Vrystaat
Hoofstad: Bloemfontein
Bevolking: 2 932 441
Algemene huistale: Suid-Sotho en Afrikaans
Hierdie provinsie is voorheen die Oranje-Vrystaat genoem. In die 19de eeu was dit ʼn ruk lank, tot ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) ʼn onafhanklike staat. 1
Dorpe in die provinsie
Dorpies in die noordoostelike Vrystaat sluit in Koppies, Kroonstad, Steynsrus, Lindley, Heilbron, Petrus Steyn, Reitz, Frankfort, Vrede, Memel, Villiers, Warden, Paul Roux, Bethlehem en Harrismith. In die Oos-Vrystaat vind jy Clarens, Fouriesburg, Ficksburg, Clocolan, Ladybrand, Thaba Nchu, Hobhouse, Wepener, Zastron en Rouxville. Die Wes-Vrystaat bestaan uit Sasolburg, Parys, Vredefort, Viljoenskroon, Bothaville, Balkfontein, Hoopstad, Hertzogville, Wesselsbron, Bultfontein, Soutpan, Dealesville, Boshof, Verkeerdevlei, Winburg, Ventersburg, Brandfort, Theunissen, Reddersburg, Smithfield, Bethulie, Trompsburg, Philippolis, Sannaspos, Petrusburg, Koffiefontein, Jacobsdal, Fauresmith, Luckhoff en Bloemfontein. 1
Verskillende streke
Die Riemland
Groot gedeeltes van die noordoostelike Vrystaat, hoofsaaklik die deel wat deur die distrikte Bethlehem, Reitz, Lindley, Heilbron en Kroonstad begrens word, staan bekend as die Riemland.
Die naam het ontstaan toe daar jag gemaak is op groot troppe wild wat tot die einde van die 19de eeu die gebied hulle habitat (tuiste) gemaak het. Hierdie diere is nie net vir hulle vleis gejag nie, maar ook vir hulle velle, wat onder meer as ruilmiddel gebruik is. Die velle is gebrei, in rieme gesny en by rondreisende smouse of togryers vir klere of basiese voedsel verhandel (verruil). Hierdie handel het die Riemland se wildtroppe stelselmatig uitgeroei, veral springbokke, blesbokke en wildebeeste. Volgens een verslag is sowat 152 000 blesbok- en wildebeesvelle in 1866 deur een maatskappy in Kroonstad uitgevoer.
Vandag is die vlaktes van die Riemland ʼn belangrike deel van Suid-Afrika se spens. In goeie seisoene lewer dit groot hoeveelhede mielies, koring, sonneblomsaad en sorghum. Ewe belangrik is suiwel-, bees- en skaapboerdery en die produksie van ʼn verskeidenheid sagtevrugte en groente. Dorpe in die suidooste, soos Bethlehem en Harrismith, is bekend vir hulle sandsteengeboue. 2
Die Oos-Vrystaat
Die Oos-Vrystaatse bergroete loop al langs die westelike grens met Lesotho, van Phuthaditjhaba en Clarens in die noorde tot by Zastron en Rouxville in die suide.Vir die grootste deel van die pad is die grens die Caledonrivier. Hierdie rivier is ‘n belangrike sytak van die Oranjerivier wat ontspring in die Maluti-berge, ʼn westelike uitloper van die Drakensberg in Noord-Lesotho. By Wepener koers die Caledon suidwes om feitlik by die Gariepdam by die Oranje aan te sluit.
Hierdie belangrike noord-suid-roete loop langs die oostelike rand van die uitgestrekte Vrystaatse vlaktes. Vir byna die hele pad kan mens die massiewe kranse en toringspitse van die Lesotho Drakensberge teen die verre oostelike horison sien.
Die dorpe langs hierdie roete het baie swaar gekry in die tweede helfte van die 19de eeu. In hierdie tyd was die Voortrekkers, wat noordwaarts van die Oranjerivier af begin intrek het, in verskeie skermutselings en veldslae met die Basoeto’s van die ‘bergkoninkryk’ betrokke om grondgeskille te besleg.
