Vinnige feite

  • Beroemde Algeriërs sluit twee Nobelpryswenners in. Albert Camus het in 1957 die Nobelprys vir Letterkunde gewen, en Claude Cohen-Tannoudji in 1997 vir Fisika. 11
  • Algerië se nasionale dier, die bakoorjakkals, is die wêreld se kleinste jakkals met die grootste ore, wat tot 15,2 cm lank word. 11
  • Om te keer dat kinders nie in eksamens kul nie, het die Algeriese regering in 2018, terwyl die kinders eksamen geskryf het, die internet vir twee uur geblok. 11

Die Demokratiese Volksrepubliek van Algerië, ook bekend as slegs Algerië, is ’n land in Noord-Afrika. Dit grens aan Tunisië en Libië in die ooste, Niger, Mali en Mauritanië in die suide, Marokko en Westelike Sahara in die weste en die Middellandse See in die noorde.

Algerië is deel van die Magreb of Atlasstreek, ’n gebied in Noord-Afrika wat aan die Middellandse See grens. Dit is ook deel van die Arabiese wêreld. 1

Die land is vernoem na die hoofstad, Algiers. Dit kom van die Arabiese woord “al-Jazair” wat “die eilande” beteken. Dit verwys na vier eilande wat vroeër jare naby die stad se kus geleë was. Sedert 1825 is die eilande egter deel van die vasteland. 2

Oorsig

Amptelike naam Demokratiese Volksrepubliek van Algerië.
Plaaslik: Al Jumhuriyah al Jaza’iriyah ad Dimuqratiyah ash Sha’biyah (Arabies).
Engelse naam Algeria/People’s Democratic Republic of Algeria.
Ook/voorheen bekend as Algerië; Al Jaza’ir.
Leier/s President: Abdelmadjid Tebboune (sedert 12 Desember 2019).
Eerste minister: Nadir Larbaoui (sedert 11 November 2023). 2
Hoofstad Algiers.
Grootste stad Algiers (bevolking 1 977 663). 3
BBP (bruto binnelandse produk) $191 913 000 000 (2022), groeikoers 3,10%. 4
BBP per capita $3 996 (2022). 4
Bevolking (wêreldrang) 2024: 46 142 137 (34ste). 3
Bevolkingsdigtheid 19 mense per m2. 3
Regeringsvorm Republiek met tweekamerstelsel.
Amptelike tale Arabies; Amazigh (Berber).
Totale oppervlak (wêreldrang) 2 381 741 km² (10de). 5
Geldeenheid Algeriese dinar (DZD), opgedeel in 100 sent.
Internetkode .dz
Skakelkode +213
Tydsone UTC +1.
Byvoeglike naamwoord Algeriese of Algerynse.
Inwoner Algeriër of Algeryn.

Geskiedenis

Daar woon al sedert die Steentydperk mense in Algerië.

Antieke Tye

Die eerste opgetekende inheemse groep staan vandag as die Berbers (of Amazighs) bekend. 6 In Antieke Tye was die gebied deel van ’n reeks groot ryke, soos Numidië, Fenisië, Kartago en die Vandaleryk. 2 Die Romeine het die gebied rondom die jaar 200 v.C. verower en vir die volgende om en by 700 jaar regeer. 1

Middeleeue tot Ottomane

Ná die ineenstorting van die Westerse Romeinse Ryk in 476 het sommige plaaslike groepe hulself regeer, en ander is by die Bisantynse (of Oos-Romeinse) Ryk ingelyf.

Arabiere uit die Midde-Ooste het die gebied in die 7de eeu begin binnekom. 6 Hulle het met die inheemse mense getrou en Arabier-Berber-dinastieë gevorm. Dié dinastieë het later deel van die Ottomaanse Ryk geword. Dié ryk het teen die begin van die negentiende eeu sy invloed begin verloor. Daarna het plaaslike groepe vir ’n kort rukkie regeer. 1

Timgad, ’n Romeinse militêre kolonie.

Franse beheer

Op 5 Julie 1830 het Frankryk Algerië binnegeval. Onder leiers soos Emir Abdelkader het sommige Algeriërs weerstand gebied. Abdelkader is teen 1847 gedwing om oor te gee. In dieselfde jaar het die Franse die oorblywende weerstand onderdruk en die land as Franse provinsie ingelyf.

