Vinnige feite

  • Die Chichester-klas van die Golden Globe Race waarheen deelnemers skuif indien hulle tydens die wedvaart een keer iewers moet vasmeer, is vernoem na Francis Chichester. Hy was die eerste persoon wat in die 1960’s rondom die wêreld gevaar het. 2
  • Kirsten Neuschäfer hou daarvan om vir ontspanning saam met haar hond langs die Wildekus te gaan kampeer. 13
  • Twee jaar voor die wedvaart, het Kirsten haar veselglasboot in Prince Edward-eiland laat herbou en verander. Sy het veral baie hulp gekry van ’n plaaslike skrynwerker en werktuigkundige – Eddie Arsenault. 5
  • Kirsten het meeste van die werk aan haar boot self gedoen. Die boot het onder meer ’n nuwe mas en nuwe dek gekry en verskeie dele van die boot is versterk om die weerstoestande tydens die vaart te kon weerstaan. 9
  • Kirsten het nie net gewen nie, maar ook hierdie rekords tydens die wedvaart verbeter: Die beste gemiddelde snelheid oor 4 uur, die beste afstand in 24 uur en die beste afstand oor 7 dae. 1
  • Abhilash Tomy (Indië) het tydens die 2018-Golden Globe Race sy rug gebreek. Hy het teruggeveg en hy was tweede in die pas afgelope GGR 2022-wedvaart. 14
  • Kirsten het in November 2023 in Spanje die Rolex-toekenning ontvang vir Wêreld Seiljagvaarder van die jaar. 16
Foto: iStock

Om op ’n seiljag reg rondom die wêreld te vaar – net jy en jou boot en die wind wat jou moet aandryf… Daar is nie baie mense wat dapper genoeg is om hiervoor kans sien nie. Tog is daar seiljagvaarders wie se droom dit is om aan so ’n wedvaart deel te neem. Een so ‘n Suid-Afrikaanse vrou, Kirsten Neuschäfer, het ook deelgeneem en sowaar die wedvaart in 2023!

’n Suid-Afrikaanse vrou maak geskiedenis

Meer as 230 dae – wat op aarde doen ’n mens wat so lank neem om te voltooi? Jy neem deel aan ’n seiljagvaart reg rondom die wêreld sonder om één keer iewers vas te meer of ooit jou voete op vaste grond te sit.

Dit is wat die Suid-Afrikaner, Kirsten Neuschäfer, op 27 April 2023 reggekry het. Daarmee het sy die eerste Suid-Afrikaner en ook die eerste vrou geword wat ’n wedvaart om die wêreld wen. Sy is 39 jaar oud.

Haar amptelike wentyd was 233 dae, 20 uur, 43 minute en 47 sekondes. Dit is minder as die werklike tyd van haar wedvaart, aangesien die organiseerders 35 uur van haar tyd afgetrek het as gevolg van die ompad (langer pad) wat sy moes vaar om ’n deelnemer van Finland te red. 1

Kirsten, afkomstig van Gqeberha in die Oos-Kaap, was die enigste vrou onder die 16 deelnemers aan die 2022-wedvaart. Toe Kirsten die eindpunt bereik het, was daar net drie deelnemers in die hoofwedloop oor – syself, Abhilash Tomy van Indië en Michael Guggenberger van Oostenryk. 2

Kirsten is sedert 2006 ’n voltydse seiljagvaarder. Haar werk het haar reeds na plekke soos Suid-Georgië, die Antarktiese skiereiland, Patagonië en die Falkland-eilande geneem. Sy het reeds bote gaan aflewer in die Karibiese eilande, Noord-Amerika, Suid-Amerika, Europa, Nieu-Seeland, Australië en Hongkong. Sy neem ook gereeld filmspanne na afgeleë bestemmings om reekse vir onder andere die British Broadcasting Corporation (BBC) of National Geographic te verfilm.

As voorbereiding vir die wedvaart, het sy met haar boot vanaf Kanada na Suid-Afrika gevaar en daarna langs die kus opgevaar na die wegspringplek in Frankryk.

Die voorbereiding van haar boot het plaasgevind op Prins Edward-eiland (Kanada), waar sy tydens die Covid 19-pandemie vasgekeer was toe sy vanaf Newfoundland op pad was na Suid-Afrika. 3

Newfoundland

Uitdagings vir deelnemers in die 2022-wedvaart

Hierdie weergawe van die Golden Globe Race waaraan ons eie Kirsten Neuschäfer deelgeneem het, is in 2018 vir die eerste keer aangebied. Die idee was dat dit aangebied word op dieselfde manier as die 1968-wedvaart.

