Maria Elizabeth Charlotte Rothmann (M.E.R.)

Sy was ’n joernalis, skrywer, weldoener, feminis en wenner van die gesogte Hertzogprys vir letterkunde. Sy word ook beskou as een van die vyf grootste Afrikaners van die twintigste eeu. 1 Ons ken haar bloot as M.E.R., maar wie was hierdie wonderlike vrou wat só met woorde kon woeker?

Jeugjare en persoonlike lewe

As skrywer het die wêreld haar leer ken as M.E.R., maar dit was nie haar doopnaam nie. Wel, nie eintlik nie. Hierdie dogtertjie wat op 28 Augustus 1875 op Swellendam gebore is, is Maria Elizabeth Charlotte Rothmann (uitspraak rot-man) gedoop. 1 Kan jy dit raaksien? Haar voorletters spel dit uit – M.E.C.R. Omdat sy net op enkele amptelike dokumente haar derde voornaam (Charlotte) ingevoeg het, het die afkorting M.E.R. sommer maklik die gebruiklike afkorting van haar voorname en van geword. Onder dié naam het sy bekendheid as skrywer verwerf – ons noem dit ’n skrywersnaam, skuilnaam of pseudoniem.

M.E.R. se pa was Gerhardus Johannes Hendrikus Rothmann, en hy is ook op Swellendam gebore. Hy was ’n smid en ’n wa- en meubelmaker. Haar ma was Anna Wilhelmina Lindenberg, maar almal het haar Annie genoem.

Annie en Gert het nege kinders gehad, waarvan M.E.R. die jongste was. ’n Mens sou dink dat om die jongste van nege kinders te wees, lekker moes wees, maar nee, moenie glo nie! M.E.R. het op ’n keer gesê dat ’n jongste kind soms maar swaar kry, want die ouer kinders ag dit soms nodig om die kleintjie “goed op haar plek” te hou. 1

M.E.R. was ’n saggeaarde kind, maar het van jongs af geleer om haar “vrou” te staan. Hierdie ingesteldheid het sy haar lewe lank toegepas, want sy het in haar lewe dikwels teëspoed ervaar.

Teen die tyd dat M.E.R. gebore is, het dit finansieel baie swaar gegaan met die Rothmann-gesin. Haar pa het in 1860 bankrot gespeel. Die omgewing en sy mense het ook swaar getrek. ’n Brand het Swellendam in 1865 in puin gelê en in die 1870’s het ’n depressie (dit beteken baie ernstige finansiële probleme) sake nog verder vererger. 1

Net agt maande ná M.E.R. se geboorte is haar pa op 4 April 1876 oorlede. Haar oudste sussie, Martjie, het in November dieselfde jaar gesterf. Dit was ’n baie swaar tyd vir die Rothmann-gesin! Tog het haar ma, al was sy ’n baie koppige mens, haar gesin met moeite versorg. Sy het waarskynlik die grootste invloed op M.E.R. gehad en daarom het M.E.R. later ook karakters in haar skryfwerk op haar ma gegrond. 1 (Die karakter “tant Kato” in haar boek Drie vertellings wat in 1944 gepubliseer is, is byvoorbeeld gebaseer op Annie Rothmann.) 2

M.E.R. was maar vyf jaar oud toe sy die eerste keer op Swellendam skool toe gestuur is. Hier het sy haar lesse in Engels gekry. Hoewel sy goeie onderrig gekry het, was alles nie net maanskyn en rose op skool nie. M.E.R. het skoolgegaan in ’n tyd waarin kinders ontmoedig is om Afrikaans te praat. Hulle is boonop ook gestraf as hulle wel Afrikaans sou praat! Dit het beteken dat meisies in daardie tyd Engels in die klaskamer, buite die klaskamer en sommer ook by die huis gepraat het.

Op hierdie manier het veral die meisies verengels. Ook M.E.R. was vinnig besig om deel van die sogenaamde “Queen’s Afrikaners” te word. Die historikus Hermann Giliomee gebruik dié benaming vir die verengelsde Kaapse Afrikaners van daardie tyd. 3

M.E.R. was leergierig en het baie goed gevaar op skool – só goed dat sy ’n beurs gekry het om by die Rhenish-meisieskool op Stellenbosch te gaan studeer. Rhenish is vandag nog ’n meisieskool op Stellenbosch. Dit is in 1860 opgerig vir veral dogters van die Rynse Sendinggenootskap – dus vir dogters van Duitse sendelinge. 1 Hier is M.E.R. ingeskryf vir die sogenaamde T.2-kursus in onderwys.

