Vinnige feite

  • Sutherland, waar W.E.G. Louw gebore is en sy kinderjare deurgebring het, word beskou as een van die beste plekke in die wêreld om die sterreruim te bestudeer. Die sogenaamde SALT-teleskoop (South Africa Large Telescope) en die wêreldklas planetarium lok besoekers van reg oor die wêreld. 3
  • Terwyl hy in Grahamstad ʼn professor was, het Louw met ʼn deftige Packard-motor gery, en in Stellenbosch met ʼn donkerblou Mercedes Benz 280 met die bynaam “Joachim.” 2
  • Die eerste Afrikaanse vertaling van die Bybel het in 1933 verskyn. Dié vertaling is hersien, en ʼn nuwe weergawe het in 1953 verskyn. 10 Louw was een van die letterkundige adviseurs tydens die vertalingsproses. 1
  • Louw het ʼn groot rol gespeel in die stigting van ʼn Afrikaanse skool, Hoërskool P.J. Olivier, in Grahamstad. Die koshuis van die skool is later na Louw vernoem: Dit staan bekend as Huis W.E.G. Louw.
  • Die huis waarin W.E.G. Louw en sy broers as kinders gewoon het in Jubileestraat, Sutherland, is later as museum verklaar te danke aan Louw en sy broer Van Wyk se prominensie in die Afrikaanse letterkunde.

 

Foto: iStock

William Ewart Gladstone Louw, of W.E.G. Louw soos hy vandag bekend staan, was die jongste van vier broers. Hy is op 31 Mei 1913 op die plattelandse dorpie Sutherland in die Karoo gebore. 1 Die Sutherland-omgewing in die Roggeveld (ʼn deel van die Karoo) was ideaal vir skaapboerdery, en die gemeenskap in en om Sutherland se taal en kultuur was eg Afrikaans. 2 Louw het sommer vroeg-vroeg te doen gekry met die ongenaakbaarheid van die Karoo: Sutherland is die dorp in Suid-Afrika waar die laagste temperature aangeteken word. In die winter word dit maklik tot -15°C! 3

Sutherland

Kinderjare in die Karoo

Louw se ouers was vooraanstaande mense in die gemeenskap. Sy vader, Bismarck von Moltke (Molkie) Louw, was prokureur op Sutherland, en sy ma, Martha Hendrina Johanna Frederika van Wyk (bekend as Poppie), die dogter van ʼn bekende boer in die distrik. (In dié jare was dit algemene gebruik dat kinders lang name van hul voorouers ontvang het, maar dat hulle dan ʼn kort, eenvoudige noemnaam gehad het.) Sy broers was Koos (gebore 6 Mei 1905), N.P. van Wyk (gebore 11 Junie 1906) en Bismarck von Moltke (gebore 29 Julie 1909). 4

Louw onthou sy ma as “ʼn baie mooi vrou, maar ook baie kwaai. Vir haar ‘blou pantoffel’ had ek ʼn heilige vrees”. Sy pa beskryf hy as sy “liewe, sagmoedige vader” wat hom een keer met die sogenaamde “wit karwats” gedreig het, maar by wie hy nooit ʼn pak slae gekry het nie. 4

Toe Louw sewe jaar oud is, verhuis sy gesin na Oranjezicht in Kaapstad, en Louw gaan skool aan die South African College Schools (SACS), ‘n laer- en hoërskool was.

