Vinnige feite
- Bouwer se gedig “Die mense wat my liefhet” is getoonset en is al deur verskeie kunstenaars soos Laurika Rauch en Anton Goosen gesing.
- Hy het lirieke vir verskeie kunstenaars geskryf.
- Hy het ses SABC Artes-benoeming vir televisieregie en ’n Star Award-toekenning vir die produksie van Arme Marat.
- Die bekende sangeres Laurika Rauch is in 1977 deur Stephan Bouwer gevra om in die program Fyn net van die Woord te sing. Haar solosangloopbaan het toe net daar afgeskop. 4
- Bouwer het met sy radioprogram Die fyn net van die woord die Afrikaanse publiek aan die woord “luisterlied” uit die Lae Lande (Nederland en België) bekendgestel. Die luisterlied is ’n liedjie waar die “klem op die woord” gelê word. Dit was tydens die Musiek-en-liriekbeweging. 5
- Die sanger Jannie du Toit is ook sinoniem met die Musiek-en-liriekbeweging en hy het genoem dat Bouwer raad en koers aan die nuwe beweging verskaf het. 6
Eers was net die water koud
wat uit die warmwaterkraan gekom het
sodat my pa nie kon skeer nie
Maar toe wou die oond nie warm word
toe ma wou soetkoekies bak nie
Na twee uur het my gefrustreerde suster
met nat hare en krulpenne
onder die droër uitgeklim
Toe het ek die gordyne oopgetrek
om te sien wat aangaan:
’n Stalagtiet van ys het van die son afgehang
tot op die aarde. 1
Dié gedig word “Koue oorlog” genoem en is deur Stephan Bouwer, ’n Afrikaanse digter, akteur, dramaturg, TV- en verhoogregisseur en resensent geskryf.
Bouwer (1948-1999) word as ’n baanbreker op vele gebiede beskou, want hy was vir baie eerstes verantwoordelik.
Daar was byvoorbeeld werke wat voorheen nie op Afrikaanse televisie gesien is nie en wat hy vir die eerste keer op ons kassies gekry het. Dit was klassieke werke van onder andere George Bernard Shaw, Anton Tsjechof en Henrik Ibsen, kontemporêre werke van onder andere Peter Shaffer, Ugo Betti, en Pavel Kohout, en werke van plaaslike dramaturge en skrywers soos Hennie Aucamp, Chris Barnard, Henriëtte Grové en Karel Schoeman vir Afrikaanse TV-gehore toeganklik gemaak het.
Suid-Afrika het in die jare sewentig en tagtig ’n Musiek-en-liriekbeweging ervaar. Hierdie beweging was ’n tyd toe Afrikaanse sangers, soos Anton Goosen, Jannie du Toit, Laurika Rauch, Mynie Grové en Clarabelle van Niekerk, baie goeie musiek in Afrikaans geskep het. Bouwer word as een van die voorlopers van dié beweging gesien.
Hy het baie eerstes vir die eerste keer in Suid-Afrika op die planke gebring, soos Nederlandse kabaret met die 1988-vertoning Van Berlyn tot Bapsfontein.
Bouer het glo reeds as tiener gedig en het in sy leeftyd vier digbundels gepubliseer. Hy was weer eens ’n baanbreker toe sy digbundel Portrette, Private dele & Kanttekeninge in 1980 gepubliseer is. Die bundel was ’n eerste in Afrikaans om homoseksualiteit as tema te gebruik en dit het die weg vir ander digters gebaan om ook (in ’n tyd toe dit ongekend was) daaroor te dig.
Bouwer is bekend vir sy gedigte oor die liefde, reis en ook vir sy sogenaamde “kletsverse”. Dit is omdat hy in gewone taal gedig het, wat toeganklike poësie genoem is.
Nog iets waarvoor Bouwer se gedigte bekend is, is vir die skerp satire. Hy het byvoorbeeld gespot met hoe die destydse Afrikaanse nasionaliste geleef het en ook met die wêreld van akteurs en aktrises. [Lees hier oor nasionalisme.] Die dood is nog ’n tema wat dikwels in sy werk voorgekom het en daar was veral in sy laaste bundel, Sirene van bloeisels, verwysings na vriende en familie wat weens siekte of selfdood gesterf het. 2
Wie was Stephan Bouwer?
