Steve Jobs

Kan jy jou ʼn lewe sonder ʼn rekenaar of ʼn selfoon indink? Dit sal taamlik vervelig wees, nè?

Wel, rekenaars was eens op ’n tyd baie groot, lomp masjiene wat net enkele mense kon bekostig. Deur die werk wat Steve Jobs, die stigter van Apple, gedoen het, het hy rekenaars kleiner en meer bekostigbaar (goedkoop genoeg dat mense dit kan betaal) gemaak en dit vir gewone mense moontlik gemaak om óók ’n rekenaar te besit.

Onder Steve se leiding het Apple ’n tegnologiereus geword – maar nie voordat hy uit dié maatskappy geskop is nie.

Met sy swart rolnektrui wat hy elke dag soos ʼn uniform gedra het, het hy die wêreld van tegnologie én animasie vir altyd verander.

Biologiese familie

Steven Paul Jobs is op 24 Februarie 1955 in San Francisco in Kalifornië in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebore. 1 Sy biologiese ouers, Abdulfattah John Jandali en Joanne Schieble, was nie getroud toe Steve gebore is nie. 2

Abdulfattah is in 1931 in Sirië, ʼn land in die Midde-Ooste, gebore. Hy was die jongste van nege kinders. Die Jandali-gesin was ’n vername (belangrike) familie in Homs, die stad waar Abdulfattah grootgeword het. Hy was ’n slim kind en het in die vroeë 1950’s die Amerikaanse universiteit in Beiroet (in Libanon) bygewoon. Later het hy die geleentheid gekry om aan dieWisconsin-Madison-Universiteit in die VSA te studeer. 2

Dit is hier waar hy Joanne Schieble ontmoet het. Toe sy swanger raak, wou haar pa nie hê dat sy met Abdulfattah trou nie. Die jong paartjie besluit om hul seuntjie (hy het toe nog nie ’n naam gehad nie) vir aanneming op te gee. 2

Steve Jobs in die 1969-uitgawe van die Pegasus-jaarboek

Steve sou aanvanklik deur twee prokureurs aangeneem word, maar toe hulle besef dit is ’n seuntjie, het hulle nie meer belanggestel nie. Paul en Clara Jobs, wat vir jare gesukkel het om kinders te hê, was maar net te bly om Steve as hul eie groot te maak. 3

’n Paar maande later het Schieble se pa gesterf en kon Abdulfattah en Joanne uiteindelik trou. Twee jaar later het die egpaar ’n dogtertjie met die naam Mona gehad. Die Jandali-gesin het in Sirië gebly, maar Joanne was nie gelukkig daar nie. Toe Mona vier jaar oud was, het Joanne en Abdulfattah geskei, en sy en Mona het sak en pak na die VSA teruggekeer. 4

Joanne was vir ’n kort rukkie lank met die ysskaatsinstrukteur (iemand wat jou leer om op ys te skaats) George Simpson getroud en Mona se van na Simpson verander. 5

Nadat Jobs se aanneemma Clara in 1986 aan longkanker oorlede is, het hy sy biologiese ma Joanne vir die eerste keer ontmoet. Hy’t uitgevind dat hy ʼn 25-jarige biologiese suster Mona Simpson het. Hy het nooit eers van haar bestaan geweet nie. Mona het later ’n bekende skrywer geword. Joanne het gereël dat die broer en suster mekaar in New York ontmoet. Hoewel hulle aan die begin huiwerig was, het hulle vinnig goeie vriende geword tot met Steve se dood. 4

Steve Jobs in die 1972-uitgawe van die Pegasus-jaarboek

Ná hul ontmoeting het Steve en Mona besluit om hul biologiese pa op te spoor. Hy het intussen ook na die VSA teruggekeer. Steve het egter van plan verander en wou hom nie leer ken nie. Mona het by Jandali gaan kuier en tydens hul gesprek het hy vertel van die baba wat hulle vir aanneming opgegee het. Mona het nie genoem dat sy met Steve in kontak was nie.