South African College School

Hoewel Afrikaans in dié jare vinnig as ʼn taal ontwikkel het, het baie vooraanstaande Kaapse families nog nie Afrikaans gesien as ʼn waardige voertaal nie. Engels was in dié tyd nog vir hulle ʼn simbool van beskawing en sosiale vooruitgang. 2 Daarom het hulle dikwels hul kinders liefs na Engelse skole gestuur. Vir Louw, wat nog altyd net Afrikaans gepraat het, was Engels totaal onbekend, en hy kon glad nie die onderwyseres verstaan nie. Dit het glo een keer gebeur dat hy die Skotse woord bairn (kind) in ʼn leesboek teengekom het, en hy én sy ma was in trane toe hulle nie die betekenis van die woord kon opspoor nie. Hy het egter mettertyd Engels sonder ʼn aksent leer praat. 4

Die Louw-broers gaan kuier byna elke vakansie op hul oupa en ouma se plaas Gunsfontein buite Sutherland. 1 In beide Louw en Van Wyk se poësie is die nostalgie na die goeie tye wat hulle by hul oupa en ouma op Gunsfontein gehad het, duidelik sigbaar. 4 In sy gedig “Om boer te wees” skryf hy byvoorbeeld:

O om ʼn boer te wees wat werk
met sy hande in die son
die liewe, lange dag; om saans
moeg terug te kom
van die lande, en te slaap
tot die rooidag deur die vensters breek,
en teen die tweede hanekraai, oor die ryp,
die ploegstert vas te hou… 5

Louw en sy liefde vir Afrikaans

Baie mense wat later oor Louw se poësie kommentaar lewer, meen dat hy in sy skryfstyl Afrikaans en die Afrikaanse geesteslewe wou verfyn om meer ooreen te stem met die Europese manier van doen wat hy in sy Engelse skool leer ken het. 2 Tydens sy skooljare ontvang hy musieklesse by ʼn Duitse dame, en dit prikkel verder sy belangstelling in Wes-Europese kultuur. 1

Louw se eerste gedigte is in Junie 1929 in The South African College School Magazine gepubliseer. Hy was ʼn redaksielid van sy skooltydskrif, en skryf later ook gedigte in Afrikaans. Teen die tyd dat hy matriek geskryf het, was sy identiteit as ʼn Afrikaner sterk gevestig.

Nadat hy matriek voltooi het, skryf hy in by die Universiteit van Kaapstad, waar hy van 1931 tot 1935 studeer. 1 Omdat Engels in dié tyd gesien is as ʼn vyand van Afrikaans, het Louw hom ná skool eerder besig gehou met die Nederlandse letterkunde en kultuur as met Engels. 2 Hy was byvoorbeeld op universiteit ʼn baie aktiewe lid van die Afrikaanse Nasionale Studentebond. Louw neem ook in dié tyd Duitse lesse by sy broer Van Wyk, wat enersyds sy belangstelling in die kulture van Wes-Europa verder prikkel, en andersyds sorg daarvoor dat hy en sy broer ʼn hegte band vorm. 1

Die Dertigers

W.E.G. Louw se eerste digbundel word gepubliseer in 1934, toe hy maar 21 jaar oud was. Dit heet Die rijke dwaas (herdrukte bundels heet Die ryke dwaas), en bevat gedigte wat hy geskryf het toe hy tussen 16 en 20 jaar oud was. 6

ʼn Jaar nadat die bundel uitgegee is, ontvang Louw die Hertzogprys daarvoor – die mees gesogte toekenning in die Afrikaanse letterkunde. 1 Hy ontvang dit saam met Totius (vir sy bundel Passieblomme) en C. Louis Leipoldt (vir Skoonheidstroos). 7 Vir ʼn 21-jarige, onbekende digter is dit ʼn reuseprestasie.

Met hierdie digbundel word Louw die eerste van die sogenaamde “Dertigers”. Die Dertigers was ʼn groep baie talentvolle digters wat in die dertigerjare van die 20ste eeu (met ander woorde, tussen  1930 en 1939) ʼn groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gemaak het. Hierdie groep digters het Afrikaanse poësie na nuwe hoogtes geneem en aan gedigte ʼn nuwe volwassenheid gegee. Hulle skryf oor nuwe onderwerpe, soos die liefde en die natuur. 6

