Sport
Min mense in die wêreld neem nie een of ander tyd aan sport deel nie – selfs mense wat nie noodwendig daarvan hou om fisiek dinge te doen nie. Of dit nou professioneel gebeur, of sommer vir ontspanning of net omdat jy jou skool aan die begin van die skooljaar by die atletiek moet verteenwoordig, almal is die een of ander tyd by sport betrokke.
Wat beskou ons as ‘sport’?
Hierdie is ’n vraag waaroor almal nie altyd saamstem nie. Daar is ’n paar vrae wat gevra word om te besluit of ’n sekere aktiwiteit wel ’n “sport” genoem kan word.
- Is enigiets wat as ’n kompetisie gedoen word, ’n sport?
- Moet ’n mens se hele liggaam gebruik word voor jy dit ’n sport kan noem?
- Moet daar fisieke inspanning wees?
- As mens van ’n masjien van die een of ander aard gebruik maak om die beweging te verskaf, kan dit ’n sport genoem word?
Sommige mense voel dat alles nie sommer as sport aanvaar kan word nie. Ander mense voel weer dat dit nie soveel saakmaak nie – solank dit net vermaak aan kykers langs die veld of baan en op TV-kanale verskaf. 1
In dictionary.com word sport beskryf as ’n aktiwiteit wat vaardigheid of fisieke vermoëns vereis en dikwels tot wedywering lei. Hier word tennis, bofbal, gholf, stoei, boks, jag en visvang as voorbeelde genoem. 2 Ons eie Afrikaanse woordeboeke beskryf sport as ’n spel of bewegings waarby jy jou liggaam inspan, liggaamsoefening as ontspanning, en fisieke aktiwiteit waarin mense met mekaar meeding. Nog ’n definisie van sport lui dat dit individuele of groepsaktiwiteite is waaraan daar vir oefening of ontspanning deelgeneem word, wat fisieke inspanning of vaardighede vereis, waarby bepaalde reëls gewoonlik geld, en waartydens ‘n individu of span dikwels teen andere meeding.
As mens na bogenoemde definisies kyk, verstaan jy waarom stokperdjies soos visvang, jag en kaartspel ook as sport beskou word.
Voordele van deelname aan sport
Daar is sommer baie voordele vir mense wat aan sport deelneem.
- Sport help mens om fiks en gesond te bly, dit help jou om jou tyd beter te organiseer en dit bou verhoudinge met mense van jou ouderdom, maar ook met ander mense. Sport help mens ook om vriende te maak met mense wat jy andersins dalk glad nie sou ontmoet het nie. Wanneer mens aan sport deelneem, kry jy ook te doen met mense van ander gemeenskappe en ander skole as jou eie.
- Wanneer jou vriende en familie jou langs die veld of baan ondersteun wanneer jy aan sport deelneem, help dit jou ook om goed te voel oor jouself – dit bou dus jou selfbeeld.
- Wanneer jy aan sport deelneem, is daar dikwels afrigters betrokke en hulle kan goeie rolmodelle.
Die 10 gewildste sportsoorte in die wêreld
Kom ons kyk na die 10 gewildste sportsoorte in die wêreld (in geen spesifieke orde nie) – dit is nou as mens deelname as die meetinstrument gebruik.
Sokker
In die jongste opname wat deur sokker se beheerliggaam, Fédération Internationale de Football Association (FIFA) gedoen is, is bepaal dat daar wêreldwyd 265 miljoen mense is wat sokker speel. Saam met 5 miljoen skeidsregters, is dit ongeveer 4% van die wêreld se bevolking!
Pluimbal
Ongeveer 220 miljoen mense in die wêreld speel pluimbal. Die sportsoort is veral in Asië baie gewild en van die beste pluimbalspelers kom uit hierdie kontinent.
Veldhokkie
Veldhokkie het ander reëls as yshokkie. Dit word in meer as 100 lande gespeel.
Vlugbal
Vlugbal het in Amerika ontstaan en ongeveer 998 miljoen mense neem daaraan deel. Mens kry binnenshuise en buitenshuise vlugbal.
