Vinnige feite

  • Derek Preiss was in 1974 die eerste persoon wat sowel die Comrades as die Two Oceans gewen het. En in 1975 kry hy dit weer reg. 2
  • Die Two Oceans is in 2023 vir die 53ste keer aangebied. 6
  • Nkosikhona Mhlakwana is ’n onderwyser wat eers in 2021 ernstig begin hardloop het en in 2022 het hy tweede gekom in die Two Oceans – ’n merkwaardige prestasie. 10
  • In 1972 het die jong dokter Tim Noakes, wat vandag ’n bekende persoon in sportkringe en sportwetenskap is, vir die eerste keer aan die wedloop deelgeneem.

Dit het klein begin en die gedagte van die eerste organiseerders in 1970 was glad nie om te begin met ’n marathon wat elke jaar aangebied gaan word en wat boonop net groter en groter gaan word nie. Hulle het ook nie gedink dat dit internasionaal bekend sou word en elke jaar duisende buitelanders na Suid-Afrika sou lok nie. Dit is egter presies wat met die Two Oceans-marathon gebeur het.

Waar kom die naam vandaan?

Jy sal heeltemal reg wees as jy dink dat Two Oceans, oftewel “twee oseane”, met die see te doen het. Die roete van die wedloop is uitgewerk dat deelnemers langs die kuslyn van Stille Oseaan én die Atlantiese Oseaan hardloop.

Hierdie is eintlik ’n ultramarathon oor 56 km, wat beteken dis langer as die afstand van ’n gewone marathon wat 42 km lank is. Maar om dit makliker te maak, gebruik ons sommer die woord “marathon”. Soms praat mense van die Twee Oseane-marathon, maar die amptelike naam wat meer dikwels gebruik word, is Two Oceans.

Hierdie wedloop is Kaapstad se spoggeleentheid en word beskou as die ultramarathon wat in die mooiste omgewing ter wêreld plaasvind. Die beginpunt is in Nuweland en die eindpunt in Rondebosch.

Die wedloop vind plaas onder beskerming van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF), Atletiek Suid-Afrika (ASA) en Westelike Provinsie Atletiek (WPA).

Deelnemers moet natuurlik kwalifiseer om aan die wedloop deel te neem om darem seker te maak dat hulle wel in staat is om dit te kan doen. Almal wat met ’n tyd van onder 5 uur aan ’n erkende standaard marathon van 42 km deelgeneem het, kwalifiseer om aan die Two Oceans deel te neem. Maar daar word ook elke jaar net ’n sekere aantal deelnemers toegelaat – wanneer daardie getal ingeskryf is, sluit die inskrywings. 1

Die begin

Die Two Oceans het in 1970 ’n baie beskeie begin gehad met slegs 26 atlete wat aangetree het vir die eerste marathon.

Die gedagte met hierdie eerste wedloop was eintlik net om vir atlete wat aan die Comrades-marathon wou deelneem, die geleentheid te bied om daarvoor te oefen. Die inskrywingsgeld was slegs 50c en 15 van die 26 deelnemers wat begin het, het die wedloop voltooi. Die wenner was Dirkie Steyn en hy het kaalvoet gehardloop!

In 1972 het die wedloop se naam amptelik Two Oceans Marathon geword. Dit was ook die jaar waarin daar vir die eerste keer ’n vrou vir die wedloop ingeskryf het. Haar naam was Theresa Stadler.

In 1974 het daar ’n baie lang tradisie begin toe die wedloop geskuif is na die Saterdag van die Paasnaweek, ’n tradisie wat vir baie jare sou aanhou. 2

Bakens op die pad

In 1975 is toestemming gegee dat swart mense ook kon deelneem – die toestemming is gegee deur dr. P.G.J. Koornhof wat toe die minister van sport was. Onthou dat dit toe nog in die dae van afsonderlike ontwikkeling was en wit en swart mense het nie saam aan sport of eintlik aan enige byeenkomste deelgeneem nie. Hierdie wedloop is deur Gabashane Vincent Rakabaele gewen – dit was die eerste keer dat ’n swart atleet ’n ultramarathon in Suid-Afrika gewen het.

In 1979 is besluit om permanente wedstrydnommerrs toe te ken aan alle deelnemers wat drie keer gewen het, óf vyf goue medaljes gewen het, óf die wedloop 10 keer voltooi het.

