Vinnige feite
- Frances Hayward was die eerste vrou wat die Comrades gewen het (in 1923). Sy het nieamptelik gehardloop omdat sy nie kon inskryf nie. Sy het in ’n tyd van 11 uur en 35 minute klaargemaak en het nie ’n medalje ontvang nie.
- Hardlopers wat 25 Comrades-marathons voltooi het, hardloop gratis.
- Meer as 50% van die hardlopers voltooi die wedloop in die laaste uur.
- Suid-Afrika se Bruce Fordyce, wat die bynaam die Comrades-koning gekry het, het die Comrades-marathon nege keer gewen (1981-1988 en 1990). 5
Neem jy aan atletiek deel? Het jy al een keer om ’n atletiekbaan gehardloop? Dis 400 m ver. Het jy al aan die 800 m-resies deelgeneem – twee keer om die baan? Of die 1 500 m – drie en ’n driekwart keer om die baan? Was jy moeg daarna?
Stel jou voor jy moet meer as 200 keer om die baan hardloop. En stel jou ook voor die baan is nie plat nie, dit het steil op- en afdraandes wat jy moet aanpak. Dan moet jy boonop binne ’n bepaalde tyd klaarmaak, anders is jou prestasie nie geldig nie.
Dit is wat jy moet vermag as jy aan die wêreld se taaiste ultramarathon, die Comrades, wil deelneem!
Die wêreld se taaiste ultramarathon
Die Comrades is nie sommer net ’n gewone marathon nie, dit is ’n ultramarathon.
Die woord “marathon” verwys na ’n wedloop wat oor ’n afstand van presies 42,195 kilometer afgelê word. Alle amptelike marathons moet aan hierdie vereiste voldoen. Hoekom? Die marathon wat by die heel eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 gehardloop is, is oor ’n afstand van 40 km afgelê – van die dorp Marathon in Griekeland tot in Athene. Toe die Londen-marathon vir die eerste keer in 1908 gehou is, het die organiseerders die roete só uitgelê dat die koninklike familie nie deur die hardlopers verontrief sou word nie. Die afstand van dié wedloop was uiteindelik 42,195 km, en sedertdien is dit die amptelike afstand van elke marathon. 1
’n Ultramarathon is enige wedloop wat langer is as die gewone marathonafstand. Ultramarathons verskil drasties wat afstand betref, en kan in ’n enkele dag afgelê word of oor verskeie dae strek. Ultramarathons kan op ’n pad of oor meer ruwe terrein afgelê word. Dit is gewoonlik ’n wedloop wat baie strawwe uitdagings aan deelnemers stel, en een waarvoor atlete spesiale voorbereidings moet tref. 2
Die Comrades soos ons dit vandag ken
Die Comrades-ultramarathon is die wêreld se oudste en grootste ultramarathon met ongeveer 25 000 deelnemers, en dit word elke jaar tussen Durban en Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal oor ’n afstand van ongeveer 86 km gehardloop. 3 (Dis 86 000 meter, en as jy die afstand om ’n atletiekbaan daarin deel – 400 m – kom jy by 215 uit!)
Die rigting waarin die atlete hardloop, ruil elke jaar. Omdat Durban by seespieël is en Pietermaritzburg 654 m bo seespieël in die binneland is, 4 praat mense van ’n “op-wedloop” en ’n “af-wedloop”. 3
Hoewel die wedloop tussen Durban en Pietermaritzburg plaasvind, hardloop die atlete nie al met die groot nasionale pad (die N3) nie. Die roete volg die ou pad tussen Pietermaritzburg en Durban.