ʼn Opmerklike eienskap van die meeste van hierdie dorpe is die vele geboue, privaat sowel as openbare geboue, wat gebou is van die sandsteen wat oor die jare in groot hoeveelhede uit die heuwels gekap is. 2
Die Vrystaatse Goudveld
Vir byna ʼn halwe eeu na die ontdekking van die hoofgoudrif aan die Witwatersrand, is goud slegs in hierdie gebied gemyn. Geoloë het geweet dat hierdie rif verder oos en wes strek, maar dat dit taamlik diep is. Die tegnologie wat vir die diep myne nodig was, was nog ver in die toekoms. Intussen was daar genoeg goud vir almal in die gebied wat nou Gauteng genoem word. In die vroeë 1930’s is begin om nuwe geofisiese prospekteermetodes begin gebruik. Daardeur is nuwe, diep riwwe in die Wes-Transvaal, in die rigting van Potchefstroom en Klerksdorp, blootgelê. Vandag is van die wêreld se diepste goudmyne in dié streek.
Prospekteerders het reeds in die laat 19de eeu in die Noord-Vrystaat rondgeswerf en die Vredefort myn begin bewerk. Dit het tot vroeg in die 20ste eeu voortgeduur. Dit sou egter nog dekades duur voordat groot hoeveelhede goud onder die windverwaaide en verlate vlaktes van die Noordwes-Vrystaat ontdek en ontgin word.
Die verhaal van die Vrystaatse goudveld wat in opbrengs en reserwes vandag dié van die Wes-Rand ewenaar (dieselfde is), het in die 1890’s begin by die handelaar Gustav Furst, wat ʼn bouvallige winkeltjie gehad het op die plaas Zoeten-Inval, 13 km noord van die huidige Odendaalsrus. Furst het ʼn kwarts-aar (goudaar) aan prospekteerder Archibald Megson gewys. Megson het saam met sy vennote Donaldson en Hinds ʼn ingangstonnel in die rif gesink en goud gevind, maar nie genoeg om plaaslike finansiers of mynboumaatskappye daarin te laat belangstel nie. Donaldson en Hinds is toe met die monsters na Londen gestuur maar hulle, en die monsters, het op 16 Junie 1896 naby Quessant saam met die boot Drummond Castle vergaan. Dit was die laaste strooi vir die ander vennote in die sindikaat en die rif en sy ingangstonnel is prysgegee. Furst het van die toneel verdwyn.
Die hoop het weer in die vroeë 1930’s opgevlam toe Megson daarin geslaag het om Allan Roberts, ʼn amateurgeoloog en tandtegnikus, in sy rif en ingangstonnel te laat belangstel. ʼn Maatskappy, Wit Extensions, is gestig en Megson is vir £400 uitgekoop. In 1933 is ʼn gat van 1 263 m diep naby die ingangstonnel op die plaas Aandenk geboor. Dit het niks opgelewer nie. Die maatskappy het tot niet gegaan en is deur ander opgevolg. Een daarvan was Western Holdings asook die maatskappy wat behoort het aan Hans Merensky, vermaarde Duitse geoloog wat Suid-Afrika se platinariwwe ontdek het. Hierdie maatskappye het ʼn paar opsies uitgeneem en halfhartig ʼn paar gate in die gebied geboor, met geen beduidende resultate nie.
Die uiteindelike ontdekking van die onpeilbare onderaardse rykdom in die Noordwes-Vrystaat kan grootliks toegeskryf word aan ʼn Hongaarse geoloog, Oscar Weiss, wat in diens van Western Holdings was. Met behulp van nuwe tegnologie en instrumente wat hy self ontwerp het, het hy ʼn plek op die plaas St Helena, naby die huidige Welkom, aangedui. Op ʼn goue herfsdag in April 1938 is die rif op ʼn diepte van 737 m raakgeboor. Daar was meer as ʼn halwe ons goud vir elke ton erts wat verwerk is.