Siphiwe Gqele was die eerste deelnemer wat die wedren drie keer gewen het – in 1983, 1984 en 1985. 2

In 1989 is die halfmarathon van 21 km as nog ’n wedloop van die Two Oceans bygevoeg. Daardeur kon atlete wat nie kans sien vir die ultramarathon nie, ook aan die dag deelneem. Hierdie korter wedloop het deur die jare baie gewild geword. 1

In 1989 het Frith van der Merwe gewen en ’n nuwe rekord opgestel. Sy het dit reggekry op ’n dag waarop dit só warm was, dat meer as 2 000 deelnemers as gevolg van die hitte nie die wedloop kon voltooi nie. Later in dié jaar het Van der Merwe ook die Comrades gewen.

In 1992 het ’n trein waarop 500 deelnemers was, by Beaufort-Wes gebreek. Nadat dit die organiseerders vir ’n tyd baie bekommerd gehad het, het die groep deelnemers uiteindelik betyds opgedaag!

In 1998 het die wedloop vanaf Brookside, ʼn suidelike voorstad van Kaapstad, na ’n nuwe gebied geskuif as gevolg van groot ontwikkelinge en bouwerk in Brookside. Van toe af het die wedloop in Nuweland begin en op die rugbyveld van die Universiteit van Kaapstad geëindig.

In Januarie 2000 het die Two Oceans voor ’n groot krisis te staan gekom. As gevolg van ’n vernietigende veldbrand en rotsstortings moes Chapmanspiek-rylaan gesluit word. Die organiseerders het toe ’n nuwe roete op die Ou Kaapse Weg uitgewerk wat vir die volgende vier jaar gebruik sou word. Die afstand het steeds 56 km gebly. 2

In 2007 het die eerste International Friendship Run op Goeie Vrydag plaasgevind. Alle internasionale deelnemers asook hul familie en vriende is genooi en byna 1 000 mense het deelgeneem aan die 5 km-pretloop wat by die Victoria & Alfred Waterfront geëindig het.

In 2010 is nog ’n nuwe wedloop bygevoeg. Atlete kon kies tussen 8 of 18 km-afstande. Inskrywings is beperk tot 400 deelnemers per afstand en slegs ʼn paar weke nadat die inskrywings geopen het, is die maksimum aantal deelnemers bereik. 3

Die gewildheid van die Two Oceans-marathon het bly toeneem. In 2011 is al 14 000 plekke vir die 21 km-halfmarathon sommer gou vol bespreek. Die pretlope oor verskillende afstande het byna 4 800 deelnemers gehad. Daar was ook ’n doekdraf oor 56 meter, ’n kleuterdraf oor 300 meter, asook 2,5 km- en 5 km-pretlope. Met die insluiting van so ’n verskeidenheid wedlope, slaag die organiseerders daarin om gesinne in te sluit, ’n feestelike atmosfeer te skep en al hoe meer mense te betrek.

In 2011 was daar deelnemers van 77 verskillende lande! 2

Alle byeenkomste, veral wanneer dit so groot is soos die Two Oceans, het borge nodig (mense of besighede wat geld verskaf). Old Mutual was vir baie jare die hoofborg. Totalsports is tans die hoof- of naamborg (dit staan as die Totalsports Two Oceans bekend). 2

In 2017 is die wedloop deur ’n deelnemer van Kenia, David Gatebe, gewen. Sy prestasie is nóg groter as ‘n mens hoor dat hy nog nooit voorheen buite die grense van Kenia was nie, nog nooit voorheen in ’n vliegtuig gevlieg het nie en dat hierdie sy heel eerste ultramarathon was! 2

In 2020 en weer in 2021 is die Two Oceans gekanselleer as gevolg van die Covid-19 pandemie. In 2021 is daar wel ’n virtuele marathon aangebied. 4

In 2023 was daar meer as 16 000 inskrywings vir die halfmarathon van 21 km en net minder as 12 000 deelnemers aan die ultramarathon van 56 km. 5

Wedloop nie meer oor Paasnaweek nie

In 2022 het die Two Oceans-marathon vir die eerste keer sedert 1973 nie oor die Paasnaweek plaasgevind nie.

Die rede hiervoor was ’n meningsverskil (mense wat nie saamstem oor iets nie) tussen die organiseerders van die marathon en die leiers van verskillende kerke. Kerkleiers het gesê dat die marathon wat oor die Paasnaweek plaasvind, inbreuk maak op hul grondwetlike reg om godsdienstige byeenkomste oor die Paasnaweek te hou.

Die stadsraad van Kaapstad het toe tussenbeide getree (die probleem tussen twee partye opgelos) en die marathon is na ’n ander naweek verskuif en oor twee dae versprei. Die 56 km-wedloop is op die Saterdag gehardloop en die halfmarathon op die Sondag.