Haar pa het haar onder meer vertel van ’n restaurant wat hy in San Jose in Kalifornië bestuur het.

“Al die suksesvolle mense uit die tegnologiebedryf het daar kom eet, selfs Steve Jobs,” het hy gesê, onwetend dat Steve sy seun was. Hy het Steve as ʼn gawe mens beskryf wat altyd ʼn groot fooitjie gelaat het. 4

Toe sy suster hom later hierdie staaltjie vertel, het Jobs onthou hoe hy verskeie kere die bestuurder van die restaurant ontmoet het, maar nie een van hulle het geweet dat hulle aan mekaar verwant is nie. Steve wou nie sy biologiese pa ontmoet nie, want hy was bang dat sy pa van hom geld sou wou hê. Op sy beurt wou Jandali ook nie sy seun ontmoet nie, want hy was bekommerd dat Steve sou dink hy stel net in sy seun se fortuin (rykdom) belang. Tog het hy die wens uitgespreek om eendag sy seun te ontmoet, as dit van Steve se kant af sou kom. Jandali en Steve het egter nooit ʼn plan gemaak om mekaar te ontmoet nie. 4

President Ronald Reagan oorhandig die 1985 Nasionale Tegnologie-toekenning aan Steven Jobs

Aangenome familie

Paul Jobs is in 1922 in Wisconsin in die VSA gebore. 6 Nadat hy in die Tweede Wêreldoorlog geveg het, het hy in San Francisco gaan woon. Hy het ʼn weddenskap met sy vriende aangegaan dat hy binne die volgende twee weke sy trouvrou sou ontmoet. Kort daarna het hy Clara Hagopian leer ken. Tien dae later, in Maart 1946, het Paul en Clara inderdaad getrou. 7

Ná nege jaar waartydens Clara nie kon swanger raak nie, het hulle besluit om ’n kind (Steve) aan te neem. 6 Drie jaar later neem hulle ook ’n dogter, Patti Jobs, aan. Sy trou in 1975 en gebruik waarskynlik haar man se van, want daar is nie baie oor haar bekend nie. 8

Paul Jobs was ʼn veteraan van die Amerikaanse kuswag en het as ʼn masjinis by ʼn maatskappy gewerk wat lasers vervaardig het. Hy is grootliks verantwoordelik daarvoor dat sy seun in elektronika begin belangstel het en graag met sy hande wou werk. Clara was ʼn rekenmeester.

Clara is in 1986 oorlede en Paul sewe jaar later, in 1993. 9

Kinderjare

Steve het Paul en Clara as sy “regte” ouers beskou en het kwaad geword as enigiemand na hulle as sy “aanneemouers” sou verwys. 2 Al was hulle nie ryk nie, het die egpaar vir Steve en Patti ’n stabiele huis met baie liefde gegee. 9

Die Jobs-gesin verhuis in 1961 na Mountain Valley, Kalifornië. Hierdie gebied, net suid van Palo Alto, het die sentrum van elektronika begin word. Elektronika vorm die basiese elemente van toestelle soos radio’s, televisies en rekenaars. In daardie tyd het mense na die gebied begin verwys as “Silikonvallei”. Dit is omdat ʼn stof genaamd silikon in die vervaardiging van elektroniese onderdele gebruik word. 1 [Lees meer oor silikon.]

Talle van die Jobs-gesin se bure was ingenieurs wat elektriese toerusting ontwerp en vervaardig het. Hoewel sy pa nooit hoërskool klaargemaak het nie, het Steve hom as ’n “genie met sy hande” beskryf. Paul het stukkende motors reggemaak en dan teen ’n wins verkoop en sy seun die basiese beginsels van elektronika geleer. 9 Hy het Steve ook die belangrikheid van vakmanskap geleer en dat selfs die kleinste deeltjie van ʼn groter masjien dieselfde aandag as die groter komponente moet kry – ’n nuttige les wat later van groot belang in Steve se loopbaan sou wees. 6

