstrook maar 50 mm. Angola loop gereeld in die somer onder droogtes deur.
Die temperature is minder wisselvallig as die reënval. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur in die noorde, by die mond van die Kongorivier, is 26 °C, en elders 19 °C. 7 By die kus is die gemiddelde temperatuur 16 °C in die winter en 21 °C in die somer. 6
Omgewingsprobleme en gevare
Oorbevolking lei tot oorbenutting van landbougrond en gronderosie. Laasgenoemde lei op sy beurt tot waterbesoedeling en aanslikking van riviere en damme. Angola het dan ook onvoldoende drinkwater.
Verwoestyning en ontbossing van die tropiese reënwoud in die noorde skep probleme soos verlore biodiversiteit.
Die vernaamste natuurlike bedreiging is oorstromings op die plato wat deur swaar reën veroorsaak word. 1
Landmerke
Angola se bekendste landmerk is Mbanza Kongo, die oorblyfsels van die hoofstad van die koninkryk van die BaKongo. Dit is ’n Unesco-Wêrelderfenisterrein. 10
Regering
Angola is ’n unitêre presidensiële grondwetlike republiek. 8
Regeringstrukture
Die grondwet maak voorsiening vir ’n verteenwoordigende demokrasie. Dit beteken mens stem vir ’n politieke party en nie ’n persoon nie. Die leier van die party met die meeste stemme word die president. ’n President kan vir twee termyne van vyf jaar elk dien, 7 en stel die kabinet aan.
Die parlement se 220 lede word direk verkies, en dien vir ’n termyn van vier jaar. 1
Administratief word Angola opgedeel in 18 provinsies. 7
Politieke partye
Die vernaamste politieke partye in Angola is:
- Die Angolese Volksbevrydingsbeweging (MPLA), tans die party aan bewind.
- Die Angolese Nasionale Onafhanklikheidsbeweging (Unita). 1
Buitelandse verdrae
Angola is lid van die Verenigde Nasies (VN), Afrika-Unie (AU) 7 Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrikaanse State (EGSAS/ECCAS), Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul). 1
Ekonomie
Die burgeroorlog en sosialistiese ekonomiese beleid het die ekonomie teen 2002 laat ineenstort. Voedselproduksie het basies tot stilstand gekom. 7 Landmyne, vlugtelinge, verwoeste infrastruktuur, 6 ongelykheid, grootskaalse korrupsie, menseregteskendings en wydverspreide armoede rem Angola se kanse op ekonomiese groei. 7
Sedert 2002 het die ekonomie stadig verbeter, meestal te danke aan die inkomste uit die uitvoer van olie. 6
Angola is ’n uiters ongelyke land, en die inkomste uit olie bevoordeel meestal net die regering en elite. 7 Werkloosheid is 14,5%, die armoedesyfer is 30%, en inflasie is hoog. 1 Wanvoeding, watertekorte en tekorte aan verbruikersprodukte is verdere probleme. 7
Ekonomiese bedrywighede
Die hoeksteen van Angola se ekonomie is olie en natuurlike gas. 7 Ander natuurlike hulpbronne sluit diamante, ystererts, fosfate, koper en goud in.
Om en by 45% van Angola se oppervlak word vir landbou gebruik. Daarvan is 41% vir weiding. Slegs 4% van Angola se grond is bewerkbaar. Die belangrikste gewasse wat in Angola verbou word, is kassawe, piesangs, mielies, soetpatats en pynappels.
Angola se industrieë sluit petroleum, minerale, sement, produksie van metale en visverwerking in. 1
Invoere en uitvoere
Angola se vernaamste handelsvennote is China, Indië, Frankryk, Portugal en Nigerië.
Die belangrikste uitvoerprodukte is koolwaterstowwe, petroleum, natuurlike gas en diamante. Invoere sluit geraffineerde petroleum, vleis, rys en palmolie in. 1 Angola het ’n positiewe handelsbalans. 7
Mense
Angola se bevolking is homogeen. Die burgeroorlog het egter politieke verdeling geskep wat steeds sigbaar is. Daar is ook reuse-ongelykheid tussen rykes en armes.
Etniese groepe en taal
Buiten ’n paar Europeërs en geïsoleerde groepies Khoisan is alle Angolese van Bantoesprekende afkoms.