’n Tydperk van Franse kolonisasie en ekonomiese opbou het gevolg. Daar was egter nie integrasie tussen die Algeriërs en die Franse nie, en Franse setlaars is deur die koloniale regering bevoorreg.

Die verhouding tussen die twee groepe was ellendig, en tot in die middel van die 1870’s was daar wydverspreide geweld. Bloedige Franse regerings en Algeriese weerstand daarteen het die bevolking van Algerië tussen 1830 en die 1870’s na raming met ’n derde laat daal.

Teen die middel van die twintigste eeu het revolusionêre nasionalistiese weerstandsbewegings ontstaan. Dit is aangevuur deur die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945), waartydens duisende Algeriërs vir Frankryk geveg en gesterf het. ’n Bloedige en vernietigende oorlog vir onafhanklikheid het tussen 1954 en 1962 gewoed, wat uiteindelik tot Algeriese onafhanklikheid gelei het. 1

Franse argitektuur in Algerië.

Algerië sedert onafhanklikheid

Onafhanklikheid is deur ’n tydperk van politieke onstabiliteit gevolg. 1 Die eerste regering, onder Ahmed Ben Bella, was outokraties en sosialisties. 6 In 1965 is hy in ’n staatsgreep deur Houari Boumédiène omvergewerp. Boumédiène het in 1978 gesterf en is deur Chadli Bendjedid opgevolg. Hierna het Algerië ’n meer stabiele tyd betree. Sommige outokratiese maatreëls is opgehef. Die ekonomie het gegroei en geletterdheid het toegeneem. 6 Daar was ook sprake van demokratiese hervorming. 1

Radikale, fundamentalistiese Moslems was egter hierteen gekant. 1 In 1992 het nóg ’n staatsgreep tot ’n burgeroorlog gelei, wat vir tien jaar sou woed.

In April 1999 is Abdelaziz Bouteflika as president verkies. Aanvanklik het hy met weerstandsgroepe begin saamwerk om spanning en geweld te verminder. Hy het egter al hoe meer outokraties begin optree, en homself vir vier termyne laat verkies. Teenstand teen sy besluit om vir ’n vyfde termyn te staan, was só wydverspreid dat hy bedank het. 1

Abdelaziz Bouteflika was vir vier termyne die president van Algerië.

Algerië vandag

Algerië is sedert 2020 meer stabiel. Vooruitgang word egter deur ʼn outokratiese regering, korrupsie, Islamitiese terrorisme, 1 en mensehandel gerem. 2

Geografie

Algerië is die grootste land in Afrika en die tiende grootste land in die wêreld. 1 Dit is amper dubbeld so groot soos Suid-Afrika! 7

Landskap

Algerië word opgedeel in twee geografiese gebiede:

  • ’n Dun kusstrook in die noorde, bekend as die Tell-Atlas, val in die gematigde streek van die Middellandse See. Die Atlasgebergte skei die kusstrook van die woestyn.
  • Suid van die Atlasgebergte beslaan die westelike deel van die Saharawoestyn vier vyfdes van Algerië se oppervlakte. Hierdie gebied is yl bevolk, maar is ryk aan minerale hulpbronne, veral olie en natuurlike gas. 1

Die Atlasgebergte bestaan uit twee bergreekse, die Tell-Atlas en die Sahara-Atlas. Hulle loop parallel van oos na wes en word deur ’n hoë plato, bekend as die Plateau of the Chotts (“plato van vlak soutwatermere”) geskei. 1

Die hoogste punt in Algerië is die Tahat-bergpiek in die Ahaggar-bergreeks, wat 3 003 m bo seevlak uitstyg.

Algerië se kuslyn is om en by 1 660 km lank. 6

Die grootste en enigste rivier van belang is die Chelif-rivier. 1

Die Ahaggar-bergreeks se Tahat-bergpiek is die hoogste punt in Algerië.

Klimaat

Algerië is in die Noordelike Halfrond geleë.

