Vinnige feite
- By Lekkerrus, ʼn warmwaterbron in die Waterberg, kan gaste saam met ʼn gids die ou tinmyn in die Kloof besoek waar afstammelinge van die trop bobbejane wat Marais bestudeer het, nog steeds bly. 9
- Marais was op 12 reeds ʼn gepubliseerde skrywer toe sy werk The Soldier’s Grave gepubliseer word. 5
- As raadgewer vir Brittanje het Marais nie net ʼn baie groot bydrae gelewer om voordelige vredesvoorwaardes vir Transvaal ná die Anglo-Boereoorlog te beding nie: Hy het ook die Britse politici oortuig om hul beleid van die wêreldoorheersing van ander volke te staak. 5
- ʼn Rolprent oor Eugène Marais, met die titel Die wonderwerker, verskyn in 2012. Die draaiboek is geskryf deur Chris Barnard. Dit handel hoofsaaklik oor die jare wat hy op die plaas Rietfontein gewoon het. 7
- Minstens agt van Marais se boeke het vir die eerste keer ná sy dood verskyn. 7
As jy vra wie was Eugène Marais, sal die meeste mense sê hy was ʼn Afrikaanse digter. Maar Eugène Marais was veel meer as dit: hy was ʼn digter, skrywer, politieke rebel, storieverteller, sterrekundige, joernalis, prokureur, sielkundige, kenner van dieregedrag, swerwer, volgens sommige ʼn genie. En ʼn dwelmverslaafde. 1
Hoewel sy ouers Afrikaans was, het hulle in die huis slegs Engels geleer, en hy het in Engels skoolgegaan. Maar ten spyte daarvan het hy een van die vaders van Afrikaanse letterkunde, en ʼn prominente figuur in die ZAR (of Transvaal) geword. 2
Marais word beskou as ʼn pionier van Afrikaanse letterkunde, en die leier van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Hy het verkies om in Afrikaans te skryf, hoewel sy skryfwerk laat in sy lewe en ná sy dood in verskeie ander tale vertaal is. 3
Marais se skryfwerk weerspieël die onstuimige tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis waarin hy geleef het, gekenmerk deur oorlog, sosiale verandering, en die opkoms van Afrikanernasionalisme. 4
Die eerste woorde van sy bekendste gedig, “Winternag,” begin met dié woorde wat jy waarskynlik al iewers gehoor het:
O koud is die windjie
en skraal…
Eugène Marais se lewe
Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 in Pretoria gebore. 5 Hy het twaalf ouer broers en susters gehad, 3 en het saam met sy gesin in ʼn huis op die oewer van die Apiesrivier gewoon.
As tiener het hy homself reeds as joernalis bewys deur in verskeie koerante fel kritiek teen Paul Kruger 1 (president van die ZAR van 1883 tot 1902) te lewer. 6
Hy ontvang die grootste deel van sy skoolopleiding in Engels: eers in Pretoria van 1878 tot 1880, en toe, van 1880 tot 1884, in Boshoff in die Vrystaat waar hy vir ʼn paar jaar by sy oudste broer, Charles, gewoon het. 7 Die laaste twee jaar van sy skoolloopbaan woon hy, as gevolg van onstabiliteit in die ZAR ná die Eerste Vryheidsoorlog, in die Paarl by sy tante Lizzie Niemeyer. 5 Op die jong ouderdom van 16 skryf hy matriek aan die Paarl Public School. 3
Ná skool keer hy terug na die ZAR en begin eers werk as ʼn prokureursklerk by sy broer se regsfirma, en ʼn jaar later as verslaggewer by die Advertiser. Marais was nie bang om ʼn sterk mening uit te spreek teenoor politici wat baie ouer en meer ervare was as hy nie. As ʼn ondersoekende joernalis het hy dikwels met Paul Kruger en ander hooggeplaastes in die Volksraad en ZAR koppe gestamp. 5 Hy word as agtienjarige reeds die ZAR Raadsaal se persbank verbied oor die omstrede artikels wat hy skryf. 7
In 1890, op 19-jarige ouderdom, word hy redakteur van die Nederlandstalige weekblad Land en Volk 8 – ʼn baie jong ouderdom vir ʼn posisie wat baie verantwoordelikheid inhou. In 1891 koop hy en Jimmy Roos die koerant, en in 1892 word hy alleeneienaar daarvan. Hy skryf nie net al die inhoud vir die koerant nie, maar verkoop ook advertensiespasie om die koerant te finansier. 9 Land en Volk was boonop onder Marais se leiding een van die eerste koerante in die land wat Afrikaans as skryftaal begin bevorder het. 7
