Vinnige feite

  • ’n Toneelstuk oor Keller en Sullivan, The miracle worker deur William Gibson, het in 1959 in New York geopen en is later met die gesogte Pulitzer-prys bekroon. In 1962 het dit ’n suksesvolle Hollywood-rolprent geword. 5
  • Keller is in 1953 genomineer vir die Nobelprys vir Vrede. Die benoeming het gekom nadat Keller die Midde-Ooste in 1952 besoek en met plaaslike leiers vergader het om die beskerming van die regte van blindes en gestremdes te bepleit. 6
  • Keller het verlief geraak en amper getrou. Sy was in haar laat 30’s toe Sullivan skielik siek geword het. Keller het ’n private sekretaris met die naam van Peter Fagan in diens geneem, op hom verlief geraak en beplan om met hom te trou. Haar familie het haar planne egter in die wiele gery omdat hulle geglo het dat vroue met gestremdhede nie moet trou nie.
  • Aangesien bywoning van Harvard in Helen se tyd slegs vir manlike studente gereserveer is, is Radcliffe College as die ekwivalent vir vroulike student in die laat 1800’s gestig, waar hulle ook deur Harvard-personeel onderrig kon word. Hierdie universiteit het in 1999 met Harvard saamgesmelt, en daarna is die Harvard Radcliffe Institute gestig. 7
Grafika: Hildegard Brummer

Helen Keller (27 Junie 1880 – 1 Junie 1968) was ’n Amerikaanse skrywer, opvoeder en kampvegter vir mense met gestremdhede. Wat haar lewe so merkwaardig gemaak het, is dat sy self doofblind was en eers as ’n volwassene, en met groot moeite, leer praat het. 1

Met al hierdie hindernisse in haar pad, het sy steeds haar lewe gewy aan die opvoeding en opleiding van mense met gestremdhede, en dit vir ons moontlik gemaak om vandag heeltemal anders te dink oor doofblinde mense.

Vroeë lewe

Helen Keller is op 27 Junie 1880 in Tuscumbia in die Amerikaanse deelstaat Alabama gebore. Sy was die oudste van Arthur H. Keller en Katherine Adams Keller se twee dogters. Haar pa was ’n offisier in die Konfederale Leër tydens die Amerikaanse Burgeroorlog. 1

Toe Keller gebore is, kon sy sien en hoor, en sy het begin praat toe sy net ses maande oud was. In 1882, toe sy 19 maande oud was, het sy egter siek geword en ’n hoë koors ontwikkel. Niemand is seker watter siekte sy gehad het nie; sommige kenners glo dat dit skarlakenkoors of breinvliesontsteking kon wees. Binne ’n paar dae nadat die koors gebreek het, het haar ma besef dat haar babadogtertjie nie meer kon sien of hoor nie. 1

Helen se doofheid het veroorsaak dat haar spraak ook nie verder ontwikkel het nie. Haar enigste maatjie was Martha Washington, die jong dogter van die gesin se kok. Die twee het ’n soort gebaretaal geskep waarmee hulle met mekaar kon kommunikeer. Teen die tyd dat Keller sewe was, het hulle meer as 60 tekens uitgedink. 2

Hierdie lewe het die jong Helen gefrustreer. Sy het geskop en geskree as sy kwaad was, en onbeheersd gegiggel wanneer sy gelukkig was. Sy het Martha seergemaak en woedeuitbarstings teenoor haar familie gekry. Baie vriende en familielede het gemeen sy moet liewer in ’n instelling geplaas word waar sy nie verder skade kon aanrig nie. 2

Soektog na ’n onderwyser

Helen se ma wou dit nie doen nie. In 1886 het mevrou Keller ’n reisverhaal van die bekende skrywer Charles Dickens gelees met die titel American notes. Daarin het hy geskryf oor ’n ander doofblinde kind, Laura Bridgman, wat suksesvol opgelei is, en kort daarna is die Kellers na Baltimore in Maryland in die VSA om dr. J. Julian Chisolm, ’n spesialis, te gaan spreek.