Sy slaag in 1893 matriek en behaal daarmee ook ’n onderwyskwalifikasie. Sy presteer so goed dat sy toelating kry om aan die South African College (SAC, voorloper van die Universiteit van Kaapstad) te studeer en ontvang sommer ook twee beurse om haar studies daar aan te pak!

Universiteit van Kaapstad

In daardie jare het nie alle universiteitskolleges (soos wat universiteite toe genoem was) vrouestudente toegelaat nie. By SAC is die eerste vrouestudent eers in 1887 toegelaat – en in 1893 word M.E.R., die slim Swellendammer uit ’n beskeie agtergrond, die vierde vrou om aan SAC te studeer.

In 1896 slaag M.E.R. haar BA-eksamen in die lettere en filosofie. Met hierdie kwalifikasie agter haar naam was die 21-jarige M.E.R. een van die geleerdste vroue in Suid-Afrika! 1

Hoewel M.E.R. in hierdie stadium van haar lewe in vele opsigte verengels het, het gebeure wat in Desember 1895 en Januarie 1896 in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) afgespeel het, haar lewe in ’n ander rigting gestuur. Die Jameson-inval was deel van die Uitlanderopstand in Johannesburg. Dit is deur Brittanje beplan in ’n poging om die ZAR te annekseer. Die inval het misluk, maar dié pogings om die Boererepubliek te vernietig, het M.E.R. ontnugter en ’n blywende indruk op haar gemaak. 4

Hierdie gebeurtenis het M.E.R. opnuut bewus gemaak van haar eie Afrikanerskap. 5

M.E.R. en die ZAR

Nadat sy haar studies aan SAC voltooi het, gaan gee sy ’n ruk lank skool op Swellendam voordat sy in 1897 na die ZAR vertrek. Haar broer Frits en suster Annie het reeds daar gewoon en hul jongste suster aangemoedig om by hulle aan te sluit.

Die ZAR was vir M.E.R. ’n vreugdevolle ervaring. Hier kon sy vir die eerste keer waarlik Afrikaner wees. Sy skryf ook later daaroor: “Ai, dit was [die] dae! Dit was heerlik om toe nog jonk te wees, en in die Republieke!”

Sy het ’n diep liefde vir die Republiek ontwikkel en was veral opgewonde om die ZAR se president, Paul Kruger, persoonlik te kon ontmoet. Hieroor het sy geskryf: “Daardie oomblikke is so diep in my geheue ingegrif. Dit was wonderlik om hierdie veelbesproke Paul Kruger so persoonlik te ontmoet […] en ek kon net kyk en kyk, en luister wanneer hy in sy diep stem iets vra of opmerk.”

Paul Kruger

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 verander daar eers nie veel in M.E.R. se lewe nie. Op 31 Mei 1900 word Johannesburg deur die Britte ingeneem. Terwyl M.E.R. vroeg die oggend op die stoep staan, hoor sy skote klap en ’n koeël mis haar net-net! Intussen het kos skaars geword en moes sy met min klaarkom. Teen Julie daardie jaar besluit M.E.R. om terug te gaan Swellendam toe om na haar ma te gaan omsien.

Slagveld by Vlakfontein na die geveg (Anglo-Boereoorlog)

Daarmee verlaat M.E.R. die ZAR. Sy laat ook haar verloofde, Matthys Roux, agter. Nie lank daarna nie, verbreek M.E.R. egter die verlowing – in die Kaapkolonie het ’n nuwe lewe gewink.

Terug in die Kaapkolonie

Aan die begin van 1901 begin M.E.R. skoolhou by ’n plaasskool in Montagu. Hier tel sy vir die eerste keer die pen op en lewer ’n reeks bydraes, getiteld “Eendracht maakt macht” aan ’n koerant. Dié bydraes doen sy as M.E. Rothmann (hoewel sy later as M.E.R. sou skryf). Sy bly egter nie lank op Montagu nie en keer weer terug na Swellendam.

Gedurende die oorlog maak en verkoop sy Transvaalse landswapens. Sy skilder ook Boeregeneraals se name op hoedlinte en verkoop dit in die geheim. Haar republikeinse gesindheid het egter teen haar getel in die kolonie en haar pogings om ’n onderwyspos te bekom, het telkens misluk. 5

Later in 1901 kry sy wel ’n pos by ’n privaat skool in Grahamstad. Herbert Charles Gordon Oakshott, ’n Engelsman, was die hoof. Hy was sowat sewe jaar ouer as sy, maar kort voor lank was die twee verlief en verloof. Die paartjie is op 18 September 1902 getroud.