Die wedrendirekteur – Hilton Kearns – het ná afloop van die geleentheid gesê dat die verspreiding van die twee wedlope oor twee dae dit makliker en veiliger gemaak het om die groot getal deelnemers te hanteer. Die skuif van die wedloop het dus nie ’n negatiewe invloed op die aantal deelnemers gehad nie. 5

Geldsinsameling

Van die liefdadigheidsorganisasies wat baat vind by (voordeel trek uit) die geldinsameling tydens die Two Oceans, is onder andere die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), Mosaïek Suid-Afrika (wat kinders sonder ouers help) asook organisasies wat help met die versorging van diere, soos die Cape of Good Hope Dierebeskermingsvereniging (DBV). 6

In 2023 is skenkings vanaf 15 lande in die buiteland ontvang – op hierdie manier word waardevolle buitelandse geld in die land ingebring. 6

Behalwe vir die geldinsameling vir liefdadigheid, is so ’n groot byeenkoms finansieel ook baie voordelig vir Kaapstad. In 2016 is daar byvoorbeeld ’n bedrag van meer as R672 miljoen in Kaapstad en die Wes-Kaap deur die Two Oceans ingebring. 2

Die sprokie van Gerda Steyn

Mense wat ernstig aan marathons deelneem, begin gewoonlik reeds hardloop wanneer hulle op skool is.

Gerda Steyn het dit anders gedoen. Sy het op ’n plaas by Bothaville in die Vrystaat grootgeword en hoewel sy as kind aan sport deelgeneem het, was sy nie baie ernstig daaroor nie. Dis eers toe sy in 2014 na Dubai is om daar te begin werk, dat sy begin hardloop het. Sy het daar buitelanders ontmoet wat haar vertel het dat hulle elke jaar na Suid-Afrika kom om hier aan die Two Oceans deel te neem. Net daar het die hardloopgogga haar gebyt en sy het saam met haar nuwe vriende begin hardloop. 7

In 2018 het sy haar eerste groot oorwinning behaal toe sy aan die Two Oceans deelgeneem en gewen het. In 2019 het sy weer as wenner uit die stryd getree. As gevolg van die Covid-19 pandemie het die wedloop in 2020 en 2021 nie plaasgevind nie, maar in 2022 was Gerda weer by die wegspringplek en het sy wéér gewen, in ’n rekordtyd. 7

In 2022 het sy Frith van der Merwe se rekord van 3 uur 30 minute 36 sekondes oortref toe sy ’n tyd van 3:29,42 aangeteken het. Frith se rekord het vanaf 1989 gestaan. 8

En toe kom 2023 en sy wen weer! Hierdie keer het sy in ’n rekordtyd van 3:29,06 gewen en só haar eie rekord van 2022 verbeter.

Sy is nou die enigste deelnemer wat die wedloop vier keer ná mekaar gewen het! Daar is twee ander vroulike deelnemers wat ook elk die wedloop vier keer gewen het, maar nie direk ná mekaar nie. Indien Gerda op 13 April 2024 weer wen, sal sy ’n rekord opstel wat nie maklik gebreek sal kan word nie – om die Two Oceans vyf keer direk ná mekaar te wen. 7

Hoewel ‘n mens Gerda Steyn die koningin van die Two Oceans kan noem, is dit nie al marathon waarin sy reeds uitgeblink het nie. Sy hou ook die rekord in die standaard marathon van 42 km met ’n tyd van 2:25,28 terwyl sy ook tans die rekord hou vir die Comrades-marathon se op-wedloop (vanaf Durban na Pietermaritzburg) in ’n tyd van 5:58,53. 9

Woordbank

borge Persoon of besigheid wat geld skenk gee sodat ’n byeenkoms gereël kan word.
liefdadigheid Om hulp te gee aan mense wat dit nodig het.
merkwaardige Iets wat aandag verdien; buitengewoon.
onder beskerming van Hulle neem verantwoordelikheid vir die organisering en om te sorg dat alles reg verloop.
prestasie Iets belangrik wat mens regkry of bereik.
ultramarathon  ’n Marathon wat oor ’n langer afstand gehardloop word as die standaard marathon van 42 km.
virtuele Wanneer iets nie werklik is nie, maar ’n “skynwerklikheid” is; iets wat lyk soos die werklikheid. Mens kan op jou rekenaar deelneem aan ’n byeenkoms sonder om self fisiek daar te wees, amper soos wanneer mense rekenaarspeletjies speel.

Lees dié om meer te leer

Loer na dié om meer te wete te kom

Die 2022 Two Oceans-marathon

Brandweermanne neem deel as fondsinsameling

Gepubliseer op: 15 Mei 2023 | Bygewerk op 19 Februarie 2024