Dokter Chisolm het hulle na Alexander Graham Bell verwys, die einste man wat die telefoon uitgevind het. Hy het toe juis met dowe kinders gewerk. Bell het voorgestel dat hulle die Perkins Institute for the Blind in Boston, Massachusetts, besoek. Die instituut se direkteur, Michael Anagnos, het aanbeveel dat Anne Sullivan, ’n jong meisie wat pas afgestudeer het, Helen se onderwyseres word. 2

Alexander Graham Bell, uitvinder van die telefoon.

Anne was maar 20, 14 jaar ouer as Helen, en het self ’n swaar lewe gehad. Sy was die dogter van arm Ierse immigrante en het op 14 in ’n kinderhuis beland. Boonop was sy self siggestremd. Anne Sullivan het saam met die gesin huis toe gegaan. Dit was aanvanklik nie maklik nie. Helen het steeds woedeuitbarstings gekry en het geweier om saam te werk.

Anne het voorgestel dat sy en Helen afgesonder word in ’n kothuis (in Engels: cottage) op die Kellers se grond. Sy het geglo dat die jong kind met liefde en dissipline wel sou kon leer kommunikeer. Met haar vinger het sy woorde op Keller se palm gespel. Binne ’n dag het Helen dié stelsel begryp. 3

’n Jaar later het Sullivan Keller na die Perkins-skool in Boston gebring, waar sy met ’n spesiale tikmasjien geleer het om braille te lees en te skryf. Op veertien is Helen New York toe waar sy met groot moeite leer praat het sodat dat horende mense haar sou kon verstaan. 3

Helen Keller saam met haar onderwyseres, Anne Sullivan.

Universiteitsopleiding

Haar storie het bekend geraak, en sy het bekende en invloedryke mense ontmoet. Een van hulle was die skrywer Mark Twain, wat baie beïndruk met haar was. Hulle het vriende geword. Twain het haar voorgestel aan sy vriend Henry H. Rogers, ’n bestuurder by ’n groot maatskappy genaamd Standard Oil. Rogers was só beïndruk met Keller se talent, dryfkrag en vasberadenheid dat hy ingestem het om vir haar te betaal om ’n vooraanstaande universiteit, Radcliffe College, by te woon.

Haar onderwyseres, Anne Sullivan, is saam met haar universiteit toe. Anne het langs haar gesit en die lesings en tekste getolk. Teen hierdie tyd het Helen verskeie metodes van kommunikasie bemeester, insluitend liplees deur middel van aanraking, braille, spraak, tik en vingerspelling. 2

In 1904 het Keller ’n BA-graad by Radcliffe verwerf en die eerste doofblinde persoon geword wat dit kon regkry. 3 Nie net het sy geslaag nie, sy het haar graad met onderskeiding (met lof) behaal! 2

Die dag van haar gradeplegtigheid by Radcliffe College. Keller het haar BA-graad met lof geslaag.

Skrywer

Pas nadat sy haar graad verwerf het, het sy haar eerste boek gepubliseer, getiteld The story of my life. Dit was ’n outobiografie wat gehandel het oor haar eie lewe – van haar stormagtige kindertyd tot by die groot prestasie wat sy as doofblinde persoon behaal het toe sy haar graad verwerf het. 1

Van Helen Keller se belangrikste werke is: 1

  • The story of my life (1903)
  • Optimism (1903)
  • The world I live in (1908)
  • My religion (1927; later bygewerk en uitgegee as Light in my darkness)
  • Helen Keller’s journal (1938)
  • The open door (1957).

Aktivis

Ná universiteit het Helen haar toegespits op sosiale aktivisme. Haar lewensverhaal het mense aangegryp, en sy het ’n spreker en dosent geword wat haar ervarings met gehore gedeel en bewustheid vir mense met gestremdhede geskep het. Sy het selfs in die Amerikaanse Kongres gepraat, waar sy die erkenning van blindes se regte bepleit het. 2

In 1915 het sy saam met die bekende stadsbeplanner George Kessler die organisasie Helen Keller International gestig om die oorsake en gevolge van blindheid en wanvoeding te bekamp. In 1920 het sy gehelp om die American Civil Liberties Union te stig. Sy het in 1924 ’n lid geword van die Amerikaanse Federasie vir Blindes en aan baie veldtogte deelgeneem om bewusmaking, geld en ondersteuning vir blindes te kry. 2

In 1946 is sy aangestel as berader van internasionale betrekkinge vir die American Foundation for the Overseas Blind. Tussen 1946 en 1957 het sy na 35 lande op vyf kontinente gereis. In 1955, op die ouderdom van 75, het sy vyf maande lank deur Asië gereis, en met haar vele toesprake en optredes het sy inspirasie en aanmoediging aan miljoene mense gebring. 2

‘n Ontmoeting met die akteur Charlie Chaplin in 1919.