Oakshott was egter finansieel roekeloos en ’n kompulsiewe koper. Die gevaarligte het sommer vroeg al geflikker, en later het sy verduidelik dat haar huwelik ’n “aaneenskakeling van ellendes” was.

Die egpaar het twee kinders gehad. Op 14 Augustus 1903 is hul oudste kind, James Rothmann, gebore. Aan die einde van daardie jaar sluit die skool op Grahamstad sy deure en die paartjie se finansiële probleme klop nog harder aan die voordeur. Op 11 Julie 1904 word hul dogter, Anna, gebore.

Oakshott was vir lang tye weg van sy gesin, en in 1905 skei hulle “informeel”. (In daardie dae was “informele egskeiding” ’n goedkoop manier van skei. Die paartjie kon in ’n dokument die reëlings van die skeiding uiteensit en elkeen sy gang gaan.) Hierna het M.E.R. haar seun se naam verafrikaans na Jacobus (noemnaam Koos).

In die jare wat ná haar egskeiding gevolg het, het M.E.R. weer gedoen wat sy ken en skool gegee. In ’n stadium het sy en Annie selfs hul eie privaat skool op die been gebring.

M.E.R. en Oakshott is uiteindelik in Julie 1911 formeel geskei. Die dag ná die saak het sy die voormalige president van die Vrystaat, M.T. Steyn, ontmoet. Sy het Steyn later as die grootste Afrikaner in die geskiedenis bestempel.

President M.T. Steyn

M.E.R. die skrywer

In 1917 gaan bly M.E.R. by haar broer op ’n plaas in die Laeveld en sy begin al hoe meer skryf. In Junie daardie jaar verskyn haar eerste bydrae in die tydskrif Die Brandwag. Dit was ’n gediggie oor ’n moederkappieblom. 3 Sowat drie jaar later word sy, met die oog op ’n permanente aanstelling, vir ’n proeftydperk van ’n maand aangestel by Die Boerevrou – die eerste Afrikaanse vrouetydskrif wat in 1919 deur Mabel Malherbe begin is.

Haar proeftyd was ’n sukses en sy word aangestel as die tydskrif se subredaktrise. Daarmee trek M.E.R. en haar twee kinders Pretoria toe. Haar eerste voltydse aanstelling in die Afrikaanse tydskrifbedryf het nou vir haar die geleentheid gebied om ’n groot hoeveelheid artikels, stories en sketse te skryf. 3

Ná twee jaar by Die Boerevrou besluit die Nasionale Pers om ’n vroueblad vir sy Kaapse koerant, Die Burger, op die been te bring, en M.E.R. word as redaktrise aangestel. Vanaf 1923 was sy ook verantwoordelik vir Die Huisgenoot se kinderafdeling. Intussen het sy ook steeds artikels en sketse vir Die Boervrou geskryf. 5

Die Mei 1924-uitgawe van die Afrikaanse vrouetydskrif, Die Boerevrou. Dit was die eerste Afrikaanse vrouetydskrif – verskeie ander sou in die jare daarna volg, insluitende Sarie Marais (later bekend as Sarie) en Rooi Rose.

M.E.R. is vir die latere generasies veral bekend vir haar skryfwerk wat gebundel is, haar romans en ook selfs haar historiese skryfwerk. In 1927 verskyn haar boek Onweershoogte en ander verhale. Daarna volg bundels met sketse en verhale: Drie vertellings (1944), Uit en tuis (1946) en Die gewers (1950). Twee romans verskyn ook in dié jare, naamlik Na vaste gange (1944) en Die eindelose waagstuk (1948). In 1947 verskyn die oorlogsdagboek van haar broer Frits waarvan sy die inleiding en aantekeninge gedoen het.

In haar boeke kom M.E.R. as ’n fyn prosaskrywer na vore. Sy word beskryf as ’n “gevoelige waarneemster” wat dit wat sy sien en hoor met haar “fyn sielkundige insig en verbeelding” interpreteer. 6

M.E.R. se karakters was dikwels gewone mense met ’n eenvoudige lewe. Sy het juis nie op die groot figure gefokus nie, maar op mense met ’n pligsbesef en goeie waardes. Haar skryfwerk toon ook ’n liefde vir die verlede. Die letterkundige Gideon Dekker skryf soos volg oor haar werk: “M.E.R. skryf sonder literêre strewe, sober, direk, met ’n persoonlike klank.” Sy het boonop ook uitsonderlike kinderverhale geskryf.