Basketbal
Die beheerliggaam van basketbal reken dat ongeveer 450 miljoen mense wêreldwyd aan dié sport deelneem.
Tennis
Tennis word beskou as die gewildste individuele sport in die wêreld – ongeveer 60 miljoen mense speel tennis.
Krieket
Die meeste krieketspelers woon in lande soos Australië, Indië, Pakistan, Suid-Afrika en Engeland, maar die sport is ook besig om in baie ander lande gewild te raak. Dit word in 125 lande oor die wêreld gespeel.
Tafeltennis
Ongeveer 300 miljoen mense neem aan tafeltennis deel.
Bofbal
Hoewel bofbal aanvanklik hoofsaaklik in Amerika gewild was, word dit nou in al hoe meer ander lande gespeel. Sagtebal is die vorm van die spel wat meer deur dames gespeel word en daar word bereken dat ongeveer 65 miljoen mense aan dié twee vorme van die spel deelneem.
Gholf
Gholf word beskou as een van die mees gewilde tydverdryf in die wêreld en ongeveer 60 miljoen mense neem ten minste een keer per jaar aan gholf deel. 4
Gewilde sportsoorte in Suid-Afrika
Die gewildste sportsoorte in Suid-Afrika is nie moeilik om te raai nie – sokker, rugby en krieket. Ander sportsoorte wat ook baie gewild is, is onder meer atletiek, boks, gholf, swem, tennis, netbal en basketbal. 5
’n Paar baie eienaardige sportsoorte
Natuurlik is daar ook baie sportsoorte wat heeltemal vreemd is en waarvan die meeste mense nie eens weet nie. Kom ons kyk na ’n paar daarvan:
Allervreemdste klerestryk
Kan jy glo, daar is mense vir wie dit ’n sportsoort is om op vreemde plekke te stryk! (In Engels: Extreme ironing). Hulle neem hul strykplanke en strykysters na ’n vreemde plek en kry iemand om hulle daar af te neem terwyl hulle staan en stryk. Van die plekke waar mense al gaan stryk het, is onderwater, binne-in ’n waterval, terwyl hulle besig was met rotsklim, bo-op ’n koei of selfs vasgemaak bo-op die dak van ’n huurmotor in New York! Hierdie sportsoort is in 1997 deur Phil Shaw uitgedink.
Joggling
Hierdie sportsoort se naam is ’n kombinasie van twee Engelse woorde, naamlik “juggling” (goëlery) en “jogging” (draf). Dalk kan jy probeer om ’n slim Afrikaanse woord daarvoor te maak?
Mense wat hieraan deelneem, doen hul toertjies terwyl hulle draf. Sommige deelnemers het reeds op hierdie manier aan marathonne en sommer ook aan ultramarathons deelgeneem.
Skape tel
Natuurlik sou hierdie sportsoort in Australië ontstaan het – waar soveel mense met skape boer. Terwyl boere daar dit as deel van hul dag se werk doen, is daar mense wat ’n sport gemaak het van skape tel. Dit werk so: Ongeveer 400 skape word uit ’n hok losgelaat en 10 deelnemers moet dan die skape tel terwyl hulle verby beweeg. 6
Rendierresies
Hierdie geleentheid wat in 2008 ontstaan het, word elke jaar in Alaska gehou. Dit bestaan daaruit dat die deelnemers in ’n straat afhardloop en dan word ’n trop rendiere agter hulle losgelaat. Die rendiere hardloop dan van agter af deur die groep deelnemers. 7
Olifant-sokker
In hierdie sportsoort sit die deelnemers op olifante se rûe en stuur hulle om ’n sokkerbal met hul pote rond te skop. Die bal is groter as ’n gewone sokkerbal en die spel word in lande soos Thailand, Indië en Nepal gespeel. 8
Meeste toeskouers
Sport is natuurlik baie gewild op TV en miljoene mense is gereelde sportkykers.