Stephan Bouwer is as Johannes Stephanus Bouwer op 8 Augustus 1948 in Pretoria gebore. Hy was ’n kranige atleet op skool en het Noord-Transvaalse kleure in atletiek verwerf. Hy het in 1966 matriek aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria voltooi.
Hy het daarna vir ’n BA-graad met dramakunde, Afrikaans en Engels as hoofvakke by die Universiteit van Pretoria ingeskryf. Hy het dié graad in 1969 voltooi en in die daaropvolgende jaar ’n lisensiaat in spraakopleiding en toneelkuns (OLST) aan die Universiteit van Suid-Afrika asook die Licentiate in the Theory and Practice of Speech (LTCL) aan die Trinity College of Music in Londen voltooi. Hy het ook in 1971 ’n honneursgraad in dramakunde met lof aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die daaropvolgende jaar ’n MA-graad in dramakunde voltooi. Laasgenoemde was met ’n verhandeling getiteld “Vrouepersone in die dramas van Tennessee Williams”. Terwyl hy met hierdie nagraadse studies besig was, was hy ’n tydelike onderwyser by onder meer Waterkloof House Preparatory School en Laerskool Pretoria-Oos.
Truk was in daardie jare die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste en het verskeie opvoerings aangebied. Bouwer het van 1968 tot 1972 in van hul vertonings as akteur opgetree. Een van die vertonings was As ons twee eers getroud is waarin hy die hoofrol vertolk het.
Hy het in 1972 ’n studiebeurs van die Belgiese regering gekry om in België navorsing oor dramakuns, rolprentkuns en Nederlandse/Vlaamse poësie te doen.
Met sy terugkeer na Suid-Afrika, het hy ’n dramaregisseur by die SAUK-TV geword en was 14 jaar in dié pos. Hy was in daardie tyd vir die regie van meer as 60 produksies verantwoordelik.
Bouwer was ook van 1988 tot 1997 ’n lektor in die departement kommunikasieleer aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) – vandag die Universiteit van Johannesburg.
Hy het daarna as ’n vryskutregisseur vir TV-produksies opgetree. As ’n mens vryskutwerk doen, is jy nie permanent aangestel nie en word slegs betaal vir die werk wat jy doen. Hy het ook intussen artikels en resensies vir koerante en tydskrifte, soos vir Die Vaderland, Beeld, Rapport, De Kat en Insig geskryf.
Bouwer is op 8 Julie 1999 in Johannesburg oorlede. 2
Bouwer as akteur
Hy het opgetree in onder meer Die drie Van der Walts, Die dans van die reier, As ons twee eers getroud is, Die hand vol vere (1971), Of Mice and Men en Oedipus. 3
As regisseur
- Radioverwerkings: Die verhaal van die wit lyster (Alphonse Daudet), ’n Klavier in die gras (Françoise Sagan) en Die leier van sy mense (John Steinbeck).
- Regie van operas se videoproduksies: Die medium (Menotti) en Carmen (Georges Bizet).
- Regie van verhoogproduksies: The Human Voice (Jean Cocteau), Gianni Schicchi (Giancomo Puccini), Charley’s Aunt (Robert Bolt), A man for All Seasons (Brandon Thomas), Skadu’s teen die muur (Koos du Plessis), Inkleurboek vir twee (P.G. du Plessis); Mirakel (Reza de Wet), Kort voor lank (Hennie Aucamp); en die Duitse kabaret Brecht/Eisler (Hanns Eisler) – ’n eenvrouvertoning deur Marie du Toit.
- Regie, verwerking, draaiboek en/of vertaling: Liesbeth slaap uit (Hennie Aucamp), La musica (Marguerite Duras), Juffrou Julia (August Strindberg) en Die dame met die kamelias (Alexandre Dumas).
- Regie van TV-reekse: Meulenhof se mense (Linda Joubert/Henriëtte Grové), Dokter, Dokter (Kobus Louw), Drama, Drama (Kobus Louw), Umtinzini Spa (Kobus Louw), Die voortreflike familie Smit (Anna M. Louw) en Huisjakker (Leon van Nierop).