Net na die Tweede Wêreldoorlog het mynmaatskappye die gebied rondom Odendaalsrus met moderne masjiene en mense oorstroom. Binne ʼn jaar is meer as 500 gate geboor en die resultate was oor die algemeen goed genoeg om verdere ondersoek te regverdig.
Groot goudneerslae is uiteindelik op 16 April 1946 op die plaas met die gepaste naam Geduld, 4 km vanaf Odendaalsrus, gevind. Die gat was minder as 1 200 m diep en daar was 62 ons goud vir elke ton erts.
Allan Roberts se gat wat hy in 1933 geboor het, was ʼn bietjie dieper as dié by Geduld. Een van die nuwe maatskappye het dit opgespoor, skoongemaak en 122 m dieper geboor – om dieselfde ryk rif te tref!
Binne ʼn paar jaar het die Vrystaatse goudveld sowat die helfte van Suid-Afrika se totale goud en amper ʼn vyfde van die wêreld se produksie gelewer. 2
Die Wes-Vrystaat
Verskeie van die noordelike distrikte lê in die hart van die land se ‘mieliedriehoek’ waar die mielies in goeie jare van horison tot horison strek. Ander belangrike gewasse is grondbone, sorghum en in ʼn mindere mate koring.
Bees- en skaapboerdery (laasgenoemde veral in die suide) is ook belangrik. In die distrikte Wesselsbron, Bultfontein en Hertzogville lê die soutpanne soos pêrels na goeie reëns. Die aarde is hier so plat dat water nie kan dreineer nie maar in elke beskikbare leegte versamel. Later verdamp die water uit hierdie vlak panne om ʼn neerslag van mineraalsoute op die vloer van die holte te laat.
Tussen Kroonstad en Bothaville het spruite soos die Doring, Otter, Middel en San uitgestrekte moerasse gevorm waar verskillende watervoëls in goeie seisoene kom wei en broei.
Die streek sluit die dorp Winburg in, die eerste dorp wat die Voortrekkers noord van die Oranjerivier gestig het en die eerste hoofstad van die republiek van die Oranje-Vrystaat. Twee dorpe, Koffiefontein en Jagersfontein, het hulle ontstaan aan die ontdekking van diamante te danke.
Die suidelike deel van hierdie streek – van Bloemfontein tot by die Oranjerivier – is grootliks ʼn grasvlakte sonder berge of valleie en is ideale skaap- en beeswêreld. In suidelike distrikte soos Luckhoff en Koffiefontein is tipiese Karoo-plantegroei stadig maar seker besig om die inheemse grasveld te verdring. 2
Verhale uit die geskiedenis
Slag van Paardeberg
Die Slag van Paardeberg het by Paardeberg, ongeveer halfpad tussen Kimberley en Petrusburg in die Vrystaat, plaasgevind. Die wen van hierdie slag was ‘n groot sukses vir die Britte en het die val van die Oranje-Vrystaat verhaas.
Na die bevryding van Kimberley deur die Britte op 15 Februarie 1900, het generaal Piet Cronje en sy 3 000 manskappe begin om oos langs die Modderrivier in die rigting van Bloemfontein terug te val. Cronje het geweet dat lord Roberts, opperbevelhebber van die Britse magte, hom wou omsingel, maar die groot aantal ossewaens met voorraad en ammunisie in sy kolonne het gekeer dat hy vinnig kon beweeg.
Op 17 Februarie is Cronje tot stilstand gedwing deur ʼn bombardement van ʼn Britse mag wat onder leiding van generaal J.D.P French uit die noorde aangeval het. Die Boere het besef dat hulle waarskynlik aan alle kante omsingel was en het begin om hulle oor ʼn afstand van 3 km aan albei oewers van die Modderrivier in te grawe. In die afwesigheid van lord Roberts het lord Kitchener ʼn frontaanval (aanval reg van voor) in plaas van ʼn artilleriebombardement beveel.