Louw se gedigte het eienskappe getoon wat kort voor lank kenmerkend van hierdie generasie digters geword het. Hy is gevolg deur sy broer Van Wyk, wat die prominentste skrywer en teoretikus van dié beweging geword het. 6 Ander skrywers en digters soos C.M. van den Heever, I.D. du Plessis, Uys Krige en Elisabeth Eybers volg ook. 8

Twee digterbroers

Louw se broer Van Wyk was sewe jaar ouer as hy. Toe Van Wyk hom eendag vertel dat hy ook begin dig het, maar nie daarmee wil aanhou nie, aangesien sy eerste gedigte nie vir publikasie aanvaar is nie, het Louw hom oortuig om vas te byt. Hy het hom ook gehelp om sy eerste digbundel, Alleenspraak, uit te gee. Dié bundel verskyn in 1935. 1 Vandag kan ons dankbaar wees dat Louw sy broer oortuig het om aan te hou skryf, aangesien Van Wyk een van die grootste skrywers en digters in Afrikaans geword het. 9 Die twee broers het reg deur hul lewe hegte vriende gebly en het as skrywers dikwels saamgewerk. Hulle was ook medestigters van die Vereniging vir die Vrye Boek wat skrywers se werk wat ander uitgewers nie wou uitgee nie, gepubliseer het. 1

Louw en sy skrywers- en digtersvriende – mense soos sy broer Van Wyk, Izak van der Merwe (bekend as die digter Boerneef), Abraham Jonker en Hettie Smit – het baie inspirasie geput uit die letterkunde van Wes-Europa (lande soos Nederland, België, Frankryk, Oostenryk en Duitsland). Hulle wou hierdie lande se ryk letterkunde gebruik as ʼn voorbeeld van wat in Afrikaanse letterkunde ook moontlik is. 2

N.P. van Wyk Louw

Louw se studies en huwelik

Louw behaal sy meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad met ʼn onderskeiding, en sit sy studies aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam (vandag bekend as die Universiteit van Amsterdam) in Nederland voort, waar hy in 1939 ʼn doktorsgraad in Nederlandse letterkunde verwerf. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in November 1939 keer hy terug na Kaapstad. 1

Hy skryf in die gedig “Amsterdam, September 1939” oor die oorlog:

Niks sal ooit weer wees soos dit daardie somer was:
die water van die Spiegelgracht lê swart soos glas;

die brûe, boë, bome en lampe ry op ry
wieg lui-lui heen en weer as ʼn bootjie daaroor gly;

en deur die mis wat instoot van die see terwyl
die skemer teen die gewels styg, klink vér en yl,

asof gesprinkel, ʼn wysietjie uit ʼn toringklok.
Maar dis reeds oorlog! Dié besef ek met ʼn skok!

Ons wis dit séker ʼn herfsmiddag, later, toe eindelik
ons skip die oop see kies en ons ʼn laaste blik

vergun word van die kus – die strand, die kaal, wit duin
en ʼn vuurtoring, donker, teen die donker, lae kruin;

en toe, ʼn kwartiertjie later, in die Noordsee, mis ons boot
rakelings ʼn myn wat los dryf in die see – en óns die dood.

Ons vaar dan verder: ʼn helder driekleur aan die mas…
Maar niks sou ooit weer wees, soos dit daardie somer was. 5

In 1942 verwerf Louw aan die Universiteit van Kaapstad nóg ʼn graad in letterkunde, en twee jaar later, in 1944, tree hy in die huwelik met die komponis Rosa Sophia Cornelia Nepgen van Barkly-Oos. Talle van sy gedigte word deur haar, maar ook deur ander komponiste getoonset. 1 Twee seuns, Johannes en Paul, word later uit hul huwelik gebore.

