Die Zoeloe-koninkryk
Voordat Suid-Afrika, soos ons dit vandag ken, in 1994 ’n demokrasie geword het, het ons land met sy nege provinsies en verskillende bevolkingsgroepe, heeltemal anders gelyk. Maar nog verder terug, voordat Suid-Afrika ’n onafhanklik Republiek in 1961 geword het en nie meer onder Britse bewind gestaan het nie, het daar selfs konings en koninkryke bestaan!
Die Zoeloe-koninkryk het sy ontstaan gehad aan die begin van die 19de eeu en het onder koning Shaka die magtigste staat in die huidige KwaZulu-Natal geword. Die Zoeloe-volk het vir groot dele van die 19de eeu die geskiedenis van dié streek oorheers. Die Zoeloe-koninkryk se mag is in 1879 deur die Britte verbreek, en teen 1881 was hulle gebied onder Britse beheer.
Die opkoms van die Zoeloes
Teen die einde van die 18de eeu het die mag van ’n paar hoofmanskappe in die gebied waar KwaZulu-Natal vandag is, geleidelik groter en sterker geword. Deur hul militêre mag uit te brei, het hulle dit reggekry om ander groepe te onderwerp, by hulle in te lyf, of te verdryf. Twee sulke groepe was die Mthethwa onder Dingiswayo en die Ndwandwe onder Zwide. 1 Die Zoeloes onder Senzangakhona was deel van die Mthethwa-groep. Toe Senzangakhona gesterf het, het Shaka met Dingiswayo se steun die leier van die Zoeloes geword. 2
Die Zoeloes onder Shaka
Dingiswayo is in 1818 deur Zwide laat vermoor. Hierna het Shaka beheer oor die Mthethwa-stam geneem. Zwide het natuurlik nou die Zoeloes, en dus Shaka, as sy grootste vyand gesien. Shaka was bewus hiervan, en hy het die Zoeloes se militêre mag versterk en bondgenootskappe aangegaan as beskerming teen die Ndwandwe-stam. 1
Zwide het onmiddelik met aanvalle op die Zoeloes begin. In 1819 het sy magte tydens ’n strooptog diep in die Zoeloe-gebied ingedring, maar is deur Shaka se leër verdryf. Die Ndwandwe-stam het hierna vinnig verbrokkel. 1
Tussen 1819 en 1826 het Shaka ’n reeks veldtogte van stapel gestuur om homself onbetwisbaar koning van die gebied noord van die Tugela-rivier te maak. Hierin was hy uiters suksesvol, en teen die einde van sy regeringstydperk was die Zoeloes alleenheerser oor groot dele van die huidige KwaZulu-Natal. 1
Invloed van die Mfecane
Rondom hierdie tyd het dele van Suider-Afrika deur ’n periode van interne struwelinge gegaan, wat vandag as die Mfecane bekendstaan. Dit was ’n tydperk van versplintering van gemeenskappe, grootskaalse stropery en oorlog. Die Zoeloes onder Shaka het in dié tyd magtiger geword. Dit omdat baie mense wat haweloos gelaat is, hulle aan Shaka onderwerp en by die Zoeloes aangesluit het. 1
Die Amabutho
Shaka se koninkryk is deur die instelling van Amabutho (ouderdomsregimente) gekenmerk. 1 Jong mans is volgens ouderdom in groepe opgedeel, en het in militêre kampe gewoon. Hulle kon eers trou as hulle hulself as waardige krygers in ’n oorlog bewys het. Die Amabutho was dus ’n staande militêre mag wat gedoen het wat ook al Shaka hulle beveel het om te doen. 1
Die moord op Shaka
Shaka was uiters suksesvol op militêre gebied, maar hy was baie despoties en as gevolg hiervan, het hy baie vyande gemaak. Sy vyande het beweer hy maak homself skuldig aan wreedheid (gruweldade). Hy het ook sy soldate beveel om té ver en té gereeld aan te val. Die laaste veldtog wat hy van stapel gestuur het, was nie net onsuksesvol nie, maar die soldate het ook siek en honger teruggekeer. Dit het die Amabutho teen hom laat draai. 3
Die komplot om Shaka dood te maak, is tussen Shaka se persoonlike kneg, Mbopha, en Shaka se twee halfbroers, Dingaan en Mhlangana, gesmee. Hulle drie sou hom self vermoor. Dit was ’n goed beplande sluipmoord. Die Amabutho was in daardie stadium weg, en daar was niemand om Shaka te beskerm nie.