Marais word eggenoot, pa, wewenaar en advokaat
In 1892, op 21-jarige ouderdom, ontmoet Marais die 20-jarige Aletta Lettie Beyers van Natal (vandag KwaZulu-Natal), en trou in 1894 met haar. 10 Sy was ʼn baie mooi boeremeisie met donkerbruin krulhare. Lettie, soos sy genoem is, het ʼn kleinhoewe in haar eie naam gekoop as finansiële sekuriteit en ʼn belegging vir die toekoms. Hoewel sy van Marais se verslawing aan dwelmmiddels geweet het, het gedink sy sou hom kon help om daarsonder klaar te kom. 9
ʼn Jaar ná hul troue word Lettie swanger en skenk geboorte aan ʼn seun, Eugène Charles Gerard Marais. Maar agt dae ná hul seuntjie se geboorte sterf sy aan kraamkoors. Vir Marais was dit só ʼn groot skok dat hy nie na hul baba kon omsien nie en sy misbruik van morfien, waaraan hy in dié stadium verslaaf was, neem toe. Sy suster, Sophia, neem die seuntjie in haar sorg en maak hom groot. 9
Marais gaan in 1897 Londen toe met die plan om in ʼn mediese rigting te studeer, maar sy vriende oortuig hom om eerder regte te studeer. Hy kwalifiseer in 1902 in Londen as advokaat. 3 Tydens sy tyd in Londen kom hy in aanraking met allerlei nuwe denkrigtings en sosiale verskynsels, onder meer met die werk van Mesmer, die baanbreker van hipnotisme. (Dis waar die Engelse woord mesmerise vandaan kom.)
Hy volg ook tydens sy verblyf in Engeland die gebeure in sy eie land met groot kommer, en skryf talle briewe aan koerante in Engeland om die saak van die ZAR te stel. 7
Ná sy terugkeer na Suid-Afrika in 1902 word hy as advokaat tot die balie toegelaat. Die Britse regering, wat toe aan bewind was in die ZAR, gee hom ook toestemming om voort te gaan met die uitgee van die weekblad Land en Volk, en hy stel die joernalis en skrywer Gustav Preller as redakteur aan. Maar ná drie jaar as suksesvolle advokaat en koeranteienaar verkoop hy die koerant en verlaat sy regspraktyk. 3
Marais as skrywer
Vanaf 1905 woon hy op die plaas Rietfontein, in die Waterberg buite Pretoria, wat aan Gys en Maria van Rooyen behoort het. Hier begin hy die natuur bestudeer. Hy hou termiete, pofadders, spoegkobras en bobbejane se gedrag dop, en teken sy bevindings in Afrikaans op. Hierdie bevindings is in verskeie tydskrifartikels en natuurwetenskaplike boeke gepubliseer. Te danke aan hierdie navorsing van Marais staan hy bekend as die vader van die wetenskaplike studie van diere, bekend as etologie. 3
Sy bekendste gedig, “Winternag,” is op 23 Junie 1905 vir die eerste keer onder ʼn skuilnaam gepubliseer in Land en Volk. Die gedig het eintlik die storie vertel van die opkoms van Afrikanernasionalisme in die tyd waarin Marais geleef het, en word vandag nog deur baie mense as die voorste Afrikaanse gedig beskou. Gustav Preller, skrywer en joernalis, het ook dié gedig gebruik in sy pleidooi vir Afrikaans in plaas van Hollands as skryftaal. 5
Terwyl hy op Rietfontein gewoon het, ontmoet hy die 19-jarige Jane Brayshaw wat deur die Van Rooyens grootgemaak is. Hy doen baie van sy hipnose-eksperimente op haar, en raak ook op haar verlief, al was hy meer as 20 jaar ouer as sy. Daar was boonop sprake dat Maria van Rooyen ook ʼn bietjie verlief was op hom. Maria probeer hom van sy verslawing genees deur sy morfiengebruik te beheer, en op dié manier kry sy mag oor hom. 7
“Burgers van die berge” en “The Soul of the Ape”
Uit die inligting wat hy versamel deur bobbejane in die Waterberg dop te hou, skryf Marais verskeie tydskrifartikels wat uiteindelik in 1938 in boekvorm as Burgers van die berge uitgegee word. Hy is veral bekend vir hierdie werk omdat dié meesterstuk die eerste uitgebreide wetenskaplike studie van primate in die natuur (in hierdie geval, die bobbejaan) is wat ooit geskryf is. 4