Die twee streke het elk hul eie kenmerkende klimaat:

  • Die noorde het ’n tipiese Middellandse seeklimaat, met warm, droë somers en gematigde, reënerige winters. Sowat 80% van die reën in hierdie streek val tussen Oktober en Maart.
  • In die woestyn in die suide is dit bloedig warm en droog. Dit is een van die warmste plekke op aarde, met temperature wat tot 50°C kan styg. Dit reën minder as 100 mm per jaar en op sommige plekke kan dit vir tot vyf jaar nie reën nie! 1

Omgewingsprobleme en gevare

Algerië se omgewingsprobleme sluit lugbesoedeling, gronderosie as gevolg van oorbeweiding, verwoestyning en die besoedeling van riviere en kuswaters in. 2

Natuurlike bedreigings is aardbewings in bergagtige gebiede, modderverskuiwings en vloede in die reënseisoen en droogtes. 2

Landskap en landmerke

Algerië se bekende landmerke sluit die volgende Wêrelderfenisterreine in:

  • Die Al Qal’a van Beni Hammad, die ruïnes van ’n antieke hoofstad.
  • Djémila/Cuicul, die ruïnes van ’n Romeinse dorpie.
  • Die M’Zab-vallei, ’n gebied vol tradisionele nedersettings.
  • Die Tassili n’Ajjer Nasionale Park waar rotstekeninge gevind kan word.
  • Timgad, ’n Romeinse militêre kolonie.
  • Die Tipasa Argeologiese Park, eens ’n antieke handelspos.
  • Die Kasbah of Algiers, ’n Islamitiese stad. 8
Die Tassili n’Ajjer Nasionale Park is ‘n Wêrelderfenisterrein.

Regering

Algerië is ’n unitêre, presidensiële grondwetlike republiek.

Regeringstrukture

Voor 2020 was daar nie ’n duidelike skeiding van magte tussen regeringstakke nie. Die grondwet wat tóé aangeneem is, het die wetgewende en regsprekende takke meer onafhanklik gemaak, maar mag het steeds by die uitvoerende tak berus.

Die staatshoof is ’n president, wat deur algemene stemreg vir ‘n vyfjaartermyn verkies word. Die president mag vir ‘n tweede vyfjaartermyn verkies word. Die president stel die kabinet aan.

Die parlement is ’n tweekamerstelsel. Die laerhuis het 407 lede en word deur algemene stemreg vir vyfjaartermyne verkies. Die hoër huis het 174 lede. Twee derdes word verkies en die res word deur die president aangewys. Hulle dien vir sesjaartermyne. 2

Administratief word Algerië in 58 provinsies opgedeel. 2

Taghit, ‘n klein dorpie in Algerië.

Politieke partye

Die vernaamste politieke partye in Algerië is:

  • Front de libération nationale (FLN), tans die party aan bewind.
  • Rassemblement National Démocratique (RND).
  • El Mostakbal (Future Front).
  • Harakat El-Binaa El-Watani (El-Bina).
  • Front des Forces Socialistes (FFS).
  • Mouvement de la société pour la paix (MSP). 2

Buitelandse verdrae

Algerië is lid van die Verenigde Nasies (VN), Afrika-Unie (AU), Arabiese Bond en Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul). Dit is ook die stigter van die Arabiese Magreb-Unie (AMU).

Ekonomie

In die eerste jare ná onafhanklikheid het die regering ’n sosialistiese ekonomie gehad, waarvolgens groot nywerhede genasionaliseer is. Dit het die ekonomie verwoes. Sedert die 1980’s het privatisering tot ekonomiese groei gelei. Algerië het vandag een van die grootste ekonomieë in Afrika. 1

Vooruitgang is egter ongelyk en die ekonomie is afhanklik van olie en natuurlike gas. Daar is min diversifikasie. Politieke onstabiliteit ondermyn vertroue in die ekonomie. 1

Algerië se grootste uitdaging is water. Reënval is wisselvallig. Ten spyte van die grootskaalse bou van damme sedert die 1960’s is daar nie genoeg water vir stede en nywerhede nie.

Voedselvoorsiening is ook ’n probleem. Die landbousektor in Algerië word afgeskeep en die land produseer nie naastenby genoeg kos om selfversorgend te wees nie. 1

Die werkloosheidsyfer is 12,5%. 2

Algiers, die hoofstad van Algerië.