Shaka is in September 1828 by sy Dukuza-tuiste vermoor. 1
Die Zoeloes onder Dingaan
Ná ’n kort magstryd het Dingaan die alleenheerser van die Zoeloes geword. Hy was ook ’n streng leier. Sy onderdane wat nie onderhorig wou bly nie is wreed behandel. Opstandige hoofmanne is vervang en hy het maklik hul vee gevat en hul gemeenskappe ontwrig. Dingaan het ook, met die uitsondering van sy halfbroer Mpande, al die mans in sy nabye bloedlyn laat doodmaak. 3
Dingaan was nie so oorlogsugtig soos Shaka nie, maar tog was die Zoeloes deurentyd in oorloë gewikkel. Hulle het geveg met verskeie groepe buite hul grense, soos die Bhaca-, Mpondo-, Swazi-, Sotho-, en Mzilikazi (ook Silkaats genoem) se Ndebele-groep. 3
Kontak met wit groepe
Dingaan het kontak met drie wit groepe gehad: die Portuguese by Delagoabaai (vandag se Maputo), ’n groep Engelse handelaars by Port Natal (vandag se Durban), en later die Voortrekkers. Die eerste twee groepe het hy hanteer soos enige klomp vreemdelinge: hy het probeer handel dryf, en as hy nie gekry het wat hy wou hê nie, het hy teen hulle oorlog gemaak. So het hy byvoorbeeld in 1833 die Portuguese fort by Delagoabaai oorrompel en ’n nuwe goewerneur aangestel. 3
Die Engelse by Port Natal
Sy verhouding met die Engelse by Port Natal was meer ingewikkeld. Hulle was nader aan sy hartland, hy wou graag goeie verhoudinge met Brittanje bou, en hy wou graag by die handelaars gewere koop. Maar hulle wou nie aan hom gewere verkoop nie. Daar het ook al hoe meer van sy onderdane na Port Natal gevlug. Naderhand was daar ’n groot groep Zoeloes by Port Natal wat hom nie goedgesind was nie.
Dingaan se reaksie was uiteindelik om die Zoeloes te verbied om handel te dryf met die mense by Port Natal, en om wit mense te verbied om Zoeloeland binne te kom. Dit het natuurlik reaksie van die wit mense ontlok, en die Engelse het by die Britse regering gepleit om die gebied te annekseer. 3
Kontak met die Voortrekkers
Vanaf 1834 het die Zoeloes in kontak gekom met wit Afrikaanssprekende boere wat dit oorweeg het om die Kaapkolonie te verlaat. Teen 1836 was die Groot Trek aan die gang, en dit sou die Zoeloe-koninkryk direk raak.
In Oktober 1837 het Dingaan vir Piet Retief, die leier van die Trekkers, ontmoet en met hom ’n ooreenkoms gesluit. Hiervolgens het die Trekkers gedink dat Dingaan aan hul versoek, om hulle in die gebied suid van Zoeloeland te vestig, toegegee het. Met Retief se tweede besoek aan Dingaan in Februarie 1838 is ’n traktaat wat aan die Trekkers se versoek voldoen het, inderdaad deur Dingaan geteken.
Dingaan was egter nooit van plan om die Trekkers permanent in Natal te laat woon nie. Daarom het hy ná die ondertekening Retief en 67 van sy manne laat vermoor, en daarna aanvalle op die Trekkers uitgevoer waarin nog honderde vermoor is. 1 Die Voortrekkers se bedreiging vir die Zoeloes is egter nie daarmee uit die weg geruim nie.