Tydens die vaart mag die deelnemers geen moderne tegnologie gebruik het nie – dit wil sê geen GPS of selfone nie. Die deelnemers kon wel vir hul eie veiligheid ’n satellietfoon gebruik en hulle is ook deurentyd per satelliet deur die organiseerders gevolg. Om hul roete te bepaal en te sorg dat hulle in die regte rigting bly vaar, kon hulle slegs hulpmiddels gebruik wat in 1968 beskikbaar was, dit wil sê kaarte en ’n sekstant (instrument wat jou ligging bepaal), asook die son en sterre. 4

Hulle het geen satelliet-tegnologie gehad om te bepaal hoe die weer vorentoe sal lyk nie. Hulle moes dus die weer trotseer soos dit gebeur en kon byvoorbeeld nie weet wanneer daar ’n storm aan die kom is nie en dus ook nie probeer om óm die storm te seil nie. Veral in die Suidelike Oseaan waarin die deelnemers gevaar het, kan die weer baie onstuimig en gevaarlik raak. 5

Deelnemers het net die kos, water en ander voorraad wat hulle op die bote gelaai het voor hulle vertrek het, gehad. Geen hulp van buite is toegelaat nie en hulle mag glad nie hul voorraad aangevul het nie.

Sam Davies en Kirsten Neuschäfer

Daar was 16 deelnemers wat aan die 2022-wedvaart deelgeneem het en toe Kirsten op 27 April 2023 gewen het, was hul posisies soos volg:

  • Abhilash Tomy (Indië) – in die tweede posisie
  • Michael Guggenberger (Oostenryk) – in derde posisie

Hierdie twee deelnemers was steeds deel van die wedvaart, in die Chichester-klas:

  • Simon Curwen (Verenigde Koninkryk) eerste plek, reeds by die eindpunt
  • Jeremy Bagshaw (Suid-Afrika) – op pad na die eindpunt

Deelnemers wat begin het, maar nie die wedvaart kon voltooi nie:

Edward Walentynowicz (Kanada), Guy deBoer (VSA), Mark Sinclair (Australië), Pat Lawless (Ierland), Damien Guillou (Frankryk), Ertan Beskardes (Verenigde Koninkryk), Tapio Lehtinen (Finland), Arnaud Gaist (Frankryk), Elliot Smith (VSA), Guy Waites (Verenigde Koninkryk), en Ian Herbert-Jones (Verenigde Koninkryk). 6

’n Tipiese dag op Kirsten se seiljag

Kirsten se dag het gewoonlik begin met ’n koppie koffie. Daarna het sy die boot deurgekyk om seker te maak dat daar nie enige skade is nie en wanneer die son opkom, het sy die son gebruik om haar ligging te bepaal (te kyk waar sy is). Sy moes ook gereeld duik om mossels wat aan die boot vasgesit het af te haal. Daardeur kon sy haar boot se snelheid verbeter aangesien die boot stadiger vaar wanneer baie mossels daaraan vassit. Deur die loop van die dag het sy probeer om vir tye te slaap sodat sy ook snags nog kon seil. Sy het in die dag tyd gemaak om te ontspan en te lees. 1

Sy het nie minder nie as 100 boeke saam met haar op die boot gehad – in Engels, Duits, Frans en Fins. Sy het die tyd ook gebruik om haar Spaans op te knap. Sy het kennis van ’n hele paar tale en aan die einde van die vaart het sy ’n gedeelte van haar toespraak in Frans gelewer. Die musiek wat sy saamgeneem het om na te luister, was onder andere die van Queen en David Bowie, asook klassieke musiek. 7

Haar kos het bestaan uit voedsel wat ’n lang raklewe het, en vir die eerste deel van die vaart het sy ook vars kos en groente gehad. Sy het ’n tweeplaatstofie gebruik om water te kook vir die kos en ook vir koffie. Haar koffie het ongelukkig tydens die vaart opgeraak sodat sy naderhand sonder koffie was. Sy het genot geput uit eenvoudige dinge soos wanneer ’n seevoël ’n entjie op die boot saamgery het, lekkerruik lyfroom, ’n blokkie sjokolade en soms ’n drankie. 8

Soms, wanneer die see baie kalm was, het sy die stuur van die boot so gestel dat dit in ’n klein sirkel al in die rondte vaar en dan het sy rondom die boot geswem. 6

Kirsten Neuschäfer

Heldedaad tydens die wedvaart

Tydens die wedvaart moes Kirsten een van die ander deelnemers red nadat sy boot gesink het. Die deelnemer vanaf Finland, Tapio Lehtinen, se boot het gesink as gevolg van baie hoë golwe in die Indiese Oseaan, 990 km suidoos van Suid-Afrika. Kirsten was die naaste aan hom van al die deelnemers, 209 km weg. Sy het na hom begin vaar en die afstand in minder as 24 uur afgelê. Sy het hom vanaf sy reddingsboot op haar seiljag gelaai en hy het later oorgeklim op ’n handelskip wat sy roete aangepas het om hom op te laai.