Marais het baie lank gewerk aan sy meer wetenskaplike werk oor die gedrag van bobbejane, The Soul of The Ape, maar hy was nooit tevrede met die eindresultaat nie. In 1920 en 1921 verskyn dele van hierdie werk wat hy in Afrikaans vertaal het, in die vorm van vier artikels in die koerant Die Brandwag. Dié artikels word ook in 1928 in Natuurkundige en Wetenskaplike Studies opgeneem. Boonop verskyn Die siel van die aap ook van 1926 tot 1928 as ʼn reeks van ses artikels in Die Huisgenoot. 10
Hoewel die manuskrip van The Soul of the Ape in sy Engelse formaat reeds in 1919 voltooi is, word dit eers sowat 50 jaar later gepubliseer. 3 Dis jammer, want as dit vroeër uitgegee is, sou dit een van die baanbrekerswerke op die gebied van etologie gewees het. 10
“Die siel van die mier”
Marais se navorsing in die Waterberg oor die gedrag van miere en die manier waarop hulle saamwerk, het hom tot die gevolgtrekking laat kom dat ʼn mierkolonie as ʼn enkele organisme beskou behoort te word. Hy het sy navorsing oor miere gepubliseer in ʼn reeks artikels – eers ʼn koerantartikel in Die Burger in Januarie 1923, en toe ʼn reeks artikels met die titel “Die siel van die mier” in Huisgenoot van 1925 tot 1926, met ʼn slotartikel in 1931. Die artikels is later, in 1934, saamgevoeg in ʼn boek met die titel Die siel van die mier, uitgegee deur J.L. van Schaik. Die Engelse vertaling daarvan, The Soul of the Ant, verskyn in 1937. 5
Ongelukkig het ʼn ander skrywer, die Belgiese Nobelpryswenner Maurice Maeterlinck, plagiaat gepleeg deur die inligting in hierdie artikels van Marais byna net so te gebruik in sy boek La Vie des Termites, wat in 1926 gepubliseer is. Dit lyk asof Maeterlinck op Marais se reeks artikels afgekom het, en dit maklik uit Afrikaans na Frans kon vertaal omdat hy toe reeds verskeie ander werke uit Nederlands in Frans vertaal het. Marais het probeer om ʼn internasionale hofsaak teen Maeterlinck te maak, maar hy moes dit laat vaar omdat dit gou geblyk het dat dit heeltemal te duur sou wees. 3
Sommige mense meen dat hierdie voorval daartoe bygedra het dat Marais sy eie lewe geneem het.
Hipnose
Nadat Marais vir Hessie van Deventer, ʼn twaalfjarige meisie wat verlam was, 7 deur hipnose gesond gemaak het, is hy deur die mense van die Waterberg beskou as ʼn dokter wat wonderwerke kon doen. Sy vermoë om mense te kon hipnotiseer – soms teen hul wil – het hy gebruik om merkwaardige eksperimente te doen. Hoewel hy geen formele mediese opleiding gehad het nie, het hy talle pasiënte genees wat aan die een of ander vorm van ʼn geestesiekte gely het. Hy het dikwels pasiënte met sielkundige probleme gehelp deur bloot vir hulle vrae te vra en objektief na hul antwoorde te luister. 9
Eugène Marais se donker kant
Hoewel Eugene Marais ʼn reuse- en onmisbare bydrae op verskeie gebiede gelewer het, was hy nie sonder swakhede nie – net soos enige ander bekende of prominente persoon.
Soos reeds genoem, het hy al op ʼn jong ouderdom verslaaf geraak aan die dwelmmiddel opium, en later morfien. Teen 1892 is opium gebruik vir ʼn verskeidenheid ongesteldhede, en grootmense kon dit sonder ʼn voorskrif koop. Later, toe morfien beskikbaar geraak het as ʼn middel wat gebruik is om senuweetoestande en slaaploosheid te behandel, het Marais dié middel begin gebruik.
Aanvanklik was Marais se gebruik van opium en morfien onder beheer. Dit het hom gehelp om te slaap en sy werk het verbeter. Maar met verloop van tyd het sy verslawing buite beheer geraak. 9 In tye wat hy onder groot spanning was, was sy verslawing meer intens, soos toe sy vrou Lettie oorlede is met die geboorte van hul enigste kind, en toe Maurice Maeterlinck plagiaat gepleeg het met sy boek Die siel van die mier.