Meer as 1 200 Britse soldate het in hierdie frontaanval op 18 Februarie gesterf, meer as op enige ander dag in die oorlog. Britse versterkings is ingebring en die Boere se posisie het by die dag versleg. Verskeie pogings deur Boerekommando’s, ook dié van generaal Christiaan de Wet, om generaal Cronje te ontset, het op niks uitgeloop nie.
Lord Roberts het die volgende dag, op 19 Februarie, na die toneel teruggekeer en onmiddellik met ʼn volgehoue bombardement met 90 kanonne begin. Die dag daarna het die Boere se artillerie-ammunisie opgeraak maar hulle het nog ʼn week lank uitgehou. Op 27 Februarie, toe die Britte nie meer as 90 m van hulle posisies af was nie, het hulle die onvermydelike aanvaar en oorgegee.
Die uitstallings van die Oorlogmuseum by Paardeberg handel oor hierdie geveg. Daar is ook twee uitkykpunte, een by Oskoppies wat twee keer in die geveg verower en herower is, en op die oewers van die Modderrivier, waar generaal Cronje en sy manne hul loopgrawe gegrawe het. 3
Afrika se eerste vliegtuig is in die Vrystaat gebou
In Brandfort kan mens die huis besoek van M.J.L. Weston, die man wat die eerste vliegtuig in Afrika gebou het. Hy is op ʼn ossewa gebore, het ʼn groot deel van sy jeug in die VSA deurgebring en het teen die einde van die Anglo-Boereoorlog teruggekeer om aan die kant van die Boere te veg.
Geen twee bronne stem saam oor Weston se pionierswerk in die lugvaart nie, maar die belangrikste van die verhaal is soos volg: Hy het in 1892 op die ouderdom van 19 ʼn sweeftuig in die VSA gebou en daarmee gesweef. Terug in Suid-Afrika het hy van 1907 tot 1909 sy eerste vliegtuig op die plaas Kalkdam in die distrik Bultfontein ontwerp en gebou. Die masjien het nie genoeg krag gehad nie en hy het dit na Frankryk geneem waar hy in die werkwinkels van die broers Farman ʼn 50 perdekrag Gnome-draaimotor geïnstalleer het.
Hy het hierdie masjien vir die eerste keer op 18 Junie 1911 by Kimberley gevlieg. Tydens hierdie en daaropvolgende vlugte het hy tot agt en ʼn half minute in die lug gebly. Hy het toe op Brandfort gewoon. Die laaste weergawe van Weston se vliegtuigenjin, die oudste in die land en die enigste van sy soort, is in die Nasionale Museum in Bloemfontein. In die Eerste Wêreldoorlog het Weston as ʼn loods in die Koninklike Vlootlugmag gedien. In een stadium is hy na die Griekse vloot oorgeplaas met die ererang van skout-admiraal.
ʼn Driehoekige spens
Suid-Afrika se tradisionele ‘mieliedriehoek’, waar die meeste van die land se mielies geproduseer word, het die Noord-Vrystaat en die grootste deel van die suidelike helfte van die ou Transvaal-provinsie, dit wil sê suid van die Bosveld, ingesluit. In die onlangse jare is die vorm van die ‘driehoek’ egter effens verwring aangesien produksie in sommige gebiede in die weste gestaak is en mielies in meer gebiede elders verbou is – veral in die noorde van KwaZulu-Natal.
In byna die helfte van die land se bewerkbare grond word jaarliks mielies geplant. Die totale jaarlikse oes wissel van 4 tot 10 ton, na gelang van die reënval. Die opbrengs per hektaar wissel ook van minder as 1 ton vir bestaansboere tot meer as 10 ton op hoogs gemeganiseerde kommersiële plase in ʼn goeie seisoen.