Hy word in 1944 ook ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

W.E.G. Louw en sy vrou, die komponis Rosa Nepgen

Standpunte

Die Dertiger-digters het ʼn behoefte gehad aan ʼn plek waar hulle hul gedigte kan publiseer en ook oor die letterkunde kon debatteer. Om hierdie rede kom die onafhanklike tydskrif Standpunte in 1945 tot stand. W.E.G. en N.P. van Wyk, asook die letterkundige H.A. Louw, was Standpunte se eerste redaksie. 7

Louw se loopbaan

W.E.G. Louw se eerste akademiese posisie was as professor in Afrikaans en Nederlands aan die Rhodes-Universiteit in Grahamstad. 1 In 1956 verskyn sy bundel Bybels en Babels, 2 en in 1957 aanvaar hy ʼn pos as kunsredakteur by die koerant Die Burger, waar hy tot 1966 werk. In 1967 word hy professor in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch (vandag Universiteit Stellenbosch). Hy en sy gesin verhuis ook in hierdie tyd na die landgoed Sondraai op Stellenbosch. 2

Bybels en Babels in 1957 verskyn daar vir 15 jaar geen digbundel uit Louw se pen nie. In hierdie tyd is hy betrokke by allerlei rade, komitees en kulturele projekte. Hy vervul sy rol as pa van ʼn gesin met twee jong seuns, en as kunsredakteur van ʼn koerant moet hy talle konserte en ander geleenthede bywoon. 2

In hierdie tyd het daar ook ʼn hele paar ander digters op die toneel verskyn wat vinnig suksesvol geraak het, en moontlik daartoe kon bydra dat Louw minder geskryf het – digters soos Louw se broer Van Wyk, D.J. Opperman en Elisabeth Eybers. 2

In 1975 breek die oorlog in Angola uit, en in 1976 vind die Soweto-opstand plaas – ʼn opstand wat begin het as protes teen Afrikaans as verpligte vak in skole met swart leerders. In dié jaar verskyn Louw se bundel Vensters op die vrees, wat handel oor Louw en sy tydgenote se besef dat die wêreld soos hulle dit ken, besig is om te verander. Die titelgedig van die bundel, “Vensters op die vrees,” suggereer dat die oorlewingstryd van Afrikaners al eeue oud is en nog baie lank sal voortduur. 2 In die gedig staan daar byvoorbeeld: “ʼn duisend vrese bekruip ons snags.”

Christelike digter

W.E.G. Louw word beskou as een van die opvallendste Christelike digters in Afrikaans. Baie van sy gedigte en titels van sy bundels het Christelike temas, soos die bundels Die ryke dwaas, Adam en ander gedigte en Bybels en babels; en die gedigte “Adam,” “Simson,” “Die brandende doringbos,” “Proloog vir ʼn Kersspel” en “Jakob en die engel”. 2 In sy gedig “Die passie van ons Heer,” wat handel oor Jesus se kruisiging, skryf hy byvoorbeeld in die gedeelte “Golgota”:

Met rooi, gewonde voete en die pyn
van dorings wat sy hoof in spot omsluit,
het Hy – gelaaf met mirre en bitter wyn –
teen Golgota sy droewe gang gestuit. 5

Bybelvertalingskommissie saam met die Taaladviseurs, 1972. Agter van links na regs: proff. F.J. Botha, T.J. van der Walt, F.C. Fensham, P.A. Verhoef, W.E.G. Louw (adv.), H. Venter (adv.), G.G.M. Pelser, J.P.Oberholzer. Voor van links na regs: Proff. G.S. Nienaber (adv.), A.H. van Zyl (sekretaris), W. Kempen, (adv), S. du Toit (ondervoorsitter), E.P. Groenewald (voorsitter), E.S. Mulder en dr. Postma

Aftrede en afsterwe

Louw tree af in 1978, 1 en twee jaar later, op 24 April 1980, sterf hy op sy landgoed Sondraai buite Stellenbosch. Hy was 66 jaar oud. Sy laaste bundel, Opvlugte en opdragte, verskyn ná sy dood in 1980. 2

