Vinnige feite

  • Die Noord-Kaap is die grootste provinsie in Suid-Afrika, maar dit het die minste inwoners. Dorpe is ver uitmekaar en baie kinders wat op plase en piepklein dorpies woon, was nog nooit in ʼn stad nie.
  • Die San-mense het eerste in die Noord-Kaap gebly. Hulle het geglo dat alle plante, diere en selfs klippe ʼn gees het. Daarom het elke groep ʼn sjamaan gehad wat met hierdie geeste kon “praat”. Hulle het graag met pyl en boog gejag.
  • Die provinsie is warm en droog en die plantegroei soms yl, maar in die lente verander veral Namakwaland in ʼn blommetapyt. Omdat die Noord-Kaap so droog is, word daar veral met skape en bokke geboer. 5
  • Die Kalahari is ʼn uitgestrekte, sanderige gebied met spesiale plante, bome en diere wat jy nêrens anders in die wêreld kry nie. Dié woestyn is bekend om sy kokerbome wat jare lank sonder water kan oorleef. Die San het sakke van dié boom se takke gemaak om hul gifpyle in te dra. Die boom kry sy naam van dié sak, wat ʼn koker genoem word.
  • Die Kalahari is ook bekend om sy gemsbokke en reuse-versamelneste waarin daar soms honderde versamelvoëls bly – amper soos ʼn groot woonstelblok. Die neste word van takkies en gras gebou om koel in die dag en warm in die nag te wees.
  • Die gompou is ʼn groot voël wat van insekte en knaagdiere leef. Hy is ook lief vir doringboomgom. Dié reusevoël kan tot 30 kg weeg en is die swaarste voël wat kan vlieg.
  • Die Garieprivier sorg vir water sodat daar met druiwe, katoen en dadels geboer kan word. Die water vloei in kanale tot by die plase. Die rivier is so groot dat daar selfs ʼn dorpie op een van die eilande, Kanoneiland, is.
  • Die Garieprivier bring nie net water nie, maar ook diamante. Naby Port Nolloth word duikers en bote gebruik om dié kosbare klippies met ʼn masjien van die rivierbodem af op te suig.
  • Amper 140 jaar gelede het ʼn seuntjie ʼn mooi klip naby Kimberley opgetel. Omdat dit ʼn bietjie stowwerig was, het hy dit in sy broeksak gebêre en eers later uitgevind dat dit ʼn kosbare diamant was. Nie lank daarna nie het mense vanoor die hele wêreld op Kimberley toegesak om ook diamante te soek. Hulle het ʼn gat van een-en-ʼn-halwe kilometer breed en 800 m diep gegrawe. Dit word vandag nog die “Groot Gat” genoem. Al word daar nie meer diamante gemyn nie, lyk die geboue rondom die Groot Gat nog net soos in die ou dae.
  • Daar word ook koper in die Noord-Kaap gemyn. Dit word veral gebruik om elektriese bedrading en telefoonkabels te maak. Sishen se oop kopermyn is die grootste ter wêreld.
  • Die Kgalagadi-oorgrenspark behooort aan sowel Botswana as Suid-Afrika en beskerm die diere wat vir albei lande kosbaar is.
  • Die Augrabieswaterval se naam beteken “Plek van die Groot Geraas” omdat die gedruis van die waterval net soos donderweer klink. Baie mense glo die poel aan die voet van die waterval is vol diamante.
  • Sutherland in die Karoo spog met ʼn sterrewag wat die grootste teleskoop ter wêreld het. Dis gemaak van ʼn spesiale spieël wat 11 m breed is. Wetenskaplikes vanoor die hele wêreld sak gereeld op dié klein dorpie toe om hier na die sterre te kyk, want in hierdie omgewing is min mensgemaakte lig wat met die teleskoop kan inmeng.
  • By Kuruman is ʼn fontein wat Die Oog genoem word, waar strome vars water uit die grond borrel.
  • In die ou tyd het die polisie op Upington die dorp se strate op kamele gepatrolleer. Al kameel wat nog vandag in die strate oor is, is ʼn standbeeld van ʼn kameel met ʼn polisieman op sy rug.
Foto: iStock

Hoofstad: Kimberley

Bevolking: 1 303 047 1

Algemene huistale: Afrikaans en Tswana

Dorpe in dié provinsie: Nieuwoudtville, Loeriesfontein, Calvinia, Brandvlei, Kenhardt, Putsonderwater, Marydale, Pofadder, Pella, Aggeneys, Prieska, Groblershoop, Upington, Keimoes, Kakamas, Marchand, Onseepkans, Riemvasmaak, Goodhouse, Hotazel, Kathu, Kuruman, Griekwastad, Barkly-Wes, De Aar, Colesberg, Williston, Sutherland, Garies, en Springbok. 2

