Percy Fitzpatrick
Jy ken dalk nie die naam sir Percy Fitzpatrick nie, maar as jy hoor dat hy die man is wat die boek Jock of the Bushveld geskryf het, sal jy seker dadelik die boek herken, want wie ken nie die storie van die dapper hond Jock nie? Dis sekerlik een van Suid-Afrika se bekendste kinderboeke.
Sir Percy Fitzpatrick was ʼn politikus, entrepreneur, joernalis en skrywer van Ierse afkoms. Hy is op 24 Julie 1862 in Kings William’s Town in die destydse Kaapkolonie gebore. Hy was die oudste seun van twee Iere: James Coleman Fitzpatrick (ʼn regter) en Jenny Fitzgerald. 1
Sy ouers het hom op 12-jarige ouderdom na ʼn skool in Engeland, St. Gregory’s College naby Bath, gestuur. Sy pa se gesondheid het egter begin agteruitgegaan, en hy moes na Suid-Afrika terugkeer. Hy het daarna onderskeidelik by St. Aidan’s College in Grahamstad en by die South African College in Kaapstad skoolgegaan.
Sy pa is in 1880 oorlede, en Fitzpatrick moes noodgedwonge gaan werk het om sy ma en suster te onderhou. Hy het aanvanklik by ʼn bank in Kaapstad gewerk, maar hy was van kleins af lief vir die natuur en buitelewe, en hy het blykbaar nie van die kantoorwerk gehou nie.
Die goudvelde van die destydse Oos-Transvaal het hom gelok. Hy is in 1884 daarheen en het daar onder meer as stoorman, transportryer en joernalis gewerk. 2 As transportryer het hy goedere met ʼn ossewa vanaf Lourenço Marques (vandag is dit Maputo) na Lydenburg en Barberton aangery, en hy het ʼn liefde vir die Bosveld ontwikkel. Dit was ook juis op hierdie roete waar baie van Jock, ʼn Staffordshire-bulterriër en die hoofkarakter van sy boek, se avonture afgespeel het. Fitzpatrick het saam met ʼn vriend ʼn transportonderneming begin en het ook later sy eie onderneming gehad.
Die roete wat hulle gevolg het, het destyds as die Ou Transportpad bekend gestaan en dateer terug na 1844 toe die Voortrekkers ʼn praktiese roete tussen die Ohrigstad-gebied en die hawestad van Lourenço Marques gesoek het. Fitzpatrick se eerste ossewareis na Lourenço Marques het op 8 Mei 1885 afgeskop. Hy het blykbaar van al die transportdrywers die minste ervaring gehad. Een van die groeplede was Ted Sievewright, en hy was die eienaar van ʼn hond genaamd Jess. Jess was Jock se ma.
Jess het ʼn werpsel kleintjies in die veld naby ʼn spruit (Samarhole) gehad, en Jock was blykbaar die kleinste van haar babas. Percy het hom as sy hond aangeneem, en Jock het die kampioen van die werpsel geword. Hul avonture in die Bosveld het uiteindelik aanleiding tot Fitzpatrick se bekende boek gegee.
Jock of the Bushveld
Fitzpatrick en Elizabeth Lilian Cubitt (1870-1923) is in 1886 getroud, en hulle het vier kinders gehad: Percy Nugent, Alan, Oliver en Cecily. Fitzpatrick het in die aande vir sy kinders slaaptydstories vertel, en hy het gereeld vir hulle van sy avonture saam met Jock vertel.
Hulle was mal oor hierdie stories, en een van sy vriende was ʼn skrywer en digter genaamd Rudyard Kipling. Hy het Fitzpatrick aangeraai om hierdie stories neer te skryf en dit as ʼn boek uit te gee. Fitzpatrick het toe die stories neergeskryf en na ʼn geskikte kunstenaar gesoek om die boek te illustreer. Hy het op Edmund Caldwell in Londen afgekom en hom na Suid-Afrika gebring om die Bosveld te besoek en sketse van die omgewing te maak.
Die boek het vir die eerste keer in 1907 verskyn, en dit was dadelik ʼn reusesukses. Dit is in dieselfde jaar vier keer herdruk. Die boek is al in verskeie tale soos Afrikaans, Nederlands, Frans, Xhosa en Zoeloe vertaal. ʼn Fliek is in 1986 van die boek gemaak, en ʼn animasieweergawe is in 2011 vrygestel. 3
Skryf, sake en politiek
As joernalis het Fitzpatrick vir die koerant Barberton Herald geskryf en was later die redakteur van die Gold Fields News op Barberton. Sy skryftalent is ook glo later deur The Star-koerant in Johannesburg raakgesien, en hy het vir hulle geskryf.
