Gustav Schoeman Preller

Hy was ’n joernalis, koerantredakteur, taalstryder, draaiboekskrywer, maar bowenal die eerste Afrikaanse historikus. Gustav Schoeman Preller was al dié dinge en nog vele meer. Kom ontmoet dié interessante skrywer wat Afrikaanse mense vir die eerste keer oor hul geskiedenis laat lees het!

Jeugjare

Op 4 Oktober 1875 word Stephanie Maria Aletta Schoeman en haar man, Robert Logie Preller, se eersteling op die plaas Klein Schoemansdal in Pretoria gebore. 1

Dié plaas wat aan Stephanie se pa, genl. Stephanus Schoeman, behoort het, is ook die plek waarop die Pretoria-dieretuin jare later uitgelê is. 2

Die jong egpaar noem hul seuntjie Gustav Schoeman Preller. Nóg ses kinders sou vir die paartjie gebore word, maar Gustav was uiteindelik die een wat die noemenswaardigste merk in die geskiedenis gemaak het én boonop die geskiedenis vir die nageslag opgeteken het.

Kort ná Gustav se geboorte trek die gesin na die plaas Paardekop in die Standerton-distrik en daarna verhuis hulle weer en vestig hulle hierdie keer op die plaas Rietspruit.

Gustav Preller was reeds 12 jaar oud toe hy op Standerton vir die eerste keer begin skoolgaan het. 3 Hy gaan uiteindelik net vir drie jaar lank skool, want toe hul onderwyser op ’n dag wegtrek, moes die skool permanent sluit! 1

’n Groep Boerekrygsgevangenes op 18 Desember 1901 op Ceylon afgeneem. Voor heel regs sit komdt. Robert Preller, vader van Gustav Preller

In die jare nadat Preller skool verlaat het, het hy ’n paar betrekkings beklee – eers by ’n besigheid op Standerton waar hy wol geweeg en gekoop het, daarna by ’n winkel (J.D. Bosscher en Kie) in Pretoria, en later word hy ’n prokureursklerk by die firma James Berrangé.

Teen Augustus 1893 verwissel Preller egter weer van werk en word hierdie keer aangestel as ’n klerk by die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se Departement van Mynwese. Nagenoeg vyf jaar later, in April 1898, trou Preller met Johanna Christina (Hannie) Pretorius – ’n direkte nasaat van die bekende Voortrekkerleiers Piet Retief en Andries Pretorius, en dogter van die hoof van die Transvaalse Staatsartillerie. 3

Mev. J.C. Preller

Hul troue vind plaas op die vooraand van die Anglo-Boereoorlog, ’n oorlog wat die verloop van die geskiedenis van die ZAR en die Oranje-Vrystaat (OVS) op ’n nuwe baan sou plaas en so ook Preller se lewe ingrypend en onherroeplik sou verander.

Oorlogsjare

Met die uitbreek van die oorlog was Preller steeds in diens van die Departement van Mynbou. Die aand voordat die Britte Pretoria, die hoofstad van die ZAR, in Junie 1900 ingeneem het, was Preller die enigste amptenaar van dié departement om saam met die staatsprokureur, Jan Smuts, die regering se goud na veiligheid te neem. 1

Boere-krygsgevangenes aan boord van ‘n Britse troepeskip

Hierna sluit Preller by die Staatsartillerie 3 aan en neem uiteindelik aan vier gevegte in Natal en die Oos-Transvaal deel. 4

In dié tyd tree Preller ook op as oorlogskorrespondent vir De Volksstem en De Zoutpansberg Wachter. 1 Op 11 Januarie 1902 word Preller egter saam met ’n aantal lede van die Staatsartillerie gevange geneem en word as krygsgevangene na Indië gestuur. 1

Een van die talle telegramme wat Gustav Preller aanvanklik gereeld aan sy jong vroutjie gestuur het om haar op hoogte te hou van die gebeure op die slagveld

Op 31 Mei 1902 kom die oorlog tot ’n einde en die Vrede van Vereeniging word in Pretoria onderteken. Vredesluiting en die Britte se oorwinning in dié oorlog was bittere nuus vir Preller. Die Boererepublieke het hiermee hul vryheid verloor en krygsgevangenes wat uit die vreemde wou terugkeer, moes noodgedwonge die eed van getrouheid aan hul vyand aflê. Preller lê die eed uiteindelik op 21 Julie 1902 (byna twee maande ná vredesluiting) af. 1

Melrosehuis, waar die vredesverdrag onderteken is

Terug in Pretoria was Preller sy huis én sy werk kwyt en hy besluit om eerder saam met ander Boere na Argentinië te emigreer as om onder die Britse kroon in die voormalige ZAR aan te bly. 4

Preller het uiteindelik nooit voortgegaan hiermee nie, want die skrywer Eugène Marais het hom oortuig om eerder as redakteur by die koerant Land en Volk aan te sluit. Hiermee het Preller ’n nuwe loopbaan in die joernalistiek begin.

