Afrikaanse taalbewegings
Afrikaans is ʼn merkwaardige taal, want die taal is eintlik ʼn vulletjie as jy dit met die ander horingoue tale vergelyk, maar dit het baie vinnig gegroei tot die taal wat ons vandag ken, praat en skryf. Soos julle kan raai, het dit alles met skepe vanuit Europa begin. Hulle het in die 16de en 17de eeu na die Ooste gereis en die Kaap vir vars kos en water besoek. Die Kaapkolonie was toe al deur verskeie inheemse groepe bewoon. Die Khoi-Khoi het met die Europeërs in kontak gekom, en daar was dus taalkontak tussen die groepe. 1
Jan van Riebeeck, wat in 1652 in die Kaap aangekom het, het momentum aan hierdie taalkontak gegee. Die Hollanders het ook slawe saamgebring, wat verskeie tale gepraat het. Die mengelmoes van tale het gesorg dat die Europeërs se taal verander en van Standaardnederlands aangepas is. Reeds in 1671 het reisigers opgemerk dat die Hollands wat aan die Kaap gepraat word, anders is as dit waaraan hulle gewoond is. 2
Só het Afrikaans ontwikkel. In die 18de eeu was dit ʼn huis- en omgangstaal, en in die 19de eeu het Afrikaans verder verander, want toe was daar ook ʼn Engelse invloed en ʼn invloed van die tale van die swart groepe in die binneland. Al hierdie tale het ʼn invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad. Interessant genoeg is die woord Hollands eens gebruik om na Nederlands (Hoog-Hollands) te verwys, soms na Afrikaans of soms na albei tale.
Nadat die Britte die Kaap in 1806 vir ʼn tweede keer oorgeneem het, het Engels die amptelike voertaal geword. ʼn Streng beleid is ingestel om die Nederlands en Afrikaans te probeer verdring, en dit het aanleiding tot die Eerste Afrikaanse Taalbeweging gegee. Die Afrikaanssprekendes wou nie hê dat hul taal net moes verdwyn nie en daarom het hulle verskillende goed gedoen om die taal te bevorder.
Die Eerste Afrikaanse Taalbeweging
Nie al die slim geskiedkundiges stem saam oor presies wanneer die Eerste Taalbeweging begin het nie, maar dit wil blyk asof artikels en koerantbriewe die bal aan die rol gesit het, en alles het aan die Kaap begin. Dit het begin met artikels deur ene ds. Stephanus Jacobus du Toit (S.J. du Toit), ʼn predikant en ʼn vurige kampvegter vir Afrikaans. Hy het op 8, 11 en 22 Julie 1874 onderskeidelik in De Zuid-Afrikaan drie artikels in Nederlands onder die opskrif “De Afrikaansche Taal” geplaas. 3
Hy het onder meer genoem dat Engels Afrikaans kan verdring en het gesê dat as daar nie ʼn taal is nie, is daar nie ʼn nasie nie. Hy het die skuilnaam “Ware Afrikaander” gebruik.
Baie mense het briewe daaroor geskryf en hom ondersteun in sy begeerte dat Afrikaans bevorder moes word. C.P. Hoogenhout wat homself “Klaas Waarzegger jr.” in die koerant genoem het, het op 24 Oktober 1874 voorgestel dat eendersdenkendes vergader om saam te werk. Hierdie plan het momentum gekry toe ʼn Nederlandse taalgeleerde en rektor van die Grey-kollege in Bloemfontein, dr. Johannes Brill, in Mei 1875 ʼn lesing oor Afrikaans gelewer het.
Hy het gesê dat Afrikaans die ware landstaal van Suid-Afrika is en dat dit, net soos ander tale, volgens normale taalwette ontstaan het. Brill se lesing het op 29 Mei 1875 in De Zuid-Afrikaan verskyn, en het as verdere motivering vir Du Toit en ander gedien.