Hy het goeie kontakte opgebou toe hy deel van lord Randolph Churchill se ekspedisie na Masjonaland was. Hy het aantekeninge tydens hierdie tog gemaak en ʼn boek, Through Mashonaland with Pick and Pen, daaroor geskryf.
Hy en die mynmagnaat Alfred Beit het goeie vriende geraak, en hy het vir Fitzpatrick in topposte in die mynbedryf aangestel. In 1892 was Fitzpatrick die hoof van die intelligensiedepartement van Herman Eckstein & Company (ook Cornerhouse genoem), en hy was ook op die direksie van die Kamer van Mynwese. Later was hy die president van die Kamer van Mynwese. Hy het deur die jare verskeie ondernemings begin, waarvan sommiges om mynbou gesentreer was.
In daardie tyd was pres. Paul Kruger se regering in Transvaal aan bewind, en Fitzpatrick het hom beywer vir franchiseregte en burgerstatus vir buitelanders. Hy was in 1895 die sekretaris vir die Hervormingskomitee wat meer regte vir buitelanders wou hê.
Die Jameson-inval wat deur Cecil John Rhodes van stapel gestuur is, was ʼn mislukte poging om ʼn rebellie teen die Transvaalse regering te lei, en Fitzpatrick is ook daarvoor in hegtenis geneem, aangehou en op aanklagte van hoogverraad verhoor.
Fitzpatrick het later die politiek betree en was ʼn nieamptelike lid van die Transvaalse Wetgewende Raad. Hy het ook op die interkoloniale raad gedien wat vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë verantwoordelik was. Hy was in 1907 ʼn lid van die Progressiewe Party en het sy eerste oorwinning in ʼn politieke verkiesing behaal toe hy sir Richard Solomon, die leier van die Het Volk-National Association-bondgenootskap, in Pretoria-Suid-Sentraal verslaan het. Hy was ʼn groot voorstander daarvan dat Suid-Afrika ʼn unie moes word en was ʼn lid van die Transvaalse afvaardiging na die Nasionale Konvensie in 1909.
Hy en generaal J.B.M. Hertzog het ook saam aan ʼn ooreenkoms vir taalgelykheid gewerk. Hy het in 1920 uit die aktiewe politiek getree. Hy is twee keer deur die Britse regering met ridderskappe vereer. Hy is in 1902 vir sy dienste tydens die Anglo-Boereoorlog vereer, en ná Uniewording in 1910 het hy vir die tweede keer die Orde van St. Michael and St. George ontvang.
Tragedies
Daar was talle tragedies in sy lewe. Sy oudste seun, Percy Nugent, is in 1917 in die Eerste Wêreldoorlog in Frankryk tydens ʼn veldslag oorlede. Fitzpatrick se vrou is in 1923 dood, en sy ander twee seuns het in 1927 binne ʼn week van mekaar gesterf. Alan is in ʼn ongeluk in Johannesburg oorlede, en Oliver het weens tifus in Mexiko omgekom. Slegs sy dogter het hom oorleef, en sy is in 1923 met Jack Niven getroud. Fitzpatrick self is op 69-jarige ouderdom in 1931 oorlede. Hy is in die Sondagsriviervallei by ʼn uitkykpunt genaamd “The Lookout” begrawe. Sy vrou en twee van sy seuns is ook daar begrawe, en dit is as ʼn nasionale monument verklaar.
Woordbank
direksie | ʼn Groep mense wat ʼn onderneming bestuur. |
ekspedisie | ʼn Lang, deeglik beplande reis. |
entrepreneur | Iemand wat planne maak om nuwe ondernemings te begin. |
noodgedwonge | Deur omstandighede genoodsaak. |
pionier | Iemand wat belangrik is in die eerste ontwikkeling van iets. |
unie | Die naam van ʼn verbond of vereniging. Suid-Afrika was van 1910 tot 1961 ʼn unie. |
tifus | Benaming vir besmetlike siektes wat met hoë koors, bewussynsverlies en delirium gepaardgaan. |
transportryer | Iemand wat goedere per wa vervoer het. |
veldslag | Geveg tussen vyandelike magte in die veld. |
wapenstilstand | Staking van vyandelikhede tydens ʼn oorlog; ʼn skietstilstand. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Percy Fitzpatrick se interessante lewe
- Meer oor die bekende boek Jock of the Bushveld
- Inligting oor sy seun, Nugent Fitzpatrick, se lewe en afsterwe
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Jock of the Bushveld word voorgelees
Die Jameson-inval
Kyk hoe die animasierolprent gemaak is