Verskillende streke

Boesmanland

Die Boesmanland is ʼn uitgestrekte en baie droë streek in die Noord-Kaap. Die grense is die Oranjerivier in die noorde en ooste, Calvinia in die suide en Namakwaland in die weste. Die streek lê ongeveer 1 000 m bo seespieël, is baie plat en val geleidelik noordwaarts na die Oranjerivier. In ʼn goeie jaar kan die reënval ongeveer 100 mm wees, maar ʼn goeie jaar kom nooit meer as een keer in ʼn dekade nie.

Namakwaland

Die plantegroei is yl – hoofsaaklik jaargras en plat en geharde meerjarige struike asook smal stroke doringbome langs die lope van die episodiese riviere. ’n Opvallende kenmerk is die panne noord en suid van Brandvlei, meestal langs die loop van die Sakrivier. Hierdie panne word deur swaar reën met water gevul, wat gou weer in die warm son verdamp en soutneerslae agterlaat.

Die belangrikste ekonomiese bedryf in die gebied is skaapboerdery (merino en karakoel) op reuseplase. Die spoorlyn wat ystererts van Dingleton (Sishen) na Saldanha vervoer, loop honderde kilometer pylreguit deur die hart van die Boesmanland.

Soos die naam aandui, was hierdie groot gebied lank gelede die tuiste van San (Boesman)-jagters en versamelaars. Selfs meer beskrywend is die naam Kaiingbulte vir die gebied oos van die hoofpad deur die Boesmanland (die R27 van Calvinia na Kenhardt). Daar is twee moontlike verklarings vir hierdie naam. Die eerste is dat dit na die tapyt van kwartsklippies verwys wat soos kaiings lyk en die aarde hier bedek. Die tweede, meer waarskynlike, verklaring is dat die somerson in hierdie genadelose wêreld mens en dier werklik tot kaiings verbrand.

Dorpe wat deel vorm van die Boesmanland sluit in Nieuwoudtville, Loeriesfontein, Calvinia, Brandvlei, Kenhardt, Putsonderwater, Marydale, Pofadder, Pella, Granaatboskolk en Aggeneys.

Die Knersvlakte

Van die kruin van Vanrhynspas af het ’n mens ʼn goeie uitsig oor die Knersvlakte, ʼn troostelose, waterlose en skynbaar eindelose vlakte noord van Vanrhynsdorp en wes van die Bokkeveldberge. Die naam is dalk gekies omdat die eerste pioniers wat probeer het om hierdie ongenaakbare woesteny te tem, baie swaar gekry het. Nog ʼn moontlike verklaring vir die naam hou verband met die kwartsietklippies wat ʼn groot deel van die aarde hier bedek. Die klippies maak ʼn onmiskenbare knersgeluid as ’n mens daarop trap.

Die vlakte is bekend om sy uitgestrekte tapyte pers vygies en ander vetplante in die lente. In die laat 1990’s is ʼn “kerngebied” in die Knersvlakte aangekoop om die eiesoortige plantegroei in ʼn park of reservaat te bewaar.

In die 1950’s is Suid-Afrika se enigste monasietmyn op die plaas Steenkampskraal op die Knersvlakte bedryf. Die myn is gesluit hoofsaaklik weens die hoë koste om oor ʼn afstand van 120 km water met ʼn vragmotor van Klawer af aan te ry. ʼn Marmermyn en ʼn paar klein gipsmyne word nog op die Knersvlakte bedryf.

Die Sakrivier: Bron van sout en koring

Ongeveer 60 km suid van Brandvlei draai ʼn pad oos af na Sakrivier, die eindpunt van ʼn takspoorlyn van die Calvinia-Hutchinsonlyn. Die rede vir die spoorlyn in hierdie onherbergsame wêreld is sout.

Daar is verskeie groot vloere of soutpanne langs die loop van die Sakrivier noord en suid van Brandvlei. Uit hierdie panne word groot hoeveelhede rou sout versamel en na raffinaderye elders in die land gestuur om vir plaaslike gebruik en uitvoer verwerk te word.

Die episodiese Sakrivier is ook om ʼn ander rede goed bekend. In goeie jare saai die boere koring in wat as “saaidamme” bekend staan, net soos die boere langs die Nylrivier in Egipte. Die rivier vloei net in die somer ná swaar neerslae. Wanneer die water wegsak, word koring in die rivierbedding aan albei kante van die hoofstroom gesaai. Gewoonlik bly daar genoeg vog in hierdie ryk spoelgrond oor vir die koring om sonder enige verdere reën ryp te word.