Arnoldus Pannevis was nog ʼn voorstander van Afrikaans, en hy wou graag hê dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word. Hy het aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf en S.J. du Toit voorgestel as iemand wat die Bybel kon vertaal. S.J. du Toit wou vasstel of daar werklik só ʼn groot behoefte aan ʼn Afrikaanse Bybel was en het besluit om ʼn vergadering daaroor byeen te roep. Hy het vriende, familie en ondersteuners van Afrikaans gevra om op 14 Augustus 1875 bymekaar te kom. Die vergadering is by du Toit se neef Gideon Malherbe se huis gehou.
Die groep het besluit dat daar inderdaad ʼn behoefte vir ʼn Afrikaanse Bybel was, maar dat daar nog nie baie in Afrikaans geskryf is nie, en daarom kon dit nog nie volledig as ʼn skryftaal erken word nie. Hulle het besef dat dit eers as ʼn skryftaal moes ontwikkel voor die Bybel vertaal kon word, en só het die Eerste Afrikaanse Taalbeweging vlamgevat. Die ondersteuners van Afrikaans het besluit om ʼn vereniging te stig om hierdie doel te bereik, en dit is hoe die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) tot stand gebring is. Die doel van die GRA was om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder.
Waarom het hulle hulself regte Afrikaners genoem? Wel, die groep het gevoel dat daar in daardie tyd drie verskillende soorte Afrikaners in Suid-Afrika was. Eerstens was daar die Afrikaners wat nog aan hul Hollandse verlede en land vasgeklou het en Hollands wou lees en skryf; tweedens was daar die Afrikaners wat die taal en kultuur van die Engelse regering as hul eie aanvaar het; en derdens was daar die Afrikaners wat die taal en kultuur van die nuwe land ondersteun en aanvaar het. Laasgenoemde is dus as die “regte Afrikaners” beskou.
Die GRA het besluit dat daar in Afrikaans geskryf moes word en het ʼn Afrikaanse koerant op die been gebring. Dit is Die Afrikaanse Patriot genoem, en die eerste uitgawe het op 15 Januarie 1876 verskyn. Dit het aanvanklik slegs een keer per maand verskyn en S.J. du Toit was een van die eerste redakteurs. Sy broer D.F. du Toit (ook bekend as Oom Lokomotief) het ook later ʼn redakteur daarvan geword.
Die blad was nie dadelik gewild nie en daar was baie mense wat daarteen gekant was. Daar was selfs ouers wat hul kinders verbied het om dit te lees, want hulle het op die taal neergesien. Geld was ook ʼn probleem, want dit het uiteraard geld gekos om dié blad te druk en vir mense te stuur. Daar was aan die begin slegs 50 mense wat daarop ingeteken het, maar mettertyd het dié syfer fluks geklim. Teen Januarie 1877 was daar 663 intekenare, en op aandrang van hul lesers, is daar besluit om die koerant weekliks in ʼn groter formaat uit te bring.
Die drukkoste het vervolgens toegeneem, en ds. Du Toit moes op ʼn stadium selfs van sy boeke verkoop om geld vir die druk en versending te kry. Die stigting van die GRA het ook tot ʼn onderneming gelei, want ʼn paar vriende het in 1878 ʼn drukkersonderneming gestig om Die Afrikaanse Patriot en ander GRA-publikasies uit te gee.
Die gewildheid van die koerant het ook tot ander publikasies soos die Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal gelei. Ongeveer 1 000 daarvan is in 1876 gedruk en het blitsvinnig uitverkoop. Die GRA se tweede boek was Die geskiedenis van ons Land, in die Taal van ons Volk wat in 1877 verskyn het. Die Afrikaanse Almanak het gevolg en is daarna elke jaar uitgebring.
Die eerste Afrikaanse kinderboek was die Spel- en Leesboek ver Afrikaanse Kinders deur “Oom Willem”. Daar is 1 000 gedruk, en die eksemplare het binne twee maande uitverkoop. Die boek is later herdruk. Die tweede kinderboek was C.P. Hoogenhout se Eerste Afrikaanse Printjies Boeki vir Soet Kinders.