Steve se laerskoolonderwysers het gedink hy is baie slim en wou hê hy moet ’n paar grade oorslaan sodat hy vroeër hoërskool toe kon gaan. Sy ouers het nie gedink dit is ʼn goeie idee nie en het geweier. 10

Steve Jobs-huis in Palo Alto

Op hoërskool het Steve graag naskoolse klasse van die elektroniese maatskappy Hewlett-Packard bygewoon. Dit is hier waar hy Steve Wozniak, wat Apple later saam met hom sou begin, ontmoet het. Die twee Steves het albei vakansiewerk by Hewlett-Packard gedoen.

In 1972 voltooi hy sy hoërskoolloopbaan by Homestead High School in Cupertino, Kalifornië. 11

In 1973 begin Steve by Reed-kollege in Kalifornië studeer. 11 Hy het nooit daarin belang gestel om universiteit toe te gaan nie, maar toe Steve aangeneem is, het sy aanneemouers sy biologiese ouers belowe dat hulle hom wel eendag universiteit toe sou stuur. 12

Reed was egter ’n baie duur universiteit en Steve het ná ses maande besef dat hy net sy ouers se geld mors omdat hy nie ’n idee gehad het wat hy eendag met sy lewe wou doen nie. 12

Hy het opgehou om die klasse van die vakke waarvoor hy ingeskryf was, by te woon. Hy het in sy vriende se kamers op die vloer geslaap en koeldrankbottels en blikkies vir kleingeld herwin sodat hy kos kon koop. Vir die volgende agtien maande het hy vakke soos kalligrafie (sierskrif), dans en Engels bygewoon. Hy sou nooit kon raai dit was alles inligting wat hy later in sy loopbaan sou gebruik toe hy Apple-rekenaars ontwerp en animasierolprente gemaak het nie! 13

Steve het ook baie belang gestel in die Oosterse kultuur en geloof in Indië. Ná sy tyd by Reed gaan ontwerp hy videospeletjies vir die maatskappy Atari om genoeg geld te kry om Indië vir ʼn paar maande lank te besoek. 14

Loopbaan

Apple

Terug van Indië het Jobs weer kontak met Steve Wozniak gemaak en dié twee het baie in rekenaars belang gestel. Wozniak wou sy eie persoonlike rekenaar hê en, as ʼn genie met elektronika, het hy daarin geslaag om een te bou. Steve was baie beïndruk en het gesê hulle moet hul eie maatskappy begin, al was dit vir Wozniak eintlik net ʼn stokperdjie. In 1976 begin Jobs en Wozniak die Apple Computer-maatskappy. Hulle noem die eerste model die Apple I en begin om vanuit die motorhuis van Jobs se ouerhuis nog rekenaars te bou. Steve Jobs was toe net 21 jaar oud. 15

Steve het sy Volkswagen-bussie verkoop en Wozniak sy Hewlett-Packard-sakrekenaar om die $1 350 te kry om die maatskappy mee te begin. 14

Hoewel die Apple I hoofsaaklik aan mense verkoop is vir wie rekenaars net ʼn stokperdjie was, het die twee genoeg geld gemaak om hul ontwerpe te verbeter. Wozniak het dadelik aan die volgende weergawe, die Apple II, begin werk. Jobs het sommer geweet dat dit ’n fantastiese produk gaan wees. Hy het begin om die rekenaar aan moontlike beleggers bekend te stel wie se finansiering nodig sou wees om Apple Computer as ʼn maatskappy uit te brei. 15

In 1977 is Apple II vrygestel – die eerste persoonlike rekenaar met kleurgrafika en ʼn sleutelbord. Die rekenaar is ontwerp vir beginners en dit was baie gebruikersvriendelik. Apple het Silikonvallei “ontwrig” en die era van persoonlike rekenaars het begin. Verkope vir die eerste jaar was meer as $3 miljoen. Twee jaar later het verkope $200 miljoen gehaal. In 1980, met Steve skaars 25 jaar oud, het die maatskappy aandele op die New Yorkse aandelebeurs begin verkoop. 14

Totsiens, Apple (vir eers)

Die volgende twee rekenaars, Apple III en Lisa, was egter nie baie suksesvol nie. Groter kompetisie (mededinging) in die mark was ook ʼn uitdaging: Apple het byna die helfte van sy markaandeel aan IBM afgestaan.