Mielies, die belangrikste stapelvoedsel in Suid-Afrika en in die grootste deel van sub-Sahara-Afrika, is nie inheems aan Afrika nie. Portugese ontdekkingsreisigers het die plant in die 16de eeu in Wes-Afrika bekend gestel en teen die tyd dat die wit setlaars aangekom het, het mielies reeds sorghum of manna, die oorspronklike stapelvoedsel van die inheemse stamme van Suider-Afrika, grootliks vervang.
Mielies is een van die veelsydigste gewasse. Dit word in baie vorms deur mense verbruik, en dien as basis vir die meeste veevoere. Dit word ook by die vervaardiging van stysel en eetbare olie gebruik 4.
Die lewegewende water van die Oranjerivierprojek
Die Oranjerivierprojek (ORP) is in die 1960’s beplan om die water van die Oranjerivier beter te gebruik. Tot op daardie stadium het dit grootliks onbenut na die Atlantiese Oseaan gevloei (behalwe die water wat vir intensiewe besproeiingsboerdery in die omgewing van Upington gebruik is).
Die doel van die ORP was:
- om beheer oor die vloei van die hele rivier (2 340 km) uit te oefen;
- om 174 000 ha meer in die Oranjeriviervallei te besproei;
- om water oor te plaas wat 76 000 ha in die Groot Vis- en Sondagsriviervallei in die Suidoos-Kaap kon besproei;
- om bykomende water aan Bloemfontein en Port Elizabeth (vandag Gqeberha) te voorsien;
- en om hidroëlektriese krag op te wek.
Die belangrikste dele van die ORP is die Gariep- en Vanderkloofdamme, die Oranje-Vis-tonnel en die Vanderkloofkanale.
Gariepdam, die land se grootste dam, is in 1972 in Ruigtevallei, 8 km stroomop van waar die N1 die rivier kruis, voltooi. Die Vanderkloofdam naby Petrusville, 130 km stroomaf van die Gariep, is in 1977 voltooi om water na die Vanderkloofkanale uit te keer. Die Vanderkloofkanale onderkant die dam is ontwerp om 174 000 ha grond aan albei oewers te besproei, maar later is vasgestel dat dit meer ekonomies sou wees om water direk uit die rivier te pomp om grond langs die suidoewer te besproei.
Die Oranje-Vis-tonnel wat met ‘n lengte van 82,5 km die tweede langste watertoevoertonnel in die wêreld is, is in November 1975 in gebruik geneem. Hierdie tonnel lewer water teen ʼn tempo van 57 m3 (kubieke meter) per sekonde van die Oviston-inlaat in die Gariepdam tot by Teebusspruit, 20 km suidwes van Steynsburg. Van daar vloei dit in die Groot Brakrivier na die valleie van die Groot Vis- en Sondagsrivier.
Woordbank
verwring | Skeef getrek. |
stapelvoedsel | Die vernaamste voeding. |
hektaar | Een hektaar (ha) is gelykstaande aan 10 000 vierkante meter. |
gewasse | Bepaalde soort plant, veral in die landbou, soos mielies en koring. |
bombardement | Aanhoudende aanval met bomme en kanonne op ʼn plek. |
loopgrawe | ’n Lang, smal sloot wat in die grond gegrawe word. Dit word veral in ’n oorlog gedoen sodat soldate daarin kan wegkruip en ook van daar af op die vyand kan skiet. |
artillerie | Die groot geskut (kanonne, ens.) van ’n leër. |
geofisiese prospekteermetodes | Metodes om te myn of grondstowwe uit die aarde te haal. |
monsters | Proef, proefstuk, voorbeeld, eksemplaar. |
Kyk hier
- Hier kan jy meer lees oor die Golden Gate Nasionale Park en ook na foto’s kyk
- Lees hier meer oor die Vrouemonument
Oos-Vrystaat se natuur, mooi plekke en dinge om te doen