Vinnige feite

  • Die Amaury-sportorganisasie wat die Dakar-tydren organiseer, is ook die organiseerders van die Tour de France-fietswedren.
  • Die Dakar-tydren het sedert 2005 ’n supermarathonskof, waar mededingers se spanne hulle nie eers kan help as die voertuie breek nie.
  • Die verste Dakar-tydren was in 1986. Dit was ongeveer 14 960 km en die skofte was uitmergelend. ’n Massiewe sandstorm het ook die Saharawoestyn getref. Dit het daartoe gelei dat Thierry Sabine, die destydse organiseerder van Dakar, in ’n helikopter verongeluk het.
  • Die 1992-Dakar-tydren het van Misrata in Libië tot in Kaapstad in Suid-Afrika geloop.
  • Die destydse Britse eerste minister Margaret Thatcher se seun, Mark, het ook aan die Dakar-tydren deelgeneem. Hy het egter die pad byster geraak en vir vier dae in die woestyn verdwaal. Hy is later lewendig gevind.
  • Toe die Dakar-tydren nog in Dakar, Senegal, geëindig het, was die eindpunt by Lac Rose. Die meer het ’n helderpienk kleur as gevolg van ’n unieke alge. Baie deelnemers het al van verligting in trane uitgebars as hulle dié meer gesien het omdat hulle dan geweet het dat die einde in sig is. Die kleur pienk word nou nog met Dakar geassosieer.
  • Jutta Kleinschmidt van Duitsland was in 1998 die eerste vrou wat ’n skof in die tydren gewen het. Sy het in 2001 ook die eerste vrou geword wat die Dakar-tydren gewen het. Dit was in ’n Mitsubishi-voertuig. 1
  • Die KTM-motorfietshandelsmerk het al 18 Dakar-titels ná mekaar gewen. 5
  • ’n Mens moet 18 jaar oud wees om aan die Dakar-tydren deel te neem.
  • ’n Suid-Afrikaner het ook al die Dakar-tydren gewen! Die renjaer Giniel de Villiers het die 2009-geleentheid gewen. De Villiers was al 14 keer in die topvyf van die kompetisie. Daar is omtrent elke jaar Suid-Afrikaanse spanne wat inskryf. 6
Foto: iStock

Probeer om die volgende prentjie in jou geestesoog te sien: Motorfietse, kwadfietse, motors, viertrekvoertuie en vragmotors ding almal met mekaar mee in ’n tydren in ’n woestyn. Dit is rowwe terrein, en hulle kan nie eers langs die pad stop nie. Hulle moet elke dag ’n uitmergelende (uitputtende) skof voltooi, en dit is só erg dat die deelnemers se liggame omtrent ’n maand vat om ná ’n tydren te herstel. Dis ook so erg dat baie van die deelnemers nie die tydren voltooi nie. Die jaarlikse Dakar-tydren is ’n droom van baie renjaers en ’n groot avontuur.

Wat is ’n tydren? Dit is ’n wedren met mededingende motors of motorfietse om ’n vasgestelde afstand of roete tussen twee plekke in die kortste tyd af te lê. In 2022 het slegs tweederdes van deelnemers die tydren voltooi, in 2019 was dit ’n bietjie meer as die helfte en in 2006 was dit twee uit vyf. In 2005 het slegs een uit elke drie deelnemers die eindpunt gehaal.

Hoe dit begin het

’n Man genaamd Thierry Sabine het met sy motorfiets aan die Abidjan-Nice-wedren deelgeneem en het in die Libiese woestyn verdwaal. Hy is darem gevind, maar was só deur die omgewing gefassineer dat hy dit met ander mense wou deel. Hy het met die idee van ’n wedren in die woestyn, wat in Europa sou begin en by Dakar in Senegal sou eindig, vorendag gekom. Hy het selfs ’n motto daarvoor uitgedink: “’n Uitdaging vir dié wat gaan en ’n droom vir dié wat agterbly”.

