Vinnige feite

  • Die Dooiesee in Israel is eintlik ’n meer, al word dit ’n see genoem. Dit lê 400 meter onder seevlak en is die laagste meer ter wêreld. Die Dooiesee is báie sout omdat dit geen uitvloei het nie. Al die sout en minerale wat invloei, bly daarin agter wanneer die son die water laat verdamp. Die Dooiesee is nege keer meer sout as die res van die oseane. Die naam het ontstaan omdat geen vis of ander diere in sulke soutwater kan lewe nie. 2
  • Sommige afsettingsgesteentes word gevorm wanneer soutwater verdamp. Dit kan gebeur wanneer ’n inham of baaie afgesny word van die see en begin opdroog. Hierdie mineraalryke rotse staan as evaporiete bekend en sluit in gips, klipsout (halite) en potas.
  • Sout is die mineraal wat die meeste deur mense gebruik word. Dit staan ook bekend as tafelsout of klipsout en die chemiese naam is halite of natriumchloried. Sout bly agter wanneer soutwater verdamp. Sommige afsettingsgesteentes bevat dik lae sout. Sout word ook op sommige plekke ondergronds ontgin – skagte word gesink, die sout word met plofstof losgeskiet en dan verwyder.
  • Mense in warm, laagliggende gebiede skep vlak seewaterpoele deur keerwalle te bou. Die son laat die water verdamp en soutkristalle bly agter.
  • Die Salar De Uyuni is ’n soutvlakte (’n gebied wat bestaan uit ’n soliede soutkors) in Bolivië. Dit het oor honderde jare bo-op ’n meer gevorm. Dit is ’n paar meter dik en strek oor 10 582 km3.
Foto: iStock

Soutwater is ’n oplossing van sout en water, of water wat in die natuur voorkom en wat ’n hoë konsentrasie sout het wat daarin opgelos is. 1 Ongeveer 70% van die aarde se oppervlak is met water bedek – sowat 97% hiervan is soutwater en die oorblywende 3% is varswater. Van die 3% varswater is minder as 1% beskikbaar vir lewe op aarde; die res is in die vorm van ys by die pole. 3

Oseane en seë

Oseane is groot oppervlaktes water bo-op die laagliggende oseaniese kors wat die kontinente van mekaar skei. Die vlak rante van die oseane vorm kusseë. Omtrent 97% van die wêreld se water is in die oseane. Dit het mettertyd sout geraak deur minerale wat deur riviere van die land af in die oseane invloei. Die mineraal natriumchloried (NaCl), of sout, word ook in die see vrygestel deur openinge in die oseaniese litosfeer (dit is die rotslaag of kors wat die aardbol omvou) 1 en dit is hierdie mineraal wat seewater souterig laat proe. 3 Opgeloste minerale beland ook in die see deur reënwater.

Sout- en sodamere

Mere is groot poele water wat in natuurlike holtes vorm. Sommige is komme ondeurlatende rots wat deur strome gevoed word, terwyl ander ontstaan deur water wat van onder opsypel. ’n Meer kan baie lewe bevat of byna niks. Hoe meer plantvoedingstowwe daar in ’n meer is, hoe vinniger word dit toegegroei en verander dit in ’n vlei of moeras.

Meerwater bevat souterige minerale wat daarheen gedra is deur strome. Gewoonlik word die minerale weer uit die meer gedra deur strome wat na die see toe vloei. In warm klimate verdamp die water egter so vinnig as wat dit in die meer inloop. Wanneer die water verdamp, laat dit die minerale agter in die meer, waar dit kristalle op rotse vorm wat die water baie sout maak. Die gevolg is ’n soutmeer of sodameer, afhangend van die minerale. 3

Soutpanne

’n Soutpan is ’n pan met sout of ’n soutlaag op die bodem wat die water brak of sout maak. Dit is ’n natuurlike of kunsmatige pan waaruit mense sout verkry – óf deur verdamping van die soutwater óf deur dit uit lae vaste sout te grawe. 6

Soutpanne is soms droog en kan ’n wit voorkoms hê wat soos sneeu kan lyk. Voorbeelde van soutpanne is die Makgadikgadi-panne in Botswana (foto onder) en die Etosha-soutpan in Namibië (Etosha beteken “groot, wit plek”).