Die grootste groep is die Ovimbundu-mense, wat Umbundu praat en om en by 37% van die bevolking uitmaak. Die tweede grootste groep is die Mbundu (Kimbundu), wat Kimbundu praat, en omtrent ’n kwart van die bevolking insluit. Kleiner groepe is die Bakongo en Mestizo (mense van gemengde Europese en plaaslike afkoms). 1
Angola se amptelike taal is Portugees. Dis die taal van die politieke leierskap, die omgangstaal en in baie plekke die enigste taal wat gepraat word. Pogings deur die regering om ander tale as opvoedingstale in te stel, het nog nie sukses behaal nie. 7
Opvoeding
Om en by 71% van Angola se bevolking is geletterd. 1
Angola bied gratis skoolopvoeding wat vir agt jaar verpligtend is. 7 Opvoeding is egter ’n krisis. Die burgeroorlog het helfte van die skole vernietig. As gevolg van die gebrek aan sowel skole as onderwysers het baie kinders nie toegang tot skole nie. 6 In die laaste paar jaar was daar tog vooruitgang.
Angola het verskeie kolleges, en tersiêre opvoeding word verskaf deur drie universiteite: Agostinho Neto-Universiteit, Catholic University of Angola en Jean Piaget University of Angola. 7
Demografie en bevolkingsverspreiding
Demografiese gegewens:
- Lewensverwagting: 63,2 jaar.
- Fertiliteitsvlak: 5,1 geboortes per vrou per jaar.
- Mediane ouderdom: 16,3 jaar.
- Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 47,5 per 1 000 geboortes.
- Sterftes onder vyf jaar oud: 68,8 per 1 000 geboortes. 11
Angola is nie baie dig bevolk nie. Die burgeroorlog het bevolkingsgetalle laag gehou. Daar was onlangs weer groei, en Angola het tans een van die hoogste geboortesyfers in die wêreld.
Amper 70% van Angolese woon in stede. Helfte van die plattelandse bevolking woon op die Bié-plato. 7 Meeste mense bly in die westelike dele van die land, naby die kus. 1
Die koloniale oorlog en burgeroorlog het ’n ernstige vlugtelingkrisis geskep. Baie mense moet hervestig word. Daar is ook buitelandse vlugtelinge, veral uit die DRK. 7
Siektes en ander probleme
Siektes soos malaria, cholera en MIV/vigs is algemeen, asook insekdraende siektes soos denguekoors. 1
Angola se mediese sorg het ’n gebrek aan infrastruktuur en mediese voorrade, medisyne ingesluit. 7
Geloof
Om en by 80% van die bevolking is Christelik. Daar is kleiner groepe wat tradisionele gelowe aanhang. Op sommige plekke het die Christelike geloof met plaaslike gelowe vermeng geraak.
Die MPLA was sosialisties en dus teen geloof gekant. Hulle het gelowige aktiwiteite probeer beperk. Sedert die afskaffing van sosialisme kan geloofsorganisasies weer openlik optree. 7
Kultuur en sport
Eeue van Portugese kontak het Angolese kultuur met Portugese kultuur vermeng. Dit sluit Rooms-Katolieke tradisies en gebruike in. 6 Die oorlog en sosialisme het die uitleef van kultuur vertraag. 7 Inheemse groepe op die platteland het hul eie tradisies. 6
Angola se gewildste sport is sokker, en hulle het al aan die eindronde van die Wêreldbeker-sokkertoernooi deelgeneem. 7 Basketbal is baie gewild, asook atletiek en boks. 12
Angola neem sedert 1980 aan die Olimpiese Spele deel. 13
Simbole
Angola het die volgende nasionale simbole:
- Vlag: Die rooi verteenwoordig vryheid en die swart die Afrika-kontinent. Die panga, halwe wiel en ster simboliseer die werkers en kleinboere.
- Nasionale dier: Swartwitpens.
- Nasionale kleure: Rooi, swart en geel.
