Besoedeling
Om iets te besoedel, is om dit vuil te maak, te bemors of te besmet. Besoedeling is baie sleg vir die omgewing (die aarde) en kan mense, plante en diere siek en selfs dood maak. Besoedeling is ’n groot probleem en daarom moet elkeen van ons ons deel doen om ons planeet mooi, skoon én gesond te hou. ’n Mens kry baie tipes besoedeling, maar die twee soorte wat die meeste voorkom, is lug- en waterbesoedeling. 1
Lugbesoedeling
Mense en diere het vars lug nodig om te kan lewe. Ons asem suurstof in en asem koolstofdioksied uit, maar as die lug vuil is, is dit baie sleg vir ons gesondheid. Dit word hoofsaaklik veroorsaak deur die verbranding van fossielbrandstowwe soos steenkool en brandstof. Lugbesoedeling is wanneer slegte chemikalieë, gasse en stofdeeltjies in die lug vrygestel word. Dit veroorsaak dat ons moeilik asemhaal en kan ons longe en hart aantas.
Die gekombineerde uitwerking van omgewingslugbesoedeling en huishoudelike lugbesoedeling word jaarliks met 6,7 miljoen sterftes verbind, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Dit lei tot ʼn skerp toename in gevalle van respiratoriese siektes onder veral kinders en ouer mense. 2
Lugbesoedeling word deur verskeie dinge veroorsaak:
- Menslike oorsake soos fabrieke en kragstasies wat olie en steenkool (ons noem dit ook fossielbrandstowwe) verbrand, vliegtuie, motors, chemikalieë, vullishope en spuitkannetjies (soos spuitverf, insekdoders en deodorant). 5
Wat doen lugbesoedeling aan die omgewing?
- Aardverwarming – Wetenskaplikes glo dat hoe meer koolstofdioksied in die lug beland, hoe warmer word dit. 6
- Osoonlaag – Die osoonlaag is ’n lagie om die aarde wat ons teen gevaarlike sonstrale beskerm. Dié lagie word onder meer beskadig deur gasse (metaangas) wat diere se mis en selfs sekere bome (soos populiere) afgee, of die gas in spuitkannetjies. 7
- Suurreën -Dit word veroorsaak wanneer daar baie swaeldioksied in die lug is. Die wind waai dié gasse rond en as dit reën, meng dit met die reën en val op die aarde. Dit is baie sleg vir woude en kan visse doodmaak.
Skoner energie
Daar is ʼn groter beweging na hernubare oftewel groen energie. Dit is energie wat so opgewek word dat dit nie so skadelik vir die omgewing en mense is nie. Elektrisiteit is ʼn noodsaaklikheid vir ekonomiese vooruitgang. Elektrisiteit kan gedeeltelik deur wind, water of die son geproduseer word. Hierdie natuurlike hulpbronne is onuitputbaar en veroorsaak baie min besoedeling. EV of Elektriese voertuie maak ook groot vooruitgang en kan moontlik in die toekoms die hoeveelheid uitlaatgasse van motors verminder.
Waterbesoedeling
Mense en diere het skoon water nodig om te drink; ons gebruik water om mee te bad of klere te was; die tuin nat te spuit; en water is miljoene lewende dinge se blyplek. Waterbesoedeling is wanneer dié lewensnoodsaaklike bron (mere, riviere, oseane en grondwater) vuil en onveilig gemaak word. Meer as 80% van die wêreld se “gebruikte water” (soos bad- en rioolwater) vloei terug na ons waterbronne sonder dat dit eers skoongemaak (gesuiwer) word. 8
Water kan besoedel word deur
- Onoplosbare stowwe soos plastiek, rubber, blik, glas, sure en olie.
- Oplosbare stowwe soos waspoeier, seep, plaag- en onkruiddoders, en kunsmis.
- Bakterieë (kieme) uit dinge soos toiletafval (riool).
Gevolge van waterbesoedeling
Waterbesoedeling maak mense baie siek. Dit veroorsaak siektes soos cholera en diarree (as jou maag baie werk). Onveilige water veroorsaak diarree by 4 miljard mense per jaar en 2,2 miljard mense sterf as gevolg hiervan, veral kinders onder 5 jaar oud. Dit keer ook dat kinders behoorlik groei. 9
Vuil water wat van fabrieke en plase af kom (mens noem dit grondwater), bevat dikwels giftige chemikalieë soos kwik, lood, koper, sink en arseen wat skadelik en selfs dodelik is vir mense, plante en diere. Baie mense bad in riviere en stroompies of was hulle klere daarin. Baie mense het ook nie toilette nie en dikwels beland hulle riool in mere en riviere.
