Musiekelemente

Is musiek nie maar net klanke of geluide nie? Nee, beslis nie. Geluide (klanke) is oral om ons, van voëls wat tjirp en branders wat teen ‘n kuslyn breek tot motors wat in die verkeer toet. Maar soms word klanke op doelgerigte maniere saamgestel om ‘n spesifieke atmosfeer te skep of om idees of emosies uit te druk.

Sulke georganiseerde klanke word musiek genoem. 1

Hoewel daar baie verskillende benaderings is om die boustene van musiek te beskryf, breek ons ​​musiek dikwels op in vyf basiese elemente: melodie, tekstuur, ritme, vorm en harmonie. Alhoewel elke stuk musiek nie al hierdie elemente bevat nie, is dit baie waarskynlik dat elke stukkie musiek waarna jy onlangs geluister het, wel al hierdie elemente bevat.

Van hierdie vyf elemente is daar twee wat byna altyd eerste kom: melodie en ritme. Hulle is nie net die twee mees fundamentele dele van musiek nie, maar hulle is heel waarskynlik die heel eerste elemente van musiek wat deur mense ervaar is.

Dit is ‘n kwessie van suiwer spekulasie (raaiery) of die eerste musiek ‘n melodie was wat gesing is of ‘n ritme wat uitgeklop is, maar dit is maklik om te dink dat hierdie twee ervarings musikale skeppings van die vroegste mense was. 2

Mense het musiek gemaak lank voordat daar iets oor musiek in die geskiedenis opgeteken is. Om musiek van klank te onderskei, is ‘n moeilike taak, daarom gaan ons stilstaan by die vyf basiese elemente van musiek. Hierdie elemente speel almal saam ’n rol om ’n musiekstuk ’n wonderlike luisterervaring te maak. 3

Melodie

Die musiekelement wat waarskynlik die maklikste is om in ’n musiekstuk uit te ken, is die melodie. Dit kan ’n sielvolle solosangstuk, luidrugtige kitaarspel of ‘n vinnige saksofoonlopie wees. Melodieë kan eenvoudig of ingewikkeld wees. Hulle kan alleen staan, of saamwerk met ander melodieë in ’n meer komplekse (ingewikkelde) komposisie. 4

Maar onthou, ’n melodie kan nie net van een noot gemaak word nie. Jy kan nie net ‘n noot neurie en dit ‘n melodie noem nie. Ook nie wanneer jy net twee of drie note sing nie. Die meeste melodieë het baie meer as dit – die Engelse “Happy Birthday” is byvoorbeeld ‘n baie maklike melodie om te leer en te sing, en dit is 25 note lank! 5

Tekstuur

Tekstuur is ’n woord wat baie gebruik word om musiek te beskryf, maar dit kan dikwels moeilik wees om te verstaan. Ons kan sê ‘n musiekstuk het ‘n oop of geslote tekstuur, of ‘n dik of dun tekstuur. Ons kan ook meer formele terme gebruik, soos monofonies of polifonies om musikale tekstuur te beskryf, maar kom ons gebruik eers eenvoudige terme.

Net soos fisieke dinge soos kos, klere, speelgoed, geboue, ensovoorts, tekstuur het, het musiek ook tekstuur. Maar omdat jy nie fisiek aan musiek kan raak nie, word musikale tekstuur eerder deur klank gekenmerk.

Hier is ’n paar voorbeelde: ‘n Musiekstuk het ‘n dik tekstuur as daar baie verskillende instrumente is, of baie melodieë en harmonieë wat gelyktydig gespeel word.

‘n Dun tekstuur, aan die ander kant, is een waar daar net ‘n paar instrumente speel, of daar is net een of twee melodieë en harmonieë.

In musiek is tekstuur basies ‘n manier om te beskryf hoe die musiek of klank georganiseer is. Dit kan beskou word as hoeveel lae ‘n stuk musiek het, met ander woorde, hoeveel goed op een slag aan die gang is.

