Vinnige feite

  • Tatjana se ouers het haar naam gekies uit ʼn bababoek wat hulle as ʼn geskenk gekry het toe sy gebore is. 1
  • Haar pa is in Nederland gebore. 1
  • Die 200 m-borsslag is Tatjana se spesialisitem. In hierdie item moet ʼn mens vier lengtes in ʼn Olimpiese grootte swembad wat 50 m lank is, swem.
  • Daar is vier verskillende soorte swemstyle, te wete borsslag, vryslag, vlinderslag en rugslag.
  • Tatjana is in 2023 getroud met Joel Smith. Hy is niemand anders nie as die broer van Rachel Kolisi wat getroud is met Suid-Afrika se Springbokrugbykaptein, Siya Kolisi. 9
  • Haar afrigter is Rocco Meiring. Reeds vandat sy in graad 9 is, rig hy haar by die Tuks-swemklub in Pretoria af. 2
  • Tatjana is slegs die tiende persoon in Suid-Afrika wat kon regkry om meer as een medalje by dieselfde Olimpiese Spele te wen. Sy is die vierde Suid-Afrikaanse swemmer wat meer as een medalje by dieselfde Spele kon wen nadat Suid-Afrika weer toegelaat is om aan die Spele deel te neem. Die ander was Penny Heyns (Atlanta in 1996), Roland Schoeman (Athene in 2004) en Chad le Clos (Londen in 2012 en Rio de Janeiro in 2016). 6
  • Daar was vir baie jare weens politieke redes ʼn sportboikot teen Suid-Afrika, en daarom kon die land gedurende daardie tyd nie aan die Olimpiese Spele deelneem nie.
  • Die Olimpiese Spele van 2020 het eers in 2021 plaasgevind as gevolg van die COVID-19-pandemie.
  • Op 28 Julie 2023 het Tatjana vir die eerste keer ’n wêreldtitel verower toe sy die goue medalje in die 200 m-borsslag vir vroue gewen het. Dit was tydens die Wêreld-swemkampioenskapsbyeenkoms in Foekoeoka, Japan. 8

 

Foto: iStock

Soos ʼn vis in die water! Dit sê mens gewoonlik van iemand wat in hul element is as hulle iets doen waarin hulle baie goed is. Jy is dus net so tuis daarmee soos wat ʼn vis tuis in die water is. Dit is veral waar van ʼn swemmer soos Tatjana – dit is asof sy gebore is om in die water te wees. Haar prestasies het egter nie in haar skoot geval nie, baie jare se harde werk was nodig om te kon behaal wat sy het.

Die jong Tatjana

Tatjana was die oudste van twee dogters van haar ouers, Rene en Renske. Haar suster se naam is Fabienne. Sy is op 9 Julie 1997 gebore, het in Roodepoort grootgeword en was in Laerskool Fairland in Johannesburg. Ná laerskool is sy na die TuksSport Hoërskool in Pretoria, waar sy haar matriek voltooi het. Hierdie skool is spesiaal bedoel vir sportpersone wat ernstig is oor hulle sportsoort en ook daarin uitblink. 1

Tatjana het reeds begin swem toe sy maar net vyf jaar oud was. Sy het vir die eerste keer aan ʼn kompetisie deelgeneem toe sy agt jaar oud was. Al was sy baie lief vir swem, was dit nie haar hoofsport toe sy klein was nie. Eers later in haar hoërskoolloopbaan het sy sterk op swem begin konsentreer (spesiaal daaraan begin aandag gee). Toe sy 16 jaar oud was, het sy ʼn goue medalje by die tweede Afrika Jeugspele wat in 2014 in Botswana plaasgevind het, gewen. Natuurlik was dit in die borsslag – dit is die swemsoort waarin sy later groot roem sou bereik. 2

Ná haar skoolloopbaan het sy haar B.A.-graad in finansiële wetenskap aan die Universiteit van Pretoria voltooi. In 2022 gaan sy voort met haar studie vir ʼn graad in sportwetenskap. 2

Ouers is goud werd

Mense wat aan sport deelneem, kan goue medaljes by die Olimpiese Spele wen, maar daar is altyd mense wat agter hulle staan en hulle help om daardie goud te wen. Dit kan familie of vriende wees, en soms is dit ouers. Tatjana Schoenmaker se ouers, Rene en Renske, het haar van kleinsaf ondersteun met haar swem.