Ekonomiese bedrywighede

’n Derde van Algerië se bruto binnelandse produk (BBP) bestaan uit die uitvoer van olie en natuurlike gas. 1 Ander natuurlike hulpbronne is ystererts, fosfaat, uraan, lood en sink. 2

Die nywerheidsektor fokus op swaar industrieë soos staal en petrochemiese werke. 1

Die grootste deel van Algerië is woestyn en dus nie geskik vir landbou nie. Minder as 20% van die oppervlak word vir landbou aangewend, en meer as die helfte daarvan word vir weiding gebruik. Waar landbou wel plaasvind, word gewasse soos aartappels, koring, waatlemoene, uie en tamaties verbou. 2 Daar word ook met lewende hawe soos beeste, bokke en skape geboer. 1

Invoer en uitvoer

Algerië se vernaamste handelsvennote is China, Frankryk, Italië, Spanje en die Verenigde State van Amerika (VSA). 2 Twee derdes van Algerië se handel is met die Europese Unie. 1

Buiten olie voer Algerië natuurlike gas, kunsmis en ammoniak uit. Die land se grootste invoere is graan, mediese voorrade, melk en motoronderdele. 2

Mense

Algerië ondervind min etniese spanning. Daar is egter spanning tussen moderne en tradisionele leefwyses. Konserwatiewe Moslemleiers staan moderne idees soos vroueregte teen. Baie families leef volgens die gebruik dat mans en vroue op sosiale vlak heeltemal afsonderlik gehou word. 1

Etniese groepe en tale

Driekwart van Algerië se inwoners is Arabiere en ’n vyfde is Berbers. Die Arabiere is van gemengde Arabiese, Europese en Berber-afkoms. 1

Algerië se amptelike tale is Arabies en Berber. Frans was die amptelike taal gedurende die koloniale tydperk. Die regering het ’n beleid van Arabisering afgekondig om Frans te vervang deur Arabiese taal en kultuurwaardes. 1 Frans word egter steeds wyd gepraat, 6 en is die omgangstaal in groot dele van die land. 2

Opvoeding

Ongeveer 75% van Algeriese mans is geletterd. Vir vroue is dit minder as die helfte. 2

Opvoeding in Arabies is verpligtend vir alle kinders tussen 6 en 15 jaar. Nege tiendes van seuns woon skool by, en ’n kleiner persentasie meisies. Die onderwysstelsel sukkel om vir al die kinders van skoolgaande ouderdom voorsiening te maak.

Daar is Islamitiese universiteite in Algiers en Constantine. Arabies is die taal van opvoeding by hierdie universiteite. Ontevredenheid onder Berbers het daartoe gelei dat Berber weer as opvoedingstaal in ’n sommige kursusse gebruik word. 1

Demografie en bevolkingsverspreiding

Demografiese gegewens:

  • Lewensverwagting: 77,3 jaar.
  • Fertiliteitsvlak: 2,8 geboortes per vrou per jaar.
  • Mediane ouderdom: 28,2 jaar.
  • Kindersterftesyfer (sterftes onder eenjarige ouderdom): 16 per 1 000 geboortes.
  • Sterftes onder vyf jaar oud: 19,1 per 1 000 geboortes. 9

Sowat 75% van die bevolking bly in stedelike gebiede en die res op die platteland. 3 Die meeste mense woon in die verre noorde van die land, waar reënval betroubaar is. Buiten vir ’n paar oases is die woestyn onbevolk. Algeriese stede het ernstige behuisingsprobleme.

Daar is ’n groot Algeriese diaspora in Frankryk, België en ander Europese stede. 1

Siektes en ander probleme

Siektes soos tuberkulose, hepatitis en masels word deur onvoldoende sanitêre geriewe en ‘n tekort aan veilige drinkwater veroorsaak. 1 Daar is gratis gesondheidsorg vir armes, maar dis nie altyd voldoende nie. 6

Geloof

Sowat 99% van Algerië se inwoners, beide Arabiere en Berbers, is Soennitiese Moslems. 6

Kultuur en sport

Algerië is ’n hutspot van Franse, Berber, Arabiese, Turkse en Islamitiese kulture. 6 Die invloed van Westerse kultuur is sigbaar in stede, maar op plattelandse gebiede leef mense steeds tradisionele leefstyle.