Met die afname in verkope, het Jobs die Apple Macintosh in 1984 bekend gestel. Dit was die eerste persoonlike rekenaar wat met ʼn rekenaarmuis kon werk en dit was verreweg die maklikste rekenaar om te gebruik. Daar was egter ʼn probleem met die bemarking: Jobs het die Mac as ʼn rekenaar vir persoonlike gebruik beskou, maar teen $2 495 was dit te duur vir gewone mense. 14

Steve Jobs, John Warnock en Charles Geschke

Hy het die rekenaar toe aan maatskappye voorgelê, maar omdat dit nie ʼn behoorlike geheue gehad het nie, geen hardeskyf nie en ook nie aan ʼn netwerk verbind kon word nie, was die Mac glad nie wat die Amerikaners in die sakewêreld wou hê nie.

Jobs was ontevrede oor al die probleme en het met die raad van direkteure begin baklei. Apple se uitvoerende hoof, John Sculley, wat persoonlik deur Jobs aangestel is om die maatskappy te bestuur, het hom uitgeskop. Sonder mag en beheer het Jobs al sy Apple-aandele verkoop en in 1985 uit die maatskappy bedank. 14

NeXT Computer

Jobs het weer kreatief begin dink ná die teleurstelling by Apple en was op soek na die volgende uitstekende produk. Hy begin ’n nuwe maatskappy genaamd NeXT Computer. Die eerste rekenaars wat die maatskappy vervaardig het, was baie goed, maar weer eens net te duur vir Jan Alleman. Hierna verander hy NeXT in ’n sagtewaremaatskappy wat vir ’n klein rukkie sukses behaal het. 15

Steve Jobs en Wendell Brown

Pixar

In 1986 het Jobs ’n grafiese maatskappy teen $10 miljoen gekoop. Hy verander die naam na Pixar en aan die begin is dit net ’n maatskappy wat driedimensionele (3D) grafika-sagteware verkoop. In 1991 kry die maatskappy ʼn kontrak by die Walt Disney Company om ’n vollengte rolprent te vervaardig. 15

Jobs se ooreenkoms met Disney was vir drie flieks en sy plan was om die eerste volledige rekenaar-animasieprent te maak. Dit het vier jaar lank geneem, maar Toy Story was ʼn yslike treffer toe dit in November 1995 in teaters begin draai het. Aangevuur deur dié sukses, het Jobs in 1996 Pixar op die aandelebeurs genoteer en ná die eerste dag van verhandeling was sy 80%-aandeel in die maatskappy sowat $1 miljard werd. Ná 10 jaar se gesukkel was Jobs se loopbaan ’n enorme sukses. Maar die beste het nog voorgelê! 14

Intussen het Finding Nemo, Monsters, Inc., Cars, WALL-E en Up by Pixar gevolg. Jobs het meer geld met Pixar gemaak as wat hy gedurende sy eerste paar jaar by Apple gemaak het. 15

Apple kry nuwe lewe

Enkele dae ná Pixar op die aandelebeurs genoteer is, het Apple besluit om NeXT vir $400 miljoen te koop en hulle het Jobs weer op die raad van direkteure aangestel as ʼn raadgewer vir Apple se voorsitter en uitvoerende hoof, Gilbert F. Amelio. Apple was desperaat: hulle kon nie ʼn volgende behoorlike Macintosch-bedryfstelsel (die sagtewarestelsel wat die werking van ʼn rekenaar bestuur) ontwikkel nie. Die maatskappy se aandeel in persoonlike rekenaars het tot 5,3% geval en hulle het gehoop dat Jobs met nuwe idees vorendag sou kom. 14

Teen die einde van Maart 1997 het Apple verliese van $708 miljoen aangeteken. Amelio het drie maande later bedank en Jobs het as tussentydse uitvoerende hoof oorgeneem.