Op hierdie roete is daar landmerke wat die atlete en toeskouers al teen hierdie tyd goed ken. Die bekendste is waarskynlik die stel heuwels wat as “die groot vyf” bekendstaan. Hulle is: Cowies Hill, Fields Hill, Botha’s Hill, Inchanga, en Polly Shortts. Die hoogste punt van die wedloop is 2 850 voet (sowat 870 m) bo seespieël. Hierdie stel heuwels saam met ander landmerke soos Lion Park, Umlaasweg, Camperdown, Cato Ridge, Harrison Flats, Drummond (die halfpadmerk), Hillcrest, Kloof, Pinetown, Westville, 45th Cutting en Tollgate het bekende bakens geword oor die meer as 100 jaar wat die Comrades nou al plaasvind. 5
Die wedloop was aanvanklik net oop vir Suid-Afrikaanse wit mans, maar vanaf 1962 kon buitelanders deelneem. Van 1975 kon mense van enige ras asook vroue aan die wedloop deelneem. 3
Medaljes en ander toekennings
’n Comrades-medalje het onder langafstandatlete ’n baie spesiale betekenis. Die medaljes is glad nie opvallend nie, en boonop is dit in die hardloopwêreld een van die kleinste medaljes. Dit is egter die waarde van die wedloop, die gees waarin dit plaasvind, en wat dit vir atlete beteken om hierdie moordende wedloop klaar te maak, wat hierdie medaljes so waardevol maak.
Die medaljes wat atlete vir die wedloop kan verwerf, is die volgende:
- Die Vic Clapham-medalje vir atlete wat die wedloop in onder 12 uur voltooi; ’n kopermedalje genoem na die stigter van die marathon (sien hier onder).
- Die Comrades-bronsmedalje vir atlete wat die wedloop in onder 11 uur voltooi; vir die eerste keer in 1972 bekendgestel vir hardlopers wat tussen 7:30 en onder 11 uur klaargemaak het. (Dit het verander in 2000 toe die Bill Rowan-medalje bekendgestel is en weer in 2019 toe die Robert Mtshali-medalje bekendgestel is.)
- Die Robert Mtshali-medalje, genoem na die eerste swart deelnemer (hy het nieamptelik in 1935 deelgeneem) vir atlete wat die wedloop in onder 10 uur voltooi.
- Die Bill Rowan-medalje, genoem na die eerste wenner, vir atlete wat die wedloop in onder 9 uur voltooi.
- Die Comrades-silwermedalje vir atlete wat die wedloop in onder 7 uur en 30 minute voltooi; aanvanklik die enigste medalje.
- Die Isavel Roche Kelly-medalje; silwer medalje met ’n goue rand vir vroueatlete wat buite die toptien eindig, maar steeds die wedloop in onder 7 uur voltooi; genoem na die eerste vrou wat die Comrades in onder 7 uur en 30 minute kon hardloop.
- Die Wally Hayward-medalje; ekwivalent van die Isavel Roche Kelly-medalje vir mansatlete wat die wedloop buite die toptien in onder 6 uur voltooi; genoem na die Comrades-legende wat die wedloop 5 keer gewen het, 3 keer ’n rekord opgestel het, en toe in 1989 op tagtig die oudste deelnemer ooit geword het om die wedloop te voltooi.
- Die Comrades- goue medalje; ’n egte goue medalje van ongeveer 1 ons suiwer goud vir die eerste 10 mans en die eerste 10 vroue wat klaarmaak.
- Die Comrades-medalje vir atlete wat hul eerste en tweede wedlope direk ná mekaar voltooi. 6
Die eerste twintig atlete (die eerste tien mans en die eerste tien vroue) kry elkeen ’n geldprys. Daar is ook ’n geldprys vir die eerste Suid-Afrikaanse man en Suid-Afrikaanse vrou wat klaarmaak, en die eerste man en die eerste vrou van KwaZulu-Natal kry ook ’n kontantprys. 7
Afgesien van die medaljes vir individuele wenners, kry klubs wat inskryf ook erkenning vir goeie prestasies. Daarbenewens gee die Comrades-marathon se komitee erkenning aan persone wat ’n buitengewone bydrae lewer tot die organisasie, bedryf en ondersteuning van die marathon. Die Gees van die Comrades-toekennings word gemaak aan individue en organisasies wat die marathon in die buiteland en plaaslik bemark en ondersteun, aan joernaliste wat die marathon dek, en aan persone wat die meeste geld vir liefdadigheid insamel. 8
Vir baie mense is die Comrades die wêreld se grootste ultramarathon, en een van die redes daarvoor, is sy ontstaan en die gees waarin die marathon vandag nog afgelê word.