- Volkslied: “Angola Avante” (Vorentoe Angola). 1
- Leuse: “Virtus Unita Fortior”. Dit is ’n Latynse frase wat “Deug is sterker as mens verenig is” beteken. 6
Woordbank
aanslikking | Wanneer grond of sand deur water weggevoer word en dan nat en slymerig êrens opdam. |
AU | (Afrika-Unie) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder. |
afskaffing | Om nie met iets voort te gaan nie en dit te eindig. |
beset | Met geweld oorneem/inneem; in besit neem. |
biodiversiteit | Dit is die groot verskeidenheid van lewe (diere, plante, ens.) op die aarde en die prosesse wat alles aan die lewe hou. Dit word dus gesien as die diversiteit ten opsigte van lewende organismes en die verskillende ekosisteme waarin hulle voorkom en in interaksie met mekaar verkeer. |
burgeroorlog | Oorlog tussen burgers van dieselfde staat. |
chaos | As iets ’n deurmekaarspul is. |
cholera | Besmetlike/bakteriese ingewandsiekte veroorsaak deur die kommabasil. |
demokrasie | ’n Regering of land is demokraties wanneer daar onder meer vryheid van spraak is en die lede daarvan aan die regering mag deelneem. |
denguekoors | Virus wat deur muskiete oorgedra word. |
dwangarbeid | Wanneer iemand gedwing word om werk te doen, gewoonlik word dit gebruik om werk wat in ʼn gevangenis gedoen word, te beskryf. |
eenkamerstelsel | Wanneer die wetgewende gesag of parlement van ’n land uit een huis bestaan. |
EGSAS/ECCAS | (Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrikaanse State) Organisasie vir die bevordering van ekonomiese samewerking in die Sentraal-Afrikaanse streek. |
eksklawe | ’n Deel van ’n land wat van die hoofgedeelte afgeskei is en deur ’n vreemde land ingesluit word. |
elite | ʼn Groep mense wat baie mag en invloed het omdat hul baie geld, kennis of spesiale vaardighede het. |
fertiliteitsvlak | Die vrugbaarheid van vroue, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee. |
forte | Versterkte militêre bouwerk/vesting; skans. |
fosfate | ’n Soort sout wat gewoonlik in bemesting (voedsel vir plante) gebruik word. |
gedompel | In ʼn situasie (krisis/chaos) laat beland. |
geïsoleerde | Afgesonderd. |
geletterd | Om te kan lees en skryf. |
geraffineerde petroleum | Gesuiwerde petroleum. |
gewapende konflik | Konflik/stryd |
gewasse | Dit wat aangeplant word vir boerderydoeleindes, soos koring, mielies, vrugte en dies meer. |
groeikoers | Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word. |
gronderosie | Wegvreet/wegkalwe/verweer van grond deur byvoorbeeld wind en water. |
grondwetlike | Iets wat ’n grondwet het, met ander woorde die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
guerrillavegters | Die woord guerrilla is glad nie dieselfde as die woord gorilla wat ons gebruik vir daardie baie groot ape wat mens gewoonlik in oerwoude kry nie! ’n Guerrilla is iemand wat deelneem aan ’n guerrillaoorlog. Hierdie soort oorlog word gevoer deur klein groepies soldate wat vinnig optree teen die vyand en dan weer verdwyn. Hulle doen dinge soos om spoorlyne te vernietig sodat die vyand se treine nie kan ry nie. |
handelsbalans | Die verhouding tussen jou invoere en uitvoere. |
hoeksteen | Iets waarop alles anders steun. |
homogeen | ’n Homogene bevolking het dieselfde oorsprong en gebruike en voorkoms. |
hooglande | Gebiede wat hoog lê relatief tot die land rondom. |
imperialisme | Die politieke beleid van ’n staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring. |
ingedompel | In ʼn situasie laat beland. |
inflasie | Die styging van lewenskoste en pryse as gevolg daarvan dat geld se waarde verminder. |
infrastruktuur | Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens. |
inheemse | Dit wat oorspronklik in ’n spesifieke gebied voorkom. |
ivoor | Die tande van olifante en soortgelyke diere; dit is ook die materiaal waarvan die note van klaviere vroeër gemaak is; juweliersware word ook daarvan gemaak. |
kabinet | Al die ministers wat saam die regering van die land vorm. |
kassawe | Plante met wortels wat eetbaar is; ook maniok genoem. |
kontinent | Vasteland. |
koolwaterstowwe | Elke verbinding wat slegs uit koolstof en waterstof opgebou is. |
korrupsie | Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan. |