Eugène Marais

Preller die koerantman

Op 2 September 1902 verskyn die eerste uitgawe van , die eerste Hollandse koerant om ná die oorlog in Transvaal gepubliseer te word. 3 Die regering het toestemming verleen dat die koerant (wat reeds voor die oorlog tot stand gekom het) weer kon verskyn, maar op voorwaarde dat dit geen politieke nuus mag bevat nie. Preller het van die begin af daarop gefokus om deur die koerant weer hoop aan die lesers wat pas deur ’n vernietigende oorlog gegaan het, te bring.

Redaksielede van De Volkstem. V.l.n.r: Gustav Preller, Frederik Rompel, dr. FV Engelenburg, JP la Grange Lombard en Adam Boshoff

Nagenoeg ’n jaar nadat Preller redakteur van Land en Volk geword het, is dié koerant verenig met De Volksstem. Preller is weer by die redaksie ingesluit en het later assistentredakteur en daarna redakteur van De Volksstem geword.

Hy bedank later om politieke redes en sluit in 1925 as redakteur by Ons Vaderland (later Die Vaderland) aan en bly tot Februarie 1936 by dié koerant. Preller was intussen, in 1910, ook medestigter van die blad Die Brandwag, waarvan hy redakteur was totdat dit in 1922 om finansiële redes moes sluit. 3

In 1930 word hy deur die Universiteit Stellenbosch vereer vir die werk wat hy as geskiedskrywer gedoen het. 1

In 1936 tree Preller finaal uit die joernalistiek en word staatshistorikus. Hy gaan vestig hom permanent op sy plaas Pelindaba, wes van Pretoria, en wy sy laaste jare heeltyds aan historiese navorsing.

Preller se pleidooi wat so ’n groot rol in die opkoms van Afrikaans as skryftaal gespeel het en later tereg die manifes van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging genoem is. Die afdruk toon die laaste bladsy met die oproep dat belangstellendes met hom in verbinding moet tree, wat regstreeks tot die stigting van die Afrikaanse Taalbond gelei het

Gustav Preller sterf nagenoeg sewe jaar later, op 6 Oktober 1943, en word in die familiekerkhof op die plaas begrawe.

Preller word vandag nog vereer deur ’n laerskool in Roodepoort wat sy naam dra. In 1970 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ook die Gustav Preller-prys vir literatuurwetenskap en letterkundige kritiek ingestel wat elke drie jaar vir ’n hoogstaande publikasie in dié veld toegeken word. 1

Vandag leef dié historikus ook voort deur sy historiese publikasies. Maar waaroor het hy geskryf?

Preller se pleidooi wat so ’n groot rol in die opkoms van Afrikaans as skryftaal gespeel het en later tereg die manifes van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging genoem is. Die afdruk toon die voorblad van die gedrukte brosjure

Gustav Preller die historikus

Preller het, soos met die joernalistiek, geen formele opleiding as historikus gehad nie – hy was dus ’n outodidak. Tog was hy ’n baie produktiewe geskiedskrywer en het vanaf 1904 nagenoeg dertig geskiedenisboeke die lig laat sien.

Twee intieme vriende stop saam pyp op die stoep van die Preller-woning: Gustav Preller en die skilder J.H. Pierneef

Die temas van sy werk kan in drie kategorieë verdeel word, naamlik:

  • die Groot Trek;
  • die Anglo-Boereoorlog; en
  • ander onderwerpe. 3

Die sierlike steenhuis wat Preller self te Pelindaba gebou het, met die huidige eienaars, mnr. en mev. RH (Bob) Preller en twee van hul kinders, Monica en Deborah. Die oudste kind, Robert, is op kosskool in Brits. Die sierlike potte by die trappies is deur Coert Steynberg gemaak. Om die muur links het Preller destyds sy versameling van honderde sogenaamde Boesmanklippe opgestapel, maar daarvan het nou slegs ’n paar behoue gebly.
Mnr. HC de Kock, LV, vriend en vroeëre kollega van Preller, vertel o.m., “Pelindaba beteken in Zoeloe die einde van die saak. Daar is destyds naamlik ’n prysvraag uitgeskryf oor die naam van die dorp wat op die plek gestig sou word en wat reeds opgemeet was. Later is besluit om die onderneming te staak en toe het iemand in Zoeloe opgemerk: Gupele indaba, d.w.s. ‘Nou ja, die saak is klaar.’ So het die plek sy naam gekry. Preller het Zoeloe taamlik goed geken.”

Die rondawelhuis wat dr. en mev. Preller jare lank as naweekverblyf op hul plaas Pelindaba gebruik het en waar talle van die Prellers se vriende, veral uit die kuns- en skrywerskringe, ook gehuisves is. Hier het Eugène Marais tot aan sy dood gewoon toe die Prellers reeds die groot huis hoër teen die bult betrek het. Ander bekende inwoners was Coert Steynberg Frans Oerder en Uys Krige.

Die Groot Trek-publikasies soos Piet Retief: Lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker en Andries Pretorius: Lewensbeskrywing van die Voortrekker kommandant-generaal was van Preller se grootste werke. Die boek oor Piet Retief se lewe wat die eerste keer in 1906 verskyn het, word as die eerste prosawerk van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging beskou. Piet Retief het verskeie herdrukke beleef en was die eerste “noemenswaardige lewensbeskouing van ’n Voortrekkerleier”. Teen 1930 is reeds sowat 15 000 eksemplare van dié boek verkoop en dit word vandag nog as een van die suksesvolste biografieë in Afrikaans beskou. 1

Piet Retief

Enkele werke oor die Anglo-Boereoorlog uit Preller se pen sluit in: Kaptein Hindon: Oorlogsavonture van ’n baasverkenner (1916) en Oorlogsoormag en ander sketse en verhale (1923). Ander onderwerpe waaroor Preller ook geskryf en gepubliseer het, was onder meer ’n politieke geskiedenis, naamlik Agt jaar s’n politiek: Skoon geskiedenis van die Suid-Afrikaanse nasionale partij, 1902-1920 (gepubliseer in 1910); die geskiedenis van die Paul Kruger-standbeeld (gepubliseer in 1939); en die geskiedenis van Ndebele-koning Lobengula (Lobengula: The tragedy of a Matabele king, gepubliseer in 1963). 1

Lof vir en kritiek teen Preller se werk

Gustav Preller het gedurende sy lewe dit reggekry om Afrikaners daaraan te herinner dat hulle ook ’n geskiedenis het wat waardig is om vertel te word. 1 Hy het ’n volk, wat kort tevore deur ’n bittere oorlog gegaan het, gehelp om hul historiese identiteit te vind en ’n gevoel van eenheid onder Afrikaners te skep. 3

’n Dagboek wat Preller in 1891 op 18-jarige ouderdom in Pretoria gehou het, is nog in besit van sy seun, mnr. RH (Bob) Preller. Dis in Engels geskryf. Interessant is die lang lys boeke wat Preller gedurende dié jaar gelees het: romans, ontdekkingsreise, geskiedkundige werke en die volgehoue studie wat hy meld. Hy was besig aan rekeningkunde, natuurwetenskap en geologie. Die aantekeninge getuig verder dat sy werk as winkelassistent hom tot die dood toe verveel het

Preller het boonop ’n belangrike bydrae tot die insameling van eerstehandse bronne gehad – soos om die herinneringe van mense wat self die Groot Trek meegemaak het, op te teken. Kenners meen dat dít juis as een van Preller se grootste bydraes tot die Suid-Afrikaanse historiografie is. 3

Tog was Preller se werk nie foutloos nie en word daar dikwels kritiek daarop gelewer. Kwessies soos sy eensydige vertolking van gebeure, slordige bronverwysings, onvolledige verwysings na, onder meer, datums en onnoukeurige aanhalings uit bronne is al deur latere historici opgehaal. 3 Sommige meen dat hy nie altyd ’n getroue beeld van die verlede geskets het nie, maar ’n geskiedenis geskryf en gevorm het sodat hy vir mense hoop kon gee. Hy is daarvan beskuldig dat hy deur sy werk ’n sekere propaganda oorgedra het. 4

n Brief van Preller aan sy vrou, gedateer 1 Desember 1899 en geskryf op amptelike papier wat van die vyandelike magte verower is. Hy bedank o.m. vir ’n mandjie goedere en sê “de kleeren en schoenen zullen zeer te pas komen”