Tempo, melodie, harmonie, ritme en timbre (klankkleur) kan almal ’n effek op tekstuur hê, en dus is tekstuur nou verwant aan die algehele kwaliteit en klank van musiek. 6

Ritme

Die woord ritme kom uit die Griekse woord ritmos en beteken kortom (enige) gereelde herhalende beweging. 7 Hoewel daar min opgeteken is oor ritme in die vroegste tye van musiek, is Gregoriaanse gesang sonder ‘n gereelde maatslag (ritme) gesing. Gregoriaanse sang is ’n dreunsang (chant) in ‘n monofoniese musiekstyl, wat beteken dat daar net een melodiese lyn is – dis vloeiend, vry en word losweg beskryf sang as sonder ritme.

Met die koms van organum (eerste vorm van Westerse meerstemmige musiek) was dit egter nodig dat daar ’n maatslag (ritme) is, sodat sangers van verskillende melodieë in harmonie kon saamsing en gelyk eindig. Hiervoor is gereelde ritmiese patrone van kort en lang note gebruik. 8

Vorm

Elke stuk musiek het ‘n algehele plan of struktuur, oftewel die “groot prentjie”. Dit word die vorm van die musiek genoem. Ons kan dus sê vorm is die basiese struktuur en verwys na die manier waarop dele van ‘n musiekstuk georganiseer word.

Daar is baie verskillende soorte musikale vorms. As ‘n nuwe musiekstuk geskryf word, sal mens sekere riglyne oor die melodie, harmonie en ritmiese aspekte daar van moet volg voordat dit ’n spesifieke vorm het.

Sekere musikale vorme kan baie kompleks wees en moeilik om te verstaan. Die meeste mense sal egter vinnig die vorm van ‘n kort en eenvoudige stuk begryp, of van een wat uit baie kort herhalings gebou is.

Dit is ook makliker om bekende musiekvorme te herken. Byvoorbeeld: Jy sal waarskynlik maklik tussen die verse en refrein (die musiekdeel wat gereeld herhaal word) van enige popliedjie kan onderskei, maar sal sukkel om te herken wat in ‘n Indonesiese musiekstuk aangaan.

Klassieke musiek bevat langer en meer komplekse vorme wat moeilik kan wees om te herken. Maar om die vorm van ‘n stuk te verstaan, help ‘n musikant om ‘n meer oortuigende uitvoering daarvan te lewer. En vir enigiemand wat belangstel in musiekteorie of -geskiedenis, of in die verwerking of samestelling van musiek, is ‘n goeie begrip van vorm baie belangrik.

Om die “groot prentjie” te kan sien en verstaan, sal jou help om die musiek nog meer te geniet. Die goeie nuus is egter dat jy musiek kan geniet sonder om die vorm daarvan te verstaan of te herken! 9

Harmonie

As mense in harmonie met mekaar leef, leef hulle vreedsaam saam eerder as om te baklei of te stry. Dit beteken dus dat hierdie gesin, groep maats of personeel nie wanklanke (ongeduldige, kwaai of lelike woorde) gebruik as hulle met mekaar praat nie, al praat hulle soms gelyk.

Harmonie in musiek is byna dieselfde: dit is die aangename kombinasie van verskillende note van musiek wat op dieselfde tyd gespeel word.

Harmonie is dus die saamgestelde produk wanneer individuele musikale note of stemme saamgroepeer om ‘n samehangende geheel te vorm. Dink aan ‘n orkes: die fluitspeler speel dalk een noot, die violis speel ‘n ander noot en die trombonis speel nog ‘n ander noot. Maar wanneer al die individuele dele saam gehoor word, word harmonie geskep. 10

Woordbank

monofonies In musiek is monofonie die eenvoudigste van musikale teksture, wat bestaan ​​uit ‘n melodie (of “deuntjie”), gesing deur ‘n enkele sanger of gespeel deur ‘n enkele instrumentspeler (bv. ‘n fluitspeler) sonder gepaardgaande harmonie of akkoorde. 11
polifonies ʼn Meerstemmige lied; veelstemmig; musiek wat met ‘n aantal stemme of baie stemme gesing word. 12
refrein ’n Musiekgedeelte wat gereeld herhaal word deur die loop van ‘n musiekwerk. 13
timbre Kleur van die toon/klank eie aan ’n stem of instrument; klankkleur. 14

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Melodie, harmonie en ritme

Ritme uit ’n heel ander hoek