Die Makgadikgadi-panne in Botswana.

As gevolg van watertoevloeiroetes wat oor die jare verdwyn het en algemene droogte in dié gebiede, het die water opgedroog en sodoende is die minerale agtergelaat. Gebiede met woestynagtige klimate ervaar vinnige verdamping van water wat meebring dat die water teen ’n vinniger spoed verdamp as wat dit vervang word. 7 In die foto hieronder kan die wit soutneerslae in die Makgadikgadi-panne gesien word. Volgens earthobservatory.nasa.gov is dit een van die grootste soutpanne ter wêreld en dit beslaan ongeveer 30 000 km2.

Die soutneerslae kan duidelik in die Makgadikgadi-panne gesien word.

Ontsouting

Ontsouting is die proses waardeur sout en minerale uit seewater verwyder word om skoon, bruikbare en drinkbare water te lewer. Dit is ’n baie duur proses, maar word veral in kusgebiede waar droogte voorkom weens lae reënval, toegepas om aan mense drinkwater te voorsien. Ontsouting word oral ter wêreld gebruik, maar veral in Saoedi-Arabië en Katar in die Midde-Ooste, Sydney en Perth in Australië, en suidelike Kalifornië in die Verenigde State van Amerika. Verskeie stede in Suid-Afrika, onder meer Kaapstad, Mosselbaai, Knysna, Sedgefield, Plettenbergbaai, Boesmansriviermond, Lambertsbaai, Elandsbaai en Richardsbaai het aanlegte vir die ontsouting van water.

Hoe werk ontsouting?

  • Seewater word uit die oseaan gepomp en met behulp van ’n paar voorafbehandelingstappe gesuiwer om groot en klein deeltjies vaste stowwe uit die seewater te verwyder. Hierdie voorafbehandelingstappe sluit in sifskerms om groter deeltjies soos seeskulpe en seegras te verwyder, en filtrasie om klein deeltjies soos sand, fyn organiese materiaal en ander swewende deeltjies te verwyder deur die seewater deur verskeie lae sand te filtreer.
  • Die seewater word dan onder hoë druk deur ’n baie fyn membraan met klein openinge gevoer, wat die sout en minerale uit die water verwyder om skoon drinkwater te skep. Die openinge in hierdie membrane is só klein dat net watermolekules daardeur kan beweeg. Die sout word dan van die skoon drinkwater geskei in ’n proses bekend as tru-osmose.
  • Die sout en minerale wat deur die proses van tru-osmose verwyder word, word ’n vloeistof genaamd pekel. In die meeste gevalle word die pekel in die oseaan teruggepomp waar dit weer vinnig in die see oplos. Uit elke tien liter seewater wat vir ontsoutingsbehandeling gebruik word, sal vier liter drinkwater wees en ses liter weer as pekel in die oseaan beland. Pekel het dus omtrent twee keer die soutkonsentrasie van seewater.
  • Aangesien minerale ook in die behandeling verwyder word, moet minerale soos kalsium teruggesit word in die behandelde water om dit te stabiliseer. Drinkwater moet gestabiliseer word om die roes wat in die pypleiding na jou huis vorm te verminder. Die water word regdeur die ontsoutingsproses volgens die nasionale gehaltestandaard vir drinkwater (SANS 241) getoets om te verseker dat dit veilig is om te drink. 5

Woordbank

rotslaag Wanneer rotse wegslyt, breek daar klein stukkies af wat as sediment bekend staan. Hierdie sediment word bedek en onder druk saamgepers tot dit solied is. Dit is hoe afsettingsgesteentes vorm. Dit word in lae wat as strata bekend staan, aangetref. 2
 klimate Die algemene lug- en weersgesteldheid van ‘n plek/gebied/streek.
oplossing Vloeistof waarin ‘n vaste stof of gas gemeng is.
pan ‘n Komvormige holte in die grond.
pekel Water waarin baie sout opgelos is en waarin kos gebêre kan word om te keer dat dit gou bederf.

Lees hierdie om meer te wete te kom

Kyk dié video’s om meer te leer

Hoekom is daar sout in die see?

Fassinerende feite oor die Dooiesee

Kan seewater die wêreld se waterkrisis help oplos?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: Jacques du PlessisFoto: Jacques du PlessisFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 November 2021 | Bygewerk op 13 Junie 2024