Die GRA het ook ʼn Afrikaanse skool gestig, wat die Gedenkschool der Hugenoten genoem is. Dit is in 1882 op die plaas Kleinbosch in Daljosafat (in die vallei tussen Wellington en Paarl) begin, met D.F. du Toit as die eerste onderwyser. Dit was nie die eerste Afrikaanse skool nie, maar dit het ʼn groot rol gespeel om Afrikaans te bevorder.
Die Tweede Afrikaanse Taalbeweging
Die Tweede Taalbeweging het ontwikkel omdat Afrikaners graag hul taal en kultuur wou sien groei. Die ontstaan van hierdie beweging word na 1903 herlei, toe die Zuid-Afrikaansche Taalbond onder Jan Hofmeyr en ander Kaapse Afrikaners begin is.
Die Taalbond se doel was om Afrikaans te ontwikkel. Daar was ook verskeie mense wat hard gewerk het om te verseker dat Afrikaans in literêre werke gebruik moes word, soos die digters Eugène N. Marais, Jan F.E. Celliers en J.D. du Toit. Nog ʼn groot naam tydens hierdie beweging was Gustav Preller, ʼn skrywer en joernalis. 4
Ons moet na hierdie taalbeweging kyk teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog wat toe pas verby was. Daar was groot uitdagings vir Afrikaners. Hulle moes die land weer opbou te midde van baie moeilike omstandighede, en boonop was Afrikaans weer eens opsy geskuif. Ná die oorlog wat die Britte gewen het, was een van hul vredesvoorwaardes dat Engels die enigste voertaal moes wees. Dit het beteken dat selfs Nederlands aan die agterspeen moes suig.
Die Taalbond was al voor die oorlog gestig, maar het as gevolg daarvan onaktief geword. Dit het egter weer in 1903 aktief begin raak en was ʼn sterk voorstander vir die behoud van Nederlands. Jan Hofmeyr het op 6 Maart 1905 in sy beroemde toespraak “Is’t ons ernst?” gevra dat die Hollandse taal gebruik moet word en dat alles nie moet verengels nie. Hy het ook die Afrikaners gevra om hul regte te gebruik om op hul taal aan te dring.
Hofmeyr se toespraak is ook gepubliseer en het die aandag van onder meer Gustav Preller getrek. Preller het in 1905 in De Volkstem ʼn reeks artikels gepubliseer en gesê dat Afrikaners ernstig oor Afrikaans se behoud moet bly. Hy was nie teen Nederlands gekant nie, maar wou net hê dat Afrikaans ook sy regmatige plek moes inneem. Preller se artikels het in De Volkstem verskyn, en hy het dit daarna ook in ʼn brosjure geplaas. Hy het daar ook Eugène N. Marais se gedig “Winternag” gebruik as ʼn voorbeeld van watter werk moontlik in Afrikaans is.
Preller het ook belangstellendes gevra om deel van ʼn beweging te word om Afrikaans te bevorder. Die gevolg daarvan was die Afrikaanse Taalgenootskap wat op 13 Desember 1905 in Pretoria gestig is. Hul doel was om Afrikaans te ontwikkel en ʼn gevoel van Afrikaanse nasionalisme te kweek.
Dit was nie net Preller en Hofmeyr wat vir die beweging verantwoordelik was nie, daar was ʼn klompie ander mense wat daartoe bygedra het, mense wat gevra het dat Afrikaans moes ontwikkel en erken word, soos J.S.M. Rabie, die redakteur van die koerant De Afrikaner. Hy het ʼn aantal verhale en hoofartikels in Afrikaans gepubliseer, maar moes wel as gevolg daarvan bedank. Ds. Willem Postma is nog ʼn naam wat ʼn groot rol gespeel het. Hy het as dr. O’kulis bekend geword vir sy skrywes oor Afrikaans in De Vriend des Volks. Hy was ook een van die mense wat tot die stigting van die vereniging Onze Taal bygedra het.