Hy het ʼn ooreenkoms met Microsoft aangegaan om Apple se oorlewing te verseker. Volgens dié ooreenkoms sou Microsoft $150 miljoen in Apple belê en die maatskappye het onderneem om saam aan verkope en tegnologie te werk. Jobs het ʼn nuwe prosesseerder (verwerker) ingebou wat die Apple-rekenaars vinniger gemaak het as Microsoft se Pentium-rekenaars.

Hy het ook die iMac ontwikkel, ʼn nuwe bekostigbare persoonlike rekenaar. Dit is in Augustus 1998 vrygestel en was ʼn groot sukses. Onder Jobs se leiding het Apple gou weer winsgewend geword en teen die einde van 1998 het die maatskappy met verkope van $5,9 miljard gespog. 14

Steve Jobs het die maatskappy, wat hy gestig het, van ondergang gered. Oor die volgende 10 jaar het die maatskappy produkte bekendgestel wat revolusionêr was, insluitend die iPod – ʼn draagbare musiekspeler in 2001; ʼn aanlynwinkel genaamd Apple iTunes Store in 2003; die iPhone-selfoon in 2007; en ʼn tabletrekenaar genaamd die iPad in 2010.

Die ontwerp en werkverrigting van hierdie toestelle het wêreldwyd by gebruikers aanklank gevind. Die Apple Store-winkels wat in 2001 oopgemaak het, was ook baie nuttige bemarking. 14

Steve se jaarlikse salaris by Apple was net $1, maar hy het byna 5,5 miljoen aandele in die maatskappy gehad en 138 miljoen aandele in Disney. Sy rykdom was dus sowat $5,1 miljard in 2009. 11

Tim Cook het as uitvoerende hoof by Apple oorgeneem toe Steve op 24 Augustus 2011, ses weke voor sy dood, sy bedanking aangekondig het. 16

Persoonlike lewe

Steve Jobs het vier kinders gehad – drie dogters en ’n seun. Lisa Brennan-Jobs, sy oudste kind, was Chrisann Brennan se dogter met wie hy ʼn verhouding tydens hul hoërskooljare gehad het. Toe Lisa op 17 Mei 1978 gebore is, was die paartjie nie getroud nie. Hy het nege jaar lank ontken dat Lisa sy kind is. Toe daar uiteindelik met DNS-toetse bewys is dat hy die pa is, het die hof bepaal dat hy $385 per maand onderhoud moet betaal. Toe hy later ’n miljardêr geword het, het hy self die bedrag na $500 verhoog. Ná sy dood het hy miljoene dollar vir Lisa in sy testament nagelaat. Lisa is ’n bekende joernalis en skrywer. 17

Steve Jobs trou in 1991 met Laurene Powell nadat die paartjie mekaar by die Stanford-Universiteit ontmoet het. Jobs het in 1989 ’n toespraak daar gehou. Laurene het in die voorste ry gaan sit en met Steve begin gesels toe hy langs haar kom sit. Hulle het daardie aand vir die eerste keer aandete gaan eet. ’n Jaar en ’n half later is hulle op 18 Maart 1991 tydens ’n seremonie by die Ahwahnee-hotel in die Yosemite Nasionale Park getroud. 17

Steve Jobs en Bill Gates

Op 22 September 1991 verwelkom die paartjie hul eerste kind en enigste seun. Reed Jobs het ’n honneursgraad verwerf in geskiedenis en internasionale sekuriteit en die volgende jaar ’n meestersgraad in geskiedenis. Hy het in 2023 ’n waagkapitaalfirma genaamd Yosemite op die been gebring wat onder meer in kankernavorsing belê. 18