Die gewildste sportsoorte in Algerië is sokker, handbal, vlugbal en atletiek. 1

Algerië neem sedert 1964 aan die Olimpiese Spele deel en sy atlete blink veral in middelafstande uit. Die volgende atlete het al goue medaljes gewen: Taoufik Makhloufi (mans 1 500 m), Hocine Soltani (mans boks), Nouria Mérah-Benida (vroue 1 500 m), Hassiba Boulmerka (vroue 1 500 m) en Noureddine Morceli (mans 1 500 m). 10

Simbole

Algerië het die volgende nasionale simbole:

  • Vlag: Die kleure verteenwoordig Islam (groen), reinheid en vrede (wit), en vryheid (rooi). Die sekelmaan en ster is Islamitiese simbole, maar die sekelmaan is meer geslote as dié van ander Moslemlande omdat Algeriërs glo dat die lang sekelhorings geluk bring.
  • Nasionale dier: Bakoorjakkals.
  • Nasionale simbool: Ster met vyf punte tussen die verlengde punte (“horings”) van ’n sekelmaan.
  • Nasionale kleure: Groen, wit, rooi.
  • Volkslied: Kassaman (“Ons beloof”). 2

Woordbank

afkoms Oorsprong of herkoms.
Afrika-Unie (AU) Unie van die 55 state van Afrika, met die doel om samewerking te bevorder.
algemene stemreg Wanneer almal in die land vir iets stem.
ammoniak Verbinding van waterstof en stikstof met ʼn prikkelende reuk.
Arabiere Iemand wat van Arabië af kom.
Arabiese Bond Unie van Arabiese lande.
Arabiese Magreb-Unie (AMU). Politieke en ekonomiese handelsooreenkoms tussen Algerië, Libië, Marokko, Mauritanië en Tunisië.
BBP (bruto binnelandse produk) Manier om die grootte van die ekonomie te meet. Dit is basies die waarde van alle produkte en dienste wat in ’n jaar binne ’n land geproduseer word.
beleid Plan vir die bestuur van iets.
burgeroorlog ’n Oorlog tussen burgers van dieselfde land.
demokratiese hervorming Veranderinge binne ’n samelewing of regering wat daarop gemik is om burgerdeelname in besluitnemingsprosesse te verhoog en individuele regte en vryhede te verbeter.
diaspora Om verspreid te wees en nie saam met jou landsgenote te leef nie.
dinastieë Regerende families, gewoonlik koninklik.
diversifikasie Pogings om die ekonomie meer divers te maak, soos byvoorbeeld om ander ekonomiese sektore op te hef.
etniese Wat met die mense van ’n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou.
fertiliteitsvlak Die vrugbaarheid van vrouens, met ander woorde aan hoeveel kinders hulle geboorte gee.
fosfaat ’n Soort sout wat gewoonlik in bemesting (voedsel vir plante) gebruik word.
fundamentalistiese Geloofsaanhangers wat glo dat geloofsbeginsels presies uitgeleef moet word, en dat hul heilige boek net so geglo moet word.
geletterdheid Om te kan lees en skryf.
gematigde Nie baie groot of klein, baie warm of koud, baie vinnig of stadig, ens. nie.
genasionaliseer Onder die beheer van die staat bring.
groeikoers Die persentasie waarmee die ekonomie elke jaar groei, met ander woorde groter word.
gronderosie Wegvreet/wegkalwe/verweer van grond deur byvoorbeeld wind en water.
grondwetlike Iets wat ’n grondwet het, met ander woorde die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers het.
handbal ’n Sport amper soos sokker, maar waar die bal gegooi word.
hepatitis Ontsteking van die lewer.
hulpbronne Enigiets wat tot nut van die mens is.
hutspot ’n Mengelmoes; groot verskeidenheid.
integrasie Wanneer ’n groep mense deel van ’n ander groep word en die twee groepe mekaar aanvaar.
kabinet Al die ministers wat saam die regering van die land vorm.
kolonisasie Die praktyk waar een land ’n ander se grondgebied oorneem en dan die inwoners en hulpbronne van daardie land gebruik.
konserwatiewe Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie; behoudend.
korrupsie Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; omkoping of die meedoen daaraan.
lood ’n Soort sagte, swaar metaal.
maatreëls Skikking, reëling; handeling met ʼn bepaalde doel om sake te reël.
masels Aansteeklike siekte, waarvan die simptome koors en ’n uitslag van rooi kolletjies is. Dit kom gewoonlik onder kinders voor.