Hoe dit ook al sy – Preller het ’n reusebydrae gemaak tot die optekening van die Afrikaner se geskiedenis en sy werk word steeds as ’n waardige bron vir verdere navorsing geag. Hy is onder meer teen die einde van die 1930’s Suid-Afrika se grootste historikus genoem. 4

Preller se ander skryfwerk

As jy vandag van Gustav Preller praat, sal die meeste mense moontlik net dink aan sy geskiedskrywing. En met reg, want dit was die werk wat die grootste impak gehad het en vandag nog gelees word.

Preller was egter nie net ’n geskiedskrywer nie, maar ook ’n skrywer van ’n rolprentdraaiboek, verskeie kortverhale en dramas, ’n digter, vertaler en resensent.

Skermgreep uit die film, De Voortrekkers

Hy het, byvoorbeeld, in die jare net ná die Anglo-Boereoorlog ’n paar gedigte onder die skuilname Stoffel en Vastrap geskryf wat in De Volksstem gepubliseer is. Dié gedigte was nie noodwendig meesterstukke nie, maar kenners meen dit was wel beter as die ander gediggies wat in daardie jare die lig gesien het. 1

Geraamte vir ’n historiese drama oor die Voortrekkers wat vermoedelik die begin was van die draaiboek wat Preller vir die rolprent “Die Voortrekkers” geskryf het. Mev. Preller vertel dat die rolprent destyds op aandrang van genl. Louis Botha as Eerste Minister gemaak is en dat haar man moeite gehad het om die verhaal so voor te stel dat dit almal sou bevredig

Op Sondag 16 Oktober 1916 is begin met die verfilming van die eerste Afrikaanse rolprent, De Voortrekkers. Die draaiboek van dié stilprent met Afrikaanse flitskaarte is geskryf deur niemand anders nie as Gustav Preller en het verhaal van Piet Retief se trek na Natal vertel. 5 Die rolprent is in Desember daardie jaar uitgereik en nagenoeg 15 000 mense het elke week by rolprentteaters tougestaan om dié prent te kyk. Preller het met De Voortrekkers daarin geslaag om geskiedenis populêr te maak.

Skermgreep uit die film, De Voortrekkers

Preller: Die ‘woordmaker’

In die jare wat Gustav Preller geleef het, was Afrikaans nog maar ’n jong taal en baie woorde moes óf nog by Nederlands of Engels geleen word óf nuwe Afrikaanse woorde moes eenvoudig gemaak word. Preller was ’n behendige woordskepper en daar is talle woorde wat ons vandag nog in Afrikaans ken en gebruik danksy Preller se innoverende skeppings. Woorde soos “rolprent”, “tikmasjien”, “snelskrif”, “hysbak” en “uitsaaikorporasie” is enkele voorbeelde van Preller se nuutskeppings. 3

Die familiebegraafplaas van die Pretoriusse en Prellers is tans geleë bo-op ’n skurwe kliprant te Pelindaba. Die ou begraafplaas is hierheen verskuif toe die Hartebeespoortdam gebou is uit vrees dat die damwater die kerkhoffie sou oorstroom. Hierdie monument van opgestapelde klippe is opgerig ter ere van twee bekende figure uit die Voortrekkertyd wie se stoflike oorskot in die begraafplaas lê: Deborah Retief, dogter van Piet Retief, en haar man MW Pretorius, held van die opstand van Silkaatsnek. Hulle was die grootouers van mev. Johanna Preller. Die inskripsie lui: “Deborah Retief, 1815-1900 en Marthinus Wessel Pretorius, 1822-1864. Deur ’n dankbare nageslag opgerig, 1922.”
Op Gustav Preller se graf pryk volgens sy eie voorskrif ’n enkele groot klip soos een van dié in die stapel. ’n Huldeblyk van die Afrikaanse Skrywerskring is later by die voetenent aangebring en deur mnr. Harm Oost onthul