Mynwater in Suid-Afrika is dikwels baie suur en loop in riviere in na swaar reën. Hierdie mynwater bevat dikwels baie ander chemikalieë en opgeloste metale. Dit word gesien as ʼn baie groot ekologiese bedreiging. Die proses om hierdie water te suiwer is baie duur.
Olie wat in die see beland, sit aan voëls se vlerke vas en keer dat hulle kan vlieg. Hulle vrek dan van koue of honger. Visse en skilpaaie sluk stukkies plastiek in omdat hulle dit met jellievisse of ander kos verwar. Robbe en pikkewyne raak weer verstrengel in vislyn en nette.
Ander soorte besoedeling
Ligbesoedeling
Dit is wanneer daar baie skerp lig (kunsmatige lig soos spreiligte en straatligte) in die aand skyn. Baie diere se lewensiklus is afhanklik van die donkerte en as daar te veel lig skyn, maak dit dié diere heeltemal deurmekaar. Paddas kwaak in die nag en roofdiere (soos luiperds) soek kos as dit donker is. Dié roofdiere se prooi (soos bokkies en hase) gebruik weer die donkerte om weg te kruip. Voëls trek van seisoen tot seisoen rond en gebruik baie keer die maan en sterre om te navigeer (om vir hulle te wys waarheen om te vlieg). Seeskilpaaie woon in die see, maar lê hul eiers in die nag op die strand. Die klein skilpaadjies broei ook in die nag uit en stap dan met die sand langs tot in die water. Insekte vlieg na helder lig toe en dan skok of brand hulle dood. 10
Geraasbesoedeling
Harde geluide is baie sleg vir mense en diere. Dié geluide kan wees van verkeer (baie motors) tot harde musiek by konserte en skepe op die see. Geraasbesoedeling kan spanning en hoë bloeddruk by mense veroorsaak en selfs dat iemand doof word. Geluide of geraas word in desibel (dB) ’n Geluid wat harder as 85 dB is, kan skadelik (sleg vir jou) wees. As jy en jou maats gesels, sal die geluid ongeveer 65 dB wees en ’n elektriese saag se geluid is 100 dB. 11 ’n Sirene is 120 tot 140 dB en ’n musiekkonsert tussen 90 en 120 dB.
Skepe, wat sonar gebruik om rigting te bepaal of dinge onder die water op te spoor, krap die seelewe om. Dié sonars kan tot 235 dB meet en vir kilometers onder die water versprei. Diere soos vlêrmuise, sekere voëls, dolfyne en walvisse maak staat op hulle eie geluide en klanke om (baie keer in die donkerte) te kommunikeer, rigting te bepaal en kos te kry. Geraas beïnvloed dié klanke. 12 13
Herkou hieraan
- Kougom bevat ’n bestanddeel (’n soort plastiek of polimeer) wat nie deur die natuur afgebreek kan word nie. 23
- 8 uit 10 tien stukkies kougom (80%) word nie in ’n asblik weggegooi nie en beland op die grond (of onder die skoolbanke!)
- Kougom en sigaretstompies is die twee goed wat mense die meeste sommer op die grond gooi.
- Die hoeveelheid kougom (sowat 374 miljard stukkies!) wat jaarliks gekou word, veroorsaak 100 000 ton se rommel.
- Voor die Olimpiese Spele in 2012 in Londen gehou is, het skoonmakers drie maande lank gewerk om 300 000 stukkies kougom van ’n pad wat net 3 km lank is, met stoom af te haal.
- Wat kan ek doen om te help? Koop kougom wat van plante gemaak is of kou ’n stukkie pietersielie – dit sal jou asem lekker laat ruik!
Woordbank
koolstofdioksied | Mense en diere asem koolstofdioksied uit. |
swaeldioksied | Dit word veroorsaak as brandstowwe soos olie en steenkool verbrand word. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Leer meer van besoedeling
Wat is besoedeling?
Hoe kan ons plastiek uit die oseane hou?