Erin Siena Jobs, die tweede kind van Steve en Laurene, is op 19 Augustus 1995 gebore. Sy is ʼn stil mens en baie privaat. Sy het geen aktiewe openbare profiele op sosiale media nie. Dit is welbekend dat sy ʼn kenner in geboue en ontwerp is – iets wat sy van haar pa geërf het om alles wat mooi is, raak te sien. 19

Eve Jobs, Steve en Laurene se jongste, is op 9 Julie 1998 gebore. Sy het aan die Stanford-Universiteit gestudeer en is ’n baie goeie perderuiter. In 2019 is sy in die vyfde plek aangewys in die wêreld se top-1 000-springruiters jonger as 25. Sy doen deesdae modelwerk. 18

Sy laaste jare

In 2003 is pankreaskanker by Steve Jobs gediagnoseer. Dokters het aanbeveel dat hy so vinnig as moontlik ʼn operasie moet ondergaan, maar hy het die prosedure vir nege maande lank uitgestel. Hy het eers probeer om alternatiewe (anders as die gewone) medisyne te gebruik soos kruie en ʼn spesiale dieet. Dit het egter nie gehelp nie. 20

Hoewel hy uiteindelik behoorlike behandeling ontvang het, was dit te laat. Soos wat die jare aangestap het, het hy al hoe sieker geword. Die publiek kon sien iets is verkeerd, maar hy het gemaak asof sy gesondheidsprobleme nie so ernstig was nie. Hy het op sy werk bly fokus. Hy het die wêreld verander toe hy die iPhone in 2007 vrygestel het, maar in 2009 moes hy verlof neem toe hy ’n leweroorplanting ondergaan het. 20

In 2011 het hy weer verlof ingesit by die werk en daardie jaar in Augustus het hy as uitvoerende hoof van Apple bedank. Op 5 Oktober 2011 het hy vir ʼn laaste keer na sy gesin gekyk en net gesê, “Oh wow. Oh wow. Oh wow.”

Die man wat rekenaars en selfone in ʼn splinternuwe rigting gestuur het, het gesterf. Hy was 56 jaar oud. 20

“Dit is nie vir my belangrik om die rykste man in die begraafplaas te wees nie,” het Steve een keer gesê. “Dis belangriker om in die aand in die bed te klim en te kan sê ons het iets wonderliks gedoen. Dís wat vir my saakmaak.” 10