In April 1838 het die Voortrekkers ’n teenaanval uitgevoer. Maar die Zoeloes het die sogenaamde Vlugkommando onder Andries Hendrik Potgieter en Piet Uys by die Slag van Italeni in ’n hinderlaag gelok en verslaan. 1 ’n Volgende Zoeloe-aanval op die Voortrekkerlaers by Veglaer is egter in Augustus 1838 afgeslaan.
Die Slag van Bloedrivier
In Desember 1838 het ’n kommando van omtrent 500 Trekkers onder leiding van Andries Pretorius opgeruk na Zoeloeland. Hulle het op 16 Desember die Zoeloes by die Ncomerivier, wat onder die Afrikaners as Bloedrivier bekendstaan, verslaan. 1
Bloedrivier was vir die Zoeloes ’n verpletterende nederlaag. Die Zoeloe-koninkryk het hierna nooit weer so magtig geword as wat dit tevore was nie.
Dingaan het probeer om die Swazi’s se gebied oor te neem sodat hy daarheen kon uitwyk, maar dit het nie gewerk nie. Sy halfbroer, Mpande, het met Pretorius saamgewerk, en in Januarie 1840 is Dingaan finaal verslaan by die Slag van Maqongqo. Dingaan het noord gevlug en is uiteindelik in opdrag van die Swazi-koning doodgemaak. 1
Die Zoeloes onder Mpande
Mpande het vir 32 jaar oor die Zoeloe-volk geregeer. Hy het van die begin af met uitdagings te kampe gehad.
Een daarvan was dat hy die leier geword het van ’n koninkryk wat onlangs verslaan is, en dus verswak was. Die nuwe grens tussen die Boere en die Zoeloes het omtrent die helfte van die Zoeloes se vroeëre gebied weggevat. Dit het saamgeloop met grootskaalse wit vestiging in die gebied. 3
Tweedens het hy aan bewind gekom met die hulp van die Trekkers. Hoewel die Zoeloes steeds onafhanklik was, moes hulle die Boere se gesag erken, en van nou af het die wit mense ’n al hoe groter rol in die regering van die Zoeloes gespeel. 1
Baie van die Zoeloes het vir Mpande as ’n swakkeling gesien, en hy was nie so gerespekteer soos Shaka of Dingaan nie. Hy het egter sy koningskap behou, en hy kon dit regkry om van diegene ontslae te raak wat hom nie wou erken nie. 3
Gedurende Mpande se bewind, moes hy diplomaties te werk gaan om die Trekkers en die Britte gelukkig te hou. 4 Hy het wel die Amabutho in stand gehou, maar hy was nie juis ’n oorlogsleier nie. Die Zoeloes was wel betrokke in oorloë, onder andere met die Pedi- en Tsonga-stamme. Maar meeste van hul ekspedisies onder Mpande was, buiten dat hulle baie vee gestroop het, nie suksesvol nie. 3
In 1856 het daar rusie gekom tussen Mpande se seuns oor wie hom sou opvolg. Cetshwayo het teen Mpande se wil die aanspraakmaker geword, maar Mpande het nog tot sy dood regeer. 4
Cetshwayo en Mpande het teen 1865 hul verhouding herstel, en Mpanda het begin om Cetshwayo toe te laat om van die regeringsfunksies oor te neem. 3 Hoewel Mpande nie soveel respek soos Shaka en Dingaan afgedwing het nie, het hy dit tog reggekry om die Zoeloe-koninkryk tot met sy dood bymekaar te hou. 3
Die Zoeloe onder Cetshwayo
Cetshwayo het onmiddelik ná Mpande se dood die krygsmag van die Zoeloes herbou, en gou oor ’n weermag van 40 000 soldate beskik wat in Amabutho-regimente ingedeel was. 4
Aan die begin van Cetshwayo se regeringstyd was daar konflik met die Transvalers oor grond. Die Zoeloes en die Britte het ’n redelike goeie verhouding gehad, en mekaar ondersteun teen die Boere. Cetshwayo het ook aanslagte op die Swazi’s aangevoor – om hul vee te stroop, maar ook omdat ’n militêre oorwinning oor die Swazi’s vir die Zoeloes ’n plek sou gee om na uit te wyk indien hulle uit Zoeloeland verdryf sou word. 3