mediane ouderdom Die ouderdom wat in die middel van ʼn geordende datastel voorkom, met ander woorde daar is presies ewe veel mense ouer en jonger as hierdie ouderdom; gemiddeld.
mensehandel Werwing, wegvoering en verkoop van mense vir allerhande verkeerde doeleindes
moderne Die jongste/nuutste; volgens die jongste mode.
na raming As jy skat.
nasionalistiese Om die belange van jou eie mense te wil bevorder.
natuurlike gas ’n Mengsel van gasse wat mense gebruik om energie te voorsien.
nedersettings Woonplek, kolonie; vestiging.
nywerhede Bedryf waarin grondstowwe verwerk word; industrie.
oases Plek in die woestyn waar daar ’n waterbron is.
omgangstaal Taal wat algemeen deur mense wat verskillende moedertale het, gepraat word.
onafhanklikheid Die reg om jouself te regeer.
ondermyn Heimlik iemand of iets se posisie verswak.
Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) Organisasie waaraan sommige lande wat olie produseer, behoort, en wat hul beleid oor die produksie en uitvoer van olie koördineer.
outokraties Om alleen met onbeperkte mag te regeer.
parallel Twee dinge wat oral ewe ver van mekaar af loop.
per capita Per persoon.
petrochemiese Afdeling van die chemiese tegnologie waarby chemiese produkte uit aardgas en olie berei word.
plato Plat, hoogliggende streek, hoogland, tafelland.
privatisering ʼn Staatsinstelling verkoop om deur lede van die privaat sektor bedryf te word.
radikale Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal.
regsprekende Daardie tak van die regering wat met die howe te doen het.
republiek ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers.
revolusionêre Baie anders as die bestaande.
ruïnes Vervalle geboue wat oor ʼn lang tyd verniel het.
ryke ’n Gebied waaroor ’n vors (koning/koningin/keiser) regeer.
sanitêre geriewe Geriewe wat tot die gesondheidsdiens behoort, veral wat betref die verwydering van (menslike) afval en riool.
selfversorgend Wanneer jy genoeg van iets maak om in jou eie behoeftes te voorsien.
setlaars Iemand wat van ’n ander gebied af kom om in ’n bepaalde gebied te kom woon.
sink Blouwit metaal wat onder meer gebruik word om ystervoorwerpe te beskerm.
Soennitiese ’n Soort Moslem.
sosialisties Die idee van ’n samelewing wat privaat besit wil afskaf en alle inwoners aan mekaar wil gelyk stel.
staatsgreep ’n Aanval op ’n land se regering waar die beheer oor die staat met geweld oorgeneem word; gewoonlik deur die land se weermag of ander militêre magte uitgevoer.
termyne Tydperke wat ’n persoon diens doen of ’n spesifieke posisie beklee, soos die leier van ’n land.
terrorisme Skrikaanjaging/intimidasie deur dade van geweld; gesamentlike dade deur terroriste gepleeg.
tradisionele Betreffende tradisies wat van geslag tot geslag oorgelewer word.
tuberkulose Besmetlike, bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van knoppies in verskillende weefsels, veral die longe, wat vermoeidheid/nagsweet/koors/anemie veroorsaak.
tweekamerstelsel Wanneer die wetgewende gesag van ’n land uit twee huise bestaan, gewoonlik ’n hoër- en ’n laerhuis.
uitvoerende Die tak van die regering wat gewoonlik die president en ministers insluit, wat take moet uitvoer wat met die bestuur van die land te doen het.
unitêre In ’n unitêre land behoort alle mag aan die nasionale regering, teenoor ’n federale land waar verskillende gebiede (soos state) ook mag het.
uraan Radioaktiewe metaal wat meestal in kernkragopwekking gebruik word.
verwoestyning Wanneer ’n stuk land wat nie voorheen ʼn woestyn was nie, ’n woestyn word.
wetgewende Die tak van die regering wat wette maak.
wisselvallig Iets wat onbestendig is of dikwels verander.
ystererts Erts is die stukke grond wat uit myne kom waaruit metaal verkry word; ystererts is erts wat yster bevat.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Interessante feite oor Algerië

Algerië se vlag en geografie

Algerië was ’n Franse provinsie en nie ’n kolonie nie

Hoe klink die syfers 1 tot 10 in Arabies?

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Mei 2024 | Bygewerk op 26 Junie 2024