Haar ouers het byvoorbeeld T-hemde waarop hulle hierdie woorde laat druk het:

It doesn’t matter what’s in front of her…

As long as she knows who’s behind her.

Team Tatjana

Volgens Tatjana se ma is swem soos om ʼn motor presies reg in te stel. Jy maak dit beter en beter deur klein veranderinge en aanpassings te maak. Dit is volgens haar wat haar dogter vir 10 jaar lank gedoen het voor sy die goue medalje kon wen. Dit is klein dingetjies wat uiteindelik die beste resultate bring – soos die regte swempet, die regte swembril, hoe om reg om te draai aan die einde van ʼn lengte, die tempo van jou swemhale, en talle meer.

Haar ouers wou graag hê dat sy die hoogste sport in swem bereik, maar hulle was ook versigtig dat hulle dogter nie uitbrand nie. Hulle wou vir haar so lank as moontlik normale kinderjare gee. Daarom wou hulle haar nie te jonk reeds ernstig aan swem laat deelneem nie. Eers toe sy 14 jaar oud was, is sy na die TuksSport Hoërskool en het sy twee keer per dag begin oefen. 1

Die aand voor Tatjana die goue medalje gewen het, het haar ouers, familie en vriende almal by haar ouers se huis oorgeslaap en in die koue Johannesburgse winter om 02:00 opgestaan, om gereed te wees vir die 200 m-borsslag wat om 04:00 op 30 Julie 2021 in Tokio sou begin. 3

Sommer ʼn hele klomp eerstes

Tatjana se goue medalje het vir ʼn klomp eerstes by die 2020 Olimpiese Spele gesorg:

  • Dit was die eerste keer dat sy aan ʼn Olimpiese Spele deelgeneem het.
  • Haar medalje was die eerste individuele goue medalje van die Spele. 3
  • Haar goue medalje was Suid-Afrika se eerste goue medalje by die Spele, en dit was die eerste wêreldrekord in swem by die Spele in 2021. 4

Die 2020 Olimpiese Spele het eers in 2021 plaasgevind, want dit moes uitgestel word as gevolg van die COVID-19-pandemie.

Belangrike medaljes en prestasies

Summer Universiade

2017 in Taipei: silwermedalje in 200 m-borsslag

2019 in Napels: goue medaljes in 100 m- en 200 m-borsslag

Statebondspele 2018

Goue medaljes in 100 m- en 200 m-borsslag, met Afrika-rekords in albei items

Wêreldkampioenskappe 2018

Silwermedalje in 200 m-borsslag

Olimpiese Spele 2020 (wat in 2021 plaasgevind het)

Silwermedalje in 100 m-borsslag

Goue medalje in 200 m-borsslag, met ʼn nuwe wêreldrekord 2

In 2018, 2019, 2020 én 2021 is Tatjana as vroulike swemmer van die jaar in Afrika aangewys. 5

In 2023 het sy tydens die Wêreldkampioenskappe in Japan die goue medalje in die 200m-borsslag en ook die silwermedalje in die 100m-borsslag gewen. 10

Wen tydens die 2020 Olimpiese Spele in Tokio

So het die uitslae gelyk toe Tatjana op 30 Julie 2021 die wêreldrekord in die 200 m-borsslag vir vroue gebreek het. Die vorige wêreldrekord is in 2013 deur Rikke Moller Pedersen van Denemarke opgestel, met ʼn tyd van 2:19.11 (2 minute, 19.11 sekondes). Tatjana se tyd was 2:18.96. Lilly King van die Verenigde State van Amerika (VSA) was tweede in die item met ʼn tyd van 2:19.92 en Annie Lazor ook van die VSA was derde met ʼn tyd van 2:20.84. 3

Woordbank

kompetisie ʼn Wedstryd om ʼn wenner of kampioen aan te wys. Wanneer iemand meer suksesvol as iemand anders probeer wees.
prestasies Iets belangriks wat ʼn mens regkry.
uitblink Om besonder goed te presteer. 7

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Tatjana Schoenmaker

Tatjana breek die wêreldrekord vir die 200 m-borsslag tydens die 2020 Olimpiese Spele in Tokio.

Tatjana se toekomsplanne

Foto: iStock
Gepubliseer op: 17 Oktober 2022 | Bygewerk op 15 April 2024