Daar het ook taalorganisasies in Potchefstroom en Bloemfontein begin, en die politikus D.F. Malan het in Augustus 1908 oor Afrikaans gepraat. Hy het gesê die taal is op die bodem van die volkshart en volksgeskiedenis gebore en kan alleenlik in die volksmond leef. Volgens hom was Afrikaans die natuurlike medium vir die land en moes dit ook as skryftaal gebruik word.
Die beweging het verder gesien dat Afrikaanse en Hollandse groepe begin saamwerk. In Desember 1907 het die Taalbond en die Afrikaanse Taalvereniging bymekaargekom en hulle daartoe verbind om Afrikaans te bevorder. Die Afrikaans-Hollandse Taalvereniging is in 1908 in Pretoria gestig om Hollands in Transvaalse skole te bevorder, en in dieselfde jaar is die organisasie Onze Taal in Bloemfontein gestig om dieselfde in die Vrystaat te doen. Postma en Hofmeyr het ook gevra dat al die organisasies een moes vorm en hul kragte saam moes snoer, en ʼn kongres is gevolglik in Julie 1909 in Bloemfontein gehou. Dit het tot die stigting van die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst gelei. Hierdie akademie word later die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat vandag nog bestaan.
Die Unie van Suid-Afrika is in 1910 gestig, en Hollands het naas Engels ʼn amptelike taal geword. Die Afrikaanse Taalvereniging het intussen hard vir dieselfde regte vir Afrikaans gewerk. Ander organisasies het ook Afrikaans bevorder soos die Organisatie van Hollandse Taalvriendin en die Saamwerk-Unie van Natalse Kultuurvereniginge. Meer en meer mense het ook gevra dat kinders in Afrikaans onderrig moes ontvang.
Die bekende skrywer C.J. Langenhoven het op 23 April 1914 ʼn mosie by die Kaapse provinsiale raad ingedien om te versoek dat Afrikaans in plaas van Nederlands vir Afrikaanssprekendes tot en met standerd IV (standerd vier en vandag beter bekend as graad 6) as voertaal op skool gebruik moes word. Dit is goedgekeur, en dit was nie lank nie of ander provinsies het dieselfde gedoen.
Afrikaans het met ʼn spoed inslag gevind, teen 1925 het Afrikaanssprekende kinders skool in hul moedertaal gekry, en in Augustus 1918 het Afrikaans ook ʼn universiteitsvak by die Universiteit van Stellenbosch geword. Die universiteit staan vandag net as Universiteit Stellenbosch bekend. Daarna het ander universiteite in hul voetspore gevolg.
Uiteindelik is daar in 1925 besluit om aan Afrikaans volle parlementêre regte te gee, en Afrikaans het ʼn landstaal geword. Ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994 het Afrikaans een van die elf amptelike landstale van Suid-Afrika geword.
Woordbank
eendersdenkendes | Iemand met dieselfde sienswyse as iemand anders. |
kampvegter | Iemand wat die voortou neem in of stry vir ʼn saak waarvoor hy hom of sy haar beywer. |
nasionalisme | Dis die liefde en trots vir jou eie land en nasie, maar met die behoefte om onafhanklik te wees. |
rektor | Die hoof van ʼn universiteit of kollege. |
verdring | Iemand of iets wegstoot en sy plek inneem. |
voertaal | Die taal wat in opvoedkundige instellings gebruik word as die taal van onderrig. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Tydlyn van die ontwikkeling van Afrikaans
- Die Eerste Afrikaanse Taalbeweging
- Die Tweede Afrikaanse Taalbeweging
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Die ontstaan van Afrikaans
Waar kom Afrikaans vandaan?
ʼn Voorlesing van “Winternag”