Die naam van die rivier verwys nie na ʼn houer nie, maar na die feit dat die rivier verskeie kere in sy sanderige bedding wegsak of verdwyn op sy reis noordwaarts om suid van Kenhardt by die Hartbeesrivier aan te sluit.

Loxton

Die Oranjeriviervallei

Die Oranjeriviervallei bestaan uit ʼn smal strook grond weerskante van die middelloop van die Oranjerivier, van Goodhouse in die weste deur Upington na Prieska in die suidooste.

Die Oranje is verreweg Suid-Afrika se grootste rivier, maar mens kan nogtans nêrens met ʼn vragskuit of enige ander kommersiële vaartuig daarop vaar nie. Die belangrikste sytakke is die Caledon (suidoostelike Vrystaat) en die Vaal. Van sy oorsprong in die Drakensberge tot waar dit in die Atlantiese Oseaan uitloop, is die rivier 2 340 km lank.

In die winter word die rivier se monding soms lank deur ʼn sandbank versper wanneer die vloei te swak is om die kanaal oop te hou. Daar is drie belangrike damme in die rivier. Die twee grootstes, Gariep en Vanderkloof naby Colesberg, is deel van die Oranjerivierprojek. Die derde en die kleinste is Boegoeberg naby Groblershoop. Water word ook by verskeie plekke om Upington en Kakamas uitgekeer waar intensiewe besproeiingsboerdery in die ryk spoelgrond beoefen word.

Gariepdam

Die wingerde aan die oewers van die rivier, van Kakamas tot by Upington, lewer die beste sultana-druiwe en -rosyne in die land, indien nie in die wêreld nie. Ander belangrike gewasse is ander soorte  druiwe (ook wynkultivars); peulgewasse soos bone, lensies en ertjies; verskeie soorte sagtevrugte en sitrus; lusern, koring en katoen. Kakamas is beroemd om sy geel taaipitperskes, veral om inlê-perskes van te maak.

Tussen Kakamas en Upington vloei die rivier op plekke tot 2 km breed. Van Sultanaoord oos van Upington tot by die Augrabieswaterval verdeel die rivier dikwels in verskeie strome om ʼn reeks eilande te vorm. Die grootste is Kanoneiland, naby Keimoes, wat intensief bewerk en besproei word. Daar is geen belangrike nywerheidsontwikkeling langs die rivier nie, behalwe die verwerking van landbouprodukte op klein skaal, en die myn van spoeldiamante by verskeie delwerye langs die loop van die rivier en by die monding by Alexanderbaai.

Kgalagadi Nasionale Oorgrenspark

Dorpies wat in hierdie deel van die Noord-Kaap geleë is, is Prieska, Groblershoop, Upington, Keimoes, Kakamas, Marchand, Onseepkans, Riemvasmaak en Goodhouse.

Die Groot Gat in Kimberley

Die baanbreker van die Oranjeriviervallei

Eerwaarde Christiaan Schroeder, wat Upington in 1871 gestig het, was meer as net ʼn sendeling. Hy het die eerste besproeiingskanale ontwerp en gebou wat die Oranjeriviervallei op sy pad van voorspoed geplaas het.

In 1882 het Schroeder ʼn bekwame vakleerling en vennoot gekry in Johann (Japie) Lutz, wat saam met sy broer Heinrich ʼn meubelmakery by Olyvenhoutsdrif (later Upington) begin het. Saam het Schroeder en Lutz die groot Upington-kanaal van 1882 tot 1885 ontwerp en gebou. In 1898 het Schroeder Lutz in bevel geplaas van die bou van die suidkanaal van 24 km by Kakamas, ʼn taak wat deur die Anglo-Boereoorlog onderbreek is. Later is die noordkanaal en die hewel by Perde-eiland naby die huidige dorpie Marchand ook onder Lutz se leiding gebou. Hy het ook kanale by Onseepkans en op Brakboseiland gebou, asook die Karosdam wat later deel van die Boegoebergdamskema geword het. Lutz was tot op 80 nog aktief betrokke by besproeiingskemas.

