Die Groot Depressie

Baie mense het tydens die Covid-19-pandemie hul werk verloor. Dit was dalk die eerste keer wat jy gehoor het van baie so mense wat op een slag hul werk verloor het, asook baie ondernemings wat swaargekry het. En jy het na alle waarskynlikheid ook gehoor hoe hierdie pandemie met al sy inperkings talle mense depressief gemaak het.

Daar was soortgelyke omstandighede in die jare dertig. Baie mense het toe ook hul werk verloor en swaargekry. Dit was ’n tyd van erge armoede en ons verwys daarna as die Groot Depressie. Die Groot Depressie was, in ’n neutedop, die ernstige ekonomiese probleme wat gevolg het op die ineenstorting in 1929 van die Wall Street-aandelebeurs in die Verenigde State van Amerika (VSA). In die vroeë 1930’s het talle banke en ondernemings ten gronde gegaan en miljoene mense in die VSA en Europa het hul werk verloor. 1

Dit was die ergste ekonomiese insinking in die geskiedenis van die geïndustrialiseerde wêreld en het van 1929 tot 1939 geduur – ‘n hele dekade! 2

’n Ekonomiese insinking is wanneer dit baie sleg met die ekonomie gaan. Daar is swak verkope, lae pryse, werkloosheid en ‘n tekort aan geld (geldskaarste).

Hoe het dit begin?

In die jare twintig het baie mense hul geld in aandele belê. 3 Aandele is die gelyke dele waarin die waarde van ’n maatskappy verdeel is en wat gekoop kan word as jy ’n deel van die maatskappy wil besit. 4

Die Amerikaanse ekonomie het toe vinnig gegroei en die land se welvaart het tussen 1920 en 1929 verdubbel. Dit was dus ’n tyd van groot voorspoed. 2

Almal wat kon, het geld in aandele belê en die aandelebeurs het blitsvinnig gegroei en talle mense het sommer al hul spaargeld gebruik om mee te spekuleer (koop en verkoop met die oog op wins).

In 1929 het produksie begin afneem en werkloosheid het begin styg. Dit het veroorsaak dat die aandelepryse baie hoër as hul eintlike waarde was. Lone se bedrae het al hoe minder begin word en mense het meer geld begin skuld. Die landbousektor het ook weens ’n droogte en swak oespryse gesukkel en banke het toe reeds probleme gehad met mense wat nie hul lenings kon betaal nie.

Die Amerikaanse ekonomie het ’n resessie in die somer van 1929 binnegegaan. ’n Resessie is ’n tydperk van verminderde ekonomiese bedrywighede, gekenmerk deur ’n afname in produksie, winste, werkgeleenthede en verkope waar daar nie ekonomiese groei plaasvind nie. 5

Verbruikers het minder geld begin bestee en goedere het op die winkelrakke begin bly. Dit het weer fabrieke se vervaardiging beïnvloed. Desondanks het aandelepryse steeds bly klim en teen die tyd dat herfs aangebreek het, was dit só hoog dat dit net glad nie toekomstige verdienste kon regverdig nie. 2

In September 1929 het aandelepryse begin val en in Oktober was die skrif aan die muur.

Senuweeagtige beleggers het oorgewaardeerde aandele begin verkoop en op 24 Oktober 1929 het die aandelemark ineengestort. ’n Rekordgetal van 12,9 miljoen aandele is daardie dag verhandel en dit het as Swart Donderdag bekendgestaan. Maar nog was dit nie die einde nie, want vyf dae later is nóg 16 miljoen aandele verhandel toe verdere paniek Wall Street getref het. Die dag van 29 Oktober 1929 het toe Swart Dinsdag geword. 2

Miljoene aandele was waardeloos en baie mense het al hul geld verloor. Daar was ook mense wat aandele op skuld gekoop het en dus het hulle ook alles verloor. 2

Die Amerikaanse banke het swaar getrek, want mense kon nie hul verbandlenings en ander paaiemente (skuld) betaal nie.