Ontstaan van die Comrades
Die Comrades-marathon het sy ontstaan te danke aan die visie en deursettingsvermoë van een man, ’n veteraan uit die Eerste Wêreldoorlog genaamd Vic Clapham.
Hy is op 16 November 1886 in Londen gebore, maar het tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) saam met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer.
Toe die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) uitbreek, het die jong Clapham by die 8ste Suid-Afrikaanse Infanterie aangesluit en in Oos-Afrika gaan veg. Die pyn, angs, dood en ontberings van sy kamerade wat hy tydens daardie aaklige dae beleef het, het ’n blywende indruk op hom gemaak. Veral die kameraadskap tussen die manne om hierdie ontberings te oorkom, het hom diep geraak.
Toe die oorlog in 1918 tot ’n einde gekom het, het Clapham gevoel dat die manne wat in die oorlog gesneuwel het, op ’n unieke manier vereer moet word. Hy wou ’n wedloop tussen Pietermaritzburg en Durban hou en dit die Comrades-marathon noem, sodat dit ’n lewende gedenkteken sou wees vir die kamerade wat in die Eerste Wêreldoorlog soveel uitdagings moes oorkom.
Die owerhede wou aanvanklik nie toestemming vir die wedloop gee nie, maar het uiteindelik ingestem. Die eerste Comrades-marathon is op 24 Mei 1921 gehou. Dit was toe Empire Day – die dag waarop Brittanje en sy kolonies die mag van die Britse Ryk gevier het. Die wedloop het voor die Stadsaal in Pietermaritzburg begin, en 34 hardlopers het daardie dag weggespring. 9
Bill Rowan het daardie eerste geskiedkundige wedloop gewen toe hy die eindstreep voor die Durbanse stadsaal oorgesteek het. Sy tyd was 8 uur en 59 minute, tot vandag toe die stadigste wentyd. 10
Comrades-tradisies en -legendes
Die Comrades is bekend vir sy vele tradisies en legendes.
Die eerste tradisie is natuurlik die wedloop wat elke jaar in ’n ander rigting gehardloop word. Soms gebeur dit dat daar padwerke of ander logistieke uitdagings is, en dan sal daar dalk twee jaar in ’n ry ’n op- of ’n af-wedloop wees.
Tradisioneel spring die atlete voor die twee dorpe se stadsale weg. In Durban is die eindstreep deesdae in die Moses Mabhida-stadion, en in Pietermaritzburg eindig die wedloop in die Scottsville-resiesbaan. 11
Dan is daar die kleure van die bef (in Engels: bib) – die teken met die nommer wat alle deelnemers op hul hemde dra. Internasionale hardlopers kry ’n blou bef, terwyl hardlopers wat aan hul tiende Comrades deelneem, ’n geel bef kry. Hardlopers wat reeds tien Comrades-marathons afgelê het, kry ’n gesogte groen bef en hul eie wedloopnommer, wat hulle van daar af in elke Comrades-wedloop kan gebruik. 11
In 1948 het ’n nuwe tradisie ontstaan toe die beampte wat die afsitter vir die wedloop was, Max Trimborn, soos ’n haan gekraai het in plaas daarvan om ’n afsitpistool af te vuur. Die tradisie gaan vandag steeds voort. ’n Opname van Trimborn se stem word oor luidsprekers by die wegspringlyn gespeel. 5
Arthur’s Seat is bekend as ’n gunstelingrusplek vir Arthur Newton, wat die Comrades 5 keer gewen het. Arthur’s Seat is net ná Drummond, die halfpadmerk, op die Comrades-roete geleë. Die legende lui dat hardlopers wat Arthur groet of ’n blom op sy sitplek plaas, ’n suksesvolle tweede helfte sal hê. 12
Nog ’n legende oor die waarde wat atlete aan Comrades-medaljes heg, is dat die wenner van 1968 se Boston-marathon, Amby Burfoot, se vrou glo vir hom gesê het dat hy nie hulle huis gaan omskep in ’n uitstalkas vir al sy medaljes nie. Sy het gesê hy kan twee medaljes kies wat hy in die huis mag uitstal. Die eerste een wat hy gekies het, was sy Boston-marathon-wennersmedalje. Die ander was die bronsmedalje wat hy vir die Comrades-marathon gekry het. 6
Die streng afsnytyd van 12 uur is een van die opwindendste tradisies van die Comrades, maar dis ook die een wat die meeste harte breek. 11 Atlete moet die wedloop in onder 12 uur aflê om te kan sê hulle het dit voltooi. Daar is afsnypunte al langs die roete waar atlete wat nie meer ’n redelike kans het om die wedloop te voltooi nie, moet uitval. Maar elke jaar is daar steeds in die pylvak ’n paar atlete wat oor die eindstreep strompel en selfs kruip, wat die spertyd net-net haal of net-net misloop. Dit is veral in hierdie pylvak, waar atlete mekaar oor die eindstreep ondersteun, dat die gees van kameraderie en ondersteuning duidelik word.