Toekennings wat W.E.G. Louw ontvang het

  • Die Hertzogprys vir Poësie vir Die ryke dwaas (1934)
  • ʼn Medalje van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging (1965)
  • Die Gustav Preller-prys (1970) 1

Aanhaling oor W.E.G. Louw

“Louw se hele persoonlikheid het hom in die wieg gelê vir die literêr-historiese rol wat hy as digter, as stigterslid en redakteur van Standpunte, as kunsredakteur van Die Burger en as professor in Afrikaans en Nederlands te Grahamstad en Stellenbosch sou speel. Hy was iemand van onbesproke smaak, sensitief en geëmosioneerd in die tradisie van die romantiese digters by wie hy aansluiting gevind het, hoogs gekultiveerd in sy sosiale omgang en driftig toegewyd aan sy verhewe ideale vir Afrikaans.” – E.C. Brits 1

W.E.G. Louw se gepubliseerde werk

Poësie

  • 1934: Die rijke dwaas
  • 1940: Terugtog
  • 1944: Adam en ander gedigte
  • 1956: Bybels en Babels
  • 1972: Naggesprek en ander gedigte
  • 1973: Versamelde gedigte
  • 1976: Vensters op die vrees
  • 1980: Opvlugte en opdragte (uitgegee ná sy dood)
  • 1988: Versamelde gedigte

Literêre werk

  • 1939: Die Nieuwere Afrikaanse Poëzie
  • 1942: Die invloed van Gorter op Leopold (proefskrif)
  • 1950: “Die Afrikaanse poësie na 1900” in C.M. van den Heever en P. de V. Pienaar se Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner
  • Kritiese opstelle wat Louw tussen 1938 en 1952 geskryf het, word opgeneem in die versamelbundels Ou wyn van vreugde en Vaandels en voetangels 1
  • 1971: Twee bronne van vernuwing in die poësie van N.P. van Wyk Louw (gelewer as ʼn referaat by die eerste N.P. van Wyk Louw-gedenklesing)

Prosa en essay-versamelings

  • 1962: Onvoltooide kalender
  • 1964: Kolom
  • 1969: So ver as ʼn engel te perd kan ry (Reisverhaal) 1

Vertalings

  • 1940: Die legende van die heilige Julianus die herbergsame deur Gustave Flaubert
  • 1960: Kasper se wêreldreis deur Marlene Reidel (rymende vertaling saam met sy vrou, Rosa Nepgen)
  • 1961: Jona en die groot vis deur Reinhard Herrmann
  • 1961: Die verlore seun deur Reinhard Herrmann
  • 1962: Johanna die soldaat van God deur George Bernard Shaw 1
  • 1977: Persoonlike perspektiewe

Bundels wat saamgestel is uit die briewe wat N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw vir mekaar geskryf het

  • 2005: Ek ken jou goed genoeg – Die briefwisseling tussen N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw 1936-1939 deur J.C. Kannemeyer (Protea Boekehuis)
  • 2011: Briewe van W.E.G. en N.P. van Wyk Louw 1941-1970 saamgestel deur J.C. Kannemeyer (Hemel & see) 1

Bundels waarvan W.E.G. Louw die samesteller was

  • 1940: Tussen die engtes (saam met D.B. Bosman en N.P. van Wyk Louw)
  • 1946: Vyftig gedigte van C. Louis Leipoldt
  • 1978: Driesprong: ʼn bloemlesing uit die gedigte van Celliers, Totius en Leipoldt