Die ontdekking van diamante en Britse betrokkenheid
Die ontdekking van diamante het nog meer Europeërs na Suider-Afrika gebring. Wat dit ook meegebring het, was meer direkte Britse betrokkenheid. Die myne het arbeiders nodig gehad, en die Britte het besluit dat die beste manier om arbeid te verseker, was om beheer oor die hele Suid-Afrika te kry. Daarom het Brittanje in 1878 besluit Suid-Afrika moet ’n konfederasie word. 1
Die Zoeloes se militêre mag het natuurlik in die pad van Britse beheer gestaan. Die Britse houding teenoor die Zoeloes het dus verander van ’n bondgenoot teen die Voortrekkers tot ’n hindernis in hul strewe na ‘n konfederasie – iets wat uit die pad uit geruim moes word. 4
Die Anglo-Zoeloeoorlog
In 1878 het die Britte vir Cetshwayo ’n onredelike ultimatum gestuur, en toe hy dit verwerp, het hulle oorlog teen die Zoeloes verklaar. 1
Die Anglo-Zoeloeoorlog van 1879 was ’n kort en kragtige oorlog. Aan die begin van die stryd het die Zoeloes by die Slag van Isandlwana ’n roemryke oorwinning behaal. 1 Die Britte het egter hierna die Zoeloes verslaan in ’n reeks veldslae, en toe hul versterkings daar aangekom het, het hulle opgemars na Ulundi, die hoofstad van die Zoeloe. 4
Hier het hulle in Julie 1879 die Zoeloes se weerstand oorkom. Die Zoeloes is verslaan, en Cetshwayo is na die Kaap verban. 4
Die vernietiging van die Zoeloe-koninkryk
Ná die oorlog het die Britse bevelvoerder in Natal, sir Garnet Wolseley, die Zoeloe-koninkryk in 13 gebiede verdeel. In werklikheid het die Britte basies die gebied beheer. Die leiers van die distrikte was Zoeloe-hoofmanne wat deur die Britte aangestel het. Hulle was dus lojaal aan die Britte, en nie hul eie mense nie. Brittanje het ook hutbelasting ingestel om hulle kostes te dek. 4
Burgeroorlog
Volgelinge van Cetshwayo se broer, Ndabuko kaMpande, en sy volgelinge, die uSuthu, wou die ou stelsel terughê, en daarom het hulle oorlog begin voer teen die lojaliste – daardie leiers wat lojaal was teenoor Brittanje. Die bekendste lojalis was Zibhebhu.
Die oorlog was bloedig. In ’n stadium het dit soveel ontwrigting gebring dat die Britte vir Cetshwayo toegelaat het om terug te keer ten einde orde te herstel. Hulle het egter sy mag beperk en die ander leiers het hulle mag behou. 1
Die konflik het voortgeduur ten spyte van Cetshwayo se terugkeer. Cetshwayo se magte is in 1883 verslaan met verskriklike bloedvergieting. 1 Cetshwayo is laat in 1884 oorlede – ’n gebroke man. Die lojaliste het weer beheer geneem. Die uSuthu se leier was Cetshwayo se opvolger en seun, Dinuzulu. Hy was maar vyftien jaar oud. 4
Daar was gou konflik tussen Dinuzulu en Zibhebhu. Uit desperaatheid het Dinuzulu die hulp van ’n groep Boere ingeroep. Hulle het hom gehelp om Zibhebhu te verdryf in ruil vir ’n groot stuk grond aan die noordwestekant van Zoeloeland.
In hierdie stadium het die Britte weer ingegryp. Hulle het voorgestel dat die Boere hul grond kon behou, Dinuzulu in beheer kon bly van sy deel van Sentraal-Zoeloeland, en die lojaliste hul eie reservate kon kry.