Hy het ’n liefde vir Afrikaans gehad en was in 1905 een van die stigterslede van die Afrikaanse Taalgenootskap. Boonop was Preller ook verantwoordelik vir die vestiging van ’n Afrikaans-Hollandse toneelvereniging wat toneelstukke in Afrikaans opgevoer het. 1 Hy het ook self toneelstukke in Afrikaans verwerk soos Erasmus s’n erfgename en Piet s’n tante. 6

Mev. Johanna Preller, bejaarde weduwee van dr. Gustav Preller, lid van die bekende Pretorius-geslag uit die Voortrek en agterkleinkind van die Voortrekkerleier Piet Retief

Danksy dié jarelange ywer vir Afrikaans, word hy vandag nog beskou as ’n vurige taalvegter wat moeite gedoen het om Afrikaans as skryf- en spreektaal te vestig. 7

Lys van gepubliseerde werke

Gustav Preller was een van die aktiefste geskiedskrywers in Afrikaans en het gedurende sy loopbaan minstens dertig boeke die lig laat sien: 1

  • Onze Krijgsofficieren (1904, saam met F.V. Engelenburg)
  • De Familie Kruger (1904, saam met F.V. Engelenburg)
  • Laat ’t ons toch ernst wezen! Gedachten over de aanvaarding ener Afrikaanse schryftaal (1905)
  • Piet Retief: Lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker (1906)
  • Agt jaar s’n politiek: Skoon geskiedenis van die Suid-Afrikaanse nasionale partij, 1902-1920 (1910)
  • Baanbrekers: ’n Hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal (1915)
  • Kaptein Hindon: Oorlogsavonture van ’n baasverkenner (1916)
  • Dagboek van Louis Trichardt 1836-1838 (1917)
  • Deel 1 tot 6: dokumente oor die geskiedenis van die Voortrek (1918-1938)
  • Twee geskiedkundige opstelle (1919, saam met C.J. Langenhoven)
  • Louis Botha (1920)
  • Oorlogsoormag en ander sketse en verhale (1923)
  • Die Retief-Dingaan-ooreenkoms, inleiding: Die geskiedenis van die strydvraag (1924, saam met G.E. Cory en W. Blommaert)
  • Voortrekkerwetgewing: Notule van die Natalse Volksraad 1839-1845 (1924)
  • Historiese opstelle (1925)
  • Hoe ons aan Dingaansdag kom: Jan Bantjes se dagverhaal van die Winkommando (1928)
  • Sketse en opstelle (1928)
  • Die Grobler-moord (1930)
  • Op die wal van die Mahalakwêna (1930)
  • Argonauts of the Rand: Story of the Discovery of the Main Reef, with the Marais-Diary (1935)
  • Ons goud-roman: Die Marais-dagboek (1935, G.S. Preller as redakteur)
  • Andries Pretorius: Lewensbeskrywing van die Voortrekker kommandant-generaal (1938
  • Daglumier in Suid-Afrika: Oorsig van die geskiedenis van Suid-Afrika, van die vroegste tye tot 1881 (1937)
  • Ons parool (1938)
  • Oud-Pretoria: Sakelike verhaal van die stad se Voortrekkerperiode (1938)
  • Scheepers se dagboek en stryd in Kaapland (1938, geredigeer deur G.S. Preller)
  • Geskiedenis van die Kruger-standbeeld (1939)
  • Voortrekkers van Suidwes (1941)
  • Talana: Die drie Generaalsslag by Dundee, met lewenskets van genl. Daniel Erasmus (1942)
  • Eerstelinge: Eerste kritiese beskouinge oor ons eerste kunswerke. (1961, versorg deur D.J. Opperman)
  • Lobengula: The Tragedy of a Matabele King (1963)

Wat sê ander oor Gustav Preller?

Ná Gustav Preller se dood het die historikus en latere rektor van die Universiteit van Stellenbosch, prof. H.B. Thom, gesê: “Hom [Preller] kom die eer toe, dat hy meer as enigiemand anders belangstelling by ons volk in ons eie verlede opgewek het en tot navorsing van ons verlede, insonderheid van die Groot Trek, aangespoor het.” 4

Graf van Gustav Preller in die Preller-familiebegraafplaas by Pelindaba naby Pretoria

In 1931 word daar in Die Huisgenoot geskryf: “Preller het die gawe ontvang wat die Vader in die Hemelryk aan baie min mense uitdeel. Hy kan skryf.” 5