Vir hierdie reddingspoging het sy die 2022 Cruising Club of America’s Rod Stephens Seamanship-trofee ontvang. 7

Omdat sy van haar eie roete moes afwyk om haar mededeelnemer te gaan red, het sy by die organiseerders bonus (ekstra) ure gekry. Dit sou haar gehelp het om steeds te wen indien daar dalk iemand was wat net voor haar die reis voltooi het. Uiteindelik het die ompad haar glad nie benadeel nie aangesien die enigste ander twee deelnemers wat nog deel van die wedvaart was, ver agter haar was. 5

Die seiljag

Die Minnehaha-seiljag waarmee Kirsten gevaar het is ’n Cape George 36-seiljag wat in 1988 bekend gestel is en in Port Townsend, Washington in die Verenigde State van Amerika (VSA) vervaardig is. Die boot is ontwerp deur ’n bekende bootbouer, Cecil Lange, en is van veselglas gemaak. 9

So lyk die tegniese beskrywing van die seiljag:
Lengte: 10,9 meter
Breedte: 3,3 meter
Waterverplasing (dit is hoe ’n boot se gewig aangedui word): 10 659 kg
Oppervlak van die seile: 72 vierkante meter 10

Die naam “Minnehaha” kom uit ’n gedig wat in 1855 geskryf is, “The Song of Hiawatha” deur Henry Wadsworth Longfellow. In die gedig is Minnehaha die geliefde van die hoofkarakter, Hiawatha. In die gedig beteken die naam “Minnehaha” naastenby iets soos “die water wat lag”. Daar is navorsers wat van mening is dat dit eintlik “waterval” beteken in die Dakota Sioux-stamme se taal. Hulle was ’n stam van die mense wat oorspronklik in Amerika gewoon het. 11

Die beginjare van die Golden Globe Race – ’n seiljagvaart om die wêreld

Die geskiedenis van die Golden Globe Race, of GGR soos dit algemeen bekend staan, het in Augustus 1966 begin toe Francis Chichester uit Engeland vertrek het om rondom die wêreld te vaar. Hy het sy vaart in 226 dae voltooi (274 in totaal omdat hy vir ’n tyd in Sydney, Australië aan wal gegaan het). Chichester het op 28 Mei 1967 weer in Brittanje aangekom en is deur koningin Elizabeth II tot ridder geslaan vir sy prestasie (toekenning wat deur die Britse koningshuis aan mense gegee word vir uitsonderlike prestasies). 10

Hierdie vaart van hom was die inspirasie (aanmoediging) vir volgende seevaarders om alleen om die wêreld te vaar sonder om iewers langs die pad aan wal te gaan of hulp te ontvang. In 1968 het nege seiljagvaarders in verskillende soorte bote dit probeer en net een het die vaart voltooi. Hy was Robin Knox-Johnston.

Hierdie eerste alleenvaart om die wêreld het nie vreeslik streng reëls gehad nie – deelnemers kon eintlik maar die reis aanpak net soos hulle goedgedink het. 2

Met latere wedvaarte sou daar baie strenger reëls wees.

Reëls

Alle seiljagvaarders word genooi om aan die wedvaart deel te neem, hulle hoef nie aansoek te doen nie. Deelnemers moet ouer as 18 wees. Deelnemers moet ook bewys kan lewer dat hulle reeds ten minste 17 600 km gevaar het, asook 4 400 km solo (alleen) en 4 400 solo in die boot waarin hulle aan die wedvaart gaan deelneem. Die aantal deelnemers word tot 25 beperk.

Deelnemers aan die 2022-wedvaart moes reeds op 14 Augustus 2022 by die wegspringplek wees. Al die nodige voorsorg is van toe af tot met die wegspring getref en daar is gesorg dat die nodige veiligheidsmaatreëls geïmplementeer is.

Die wedvaart het op 4 September begin. Indien ’n deelnemer nie binne vyf dae vertrek het nie, is hy of sy aan die wedvaart onttrek.

Deelnemers mag hul boot iewers langs die pad anker indien hulle herstelwerk aan die boot moet doen, maar hulle mag nie aan wal gaan nie en mag ook geen hulp van enigiemand ontvang nie. 12

Alle deelnemers neem in dieselfde klas deel. Indien ’n deelnemer gedwing word om een keer aan wal te gaan, skuif so ’n deelnemer oor na die Chichester-wedvaart en kry steeds erkenning vir die wedvaart indien hulle die wedvaart voor 15:00 op 15 Junie voltooi.