Dit het egter nie die onderlinge gevegte gestop nie. Daarom het Brittanje in 1887 die wanorde as verskoning gebruik om die hele Zoeloeland te annekseer. 3
Die uSuthu het teen die anneksasie in opstand gekom, en oorlog teen Zibhebhu en sy volgelinge het opnuut uitgebreek. Die uSuthu het aan die begin Zibhebhu se magte verjaag. Maar ná versterkings aangekom het, moes Dinuzulu oorgee. Dinuzulu en van sy aanhangers is na St. Helena, ’n eiland in die Atlantiese Oseaan, verban. 1
Dinuzulu is in 1894 toegelaat om terug te keer, solank hy belowe het om as gewone hoofman, en nie as ’n koning nie, op te tree.
In 1897 is die hele Zoeloeland amptelik by Natal ingelyf en het dus ’n Britse kolonie geword. Daar was steeds Zoeloe-hoofmanne, maar hulle het beperkte mag gehad. Hulle moes lojaliteit aan Brittanje erken, en ’n Britse goewerneur as hulle opperhoof. Die einde van Dinuzulu as leier van die lojale Zoeloes en die inlywing by Natal was die einde van die tydperk van ’n onafhanklike Zoeloe-koninkryk. 4
Woordbank
aanspraakmaker | Iemand wat ’n reg op reg op iets het. |
opgestook | Opsweep, aanhits, opwek, uitlok; aanmoedig, aanspoor, aanvuur. |
annekseer | Om besit van ʼn gebied te neem. |
bewind | Heers, heerskappy voer, bevel voer; regeer. |
bloedlyn | Afstammingslyn; bloedfamilie. |
bondgenootskappe | Vereniging of verbond tussen mense/volke. |
demokrasie | ‘n Land is ‘n demokrasie as sy hele bevolking die reg het om te stem. |
despoties | ’n Heerser met absolute mag. |
ekspedisies | Ondersoekingstog; veldtog, krygstog. |
getruuk | Foefie, slimmigheid of streek. |
hartland | Tuisland; geboorteland, land van herkoms. |
haweloos | Sonder besittings. |
hinderlaag | Verborge opstelling van troepe om die vyand onverhoeds te oorval. |
hindernis | Belemmering, struikelblok; ergernis, steurnis, irritasie, frustrasie. |
hutbelasting | Elke huishouding moes ‘n verpligte belasting aan die staat maak om uitgawes te dek. |
ingewikkeld | Moeilik verstaanbaar/om te begryp. |
in te lyf | Lid maak van iets/groep. |
komplot | Geheime plan met ‘n slegte doel. |
konfederasie | Verbond tussen state. |
konflik | Stryd, botsing, onenigheid, getwis, geskil, stryery, botsende standpunte, meningsverskille. |
onbetwisbaar | Onaanvegbaar, ongetwyfeld; beslis waar. |
oorlogsugtig | Begerig om oorlog te voer. |
oorrompel | Verrassend aanval en oorwin. |
onderhorig | Onderdanig, ondergeskik, dienswillig. |
opstandige | Geneig tot verset; oproerig/opstandig. |
sluipmoord | Moord wat in die geheim beplan en uitgevoer word. |
stropery | Iets wat nie joune is nie, vat. |
traktaat | Verdrag, ooreenkoms. |
ultimatum | Voorwaardes stel, en indien dit verwerp word sal dit tot oorlogsverklaring lei. |
te kampe gehad | Met iets te doen hê, gewoonlik ’n probleem. |
van stapel gestuur | Begin; aan die gang sit. |
veldslae | Geveg tussen vyandelike magte in die veld. |
verpletterende | Vernietigend. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Die Opkoms van die Zoeloe-ryk
- Shaka kaSenzangakhona, die stigter van die Zoeloe-koninkryk
- Die Zoeloe
- Zoeloe-koninkryk
- Zoeloeland
Kyk dié videos om meer te wete te kom
Shaka Zulu, stigter van die Zoeloe-koninkryk