In 1949, toe hy 90 was, het die Universiteit van Stellenbosch ʼn eremeestersgraad in siviele ingenieurswese aan Lutz toegeken as erkenning van sy dienste as besproeiingsingenieur. Lutzburg, ʼn uitbreiding van Kakamas op die noordoewer van die rivier, is na hom vernoem. Lutzputs, die spoorweghalte 60 km wes van Upington op die Windhoeklyn, is na sy broer Heinrich vernoem. Lutzville in die Olifantsriviervallei is vernoem na Japie se seun Johan, wat opdrag gekry het om ʼn dorp daar uit te lê. 3

Upington

Interessante stukkie geskiedenis: ‘Boegoeberg se dam is ʼn doodlekker dam’

Gedurende die Groot Depressie van die 1930’s is verskeie planne vir staatsprojekte in staatskantore afgestof in ʼn landwye soektog na werksgeleenthede vir die groeiende aantal werklose wit mense. Een van hierdie skemas was ʼn besproeiingsdam in die Oranjerivier, by die Boegoebergheuwels, 25 km suidwes van die huidige Groblershoop. So ʼn dam is inderdaad in 1906 begin, maar weens ʼn gebrek aan fondse gestaak.

Die projek is weer in Mei 1929 opgeneem en in 1933 voltooi. Dit bestaan uit ʼn keerwal wat 622 m lank en 10 m hoog is. Bo-op is 68 sluisdeure wat met ʼn loopkraan beheer word sodat vloedwater vinnig kan deurgaan om slik in die opgaardam tot die minimum te beperk. Die eerste water is in 1934 in die kanaal van 121 km losgelaat.

N8 naby Groblershoop

Op die hoogtepunt van die bouwerk het die (wit) arbeidsmag uit 250 man bestaan, die meeste getroud en met hulle gesinne op die terrein. Die gemiddelde loon was slegs 7 sjielings en 6 pennies per dag, maar elkeen het ook die vooruitsig van ʼn hoewe van 5 ha gehad nadat die taak voltooi is. Die plek was ver weg van die stadsliggies en die werkers moes hulle eie vermaak verskaf. Hulle lewens het geheel en al om die dam gewentel en daarom het hulle ook rympies en liedjies gemaak oor hoe hulle help om die water van die Oranje vir almal te tem. Die bekendste van hierdie liedjies, een wat nog steeds ʼn groot gunsteling is, bevat ʼn paar reëls wat oor die lewe by die dam vertel – Boegoeberg se dam is ʼn doodlekker dam.

Die dag van die amptelike opening van die dam in 1934 het elke man ʼn klip vir die gedenkteken neergesit om hulle harde werk te herdenk. Die gedenkteken is eers vier jaar later gebou – om met die Voortrekkereeufees saam te val. Sowel die dam as die heuwels kry hulle name van die boegoestruik wat volop teen die hange groei. Aftreksel van die blare word in baie tuisrate gebruik. 4

Kokerboom

Belangrike besienswaardigheid: Augrabieswaterval Nasionale Park

Die kern van hierdie park van 88 000 ha wat in 1966 sowat 120 km wes van Upington gevestig is, is die Augrabieswaterval in die Oranjerivier. Die waterval kan van uitkykpunte soos Arrow Head, Ararat, Moon Rock en Oranjekom besigtig word.

Die water versnel eers deur ʼn reeks katarakte voordat dit 65 m ver in ʼn poel neerstort. Hierdie poel is 92 m breed en moontlik 130 m diep. Dit strek 15 km ver. Wanneer die rivier in vloed is, stort die water in 19 afsonderlike valle oor die kloof en die volume van hierdie water is meer as dié van die Victoriawaterval. Dit is byna onmoontlik om die poel onder die waterval selfs in normale seisoene te bereik, en daar is verskeie legendes oor hierdie diep gat water. Volgens een bevat dit ʼn fortuin in spoeldiamante wat deur die eeue met die rivier afgespoel het. Ander glo dat die poel die tuiste van Suid-Afrika se eie Loch Ness-monster is.

Augrabies waterval

Die plantegroei van die park is tipies van Boesmanland en die suidelike Kalahari en sluit in die kokerboom, verskeie ander aalwynsoorte, etlike soorte vygies asook struike soos die rosyntjiebos en katdoring. Bome wat die meeste voorkom, is kameeldoring, karee en wilde olyf. Die dierelewe sluit in bobbejane, ape, kleiner boksoorte soos klipspringers en springbokke, asook kameelperde, etlike katspesies en die onlangs hervestigde elande en swartrenosters.

Die naam Augrabies is afgelei van die Koranna-Khoi-woord, aukurabis, wat “die water wat donder” beteken.

Woordbank

episodiese riviere ’n Rivier wat net na harde reën vloei.
hewel Enige toestel of ontwerp waarmee water vanaf ’n laer na ’n hoër vlak geneem kan word. 6
yl Min plante wat ver uitmekaar groei.

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 Februarie 2022 | Bygewerk op 20 Februarie 2024