M.E.R. as welsynswerker

In Maart 1928 bedank M.E.R. by Die Burger en word aangestel as die eerste reisende en organiserende sekretaresse van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV). 3

Die ACVV is vandag een van die oudste liefdadigheidsorganisasies in die land. Dit is in 1904 gestig om hulp aan slagoffers van die Anglo-Boereoorlog te verleen. 7

M.E.R. word ook in 1928 versoek om deel van die Carnegie-kommissie te vorm. Dié kommissie is deur die Suid-Afrikaanse regering aangestel om die armblankevraagstuk te ondersoek. (Die naam is afkomstig van die Carnegie Commission in Amerika wat die befondsing vir die ondersoek geskenk het.) 8

Lede van die Carnegie-kommissie

Haar ondersoek, getiteld “Die moeder en dogter van die armblankehuisgesin” is as deel van die sosiologiese verslag, in die algehele verslag van die Carnegie-kommissie ingesluit. Hierin skryf sy onder meer dat sy haar studie deur middel van huisbesoeke onderneem het “om daardeur die huislike toestande van vandag en die verlede, veral wat betref moeders en dogters, na te gaan”. 9

In sy resensie van M.E.R. se ondersoek skryf H.F. Verwoerd op 7 Januarie 1933 in Die Burger soos volg: “Dit is dan die groot diens van die skryfster: dat sy deur haar mensekennis, deur haar simpatieke, dog verstandige invoeling in die lewe van die huisgesinne wat sy bestudeer het, en veral deur haar natuurlike begrip van hoe die lewe die vrou raak, ons tot insig van dié sy van die probleem lei.” 10

M.E.R. het haar werk by die ACVV as “een van die sterkste en seënrykste” in haar lewe beskou, 3 en uiteindelik vir meer as tien jaar as sekretaresse van die ACVV gedien. 10

Haar ondersoek van armoede is so hoog geag dat die Departement van Bosbou haar in 1933 versoek het om ’n verslag oor die lewensomstandighede van boswerkers en hul gesinne in die Knysna-distrik saam te stel. Dit het aanleiding gegee tot ’n verdere opdrag om ’n studie te doen oor arm wit mense in die bosryke Leslie County, in Kentucky in die VSA. 10

’n Eeu van M.E.R.

In 1972 verskyn M.E.R. se outobiografie My beskeie deel. Dié werk gee nie net ’n intieme blik op die bejaarde skrywer se eie lewe nie, maar maak ook ’n kultuurhistoriese bydrae oor die geskiedenis van die Afrikaner. Die boek is geprys en is selfs bestempel as ’n boek wat ’n woordmonument gaan word. 1

Haar biograaf, J.C. Steyn, meen dat sy “’n stryder vir die bemagtiging van die vrou” was en moontlik selfs “die moeder van Afrikaanse feminisme” wat geveg het teen armoede, Engelse imperialisme, manlike chauvinisme en ’n mislukte huwelik. Sy was “taalaktivis, navorser, sosiale hervormer, joernalis en fiksieskrywer”.

M.E.R. het onder meer ook as kultuurleier na vore getree en was in 1931 een van die herstigterslede van die Voortrekkerbeweging, nadat dié organisasie in 1929 doodgeloop het. 11 Sy het haar selfs ook in die 1930’s tot die politiek gewend en is in 1933 tot ondervoorsitter van die Nasionale Party (NP) in Kaapland verkies.

M.E.R. sterf uiteindelik op 7 September 1975 – tien dae ná haar 100ste verjaardag – by haar huis, Kom Nader, op haar geboortedorp, Swellendam. Sy is in dieselfde graf as haar tienersussie, Martjie, en haar broer Frits op dié dorp ter ruste gelê. 11 Hiermee is die sirkel van ’n geliefde skrywer finaal voltooi.

Erkenning en toekennings

  • Eredoktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad – toegeken in 1951.
  • Hertzogprys vir letterkunde – toegeken in 1953 vir haar prosa-oeuvre.
  • Scheepers-prys vir jeugliteratuur – toegeken in 1961 vir Die tweeling trek saam.
  • Tienie Holloway-medalje vir kinderliteratuur – toegeken in 1970 vir Karlien en Kandas.
  • Erepenning vir volksdiens van die FAK – toegeken in 1970
  • Eredoktorsgraad van die Universiteit van Suid-Afrika – toegeken in 1973 vir haar bydrae op maatskaplike gebied.