Baie mense het ook nog die geld wat hulle in banke gehou het, onttrek en dit het beteken dat die banke bankrot verklaar moes word. As ’n mens bankrot speel, beteken dit dat jy geen geld meer het om jou skuld te betaal nie. Die mense wie se geld toe nog in die banke was, het ook al hul geld verloor.

Verder het fabrieke en ondernemings gesluit, want daar was nie meer mense met geld om goedere te koop nie. 3

Teen 1933 was die Groot Depressie op sy ergste en ongeveer 15 miljoen Amerikaners was werkloos en nagenoeg die helfte van die land se banke is bankrot verklaar. Duisende banke moes hul deure sluit. 2

Selfs die mense wat hul werk behou het, het gesukkel, want hulle het net die helfte van die salaris wat hulle voor die krisis gekry het, ontvang.

Die erge droogte in Noord-Amerika het veroorsaak dat daar geen opbrengs (oeste) vir boere was nie en ’n verdere krisis het gevolg. Die droogte het tot erge winde en stofstorms van Texas tot Nebraska gelei waarin mense en diere dood is en oeste vernietig is. Die Amerikaners het die voorval die Dust Bowl genoem en dit het veroorsaak dat min of meer 200 000 mense na die stede getrek het. Ongelukkig was daar geen werk in die stede beskikbaar nie en dit het die armoedeprobleem net vererger.

Hongersnood en haweloses was aan die orde van die dag en sopkombuise was ’n algemene gesig. Baie mense het onder die broodlyn geleef … 2

’n Nuwe bedeling in die VSA

Die Amerikaanse president wat tydens die krisis aan bewind was, was Herbert Hoover, ’n lid van die Republikeinse Party. Hy het bly hoop dat die krisis sou verbygaan, maar dinge het nie beter gegaan nie.

Hoover was van mening dat regerings nie in die ekonomie moes inmeng nie en dat hulle ook nie vir burgers se welsyn verantwoordelik was nie. Daar was dus geen hulp aan burgers soos werkloosheidsversekering of maatskaplike hulp nie. 2

Teen 1932 het die Amerikaners na die stembusse gegaan en met ’n oorweldigende meerderheid vir Franklin D. Roosevelt van die Demokratiese Party gestem. 2

Roosevelt het tydens die krisis deurentyd kalm gebly en dadelik begin om ’n plan van stapel te stuur. Die plan genaamd The New Deal het ten doel gehad om die ekonomie te stimuleer, werkloosheid te verminder en Amerikaanse burgers te help. Hy het geglo dat die regering ’n plig het om in die ekonomie in te gryp om sy mense te beskerm. 2

Hy het die banke vir vier dae gesluit sodat die Amerikaanse Kongres nuwe bankwetgewing kon aanvaar. Hy het ook begin om direk met die publiek via radiouitsendings te kommunikeer. Hierdie sogenaamde “fireside chats” het mense weer hoopvol vir die toekoms gemaak. Tydens sy eerste 100 dae as president het Roosevelt verskeie wette deurgevoer om die produksie van nywerhede en landbou te stabiliseer. Sodoende kon werk geskep en die ekonomie herstel word.

Hy het ook begin om veranderings aan die VSA se finansiële stelsel in werking te stel. 2

Daar word in die algemeen geglo dat die Amerikaanse Federale Reserweraad (in kort genoem die “Fed”) tot die krisis bygedra het omdat hulle nie die korrekte maatreëls geneem het nie. Teen die tyd dat die Fed begin ingryp het, was dit te laat. In die jare wat sou volg, is die Fed egter hervorm tot ’n moderne sentrale bank sodat dieselfde foute nie in die toekoms herhaal sou word nie. 6

Daar is ook ’n korporasie gestig om mense, wat hul geld in banke hou, se rekeninge te beskerm en daar is ook ’n kommissie aangestel om die aandelemark te reguleer en seker te maak dat niemand die stelsel misbruik nie. 2

Die Tennessee-vallei het geweldige probleme ondervind en daar is ’n owerheid gestig om damme en hidro-elektriese projekte te bou om vloede te beheer en ook vir kragopwekking. Daar is ook met ’n werkskeppingsprogram begin.