In 1915 gee hy van die plaas Rietfontein af pad – keelvol vir die manier waarop Maria van Rooyen sy morfiengebruik beheer. Vir ʼn paar jaar swerf hy, bly hier en daar by vriende, en skryf heelwat. 7
Eugène Marais en A.G. Visser
In Mei 1922 verhuis hy na Heidelberg (Gauteng), waar die nou bekende digter A.G. Visser ʼn mediese praktyk gehad het. Die twee raak goeie vriende, en Visser probeer Marais help om sy morfienverslawing baas te raak, maar sonder sukses. Marais publiseer in dié tyd sy eerste en enigste digbundel, en help ook vir Visser om sy eerste digbundel uit te gee. Albei digters se bundels heet baie eenvoudig Gedigte.
In 1927, nadat die plagiaat van sy werk Die siel van die mier aan die lig gekom het, neem Marais weer sy toevlug tot die Waterberg. Hy woon van tyd tot tyd op Pelindaba, die plaas van sy vriend Gustav Preller, naby Hartbeespoortdam. 7
Eugène Marais se stem word stil
Uiteindelik het alles te veel geraak vir Marais: sy vrou se dood, sy morfienverslawing en die plagiaat van sy werk Die siel van die mier het hom ondergekry. Op 29 Maart 1936, in die ouderdom van 65 jaar, neem Eugène Marais sy eie lewe deur homself met ʼn haelgeweer te skiet op sy vriend Preller se plaas Pelindaba 5 – ʼn tragiese einde van die lewe van een van die mees merkwaardige persone in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Eugène Marais en sy vrou, Lettie, is in die Heldeakker in Pretoria begrawe.
In 2003, 67 jaar ná sy dood, word Eugène Marais deur ʼn onafhanklike internasionale paneel aangewys as een van Afrika se top-15-letterkundiges van die 20ste eeu. 7
Skryfwerk
- Gedigte
- Dwaalstories (1921)
- Die siel van die mier (1934)
- Burgers van die berge (1938)
- The Soul of the Ape (1969)
- Van Marais se skryfwerk is vervat in versamelde werke in boekvorm, waaronder Die huis van die vier winde, Die leeus van Magoeba en Die siel van die mier.
- Sy gedigte verskyn in verskeie tydskrifte – veral van sy beste en laaste gedigte, soos “Diep rivier” en “Wanneer dit reën op Rietfontein”.
ʼn Aanhaling oor Eugène Marais
“Eugene Marais was a human community in the person of one man. He was a poet, an advocate, a journalist, a story-teller, a drug addict, a psychologist, a natural scientist. He embraced the pains of many, the visions of the few, and perhaps the burden was too much for one man… As a scientist he was unique, supreme in his time, yet a worker in a science then unborn.” – Robert Ardrey, in sy inleiding tot Marais se boek The Soul of the Ape.
Maniere waarop Eugène Marais vereer is
- Die Eugène Marais-stigting, ʼn niewinsgewende organisasie wat navorsing op die gebied van letterkunde, wetenskap en aktuele kwessies fasiliteer.
- Die Eugène Marais-leerstoel in Natuurlewebestuur aan die Universiteit van Pretoria. 5
- Die Eugène Marais-prys vir Letterkunde.
- ʼn Skaars Waterberg-broodboom wat hy ontdek het, is na hom vernoem: Encephalartos Eugène-maraisii. Dié ontdekking word beskou as een van sy grootste bydraes tot natuurkunde.
- Die Natal Mercury het hom vereer as een van die 100 mense wat Suid-Afrika gevorm het (hy was nommer 79).
- Eugéne Marais is in 2012 genomineer vir die titel “Die Grootste Afrikaner van Alle Tye” in ʼn veldtog wat deur Maroela Media van stapel gestuur is. 11
- Die Life Eugène Marais-hospitaal, ʼn private hospitaal in Pretoria, is na hom vernoem. 9
“Winternag” deur Eugène Marais
O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ʼn meisie
in haar liefde verlaat
In elk’ grashalm se vou
blink ʼn druppel dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!