Toekennings

Helen Keller het gedurende haar leeftyd talle eerbewyse vir haar werk ontvang, insluitende die Theodore Roosevelt-medalje vir uitmuntende diens in 1936, die Presidensiële Vryheidsmedalje in 1964, en verkiesing tot die Women’s Hall of Fame in 1965. 2

Keller het ook eredoktorsgrade van Temple-Universiteit en Harvard-Universiteit ontvang, sowel as van die universiteite van Glasgow, Berlyn, Delhi, en die Witwatersrand in Suid-Afrika. Sy is ook aangewys as ’n eregenoot van die Educational Institute of Scotland. 2

Kritiek en kontroversie

Vir die grootste deel van Helen se lewe het sy die steun van die Amerikaanse publiek en pers gehad. Maar nadat sy haar sosialistiese opvattings in haar boek The open door gepubliseer het, het sommige mense beweer dit is ’n tekortkoming wat met haar gestremdheid te doen het. Een koerant, die Brooklyn Eagle, het geskryf dat haar “foute voortspruit uit die duidelike beperkings van haar ontwikkeling”. 2

’n Ander kontroversie wat vroeg in haar lewe plaasgevind het, het gekom nadat sy ’n kinderstorie, The Frost King, geskryf en aan die hoof van die Perkins-skool, Michael Anagnos, gestuur het. Hy het die storie laat publiseer in die Januarie 1892-uitgawe van die Perkins-alumni-joernaal, The Mentor, en later in The Goodson Gazette, ’n weeklikse koerant wat deur die West Virginia Institution for the Education of the Deaf and Mute and Blind uitgegee is.

’n Leser het opgemerk dat Keller se storie baie dieselfde is as Margaret T. Canby se kinderboek Birdie and his Fairy Friends. Helen het volgehou dat sy glad nie kan onthou dat sy Canby se boek gelees het nie, en haar onderwyseres, Anne Sullivan, het ook ontken dat sy die storie ken of dit vir Keller gelees het.

Anagnos het ’n onderhoud met Keller en Sullivan gevoer en later ’n interne verhoor by die skool gehou waar Keller en Sullivan moes getuig. Sullivan het intussen haar eie ondersoek gedoen en gevind dat Sophia Hopkins, ’n onderwyser by Perkins, die storie vir Keller gelees het terwyl Anne met vakansie was.

Die voorval het egter groot skade berokken aan Anne Sullivan se reputasie, want mense het gesê sy het Helen eintlik net soos ’n papegaai afgerig. Helen het self ’n senu-ineenstorting gehad en nooit weer fiksie geskryf nie. 4

Dood en nalatenskap

In 1961 het Keller ’n reeks beroertes gehad, en sy het die oorblywende jare van haar lewe by haar huis in die deelstaat Connecticut deurgebring. Helen Keller is op 1 Junie 1968 oorlede, ’n paar weke voor sy 88 sou word. 2

Tydens haar merkwaardige lewe was Helen Keller ’n kragtige voorbeeld van hoe vasberadenheid, harde werk en toewyding ’n individu kan laat seëvier oor teëspoed. Ten spyte van moeilike persoonlike omstandighede het sy ’n gerespekteerde en wêreldbekende aktivis geword wat haar lewe gewy het aan die opheffing van ander.

Woordbank

Amerikaanse kongres Die Amerikaanse parlement.
braille ’n Soort skrif vir blindes, waarin die lettertekens bestaan uit puntjies of kolletjies wat opstaan.
breinvliesontsteking Ontsteking van die vliese van die harsings en rugmurg.
deelstaat ’n Staat wat deel vorm van ’n federasie.
outobiografie Storie wat iemand self oor sy/haar lewe geskryf het.
skarlakenkoors Siekte waar jy ʼn uitslag en hoë koors kry.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Kort biografie

Hoe Helen leer praat het

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 Januarie 2024 | Bygewerk op 14 Februarie 2024