Tour de France
Heel boaan die lys is die Tour de France – die fietswedren wat elke jaar in Frankryk plaasvind. Hierdie groot sportgebeurtenis het reeds in 1903 begin en daar word bereken dat daar elke jaar 3,5 miljard mense is wat op TV daarna kyk.
Wêreldbeker-sokker
Kort op die hakke van die Tour de France, volg die Wêreldbeker-sokkertoernooi met 3,3 miljard kykers. Die toernooi vind elke vierde jaar plaas en daar is 32 lande wat daaraan deelneem. In 2026 gaan hierdie getal na 48 lande uitgebrei word.
Wêreldbeker-krieket
Die Wêreldbeker-kriekettoernooi vind, soos die sokkertoernooi, elke vier jaar plaas en ongeveer 2,6 miljard mense kyk op TV daarna. Die volgende toernooi vind gedurende Oktober en November in Indië plaas.
Somer Olimpiese Spele
Die Somer Olimpiese Spele vind ook, soos die ander groot sporttoernooie, elke vier jaar plaas en word deur ongeveer 2 miljard mense op TV gekyk.
Winter Olimpiese Spele
Die Winter Olimpiese Spele is nie heeltemal so gewild soos die Somer Olimpiese Spele nie, maar word tog ook deur ongeveer 2 miljard mense gekyk. Dit vind ook elke vier jaar plaas en sluit natuurlik ski en yshokkie, wat wintersportsoorte is, in.
Die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi
Die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi word deur ongeveer 13,16 miljoen mense gekyk.
Wêreldbeker-rugby
Suid-Afrika en rugby is onafskeidbaar van mekaar. En as die Wêreldbeker-rugbytoernooi gebeeldsend word, word dit na raming deur 12,8 miljoen mense wêreldwyd gekyk.
Wimbledon-tennis
Die uiters gewilde Wimbledonse tennistoernooi wat jaarliks op Wimbledon in Suidwes-Londen gehou word, word deur 7,5 miljoen mense. 9
Lys van al die verskillende sportsoorte
Daar is mense wat baie moeite gedoen het om alle moontlike sportsoorte wat in die wêreld bestaan, op ’n lys te kry. Hulle het ’n alfabetiese lys van meer as 800 verskillende sportsoorte saamgestel. Sowat 200 daarvan is bekende sportsoorte wat deur ’n beheerliggaam beheer word. Daar is ’n afdeling vir spansport, vir ongewone sportsoorte asook vir sportsoorte wat nie meer beoefen word nie (waaraan mense nie meer deelneem nie).
Kyk gerus by hierdie skakel na die volledige lys. 10
Woordbank
beheerliggaam | Komitee of raad wat ’n skool, sportorganisasie, woonstelgebou, ens. bestuur. |
deelname | Die aantal mense wat aan iets deelneem. |
gemeenskappe | Individue wat ’n samehorige groep vorm, dit wil sê ’n groep mense wat saam hoort. |
handvaardig | Om knap (goed) te wees met jou hande. |
individuele | Enkel, afsonderlik. |
kolhou | Wanneer ’n gholfspeler die bal vanaf die bof (waar elke nuwe putjie begin) met net een hou tot binne-in die gaatjie slaan. |
kontinent | Vasteland. |
kwalifiseer | Geskik of bekwaam om iets te doen. |
leierseienskap | Bevoegdheid om die leiding te neem. |
rolmodelle | Iemand wat deur iemand anders beskou word as ’n goeie voorbeeld om na te volg. |
ultramarathons | ’n Marathon wat langer is as die standaard marathon, dit wil sê langer as 42,2 km. |
wedywering | Kompetisie. |
Lees meer
Kyk hier
Olifant-polo
Joggling, die toertjiedraf
As jy lekker wil lag, kyk na hierdie ekstreem maniere om jou klere te stryk!
Skape tel is ook ʼn sport!
Wie sê Olifante kan nie sokker speel nie?
Jukskei, ʼn eg Suid-Afrikaanse sport.