- Regie van videoproduksies: Liefdesverse, Kersverse en Fyn net van die woord.
As digter, dramaturg en skrywer
- Digbundels: So sal ons uitpasseer (1969), Soldag (1973), Portrette, Private dele & Kanttekeninge (1980) en Sirene van bloeisels (2000
- Dramateks: Die Brummers hou bruilof (1970), Die Terugkeer van Mej. du Buisson en die kabaret Kort voor lank.
- Kortverhale in bloemlesings: soos in die versamelbundel Blommetjie gedenk aan my (1978) en Japtrap (1979), en in literêre tydskrifte soos Standpunte, Contrast, Tydskrif vir Letterkunde en Ensovoort.
- Gedigte in bloemlesings:
Bloemlesing | Gedigte opneem |
Groot Verseboek (saamgestel deur D.J. Opperman) (1983) | “Koue oorlog” “Graham Greene” “Vandag sweer ek jou af” “Epistel i/s J.M.” |
Poskaarte (saamgestel deur Ronel Foster en Louise Viljoen) (1997) | “Waarom sal ek skryf van die wêreld” “Keersy” “hy is toe terug na sy ou” |
Die Afrikaanse poësie in duisende en enkele gedigte (saamgestel deur Gerrit Komrij) (1999) | “Terugflits” “Koue oorlog” “Epistel” “Notas gemaak by ’n geslotebaantelevisie-demonstrasie” “Exit” “Broeikas” “Die boekstutte op die kaggelrak …” “Vannag is die bed weer in ’n kryt verander …” |
Groot Verseboek 2000 (saamgestel deur André P. Brink) (2000) | “Koue oorlog” “Graham Greene” “Vandag sweer ek jou af” “Epistel i/s J.M.” |
Woordbank
baanbreker | Iemand wat ’n pionier is en nuwe terreine ontsluit. |
digbundels | Boeke waarin versamelings gedigte verskyn. |
dramaturge | Iemand wat toneelstukke skryf. |
homoseksualiteit | Verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. |
honneursgraad | Dis ’n akademiese graad wat ’n mens ná ’n baccalaureus-graad kan doen. |
kabaret | ’n Uitvoering wat gewoonlik laataand plaasvind en waarin daar gesing en gedans word. |
klassieke | Deel van ’n tradisionele styl. |
kontemporêre | Hedendaags. |
kranige | Baie goeie. |
lektor | Iemand wat by ’n universiteit (of soortgelyke instelling) klasgee. |
lirieke | Die woorde van liedjies. |
lisensiaat | Sertifikaat wat ’n mens kry as jy ’n gevorderde eksamen aflê. |
luisterlied | ’n Lied waarin die inhoud van die woorde beklemtoon word. |
nagraadse studies | Studies wat ’n mens ná voltooiing van jou eerste graad kan doen. |
nasionaliste | Lede van die Nasionale Party/mense met ’n diep liefde en trots vir hul vaderland. |
ongekend | Buitengewoon. |
poësie | digkuns |
regie | Leiding by die opname van ’n uitvoering neem. |
resensent | Dis iemand wat ’n opvoering, boek of kunswerk beoordeel en dan daaroor verslag lewer. |
regisseur | Iemand wat toneelspelers afrig. |
satire | Dit is wanneer iets bespotlik voorgestel word, soos mense se probleme of dwaashede. |
tema | Onderwerp. |
toeganklike | Maklik om te verstaan. |
getoonset | Wanneer daar musiek by woorde gevoeg word, dit word dus in ’n liedjie verander. |
voorlopers | Pioniers, mense wat die leiding neem op ’n terrein. |
Lees die volgende artikels om meer oor Bouwer en gedigte te leer
- Inligting oor Bouwer
- Hier is die woorde van “Die mense wat ek liefhet”
- Wat is digkuns?
- As jy graag nog Afrikaanse gedigte wil lees
Kyk na hierdie video’s om meer oor Bouwer te leer
Luister na die “Mense wat ek liefhet”
’n Ou Afrikaanse rolprent wat Bouwer geregisseer het