Woordbank
afsitter | Die persoon wat die skoot afvuur wat ’n wedloop begin. |
afsitpistool | Die pistool wat die geluid van ’n geweerskoot maak waarmee ’n wedloop begin word. |
bef | ’n Lappie wat op die bors gedra word; binne die konteks van ’n wedloop, die lap of papier op die bors en/of rug met die atleet se nommer. |
daarbenewens | Afgesien daarvan. |
drasties | Baie erg. |
geëmigreer | Vanuit een land na ‘n ander verhuis. |
gesneuwel | Gesterf; word spesifiek gebruik vir soldate wat in ‘n veldslag of oorlog doodgegaan het. |
gesogte | Eienskap dat baie mense dit graag wil hê; sterk verlede deelwoord van “gesoek”. |
grondwet | Die wet wat die instelling se grondbesinsels bevat en waarop die instelling werk. |
infanterie | Voetsoldate; die soldate wat met gewere en grofgeskut toegerus is; tipies die soldate in die voorste linies wat gevolglik die grootste verliese ly. |
kamerade | Makkers; soldate wat saam veg en mekaar ondersteun, veral binne die konteks van ’n lang en uitputtende oorlog. |
kameraderie | Die gees van ondersteuning, vriendskap en onvoorwaardelike vertroue wat onder soldate bestaan. |
kolonies | Grondgebied wat deur ‘n sterker land oorgeneem en gebruik word. |
legendes | Stories wat oor die verlede vertel word; dikwels oor helde en heldinne. |
logistieke | Reëlings vir ‘n groot gebeurtenis; dikwels binne die konteks van ‘n inval gedurende ‘n oorlog, of ‘n baie groot geleentheid. |
lui | Verloop; loop. |
moordende | Baie uitputtend; gewoonlik met betrekking tot fisieke uitdagings. |
ontberings | Swaarkry, veral fisiek. |
pylvak | Laaste, reguit stuk van ‘n baan vanwaar die deelnemers die eindstreep kan sien; nie pylvlak nie. |
seespieël | Die vlak van die land waar dit in die see loop; word gebruik as ‘n vaste punt vanwaar hoër dele gemeet word. |
tradisies | Gebruike wat betekenis kry en herhaal word, veral binne ‘n bepaalde groep. |
verontrief | Ongerief veroorsaak. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Besoek die marathon se amptelike blad vir heelwat inligting en foto’s
- ’n Bladsy met al die wenners en die wentye vir elke jaar
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Die wedloop wat gaan oor die triomf van die menslike gees oor teenspoed
’n Onderhoud met die 2023-vrouewenner en rekordhouer, Gerda Steyn
’n Moeilike laaste paar treë vir Jenna Challenor wat tweede was in die 2022-wedloop
Vierde video in ’n reeks oor die Comrades, waarin die werklike gees van die Comrades uitgebeeld word
Die Springbokspeler wat die Comrades met sy rugbystewels gehardloop het
Die inspirerende verhaal van die langafstandatleet Eliud Kipchoge van Kenia wat die Comrades in minder as 2 uur gehardloop het!