Woordbank

aandeel Een van ʼn aantal gelyke dele van die geld wat in ’n maatskappy belê is.
aandelebeurs Instelling waar aandele deur makelaars of agente gekoop of verkoop word; aandelemark.
aanklank gevind As jy van iemand/iets hou, hom/haar/dit dadelik aanvaar/verkies.
aangeneem Iemand (veral ʼn kind) (wettig) jou eie maak.
animasie Die verfilming van opeenvolgende tekeninge op só ’n wyse dat dit die illusie van beweging oordra.
beleggers Iemand wat geld in iets belê.
befonds Geldelik/finansieel steun; (die) geld vir iets verskaf/voorskiet.
biologiese ʼn Kind se ouer deur geboorte.
burgerlike Niemilitêr; siviel.
driedimensionele Wat (lyk of dit) lengte, diepte en hoogte het.
gediagnoseer Die vasstelling van ’n siekte op grond van simptome.
direkteure Persoon wat bestuur of beheer uitoefen, veral een van ʼn groep persone (die direksie) wat die sake van ’n bedryf/maatskappy bestuur.
DNS Deoksiribonukleïensuur; die stof in die selle van die liggaam wat elke individu se unieke genetiese inligting bevat.
elektronika Wetenskap van die aanwending van swakstroomapparaat soos elektron- en radiobuise, fotoselle, ens. – van belang vir radio/televisie/rekenaars/ens.
entrepreneur Oprigter van ʼn sakeonderneming; ondernemer wat iets organiseer en bestuur of ʼn nuwe rigting inslaan.
era ʼn Tydperk in die geskiedenis.
fooitjie ʼn Sommetjie/bedrag geld wat jy ekstra gee aan iemand soos ʼn taxibestuurder, petroljoggie of kelner.
geneties Van of wat betref die vertakking van die biologie wat handel oor die erflikheid; erflikheidsleer; oorerwingsleer.
genie Iemand wat buitengewoon slim/begaafd is.
gebruikersvriendelik So ingerig/opgestel dat dit die gebruiker se taak vergemaklik.
grafiese Wat gedrukte voorbeelde, grafieke, tekeninge of ontwerpe insluit of daarna verwys.
grafika Grafiese items wat op ’n rekenaarskerm vertoon of as data geberg word.
pankreaskanker Kanker: ʼn Baie ernstige siekte wat ontstaan wanneer selle in ʼn deel van ʼn mens of dier se liggaam skielik begin groei en vermeerder op ʼn manier wat nie normaal is nie. Pankreas: Lang, smal klier, geleë agter die maag, wat spysverteringsensieme in die dunderm afskei, en die hormone insulien en glukagon in die bloedstroom.
komponente Een van verskillende onderdele wat saam ʼn masjien/stelsel/ens. vorm.
kuswag Gewoonlik bestaande uit ʼn goed toegeruste patrolliemag, dikwels verbonde aan die vloot, wat die veiligheid en orde ten opsigte van kusverkeer handhaaf, toesien dat navigasiereëls, doeane- en immigrasiewette nagekom word, en wat die kus en kuswaters van ʼn land bewaak.
ingenieurs Iemand wie se werk dit is om paaie/brûe/masjiene/ens. te ontwerp of bou.
laser ʼn Apparaat wat ʼn baie sterk, smal ligstraal voortbring wat in mediese operasies gebruik word, metale kan sny of ligpatrone kan vorm om mense te vermaak.
liefdadigheid Die handeling van steun/geld/goed/ens. te gee aan mense wat arm/siek/ens. is en hulp nodig het.
masjinis Iemand wat ʼn masjien beheer.
onderhoud Geld wat jy aan iemand gee om hom/haar te help koop wat hy/sy nodig het.
raadgewer Iemand wat raad gee; iemand by wie om raad aangeklop word.
rekenmeester Iemand wat opgelei is in rekeningkunde; iemand wie se werk dit is om rekeninge na te gaan, ens.
revolusionêr Anders as die bestaande.
sagteware Al die programme, roetines en simboliese taal wat die werking van apparatuur beheer; programmatuur.
silikon Sagte niemetaal met halfgeleidende eienskappe, in suiwer vorm ’n grys kristalagtige stof of bruin poeier, maar meer algemeen saam met ander stowwe as silika en silikate in sand/kwarts/graniet/veldspaat/klei aangetref; kiesel.
springruiters ’n Perderuiter wat aan ʼn springwedstryd deelneem.
stokperdjie Iets wat jy in jou vrye tyd doen omdat jy dit geniet.
terapeutiese Wat met die behandeling van ʼn siekte/kwaal verband hou; wat jou kalm en ontspanne laat voel.
vakmanskap Die kuns om baie vaardig te wees in ʼn bepaalde ambag/vak.
verhandeling Handel dryf; verkoop; ruil.
veteraan Iemand wat lank ʼn soldaat was, veral tydens ʼn oorlog.
vigs ’n Baie ernstige siekte, in bloed en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra, wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer teen infeksies kan weerstand bied nie.
weddenskap ʼn Ooreenkoms om geld of iets waardevol op die uitslag van iets te waag. 29

Lees, doen en kyk om meer van Steve Jobs te wete te kom

Kyk hierdie video’s oor Steve Jobs en sy wêreld

Apple het muise vir rekenaars ontwikkel: 

Steve stel Macintosh in 1984 bekend:

Macintosh se advertensie by die Superbowl in 1984:

Hoe Apple se 1984-advertensie alle Superbowl-advertensies verander het:

Die ontwikkeling van die iPhone tot in 2021 (20:32)