Lys van gepubliseerde werke

  • 1920: Kinders van die Voortrek, later bekend as Die tweeling trek saam
  • 1922: Die Sondagskind: Vir die Afrikaanse kinders vertel
  • 1926: Vanmelewe: Stories van die voorouers
  • 1926: Die Sokka-boek: Stories van ’n skaaphond
  • 1927: Onweershoogte en ander verhale
  • 1928: Die Kammalanders
  • 1929: Die oorwinnaar: Verhale van president Steyn
  • 1931: Stoute bengel: ’n Verhaal uit die lewe
  • 1932: Die moeder en dogter van die arm gesin: Die armblanke-vraagstuk in Suid-Afrika, in Verslag van die Carnegie-kommissie, Deel V: Sociologiese verslag
  • 1933: Jong dae
  • 1933: Karlien en Kandas
  • 1933: Sokka se plaas
  • 1939: Tant Alie van Transvaal: Die dagboek van Alie Badenhorst (vertaal deur M.E.R.)
  • 1944: Drie vertellings
  • 1944: Na vaste gange
  • 1946: Uit en tuis
  • 1947: “Ontwikkeling van ’n Afrikaner”, in Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde
  • 1948: Die eindelose waagstuk
  • 1950: Die gewers
  • 1954: Ons voortgang: Fees-uitgawe van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging
  • 1965: Briewe uit Highveld: Mev. Anna Geyer se briewe uit Londen aan haar dogter (samesteller)
  • 1965: Vroue wat Jesus geken het
  • 1965: Kom nader: ’n Bloemlesing uit die werke van M.E.R.
  • 1965: So is onse maniere
  • 1972: My beskeie deel

Woordbank

annekseer ’n Gebied inlyf of beslag lê op iets.
bankrot Nie in staat wees om jou geldelike verpligtings na te kom nie; nie jou skuld kan betaal nie.
beskeie Arm of nederig.
depressie Finansiële depressie beteken ’n tydperk van verslapping op ekonomiese gebied, handelslapte.
eredoktorsgraad ’n Doktorsgraad wat toegeken word waarin die ontvanger kwytgeskel word van die normale vereistes vir die voltooiing van die kwalifikasie.
feminisme ’n Strewe na gelyke regte vir vroue.
imperialisme Politieke benadering wat oorheersing en wêreldheerskappy nastreef.
in puin gelê Deur brand verwoes/vernietig.
ingegrif Met ’n skerp voorwerp in iets hards insny. (In die teks het dit ’n figuurlike betekenis.)
ingesteldheid ’n Houding of gevoel teenoor iemand of iets.
interpreteer Die betekenis van iets uitlê; verklaar, vertolk.
kompulsiewe Iemand wat aanhoudend ’n dringendheid ervaar om iets te koop.
koppige Eiesinnig, dwarstrekkerig, stroomop, rebels.
lettere Taal en letterkunde.
maanskyn en rose As alles goed/voorspoedig gaan.
manlike chauvinisme ’n Oordrewe vooroordeel deur mans teen vroue en ’n oortuiging dat mans verhewe is bo vroue.
oeuvre Die gesamentlike werke van ’n kunstenaar.
pseudoniem Skuilnaam, ook ’n naam waaronder iemand skryf.
in puin gelê Deur brand verwoes/vernietig.
roekeloos Onverskillig, waaghalsig, onbesonne, onverstandig.
sketse ’n Kort beskrywende artikel (in hierdie konteks).
smid Bewerker van metaal, veral van yster; ambagsman wat smeewerk doen.
sober Eenvoudig, sonder oordadigheid
sosiologiese Met betrekking tot die samelewing; maatskaplik
subredaktrise ’n Vroulike onderredakteur van ’n publikasie, soos ’n koerant of tydskrif, iemand wat daarvoor verantwoordelik is om die inhoud van die publikasie gereed te maak om gepubliseer te word.
taalaktivis ’n Persoon wat opstaan en veg vir sy taal; taalstryder.
veelbesproke Beroemd, alombekend; iemand van wie almal praat.
verengels Engels maak of word, angliseer. 12

Lees hierdie lang, maar interessante storie oor M.E.R.