Koue Oorlog | Toestand van uiterste vyandigheid tussen die VSA en USSR met hul onderskeie bondgenote; ongeveer 1947-1991. |
landmyne | Myne (ploftoestelle) wat in die grond begrawe word en ontplof wanneer iemand daaroor loop/ry. |
mediane ouderdom | Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom. |
menseregteskendings | Skending van die basiese regte wat elke mens behoort te hê om regverdig behandel te word en vry te kan leef. |
MIV/vigs | MIV (menslike immuniteitsgebrekvirus) is ’n virus wat die liggaam se immuunstelsel aanval. As MIV nie behandel word nie, kan dit tot vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) lei. Vigs is ʼn baie ernstige siekte, deur bloed en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra, wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer weerstand teen infeksies kan bied nie. Met behoorlike mediese sorg kan MIV beheer word en MIV-lyers wat effektiewe MIV-behandeling kry, kan ’n lang, gesonde lewe lei. |
nasionalistiese | Om die belange van jou eie mense te wil bevorder. |
omgangstaal | Taal wat deur mense wat verskillende moedertale het, gepraat word. |
onafhanklikheid | Die reg om jouself te regeer. |
ondergang | In ’n al hoe slegter toestand raak; tot niet gaan. |
Organisasie van Petroleumuitvoerlande | (Opul) Organisasie waaraan sommige lande wat olie produseer behoort, en wat hul beleid oor die produseer en uitvoer van olie koördineer. |
palmolie | Olie van saad of vrug van die palm wat onder meer gebruik word in kosvoorbereiding. |
panga | Groot kapmes, veral in Midde-Afrika as aanvalswapen gebruik. |
per capita | Per persoon. |
plato | Plat, hoogliggende streek, hoogland, tafelland. |
republiek | ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers. |
simboliseer | ’n Voorwerp of teken wat iets voorstel of iets beteken. |
sosialistiese ekonomie | Beleid waarin gepoog word om ’n samelewing te skep wat privaat besit wil afskaf en alle inwoners aan mekaar wil gelyk stel. |
staatsgreep | ’n Aanval op ’n land se regering waar die beheer oor die staat met geweld oorgeneem word; gewoonlik deur die land se weermag of ander militêre magte uitgevoer. |
SAOG | (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) Organisasie van 16 lande in Suider-Afrika wat groei en ontwikkeling bevorder deur samewerking tussen lidlande aan te moedig. |
tersiêre | Wat te doen het met opvoeding ná skool by akademiese instelling soos ’n universiteit. |
tradisies | Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk. |
tropiese | Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreefte- en Steenbokskeerkring. Die trope sluit in die ewenaar en dele van Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië. |
unitêre | In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het. |
vastrapplek | Basis, beginpunt om ʼn houvas oor iets te verkry. |
verbou | Kweek, aankweek, laat groei, plant, saai. |
verbruikersprodukte | Produkte wat deur mense gebruik word vir gebruik in die huis. Dis gewoonlik dinge wat nie nodig is nie, soos mikrogolfoonde of wasmasjiene, maar die lewe makliker maak. |
verdrae | Ooreenkomste tussen twee of meer lande. |
verwoestyning | Wanneer ’n stuk land wat nie voorheen een was nie, ’n woestyn word. |
vlugtelinge | Iemand wat gevaar ontwyk/vryspring en veiligheid soek deur te vlug, gewoonlik na ’n ander land of streek toe. |
waterbesoedeling | Die vuilmaak van iets, in besonder die besmetting van die omgewing. |
wisselvallig | Iets wat onbestendig is of dikwels verander. |
ystererts | Erts is die stukke grond wat uit myne kom waaruit metaal verkry word; ystererts is erts wat yster bevat. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Angola
- Interessante feite oor Angola
- Miljoene Angolese is as slawe uitgevoer
- Wie was die Bantoesprekende boere?
- Die Kongorivier is die tweede langste rivier in Afrika en vorm Angola se grens in die noorde
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Angola
Leer oor Angola se geografie
Kyk wat kan jy sien as jy Angola besoek
Mbanza Kongo is die antieke hoofstad van die Kongo-koninkryk
Luister na “Angola Avante!” (“Voorwaarts, Angola!”), die mooi volkslied van Angola
Tel en sing vrolik saam in Portugees!