Woordbank

akademiese Studies, veral by ʼn universiteit.
debatteer Saam met iemand anders redeneer oor iets.
doktorsgraad Die hoogste akademiese graad wat ʼn mens kan kry.
geëmosioneerd Om uiting aan jou emosies te gee.
gekultiveerd Beskaaf, goed opgevoed.
gesogte Gewilde, of iets wat mense graag wil hê.
hanekraai Baie vroeg in die oggend met sonsopkoms, wanneer die hoenders wakker word en die hane gewoonlik begin kraai.
heet Iets of iemand se naam (Hy heet Piet).
heilige vrees ʼn Baie groot vrees vir iets of iemand.
identiteit Wie jy is, of hoe jy jouself sien.
in die wieg gelê Bestem of grootgemaak vir iets.
inspirasie Iets wat jou beïnvloed om kreatief of skeppend te wees.
karwats ʼn Sweep van leer aan ʼn kort stok wat gewoonlik gebruik is om diere aan te jaag.
kenmerkend ʼn Kenmerk waaraan jy iets of iemand kan uitken.
komponis Iemand wat musiek skryf.
kulturele Wat te doen het met kultuur, soos teaters en kunsgalerye.
kunsredakteur ʼn Persoon wat by ʼn koerant werk en verantwoordelik is vir alles wat oor onderwerpe soos kuns, kultuur en musiek geskryf word.
landgoed Klein plasie, gewoonlik net buite die dorp.
letterkunde Geskrewe werk, veral wanneer die taalgebruik daarvan besonder goed is.
medestigters Twee of meer mense wat saam iets begin het, is medestigters.
meestersgraad ʼn Akademiese graad wat jy verwerf nadat jy ʼn honneurs- of ander tweede graad voltooi het, en wat jy moet doen voor jy vir jou doktorsgraad kan inskryf.
myn ʼn Toestel wat ontplof as iets of iemand daaraan raak.
nostalgie Heimwee of verlange.
onafhanklike Vry, selfstandig, en nie verbind aan iets nie.
ongenaakbaarheid Hard, of nie maklik bereikbaar nie; iets wat mense op ʼn afstand hou.
op die toneel verskyn Na vore kom; bekend word.
oorlewingstryd ʼn Deurlopende geveg om as ʼn individu of as ʼn groep mense met ʼn gesamentlike identiteit te oorleef.
planetarium ’n Gebou wat spesiaal toegerus is om beelde van die sterre in die lug en ander voorwerpe in die ruimte op ’n geboë plafon te wys.
poësie Gedigte, digkuns.
prikkel Belangstelling in iets wakker maak.
proefskrif Wetenskaplike skryfstuk (dokument/boek) wat mens indien om jou doktorale graad te verwerf (te kry).
professor ʼn Dosent aan ʼn universiteit wat die hoogste rang het.
prominensie Vooraanstaande of op die voorgrond.
redaksie Die skrywers van ’n dagblad; koerantskrywers.
referaat Lesing.
rooidag Vroeg in die oggend, wanneer die son opkom en die lug rooi is.
sterreruim Die hemelruim vol sterre in die nag.
suggereer Iets impliseer, maar nie reguit sê nie.
teoretikus ʼn Persoon wat die teorie van iets goed ken en verstaan.
titelgedig Die gedig in ʼn bundel wat dieselfde titel as die bundel het.
tree af Ophou werk wanneer ʼn mens ʼn sekere ouderdom bereik.
tydgenote Mense wat in dieselfde tyd as jy leef.
uit Louw se pen Iets wat hy geskryf het.
vas te byt Nie opgee nie.
verhewe Hoë, groot.
voertaal Taal wat algemeen gebruik word om mee te kommunikeer.
volwassenheid Volgroeid; verantwoordelik.
vooraanstaande Bekende en gesiene; iemand wat as ʼn leier in ʼn dorp of gemeenskap gesien word.
waardige Iets wat eerbied by ʼn mens wek.

Lees meer

Video’s

Luister hier na die Stellenbosch Madrigal Singers se vertolking van Rosa Nepgen, Louw se vrou, se toonsetting van die Onse Vader.

Kuier saam in Sutherland, die grootworddorp van W.E.G. Louw en sy broer, N.P. van Wyk Louw

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Junie 2024 | Bygewerk op 29 Augustus 2024