Woordbank

aanhalings Woordelike weergawe; iemand se eie woorde.
betrekkings Pos/amp/werk.
biografieë Lewensbeskrywing, lewensgeskiedenis.
bronne In hierdie geval is dit ’n persoon/boek of geskrif waaruit inligting of gegewens verkry word.
daglumier Dagbreek, aanbreek van die dag, sonsopkoms.
die lig gesien In hierdie geval wanneer ’n boek verskyn, uitgegee/gepubliseer word.
eed Getuienis voor God dat ’n verklaring die waarheid is, of dat ’n belofte uitgevoer sal word.
eensydige Van een kant gesien; partydig.
eksemplare Afskrif/kopie van ’n boek/dokument; voorbeeld.
emigreer Uit jou eie land vertrek om elders blywend te gaan woon.
grootste In hierdie geval het dit nie te doen met grootte nie, maar beteken ‘baie goed/manjifiek/ indrukwekkend’.
historikus
Iemand wat navorsing oor die geskiedenis doen en daaroor skryf.
historiografie Geskiedskrywing; wetenskaplike historiese navorsing en die aanbieding/neerskryf daarvan.
impies Zoeloeregiment/Zoeloeweermag; Zoeloesoldate.
ingrypend Wat ver strek, verreikende gevolge het; drasties.
innoverende Oorspronklik; nuut, vars, vernuwend.
joernalis Verslaggewer, rubriekskrywer, koerantskrywer, artikelskrywer, beriggewer, nuusman/nuusvrou, persman/persvrou, beroepskrywer.
joernalistiek Betreffende die werk van ’n joernalis.
klerk Iemand wat in ’n bank of staatskantoor werk; kantoorwerker, beampte, amptenaar, assistent.
krygsgevangene Gevange vyand in ’n oorlog.
kwyt Om ontslae te wees van iets; verlore.
maaksels Wat gemaak of geskep is.
Nasaat Afstammeling, nakomeling; kind/kleinkind/agterkleinkind, ens.
noemenswaardigste Belangrik genoeg om vermeld of genoem te word; vermeldenswaardig.
noodgedwonge Noodsaaklik; noodwendig, onvermydelik.
onherroeplik Onveranderlik, onomkeerbaar, onstuitbaar, beslis, finaal.
oorlogskorrespondent ’n Joernalis wat op die oorlogsterrein teenwoordig is en oor die gebeure nuus verskaf, ook bekend as ’n oorlogsverslaggewer.
opgehaal Weer praat oor iets; noem, ter sprake bring.
optekening Aantekening, vermelding; inskrywing, skrifstuk, dokument; verslag.
outodidak Iemand wat kennis deur selfstudie opgedoen het.
parool Onder voorwaardes uit die tronk vrygelaat wees.
populêr Gewild; iemand/iets waarvan mense hou.
propaganda ’n Strewe om sekere belange te bevorder.
prosawerk Prosa sluit skryfstukke soos romans, kortverhale en draaiboeke in. Hierdie soort skryfwerk is in gewone, alledaagse spreektaal.
publikasie Uitgee van ’n boek of geskrif, uitgawe.
redaksie Die skrywers van ’n dagblad; koerantskrywers.
redakteur Hoofleier wat ook die beleid (taal en skryfwyse) van die blad/tydskrif bepaal.
resensent Iemand wat byvoorbeeld ’n boek bespreek, ook bekend as ’n kritikus.
skuilname ’n Ander naam wat ’n skrywer/joernalis/ens. gebruik om as persoon onbekend te bly; pennenaam, skrywersnaam.
slordige Sleg, oorhaastig, afgeskeep.
Staatsartillerie Alles wat by geskut/kanonne hoort, die personeel ingesluit – in hierdie geval van die staat/regering.
taalstryder Iemand wat hom doelgerig en aktief beywer vir erkenning van sy moedertaal in ’n meertalige land.
verhaal In hierdie geval beteken dit nie ‘storie’ nie, maar ‘vertel’ en word as werkwoord gebruik.
vertolking Interpretasie/weergawe van iets; uitbeelding.
warboel Deurmekaarspul, warspul, verwarring. 8

Kyk die volgende video’s vir meer inligting

Kyk hier na die volledige rolprent De Voortrekkers waarvan Gustav Preller die draaiboek geskryf het:

As jy lus het vir ’n outydse fliek, kyk gerus na se Piet se Tante wat in 1959 verfilm is. Gustav Preller het die oorspronklike toneelstuk, Piet s’n Tante geskryf.