Sinsleer
Wat is sinsleer/sintaksis?
Die afdeling van die taalkunde waarin ons die bou van sinne bestudeer, staan bekend as sinsleer of sintaksis. Die woord sintaksis is afgelei van die Latynse woord syntaxis. Die Griekse woord suntaxis is afgelei van die werkwoord suntassein wat beteken om iets (in ons geval die sin) te orden en te sistematiseer. In die sinsleer/sintaksis bestudeer ons dus die onderdele van die sin en die manier waarop die onderdele gerangskik word.
Wat is ’n sin?
Die woorde en sinsdele waaruit ’n sin bestaan, moet in ’n bepaalde volgorde gerangskik word en aan bepaalde voorwaardes voldoen om “volledig”, “grammatikaal” of “korrek” te wees. Hierdie volgorde word vir elke taal beskryf, want hoewel daar ooreenkomste is, is daar ook verskille.
Die konstruksie wat ons in sinsleer bestudeer wanneer ons van ’n “sin” praat, bestaan gewoonlik ten minste uit ’n onderwerp (ook: subjek) en ’n gesegde.
Gebruik ons altyd volledige sinne?
’n Sin is ’n konstruksie wat aan bepaalde voorwaardes moet voldoen om “volledig” of “grammatikaal” te wees. Wanneer ons skryf, skryf ons gewoonlik volledige sinne wat aan hierdie voorwaardes voldoen. Tog is dit moontlik om halwe sinne in dialoog te gebruik, en soms kan ’n mens ook ter wille van beklemtoning onvolledige sinne (frases of woorde) in geskrewe teks gebruik, bv.:
- “Aggenee! Mart, wat de duiwel het jy nou weer …!”
- Sy hou nie van hom nie. Punt. Klaar. Tot hier toe en nie verder nie. Genoeg.
Wanneer ons met mekaar praat, gebeur dit gereeld dat ons nie in volledige sinne praat nie. Ons kan ook met woorde, frases of selfs geluide kommunikeer.
Ons noem die “onvolledige” of “ongrammatikale” konstruksies wat ons gebruik wanneer ons praat of wat ons skryf om ’n bepaalde effek in ons skryfwerk te skep “uitings”. Uitings hoef nie aan dieselfde “vereistes” vir volledigheid of grammatikaliteit te voldoen as sinne nie, al wat uitings moet doen, is om binne ’n bepaalde konteks of gespreksituasie doeltreffende kommunikasie te bewerkstellig.
- Voorbeeld van ’n sin: Karin, hier is jou roomys.
- Voorbeeld van ’n uiting: Karin, hier … roomys.
Ons bestudeer uitings in die afdeling van die taalkunde wat as “pragmatiek” bekend staan. In die sintaksis bestudeer ons dus net dié bousels wat as “sinne” bekend staan en aan die voorwaardes vir “volledigheid” of “grammatikaliteit” voldoen.
Wat is ’n sinsdeel?
Ons verwys na ’n stuk sin wat grammatikaal en betekenisgewys ’n samehang toon as ’n “sinsdeel”. In sommige handboeke word die terme “frase” en “sinsnede” as sinonieme vir “sinsdeel” gebruik.
In die volgende sinne is die dele tussen blokhakies voorbeelde van sinsdele:
- Haar eerste liefde was [die skool se rugbyheld].
- As jy sien daar is vuil skottelgoed [in die wasbak], was dit, asseblief.
Wat is ’n sinstuk?
Dit is baie, baie belangrik om in die sintaksis te onthou dat ons onderskei tussen vorm (hoe ’n sinsdeel lyk) en funksie (wat ’n sinsdeel in die sin doen). As ons bepaal uit watter soort woorde die sinsdeel bestaan en watter woordsoort die kern van die sinsdeel is, is ons besig om die vorm van die sinsdeel te bepaal. Dele van die sin wat ons op grond van vorm identifiseer, is sinstukke.
As ons weer gaan kyk na die sin Haar eerste liefde was die skool se rugbyheld, en ons bepaal die vorm van die skool se rugbyheld, lyk ons ontleding so:
bepaalde lidwoord | soortnaamwoord | genitiefpartikel | soortnaamwoord |
die | skool | se | rugbyheld |
Die kern van daardie sinsdeel is rugbyheld. (Kyk mooi, dis betekenisgewys die belangrikste woord in die sinsdeel.) Die woordsoort van rugbyheld is soortnaamwoord, daarom is daardie sinsdeel vormlik ’n naamwoordstuk.
Op skool word sinne nie vormlik ontleed nie, daarom word daar nie in hierdie stuk verder na sinstukke verwys nie.
Wat is ’n sintaktiese funksie (ook: sinsfunksie)?
Sinsontleding op skool sluit wel in dat sinne se sintaktiese funksies bepaal word. As ons dit doen, bepaal ons wat die sinsdeel vir die bepaalde sin se werkwoord doen. Die volgende is die algemeenste sintaktiese funksies wat ’n mens gereeld in Afrikaanse sinne aantref (daar is nog):
- onderwerp (ook: subjek)
- gesegde
- direkte voorwerp (ook: direkte objek)
- indirekte voorwerp (ook: indirekte objek)
- kopulakomplement
- bywoordelike bepaling
- randadjunk
Daar is ook ’n blitsgids op VivA se webblad waarin die sintaktiese funksies bespreek word.