In 1935 is wetgewing goedgekeur wat vir die eerste keer voorsiening gemaak het om werkloses, mense met gestremdhede en ouer mense te help. 2

Die einde van die insinking

Die ekonomie het in die lente van 1933 herstel begin toon en weer begin groei. Daar was egter weer ’n resessie in 1937, maar daarna het dinge beter begin gaan. 2

Die Tweede Wêreldoorlog het begin, fabrieke het baie werk gekry en dit het ook die begin van die einde van die Groot Depressie ingelui. Fabrieke moes wapens, voertuie en ander masjinerie vir die oorlog vervaardig en kon baie mense in diens neem. Miljoene mense het ook by die weermag aangesluit en die werkloosheidsyfers het aansienlik gedaal.

Ongelukkig was die lewenstandaard steeds swak, want die oorlog het veroorsaak dat daar ’n tekort aan voedsel was en belasting moes boonop verhoog word om die hoë koste van die oorlog te dek.

Die konflik het egter daartoe bygedra dat die ekonomie kon herstel en as gevolg van die oorlog het internasionale handel weer heropen. Nadat die oorlog beëindig is, het private beleggings begin instroom en dit het in die eerste jaar ná die oorlog verdriedubbel. 5

Bogenoemde is interessant omdat die VSA die enigste Westerse land was wat nie regtig oorlog op eie bodem gevoer het nie. Dié land se infrastruktuur en fabrieke was dus nog werkend en sodoende kon die VSA in die behoeftes van ander Westerse lande voorsien. Dit was dus baie positief vir Amerika se ekonomie.

Ander dele van die wêreld

Omdat die VSA so ’n groot rolspeler in die wêreld is, is daar ’n sêding dat as Amerika nies, die res van die wêreld verkoue kry – en dit was beslis die geval met die Groot Depressie!

Die VSA kon nie meer geld aan ander lande leen nie en kon ook nie meer soos voorheen handeldryf nie. Lande soos Brittanje, Duitsland en ander het gesukkel as gevolg van die verlies aan Amerikaanse handel en lone. 3

Lande het boonop hul eie ondernemings probeer beskerm deur swaar heffings (belasting) te plaas op goedere van ander lande. Dit het ’n skerp afname in wêreldhandel beteken.

Die feit dat daar destyds ’n goudstandaard was, het ook veroorsaak dat die ekonomiese probleme na ander lande oorgespoel het. Dit werk soos volg: ’n land se geldeenheid is ondersteun deur die hoeveelheid goud in sy besit. Dit is ook een rede waarom die Groot Depressie begin het. Ná die insinking van die aandelebeurs het beleggers hulle na die geldmarkte gewend, juis omdat die dollar deur goud gerugsteun was. Dit het weer ’n styging in die dollar se waarde veroorsaak. Rentekoerse is verhoog en meer besighede het bankrot gespeel. Mense het egter hul geld begin onttrek en “onder hul matrasse” gebêre. Dit het veroorsaak dat daar nie genoeg geld in omloop was nie, wat die situasie verder bemoeilik het. 7

Wat van Suid-Afrika?

Nes ander lande, is Suid-Afrika ook deur die Groot Depressie geraak. Ons land se uitvoer was in daardie stadium hoofsaaklik landbouprodukte en minerale. Met wêreldhandel wat tot stilstand geknars het, het die vraag na hierdie produkte aansienlik gedaal. Dit was ook nie net die Groot Depressie wat ons landbousektor benadeel het nie; in Suid-Afrika was daar ook ’n knellende droogte. Baie boere kon nie hul plase se verbandpaaiemente betaal nie en kon nie meer oeste lewer nie. Hoewel die myne ook swakker gedoen het, was dit juis húlle wat die land se ekonomie van ’n totale ineenstorting gered het. Internasionale beleggers het goud gekoop en die goudprys het aansienlik gestyg. 8

Aangesien Suid-Afrika se geldeenheid ook aan goud gekoppel was (die goudstandaard), het dit die land net aanvanklik bevoordeel. Nadat Brittanje van die goudstandaard onttrek het, het hul geldeenheid verbeter en só verbeter dat baie Suid-Afrikaners in Brittanje belê het en Britse goedere begin koop het. Dit het egter tot ’n groter krisis gelei en plaaslike fabrieke het swaargekry.