Indien ’n deelnemer twee keer aan wal gaan of vasmeer, word hy of sy gediskwalifiseer. 11

Roete

Die wedvaart begin en eindig by Les Sables-d’Olonne in Frankryk. Vanaf die beginpunt vaar die deelnemers oor die Atlantiese Oseaan suid, om Afrika, om Suid-Amerika om van daar weer oor die Atlantiese Oseaan noord te vaar tot by die eindpunt in Frankryk waar hulle begin het. 3

Kyk by hierdie skakel na meer inligting oor die roete asook ’n kaart van die roete: https://goldengloberace.com/the-route/ 

Kirsten, die avonturier

Sy hou juis van hierdie vaart omdat dit ’n avontuurvaart is. Sy sê, “Jou sukses hang nie af van hoe modern jou boot is of hoeveel hulpmiddels jy tot jou beskikking het nie. Hoeveel sukses jy gaan hê, is onvoorspelbaar omdat dit afhang van dinge soos die weer waaroor jy nie beheer het nie.”

Toe sy 22 was, het sy met ’n fiets deur Afrika gery – van noord na suid. Mense het haar probeer afraai en haar vertel hoe gevaarlik dit gaan wees. Sy het self op ’n stadium bang gevoel en gedink aan die Saharawoestyn en al die oerwoude waardeur sy sou moes ry. Maar sy het vir haarself gesê, “kyk deur die vrees, moenie daarop fokus en toelaat dat dit jou oorweldig nie”. Dit is soos sy steeds avonture aanpak – sy fokus op die volgende tree en nie op al die probleme tussen die begin en die einde nie. 6

Nadat sy die fietsrit voltooi en in Suid-Afrika aangekom het, het sy besluit om op ’n droom van haar kinderjare te fokus, naamlik om ’n seevaarder te word. Sy het daarna vir 15 jaar op seilbote gewerk en sedert 2006 is sy ’n professionele seiljagvaarder. 6

Haar lewe hang af van haar boot en daarom pas sy die boot goed op – en hoop dat die boot haar goed gaan oppas.

Sy het voor die Golden Globe-vaart en daarná hulde gebring aan haar ma, wat haar in alles bygestaan het om hierdie solovaart moontlik te maak. Haar ma het gehelp met die voorbereiding en haar selfs gehelp om die boot gereed te kry vir die vaart – saam het hulle geskuur, geverf en herstelwerk gedoen.

Sy is dankbaar dat sy in ’n tyd leef waarin dit vir ’n vrou moontlik is om so ’n vaart te onderneem. Sy was voor die vaart bewus daarvan dat daar soveel onsekerhede is en soveel dinge wat die vaart kon beïnvloed, maar sy het steeds geweet dat sy alles in haar vermoë gaan doen om te wen. Haar leuse is: “Wanneer jy iets regtig baie graag wil doen, is dit die moeite werd om baie hard te werk en te probeer om dit reg te kry”. 6

Sam Davies en Kirsten Neuschäfer

Inspirasie vir baie

Kirsten se prestasie het baie mense geïnspireer – in Suid-Afrika en ook in die buiteland.

Hierdie pragtige lied “On the Minnehaha” is ter ere van haar geskryf deur Lennie Galant, ’n inwoner van Prince Edward Island (Kanada), waar sy vir meer as ’n jaar voor die wedvaart gewoon het:

Hier is ’n gedig wat haar lof besing.

Minnehaha

die vaart van verskrikking
uitsluitlik vir waansinnige manne

so praat vermaarde mariniers
vertel staaltjies oor skuimende biere
in marinas en tavernes

groei baarde en woeste kuiwe
omdat barbiere en ander landrotte vêr is
en rygershande vrieskoue toue
en takelwerk van toe af tot nou
verbete kan vashou

manne wat op gladde dekplanke
snyende winde en siedende golwe
voortgejaag deur bergsware
deinings trotseer
kan hul agting vir dié vaart met moeite besweer

maar nou

juis in dié goue wedvaart
mét goud
sal die Afrika-prinses van Gqeberha
die hele spul
satanskoggelaars

Kirsten
met Minnehaha

Fanus Pienaar
(Die Woordgilde-digtersgroep, Pretoria)

Woordbank

afgeleë Ver of afgesonder.
onstuimig Wanneer daar sterk wind en storms is.
sekstant Hoekmeetinstrument om op see en in die lug te bepaal waar jy is.
solo Alleen; sonder enige hulp; vingeralleen/manalleen.
tegnologie Metodes en voorwerpe wat gebruik word om die mens te help.
tot ridder geslaan Toekenning wat deur die Britse koningshuis aan mense gegee word vir uitsonderlike prestasies.
voorsorg Stappe om moontlike latere probleme te voorkom. 15

Lees meer

Kyk hier

30,000 Miles from Home – the Kirsten Neuschäfer Story (66 000 km)

Kirsten Neuschäfer wen die Golden Globe 2022

Kirsten kom by die eindpunt aan

Volg Kirsten op Facebook

 

Gepubliseer op: 25 Mei 2023 | Bygewerk op 15 April 2024