Vinnige feite

  • Die eerste mandalatekening waarvan ons weet, het tussen 1500 en 500 VHJ in die bekende Hindoe-teks, Rig Veda, verskyn.
  • Vorms van mandalas is al deur die geskiedenis in kuns en argitektuur gesien, soos in Persiese kuns, in Mesopotamiese kuns en argitektuur en in Keltiese kuns.
  • Die Switserse psigiater en sielkundige Carl Gustav Jung het baie navorsing oor die betekenis en die doel van die mandala gedoen.
  • Mandala-inkleurboeke vir volwassenes is dikwels topverkopers omdat dit kan help om stres te verminder. 3
  • Die grootste 3D-mandala wat al ooit gemaak is, was 7,371 m hoog met ’n omtrek van 14,23 m. Dit is deur die Diqing Shangri-La Culture Development Co. in China gebou. 4
  • Athira Sasi van Indië het ook ’n nuwe wêreldrekord behaal deurdat sy 100 verskillende variëteite van mandalakuns geteken het. 5
Foto: iStock

Jy het sekerlik al gesien hoe ’n mandala lyk – al het jy dalk nie geweet dit is wat dit genoem word nie. Mandalas is daardie pragtige, veelkleurige sirkels met herhalende patrone en ’n mens sien dit veral in inkleurboeke. Dit duur ’n rukkie om ’n mandala te maak of in te kleur, maar jy sal met ’n pragtige kunswerk beloon word.

Waar kom mandalas vandaan?

’n Mandala beteken “sirkel” in Sanskrit. Sanskrit is die antieke, heilige taal van die Hindoes. Hindoes volg die geloof van Hindoeïsme, wat veral in Indië aangehang word.

’n Mandala het ’n geometriese ontwerp wat groot simboliek in die Hindoe- en Boeddhistiese kulture het. 1 Hierdie simboliese diagram word tradisioneel tydens meditasies en seremonies gebruik. Meditasie is ’n tegniek wat jy gebruik om jou kalm te maak. ’n Mens dink diep en fokus op jou asemhaling. Vir baie Hindoes en Boeddhiste verteenwoordig mandalas die verskillende aspekte van die heelal. Hulle sien die mandala as ’n plek waardeur jy simbolies gaan. Jy beweeg as’t ware na die middelpunt en word deur die proses gelei.

Hoe lyk ’n mandala?

’n Mandala is rond en het herhalende patrone wat van die middelpunt af uitstraal. Patrone word in ’n mandala herhaal en vorm simmetriese patrone. As iets simmetries is, beteken dit dat dit aan albei kante dieselfde is.

Monnike en mandalas

Monnike in Tibet (in China) gebruik mandalas om kalm te bly, wyser te word en empatie vir ander mense te ontwikkel. Empatie beteken dat jy omgee vir ander mense. Monnike visualiseer hul gode binne-in die mandala met die hoofgod in die middel van die mandala. Hulle sien die mandala as ’n driedimensionele paleis met gode wat in die paleis “bly”.

Mandalas wat van gekleurde sand gemaak word, is uniek aan Tibettaanse Boeddhisme. Dit neem hierdie monnike baie maande om ’n sandmandala te maak. Dis ’n hele proses om so ’n mandala te maak en hulle sien dit as ’n proses van heling en meditasie. Wat veral merkwaardig is, is dat dit die monnike so lank vat om hierdie mandalas te maak en dan, as dit klaar is, blaas hulle die sand weg of gooi dit sommer in ’n rivier.

Dit klink vreemd, maar die monnike gee nie juis om hoe die mandala lyk nie. Hulle fokus op die proses om ’n mandala te maak en die emosies wat hulle daartydens ervaar het. 2

Reliëfmandala

’n Reliëf is ’n driedimensionele vertoning van ’n plat oppervlak deurdat dele daarop uitlig is en ander dele weer uitsny. ’n Reliëf kan verkry word deur papier in wisselende diktes op ’n oppervlak te plak.

Jy kerf dus ’n vorm uit sodat dit op die oppervlak kan uitstaan en dit is presies wat ’n reliëfmandala is. Dis ’n mandala met ’n straalpatroon wat bo ’n oppervlak met hoogte, diepte en breedte uitstaan.

Woordbank

boeddhisme Dit is ’n wydverspreide Oosterse geloof of filosofie wat in Indië begin is.
diagram Eenvoudige tekening wat wys hoe iets werk, ontwikkel of gebeur.
driedimensionele Wat hoogte, lengte en diepte het.
geometriese Dit hou verband met die studie van vorms, lyne en hoeke.
hindoeïsme Die oorheersende geloof in Indië en omstreke.
instrument Iets wat jy gebruik om iets te doen of werk makliker te maak.
meditasies Die proses waardeur jy lank oor iets nadink.
Sanskrit Hierdie taal word ook soms oud-Indies genoem en baie Indiese tale het uit Sanskrit voortgevloei.
seremonies ’n Formele openbare of godsdienstige gebeurtenis of plegtigheid.
simboliek Die gebruik van simbole om iets voor te stel of te suggereer.
simmetriese Die toestand dat die dele waaruit iets saamgestel is, so by mekaar pas of in balans is met mekaar, dat die geheel goed vertoon.
variëteit Groot verskeidenheid.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

Maak jou eie eenvoudige mandala

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Februarie 2022 | Bygewerk op 20 Oktober 2023