Baie mense het ook van die plase na die stede getrek waar daar reeds te min werkgeleenthede was. Armoede was aan die orde van die dag. Teen 23 Desember 1932 was die Suid-Afrikaanse ekonomie in ’n krisis, maar die regering het besluit om van die goudstandaard te onttrek en dit het die ekonomie gered.

Woordbank

aandele Een van die gelyke dele waarin die waarde van ’n maatskappy verdeel is.
aan die orde van die dag Iets is ’n algemene verskynsel.
aansienlik Heelwat, in ’n groot mate, opmerklik, baie.
aanvanklik In die begin.
bankrot Om nie geld te hê om jou skuld te betaal nie.
belasting ’n Gedeelte van jou maandelikse salaris wat aan die staat betaal word vir openbare dienste.
belegging Dit is enige manier waarop geld gebruik word om rente daarop te verdien of ’n wins te maak.
bevolking Die inwoners van ’n land of plek.
broodlyn Die minimum bedrag wat per maand nodig is om in iemand se voedingsbehoeftes te voorsien.
burgers Mense wat lede van ’n land is.
dekade Tydvak van 10 jaar.
depressief Mismoedig, treurig, bedruk.
desondanks Ten spyte van, ongeag; nietemin.
deurentyd Die hele tyd, gedurig.
geïndustrialiseerde Wat verwys na handel, verhandel, verkoop.
gerugsteun Gesteun, gesterk.
goedere Goed wat vervaardig word om verkoop te word.
handel Die koop en verkoop van goedere en dienste.
heffing Invordering, belasting.
het einde niet Dit is nog nie die einde nie.
hongersnood Dit is ’n toestand waartydens daar lank ’n ernstige gebrek aan kos bestaan.
ineengestort Inmekaarstort, val; byna niks meer oor nie.
in ’n neutedop Kortliks, samevattend.
lewenstandaard Die koste van dinge wat jy nodig het om van te lewe en die vlak van gemak en welvaart wat jy ervaar.
maatskaplike dienste Dienste wat met die samelewing te make het.
ondernemings Selfstandige bedryf of kompleks van bedrywe wat op wins gerig is.
oorweldigende Ontsaglik, verbasend, ontsettend; geweldig, buitengewoon, buitensporig
paaiemente Enigeen van ‘n reeks gelyke betalings wat op gereelde tye gedoen word ter vereffening van ‘n skuld.
produksie Die lewering of vervaardiging van ’n produk.
produktiwiteit Die hoeveelheid van produkte wat in ’n sekere tyd vervaardig word.
regering Die bestuur van ’n land.
resessie Dis ’n tydperk van verminderde ekonomiese bedrywighede, gekenmerk deur ’n afname in produksie, winste, werkgeleenthede en verkope waar daar nie ekonomiese groei plaasvind nie.
skrif aan die muur ’n Bedreiging, waarskuwing van iets slegs wat gaan gebeur.
spekuleer As ’n mens ’n transaksie doen waarmee jy ’n groot risiko loop, maar wat kans bied op wins.
ten gronde gegaan Vernietig.
verbandlenings Lening waarvoor ‘n verband op eiendom as sekuriteit gegee word.
verkiesing ’n Geleentheid waar stemgeregtigde kiesers hul verteenwoordigers vir ’n parlement, stadsraad, munisipaliteit, ens. kies.
verbruiker Iemand wat goedere of dienste vir persoonlike gebruik koop.
vervaardig In groot hoeveelhede maak.
welvaart Voorspoed, vooruitgang.
werkloosheid Die probleem van mense wat geen werk het of kan kry nie.
werkloosheidsversekering Versekering van werkers teen die geldelike gevolge van werkloosheid.

Lees dié artikels om nog meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

’n Kitsles oor die Groot Depressie

Die kos wat mense tydens die Groot Depressie moes eet

Oorsake van die Groot Depressie 

Die lewe tydens die Groot Depressie