Woordbank
advokaat | ʼn Wetsgeleerde wat spesialiseer in litigasie (wanneer iemand regstappe doen) en hofverrigtinge. |
Afrikanernasionalisme | ʼn Nasionalistiese politieke behoudende ideologie wat onder Afrikaners tot stand gekom het ná betekenisvolle gebeure in die Afrikanergeskiedenis, soos die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog, en gevolglike anti-Britse sentiment onder Afrikaners. |
aktuele | Wat op die oomblik van belang is. |
baanbreker | Iemand wat eerste is om iets te doen, of wat die pad vir ander oopmaak. |
baas te raak | Om iets onder die knie te kry of reg te kry. |
balie | Al die advokate saam. |
beding | Oor iets onderhandel. |
denkrigtings | ʼn Spesifieke manier van dink wat deur ʼn groep mense gedeel word. |
etologie | Die studie van die lewensgewoontes en gedrag van diere. |
fasiliteer | Bevorder, aanmoedig. |
fel | Hewig; heftig; sterk; skerp. |
geestesiekte | ʼn Siekte van die gees of verstand, soos depressie. |
genie | Iemand met buitengewone begaafdheid/skeppingskrag; besonder slim. |
hipnotisme | ʼn Toestand wat baie met slaap ooreenkom. Die persoon wat gehipnotiseer is, is steeds tot ʼn mate bewus van wat om hom aangaan, maar het nie volle beheer oor sy aksies nie. |
joernalis | Iemand wat vir ʼn koerant/tydskrif/radiostasie (asook TV-kanaal/webblad) nuusverslae skryf; verslaggewer. |
kraamkoors | Koors wat veroorsaak word deur ʼn infeksie van die baarmoeder ná geboorte. |
koppe gestamp | Verskil/stry oor iets; om nie saam te stem nie. |
leerstoel | Professoraat aan ʼn universiteit; ʼn akademikus wat ʼn leerstoel aan ʼn universiteit beklee, is ʼn universiteitsprofessor. |
morfien | ʼn Soort medikasie wat vir pyn voorgeskryf word wanneer ander soorte pynmedikasie nie effektief is nie, of nie gebruik kan word nie. |
omstrede | Waaroor baie gestry word; betwisbaar, aanvegbaar; iets wat bevraagteken word. |
opium | Die sap van ʼn papawer wat gebruik word as ʼn sterk verdowingsmiddel en baie verslawend is. |
organisme | ʼn Geheel van organe of onderdele wat saam funksioneer. |
persbank | Joernaliste in die parlement toegelaat is. |
plagiaat | Om iemand anders se werk te gebruik en dit aan te bied asof dit jou eie is. |
pleidooi | ʼn Argument om iemand anders van een of ander saak te oortuig. |
politieke rebel | ’n Persoon wat ’n regering opponeer (nie saamstem met sy beleid nie). |
primate | Soogdiere soos ape en bobbejane. |
prokureur | Iemand wat (in die) regte gestudeer het en wie se werk dit is om aan mense wette te verduidelik, formele ooreenkomste op te stel en kliënte in die hof te verteenwoordig. |
prominente | Vooraanstaande, belangrike. |
redakteur | Iemand wat rigting gee en toesig hou oor die beleid van ’n publikasie. |
sielkundige | Iemand met kennis van die wese en die eienskappe van die menslike siel/gees. |
Tweede Afrikaanse Taalbeweging | Die tweede van twee fases waartydens mense hulle beywer het vir die Afrikaanse kultuurtaal. Die Tweede Afrikaanse Taalbeweging het ʼn aanvang geneem met die stigting van die Afrikaanse Taalgenootskap in 1905, en met ʼn reeks artikels van Gustav Preller wat in De Volkstem gepubliseer is. |
toonsetting | Musiek wat geskryf word vir ’n bestaande teks soos ’n gedig. |
verslawing | Om op ʼn ongesonde manier afhanklik te wees van iets. |
voorste | Vernaamste. |
ZAR | Die Zuid-Afrikaansche Republiek, wat van 1857 tot 1902 bestaan het. Dit is ook Transvaal genoem. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Chris Barnard, wat die draaiboek vir die rolprent Die wonderwerker geskryf het, het in 2012 vir LitNet ʼn artikel oor Eugène Marais se lewe geskryf
- ʼn Artikel op Maroela Media vertel ook meer oor Eugéne Marais
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Luister hier na ʼn toonsetting van Eugène Marais se bekendste gedig “Winternag” deur Eva Mouw
ʼn Musiekvideo van die lied “Die siel van Eugène Marais” wat in 1986 deur Anton Goosen geskryf is
Die lokprent van Die wonderwerker wat oor Eugène Marais se lewe gemaak is
Die rolprent Die besoeker: ʼn Episode in die lewe van Eugène Marais wat in 1977 deur Marius Weyers vervaardig is
Die Eugène Marais-broodboom