Die plan het gou ’n werklikheid geword, en die eerste tydren het in 1978 plaasgevind. Dit is aanvanklik Parys na Dakar genoem en was uit die staanspoor uniek omdat alle bestuurders kon deelneem, beide amateurs en professionele bestuurders.

Die eerste tydren is op 26 Desember 1978 gehou, en 182 voertuie het aan die tydren oor 10 000 kilometer deelgeneem. Dit is vir lank in dieselfde formaat gehou en het in Parys, Frankryk, begin en in Dakar, Senegal, geëindig. Daar was egter later vrese oor veiligheid in Afrika, en die tydren is van 2009 tot 2019 in Suid-Amerika aangebied. Dit vind sedert 2020 in Saoedi-Arabië plaas. 1

Die tydren

Die Dakar-tydren se afstand is vandag sowat 9 300 km. Die tydren het vyf kategorieë: motorfietse, kwadfietse, motors, ligte voertuie en vragmotors (trokke). 2 Daar is baie verskillende motorvervaardigers wie se voertuie aan die tydren deelneem. Baie voertuigvervaardigers gebruik die rowwe terrein om hul nuwe voertuie te toets en om te sien of dit sal hou, veral trokke. Die tydren is oorspronklik deur sportnutsvoertuie van Europa gedomineer, soos die Land Rover, Range Rover, Toyota Land Cruiser, Mercedes-Benz se Geländewagen en Pinzgauer. Ander vervaardigers, soos Rolls Royce, Citroën en selfs Porsche, het aangepaste padvoertuie ingeskryf. Vandag is daar voertuie van Mitsubishi (Pajero/Montero), Nissan, Hyundai en BMW. Jean-Louis Schlesser het ook spesiale voertuie (duinebesies) vir die tydren gebou en selfs daarmee gewen. Amerikaanse (Baja-)trokke is ook nou ’n gewilde gesig.

Die grootste mededingers in die motorklas is Volkswagen, Mitsubishi en Nissan, en in die motorfietsklas is dit KTM en Yamaha. Die grootste mededinging in die trokklas is DAF, Tatra, Mercedes-Benz en Kamaz.

Die tydren vind oor ’n tydperk van tien tot 15 dae plaas, en daar is elke dag ’n skof. As deelnemers nie ’n skof voltooi nie, mag hulle nie verder deelneem nie. Die tydren sluit navigasie in, wat met hulp van ’n roeteboek gedoen word. Die boek word by elke skof uitgedeel. Die voertuie het gewoonlik ’n bestuurder en ’n navigeerder. 3 Die roete bly ’n geheim totdat die boek uitgedeel word. Die volgorde waarin bestuurders met ’n skof begin, word volgens die vorige skof se tye bepaal. Bestuurders kan ook boetes kry wat hul tye kan belemmer. Omdat die roete jaarliks verskil, verskil die afstand ook. Die 2023-tydren se totale afstand was 8 549 km en het van 31 Desember 2022 tot 14 Januarie 2023 plaasgevind. Altesaam 455 voertuie het daaraan deelgeneem. 4

Woordbank

duinebesies Klein, ligte, vierwielaangedrewe voertuig, besonder geskik om oor duine te ry.
mededingende Om baie hard te probeer om die beste of meer suksesvol as ander te wees.
navigasie Die vermoë om ’n bestemming te bereik, of om koers te hou en obstruksies te vermy.
tydren ’n Wedren met mededingende motors of motorfietse om ‘n vasgestelde afstand of roete tussen twee plekke in die kortste tyd af te lê.
uitmergelende Uitputtende.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Alles wat jy moet weet

Loer hier na 2023-hoogtepunte

Hoeveel kos dit om deel te neem?

Foto: iStock
Gepubliseer op: 31 Mei 2023 | Bygewerk op 21 Februarie 2024